Paaseiers

Paaseiers – Francois Malan

‘n Leser vra:

Ons wil nie probeer stry oor die feit dat paaseiers dalk van heidense oorsprong is nie, maar die boodskap wat ons kry is: jy staan kans om gered te word solank jy net nie die ou baie lekker paaseiertjie of –bolletjie oor paasfees eet nie. Eet hom maar in Julie? Wat is die verskil? Die oorsrong is mos steeds heidens. Hoe kanselleer die eet van ‘n paaseier Jesus se verlossingsdood aan die kruis uit? Vir ons is dit tog net ‘n sweetie.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

In 1 KorintIërs 8 en 10 bespreek Paulus die probleem van die eet van vleis wat aan die afgode geoffer is. Hy stem saam met die ‘sterk gelowiges’: dat daar geen afgod in die hele wêreld is wat iets beteken nie (ook nie Ishtar nie), en dat daar ook geen God is nie, behalwe Een. Hoewel daar baie sogenaamde gode is, is daar vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe, en net een Here Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe (8:4-6).

Daar is party mense wat nog vleis eet asof dit ‘n offer aan ‘n afgod is (soos party mense blykbaar ook oor paashasies dink). Daardeur word hulle gewete, wat reeds swak is, verder beswaar. Wat ons eet bring ons nie nader aan God nie. As ons nie eet nie , verloor ons niks, en as ons eet, wen ons niks nie. Vir so ‘n swakke moet ons dan nie laat struikel nie (8:7-13), maar in liefde mekaar verdra.

Alles wat in die slaghuis verkoop word, kan julle eet sonder om ter wille van die gewete navraag te doen, want die aarde en alles wat daarop is, behoort aan die Here (10:25-26) Paulus haal hier Ps.24:1; 50:12; 89:12 aan.

Paulus sê: As ek iets met danksegging geniet, waarom word daar van my kwaad gepraat oor iets waarvoor ek God dank? Of julle eet en of drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God. Maar ons moenie aanstoot aan ander gee nie (10:30-32).

Jesus het gesê: Niks wat van buite af in ‘n mens ingaan, kan hom onrein maak nie – dit kom nie in die hart nie maar in die maag. Markus sê dat Jesus alle kos rein verklaar het. Maar die dinge wat uit ‘n mens uitkom, uit sy hart, dit maak hom onrein, slegte gedagtes: onkuisheid, diefstal, moord, owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid (Markus 7:15-23).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Onesimus

Onesimus – Coen Slabber

Johan vra: 

Ek het vandag `n pasiënt in die hospitaal ontmoet. Sy naam is Onesimus en hy het gesê hy sou graag wou weet wat sy naam beteken. Kan iemand dalk help? Hy is sewe keer in die rug geskiet tydens `n gepoogde motorkaping. Hy kry gereelde terugflitse van die gebeure en die navraag het ten doel om, indien die betekenis van sy naam bekend is, as `n bietjie belangstelling en bemoediging te dien.

Antwoord:

Coen Slabber antwoord:

Onesimus was die slaaf in belang van wie Paulus die brief aan Filemon geskryf het: Ek doen ’n beroep op jou in belang van my kind Onesimus. (vers 10). Onesimus was ’n slaaf van Filemon. Hy het waarskynlik vir Filemon beroof en toe weggehardloop.

Paulus het hom in die gevangenis leer ken en daar sy geestelike vader geword. Paulus stuur vir Onesimus terug na Filemon – Onesimus was immers Filemon eiendom – maar hy sou hom graag saam met hom in die gevangenis wou hou. Hoekom? Maar nou is hy baie bruikbaar sowel vir jou as vir my. Onesimus in Grieks beteken “bruikbaar.” Paulus is oortuig dat Filemon vir Onesimus sal ontvang nie langer net as ‘’n slaaf nie, maar meer as ’n slaaf: as ’n geliefde broer.

