Romeine 11:25 – 26

Romeine 11:25 – 26 – Jan van der Watt

Benita vra:

Wat bedoel Paulus in Romeine 11:25-26?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Rom 11:25-26 lees so: Ons staan hier voor ‘n geheimenis, broers, en ek wil hê julle moet weet wat dit is, sodat julle nie te selfversekerd sal wees nie. Die verharding het oor ‘n deel van Israel gekom en duur totdat die volle getal uit die heidennasies in die koninkryk ingegaan het; 26en op hierdie manier sal die hele Israel gered word. So staan daar geskrywe: “Uit Sion sal die Redder kom, en Hy sal die goddeloosheid van sy volk Jakob verwyder.’ Hierdie verse staan in van die moeilikste dele in die Nuwe Testament, wat by Rom 9-11 strek. Daar praat Paulus oor die feit dat die Jode nie as geheel Jesus as Messias aanvaar het nie, terwyl die heidense volke die beloftes van God en Jesus omhels het. Paulus waarsku egter in die gedeelte dat die heidene nie te selfversekerd moet wees teenoor die Jode nie. God het nie sy beloftes aan Israel vergeet nie – as sy plan onder die ander nasies sy volle gang gegaan het, sal die Jode ook massaal hulle pad na God toe terugvind: daarvoor sal God self sorg. Ons praat dus in die teologie van die massabekering van die Jode in die eindtyd, hoewel dit nie verstaan moet word in die sin dat elke Israeliet tot bekering gaan kom nie, net soos nie elke persoon uit die heidennasies tot bekering gaan kom nie. Die gebeure bewys dus onder andere dat God getrou is aan sy beloftes (Rom 11:1).

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Poligamie in die Ou Testament

Poligamie in die Ou Testament – Jan van der Watt

Anton vra:

Hoekom mag mans in die Ou Testament meer as een vrou hê en in die Nuwe Testament het dit verander?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hierdie is ‘n moelike vraag om te antwoord, want daar is nie ‘n duidelike antwoord nie. In die Ou Testament kry ons nog die Aartsvaders of Konings wat meer as een vrou trou (poligamie), maar in die Nuwe Testament is dit een vrou en een man (monogamie). Die mees aanvaarbare teorie is dat die Jode en ook die Christene hulle oor die loop van die jare aangepas het by die Romeinse gebruik van net een vrou per man. Die jare se blootstelling aan die omgewing van monogamie het daartoe gelei dat dit ook die gebruik van die Christene geword het. Jesus en die apostels het die situasie as die aanvaarbare een kom bevestig.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Die lydingstydperk

Die lydingstydperk – Jan van der Watt

Willie vra:

Kan u vir my asseblief die lydingstydperk van Jesus duidelik maak. Ek moet dit kan bespreek en verduidelik. Hoekom, vir wie, hoe dit gebeur het.

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hier is twee vrae ineen – ‘hoekom, vir wie en hoe’ en wat is die lydingstydperk.

 

Vraag 1: Hoekom, vir wie en hoe?

Die ‘lyding van Jesus’ is ‘n omvattende onderwerp wat eintlik die hele Nuwe-Testamentiese boodskap insluit. Die fokus en sentrale punt van die lyding is die kruisdood van Jesus, wat Paulus dan ook in 1 Kor 2:1-5 die hart van die evangelie noem. (Dit moet altyd met die opstanding van Jesus saam gelees word, soos wat uit 1 Kor 15 blyk – Jesus het gesterf maar het ook opgestaan). Hier moet ook net vinnig genoem word, dat nie net die kruis nie, maar Jesus se hele lewe as ‘n vorm van lyding gesien kan word, soos Paulus byvoorbeeld in Fil 2:6-11 verduidelik – Jesus het sy goddelike verblyf in die hemel opgegee om mens te word.

Dat die Messias (= Gesalfde Koning wat God gestuur het) aan ‘n kruis sou sterf was natuurlik heeltemal teen die alledaagse verwagting in. Die Jode in die tyd van Jesus het verwag dat daar ‘n koning gaan kom om hulle van die juk van die Romeine te verlos en Jerusalem vir hulle vry te maak. Nou kom Jesus as die koning en die Romeine maak Hom dood, in plaas van die ander kant om. Daarom het almal Jesus eintlik teleurstellend verlaat (sien Luk 24:13-35, veral vers 21) – daar was net ‘n paar mense, feitlik net vroue, by die kruis oor. Met die opstanding het alles verander – Jesus se opstanding het gewys dat Hy regtig God is, omdat Hy gedoen het wat geen mens kan doen nie.

Stel jouself nou voor dat jy in daardie tyd geleef het, en nou moes verduidelik dat die persoon wat aan ‘n kruis dood is (maar nou lewe, wat mense maar moeilik sommer so wou glo tot hulle werklik ‘n ontmoeting met die lewende Jesus gehad het – sien bv. Hand 17:32), die Messias is wat hulle kom red. Die ‘onwaarskynlike boodskap’ het juis die hart van die verkondiging van die kerk geword. Hoekom Jesus moes ly en sterf word dus op verskillende maniere in die Nuwe Testament verduidelik. Laat ons na ‘n paar (nie almal  nie)van die hoekoms en vir wie’s kyk:

* Jesus moes die bose kom oorwin – Hy moes op geestelike gebied mense van die duiwel wat agter al die verkeerde dinge in die wêreld sit, ook van die wêreldmagte soos die Romeine, kom vrymaak. So het Hy nie ‘n paar Jode vir ‘n tydjie in die eerste eeu van die mag van die Romeine verlos nie, maar kon mense oor al die eeue uit die mag van die bose kry, ja, almal wat glo word gered. Lees maar gedeeltes soos Heb 2:10,14; 1 Joh 3:8; 1 Tim 1:15.

* Jesus se bloed reinig ons van sonde – lees Hand 20:28; Rom 3:21-26; 1 Kor 6:11; 15:3; Gal 1:4; Ef 1:7; Tit 2:14; Heb 9:14; 1 Pet 1:19; 1 Joh 1:6-10. Met hierdie idee van bloed sukkel ons soms, maar as ons die Ou Testament lees, sien ons dat die verhouding tussen God en die mens met verbonde (ooreenkomste – sien elders in Bybelkennis.co.za) gereël word – God maak met Noag, Abraham, Jakob en by Sinaï met sy volk verbonde of ooreenkomste. In ‘n verbond/ooreenkoms tussen twee groepe is daar altyd voorwaardes aan verbonde, soos met ons ooreenkomste vandag ook maar (as ek ‘n kontrak teken vir ‘n kar verwag ek dat ek ‘n goeie kar kry en die verkoopsman verwag dat hy goeie geld kry). Toe God met Abraham en met sy volk by Sinaï so verbond gemaak het, was die ooreenkoms dat Hy vir hulle ‘n God sal wees en dat hulle vir hom ‘n volk moet wees – as hulle egter nie hulle deel van die ooreenkoms nakom nie, moet hulle sterf, want dan onteer en minag hulle die lewende God. Vandaar die idee dat ongehoorsaamheid aan God bloed (offers) vra, om te wys dat die mens nog belangstel om met die verbond aan te gaan (jammer is oor die sonde). Jesus het egter gekom en eens en vir altyd die voorwaarde van die ooreenkoms nagekom: Hy het gesterf sodat almal wat aan Hom glo op grond van daardie bloed kan sê dat hulle jammer is oor wat hulle verkeerd gedoen het en graag met die ooreenkoms wil aangaan – lees weer 1 Joh 1:6-2:2. As Jesus dit nie gedoen het nie, sou ons dit moes doen. Daarom sê ons Hy het sy lewe vir ons gegee en word dit dikwels met offers verbind. Hy red ons dus van die sonde onder andere ook deur die voorwaardes van die goddelike ooreenkoms na te kom.

* Die koms en kruis van Jesus is ook ‘n bewys van die liefde van God en sy Seun (lees Joh 3:16; Ef 5:25; Op 1:5) waardeur God nie net die Jode nie maar alle mense die kans gee om kinders van God te word (Ef 2:14-18).

Hierdie is maar net ‘n paar voorbeeld van hoe daar oor die lyding en kruisdood van Jesus nagedink word.

 

Vraag 2: Wat is die lydingstydperk?

Die lydingstydperk word gewoonlik gesien as die laaste tydperk van Jesus se lewe toe Hy Jerusalem toe is om te gaan sterf. In die kerk word die ‘lydingstyd’ gevier deur sewe weke voor Paasfees elke Sondag ‘n ander faset van Jesus se lyding te vier. In party kerke is daar ‘‘n vaste patroon (liturgie) maar in ander kerke word daar eenvoudig net in die (voorbereidende) tyd oor die lyding van Jesus nagedink. Die hoogtepunt is dan met die naweek van Paasfees.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Judas se dood

Judas se dood – Jan van der Watt

Erika vra:

Hoe is Judas dood? Daar is twee weergawes in die Bybel. Watter een is korrek? Mattheus 27:5 en Handelinge 1:15-19.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die twee gedeeltes lees soos volg: Mat 27:5: :” Judas het toe die geld in die tempel in gegooi, weggeloop en homself gaan ophang.” en Hand 1:18: ”Met die geld wat Judas vir sy misdaad gekry het, het hy ‘n stuk grond gekoop. Daar het hy vooroor geval en oopgebars, en al sy ingewande het uitgepeul.” Dit is twee verskillende weergawes van Judas se dood. In die literatuur word daar verskillende verklarings voor gegee. Party sê dat die antieke geskiedskrywers nie so bekommerd was oor die fyn historiese detail nie – hulle kon soms die feite so bietjie aanpas om ‘n sterker boodskap te kommunikeer. In die geval van Matteus doen Judas die enigste eerbare ding wat ‘n dissipel kan doen wat sy meester verraai – hy pleeg selfmoord. In Handelinge lê die klem meer op die straf van God – Judas bars oop vanweë die straf op sy boosheid. Wat presies gebeur het is nie so belangrik nie, maar wat die dood wou kommunikeer. Ander probeer die twee gedeeltes harmoniseer – hulle sê dat Handelinge die verhaal van Matteus ‘uitbrei’. Judas het homself opgehang, maar toe vooroor geval en oopgebars. Of dit is wat gebeur het, kan niemand sê nie. (Daar is ander weergawes soos byvoorbeeld by die tweede eeuse skrywer Papias, maar dit is fiktief).

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt