Is God en Allah een?

Is God en Allah een? – Jan van der Watt

Juliana vra:

Die antwoord op die webblad lees dat Allah ‘n god van Mekka wat verwar was met God (Here) en toe aanbid is. Maar ek verneem dat daar baie ooreenkomste is tussen die Bybel en Koran aangaande “Bybelse” geskiedenis en sommige mense sê ook dat God en Allah dieselfde god is. Dat Jesus ook erken word as ‘n profeet maar dat Mohammed die eintlike ware profeet is. So ook met die Joodse geloof, ons dien dieselfde Vader God maar hulle glo dat Jesus vals was en dat die Seun nog moet kom. Nou my vraag: Ek is BAIE verwar aangaande al hierdie gelowe. Ek weet en glo dat Jesus die enigste lig, weg en waarheid is, maar hoe kan die Jode en Muslims “dieselfde” god en geskiedenis dan so verdraai om hulle te pas, om net een deel van die Bybel te glo en nie die res nie? Waar het Islam dan vandaan gekom?

 

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Oor die ware God is daar opmerkings elders in www.bybelkennis.co.za. Ek wil graag fokus op waarom daar in Islam ook na die aartsvaders en Jesus verwys word. Mohammed, wat verantwoordelik was vir die opskrifstelling van die Koran, het in sy jonger lewe direkte kontak met beide die Jode en die Christene gehad. Hy was byvoorbeeld saam met sy oom na Jerusalem en het daar met die Joodse godsdienste en hulle geskrifte (die Ou Testament) in aanraking gekom. Hy het dit as waar aanvaar. Toe die Jode hom later verwerp, het hy die Joodse godsdiens verwerp, maar nie die eerste boeke van die Ou Testament nie. Dit het deel van sy kennis gebly. Hy was ook positief teenoor die Christene. Toe hy eenmaal, toe hy nog jonger was, vir sy lewe moes vlug, het hy by Christene (in Afrika) veiligheid gevind. Hulle het toe vir hom gesorg. Daar het hy van sy kennis van die Jesus en die Christendom opgetel wat by hom gebly het. Toe die Koran op skrif gestel is, is die inligting uit die eerste vyf boeke van die Ou Testament en inligting oor Jesus in die Koran opgeneem. Daarom kry ons tot vandag toe nog hierdie inligting in Islam.

Dit moet egter nie verwar word met die God wat aanbid word nie. Toe beide die Jode en die Christene hulle rug om Mohammed en sy openbarings gedraai het, het hy bewustelik na Mekka gegaan en die naam van die lokale god aldaar vir sy godsdiens oorgeneem. Dit het ook die mense saamgebind. Omdat hy die eerste vyf boeke van die Ou Testament geken het, is daar ooreenkomste tussen die god van die Koran met die beeld van God wat ons in die eerste vyf boeke van die Ou Testament het. Omdat die res van die Ou Testament en die Nuwe Testament nie by Mohammed ‘n sterk rol gespeel het nie, kom die ander eienskappe van God in die res van die Bybel nie voor nie, wat beteken dat die beeld van God asook die manier waarop ons God moet dien in dit Koran en in die Bybel verskil. Veral die feit dat die Christendom se redding deur Jesus kom en dit belangrik is om te weet en te bely dat Hy God en mens is wat uit die dood opgestaan het, maak die redding heeltemal verskillend. Hoewel Jesus in Islam erken word as profeet (Mohammed het mos by die Christene gehoor daar is iemand soos Jesus) bly Hy maar net ‘n gewone mens. Dit alleen maak die twee godsdienste al onherroeplik verskillend.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Christene en Sangomas

Christene en Sangomas – Jan van der Watt

Hennie vra:

Kan Christene gebruik maak van slimmense/ sangomas?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Dit lyk of hier twee vrae is: kan Christene gebruik maak van slim mense en kan Christen gebruik maak van Sangomas? Natuurlik kan Christene gebruik maak van die insigte van slim mense. Wysheid is ook ‘n gawe van God.

Met Sangomas is dit ‘n ander storie. Die sisteem in tradisionele Afrika godsdiens(te) werk so. Die mense in Afrika glo dat die heelal vol geeste (ook God) is en dat die geeste invloed uitoefen op mense. Daar is goeie geeste en slegte geeste. As iemand van jou stam sterf, verdwyn die persoon nie, maar bly deel van jou familie, maar nou as onsigbare gees (lewende dooie). Die gees van die persoon bly by jou familie en jy  moet jou verhoudings met die persoon gesond hou, anders kan die familielid jou laat betaal vir jou swak gedrag. Natuurlik is die belangrikste ding vir jou as mens om te sorg dat die geeste aan jou kant bly – jy moet die geeste tevrede hou. Maar hoe weet jy of die geeste aan jou kant is? Jy het iemand nodig wat goeie kontak met die geeste het en dit is ‘n sangoma. Daar is goeie en slegte sangomas (die ander word Ngaka genoem). Deur na die sangoma te gaan, maak jy kontak met die geeste om op so manier uit te vind wat jy moet doen om hulle tevrede te hou. Hulle kan jou byvoorbeeld siek maak. Die sangoma moet dan vir jou kontak maak met die geeste, by die geeste uitvind wat gedoen moet word, dit vir jou vertel en so help om die siekte te genees. Soms gebruik hulle ook ander tegnieke, maar dit is nie hier van belang nie.

