Die Oordeelsdag – Vraag

Die Oordeelsdag – Jan van der Watt

Louis maak die volgende stelling:

The Bible has revealed Judgment Day to commence May 21, 2011. Much have been written about this and you have probably seen it reported in the media. Please don’t discard this date based on Mat 24:36 and Mark 13:32. When we carefully consider everything else the Bible has to say on the subject, there is no contradiction with the above mentioned scriptures. Please look at the material which is provided free for anyone to have a look at. www.wecanknow.com www.familyradio.com www.ebiblefellowship.com  

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Ek skryf hierdie reaksie op 22 Mei 2011 en is nog steeds hier, wat natuurlik beteken die voorspelling was vals. Die Bybel sê dat ware profete word uitgeken aan die feit dat hulle profesieë waar is. Hierdie en soortgelyke voorspellinge is al dikwels deur die afgelope tweehonderd jaar gemaak. Dit maak liggelowige mense bang en mislei hulle. Die uitleg van die tekste is baie subjektief en haal alles buite konteks aan. Wees dus versigtig vir die tipe voorspellings. Van al die baie voorspellings wat deur die jare gemaak is, het nie een waar gekom nie. Hou vas aan die volgende (Matt 24:36): ‘36“Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit’. 

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Die bruid van Jesus

Die bruid van Jesus – Jan van der Watt

Johan vra:

Is daar `n skrif in die Bybel wat aan ons noem dat ek die bruid van Jesus is en kan die bruid dan lewende water gee soos Openbaring 22:17.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die beeld van die bruid was een van die Bybelse beelde wat gebruik is om te beskryf wat gebeur met die wederkoms. Jesus as bruidegom sal kom om sy bruid te gaan haal. Die finale tyd saam met Jesus word dus met ’n bruilofsfees vergelyk (sien Matt 22:1-14). In Open 19:7-9 lees ons:

7Laat ons bly wees en juig 

en aan Hom die eer gee, 

want die bruilof van die Lam 

het aangebreek, 

en sy bruid het haar daarvoor 

gereed gemaak. 

8God het haar dit vergun om fyn, helder blink klere aan te trek.” 

Hierdie fyn klere is die regverdige dade van die gelowiges. 

9Toe sê die engel vir my: “Skryf op: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is.”’ 

Hier kan ons sien dat die kerk as ’n bruid beskryf word wat wag vir haar bruidegom. Sy moet haar intussen voorberei vir sy koms deur goeie dade te doen. In Open 21:2 lees ons verder: ‘2En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos ’n bruid wat vir haar man versier is.’ Hier word die beeld van die bruid weer gebruik om die nuwe Jerusalem te beskryf.

In Joh 3:28-30 beskryf Johannes die Doper Jesus ook as die bruidegom wat sy bruid kom haal. In Johannes 4 kom die Samaritane dan in ‘n groot groep na Jesus, hulle bruidegom.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Adam se sonde

Adam se sonde – Jan van der Watt

Andre vra:

Iemand vra my: Is dit dan reg dat omdat Adam gesondig het en as straf vir die res van sy dae in die sweet van sy aangesig sy brood moes verdien, hoekom word ons vir sy sonde gestraf om ook in die sweet van ons aangesig ons brood te verdien?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die situasie in Genesis, waar Adam in die Paradys was impliseer dat hy ’n vriend van God was wat in sy direkte teenwoordigheid kon wees. Sy sonde en rebellie het egter die verhouding bederf en God kon nie toelaat dat sonde deel van sy Paradys en hemel word nie. So het God sy eie heiligheid beskerm. Daarom kon Adam nie meer al die voorregte geniet wat die Paradys gebied het nie. Hy moes nou vir homself sorg met die skepping wat God hom gebied het. Hy moes nou werk vir sy kos en was nie meer ’n gas in die Paradys nie.

Nou hoekom moet ons ook ly soos Adam? Die argument is gebaseer op die groepsgedagte. As die kaptein die loot verloor verloor die hele span die loot omdat hulle deel van die groep van die kaptein is. As Adam nie meer in die Paradys is nie, kan die kinders nie verwag om daar te wees nie. Hulle moet dan saam met Adam hulle kos en brood verdien. Daarom deel ons aan Adam se swaarkry. Dieselfde geld vir die nuwe Adam (Jesus – Romeine 5 byvoorbeeld). As ons aan Jesus behoort deel ons ook aan dit wat Hy het.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Salf met olie

Salf met olie – Jan van der Walt

‘n Leser vra:

My dogter her haar rug op die Here gekeer en verkies op die oomblik om ‘n slegte lewe te lei. Daar is baie mense wat vir haar bid en ek glo dat sy haar pad na die Here sal vind. My broer het voorgestel dat ek haal salf met olie. Ek voel ‘n bietjie ongemaklik met die idee , want ek dink nie ek is bekwaam om iets so groots te doen nie. Is dit iets wat ek kan doen?. Indien wel, hoe gaan ek te werk?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die salf met olie sal nie help nie – dit mag miskien meer teenkanting en negatiewe reaksie tot gevolg hê. Al manier waarop iemand ’n verhouding met die Here kan verbeter, is deur in Jesus te glo. Daarom is julle getuienis (dikwels sonder woorde, maar deur julle dade, liefde, begrip en aanvaarding wat julle julle dogter gee belangrik. Sy weet mos julle behoort aan Jesus en sal dus ook jaloers kan raak op julle lewensstyl. Ek weet nie hoe oud julle dogter is nie, maar dit gebeur dat jongmense die lewe wil gaan ontdek en bietjie reageer teen wat hulle in die huis kry, veral as hulle voel hulle word gedwing (nie dat ek sê julle doen dit nie – ek noem dit net). Die belangrikste raad is om nie julle dogter te verloor of te vervreem nie. Deur haar te aanvaar ten spyte van… bly die kanaal vir julle invloed en liefde oop.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt