God se heerlikheid

God se heerlikheid – Francois Malan

Christa vra:

Verduidelik asseblief vir my die term: :God as heerlikheid.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

God as heerlikheid (die Griekse woord doksa)

Die Hebreeuse woord vir heerlikheid kabood word in die Ou Testament gebruik om iemand se eer of aansien aan te dui (vgl. Ps.95:1), maar veral die mag van God (Ps.19:2 wat oor sy skeppingsmag handel). Die Griekse vertaling van die Ou Testament het die Hebreeuse woord kabood met doksa vertaal om veral God se mag en sy eer mee weer te gee. Sy mag is ‘n uitdrukking van sy wese, en sy eer is die eer wat mense en engele aan Hom gee oor sy mag. Sy goddelike heerlikheid word in sy skepping en ander dade gesien. So word sy verskynings gesien as uitdrukkings van sy goddelike ligglans, soos by Sinai en aan Moses in die tent van ontmoeting, en daarna skitter selfs Moses se gesig (Eks.34:29-35). Die Nuwe Testamentiese gemeentes en skrywers het veral die Griekse vertaling van die Ou Testament gebruik. En daarom gebruik hulle die woord doksa heerlikheid, om die eer en die mag van God uit te druk, maar ook sy goddelike wese (bv. Lukas 2:9; 9:29-31).

Kol.1:11 Mag God wat oor al die mag en die heerlikheid beskik, julle versterk en aan julle al die krag gee om in alle omstandighede met geduld te volhard (NAV). Letterlik: mag julle versterktes wees met alle krag volgens die krag van sy heerlikheid (= sy heerlike krag) vir alle volharding en geduld met vreugde.

In hierdie teks gaan dit nie eintlik oor die heerlikheid van God nie, maar oor die heerlikheid van sy mag, sy verbasende mag. – dit wat ‘n mens verwonder, waaroor jy verbaas is. So ook bv. in Romeine 6:4.

Ook in Joh.11:4: Jesus sê dat Lasarus se siekte nie op die doop sal uitloop nie, maar op die openbaring van die heerlikheid (NAV mag) van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word – dit geskied toe Jesus Lasarus uit die dood opwek en baie mense tot geloof in Jesus gekom het (Joh.11:45). Weereens is dit die mag waaroor ‘n mens verbaas staan, en daardeur sal die Seun van God eer en lof ontvang.

In Joh.11:40 vertaal die NAV ook die woord doksa met mag.

Joh.12:43 lui letterlik: hulle (die lede van die Joodse Raad wat te bang was om hulle geloof in Jesus te bely) het die eer (doksa) van mense meer liefgehad as die eer (doksa) van God.

In Handelinge 7:55 het Stefanus die heerlikheid van God in die hemel gesien, en Jesus wat aan die regterhand van God staan. Hier gaan dit om die ligglans van God.

Romeine 3:23 sê letterlik: want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God (OAV). Die NAV vertaal die heerlikheid van God net as God. Dit gaan oor sy wese.

2 Korintiërs 4:6 sê: God wat gesê het: Laat daar lig skyn uit die duisternis (Genesis 1:3), het ook in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.’ Hier word die heerlikheid van God gesien in die neerbuigende liefde van Christus wat vir ons aan die kruis gesterf het en deur God opgewek is (3:14)

1 Timoteus 1:11 ‘…die evangelie van die heerlikheid van die goeie God’ (NAV; of: die heerlike evangelie van die geseënde God). Dit beskryf die boodskap van verlossing wat die sigbare heerlikheid van God openbaar in die Christus gebeure. Dit is God se heerlikheid wat sigbaar word in sy krag en majesteit met die dood en opwekking van Christus omdat Hy die wêreld so liefhet dat Hy sy enigste Seun gegee het, om ons van sonde te verlos en ons deel te gee aan die ewige lewe saam met Hom (Joh 3:16).

In Johannes 13:31-35 sê Jesus dat die Seun van die mens verheerlik word deur sy sterwe en opstanding uit liefde vir die wêreld, en dat God daardeur verheerlik word. En as ons mekaar liefhet word die Seun en die Vader verheerlik in die wêreld. Die heerlikheid van God word geopenbaar in sy liefde (vgl. 1 Joh 4:7-16 God is liefde, die verhouding tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees is ‘n liefdesverhouding waarin ons deel kry deur die Heilige Gees wat in ons woon). Deur Jesus se kruisweg leer ons dat God se heerlikheid geleë is in sy nederige neerdaal na ons toe en ons opneem in sy heerlikheid, om soos God en Jesus lief te hê.

Wanneer alles nuut gemaak word, as die Seun van die mens op sy heerlike troon sit, sal sy volgelinge ook op trone sit en regeer (Matteus 19:28). Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, die Heilige Gees verander ons al meer om aan die beeld van Christus gelyk te word, aan sy liefdesdiens, en die heerlikheid wat van ons uitstraal as ons in nederige liefde ons medemens dien neem steeds toe deur die werking van die Gees in ons en met ons deur sy woord (2 Kor.3:18).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Kolossense 1

Kolossense 1 – Francois Malan

Christa vra: 

Wat is die verband tussen Kol 1:21-23 en Kol 1:15-20?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Verband

Soos in sy ander briewe begin Paulus die brief aan die Kolossense met ‘n inleiding en groete (1:1,2).

Daarna volg Paulus se gebruiklike dank aan God vir sy lesers se (i) geloof in Christus en (ii) liefde vir hulle mede-gelowiges, wat albei gebaseer is op hulle vaste hoop op Christus (1:3-8).

In 1:9-14 vertel hy van sy voorbidding vir die gemeente. Hy bid dat God hulle sal vul met die kennis van sy wil om ware geestelike insig te bekom, dat hulle daarvolgens sal lewe om God ten volle te verbly met hulle goeie dade en groeiende insig in sy wil, dat hulle met al die krag wat van God se heerlikheid af kom versterk sal word om in alle omstandighede met geduld en vreugde te volhard met hulle goeie dade en groei in kennis van God. En dat hulle God sal dank vir sy magtige en genadige werk in hulle deur hulle te red uit die krag van die duisternis, en hulle oor te plaas in die koninkryk waar sy geliefde Seun regeer, nl. Christus wat ons verlos en ons sonde vergewe.

Daarop volg 1:15-20 met ‘n loflied oor Christus as die Here van die skepping en die van die herskepping. God het alles in gemeenskap met Hom en deur Hom geskep, alles word deur Hom onderhou, en Hy is die einddoel van die hele skepping. Daarby is Hy die hoof van die kerk, wat deur Hom beheer word en wat vir hulle lewe en krag afhanklik is van Hom, wat eerste uit die dood opgestaan het. Deur Hom het God die hemel en die aarde teruggebring na die doel wat God daarmee het – om te lewe onder Christus se beheer en in vrede.

Die woorde van 1:21-23 gebruik frases en idees van die lofsang en pas dit op die lesers toe. Die kort gedeelte, wat uit drie sinne bestaan, tussen die lofsang en Paulus se stelling oor sy taak as apostel (1:24-2:5) is in die direkte rede: ‘Ook julle..’ is met klem voorop en lei Paulus se interpretasie van die loflied en sy toepassing daarvan op die lesers in. Hy onderskei skerp tussen die lesers se verlede in die heidendom en hulle huidige posisie in Christus.

Drie temas van die loflied word op die lesers toegepas: versoening (1:20 en 22); die versoening is bewerk deur Christus se dood (1:20 en 22); omdat Christus oor alles regeer wat in elk geval deur Hom geskep is, word die evangelie aan alle mense op die aarde verkondig (1:16 en 23).

Die doel van Christus se sterwe ‘om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel (1:22) brei uit op die voorbidding in 1:10, dat hulle tot die eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang.

Die vier begrippe: die geloof waarin hulle vas en sterk moet staan, en die hoop waarvan hulle hulle nie moet laat losruk nie, die evangelie wat hulle gehoor het, wat vinnig oor die aarde versprei (in 1:23) is reeds gebruik in die danksegging (4-6). In die danksegging word God, die Vader van Jesus Christus gedank dat dit alles by die gemeente uitgekom het. In 1:23 word dit aan die gemeente opgedra om daarin vas te staan.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Christen se wapenrusting

Die Christen se wapenrusting – Francois Malan

Estelle het drie vrae oor die Christen se wapenrusting gevra. Hulle word as ‘n eenheid hanteer: 

(a) Verduidelik die Wapenrusting en waarom hierdie voorbeeld as agtergrond gebruik word deur Paulus?  

(b) Verduidelik die oorlogsterrein in Efesiers met die wapenrusting.

(c) DieWapenrusting: verduidelik die geveg, die neerlaag, die oorwinning 

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

1. Die agtergrond van die volle wapenrusting van God wat Paulus gebruik is die profesie van Jesaja wat die wapenrusting van die Here en sy Messias (gesalfde koning) beskryf in Jes.11:4-5; 59:17; vgl. 49:2; 52:7.

Jes.11 praat van die Messias koning uit die geslag van Dawid. Nadat God vir Assirië gebruik het om Israel met brute geweld in ballingskap weg te voer, omdat hulle God verlaat het, ten spyte van die waarskuwings van Amos, Hosea en Jesaja, het Hy Juda laat oorbly en konings soos Joas en Hiskia uit die nageslag van Dawid die seun van Isai vir Juda laat terugkom na die Here, en hulle het met geregtigheid regeer omdat die Gees van die Here op hulle gerus het (Jes.11:1-2).

11:4b sê letterlik: (Die Here) sal die aarde met die roede (rottang) van sy mond en met die asem van sy lippe die goddeloses doodmaak (soos in die OAV – ou Afrikaanse vertalings van 1933/53. Die NAV – nuwe Afrikaanse vertaling van 1983 sê: Hy sal die goddeloses in die land hard oordeel, met sy uitsprake sal hy hulle om die lewe bring)

Die Here se krag word hier uitgedruk met die roede van sy mond en die asem van sy lippe. Die brute krag van die bosbouer sal nie meer nodig wees om Israel uit te kap nie. Egte gesag sal deur die koning se wetgewing uitgeoefen word, en die skuldige misdadiger sal deur ‘n ordelike regsproses aan bande gelê word.

Vgl.Ef.6:17 se swaard van die Gees, dit is die woord van God.

11:5 sê letterlik: En geregtigheid sal die gordel om sy lende wees, en getrouheid die gordel om sy heupe (soos die OAV. NAV sê: hy sal regverdig en betroubaar regeer).

Vgl. Ef.6:14 die waarheid as gordel om julle heupe, met die borsplaat van geregtigheid (NAV vryspraak deur God).

In Jesaja 49, 52 en 59 praat ‘n profeet in die gees van Jesaja oor die Persiese konings wat God gebruik het om Juda terug te stuur na Jerusalem, nadat die Babiloniërs onder Nebukadneser hulle na Babel weggevoer het (vgl. 44:28-45:1 vir die Persiese koning Kores).

49:2 praat van die mond wat ‘n skerp swaard is, vgl. Ef.6:17 se swaard van die Gees, dit is die woord van God.

52:7 praat van die voete van die boodskapper van die goeie tyding, vgl. Ef.6:15 se bereidheid om die evangelie (goeie boodskap) van vrede te verkondig as skoene aan die voete.

Jes.59:17 praat van geregtigheid soos ‘n pantser en redding as die helm op sy kop – vgl. Ef.6:14 se borsharnas van geregtigheid (NAV vryspraak), en 6:17 se helm van verlossing.

In Efesiërs 6 praat Paulus van elke gelowige. God gee, deur sy Gees wat in ons kom woon het, aan ons die krag om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in ons harte sal woon met sy liefde, om ons daarin te wortel en te grondves, dat ons gevul mag wees met die volheid van God se liefdeskrag (Ef.3:14-19). Daarom loop Paulus se hele argument in die brief uit op die oproep om die volle wapenrusting wat God tot ons beskikking gestel het, aan te trek. 6:10 sê letterlik: word sterk gemaak! (NAV soek julle krag). Dit gebeur deur ons noue verbindtenis en gemeenskap met die Here (Jesus Christus) as die bron van ons krag. Ons staan nie meer onder die tirannie van die vors van die onsigbare bose magte nie, die gees wat aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is nie (2:2). Ons staan nou onder Christus se regering van liefde met Hom as ons hoof (1:21; 3:18).


2.  Die oorlogsterrein van Ef.6 is die stryd van die Here se kerk gesamentlik en elkeen wat in Christus glo afsonderlik teen die bose magte van hierdie sondige wêreld, teen die bose geeste in die lug, die listige aanslae van die duiwel (6:11-12), dit is die Bose mag vir wie hierdie wêreld se mense volg in ongehoorsaamheid aan God (2:2). Dit is God wat stry teen die satan wat ons aanval, en Hy staan ons in die stryd by. Met die aantrek van God se volle wapenrusting wat Hy aan ons beskikbaar stel, gebruik Paulus ‘n beeld, soos hy in 4:22-24 letterlik die beeld van ou klere uittrek en nuwe klere aantrek gebruik het (soos in OAV. NAV sê: breek met die ou sondige mens in julle…lewe as nuwe mense). Die oorlogsterrein is ons alledaagse lewe (lees die bespreking daarvan in Ef.4:25-5:21: ons stryd teen: leuens, kwaadword, steel, vloek, bitterheid, woede, lastering, hoerery, gierigheid, dronkenskap.


3.  Die geveg. Dit is ‘n geveg om te lewe soos kinders van God wat vasstaan teen die aanslae van die duiwel (vier maal word die woord staan, vasstaan, weerstaan gebruik: 6:11,13,13,14). Daar is aanhoudend en ‘n wye verskeidenheid van aanslae van die duiwel. V16 sê dit soos brandende pyle wat hy teen ons afskiet. Dit kom as versoekings in ons om verkeerd op te tree, maar kom ook van buite deur mense en groepsdruk wat ons verlei (soos die reeks in 4:25-5:21 aandui). Christus het reeds die stryd gestry en oorwin. Daarom moet ons by Hom skuil, en deel in sy oorwinning deur nee te sê vir die versoekings van ons eie hart en geaardheid, en beklee word met die liefde van Christus in ons denke en optrede. Paulus noem die geveg ‘n worstelstryd (NAV stryd) met ‘n beeld uit die stoeigevegte van sy tyd (v12). Maar hier is dit nie twee liggame se spierkrag teen mekaar nie, maar ons gees teen die bose gees wat ons aanval in ons denke en optrede, en van buite deur die denke en optrede van ander mense.

Ons wapens is egter die waarheid as gordel om ons heupe (6:14), soos die Romeinse soldaat se leer gordel wat sy onderlyf en bobene beskerm teen pyle. Ons moet die waarheid van die evangelie se verlossing en nuwe manier van lewe aantrek en dit in ons houding, taal en gedrag uitleef (4:25).

Ons borsharnas is geregtigheid (4:25; NAV vryspraak), die regte verhouding teenoor God en die regte optrede teenoor mense (vgl. 4:24 volgens die wil van God; 5:1,2 in liefde). Die Romeinse soldaat het ‘n koper borsplaat gedra om sy borskas en hart te beskerm teen pyle en swaarde. So moet ons harte beskerm word deur reg te lewe met God en ons medemens.

Die Romeinse soldaat het leerskoene gedra vir die lang opmarse sodat sy voete kan bly marsjeer of hardloop (6:15). Die gelowige moet gereed wees om die goeie nuus van die vrede wat Christus vir ons met God en met mekaar bewerk het (2:14-18) te gebruik om op die geestelike terrein te gaan veg teen die ongelowiges, deur vir hulle van die vrede te vertel en dit teenoor hulle uit te lewe.

Geloof as skild (6:16). Die Romeinse soldaat het ‘n groot skild gedra, met ‘n houtraam wat met kalfsvel oorgetrek is en bo en onder met yster versterk is, om sy hele liggaam te bedek teen pyle wat met pik gesmeer en brandend afgeskiet is, en swaard aanvalle. Die geloof is vir die Christen sy skild teen die aanvalle van die Bose. Die geloof is ook ‘n gawe van God (2:8 letterlik: dit – nl. redding en geloof; NAV redding). Dit is vertroue in God, in Hom wat ons saam met Christus Jesus uit die sonde opwek en ons gemaak wat ons nou is. In Christus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan goeie dade waarvoor Hy ons bestem het (2:7,10).

