Saamwoon en trou – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:

Indien ’n paartjie al vir baie jare saamwoon in onthouding, is dit dan steeds sonde en is dit steeds nodig om te trou?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Hier word bitter min inligting gegee om op te gaan. Ek moet dus sekere aannames maak en dan daarvolgens antwoord.

Die eerste aanname is dat hier van ’n heteroseksuele paartjie gepraat word. Verder, die frase “in onthouding” roep die situasie op van ’n paartjie wat nie ’n seksuele verhouding het nie, hoewel die “baie jare saamwoon” veronderstel dat hulle tog ’n baie hegte verhouding het, amper ’n soort huwelik, maar sonder seks. Maar nou wil dit tog lyk of die vraagsteller hierdie “saamwoon in onthouding” as sondig ervaar, want sy vra of dit “steeds sonde” is. Met die (geïmpliseerde) vraag daarby: indien dit nie sonde is nie, is dit dan nodig om te trou?

Die hele situasie, soos ek dit hierbo gekonstrueer het, kom tog ’n bietjie vreemd voor. Saamwoon veronderstel gewoonlik ’n volledig fisiese verhouding, maar sonder dat ’n formele huwelik aangegaan word. Maar hier het ons ’n saamwoon sonder dat seks ter sprake is. Hulle deel net ’n gesamentlike woonruimte, deel waarskynlik ook die finansiële en ander verantwoordelikhede wat daarmee saamgaan, ondersteun mekaar op sosiale en emosionele vlak, maar begeer nie iets meer as dit nie. ’n Soort gerieflikheidsverhouding dus.

Vanuit Christelik-etiese perspektief hoef die hele kwessie van sonde in so ’n situasie myns insiens nie ter sprake te kom nie. Ek kan my voorstel dat ’n man en ’n vrou ’n woonruimte deel om daaruit bepaalde voordele te trek, sonder dat hulle die bedoeling het om soos man en vrou in die huwelik te lewe. Amper soos goeie vriende of soos broer en suster wat bloot ’n woonstel deel ter wille van die gerief daarvan, maar tog ook omdat hulle van mekaar se geselskap en teenwoordigheid hou. Soos reeds gesê, indien dít die situasie is, hoef ons vraagsteller haar nie druk te maak oor of dit sondig is of nie. (Sonde is in elk geval ’n baie breër aangeleentheid as net die vraag of hulle in so ’n saamwoonverhouding seks het of nie. Selfs binne ’n huwelik, waar seks formeel geoorloof is, kan man en vrou in sonde leef, weens die manier waarop hulle met mekaar en met die kinders omgaan.)

Natuurlik kan die situasie soos geskets deur ons vraagsteller vrae na buite oproep. Mense wat weet dat hulle “saamwoon” sal waarskynlik dadelik die afleiding maak dat hulle ook ’n seksuele verhouding het. Die paartjie sal dus voortdurend “vure moet doodslaan” om misverstande uit die weg te ruim, wat op die lang duur stremmend kan inwerk op hulle saamwoon. Verder, die paartjie kan later gevoelens vir mekaar ontwikkel wat dan uitloop op ’n seksuele verhouding. En ’n mens wonder of dit nie presies so ’n situasie is wat besig is om te ontwikkel en wat die vraagsteller noop om navraag te doen nie. Die blote feit dat ons vraagsteller die kwessie van sonde ter sprake bring, laat my juis dink dat dit vir haar belangrik is om die verhouding binne algemeen aanvaarbare Christelike norme te hou. Tot hiertoe was hulle saamwoonreëling nie vir haar sonde nie, maar nou raak dit ’n kwessie, gegewe die moontlike verandering in die verhouding. Indien ek die situasie reg opsom, wil ek vervolgens ’n paar opmerkings maak oor saamwoon-met-seks as ’n alternatief vir die huwelik.

Ek is bewus daarvan dat baie Christene vandag dit nie as sonde beskou om saam te woon sonder dat hulle tot trou oorgaan nie. Dit word nie meer as ’n “doodsonde” beskou nie; in sekere kontekste word dit amper as normaal aanvaar, die wenkbroue lig nie eens daaroor nie. Selfs in Christelike huise word dit maar stilswyend aanvaar as deel van die moderne samelewing waar die vrou in alle opsigte die man se gelyke is. Sy het haar eie beroep en het nie meer die man se geld of ondersteuning nodig om haar eie ding te doen nie. Trou is ’n vrye keuse, en nie ’n samelewings- of religieus-voorskriftelike norm meer nie. In ’n sekulêre samelewing word die huwelik ook as ’n “uitgediende” instelling beskou. ’n Mens het nie “papiere” nodig om saam met iemand anders in ’n intieme lewensgemeenskap te leef nie. As daar konsensuele toestemming tussen volwassenes is, is dit niemand anders se besigheid nie, word gesê. Daar bestaan ook deesdae wetgewing wat saamwoon-verhoudings en -gesinne beskerm. Daar het dus stil-stil ’n totale sosiale omwenteling plaasgevind wat die siening oor en status van die huwelik betref. En dít moet mens in ag neem wanneer oor en teen saamwoon gepraat word. ’n Mens moet oppas om nie met groot voete in te klim en links en regs te veroordeel nie.

En tog is die huwelik beslis nie uitgedien nie. Mense trou nog! Dis asof daar ’n diepliggende aanvoeling is dat die huwelik vir iets meer staan as maar net dat mense nou amptelike toestemming het om as man en vrou saam te woon. Want die huwelik, Bybels gesien, gaan oor onvoorwaardelike oorgawe en verbintenis aan mekaar, wat, godsdienstig gesproke, ook uitdrukking is van die liefde tussen Christus en sy gemeente. Soos Christus die gemeente liefhet en sy lewe daarvoor gegee het, so moet die man sy vrou liefhê en versorg (Efesiërs 5:25-33). Dit gaan eintlik oor ’n wedersydse oorgawe en onderwerping aan mekaar (Efesiërs 5:21), waar man en vrou mekaar deur dik en dun, in swaarkry en goeie tye, in siekte en gesondheid, ondersteun, liefhet en dra. In die lig hiervan is blote saamwoon as “proeflopie” om te kyk of dinge gaan uitwerk, ’n miskenning van waarvoor die huwelik ten diepste staan. Saamwoon is eintlik maar ’n voortydige en selfsugtige toe-eiening van die voorregte van ’n intieme verhouding sonder dat die geestelike kapitaal en verantwoordelikhede wat belê moet word in so ’n verhouding, aanvaar word. Hoe dikwels het dit nie al gebeur dat een van die partye eenvoudig uitstap uit so ’n verhouding en die ander met die gevolge laat nie.

Maar natuurlik, in saamwoonverhoudinge kan dinge ook goed uitwerk, terwyl dit weer in formele huwelike ellendig sleg daaraan kan toegaan. Maar in laasgenoemde geval is dit dan nie die huwelik as instelling se skuld nie, maar die mense in die huwelik wat weens die hardheid van hulle harte dit nie laat slaag nie (Matteus 19:8). So, eerder as om die huwelik die skuld te gee dat verhoudings nie uitwerk nie en dan ander opsies volg wat sy eie stel probleme skep, is dit beter om dit wat God vir ons gegee het, te maak werk. Dan weet ons ten minste dat ons in veiliger waters vaar en binne God se wil vir die lewe opereer.

Om dus saam te vat wat ons vraagsteller se vraag betref: Indien die paartjie van plan is om voortaan as man en vrou saam te leef, soos in ’n huwelik, sal ek vanuit Christelik-etiese perspektief beslis voorstel dat hulle formeel in die huwelik tree. In die lig van my uiteensetting hierbo bly dit nog die beste opsie – vir hulle eie sieleheil en gemoedsrus, vir hulle breë familie én vir die samelewing waarvan hulle deel is. Veral as hulle belydende Christene is en die verhouding met Christus vir hulle erns is. Dan wil mens tog binne die geopenbaarde wil van God jou lewe lei. Maar indien die situasie bly soos dit tans is – saamwoon “in onthouding” – dink ek nie dat die kwessie van sonde ter sprake is nie. Mits hulle nie hulleself bluf met die “in onthouding” nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Die gebruik van die Nagmaal – Francois Malan

Vraag

‘n Leser vra: Mag die kerkraad jou verhinder om nagmaal te gebruik as jy nie n kerklike bydra maak nie.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Oor die instelling van die nagmaal sê Markus 14:22-24 ‘Terwyl hulle eet – Jesus se 12 dissipels tydens die Pasga 14:12,17) – het Jesus brood geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, breek Hy dit en gee dit vir hulle en sê: “Neem, dit is my liggaam.” Toe het Hy die beker geneem, gedank, dit vir hulle gegee, en hulle het almal daaruit gedrink. Hy het vir hulle gesê: “Dit is my bloed, die bloed van die verbond wat vir baie uitgegiet word.” Matteus 26:27 neem dit van Markus oor en sê Jesus het gesê “Drink almal daaruit.” Lukas 22:17 wat op Markus uitbrei, sê oor die beker: “Neem dit, en deel dit onder mekaar.” Paulus se briewe is almal geskryf vóór die vier Evangelies geskryf is. Aan die gemeente in Korinthe skryf hy dat hy van die Here ontvang het wat hy ook aan hulle oorgelewer het oor die nagmaal, dat die Here Jesus die nag toe Hy verraai is, brood gebreek het en gesê het: “Dit is my liggaam – ter wille van julle. Doen dit om My in herinnering te bring.” So ook met die beker ná die ete: “Hierdie is die nuwe verbond deur my bloed. Doen dit, so dikwels as wat julle daaruit drink, om My in herinnering te bring.” Want so dikwels as wat julle hierdie brood eet en uit hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here, totdat Hy kom (1 Kor 11:23-26). Verder sê hy dat wie op onwaardige wyse die brood eet of uit die beker van die Here drink, skuldig sal wees teenoor die liggaam en die bloed van die Here. Dit sê Paulus oor die gemeente waar die rykes hulle eenkant hou en apart die nagmaal eet en drink, terwyl die armes en slawe in die binneplaas self moet regkom tydens die liefdesmaal. Daaroor prys hy nie die gemeente nie en eet hulle ’n oordeel oor hulleself. (1 Kor 11:17-22; 27-34). Bydraes kom nêrens ter sprake in verband met die nagmaal nie. In 1 Korinthiërs 16 word verwys na die insameling vir die gelowiges in Jerusalem wat Paulus in die ander gemeentes reël. Dat elke lidmaat afsonderlik op die eerste dag van die week ’n bedrag opsy sit, en volgens sy verdienste spaar, sodat die insameling nie eers plaasvind wanneer hy na hulle toe kom om dit na Jerusalem te stuur nie (1 Kor 16:1-4). In 2 Korinthiërs 8-9 brei hy uit oor die insameling vir die armes in Jerusalem en Juda. Sy reël vir bydraes in 2 Kor 9:5-8 lui: ‘Wie karig saai, sal karig oes, wie oorvloedig saai, sal oorvloedig oes. Laat elkeen gee soos hy vooraf in sy hart besluit het – nie met droefheid of onder dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief. En God is magtig om alle genade oorvloedig vir julle te laat wees, sodat julle altyd in elke opsig selfversorgend kan wees, en oorvloedig kan bydra tot elke goeie werk.’ Oor die traktement van ’n leraar in ’n gemeente het Paulus ’n aanduiding gegee, eers in Galasiërs 6:6 en later meer uitgebreid in 1 Korinthiërs 9:1-18. In my opinie mag ’n kerkraad, volgens die Nuwe Testament en Jesus se bedoeling met die nagmaal, jou nie verhinder om nagmaal te gebruik as jy nie ’n bydrae maak nie. Jesus het nie die nagmaal ingestel om verkoop te word nie, maar om ons te herinner aan sy kruisdood om die sondes van die hele wêreld op Hom te neem en ons straf te dra sodat ons saam met Hom kan opstaan tot ’n lewe vir God en ons medemens. In Johannes 1:29 sê Johannes die Doper, vir wie God aangestel het om die weg vir Jesus voor te berei, van Jesus: ‘Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!.’ Dit is waaroor die nagmaal gaan en wat ons met die nagmaal verkondig.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Versoeking versus swaarkry en tragedie – Hermie van Zyl

Vraag:

‘n Leser vra:

 Hoe moet ons dit verstaan: “Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan” (1 Korintiërs 10:13)? Sekerlik is iets soos ’n geliefde se selfdood of ’n verkragting nie ’n “versoeking” nie. Ek vind dit baie “hard” as iemand so ’n slagoffer probeer troos dat dit nie bo hulle kragte is nie. Wat is die verskil tussen versoeking, enersyds, en swaarkry of ’n tragedie wat ’n mens tref, andersyds?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Om die vraag te beantwoord van die verskil tussen versoeking en tragedie, en hoe 1 Korintiërs 10:13 as troos uit die Woord daarin ’n rol kan speel, moet ons eers tussen drie soorte situasies onderskei: Versoekings, beproewings en tragedies.

Tragedies is ’n gerieflike versamelterm om allerlei soorte gebeure te beskryf wat ons lewe uitmekaar kan ruk sonder dat ons die oorsaak daarvan is of enige beheer daaroor het, soos die skielike dood van ’n geliefde, ’n ongeluk wat ’n mens se lewe radikaal verander, ’n natuurramp wat jou besittings vernietig, ’n aanval (fisies of geestelik) wat jou lewe verwoes, vervolging, om jou werk te verloor, ensovoorts. So ’n gebeure laat ’n mens totaal ontredderd; jy weet nie hoe om dit te oorkom nie; jy’s platgeslaan, jy het nie raad met jouself nie, jy weet ook nie hoe om vir ander raad te gee nie.

’n Tragedie kan uit die aard van die saak ’n geweldige impak op ’n mens se geloofslewe hê. Byvoorbeeld, ’n aanval op jou lewe is ’n tragedie wat jou lewe kan verwoes, selfs al oorleef jy dit, maar dit kan terselfdertyd ook as ’n versoeking beleef word wat Satan gebruik om jou geloof, jou verbondenheid aan God, te ondermyn. Dit laat jou met vrae soos: Waar is God in dié situasie; het Hy my nie lief nie; as God almagtig is, hoekom het hy my nie beskerm nie? Wanneer sulke vrae ’n mens begin oorval, word ’n tragedie inderdaad ook ’n versoeking van Satan wat beveg moet word. Natuurlik is dit nie net tragedies wat versoekings inhou nie. Die alledaagse lewe is vol subtiele versoekings wat jou wil verlei om jou diensbaarheid aan God en jou medemens te versaak. Byvoorbeeld, jou swakheid is miskien geld; iets dryf jou om so gou as moontlik ryk te word. En kort voor lank raak jy betrokke by transaksies en gewetenlose mense wat jou lewe begin beheer en weglok van ’n lewe van diens aan God, en jou selfs in die tronk kan laat beland. Punt is, Satan, en ’n mens se eie sondige begeertes, is die bron van versoekings.

Die keersy van versoeking is beproewing. Dieselfde gebeure waarby Satan aanknoop om ons te verlei en te versoek, gebruik God weer as beproewing. Verstaan mooi, God is nie die oorsaak van versoekings nie, want God versoek/verlei niemand nie (Jak 1:13). Hy wil nie hê die gelowige moet faal in die geloof nie, maar juis sterker word. Van God se kant gesien kan Hy dieselfde gebeure wat Satan gebruik om jou te verlei, of waardeur jy deur jou eie sondige begeertes verlei word, gebruik om jou geloof te toets en te versterk. Neem Jesus se versoekings in die woestyn (Matt 4:1-11). Die Satan gebruik ’n hele paar scenario’s om Jesus te verlei en te laat afsien van die gehoorsame weg wat sy Vader vir Hom beplan. Maar God gebruik daardie selfde scenario’s om Jesus aan sy taak en roeping te bind, om Hom aan ons voor te hou as die ware Seun van God wat nie swig voor versoekings nie maar onvoorwaardelik gehoorsaam is aan die wil van sy Vader.

Om saam te vat: tragedie, versoeking en beproewing is dikwels verweef met mekaar. Gebeure kan dus as tragedies, versoekings of beproewings beskryf word, afhangende van hoe ons dit beleef en hanteer. Soms sal mens dit as ’n versoeking sien (omdat dit appelleer op ons sondige begeertes), ander keer sal mens dit eerder as ’n beproewing beleef, omdat ons ervaar dat God ons geloof daardeur wil versterk. Nog ander kere is ons gewoon net reddeloos omdat die gebeure groter is as enigiets wat ons kan baasraak. Maar hoe ons dit ook al beleef, God is groter as die gebeure en groter as ons hart. Soos Psalm 34:17 sê: “Die Here is na aan hulle wat gebroke harte het; wie se gees verpletter is, verlos Hy.” Hy is in staat om ons te bewaar van afval, van geloofsversaking of van totale ondergang. Hy is meer as ons omstandighede en dra ons daardeur. Inderdaad, Hy laat nie toe dat ons bo ons kragte versoek word nie (1 Kor 10:13).

Met hierdie vlugtige oorsig oor gebeure as tragedie, versoeking of beproewing, kan ons nou beweeg na die vraag waar 1 Korintiërs 10:13 in die hele prentjie pas. Is dit ’n goeie teks om mense mee te troos in tragedies?

Ten einde hierdie vraag te beantwoord, sal dit die moeite loon om die groter argument waar 1 Korintiërs 10:13 ingebed lê, van naderby te bekyk. Hierdie teks is deel van die argument wat begin in 1 Korintiërs 8 en eers aan die einde van hoofstuk 10 sy afloop het. Paulus handel hier oor die sogenaamde offervleiskwessie. Waaroor het dit gegaan?

Die stad Korinte, in Griekeland, was ’n volslae heidense omgewing waar daar baie tempels vir afgode gebou is. So was daar die tempel van Afrodite, die godin van liefde en vrugbaarheid, wat ook die beskermgodin van Korinte was. Dié tempel is in 146 vC verwoes, maar is later herbou sodat dit steeds ’n groot aantrekkingskrag was in Paulus se tyd. Maar daar was ook baie ander afgodstempels in die eerste eeu nC in Korinte. Van tyd tot tyd is daar feeste in die tempels aangebied, waar offers aan die afgode gebring is. Die vleis van hierdie offers is dan in die tempel en op die markplein vir die gewone bevolking beskikbaar gestel, waarvan almal vrylik gebruik gemaak het omdat vleis skaars en duur was.

Nou het daar ’n dispuut ontstaan in die Christelike gemeenskap van Korinte oor die offervleis – of dit Christene veroorloof is om van dié vleis te eet. Die sogenaamde swakkes het gewetensbesware daaroor gehad. Volgens hulle het mens so deel gekry aan die aanbidding van die afgod, aangesien die vleis spesifiek aan die afgod gewy is. Ander, die sogenaamde sterkes, het weer geroem op hulle kennis – dat daar in elk geval nie so iets soos gode bestaan nie; dit maak dus geen verskil of jy van die vleis eet wat aan sogenaamde gode geoffer is nie. Vleis is vleis, het hulle gesê; ’n mens is vry om te eet wat jy wil, ongeag wie dit voorberei het en aan wie dit gewy is. Paulus stem basies saam met die sterkes se siening, maar waarsku ook dat mens jou “swakker” medegelowiges in ag moet neem. As jy weet dat hulle deur jou sogenaamde kennis en optrede tot ’n val kan kom, dan moet jy jou vryheid so gebruik dat dit nie vir jou medegelowiges tot struikeling is nie. Paulus staan op die beginsel van die liefde: ja, kennis is goed, maar jy moet jou kennis in liefde hanteer. (Vir hierdie hele beredenering, kyk 1 Kor 8.)

In 1 Korintiërs 9 voer Paulus die saak van die verantwoordelike omgang met persoonlike vryheid verder, en illustreer dit aan die hand van sy eie situasie. As apostel het hy die reg en vryheid gehad om gawes van die gemeente vir sy daaglikse onderhoud te ontvang, maar hy het verkies om nie van hierdie vryheid gebruik te maak nie; hy het as tentmaker eerder vir homself gesorg. Hy het niks van die gemeente gevra of ontvang nie. In sy eie lewe demonstreer hy dus aan die gemeente dat die vryheid om iets te doen, nie alles is nie. Vryheid is altyd onderhewig aan ’n hoër gebod, die gebod van die liefde, wat nie daarop uit is om jouself te laat geld nie, maar eerder die ander se voordeel soek sodat die saak van God se koninkryk gedien kan word (1 Kor 9:12,18-23).

In 1 Korintiërs 10 keer Paulus terug na die offervleiskwessie. Maar nou wys hy op die gevare van die sterkes se standpunt, naamlik dat mens so “sterk” kan staan dat jy tot ’n val kom. Hy illustreer hierdie siening aan die hand van Israel se geskiedenis. Tydens die uittog uit Egipte het almal gedeel in die vryheid wat God vir hulle bewerk het, maar tog het die meeste van hulle in die woestyn omgekom weens hulle sondige begeertes en gevolglike afdwaling. Hulle het die goue kalf aanbid, waardeur hulle voorgegee het dat hulle die lewende God aanbid, en hulleself oorgegee aan uitspattighede, en uiteindelik omgekom (10:6-7). Ander het weer onsedelikheid bedryf en ook omgekom (10:8); nog ander het teen God in opstand gekom en het ook gesterf (10:9-10). En dan sluit Paulus hierdie argument af deur te sê dat dit alles vir die Korintiese gemeente tot voorbeeld is om nie jou vryheid so te misbruik dat jy in afgodediens, onsedelikheid en opstand verval nie, want die uiteinde daarvan is die dood. Dit is ’n baie duidelike waarskuwing aan die adres van veral die sterkes in Korinte, dat hulle nie moet dink dat hulle sogenaamde kennis dat afgode niks is en dat hulle maar van dié offervleis kan eet, heeltemal so onskuldig is nie. Hoewel dit nie noodwendig so hoef te verloop nie, kan dit gebeur dat mens in die versoeking kom om aan die afgodediens deel te neem en so jou geloof verloor. Daarom, sê Paulus, hy wat meen dat hy (sterk) staan, moet oppas dat hy nie val nie (10:12).

En dan volg 10:13, waaroor dit eintlik hier gaan. Die versoekings waarvan hier sprake is, is duidelik ’n terugverwysing na die versoekings wat die Israeliete in die woestyn ervaar het, maar ook na wat die Korintiërs in hulle eie konteks beleef het, naamlik om van God afvallig te word. Maar dan sê Paulus dat dit niks meer is as ’n menslike versoeking nie, met ander woorde, dis nie bo ’n mens se vuurmaakplek om te weerstaan nie. Verder, hy gee ook die troos dat God nie sal toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie; Hy gee saam met die versoeking ook die uitkoms. Hiermee word nie beweer dat dit God is wat die versoekings oor ons pad bring nie. Nee, Jakobus 1:13 sê duidelik dat ’n mens nie versoekings voor God se deur moet lê nie; God kan nie verlei word nie en self verlei Hy niemand nie. Wat 1 Korintiërs 10:13 wel sê is dat ’n mens hierdie versoekings nie hoef te vrees of daarvoor hoef in te gee nie; jy kan dit weerstaan. Jy hoef nie jou geloof te verloor nie, want God weet dat ons swak is en daarom laat Hy nie toe dat ons bo ons vermoë versoek word nie.

So verstaan handel 1 Korintiërs 10:13 inderdaad nie primêr oor die tragedies van die lewe (in die tegniese sin van die woord, soos aan die begin beskryf) wat ’n mens kan oorval nie, maar spesifiek oor die soort gebeure wat dreig om jou te laat struikel in die geloof, maar wat jy in staat is om met God se krag te weerstaan. Mens hoef nie bang te wees dat die versoekings so erg sal wees dat jy dit nie kan hanteer nie. God is getrou, Hy sal uitkoms gee. Maar jy moet ook weet dat jy jouself nie onnodig in gevaar mag stel deur aan bedenklike praktyke deel te neem waar die kans dat jy afvallig sal word, groot is nie. En dis presies waar die gevaar van die deelname aan die afgodsoffervleis lê. Mens dink dat jy sterk staan met die kennis wat jy oor dié saak het, maar kort voor lank word jy daarin vasgevang (10:14). Mens mag immers nie deel hê aan die tafel van die Here (nagmaal) én aan die tafel van die bose nie (afgodsoffervleis) (10:21). Dus, enersyds, moenie beangs wees oor die lewe nie; geniet alles wat aan jou voorgesit word sonder om onnodig navraag te doen (10:25-27), maar neem ook die ander – veral die swakke – se gewete in ag waar dit ter sake is (10:28-29). Die sterkes se slagspreuk was: “Alles is geoorloof” (10:23), maar Paulus sê: “Of julle dan eet of drink of enigiets anders doen, doen alles tot eer van God” (10:31).

Indien mens bostaande uitleg aanvaar, kan mens die afleiding maak dat 1 Korintiërs 10:13 nie die mees geskikte teks is om aan mense voor te hou wat deur ’n tragedie getref is wat niks met versoekings te make het nie, soos wanneer ’n mens slegte nuus ontvang omtrent dood, siekte of ’n ramp. Maar dis op hierdie punt dat ons opmerkings aan die begin oor die verband tussen tragedies, versoekings en beproewings weer ter sprake kom. Want dit gaan hier spesifiek oor die woord “versoeking” in 1 Korintiërs 10:13. Die onderliggende Griekse woord is peirasmos, wat, afhangende van die konteks, óf met versoeking óf met beproewing vertaal kan word. (Kyk aan die einde vir verdere toeligting oor peirasmos.) Vroeër het ek verduidelik dat versoeking en beproewing eintlik net twee kante van dieselfde muntstuk is. Dieselfde gebeure wat deur die Satan gebruik word om ons te versoek sodat ons afvallig raak, word deur God gebruik om ons te toets, om ons geloof te versterk. (Vergelyk die voorbeeld wat ek genoem het van Jesus se versoekings in die woestyn.) Daarom sukkel vertalers om peirasmos hier in 1 Korintiërs 10:13 kontekstueel toepaslik te vertaal. So vind ons dat sommige Bybelvertalings peirasmos hier wel met “versoeking” (Engels: temptation) vertaal, maar ander met “beproewing” (Engels: testing of trial), byvoorbeeld: die New Revised Standard Version (“No testing has overtaken you that is not common to everyone. God … wil not let you be tested beyond your strength …”). En so ook Today’s English Version, New English Translation, New English Bible, Revised English Bible, en Die Bybel vir Almal (“Daar gebeur dinge wat vir julle toets …”). Hieruit lei mens af dat vertalers dit nie heeltemal eens is hoe om 1 Korintiërs 10:13 in sy huidige konteks te verstaan nie. Was die gebeure wat Israel in hulle woestyntog en die Korintiërs in die konteks van afgodsoffervleis beleef het, vir hulle versoekings of beproewings, of beide? Dalk moet ons dit so verstaan dat die gebeure wat hier ter sprake is inderdaad versoekings is, met ander woorde, die Satan wou hulle daardeur verlei tot afvalligheid. Maar terselfdertyd was God besig om hulle te toets, te beproef, sodat hulle kon groei in hulle geloof. Die keuse is nie so maklik nie; dalk moet mens nie ’n keuse maak nie maar beide as verstaansopsies aanvaar.

Hoe ook al, die vraag is of 1 Korintiërs 10:13 na alles nie tog ’n goeie teks is om te gebruik as troos en bemoediging nie, selfs in die geval van tragedies. Kan God nie ook tragedies gebruik om ons te beproef, ons vaster aan Hom te bind nie? Weer eens, God is nie die oorsaak van tragedies nie, maar God is ook nie afwesig nie; Hy is ín en mét daardie tragedie bý ons. Ja, ons kan die tragedie beleef as ’n ernstige versoeking, maar ook as ’n manier waardeur God ons toets en beproef. Persoonlik sou ek, gegewe die konteks van 1 Korintiërs 10:13, soos bo verduidelik, eerder verkies om ander tekste as troos en bemoediging te gebruik in die geval van tragedies, byvoorbeeld Romeine 8:35-39 – dat niks ons kan skei van die liefde van Christus nie. Romeine 8:28 is ook goed van toepassing: Ons ly almal onder die onvolmaaktheid van die skepping waarin in soms vasgevang word en wat lyding veroorsaak, lyding wat ons laat verlang na die uiteindelike heerlikheid wat God sal bewerk (Rom 8:18-19). Dan mag ons getroos word met die wete dat selfs te midde van hierdie lyding God in beheer is, in so ’n mate dat Hy selfs uit lyding die goeie te voorskyn kan bring (8:28). Maar ’n mens kan myns insiens 1 Korintiërs 10:13 nie totaal uitrangeer as teks van vertroosting en bemoediging ook in tragedies nie, veral nie waar ’n tragedie dreig om iemand se geloof te ondergrawe nie.

 

Verdere toeligting: peirasmos se gebruik in die Nuwe Testament

Benewens 1 Korintiërs 10:13 is daar is ander gevalle in die Nuwe Testament waar peirasmos ook met “beproewing”, en nie “versoeking” nie, vertaal word, byvoorbeeld 1 Petrus 4:12: “Geliefdes, moenie verbaas wees wanneer ’n vurige beproewing oor julle kom, asof iets vreemds met julle gebeur nie” (Direkte Afrikaanse Vertaling [DAV], 2020). (Die 1983-Afrikaanse Vertaling vertaal hier met “vuurproef”, waarin ook die gedagte van beproewing opgesluit lê.) Kyk ook 1 Petrus 1:6: “Jubel hieroor (die uiteindelike redding, HvZ), al moes julle onlangs vir ’n kort tydjie deur allerhande beproewings bedroef word.” So ook 2 Petrus 2:9: “Die Here weet om dié wat Hom dien, uit beproewing te red …” (Maar interessant: Die DAV 2020 vertaal hier met versoeking, wat weer eens illustreer hoe vertalers soms sukkel om die regte kontekstuele vertalingswoord vir peirasmos te vind.) Die konteks van bogenoemde tekste in die Petrusbriewe is een van lyding as gevolg van sosiale verstoting en vervolging waaraan die Christene van die destydse Klein-Asië onderwerp is. Hier gaan dit nie oor situasies wat die gelowiges oor hulleself bring vanweë hulle sondige begeertes nie, maar situasies waarin hulle hulle bevind waar die egtheid van hulle geloof getoets word. Maar natuurlik kan dit beteken dat dieselfde situasie ook as ’n versoeking dien wat hulle afvallig van God wil maak. En dit is wat Satan begeer en graag wil doen. Die punt is: Dieselfde situasie kan van twee kante bekyk word: Van God se kant, dan is dit ’n beproewing, want God versoek/verlei niemand nie (Jak 1:13). Hy wil nie hê die gelowige moet faal in die geloof nie, maar juis sterker word. Indien mens dit egter van die Satan se kant bekyk, is dit ’n versoeking, want hy wil hê die mens in daardie situasie moet van God afvallig word.

Dus, wat hier in die woord peirasmos opgesluit lê, is wat so dikwels in die werklike lewe van Christene gebeur. Daar kom soms gebeure op ons pad, soos lyding, tragedies, wat op twee maniere hanteer kan word: as ’n versoeking deur Satan wat ons tot ’n val wil bring, of as ’n beproewing deur God wat ons sterker wil maak. Dit is ons keuse hoe ons dit gaan hanteer. Dit het ook baie met ons belewing te doen. Wanneer ons dit beleef as ’n aanval van Satan, dan is dit inderdaad ’n versoeking wat ons so moet hanteer dat ons nie daardeur tot ’n val gebring word nie. In so ’n geval kan ons inderdaad deur 1 Korintiërs 10:13 vertroos word, dat God getrou is en nie sal toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie. Saam met die versoeking sal Hy ook die uitkoms gee. Maar ons kan dieselfde gebeure ook as ’n beproewing beleef, dat God ons daardeur as sterker gelowiges uit die stryd wil laat tree. Dan kan ons ook op sy krag staatmaak om ons daardeur te dra. En eweneens kan 1 Korintiërs 10:13 gebruik word as bemoediging en versterking.

Die gedagte van beproewing hang egter nie net saam met die woord peirasmos nie, maar ook met die woord dokimadzein (om te toets) wat dikwels in die Nuwe Testament gebruik word om God se handelinge met gelowiges uit te druk. Net soos wat vuur gebruik word om die suiwer goud uit die rou gouderts te ontgin, so gebruik God soms ook traumatiese gebeure om ons te louter en te suiwer, om die egtheid van ons geloof te toets. Hierdie gedagte lê 1 Petrus 1:6-7 ten grondslag (reeds hierbo aangehaal). Beide peirasmos en dokimadzein kom hier voor: Ons word soms deur allerhande beproewings (peirasmoi [mv]) bedroef gemaak sodat die egtheid van ons geloof met vuur getoets (dokimadzein) kan word. Dis dieselfde gebeure – vervolging, wat tot groot trouma kan lei – wat deur die Satan gebruik word om ons te laat struikel en val, maar deur God gebruik word om ons sterker te maak, te louter en te suiwer.

Skrywer : Prof Hermie van Zyl




Hertrou na egskeiding – Hermie van Zyl

Vraag

‘n Leser vra: Ek het ernstige vrae aangaande egskeiding en hertrou. My man het my om ’n egskeiding gedagvaar na ’n eerste huwelik van 17 jaar. Ons het ‘n seun wat uit die huwelik gebore is. Die egskeiding is 11 jaar gelede gefinaliseer. My man het die huwelik verlaat as gevolg van talle buite-egtelike verhoudings aan sy kant. Hy is tans in sy derde huwelik waaruit twee kinders gebore is.

Ek het intussen ’n man ontmoet wat 23 jaar gelede geskei is van sy eerste vrou. Die rede vir hul egskeiding was buite-egtelike verhoudings aan haar kant. Ek het ‘n YouTube-video van Dawid Pawson geluister en volgens hom is die Bybelse perspektief dat hertrou owerspel is.

Is dit dus onmoontlik vir my om weer te trou?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Dit is ’n baie moeilike onderwerp hierdie, aangesien daar aan die een kant duidelike Skrifuitsprake hieroor is, maar aan die ander kant ook ’n wye aanvoeling onder hoofstroomkerke is dat mens nie wetties met hierdie uitsprake mag omgaan nie. Ons moet die werklike situasie waarin mense verkeer ernstig neem en op die sinvolste manier hanteer sodat die wil van God rakende die huwelik wel eerbiedig word, maar mense ook nie opgehang word aan hulle verlede sodat daar vir hulle geen beweegruimte is nie. Ons is daarom nie letterknegte wanneer die Skrif vir vandag verstaan word nie, maar probeer eerder die Skrif Skrifmatig uitlê. Daarmee word bedoel: Daar is ’n verskil tussen, om Bybeltekste links en regs te paradeer net om godsdienstige punte aan te teken, enersyds, en, andersyds, om die Skrif op so ’n manier te verstaan dat dit aan die diepste bedoeling daarvan uiting gee. ’n Eenvoudige voorbeeld sal dit illustreer: Die duiwel probeer Jesus versoek deur Hom na die dak van die tempel te neem en dan aan te por om daar af te spring, omdat die Skrif kwansuis sou sê dat God se engele Hom op die hande sal dra sodat Hy nie seerkry nie (Matt 4:5-7; Ps 91:11-12). Dis egter ’n totaal verkeerde gebruik van die Skrif. Die regte manier van Skrifhantering in hierdie konteks is toe Jesus antwoord: “Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie” (Deut 6:6). ’n Mens kan die Skrif dus so verstaan dat dit nie die bedoeling daarvan na vore bring nie, maar dit eerder verdraai.

Kom ons probeer bostaande beginsel toepas op die kwessie van hertrou na egskeiding. (Ek herhaal grootliks hier onder wat ek reeds elders oor hierdie saak op Bybelkennis.co.za se webblad geskryf het.)

Die vraagsteller verwys na ’n YouTube-video van Dawid Pawson waarvolgens dit die Bybelse perspektief is dat hertrou owerspel is. So sou mens inderdaad na verskeie Bybeltekste kon verwys wat oor egskeiding en hertrou handel, soos Eksodus 20:14: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie”; Maleagi 2:13-16 “… Die Here … haat egskeiding”; Matteus 5:32: “Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk”; Matteus 19:6,8: “Wat God dan saamgevoeg het, mag ’n mens nie skei nie… Dit is oor die hardheid van julle harte dat Moses julle toegelaat het om van julle vrouens te skei, maar dit was nie van die begin af so nie”; 1 Korintiërs 7:10-11: “Die getroudes beveel ek – nee, nie ek nie maar die Here – dat ’n vrou nie van haar man mag skei nie. As sy tog skei, moet sy daarna ongetroud bly of haar met haar man versoen. Net so mag ’n man ook nie van sy vrou skei nie”; Hebreërs 13:4: “Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.” En so kan ons die tekste vermenigvuldig wat aantoon dat God se wil oor die huwelik duidelik is: Dis ’n permanente verbinding; so het Hy dit van die begin af bedoel. En egskeiding was nooit deel van sy oplossing vir die probleme wat ’n egpaar binne die huwelik mag beleef nie.

Maar nou weet ons ook dat egskeiding, hoewel teen die wil van God, nie ’n groter sonde as ander is nie. Ook dít word deur God vergewe, as daar opregte berou is en die hartlike voorneme is om binne sy wil te lewe. Dan kan ons aanvaar dat God hierdie ongelukkige gebeure afsluit en die toekoms oopsluit. Die Bybeltekste wat oor egskeiding en hertrou handel, moet dus ook in die lig van God se genadige handelinge met die mens beoordeel word. God hang ons nie op aan ons sonde nie, maar handel ook hierin met ons volgens sy barmhartigheid, deernis, liefde en vergifnis. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is (Ps 103:14). Hy maak inderdaad ’n nuwe lewe moontlik.

Kom ons neem die kwessie van hertrou na egskeiding spesifiek vanuit Matteus 5:31-32 in oënskou. Ons gebruik dit as ’n voorbeeld van hoe mens oor hierdie en ander uitsprake in die Bybel oor iets soos egskeiding en hertrou, vandag moet oordeel.

Matteus 5:31-32 sê dat as iemand sy vrou skei om enige ander rede as owerspel, hy veroorsaak dat die vrou egbreuk pleeg, en wie met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk. In Matteus 19:9 word bygevoeg dat die man wat sy vrou skei, behalwe oor owerspel, sélf ook egbreuk pleeg. In Markus 10:11-12 word ook na die vróú verwys, as sý van haar man sou skei. By laasgenoemde teks is die bedoeling: As die vrou die oorsaak en inisieerder van die egskeiding is en weer trou, dan is sy ewe skuldig aan egbreuk. Die punt is: Man en vrou word deur Jesus op gelyke basis verantwoordelik gehou vir die huwelik.

Ons het hier ’n paar beginsels omtrent die huwelik wat neergelê word deur Jesus: 1. Die huwelik is in sy wese in die oë van God ’n permanente verbintenis. Egskeiding is dus geen ligtelike aangeleentheid nie, dit kan nie sommer vir enige bakatel oorweeg word nie; 2. Die man wat sonder grondige rede (owerspel) van sy vrou skei, pleeg egbreuk; 3. Die man wat só van sy vrou skei, veroorsaak dat sy vrou ook egbreuk pleeg en dat enigeen wat weer met haar trou, ook egbreuk pleeg (omdat in die oë van God die eerste huwelik na regte nog bestaan); 4. Vir die vrou geld dieselfde as sy die inisieerder van die egskeiding is.

Met hierdie uitsprake wou Christus nie mense se lewens onmoontlik maak wat deur egskeiding geraak word nie, maar wou Hy orde skep in die destydse klimaat waar mans – en soms ook vroue – sommer ligtelik van hulle vrouens geskei het. Hy belig weer die oorspronklike bedoeling van die huwelik – ‘n permanente lewenseenheid wat ernstig geneem moet word – en verder neem Hy in die besonder die vrou in beskerming. Sy is dikwels in ’n onmoontlike situasie ingedwing deurdat die man haar sonder enige geldige rede geskei het. Om te kon oorleef, moes sy weer so gou as moontlik trou. En dan, sê Jesus, word sy eintlik in ’n staat van egbreuk ingedwing wat sy nie gewil het nie. Die onus vir ’n gelukkige huwelik is dus net soveel die man se verantwoordelikheid as die vrou s’n. Die punt is: die destydse sosiale omstandighede moet deeglik verreken word om spesifieke Bybeluitsprake te verstaan en toe te pas vir vandag.

Die bedoeling van Jesus se uitsprake is om die heiligheid van die huwelik as Goddelike instelling te beskerm sodat daar nie op ’n ligtelike en ligsinnige manier mee omgegaan word nie. En natuurlik om die sondige en liefdelose praktyke van mense – selfs godsdienstige mense! – aan die kaak te stel. Ons leef egter in ’n gebroke werklikheid. Waar ’n egskeiding wel plaasgevind het – om watter rede ook al – en daar ’n tweede huwelik tot stand kom, word egpare vanuit bg uitsprake van Jesus opgeroep om hulle lewenspad in oënskou te neem, dit te belig in God se liefdeswil, daaroor met berou belydenis te doen soos nodig, en vervolgens die nuwe huwelik te koester en tot eer van die Here daarmee om te gaan. Die egpaar hoef nie te voel dat hulle nuwe huwelik vanweë die foute van die verlede gedoem is tot mislukking of in sonde voortbestaan en dat mens glad nie God se seën op die huwelik kan vra of verwag nie. As daar opregte belydenis van skuld by ons is en die hartlike begeerte om na sy wil te lewe, dan vergewe God ons sonde en stel Hy ons vry in ’n nuwe lewe wat ons tot eer van Hom moet lewe. Dis alleen die verharding van harte en volharding in die sonde (in hierdie konteks: onverantwoordelike skei en trou, skei en trou, skei en trou) wat veroordeel staan deur God. Maar wanneer die hartseer van egskeiding ook in die lig van God se wil en genade hanteer word, en die nuwe huwelik aanvaar word uit sy hand, kan die egpaar ook hierdie nuwe lewenspad loop met die volle vertroue dat hulle die seën van die Here kan verwag.

Dit behoort uit bostaande beredenering duidelik te wees dat dit in hierdie sake nie gaan oor die klakkelose nakom van “wetsbepalings” oor egskeiding en dan is alles weer reg nie. Daar moet veral aan die gees van die wet voldoen word. Die wetsbepalings is eintlik net daar vir dié wie se harte hard is (Matt 19:8). ’n Huwelik, egskeiding of tweede huwelik slaag nie bloot omdat aan sekere reëls voldoen is nie, selfs al is dit Bybelse reëls, maar wanneer mense mekaar van harte aanvaar en vergewe, en as nuwe mense voor die aangesig van God die pad saamloop.

As die gees van die wet rakende huwelike uitgeleef word, dan word die intieme liefdesband tussen man en vrou in die huwelik eerbiedig, en dan word die huwelik beleef en geleef as ’n permanente lewensverbintenis waar man en vrou mekaar in liefde ondersteun. Egskeiding is dan hoogs uitsonderlik, selfs waar moeilike tye beleef word. En wanneer ernstige probleme ontstaan waar egskeiding ’n laaste uitweg is (bv weens volhardende mishandeling of owerspel), moet hard probeer word om eers versoening te bewerkstellig. Iets soos owerspel verplig nie tot egskeiding nie, maar is eintlik ’n toegewing as dit nie anders kan nie. Vir Christene is die eerste opsie egter altyd om te kyk of versoening, restitusie en herstel nie moontlik is nie. Daar is baie voorbeelde waar huweliksgeluk na so ’n ernstige misstap weer moontlik was. Maar natuurlik vra dit opregte berou en vergifnis van beide egliede.

En wanneer ’n huwelik werklik onherstelbaar verbrokkel het en daar wel egskeiding plaasvind, is die regte hantering hiervan nie om te vra of formeel aan bepaalde Bybelse reëls voldoen is voor ’n tweede huwelik kan plaasvind nie. Die tweede kans moet eerder met dankbaarheid uit die hand van die Here ontvang en met hernude toewyding aangegryp word. En dit is altyd aan te beveel dat die afsluiting van die ou pad en die begin van die nuwe pad ook saam met die hulp van kundiges in huweliksberading aangepak word sodat die nuwe paartjie as mense wat waarlik vrygemaak is van die verlede die tweede huwelik kan begin.

Die presiese situasie van ons vraagsteller is uiteraard nie aan my bekend nie (behalwe soos sy breedweg verduidelik het). Maar uit die inligting wat sy verskaf het, en in die lig van my uiteensetting hierbo, wil ek dit tog waag om te sê dat sy nie om godsdienstige redes angstig hoef te voel om ’n tweede huwelik aan te gaan nie. Sy kan dit met vrymoedigheid uit die hand van die Here ontvang. Sy en haar tweede man mag God se vergifnis aanvaar vir alles wat skeefgeloop het, en saam kan hulle begin bou aan ’n nuwe fase in hulle lewe. God maak ons nie net vry van die verlede nie, maar sluit ook die toekoms vir ons oop.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl