Hoe het God met die aartsvaders gepraat?

Hoe het God met die aartsvaders gepraat? – Francois Malan

Willie Esrterhuizen vra: 

God het met die mense van die Bybel op baie maniere gepraat. Met Moses blyk dit dat Hy hoorbaar met hom gepraat het. Ek wonder altyd hoe God met die aardsvaders gepraat het . Ek dink hier aan Abraham , Isak , Jakob en dan ook Josef veral toe hy in Egipte was. Hy was gehoorsaam deur daardie hele tyd en het aan God vasgehou , maar hy het nie n Bybel gehad , soos ons , om God se Woord te lees nie en die kommunikasie kon tog nie net van sy kant af gekom het nie . Op hoe ‘n manier het hy God gehoor, want geoordeel aan myself moet ‘n mens God se Woord gereeld hoor om versterk te kan word, veral as dit moeilik gaan.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord: 

‘…hoe God met die aardsvaders gepraat het. Ek dink hier aan Abraham , Isak , Jakob en dan ook Josef veral toe hy in Egipte was.’

Abraham

Genesis 12:1 begin bloot met: ‘Die Here het vir Abram gesê’. In Genesis is dit die eerste woord van God tot ‘n mens nadat Hy met Noag gepraat het (Gen.6:13-9:17). Hoe dit geskied het, word nie gesê nie.

In 20:7 word Abraham ‘n profeet genoem, en kan ons dink aan God se praat met sy profeet, wat dikwels sonder uiterlike middels of selfs ‘n visioen of ‘n hoorbare stem (soos met Samuel – 1 Sam.3:10) geskied, maar slegs ‘n spreek van God tot in die gemoed van die profeet. In Genesis 22:16 word van die volgende woorde gesê dat dit ‘’n uitspraak van die Here’ is (ne-um Jahweh; NAV Dit is Ek, die Here, wat praat). Die Hebreeuse woord vir ‘spreke’ hang saam met die woord ‘fluister’, soos ‘n influistering van die Here. Die uitdrukking word 361 maal in die Ou Testament gebruik, veral in die profetiese geskrifte: 167x in Jeremia, 83x in Hosea, 23x in Jesaja, 21x in Amos, 20x in Sagaria, 11x in Haggai, en die oorblywende kere in ander boeke van die Ou Testament, slegs hierdie een keer in Genesis.

In Genesis 13:14 word ook nie gesê hoe die Here met Abram gepraat het nie. So ook in 21:12, 22:1.

In Genesis 12:7 word gesê die Here het aan Abram verskyn, maar die klem val nie op die visuele sien nie, wel op die persoonlike omgang wat sien insluit. Die belangrike is die hoor van die belofte. Ook in Genesis 15:1 kom die woord van die Here in ‘n gesig tot Abram, maar slegs die woorde word meegedeel. In Genesis 17:1 verskyn die Here weer aan hom, en vra hom om altyd in die teenwoordigheid van God te lewe, letterlik: ‘lewe voor my aangesig en wees onberispelik- – met elke tree wat hy gee moet hy rekening hou met die Here, wat elke dag by hom is.

In Genesis 18:2,13 verskyn die Here aan Abraham soos ‘n gewone man, sodat hy met die Here kon redeneer (18:23-32). Die Here word vergesél van nog twee mans wat later as twee engele aangedui word (19:1). In 22:11,15 roep die Engel van die Here uit die hemel na Abraham. En dit is die laaste keer dat ‘n woord van die Here aan Abraham in Genesis opgeteken is.

Isak

Die Here praat met Rebekka (25:23) en met Isak (26:2). Hy verskyn aan hom in die nag (26:24),

Jakob

Die Here kom praat met Jakob terwyl hy droom van die trap wat tot in die hemel reik (Gen.28:12-16), in ‘n droom praat die Here met hom in Haran (31:3), hy sê die Engel van God het hom gelei in sy arbeid (Gen.31:11-13). God het as ‘n man met hom gestoei (Gen.32:24-30). God het verder nog met hom gepraat (Gen.35:1), aan hom verskyn en met hom gepraat (Gen.35:9-12), in ‘n naggesig met hom gepraat (46:2-3).

Josef

Van Josef word nie in Genesis gesê dat God met hom gepraat het nie, maar dat hy drome gehad het (Gen.37:1-10), drome uitgelê het (hoofstukke 40 en 41), en steeds met God rekening gehou het in alles wat hy gedoen het (39:10, ens.). Die Here was by Hom (39:23).

‘…Josef was gehoorsaam deur daardie hele tyd en het aan God vasgehou , maar hy het nie n Bybel gehad , soos ons , om God se Woord te lees nie en die kommunikasie kon tog nie net van sy kant af gekom het nie.’

Tussen 1440-1450 n.Chr. is boekdrukkuns eers ontdek. Tot op daardie stadium is alle Bybels en Bybelboeke met die hand oorgeskryf. Daarom was Bybels of gedeeltes van Bybels vir eeue slegs beskikbaar in kerke en kloosters, en het die gemeentelede nie Bybels gehad nie. Maar Bybels sou ‘n skaars artikel bly tot die stigting van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap in 1804, wat begin sorg het vir die vertaling, druk en verspreiding van Bybels aan die gewone lidmaat. In 1820 is ‘n tak darvan in Suid-Afrika gestig, wat sedert 1965 selfstandig optree in noue skakeling met die BBBG. In 1857 is die eerste volledige Bybel in Tswana gepubliseer, 1859 Xhosa, 1865 Zoeloe, 1881 Suid-Sotho, 1904 Noord-Sotho, 1907 Tsonga, 1933 Afrikaans, 1936 Venda, 1996 Swati.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Genesis 11

Genesis 11 – Francois Malan

Willie Esterhuizen vra: 

Genesis 11 het betrekking . God het die mense se taal verwar om hulle te verhoed om verder te gaan met die bou van die toring . Is dit dalk hier waar die verskillende nasies ontstaan het? Dit is baie interessant , as n mens die skepping in ag neem , dan wonder ‘n mens maar onwillekeurig hoe het dit gebeur dat daar soveel verskillende rasse op aarde is, want ons glo tog God het alles geskep , niemand anders het geskep nie.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord: 

‘Genesis 11 het betrekking . God het die mense se taal verwar om hulle te verhoed om verder te gaan met die bou van die toring . Is dit dalk hier waar die verskillende nasies ontstaan het?’

Genesis 11:1-9, oor die verstrooiing van die mense oor die hele aarde deur hulle taal te verwar, volg op Genesis 10:1-32 oor die verspreiding van die nasies wat uit die seuns van Noag ontwikkel het.

Genesis 10 verduidelik hoe die verskillende nasies almal uit Noag voortgekom het, nadat God alles wat op die aarde geleef het, mens en dier weggevee het met die uitsondering van Noag en dié by hom in die ark (Gen.7:23). Daarmee word die eenheid van die mensheid onderstreep.  

Genesis 11:1-9 spot met die mense se poging om vir hulle ‘n naam te maak, sodat hulle deur hulle bouwerk nog na hulle dood onthou sal word deur hulle nageslag. God belowe om Abraham se naam groot te maak (NAV ‘n man van groot betekenis). Dit is God wat ‘n mens se naam groot maak. Maar in Genesis 11:4 staan ‘laat ons vir onsself ‘n naam maak’. Soos in Genesis 3:5-6, wil die mens soos God wees om alles te ken, so wil hulle hier self sorg dat hulle geken sal word, en dan nog met ‘n hoë toring wat na die hemel reik. Hier word gespot met die kleinlike menslike poging teen die God van die hemel en die aarde.

‘…is dit dalk hier waar die verskillende nasies ontstaan het?’ Nee, dit word in hoofstuk 10 bespreek.

‘…as ‘n mens die skepping in ag neem…’

Die samesteller van die boek Genesis behandel die skepping voor die geskiedenis van die mensheid kan begin, in twee beskouings na mekaar (1:1-2:4a en 2:4b-4:26), soos die twee berigte oor die verspreiding/verstrooiing van die mensedom in hoofstukke 10 en 11.

Genesis 1:1-2:4a is kunsprosa in sewe afdelings met ‘priesterlike terme’ oor God wat skep deur sy bevele, en sy heerskappy só uitvoer dat sy skeppings meewerk soos Hy bepaal, en tot die doel wat Hy op die oog het. Hier word die mens laaste geskep, aan die einde van die sesde skeppingsdag.

Genesis 2:4b-4:26 is in eenvoudige verhaalstyl van ‘n gekiedenis wat ontvou in die taal van iemand wat in landbou en veeteelt belangstel, ‘n ‘boereverhaal’. Die mens word eerste geskep uit die aarde en daarna die diere. In 2:4-25 kry die mens ‘n opdrag, in 3:1-24 word die mens se ontrou aan sy opdrag beskryf, in 4:1-26 hoe dit verder met die mens gaan.

In Genesis 10:1-11:9 plaas die samesteller ook twee berigte na mekaar. Soos Genesis 1 die plek van die mens in die skepping aandui, dui hoofstuk 10 aan waar Israel tussen die volke sal verskyn. Die ‘priesterberig’ oor die skepping van die mens met die seënende opdrag om te vermeerder en die aarde te vul (1:26-28) word uitgebrei in die ‘boereverhaal’ se vertelling van die skepping, eers van die man, dan die diere, dan die vrou, en dan van die mens se poging om soos God te wees deur alles te ken. So beskryf hoofstuk 10 eers die verspreiding van die nasies oor die aarde na die sondvloed (10:32) met Jafet in die noorde en weste, Gam in die suide en ooste, en Sem in die middel. Daarna beskryf 11:1-9 hoe die Here die mense oor die hele aarde verstrooi (11:9).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Wat het van Moeder Maria en Jesus se broers geword?

Wat het van Moeder Maria en Jesus se broers geword? – Jan van der Watt

Christine vra:

Wat het van Moeder Maria, Josef en Jesus se broers geword? Is daar ‘n geslagsregister van Moeder Maria?

 

 

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die Bybel vertel ons nie veel van waar Maria vandaan kom en hoe sy dood is nie. In die buite-Bybelse apokriewe boek, die Proto-Evangelie van Jakobus  word daar wel vertel dat Maria se ouers Joachim en Anna geheet het en dit is tot vandag nog deel van die tradisie oor Maria. Wat haar ‘dood’ betref: daar is die tradisie in die Rooms-Katolieke kerk dat Maria nie dood is nie, maar lewend in die hemel opgeneem is. Sy het saam met Johannes, die dissipel van die Here na Efese in Turkye gegaan waar sy gebly het tot sy in die hemel opgeneem is.

Jesus se broers se name was Jakobus, Joses, Simon and Judas (Mk 6:3 en Mat 13:55). Ons weet nie veel van hulle nie. Judas kon volgens sommige tradisies dalk ‘n dissipel gewees het (met die naam Taddaeus). Sommige beweer selfs dat hy die Brief van Judas in die Bybel geskryf het, maar dit is nie seker nie.

Jakobus, die broer van Jesus, was die leier van die kerk in Jerusalem, maar is in ongeveer 62 nC dood. Hy is deur die Jode aangekla dat hy die wet oortree het en is toe in Jerusalem gestenig.

Wat Simon betref – die kerktradisie tel hom as ‘n halfbroer van Jesus. Volgens ‘n tradisie het Maria na die dood van Josef met Klopas getrou en Simon was hulle kind.

Omdat die Bybel egter nie vir ons direkte inligting gee nie en ons baie afhanklik is van latere geskrifte waaroor daar nie sekerheid bestaan of hulle die waarheid praat nie, moet ons die gegewens hierbo maar met versigtigheid hanteer. Dit is nie te sê dat dit so was nie.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Spoke, geeste en towery

Spoke, geeste en towery – Jan van der Watt

Shawn vra:

Ek is 32 jaar oud & is van kleins af grootgemaak met ‘n groot liefde vir ons Here Jesus. My ouers het my onderrig & ook laat onderrig in die Woord. My vraag is die volgende: Ek wil weet wat julle opinie ontrent spoke, geeste & goëlery in huise ens is?? Ek is nie heeltemal oortuig dat spokery in huise & of besigheids persele noodwendig die werk van demone is nie. So ook nie gedaantes wat gereeld op dieselfde plek gesien word deur menigde mense nie. Ek het al met tè veel mense te doen gehad om sommer net te aanvaar dat sulke gebeurtenisse nie gebeur met doodgoeie onskuldige Christen mense nie. Vir die afgelope amper twee jaar probeer ek mense help & bystaan wat sulke gebeure ervaar. Maar wil graag weet dat ek nie die enigste Christen is wat glo in spokery ens nie. Ek is baie bewus van demoniese magte wat daagliks probeer om ons aan te val, maar is glad nie geintimideerd daardeur nie. Nie omdat ek so goed of sterk is nie, maar omdat die Bloed van Christus my, my huis & my familie beskerm. Ek voel wel ook dat daar iets bo-natuurliks maar anders as demone is wat mense kan pla. Ek sal regtig baie graag in verbinding wil tree met iemand wat meer geletterd is in die veld om sodoende my kennis op te skerp & sodoende instaat te wees om mense wat geteister word deur die tipe ervarings te kan help!!

 

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Daar is heelwat materiaal op Bybelkennis.co.za beskikbaar oor demone en geeste. Die Bybel gaan daarvan uit dat demone en geeste bestaan. Spoke is eintlik ook maar net ‘n ander naam vir geeste van mense wat dood is. Die Bybel wil egter nie dat ons ons met sulke dinge ophou nie, omdat ons die Heilige Gees het. Ons het eintlik niks nodig van ander geeste nie. As ons egter gepla word deur sulke geeste is die Heilige Gees die een wat ons kan help en beskerm. Ek dink ook nie dat ons daarvan moet uitgaan dat alle geeste sleg is nie. Daar is Shawn heeltemal reg.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt