Getuig voor die gemeente

Getuig voor die gemeente – Jan van der Watt

Neels vra:

Nog al die jare ‘n “stoere” Dopper. Gisteraand ontstaan die vraag. Kan ek gedurende die diens, voor die gemeente, getuig oor hoe Christus my lewe verander het. Graag sal ek die argumente daar voor en ook die argumente daar teen wil hoor.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hierdie is ’n vraag wat meer met tradisie as met die Bybel te make het. Die Bybel sê ’n mens moet oral getuig. Jesus het self in Nasaret in die sinagoge getuig, Paulus het oral, in huise, byeenkomste, singagoges, in die buitelug, ens getuig. Daar is nie grense of mure wat mens rondom die getuienis vir Jesus kan bou nie.

In sommige kerke het die tradisie egter anders ontwikkel. In die Gereformeerde kerke het respek vir God sentraal gestaan. Die mens moet in die diens besef hy of sy is in die teenwoordigheid van God. Deur hulle gedrag moet hulle wys dat hulle hom eer. Daarom gaan alles eerbiedig en stil. Die mens moet in die agtergrond bly sodat hy of sy nie meer in die fokus staan as God self nie. Daarom word daar eintlik nie deur mense getuig oor wat die Here vir hulle gedoen het nie. Net die predikant praat, want sy amp is om die Woord te bedien. Die manier van erediens hou is dus nie ’n Bybelse opdrag nie, maar die tradisie en gewoonte van sekere kerke. Ander kerke voel weer dat die erediens die geleentheid is waarop die mense met alles wat hulle doen moet wys hulle eer God. Dan word daar meer informeel opgetree en word daar met ander woorde ook getuig oor wat die Here alles vir hulle gedoen het.

Situasies en tradisies bepaal dus dikwels ons optrede. As die gewoonte nie in ’n gemeente bestaan om te getuig nie, sou dit mense ongemaklik laat voel as iemand getuig. Dan moet mens dit liewer los. Jy moet dan nie aandring om dit te doen net omdat jy voel jy mag nie. Konsiderasie vir ander is altyd ’n goeie Christelike pad om te loop.

 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Die jongman wat weghardloop

Die jongman wat weghardloop – Jan van der Watt

Oom Koos vra:

Markus 14.51 verwys na ‘n sekere jongman wat by Jesus was toe Hy gevange geneem is en kaal gevlug het vir die soldate. Wat weet ons van hierdie “jongman” en waarom word daar so min oor hierdie insident gepraat ? Waarom is die verwysing na die “jongman” so belangrik dat dit in Markus opgeteken word ?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die jongman was waarskynlik Johannes, aangesien hy die jongste van die groep was. Die feit dat hy naak weggevlug het, moet teen die agtergrond van hulle kleredrag verstaan word. Hulle het ‘n bokleed gehad wat soos ‘n lap om hulle gevou is. Die kleed het hulle gebruik vir ‘n kombers as hulle geslaap het; ook vir ‘n sambreel teen reën en son in die woestyn. Die kleed het waarskynlik agtergebly toe die jongman weggehardloop het. Hy het moontlik toe nog sy linne onderkleed aangehad. Die punt is dat hy vinnig gevlug het.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Calvinisme

Calvinisme – Jan van der Watt

Helene vra: 

Kan u asb kortliks verduidelik wat Calvinisme is. Iemand het onlangs gesê hy is ‘n volgeling van Calvinisme. Ek weet dit is Johannes Calvyn, maar is dit nie weer die agternaloop van ‘n persoon nie? Soos Martin Luther en al diegene weet ek hul het dinge volgens die Skrif probeer verander en duideliker maak.Dit verwar my as iemand sê hy hang ‘n persoon aan. Ons moet tog Christus, God aanhang en nie ‘n persoon nie. Wat van Sola Scriptura? Dis mos waaroor dit gaan. Dit wat God in Sy Woord sê.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Jou argumente is heeltemal reg. Ons moet God en God alleen dien. Dit sê die Calvinisme ook. Hulle sê ook veral Sola Scriptura. Ek hoop die volgende verduideliking help ‘n bietjie (al is dit net baie kursories, want ‘n mens kan ‘n hele boek hieroor skryf).

In die sestiende eeu (dws. die vyftienhonderds) het Luther en die edelmanne veral in die noordelke deel van Europa probeer om dinge wat hulle geglo het verkeerd is in die Katolieke kerk reg te stel. Hulle wou nie regtig met die kerk skeur nie. Die omstandighede het egter gemaak dat hulle uiteindelik van die Katolieke Kerk moes skei. Sekere van die Katolieke dinge het nog in die Lutherse Kerk agtergebly, hoewel daar baie nuwe dinge was wat hulle ingevoer het, bv. ‘n ander benadering tot die doop en nagmaal en die Woordbediening.

Calvyn was jonger as Luther en was nie so direk deel van die skeuring met die Katolieke kerk nie. Toe hy op die toneel verskyn het, was die koeël eintlik al deur die kerk. Wat die gelowiges toe nodig gehad het, was boeke wat hulle vertel het wat die nuwe Protestantse kerke glo. Calvyn was een van die sentrale persone wat toe begin het om die leer van die kerk sistematies op te skryf. Hy het eers regte studeer en was dus mooi sistematies in sy benadering. Hy het begin deur te beklemtoon dat God almalgtig en heilig is. Niks en niemand is groter as Hy nie. Toe het hy beklemtoon dat die mens sondig is. Daar is niks goeds in die mens nie. Die mens kan homself dus nie red nie. Deur die uitverkiesing van God word die persoon ‘n kind van God. Dit het Jesus se bloed en redding moontlik kom maak. Uit dankbaarheid vir die redding moet die kinders van God dus baie gehoorsaam wees aan God se wil, ook soos dit in sy wet staan.

So het Calvyn sistematies in sy groot werk, Die Institusie van Calvyn, die leer van die Bybel sistematies beskryf. Die interpretasie van Calvyn is deur baie mense, veral in Holland en dele van Engeland aanvaar. Daarom praat ons van Gereformeerde Kerke en noem die mense hulleself Calviniste. Dit beteken nie hulle aanbid Calvyn of so iets nie, maar hulle aanvaar net die uiteensetting van die leer soos hy dit in sy werke aanvanklik verduidelik het. Die Katolieke sien sekere dinge egter ‘n bietjie anders, terwyl die Lutherane dit ook weer anders sien. John Wesley het ook sekere dinge anders gesien en so het die Wesleyane (Metodiste) begin.

‘n Calvinis is dus nie iemand wat Calvyn vereer nie, maar wat sy uiteensetting van die evangelie as korrek aanvaar.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




God se manlikheid

God se manlikheid – Francois Malan

Saartjie vra:

My man is in twyfel oor God se geslag. Hoewel daar in die Bybel duidelik staan God die Vader beweer hy dat daar tog mense is wat dit betwyfel. Wat sê u?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

God bestaan buite die grense van ons verstaan, en ons kan nie ons beperkte idees en belewenisse van vaderskap en manlikheid op God toepas nie.

In Jesaja 55:8-9 sê die Here: My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.

Paulus sê in Romeine 11:34-36: O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom ‘n guns sodat Hy veplig is om iets terug te doen? Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid.

Jesus sê in Johannes 4:24: God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.

In die verhouding tussen die Vader, Seun en Heilige Gees is daar nie sprake van manlikheid of seksuele voortbringing nie. Dit is ‘n ewige verhouding wat van ewigheid af bestaan.

In sy woord openbaar God Hom aan ons as die ewige Vader van ons Here (‘regeerder’) Jesus (‘verlosser’) Christus (‘gesalfde’ koning, priester, profeet), en die Heilige Gees wat saam met die Vader en die Seun ware en ewige God is, wat ewig by ons kom bly om geloof in ons te skep in die ware God, Vader Seun en Gees, en die nuwe skepping wat Christus kom bewerk het in ons lewens uit te werk.

Vanuit die liefdesverhouding tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees (vgl. 1 Johannes 4:8,16 ‘God is liefde’) sien ons dat ons aardse vaderskap ‘n baie swak beeld van God se vaderskap is, wat ons vaderskap onder kritiek stel en aan ons vaderskap nuwe betekenis en waarde wil gee. God se Vaderskap en liefde vir sy wêreld wat Hy geskep het, het sy geliefde Seun aan ‘n kruis laat sterwe vir ons sonde, sodat ons die ewige lewe kan hê saam met sy Seun wat Hy uit die dood opgewek het (Johannes 3:16). Dit gee Hy aan dié wat in sy Seun glo deur die werking van sy Heilige Gees.

Vir die gemeente in Korinte sê Paulus in 1 Kor.8:5-6: teenoor die heidene se baie sogenaamde ‘gode’ en ‘here’ is daar vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe.

 

Skrywer: Prof Francois Malan