Openbaring 19 – 21

Openbaring 19 – 21 – Jan van der Watt

Jan vra:

In Openbaring 19: 11 tot 21 word van die perd geskryf met Hom wat daarop sit Getrou en Waaragtig en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. Die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne.Hy is Die Woord van God en die Koning van die konings.Uit Sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid van die toorn van God, die Almagtige. In Openbaring 20 na die duisend jaar sal die Satan uitgaan om die nasies te verlei en hulle te versamel vir die oorlog en hulle getalle sal wees soos die sand van die see. Toe hulle die geliefde stad omsingel, het God vuur uit die hemel laat neerdaal en hulle is verslind en die ou slang is in die poel van vuur gewerp ens. Vraag: Hoekom sou Jesus in die een geval self tot die stryd toetree met die leërs van die hemel en in die volgende geval gooi God vuur uit die hemel om hulle te verdelg. Wat is dan die nut van die verskriklike leermag as God met die roer van ‘n enkele vinger die nodige kan doen, asseblief?

Antwoord

Prof jan van der Watt antwoord:

Hoofstuk 20 is een van die moeilikste hoofstukke om te verklaar in die Bybel, aangesien dit oor die 1000jarige vrederyk handel en hoe dit presies geïnterpreteer moet word, is nie altyd duidelik nie. Jou vraag gaan egter nie daaroor nie, maar oor die feit dat in hf 19 Jesus as die ruiter op die wit perd die finale veldslag teen die duiwel en sy trawante lei en deurvoer terwyl in Hf 20 dit God is.

Om die gedeelte te verstaan moet ons na Open 4-5 gaan waar God as die Koning van die heelal geskets word. Konings in daardie tyd was so sterk as wat hulle diensknegte gehad het om hulle te help. Daarom sien ’n mens God min self optree in Openbaring. Sy engele en diensknegte doen alles – Migael (en nie God of Jesus nie) veg selfs teen die duiwel in Open 12. In Open 5 hou die Koning dan ook ’n boekie in sy hand waarin die geskiedenis wat gaan ontvou, opgeteken is. Niemand wil dit vat nie, want niemand is instaat om die geskiedenis te laat ontvou nie. Jesus is wel en daarom neem Hy die boekie. God werk dus deur Jesus as die Een wat namens hom sy wil op aarde deurvoer.

Strengesproke is dit God wat dit doen, maar Hy doen dit net deur Jesus. (Byna soos ’n amptenaar wat deur sy baas aangestel word om iets te onderhandel en dan verskyn dit in die koerant dat die baas dit gedoen het). Wat Jesus doen en wat God doen, val dikwels saam. Jesus kan iets doen en dan kan gesê word God doen dit en omgekeerd. In Open 19 word die verloop van die finale veldslag beskryf waarin die magte van die bose deur die magte van die God vernietig word – aan die einde van Hf 19 eet die roofvoëls die vleis van die konings van die aarde. In Open 20:7 en verder is die konings skielik weer terug. Hoe kan dit wees? Wel, die verhaal van Open 20 loop parallel met die verhaal van hf 19, hoewel dit later in die verhaal vertel word. (Soos as ons vertel: ons het gaan vakansie gehou by die see en het veilig teruggekom. Piet is natuurlik deur ’n brander omgeslaan… Hoewel die laaste deel van die storie later vertel word, kon dit alleen gebeur het voor ons teruggekom het van die see af en pas dus iewers in die eerste storie in).

Maar hoe rym dit dat in die een geval daar oorlog deur die Ruiter op die wit perd is en in die ander geval vuur wat die geveg beïndig. Ons moet versigtig wees om nie Openbaring letterlike te lees nie. As daar vandag iemand op ’n perd aangery kom om oorlog te maak teen Amerika of wie ook al is die oorlog gou verby. Nee, die wit perd was ’n simbool van ’n oorlogsmag wat net kan wen (wit is die kleur van oorwinning). Tegelykertyd is vuur die simbool van God se vernietigende oordeel. As daar staan dat God mense met vuur straf, beteken dit dat Hy hulle vernietigend straf. Beide simbole of beelde (die van ’n oorlogsperd en van vuur) wil dieselfde sê: God (deur Jesus) gaan die vyand vernietigend verslaan en oordeel.  

Waarom doen God dit nie self nie? Juis in Open 5 sien ons dat sy plan anders werk. Hy gebruik Jesus as die Een wat namens Hom sy wil moet uitvoer. En aan God se planne kan ons nie veel verander nie en nog minder aan God voorskryf wat om te doen.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Is die hemel ʼn werklikheid?

Is die hemel ʼn werklikheid? – Jan van der Watt

ʼn Leser vra:

Is die hemel ‘n werklikheid?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hierdie is ʼn kort maar kragtige vraag. Die antwoord is ook kort en kragtig: daar is werklik ʼn hemel. Die vraag is egter wat ons met ‘hemel’ bedoel. Kom ons kyk na drie gedeeltes wat oor die hemel handel.

  1. Lees 1 Tessalonisense 4:15-17. Daar gaan dit oor mense wat in die grafte sal wees as Jesus weer kom. Hulle sal eers opgewek word en dan sal al die gelowiges saam na die hemel toe opvaar: daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees.’ Hier word die hemel as bo voorgestel – ons sal daarheen opvaar en dan die belangrike punt: ons sal by die Here wees. 
  2. Lees 2 Petrus 3:10-13. Daar word vertel dat die ou aarde en hemel met vuur sal verbrand en dat daar ’n nuwe hemel en aarde sal wees. Ons sal dus nie hemel toe gaan nie, maar op die nuwe aarde bly en daar naby die Here leef (sy wil sal daar heers). Dit is dus ’n ander beeld as by 1 Tessalonisense waar die mense die hemel in is.  
  3. Lees Openbaring 21:1-8. Daar kry ons ’n soortgelyke beeld as by Petrus, naamlik dat die ou aarde verbygaan en die nuwe hemel en aarde sal kom. Mense sal op die aarde bly. Daar word egter meer gesê: ‘Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.’ Dit beteken dat God die hemel sal ‘verlaat’ en op die aarde sal kom bly. Die nuwe Jerusalem gaan op die aarde wees. Die belangrike punt hier is ook dat God by hulle gaan wees.

Wat moet ons hieruit aflei? Wel, dat daar nie ’n duidelike beeld in die Bybel is oor hoe die hemel gaan lyk nie. Al drie beelde verskil. Tog stem al drie beelde saam oor een ding – God gaan by sy mense wees en hulle gaan by God wees. Dit is die werklike essensie van die hemel: ons gaan by God wees. Hoe dit presies gaan wees, weet niemand nou nog nie. Dit is ’n verrassing wat vir ons wag. Intussen kan ons maar net drome droom of voorstelle uitdink van hoe dit gaan wees. As ons ons beste drome vat, het ons egter nog maar net ’n fraksie van hoe dit werklik gaan wees. Daarvoor gaan God sorg.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




’n Spesiale salwing van die Gees?

’n Spesiale salwing van die Gees? – Jan van der Watt

Naomi vra: 

Hoe verklaar ons Handelinge 8:12-17; 9:17; 19:1-10. Ek weet sekere kerke verwys na hierdie as ‘n invulling met die Heilige Gees. Ek stem saam dat niemand tot bekering kan kom behalwe deur die werking van die Heilige Gees nie. Is hier nie tog ‘n verdere ‘verdieping of salwing’ waarvoor ‘n mens moet vra of wat jou toegebid moet word deur ander gelowiges nie? Dit wil vir my lyk of hier wel na iets verwys word wat meer is as bloot ‘n ‘tydperk wat ons nader aan God en die Heilige Gees voel’.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Handelinge handel oor die eerste uitbreidings van die kerk. Die boek is self so saamgestel dat dit wys hoe die Evangelie sistematies in en deur die wêreld versprei het. ‘n Belangrike deurlopende tema in Handelinge is hoe die Evangelie met verskillende tipes religieë en gebruike in kontak gekom het en hoe die Evangelie daaroor geseëvier het. In Hf 8 word daar gewys dat die Heilige Gees sterker is as die magte wat byvoorbeeld in Simon was. Almal het Simon met die krag van God geassosieer, maar tog was die Gees sterker. In Hf 16 word gewys hoe die Evangelie met die filosofieë van die wêreld in konflik kom en wat gebeur. So kan ons voortgaan. Hierin het die Heilige Gees natuurlik ‘n groot rol gespeel. In die geval van Hf 8 het die apostels (leiers) byvoorbeeld die Gees gebring sodat die mense seker kan wees dit is die Heilige Gees wat deel is van die Christelike kerk. In ander gevalle aanvaar mense wel vir Jesus, maar ervaar nie ten volle wat Hy bied nie. As hulle die Gees ontvang, deel hulle ten volle aan wat God bied. As ons dus Handelinge lees moet ons baie bewus wees van die konteks asook die doel van die boek. Die skrywer van Handelinge wil wys hoe die Gees aan die begin in elke situasie die heidens aanvaarde leefwyse en opinies getroef het. Daarom word die Gees op ‘n spesifieke manier beskryf.

Nou is die vraag of ons nie aan ‘n spesiale salwing van die Gees moet dink nie. Paulus en Johannes is die twee groot teoloë, ook as dit by die Gees kom. Paulus ken nie so ‘n spesiale salwing met die Gees wat sekere mense van ander onderskei nie. Paulus het van die gelowiges in Korinte, wat op grond van die spreek in tale gevoel het hulle is belangriker as die ander, sterk vermaan teen so ‘n soort houding. Wat Paulus wel geken het, is dat sekere mense sekere gawes van die Gees kon kry om dan sekere dinge tot voordeel en nut van die gemeente te doen. Dit is ‘n gawe en nie ‘n spesiale ingieting of so iets nie. Kom ons by Johannes wat in Joh 14-16 baie van die Gees praat en ook in 1 Joh 2 praat van die ‘salwing’ wat eintlik ook maar na die Gees se werk en teenwoordigheid verwys. Soos Paulus ken ook hy gladnie so ‘n spesiale ingieting of salwing van die Gees nie. Die Gees is in al die gelowiges en lei almal. Dus: nie Paulus of Johannes, wat die meeste oor die Gees skryf, ken dit wat ons in Handelinge wil inlees nie. As daar wel so iets was soos wat ons in Handelinge wil inlees, moes die groot Gees-teoloë (Paulus en Johannes) tog iets meer daaroor gesê het. Nou het hulle nie. Goeie Bybeluitleg vra van ons om nou weer mooi na Handelinge te gaan kyk – ek dink wat ek hier bo gesê het, kan ons help om die boodskap van Handelinge in perspektief te sien.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Onderrig deur ‘n vrou

Onderrig deur ‘n vrou – Jan van der Watt

Roenell vra:

Ek wil graag meer weet oor “teachings” onderrig deur ‘n vrou (met verwysing na die Bybel) en of daar ‘n verskil is tussen “teaching en preaching” onderrig en prediking. Veral onderrig deur ‘n vrou aan mans en dan veral oor dogmatiek en nie net daaglikse onderwerpe soos Christelike siening oor finansiële begroting of algemene onderwerpe nie. Ek kom nou net terug van ‘n “uitreik” aksie na Malawi waar ek ‘n kralewerk opleidingsessie gaan aanbied het aan kerklede van ‘n kerk in Mangochi. Ek is sterk veroordeel omdat ek tydens ‘n Bybelstudie nie net getuig het nie maar wel “geteach” het. Volgens diegene wat my veroordeel is dit ‘n taak slegs vir mans en hulle verwys veral na Timoteus en Titus, maar volgens my kennis is Timoteus in moeilike omstandighede geskryf aan die gemeente van Efese en Paulus wou veral vroue wat uitspattig was verhinder om die aandag af te trek van dit wat by ‘n byeenkoms moes plaasvind. Ek het altyd vir myself Priscilla en Akwila as voorbeelde gesien maar kon aflei dat Priscilla wel kon onderrig gee aan die wat hulle huis besoek het. Is daar ‘n verskil dan tussen onderrig in jou huis aan mense wat jou besoek en onderrig op ‘n sendingveld?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die vraag of vroue mag preek is een van die geskilpunte in die Christendom, soos ook in Suid-Afrika duidelik is. Die Gereformeerde Kerk verbied dit byvoorbeeld, terwyl die NG en Hervormde Kerke dit toelaat. Die Rooms-Katolieke Kerk laat wel gedeeltelike lering deur vroue toe, maar laat hulle nie toe om priesters te word wat die sakramente bedien nie. So, daar is ‘n wye verskeidenheid van opinies. Juis daarom is die praktiese manier waarop mens met die probleem omgaan van soveel belang. As jy in ‘n konteks kom waar mense absoluut teen vroue wat preek is, moet mens dit respekteer as die mense se opinie, veral as jy ‘n besoeker daar is. Deur aan te dring om te preek omdat dit jou opinie is, gaan net moeilikheid maak en daartoe is ‘n Christen nie geroepe nie. Daar is wel ander plekke waar jy jou roeping as vroueprediker sonder teenkanting kan uitleef. Doen dit daar. Dit verhinder ‘n mens natuurlik nie om met die mense oor jou opinie te gesels nie. Sit jou argumente op tafel en bespreek dit. Jy sal agterkom dat die gesprek dikwels gaan oor verskille oor hoe ‘n mens die Bybel moet gebruik. Mense wat die Bybel baie letterlik (fundamentalisties) gebruik sal gewoonlik net vir jou sê: ‘Daar staan in die Bybel vroue moet stilbly, uit en gedaan’. Mense wat die uitsprake egter in hulle oorspronklike konteks lees en probeer verstaan sal meer soepel daaroor praat. Hulle sal probeer verstaan wat Paulus oorspronklik aan sy lesers in hulle situasie wou sê en die boodskap dan op ons situasie vandag probeer toepas. Selfs dan kan daar ook verskil van opinie wees.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt