Respek vir ander Godsdienste? Plig, voorreg of probleem?

Respek vir ander Godsdienste? Plig, voorreg of probleem? – Kobus Kok

Louraine vra:

Ek het geen respek vir valse godsdienste nie,wel vir die mens wat daarin vasgevang is. Elia en die Baäl profete(1Kon.18) is vir my die uitstaande voorbeeld van die “respek” wat Elia vir hulle godsdiens betoon het.

Presies wat leer die Bybel in die verband aangesien daar diegene is wat die “New Age” idee bevorder dat alle godsdienste  gelyk is , dat almal maar dieselfde God aanbid ,en dat Christene respek vir ander godsdienste moet hê?

Ek sien  Christenskap ook nie as ‘n godsdiens nie, maar as ‘n persoonlike verhouding met die Here Jesus Christus.

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Respek vir ander Godsdienste? Plig, voorreg of probleem?

Die woordjie “respek” verdien aandag en ‘n definisie daarvan moet ons eers duidelik omskryf. Respek het volgens die H.A.T. te doen met die bewys van eerbied, ontsag en agting aan iemand anders.

Ek onthou hoe my pa vir my eendag, toe ek twaalf jaar oud was  die volgende  gesê het: “Behandel jou meerderes met respek omdat dit jou plig is, jou gelykes omdat dit jou plesier is en jou ondergeskiktes omdat dit jou voorreg is”. Dit het by my ‘n blywende indruk gelaat. Die gevolg van my ouers se opvoeding en my blootstelling aan Universiteit as teologiese student en dosent was dat ek as Christen in die eerste plek die beeld van God in mense wil raaksien. Daarom hanteer ek mense, ongeag van hulle herkoms of geloof, as mense waarin iets van God se beeld ook sigbaar is – mense in wie God iets radikaal tot stand kan (en wil) bring. Net soos wat ek nie mense wat sondig afskryf nie, maar liefhet, net so kan mens ook lief wees vir mense van ander geloofsoortuigings sonder om eerbied of ontsag en agting vir hulle geloof te hê. Mens kan egter vir hulle as mens en as mede beeld draers van God respek hê. Mense is immers meer as hulle geloofsoortuigings. God wil dalk in en deur jou vir hulle wys hoe diep die liefde van Christus is. Deur mense met geen eerbied en geen ontsag en menswaardigheid te hanteer omdat mens gewoon “geen respek” vir hulle as mense in die beeld van God het nie, is nie die Christelike weg nie. Ons sien dit veral by Jesus. In Lukas 15:1vv lees ons hoe die verkeerde mense –  die sondaars – gereeld  by Jesus was en hoe hy sy tyd met hulle aan tafel deurgebring het. In Johannes 4 lees ons hoe Jesus moeite maak met ‘n Samaritaanse vrou en haar die lewe skenk. Ons lees in Handelinge hoe Paulus op ‘n dag in ‘n gesprek gaan met die heidense filosowe en vir hulle vertel hoe die God wat hy ken die onbekende God is wat hulle nog nie ken nie. Deur liefdeloos te leef doen ons eintlik reuse afbreek aan ons getuienis as mense van die Lig.

Alle Godsdienste is nie gelyk nie. Ons glo dat iets uniek in Christus plaasgevind het. Dit maak ons egter nie beter as ander nie. Ons is eintlik net begenadigde mense, mense wat self verlos is van ‘n doodsbestaan en wat eintlik ook op ‘n stadium vyande van God was. Ons eerste opdrag is om die goeie te doen aan almal. Dit lees ons duidelik in Galasiërs 6:10 as Paulus die opdrag duidelik gee. In Johannes 17 en 20 stuur Jesus sy dissipels uit na die wêreld – die wêreld waarin hulle beweeg soos skape tussen wolwe om een ding te doen en dit is om God se liefde uit te leef. Om die goeie te doen aan almal beteken egter nie om die heidense gelowe te bevorder nie! Dit beteken gewoon om vanuit jou verhouding met Christus vir hulle lief te wees.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok




Wat sê die Bybel oor “HUBBLY BUBBLY”?

Wat sê die Bybel oor “HUBBLY BUBBLY”? – Kobus Kok

Lorraine vra:

Wat sê die Bybel oor “HUBBLY BUBBLY”? Bekommernis oor die gebruik daarvan, veral onder jong mense?

Antwoord:

Dr. Kobus Kok antwoord:

Wat sê die Bybel oor “HUBBLY BUBBLY”

‘n Bekommerde leser vra: Wat se die Bybel oor “HUBBLY BUBBLY” Bekommernis oor die gebruik daarvan, veral onder jong mense?

Nou die dag vertel vriende van ons dat ‘n 0/16 netbal span ‘n afsluitingsfunksie het en dat die afrigter vir die meisies gesê het dat  daar die aand ‘n Hubbly Bubbly sal wees, maar die kinders moet net hulle eie tabak saambring. Die ma van die dogter was oorstelp van woede – hoe kan ‘n onderwyser kinders so aanmoedig om Hubbly Bubblies te rook – en dit nog op ‘n skool verwante kuier aand!? Baie grootmense wonder dan ook wat ‘n Hubbly Bubbly is. Wel, dit is ‘n waterpyp en word ook hooka (of Shisha in Arabies) genoem. Die Hubbly Bubbly het sy oorsprong waarskynlik in die midde Ooste gehad (Egipte, Arabië, Persië, Indië), maar is baie populêr in plekke soos Australië, Noord Amerika en selfs in Europa en deesdae oral op die kampusse van ons land. Daar gaan amper nie ‘n dag verby dat mens studente op kampus en kuierplekke met ‘n Shisha sien nie. In baie restourante kan mens dit bestel as deel van die ete, voorgereg of nagereg.

Die goeie nuus is egter dat ‘n Hubbly gesonder is as wanneer jy iemand se sigaretrook indirek inasem of sigarette self rook. Baie van die tabak (nie almal nie) is nikotien vry en teer-vry. Dit word deur water getrek en so word “skoner” rook ingeasem.

 

hubbly_bubly

(skets afgetrek van http://en.wikipedia.org/wiki/Hookah)

 

Die slegte nuus is dat Hubblies dalk gesonder is as sigarette, maar dit bly steeds ongesond. Navorsing toon aan dat dit ongeveer 40 minute dien om een sarsie klaar te rook, en dit tussen 50 en 200 keer ingetrek kan word. Die implikasie is dat elke inhalasie tussen 0.15 en 0.5 liter rook afgee. Die Wêreld Gesondheidsorganisasie en die Amerikaanse kanker organisasie se navorsing toon aan dat ‘n uur se rook van ‘n Hubbly Bubbly meer skade kan aandoen as sigarette aangesien 100-200 keer meer rook ingeasem word as met ‘n sigaret en vele skadelike chemikalie nog steeds  vrygestel word. Dit bly dus wesenlik skadelik en is nie so onskuldig nie. In Pakistan is navorsing onderneem van ‘n toetsgroep waarin bevind is dat Carcinoembryonic antigen (CEA) wat in verskillende vorme van kanker voorkom, aansienlik aanwesig is in mense wat baie Hubbly Bubbly rook.

Die Bybel sal dus in beginsel nie die rook van Hubbly Bubbly goedkeur nie. Dit doen skade. Maar net so doen sigarette skade en ook die inaseming van sekondêre rook. Ouers wat kinders verbied om ‘n Hubbly te rook maar self rook, drink, nie oefen nie en wat hoë cholesterol het en dit nie verantwoordelik bestuur nie, het net soveel skuld. Die Bybel praat dalk nie direk oor hierdie sake nie, maar ons gesonde verstand en Christelike denke sal ons by die punt uitbring dat ons verantwoordelik moet omgaan met dit waaraan ons ons liggaam, emosies en gees blootstel. Geen Bybelse teks gaan jou oorreed om nie te rook of te veel skaaptjops te eet nie. Dit is alleen in jou verhouding met die Here dat jy sal weet of iets vir Hom aanvaarbaar is of nie. Ek het lankal vir myself uitgemaak dat dit nie God se wil is dat ek ongesond moet leef of my liggaam moet blootstel aan skadelike dinge nie. In 1 Tessalonisense 5:21-22 lees ons immers: Toets alle dinge maar behou die goeie en bly weg van alle vorme van kwaad. Ek kies om eerder die goeie te behou en na te streef en hoop dat jongmense ook dit sal besef ter wille van hulle eie toekoms. Op die einde gaan dit nie oor moralistiese wetsnakoming nie, maar oor gesonde balans, gematigheid en onderskeiding.

Lees gerus meer oor die saak by http://en.wikipedia.org/wiki/Hookah

 

Skrywer: Dr Kobus Kok




Die Jehovagetuies

Die Jehovagetuies – Pieter Verster

Zanne vra:

Ek wil graag weet wat glo die Jehovagetuies; wat is die verskil tussen hulle en die Christelike geloof?

Antwoord:

Prof Pieter Verster antwoord:

Die Jehovagetuies

Wie het nie al die klop aan die deur gehoor en die twee of drie persone  binnegenooi  wat dan die  traktaatjie oorhandig en  met jou in gesprek tree oor wie hulle noem “Jehova” nie? “Jehova” is die naam wat volgens hulle in die Ou Testament  vir God gegee word. Hulle besoek mense om hulle te oortuig dat “Jehova” die ware God is en aanbid moet word. Kenners van die Ou Testament  wys egter daarop dat die uitspraak eerder “Jahweh” moet wees.

Die belangrikste saak wat aan die orde kom wanneer oor die Jehova-getuies gepraat word, is die belydenis aangaande  die Drie-eenheid van God. Die belydenis dat God Drie-enig, Een ware God, naamlik  Vader, Seun  en Heilige Gees is, word ontken. Jesus is volgens hulle nie die Ewige  Seun van God, wat self ook God is nie. Hy is ‘n god. Hy is die eerste en belangrikste skepsel maar nie Een ware God met die Vader nie. Hulle sou dus ook nie die  geloofsbelydenis van Nicea kan erken nie. Daarin word bely dat Jesus “God uit God, Lig uit Lig, waaragtige God uit  waaragtige God, verwek en nie gemaak nie” is. Hierdie belydenis leef in verskeie kerke se lidmate se harte. Jesus Christus is  waarlik God wat volkome mens geword het.

Kan hierdie belydenis egter nog steeds volgehou word.  In die boek: “Die Jehova-getuies en die Bybel” skryf  Prof Dr  JP Louw baie helder dat die belydenis dat Jesus  volkome God  wat ware  mens geword het duidelik in die Bybel voorkom en dat die oorspronklike Grieks dit bevestig. Jesus is Eersgeborene  wat sy status aantoon en nie die tyd van ontstaan nie. Hy is self ook Skepper en nie die eerste skepsel nie (Vergelyk Kolossense 1:15.) Johannes 1:1 bevestig in geen onduidelike taal  dat Jesus  God is nie en nie maar ʼn god nie. Talle ander gedeeltes in Johannes bevestig dit veral Johannes 20:28. Maar ook Paulus bevestig dit  in Filippense 2: 6-7.

Hierteenoor beweer die Jehova getuies dat daar volgens Deuteronomium 6:4 slegs een God is, naamlik Jehova. Dit neem egter nie weg dat ons in die lig van die Nuwe Testament verstaan dat die een God die Drie-enige  God is nie.

Die Heilige Gees word  beskou as ʼn onpersoonlike straling van God. Handelinge 5:3-4 maak dit egter baie  duidelik dat die Heilige Gees God is. Ook Matteus 28:19 stel die Seun, die Vader en die Gees gelyk.

Christus se versoeningswerk word ook totaal anders verstaan. Daarom lê hulle nie klem op die verlossing nie, maar dat Christus moes kom om God se eer te red. Die wederkoms van Christus sou ook in 1914 plaasgevind het. Die uitbreek van die eerste wêreldoorlog word as bewys aangevoer, maar Openbaring 1;7 sê duidelik dat elke oog Hom sal sien en dat die wederkoms  nie geheim sal wees nie.

Hulle meen ook die tien gebooie het verval, bloedoortapping is sonde omdat jou gees in die bloed is, politiek en militêre diens is verkeerd en  kerke wat nie soos hulle glo nie is van die duiwel. Daar is volgens  hulle nie ‘n hel en ʼn laaste oordeel nie, maar sondaars sal weer ‘n kans kry en net 144000 gaan hemel toe, die ander sal op aarde leef.

Hulle vertoon groot ywer. Min  mense sal soveel vir hulle geloof opoffer. Dit is egter duidelik dat die wesenlike van die Christelike  evangelie misken word. Jesus is die Here!-soos Jahweh!  Dit was en is  die belydenis van die  kerk. Daaraan mag geen afbreuk gedoen word nie.

 

Skrywer: Prof Pieter Verster

 




Verhoor God gebede deur baie mense meer as net wanneer een mens bid?

Verhoor God gebede deur baie mense meer as net wanneer een mens bid? – Kobus Kok

Francois vra:

‘n Algemene praktyk is om baie mense te vra om vir ‘n bepaalde saak te bid. Is daar Bybelse verwysings wat daarop dui of ons verseker dat vele (en gewoonlik herhaaldelike) gebed deur baie meer belangrik is (dat die Here aan ons versoek sal voldoen) as wanneer ‘n enkele persoon of net ‘n paar bid?

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Verhoor God gebede deur baie mense meer as net wanneer een mens bid?

In Matteus 6:7 sê Jesus duidelik: “En as julle bid, gebruik nie ʼn ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word.”

Jesus gee vervolgens die bekende voorbeeld van hoe mens moet bid tot God (Matt 6:9vv): “Moet dan nie soos hulle (wat baie woorde gebruik) word nie, want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra. Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

In die Onse Vader gebed gaan dit in die eerste plek oor die wil van God en die koms van God se Konings-heerskappy. Dit gaan nie in die eerste plek oor ons eie behoeftes, drome en begeertes nie. Tog glo ons dat die groot Droom-Gewer ook vir ons drome gee wat ons trek na die toekoms wat Hy vir ons in gedagte het. Dikwels is dit wat ons na streef ook binne sy wil.

In Matteus 18:19 lees ons:  “Weer sê Ek vir julle: As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra, dit sal hulle ten deel val van my Vader wat in die hemele is.

Ons moet hier egter versigtig wees om nie die fout te maak dat ons saamstemmery en ons ywer God kan manipuleer nie. Gebed moet nie gesien word as dat ons vir God vra om ons te bedien soos ʼn kelner nie en of dat God gemanipuleer kan word nie. So asof God sal sê “Ja, OK, julle het nou so aanhoudend gevra, so ek sal dit nou maar vir julle gee nie…” God is nie in ons diens nie, maar ons in God se diens.

Dikwels antwoord God die gebed van ʼn enkele kind! Ander kere kom ʼn ganse nasie bymekaar en bid hulle dat God die land sal omkeer, en God doen dit. Wanneer mense saam bid, is dit meer as dikwels ʼn onselfsugtige gebed waarin mense bid dat God se wil in ʼn bepaalde situasie geskied, dat God genesing sal bring, dat God sal voorsien met reën, ens. Soms antwoord God en soms doen Hy nie, omdat Hy iets anders in gedagte het. Gebed is nie ʼn manipulering strategie nie, maar ook ʼn luister-proses waarin ons poog om te hoor wat God vir ons in ons situasie wil wys. Dikwels wys God vir ons iets gans anders as dit waarvoor ons vleeslikheid aanvanklik voor gevra het…

 

Skrywer: Dr Kobus Kok