Hoekom is Jesus nie herken nie? – Opvolg

Hoekom is Jesus nie herken nie? – Opvolg – Jan van der Watt

Erika vra:

Ek het die vraag gevra hoekom Jesus nie herken is na Sy opstanding nie en verskil van die antwoord wat u gee. In u antwoord beweer u dat Johannes 20 daarop dui dat Jesus herkenbaar was, maar dis dan juis Johannes 20 wat vertel van Maria Magdalena wat Jesus vir ʼn tuinwerker aangesien het! Sy smeek Jesus om haar te wys wat van haar Meester se liggaam geword het. In dieselfde gedeelte moes Jesus éérs sy hande en sy aan sy dissipels wys voordat hulle buite hulself van blydskap was om Hom te sien. ʼn Week later toe almal weer bymekaar was, moes Jesus vir Thomas OORTUIG dat dit Hy was deur te sê: Bring jou vinger en kom sit dit in My wonde! Thomas het hom dus nie herken nie. Jesus het skielik tussen hulle gestaan (Lukas 24:36). Hulle het hulle boeglam geskrik, want hulle het gedink dis ‘n spook (Lukas 24:37). Jesus sê toe vir hulle: Hoekom is julle so bang, staan nader (Lukas 24:38). Kyk die merke op My hande en voete, dis Ek Jesus, kom vat aan My (Lukas 24:39). Nadat hulle gevat en gevoel het, het party van blydskap rondgespring terwyl ander Hom met oopmond aangestaar het (Lukas 24:40). Verder beweer u , sonder verwysing, dat Jesus nie meer Sy gewone liggaam gehad het nie, maar dat Hy met ʼn verheerlikte liggaam opgestaan het. Is dit nie hoekom Hy nie herken is nie? Die vraag is dan: Wat is ʼn verheerlikte liggaam? Die Emmaus-gangers het ʼn gewone menslike liggaam gesien, Maria Magdalena het die liggaam van ʼn tuinier gesien, en Sy dissipels het ʼn spook gesien. Het Jesus ná Sy opstanding ʼn totaal nuwe voorkoms gehad? Verwysing: Van der Watt, Joubert & Smit (2008) Geloof in Aksie Bybel.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Met Maria Magdalena se rol by die graf in Johannes 20 moet op die volgende gelet word: Kyk waarmee is sy die hele tyd besig: sy soek die liggaam van die Here wat weggeneem is – sy noem dit ‘n paar keer. Die skrywer wil dus aandui dat Maria se hele verwysingsraamwerk die dooie liggaam van Jesus is. Sy verwag dus nie die lewende Here nie en daarom word dit in 20:14 gesê dat sy nie geweet het dit is hy nie. As Jesus haar op haar naam noem (wat die tuinopsigter natuurlik nie geken het nie), herken sy Hom. Jesus ken die name van sy skape (Hoofstuk 10:1-10) en dan besef sy wie dit is. Die rede vir die onsekerheid is om die buitengewone van Jesus se opstanding te beklemtoon. Die dissipels het dit nie verwag nie en daarom die onsekerheid en onkunde as dit regtig gebeur. Dit is dus nie Jesus wat nie herkenbaar is nie, maar die dissipels en Maria wat Hom nie verwag en dus nie dadelik besef dat dit Hy is nie. Die klem lê glad nie op die feit dat hulle Jesus nie kan herken nie, maar op die feit dat hulle nie verwag dat dit Hy sal wees nie. Daarom geld die merke aan sy hande en sy sy as tekens dat dit regtig Hy is en niemand anders nie.

Wat sy liggaam betref – lees maar 1 Korintiërs 15 waar Paulus beskryf dat ons liggame met die opstanding anders sal wees, maar tog dieselfde. Die feit dat Jesus se liggaam nog lyk soos ‘n gewone liggaam bots nie met die gedagte dat die liggaam in aard ook ander kwaliteite het nie. Dit is dus soos ‘n menslike liggaam maar ook anders, want Hy kan eet, maar Hy kan ook deur deure loop – en dit met dieselfde liggaam.

Outeur: Prof Jan van der Watt




Herodes

Herodes – Jan van der Watt

Christiaan vra:

Matteus 2:13: Nadat hulle vertrek het, het daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan Josef verskyn en gesê: “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte toe en bly daar totdat ek jou sê om terug te kom, want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak.”

Matteus 2:19: Na die dood van Herodes verskyn daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan Josef in Egipte.

Matteus 4:12: Toe Jesus hoor dat Herodes vir Johannes in die tronk laat opsluit het, het Hy na Galilea toe gegaan.

Wat ek wil weet, is hoe kan Herodes vir Johannes in die tronk laat opsluit het as hy in Matteus 2:19 dood is en Jesus hoor in Matteus 4:12 dat Johannes in die tronk laat opsluit is deur Herodes ?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die antwoord is eenvoudig. Dit was twee verskillende Herodesse. Familiename het meer as vandag ‘n rol gespeel. Herodes die Grote het regeer toe Jesus klein was. Hy is waarskynlik in so 4 vC dood. (Jesus is tussen 6-4 vC gebore – die biskop wat ons huidige kalender uitgewerk het, het ‘n fout gemaak. Jesus is dus nie in die jaar 0 gebore nie). Na sy dood is sy koninkryk in vier verdeel en een van sy seuns Herodes Antipas het ‘n gedeelte gekry. Hy is waarskynlik die persoon waarna verwys word in die geval van Johannes die Doper. Lees ook Markus 6:17-29.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Selfmoord

Selfmoord – Jan van der Watt

Een van ons lesers vra:

My seun het amper 2 jaar gelede selfmoord gepleeg deur hom te vergas. Uit sy skoolboeke kon ons aflei dat hy ‘n worstelstryd gevoer het met die verkeerde goed in sy lewe en om sy lewe totaal te verander na die lewe van ‘n Christen. Hy het byvoorbeeld smeekgebede geskryf waarin hy God gevra het om hom te help om die dwelms en ander gemors in sy lewe uit te wis. Hy is ver ewig weg, maar is hy vergewe vir sy slegte lewe en die selfmoord? Kan mens dit sien as dat hy gesterf het op sy bestemde tyd? Psalm 139 sê tog duidelik dat ons hele lewe deur God bepaal is, opgeskryf is in die Lewensboek. Sou hy dalk op die presiese selfde tyd gesterf het as hy nie selfmoord gepleeg het nie? Geen mens kan tog God se plan met jou verander nie, al pleeg jy selfmoord

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die vraag oor wat gebeur as mens selfmoord pleeg is vir die agtergeblewenes altyd emosioneel en onseker. Dit hoef nie so onseker te wees nie. In die Middeleeue het die Roomse kerk nie mense wat selfmoord gepleeg het in dieselfde begraafplase as ander mense begrawe nie. Dit was verkeerd… die fout was dat hulle Christenskap aan goeie dade verbind het, terwyl Jesus dit aan ‘n verhouding met Hom bind. Jy is nie ‘n Christen omdat jy goeie werke doen nie, maar omdat jy aan Jesus behoort (Johannes 3:16). Die goeie werke is maar ‘n dankbare resultaat van die wonder om ‘n kind van God deur Jesus te wees. Kom ons benader nou hierdie vraag oor wat met ‘n persoon wat selfmoord gepleeg het, gebeur in bogenoemde lig:

 

‘n Verhouding is nie iets wat mens soos ‘n lig aan en af skakel nie. Dit is iets standhoudend. Byvoorbeeld, as jou kind ‘n fout maak, hou hy nie op om jou kind te wees nie. Net so hou ‘n Christen nie elke keer op om Christen te wees as jy of sy ‘n fout maak nie. Jy hoef nie weer oor te begin met jou verhouding nie. Geen sonde is ook so groot dat dit jou uit die hand van God sal ruk nie (Johannes 10:28-30). Daarom is een sonde ook nie groter as ‘n ander nie – as jy iets verkeerd doen, mag dit die verhouding versteur, maar dit verbreek nie die verhouding nie. Selfs al stap jy heeltemal weg van God af soos die Verlore Seun, bly God se arms steeds vir jou oop om die verhouding te kom herstel. (As jy natuurlik heeltemal jou rug op God draai, dan sal jy in die ver land sterf). Met ‘n persoon wat selfmoord gepleeg het, is die vraag dus: het hy of sy in ‘n verhouding met Jesus gestaan voor die selfmoord? Indien wel, is die selfmoord nie sterk genoeg om daardie verhouding te verbreek nie. Indien hy of sy God nie geken het nie, en daar dus geen verhouding bestaan het nie, is die saak anders.

 

Nou is daar mense wat op grond van 1 Johannes 1:8-10 beweer dat jou sonde eers bely moet word voor die vergewe word – ‘n selfmoordenaar kan dit natuurlik nie doen nie. Wat egter hier op gelet  moet word, is dat die sondebelydenis hier in die normale gang van die lewe beskryf word – die gelowige word aangemoedig om sy verhouding met die Here so sterk as moontlik te hou. As daar iets verkeerd loop, moet dit onmiddellik reggestel word. Sondebelydenis is dus soos medisyne wat ons verhouding met God goed hou. Sondebelydenis veronderstel egter juis dat ons nog ‘n verhouding met God het, al het ons gesondig, want op daardie basis vra ons om vergifnis. In 1 Johannes 2:1-2 word daar juis gesê dat Jesus ons voorspraak is – omdat ons in ‘n verhouding met Hom staan, hanteer Hy ons sonde voor God.

 

Dus: dit is wat voor die selfmoord was wat tel – die daad self kan dit nie tot niet maak nie.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Wanneer is Jesus gekruisig?

Wanneer is Jesus gekruisig – Jan van der Watt

Tania vra:

Wanneer presies is Jesus gekruisig volgens ons jaarkalender? Ek verstaan dit was in Nissa 15, maar in watter maand is dit op ons gewonde kalender?

Sy gee die verdere bykomende inligting:

  • Op die veertiende dag van Nisan, die derde uur volgens Joodse tyd (9 uur in die oggend volgens ons tyd) is ons Pasgalam, Jesus Christus, aan die kruis vasgespyker. Dit was presies dieselfde tyd van die dag wat die pasgalammers by die tempel geslag is. Eenduisend-vyfhonderd jaar na die instelling van die Pasga in Eksodus 12, is ons Pasgalam, Jesus Christus, vir ons geslag (sien 1 Korintiërs 5: 7). Sy bloed bedek nie net ons sondes nie – dit wis ons sondes uit!
  • Die bloed van ʼn lam moes aan die deurposte en bodrumpel van die huise van die Israeliete gesmeer word – dan sou God hulle oorslaan (Eng: “pass over”) en sou sy oordeel hulle nie tref nie. Die Israeliete moes deur die met bloed bestrykte deur hul huise binnegaan en binne die beskerming van die bloed bly om hulle verlossing deelagtig te word. Daarom sê Jesus in Johannes 10: 9 “Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word ..”
  • Nog ʼn vereiste met die oorspronklike instel van die Pasga in Eksodus 12 was dat geen uitlander of onbesnedene die Pasga kon gebruik nie (Eksodus 12: 43 & 48). Vandag is die wat in Christus is weens hulle geloof in Hom ” .. nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God” (Efesiërs 2: 19). Daarom kwalifiseer ons as wedergeborenes om aan te sit by die Pasgamaal!

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Nisan is die eerste maand van die Hebreeuse kalender wat met ons Maart-April ooreenstem (die maand op ons kalender kan dus wissel). In die antieke tyd was daar verskeie kalenders. Daar was ʼn kalender wat met die son gewerk het (die dag begin as die son opkom) en daar was kalenders wat op gelyke manier met die maan gewerk het. Die Jode se kalender het met die maan se verskynings gewerk terwyl die Romeine byvoorbeeld die son gebruik het as basis vir hulle berekenings.

Die Joodse maande het begin met die verskyning van die klein sekelmaantjie as die son sak (dag van die nuwe maan). Die maanmaand is ongeveer 29-30 dae en gevolglik is die maanjaar ongeveer 11 dae minder as die sonjaar. Dit lei daartoe dat die eerste maand van die Joodse jaar (dit is Nisan) soms in Maart en soms in April val, afhangende van die verskyning van die maan. “Maart-April” (Nisan) is natuurlik die begin van die lente en is die ‘terugkeer van die jaar” genoem – 1 Konings 20:26, 2 Kronieke 36:10 – met die gevolg dat Nisan die eerste maand van die jaar was. Die paasfees word 14 dae na die verskyning van die sekelmaan gehou, met ander woorde as dit volmaan gedurende die maand Nisan is (Eksodus 12:2-6).  Selfs in ons tyd word paasfees nie altyd op dieselfde kalendertyd gevier nie (soms is ons Paasfees vroeër en soms later), want ons pas ons viering van die paasfees  by die Joodse kalender aan.

Outeur: Prof Jan van der Watt