Die helm van verlossing (6:17). Dit moet ontvang word (NAV opsit). Die Romeinse soldaat het ‘n bronshelm gedra om sy kop te beskerm. God het ons verlos uit die dood, die oordeel oor ons sonde, en die slawerny van die sonde, en ons in die nuwe koningkryk geplaas waar Christus regeer. Dit is sy gawe aan ons. Daarmee moet ons kop en ons denke gevul word.

Die swaard van die Gees (6:17). Die duiwel moet nie slegs teengestaan word nie, maar ook aangeval word. Die woord wat hier gebruik word, is die kort swaard wat die Romeinse soldaat gebruik het in man tot man geveg. Die Gees maak die swaard wat ons hanteer kragtig. Die swaard is die woord van God, die evangelie, die goeie nuus oor Christus se verlossing wat ons aan ander vertel, en wat die Gees gebruik om hulle te oortuig.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die King James Bybel

Die King James Bybel – Coen Slabber

The most influential version of the most influential book in the world, in what is now its most influential language.

Dit is een van die kommentare op die King James Bybel toe dit in 1611 – vier honderd jaar gelede – verskyn het. Dit was egter nie die eerste Bybelvertaling in Engels nie. Tydens die bewind van koning Henry VIII verskyn die Great Bible en in 1568 die Bishop’s Bible.

In Januarie 1604 roep koning James I die Hampton Court Conference bymekaar. Hulle besluit dat ’n nuwe vertaling nodig was, veral as gevolg van die probleme wat die Puriteine met die ou vertalings gehad het. Die koning se opdrag was dat die vertaling die ekklesiologie en episkopale (biskoplike) struktuur van die Kerk van Engeland moes weerspieël.

Daar was 47 vertalers wat in ses komitees gewerk het – twee elk by die universiteite van Oxford, Cambridge en Westminster. Almal was lede van die Anglikaanse Kerk. Die Ou Testament is uit Hebreeus, die Nuwe Testament uit Grieks en die apokriewe uit Grieks en Latyn vertaal.

By hierdie eerste vergadering word ’n aantal algemene reëls vir die vertaling neergelê. Hier is ’n paar van hulle:

  1. Die name van die profete en skrywers moet so vêr as moontlik onveranderd bly.
  2. Die ou “kerkwoorde” moet behoue bly – kerk mag nie met gemeente vervang word nie.
  3. Die verdeling in hoofstukke moet so vêr as moontlik behoue bly.
  4. Daar mag geen kantnotas wees nie, behalwe om Griekse of Hebreeuse woorde te verduidelik.
  5. Elke persoon op elke komitee moet sy gedeelte individueel vertaal. Daarna kom die hele komitee bymekaar. Hulle bespreek die vertaling en besluit dan wat ingesluit sal word.
  6. Elke komitee se vertalings moet aan al die ander komitees gesirkuleer word.
  7. Verskille sal by ’n algemene vergadering uitgesorteer word.
  8. Die Bishop’s Bible is hulle vertrekpunt, maar hulle kon ook ander vertalings gebruik – Tyndale, Coverdale en Geneva.

Die verskillende komitees het hulle werk in 1608 voltooi. Vanaf 1609 het die general Committee of Review die werk van die komitees hersien. Aartsbiskop Bancroft dring aan op finale seggenskap. Hy bring 14 veranderinge aan. In 1611 word die Bybel gepubliseer deur die koning se drukker Robert Barker – of as los bladsye of gebind.

Die eerste uitgawe het ’n interessante titel gehad: The Holy Bible, containing the Old Testament and the New: Newly translated out of the original tongues: with the former translations diligently compared and revised by his Majesty’s special Commitment.

in die eerste helfte van die 18de eeu word die King James Bybel algemeen aanvaar as die Bybel van die Protestantse kerke in Engeland. Soos die Nederlandse en later Afrikaanse Bybel ’n groot rol gespeel het in die uitbouing van die taal het die King James Bybel ook baie mense leer lees en skryf. Nie minder as 257 idiome in die Engelse taal het hulle oorsprong in hierdie Bybel.

Hierdie artikel is geskryf om een van die pilare van Bybelvertaling se 400ste herdenking te vier.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber