Grootdoop en Kleindoop – Vraag

Grootdoop en Kleindoop – Kobus Kok

Bernard vra:

Ek is steeds lidmaat van die NG Kerk en het lank met my dominee oor die doop gesels omdat ek baie deurmekaar geraak het want een sê so die ander sê so. Ek glo dit is sonde om die kleindoop te verwerp, want ek is kleingedoop en ek gaan oor na ander kerk soos die AGS en ek laat my oordoop. Die doop red niemand nie. Jesus het mos in die Jordaanrivier in ons plek gedoop. In Handelinge 2 vers 38 en 39 gee ek graag deur: in vers 38 voor Jesus se hemelvaart. Toe antwoord Petrus hulle:” Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus. Dan sal God julle sondes vergewe (tien dae nadat Jesus opgevaar het na die Hemel) en sal julle die Heilige Gees as gawe ontvang. Die Heilige Gees was nog nie voor die hemelvaart onder hulle nie en die uitstorting van die Heilige Gees en doop met die Heilige Gees is dieselfde. Vers 39: Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep” Die vraag is is babas kinders? Ja, die babas is kinders. Nou wil ek vir iemand vra wat watter ouderdom af is die babas kinders pasgebore? Twee jaar oud? Ongebore? Dit staan presies en duidelik in handelinge 2:39 dit is die belofte wat God vir ons gegee het dat ons aan hom behoort die ou verbond was die besnydenis en die nuwe verbond die verbondsdoop. As iemand vir my vra waar staan daar in die Bybel geskrywe van babas wat gedoop was, kan ek dieselfde vraag vra waar staan daar in die Bybel geskrywe van vrouens wat nagmaal gebruik het? Daar staan nêrens in die Bybel geskryf dat doop onderdompel beteken nie.  Jesus het Hom in ons plek in Jordaanrivier laat doop en ons kan Hom nie naboots nie. Doop red ons nie en ek is kleingedoop in die NG Kerk en ek gaan my nie weer laat doop nie. Dit is sonde want Efesiërs 4 vers 5 sê daar is net een Here een Geloof een doop

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Nuwe navorsing bewys Groot-doop en Klein-doop, besprinkeling en onderdompeling in Vroeë Christelike Kuns en argitektuur

Dr. Kobus Kok

Ek verwys diegene wat oor die doop vrae het graag na die goeie artikel van Prof Adrio König wat op die webblad verskyn (http://www.bybelkennis.co.za/Die-Groot-Geloofswoordeboek/Die-Groot-Geloofswoordeboek-Doop.html ). Prof Konig het ook ‘n boek geskryf oor die doop wat op die Suid Afrikaanse gehoor gemik is. Daar is ook baie ander artikels op ons webtuiste wat reeds oor die tema van die doop verskyn het. Druk gewoon “doop” in die soekfunksie en u sal ‘n hele aantal artikels vind.

Onlangs het daar ‘n uitstekende boek verskyn deur Everett Furguson (2009) oor die doop. Prof Ferguson is ‘n wêreldbekende geleerde in Amerika wat al vir meer as 50 jaar op die vroeë kerklike geskiedenis navorsing doen. Die boek se titel is: “Baptism in the Early Church: History, Theology and Liturgy in the first five centuries, waar Ferguson die ontwikkeling van die doop in die eerste 5 eeue van die vroeë kerk bestudeer. In sy boek bekyk hy ook die voorgeskiedenis van die doop as verskynsel, nie net in die Joodse geloof nie, maar ook in die heidense gelowe. Ons moet in gedagte hou dat die doop as ritueel nie iets is wat die eerste keer uit die bloute uit gedoen is nie. Doop-rituele was praktyke wat vir eeue al in gebruik was. In die Christelike konteks kry die Christelike doop egter ‘n ganse nuwe betekenis! Tog was die praktyk van rituele wassing vir die antieke mense ‘n bekende gebruik in religieuse konteks.

Ferguson het ‘n interessante hoofstuk rondom pp 130 van sy boek waar hy voorbeelde gee van die doop in vroeë Christelike kuns, asook verskeie doopvonte wat in die argeologie na vore gekom het. In beide die kuns en die doopvonte sien ons hoe die vroeë kerk met die doop omgegaan het en hoe dit in verskillende kontekste verskil van mekaar.  Hierdie boek beslaan amper 1000 bladsye, en sal ‘n standaard verwysingsbron oor die doop in die vroeë kerk word.

doop1

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Bo is ‘n voorbeeld van ‘n  vroeë Christelike kuns uitbeelding waar iemand gedoop word. Let daarop dat die water van bo af op die persoon gegooi word!

 

doop2

 

 

 

 

 

 

 

 

Vroeër die maand was ek in Griekeland en het onder andere Filippi besoek, die stad waar Paulus die eerste kerk op Europese bodem geplant het. Dit was in Filippi waar Paulus vir Lidia en haar hele huisgesin in ‘n rivier gedoop het (Hand 16:11-15). Ons was ook daar by die plek waar Lidia en haar huisgesin volgens oorlewering gedoop is. Die doopvont  wat u in die foto sien is vandag oor die stroompie gebou, in die vorm  van ‘n kruis.

 

doop3

 

 

 

 

 

 

 

 

 

So entjie daarvandaan, naby die tronk van Paulus is daar die oorblyfsels van ‘n vroeë kerk met ‘n doopvont, ook  in die vorm van ‘n kruis, wat 1.5 meter diep was. In ‘n ander kerk het ons ook ‘n doopvont gesien soos die tipiese een wat ons vandag in die NG Kerk sien wat net vir beskrinkeling gebruik kon word.  Skaf gerus die boek van Ferguson aan om die teologiese ontwikkeling en gebruike rondom die doop in die eerste vyf eeue te bestudeer. Dit is geweldig interessant. Nadat u die boek bestudeer het sal u verstaan hoekom ons vandag doen wat ons doen en waar die misverstande dikwels intree.

Skrywer: Dr Kobus Kok




Katolieke Kerk

Katolieke Kerk – Pieter Verster

Jurgens vra:

Is Katolieke Christene? Gaan hulle hemel toe? Hulle bid aan Maria as “tussenganger”. Is dit nie afgodery nie? Moet my asb nie hierdie politiese korrekte antwoord gee nie – maar ek weet reeds dis wat julle gaan doen…. As dit olraait is dat hulle bid tot Maria, hoekom kan ek nie tot my pa bid wat dood is toe ek 10 was nie? Komaan ouens – gee my ‘n reguit eerlike antwoord.

Antwoord:

Prof. Pieter Verster antwoord:

Die enigste maatstaf vir ‘n ware Christen is die ware geloof in Jesus Christus as Here  en die omhelsing in die geloof van sy wonderbare verlossing. Mens kan aan  watter kerk ook al behoort en nie werklik glo nie. Kan ‘n mens werklik so glo in die Rooms-Katolieke kerk? Ek is daarvan oortuig. Al het Maria ‘n uiters belangrike rol gespeel in Jesus se lewe, is dit verkeerd om tot haar te bid. Dit beteken egter nie dat daar nie verskeie opregte Rooms-Katolieke is wat net op Jesus hoop vir hulle verlossing nie.

 

Skrywer: Prof Pieter Verster




Openbaring 13

Openbaring 13 – Pieter Verster

Johny vra:

Verwys die draak en die dier in Openbaring 13 na die Rooms Katolieke kerk en die Pous?

Antwoord:

Prof. Pieter Verster antwoord:

Aanvanklik verwys die draak en die dier  na die Romeinse keiser wat die Christene  wreed vervolg het. Openbaring is geskryf om die Christene te versterk en te verseker van Jesus Christus se oorwinning. Luther was van mening dat die Rooms-Katolieke kerk in  sy tyd so verword het en die ware gelowiges ewe-eens vervolg dat die Pous  die Antichrist is en die Rooms-Katolieke kerk van sy tyd  die valse kerk was. Sake het baie verander en vandag is daar baie ander wat die ware gelowiges vervolg terwyl  die Pous  geloof in Jesus Christus bevorder. Die draak en die dier verset hulle radikaal teen Christus en sy kerk en is dus van toepassing op hulle wat die kerk redeloos vervolg.

 

Skrywer: Prof Pieter Verster

 




Satanisme

Satanisme – Pieter Verster

Pieter vra:

Goeie Dag. Ek wil baie graag weet hoeveel aandag moet daar aan byvoorbeeld Satanisme gegee word in Sondagskool om nie “Geloofsabotasie” te veroorsaak nie? Ek weet en het dit iewers ook gelees dat jy jou aandag en gedagtes volkome aan Jesus moet wy en en sodoende nie die aandag aan die duiwel gee nie. Maar hoe maak ek die Sondagskool mentors bewus van die Satanisme sonder dat almal skielik baie navorsing doen en eintlik aandag aan satan geen in plaas van aan Jesus? Of sal ek dalk ‘n kenner vra om ‘n praatjie te hou waar hy/sy uitwys hoe om dit raak te sien en hoe om dit te hanteer wanneer ‘n kind (veral hoërskool) wel navrae het daaroor?

Antwoord:

Prof Pieter Verster antwoord:

Dit is baie waar dat mens nie meer aandag aan Satan en sy werke moet gee as wat  nodig is nie. Die aandag moet geheel op Jesus Christus gerig wees. Dit is egter soms nodig om gevare uit te lig en te waarsku teen sake wat kinders en ander kan mislei. Die beste is die skriftuurlike pad. Laat die Bybel self praat. Verwys na gedeeltes waar die Skrif self oor Satan praat en teen hom waarsku. Pasop vir mense wat allerlei praatjies lewer en wil byvoeg by wat die Bybel sê. Vra ‘n predikant om  met deeglike eksegese en uitleg  oor enkele tekste te kom praat. Die boekie van Prof Johan van Rensburg  “The occult debate ” kan ook met vrug gelees word.

 

Skrywer: Prof Pierter Verster