Ons lees ook van hom in Kolossense 4:9: Onesimus, die getroue medegelowige wat ek baie liefhet en wat een van julle is, gaan saam met hom. Onesimus het saam met Tigikus die Brief aan die Kolossense afgelewer. Omdat Paulus daarna verwys dat hy een van julle is, kom hy waarskynlik van daardie gebied.

Onesimus beteken bruikbaar. Dit behoort enigeen met hierdie naam te bemoedig.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber




Job bid vir sy drie vriende

Job bid vir sy drie vriende – Francois Malan

Johan vra:

Is daar `n verklaring waarom Job vir sy drie vriende gebid het? Moet dit verstaan word dat hy dit uit eie beweging sou doen of in opdrag?Waarom was Elihu nie ingesluit by die gebed wat Job gedoen het en geen verdere vermelding van hom gemaak na hoofstuk 37 nie?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

1 Elihu

Die inleiding van Job, hoofstukke 1-2, en die slot, 42:7-17, is in verhaaltrant geskryf oor ‘n persoon wat in die tyd van die aartsvaders (Abraham, Isak en Jakob) geleef het. Die middelste deel, van hoofstuk 3 tot 42:8, is in digvorm geskryf, as ‘n wysheidsgeskrif oor hoe om voor die oë van God reg te lewe as jy ly.

Die skrywer van die boek is onbekend, en ook die tyd wanneer die boek geskryf is. Maar daar word gemeen dat die verhalende dele eerste geskryf is, en dat aan die digterlike deel oor ‘n lang typerk gewerk is, totdat die boek in sy finale vorm saamgestel is. Soos die boek Prediker is Job ook ‘n kritiek op die boek Spreuke se leer van beloning vir die goeie en vergelding vir die kwade, wat deur Job se drie vriende verkondig is.

Na hoofstuk 3, oor die verbitterede Job, volg drie reekse waar Job telkens antwoord op Elifas, dan Bildad en dan Sofar se sienings (4-27), maar Sofar kom nie in die derde reeks aan die woord nie. Na Job se toespraak oor wysheid in 28 en sy klag in 29-31, word die toespraak van Elihu ingeskuif in 32-37, voordat God begin in 38-39 antwoord op Job se klag van 29-31. Na Job se eerste reaksie op God se antwoord (39:36-38) gaan God voort in 40:1-41:25, en die oormoedige Job antwoord in 42:1-6. Normaalweg sou ‘n mens verwag dat God se antwoord in 38-39 direk sou volg op Job se klag in 29-31. In die skema lyk dit of Elihu se toespraak later ingevoeg is, toe die res van die boek reeds bymekaargemaak was, en daarom word Elihu nie in die slotgedeelte genoem nie.

2 Waarom Job vir sy drie vriende gebid het.

Omdat die Here kwaad was vir Job se drie vriende, omdat hulle nie die waarheid oor God gepraat het soos Job nie, omdat hulle siening van God se beloning en vergelding foutief was, was die Here se opdrag aan die drie vriende: ‘Vat sewe bulle en sewe ramme en gaan na my dienaar Job toe en offer dit as ‘n brandoffer vir julleself. My dienaar Job sal vir julle bid, en Ek sal sy gebed verhoor (letterlik: vir hom alleen sal Ek gunstig ontvang) en julle nie straf vir julle dwaasheid nie. Julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie’ 42:7-8).

Die drie vriende kom toe terug na Job in sy ellende op die ashoop en offer daar by Job die groot brandoffer wat die Here beveel het vir hulle verkeerde voorstelling van God in hulle gesprekke met Job. Hulle sou vir Job verduidelik het waarom hulle dit doen, en dat die Here gesê het dat Job vir hulle moet bid, omdat die Here vir Job alleen gunstig sal ontvang as voorbidder vir hulle sonde.

En dan, nadat Job vir hulle gebid het, het die Here die omstandighede van Job verander (letterlik: en die Here het Job in guns aangeneem – dit impliseer dat die Here die drie vergewe het). Vers 10 vertel dan hoe die Here Job van die ashoop af teruggebring het in die samelewing (letterlik: sy gevangenskap verander het) nadat hy vir sy vriende gebid het, en dat die Here aan Job twee keer soveel gegee het as wat hy gehad het. Daarin was Job in ‘n sekere sin ‘n voorafskaduwing van Christus wat Homself vir ons as offer vir ons sonde gegee het aan die kruis, en tans vir ons intree by God (Hebr. 7:25,27).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Vervloeking

Vervloeking – Francois Malan

Alicia vra:

Ek sukkel om mense te oorreed dat vloeke nog bestaan, dat jyself en ander mense vloeke oor jou en jou geliefdes kan uitspreek, asook bindinge.
Watter menslike voorbeelde, maklike voorbeelde, kan ek gebruik en hoe om die vloeke te breek en vloeke of bindinge te stop.

En dan, Mag ek as Christen ‘n vloek terug stuur van wie af dit kom en hoe doen ek dit?

 

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

In die heidenwêreld word die vloek gebruik as ‘n magiese middel wat toorkrag het, in die geloof dat die vloekwoord self krag het om iemand te benadeel en selfs dood te maak. Die Israeliete van die Ou Testament was omring deur volke wat dit geglo het en gebruik het. Sommige Israeliete het dit ook so geglo.

Maar die gelowige Israeliet het die vloek gesien as iets wat deur God beheer word en waaroor Hy die seggingskap het. In die Ou Testament word baie maal na die vloek verwys, met verskillende Hebreeuse woorde om dit te beskryf;

alah – vloek as dreiging van ongeluk wat oor iemand, oor homself of oor iemand anders stel as hy of sy ‘n misdaad sou pleeg (vgl. bv. 1 Kon.8:31-32)

kalala – die vloekformule waarmee iemand of iets vervloek word (bv. Gen.27:12).

ta-elah – bv. Klaagl.3:64-65 ‘straf hulle Here, volgens wat hulle gedoen het, laat benoudheid hulle oorval, tref hulle met U vloek…’

me-erah – bv. Deutr. 28:20 ‘Die Here sal die vloek oor jou stuur, verwarring en terugslae in alles wat jy aanpak en doen, totdat Hy jou uitgeroei het en jou skielike ondergang bewerk het oor al die verkeerde dinge wat jy gedoen het deurdat jy Hom verlaat het.’

arar – met ‘n vloek bind – vgl. die lang lys in Deutr. 27:16-26, en Gen.3:14,17.

In die Nuwe Testament bring Jesus egter ‘n hele omwenteling van die vloek. In Gal.3:10-14 skryf Paulus dat almal wat staat maak op die onderhouding van die wet, onder die vloek val (met verwysing na Gen.27:26). Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ‘n vervloekte te word soos Deutr.21:23 sê: vervloek is elkeen wat aan ‘n hout opgehang is. Daardeur kan ook ons wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het. So het ons dan deur die geloof die Gees ontvang wat God beloof het. So bly God self in ons om ons te beskerm en te lei (vgl. Joh.14:23).

In 1 Kor.16:22 sê Paulus: As iemand die Here nie liefhet nie – vervloek is hy (vgl. ook Gl 1:8,9).

Nee die pad vir ‘n Christen is nie om vloeke heen en weer te stuur nie. In Romeine 12:17-21 sê Paulus: Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe ‘dit is Mý reg om te straf, Ék sal vergeld’, sê die Here. As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen maak jy hom vuurrooi van skaamte. Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.

Dit is dieselfde as wat Jesus gesê het in Matteus 5:43-48 Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg – anders is julle maar net soos die heidene. Julle moet soos julle hemelse Vader wees – Hy wat in ons kom woon het deur sy Gees omdat Jesus ons vloek aan die kruis gedra het.

 

Skrywer: Prof Francois Malan