Uit wat nou gesê is, is dit duidelik dat Christene nie werklik van sangomas gebruik moet maak nie. Ons het die Heilige Gees in ons en wat meer wil ons hê? As ons probleme kry en hulp nodig het, is Jesus en die Gees ‘n gebed ver.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Verskillende skeppingsverhale

Verskillende skeppingsverhale – Marius Nel

Erika vra:

In Genesis 1 en Genesis 2 word twee verskillende skeppingsverhale uitgebeeld. Kan u verduidelik asb?

Antwoord:

Dr. Marius Nel antwoord:

Hier is die teologiese antwoord op die vraag:

 

OERVERHALE (GENESIS 1-11)

Hier begin Israel se teologiese geskiedenis van die wêreld. Dit vorm die komplekse omgewing waarin Israel se geloof en lewe verstaan moet word.

Daar is twee kritiese probleme wat al lankal bespreek word:

1. Israel gebruik materiaal wat hulle elders leen: jy vind hier parallelle tekste wat ouer as die Bybelse teks is en in groot kultiese sentra van politieke wêreldmagte ontstaan het. Hier dien dit as ‘n wyse om Israelitiese bestaan en godsdiens te fundeer, te legitimeer en te orden. Vir lank is na sodanige inligting verwys as “mite” in navolging van Gunkel, waarmee nie na ‘n leuen verwys word nie maar eerder na funderende poëtiese vertellings wat die basiese selfbegrip van ‘n samelewing en sy bestaansrede verduidelik (Joseph Campbell).

2. In oerverhale het navorsers verskeie tradisies uitgewys, wat te doen het met die Godsname, Elohim en JHWH. Hieruit formuleer Julius Wellhausen die hipotese van ‘n Priesterlike skrywer asook bydraes deur die Elohis en Jahwis.

Karen Armstrong verduidelik dit so: In die agtste eeu het Israel nog nie sy godsdiens verinnerlik nie. Godsdiens was blote uiterlike rituele. Nou leef die Koninkryk van Juda in die suide in wat vandag as die Wesoewer bekend staan, met die hoofstad in Jerusalem; terwyl die sterker Koninkryk van Israel in die noorde heers. Die Adam-en-Evaverhaal ontstaan in die agste eeu in die suide, verwys na God as JHWH en ons verwys na die skrywer as J. In dieselfde tyd skryf iemand in die noorde ook ‘n soortgelyke weergawe van Israel se geskiedenis neer maar gebruik die meer formele naam vir God, Elohim. Ons verwys na hom as E. In albei gevalle is dit hofverhale wat dien om die koninklike annale aan te vul. Nadat die noordelike ryk in 722 vC vernietig is deur die Assiriërs, word die twee dokumente gekombineer in die JE-vertelling, wat die vroegste stratum van die Bybel vorm.

J en E interpreteer die geskiedenis van Israel radikaal verskillend omdat hulle vir verskillende redes die verhale oorvertel. Later geslagte het telkens dié verhale weer oorvertel en in terme van hulle eie situasie geïnterpreteer. Die JE-verhale is heel waarskynlik by kultiese byeenkomste gebruik. Sedert 1200 het die konfederasie van stamme by heiligdomme in die Kanaänitiese hooglande byeengekom, by Silo, Jerusalem, Hebron, Bet-El, Sigem en Gilgal, waar hulle die verbond hernu het wat hulle aan mekaar bind.

Teen 1850 v.C. het Abraham na die Beloofde land vertrek en teen 1200 het Josua die land verower.

J beskou Abraham as iemand wat in die suide van die land leef en die primêre held van Israel is. J het min tyd vir Moses wat baie meer gewild in die noorde was en een van die belangrikste eksponente van E.

E dra niks by tot Genesis 1-11 nie maar voeg baie by tot die partiargverhale as Israel se geskiedenis vir hom begin.

In die skeppingsverhale is P en J se vertellings langs mekaar geplaas, in 1:1-2:4a en 2:4b-3:24. In die lang vloedverhaal is die twee vermeng, met 6:5-8; 7:1-12; 8:20-22 as basis vir J se bydrae en 6:9-22; 7:13-16; 8:14-19; 9:1-17a as artikulasie van P. Wat belangrik is, is dat die finale weergawe van die verhaal kompleks maar ook volledig is. Die voorgeskiedenis is nie werklik belangrik om die teks te verstaan nie omdat die teologiese interpretasie van die finale vorm die eintlike waarde daarvan vorm.

Tog is dit interessant dat die bronneteorie wat E, J en P in die Tetrateug uitwys, ons in staat gestel het om verskille in die Godsbeeld en -beskouing van die onderskeie bronne op te merk:

?         J se God is antropomorfies, sodat hy saam met Adam en Eva in die aand rondloop en by Abraham gaan eet. In Eks 33 vra Moses om JHWH te sien, wat JHWH dan ook toelaat: 21Die Here sê verder vir hom: “Kom staan by hierdie rotse, hier by My. 22Wanneer Ek in my majesteit hier verbykom, sal Ek jou tussen die rotse laat staan en jou met my hand beskerm terwyl Ek verbygaan. 23Wanneer Ek verby is, sal Ek my hand wegvat en dan sal jy My van agter kan sien. Niemand mag My van voor af sien nie.”

?         P se God openbaar Hom weer deur natuurverskynsels: in vuur en deur ‘n aardbewing op Sinai, en op die woestynpad in ‘n wolkkolom wat skadu in die dag verskaf en ‘n vuurkolom wat lig in die nag gee. Hy stel belang in orde en grense: sy skepping bestaan daaruit dat Hy grense tussen substansies stel. P se belangstelling lê by Aäron se nageslag, en die tabernakel/tempel-gebaseerde godsdienstige stelsel van offers.

?         E se God is verhewe en onkenbaar. Niemand kan Hom sien en bly leef nie.  Hy is ver van mense, en kommunikeer deur middel van drome en visioene.

?         Die Deuteronomis se God was weer die Een wat eksakte eise aan sy volk stel.

Die narratiewe bronne, J. E, P en D, het elkeen ‘n wetsversameling wat daaraan gekoppel is. Die Verbondsversameling van Eksodus 20:19-23:33 (vgl. Eks 24:7) word met J of Everbind, terwyl die Heiligheidskode van Lev 17-26 sy naam ontleen aan Lev 19:2: “Sê vir die hele gemeenskap van Israel: Julle moet heilig wees, want Ek, die Here julle God, is heilig. ” Alhoewel dit heel moontlik nie deur die Priesterlike skrywer neergepen is nie, reflekteer dit die Priester se teologie. Die Deteronomis se wetsversameling kom in Deut 12-26 voor.

Vroeër is die bronne met groot sekerheid gedateer. J is beskou as die vroegste versameling, en in die tyd van Dawid en Salomo geplaas, in die tiende eeu v.C. Hierop volg die werk van E wat met die Noordelike Ryk verband hou. D is weer verbind aan die hervormingswerk van koning Josia in die laat sewende eeu, en P is in die sesde eeu v.C. geplaas.

Vandag is daar nie meer soveel sekerheid oor die datering of opvolging van die bronne nie, en sommige geleerdes trek selfs sommige van die bronne in twyfel. Hulle sien raak dat dit moeilik is om E van J te onderskei, dat albei vroeg in die Tora voorkom en dat dit onmoontlik raak om vanaf Eksodus tussen J en E te onderskei. Daarom praat hulle eerder van JE as ‘n vroeë narratiewe bron wat verskeie tradisies inkorporeer. Klem word ook vandag daarop geplaas dat ‘n bron nie ‘n enkele skrywer verteenwoordig nie, maar veel eerder ‘n lang historiese periode binne ‘n spesifieke skool of groep of tradisie. Daarom is dit beter om te praat van strome van tradisie wat van mekaar verskil in terme van hulle basiese veronderstellings, eerder as van bronne deur enkele outeurs war ‘n spesifieke periode en lokaliteit veronderstel.

Tog is daar duidelike verskille tussen die strome van tradisies wat dit wel moontlik maak om onderskeie bronne te mag onderskei. Om een voorbeeld te noem, die Deuteronomis se idee van Israel se heiligheid verskil van die Priester se idee. Bronnekritiek bly ‘n nuttige hulpmiddel om die Pentateug te verstaan.

Hoe het die verskillende bronne van die Pentateug bymekaar gekom om ‘n koherente boek te vorm? Navorsers praat van R, ‘n redakteur of span van redakteurs, wat die verskillende bronne saamgevoeg het, waarskynlik oor ‘n periode en in verskillende stadia. Nie alle tradisies van Israel is waarskynlik oorgelewer nie; ‘n keuse is gemaak. Op grond waarvan die redakteurs hulle keuse gemaak het, en wat die ordeningsbeginsel was wat hulle gebruik het, is ook nie aan ons bekend nie.

Wat wel beklemtoon moet word, is dat die finale redaksie van die boek nie ‘n suiwer konsekwente werk opgelewer het met ‘n spesifieke perspektief nie, soos ons van moderne werke verwag wat meer as een skrywer het. Jy vind hier eerder verskeie stemme en perspektiewe.

Die werk is moontlik voltooi tydens die Babiloniese ballingskap van Juda (586-538 v.C.) of kort hierna in die Persiese periode. Die Pentateug het ‘n belangrike rol in Jode se geskiedenis begin speel, omdat hulle besig was om hulle identiteit te verloor. Die Pentateug het hulle identiteit histories verbind aan JHWH se betrokkenheid by Israel.

Die doel van die vertelling is om aan te dui hoe God alles skep, insluitende alle nasies, maar dan een volk uitsonder en met hulle ‘n besondere pad begin stap.

Die Antieke-Nabye-Ooste het nie nog so ‘n werk opgelewer nie, ‘n werk wat so ‘n lang stuk geskiedenis in soveel genres en bronne bevat nie.

Die vraag is: moet ons op die onderskeie bronne konsentreer, tot die mate wat dit moontlik is om bronne te onderskei? Of moet ons op die finale redaksionele werk ons aandag vestig?

Die mees verantwoordelike wyse om die teks te interpreteer, is om raak te sien dat dit uit bronne bestaan wat vir onderskeie redes inligting saamgebring het, maar dat die finale produk benut is om sin in Israel se ervaring van die sinloosheid van die ballingskap in te dra.

Die maklikste onderskeid om te maak is tussenvertellings en die geslagsregisters wat voorkom in hfste 5, 10, 11. Die geslagsregisters is die wyse waarop jou verbintenis aan ander mense en groepe bewys word: hier hoort ek, is ek gewortel en gewettig. Hierin lê netwerke van mag en lojaliteit wat vir die antieke mens identiteitsvormend was.

 

Skrywer: Dr Marius Nel

 




Genesis 15

Genesis 15 – Marius Nel

Rudolph vra:

Ek lees in Genesis 15:13-16 dat die Here vir Abraham vertel van Israel se 400 jaar in Egipte. Maar Hy verwys na 4 geslagte na Abraham wanneer sy nageslag weer sal terugkeer na die land. Vier geslagte later is die Israeliete nog in Egipte gewees – hoe verklaar ek dan hierdie vers?

Antwoord:

Dr. Marius Nel antwoord:

15:7-21 Geloof ten spyte van land-loosheid. Dis nou alles goed en wel dat Abram verseker is dat hy ‘n eie kind sal hê. Maar wat help dit hy kry ‘n nageslag en hulle bly vreemdelinge sonder ‘n eie land? Die manier waarop die Here ook hierdie belofte bevestig, is bedoel om dit onuitwisbaar te maak. Dit neem die vorm aan van ‘n offerritueel, ‘n herhaling van die belofte, afgesluit met ‘n verbondsluiting wat die omvang van die land aandui. Nou is dit nie net woorde nie, maar dade wat Abram moet bemoedig ten spyte daarvan dat hyself nooit die land sal besit nie.

Die ritueel met die diere waarvan sommige deurgesny is, kan nie met sekerheid verklaar word nie. Sommige kenners verklaar dit op grond van destydse handelinge waarmee ooreenkomste bevestig is en waardeur gesê word: “Mag die een van ons wat hierdie ooreenkoms breek, so deurgesny word.” Tog is geen presiese parallel in die antieke Nabye-Ooste bekend nie. Selfs die byna gelykluidende Jeremia 34:18-19 (vgl Rig 19:11-20:48; 1 Sam 11:1-10) is geen presiese parallel nie. Dit moet eerder gesien word as ‘n ritueel uit die offerpraktyke met die funksie om ‘n ooreenkoms (verbond) te bevestig.

Die letterlike vertaling van ‘n verbond sluit is “‘n verbond sny”. Die deursny van die diere kan dus verwys na die “sny” van die verbond.

Dis duidelik dat hierdie vertelling antieke elemente vertoon, maar dat dit ook die wêreldbeeld van latere vertellers weerspieël. Die beskrywing van die lotgevalle van Abram se nageslag (15:13-16) is ‘n verwysing na die Egiptiese slawerny en die besetting van die land. Die beskrywing van die land en die lys volkere (15:18-21) verwys na die grense tydens Salomo se bewind. Hierdie vertelling het dus in latere tye, en wel tydens die ballingskap, Israel bemoedig met die herinnering dat God se beloftes tog vervul is.

Vier geslagte is volgens Joodse berekening maar slegs 160 jaar. Hoe die gedeelte 400 jaar en 4 geslagte met mekaar in verband bring, is nie duidelik nie. Ons het met ‘n antieke teks te doen wat vir eeue met die hand oorgeskryf is, en dalk het ‘n oorskrywingsfout hiertoe gelei.

 

Skrywer: Dr Marius Nel