Abraham en sy Nakomeling

Abraham en sy Nakomeling – Marius Nel

Ewald vra:

Ons lees in Galasiërs 3: 16 ” God het Sy beloftes aan Abraham en aan Sy Nakomeling gegee” en die teksverwysings onderaan die bladsy van my Bybel verwys na vier gedeeltes in Genesis: 12:7, 13:15, 17:7, en 24:7. Blaai ek na hierdie tekste dan sien ek die woord “nageslag” en nie nakomeling nie. Hoe ek ook al na hierdie tekste kyk, slaag ek nie daarin om oortuig te word dat hulle na Christus verwys nie, trouens, hulle verwys [behalwe vir 17:7] baie duidelik na God se belofte van die land [Kanaän?]. Genesis 17:8 verwys ook na ‘n belofte van die land. Sou mens dan aanvaar dat die vertaling in Genesis verkeerd was en “nakomeling” moes gewees het, dan sou mens verwag het dat nageslag in die betrokke verse met ‘n hoofletter gespel moes word. Met respek gesê, wonder ek, dat sou hierdie tekste na Christus verwys, wat sou ons Verlosser met hierdie belofte van aardse grondgebied kon doen? Help my asseblief om hierdie raaisel op te los. Dankie.

 

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Jy het iets belangriks raakgesien. Paulus se gebruik van die Ou Testament hou verband met hoe die Aleksandrynse rabbi’s die Bybel uitgelê het. Die rabbi’s het volgens die Griekse neo-Platoniese filosofie na tekste gekyk en dan gevra: waarvan is dié figuur of objek ʼn prototipe? Dit wat gebeur het, was net ʼn afskaduwing van wat nou gebeur. So redeneer Paulus dat die verwysing na Abraham se nageslag eintlik ʼn prototipe is vir Christus, en dan maak hy die teks van toepassing op Christus. Hy doen dieselfde met die figure van Sara en Hagar, wat volgens sy pesjer-metode verwys na dié mense wat sonder die wet, deur geloof, gered word en mense wat op grond van wetsonderhouding poog om gered te word.

Outeur: Dr Marius Nel

 




Die vrou en die stad

Die vrou en die stad – Jan van der Watt

 

Jan Smith vra:

In Openbaring 19: 9 sê Johannes: Skryf-salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. Die mense is net die “gaste” en in Johannes 3:29 sê Johannes die Doper die vriend van die bruidegom wat na hom staan en luister verbly hom in die bruidegom. In watter verhouding staan die “gaste” en “die vriend” met die bruidspaar? Openbaring 21: 9b: Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon, die vrou van die Lam. In plaas van ‘n bruid of ‘n vrou sien Johannes “die heilige stad Jerusalem“. Hoe vereenselwig mens ‘n “vrou” met ‘n “stad” ? Baie dankie.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

As die Bybel oor die hemelse dinge skryf word daar gewoonlik van beelde gebruik gemaak. Hoe anders kan ‘n mens die wonder van dit wat God vir ons beloof kan verstaan. Die beelde wat natuurlik gebruik word, kom almal uit die gewone lewe waarvan ons almal ervaring het. Elke beeld het ‘n unieke boodskap wat dit oordra. Daar is byvoorbeeld die feesmaal (Matteus 22:1vv) waar die feit beklemtoon word dat ons almal welkom is by God se feestelikheid. Die nuwe Jerusalem beklemtoon die veilige woonplek saam met God. So word die beeld van die bruidegom en bruid van Jesus en sy kerk gebruik. Die verhouding tussen die bruid en bruidegom is natuurlik ‘n intieme en permanente verhouding waarin die man vir die vrou moet sorg en die vrou die man moet liefhê – juis die spesiale verhouding word so deur die beeld op die verhouding tussen Jesus en sy kerk beklemtoon (sien o.a. ook Efesiërs 5:21vv). In Openbaring 19:7-9 staan daar: 7Laat ons bly wees en juig en aan Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam het aangebreek, en sy bruid het haar daarvoor gereed gemaak. 8God het haar dit vergun om fyn, helder blink klere aan te trek.” Hierdie fyn klere is die regverdige dade van die gelowiges”. 9Toe sê die engel vir my: “Skryf op: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is.” Die beeld beklemtoon hier dat die bruid haar regmaak vir die troue (‘n baie belangrike taak – sy moes op haar mooiste lyk. Gewoonlik het die hele familie se vroue en al die vriende van die vrou gehelp om haar mooi te maak. Hulle het selfs hulle mooi juwele vir haar geleen. Sy moes regtig mooi lyk), want die troue is naby. Die klere wat sy aantrek om haar mooi te maak, is die dade van die gelowiges. Wat hier gebeur, is dat daar ‘n vermenging of oorvleueling van beelde is (iets wat algemeen is met beelde – beelde wil spesifieke sake beklemtoon, en as jy meer as een saak het wat jy wil beklemtoon  kan jy twee beelde meng om die twee sake te illustreer). Hier het ons die beeld van die bruid wat haar regmaak – sy is die gelowiges. Sy moet klere hê om aan te trek – dit verskaf die gelowiges deur hulle goeie werke. Dan volg die woorde van die engel wat nog ‘n derde punt onderstreep: ons is gelukkig om by die feesgeleentheid saam met die Lam te wees. Hier gaan dit oor dieselfde mense (die gelowiges) wat die bruid uitmaak. (Lees byvoorbeeld Hoofstuk 7 – daar praat die skrywer eers van die 144,000 en dan van die groot skare. Beide die groepe verwys na die gelowiges, maar vanuit twee perspektiewe, nes hier). In Openbaring 21 kry ons presies dieselfde – daar word beelde weer vermeng. Die stad is die gelowiges (kerk) by wie God kom woon, maar dieselfde mense (die gelowiges is ook die bruid) – in 21:2 het ons ‘n vergelyking: die stad is soos ‘n bruid wat gereedgemaak is. Dit is net so mooi as wat die bruid vir haar sal wees (sien hierbo oor die mooimaak). In 21:9 word die stad die bruid genoem. Die gelowiges word beskryf deur hulle beide met die beeld van ‘n bruid (skoonheid en intieme relasie) asook as stad (beskerming en saam woon) te vergelyk – so sê die skrywer sommer baie van die gelowiges. Die stad en die bruid illustreer egter elkeen ‘n ander dimensie van die verhouding tussen God en sy kerk. Dit staan nie teenoor mekaar nie, maar ons moet dit saam met mekaar lees.

Die verwysing in Johannes 3:29 gaan weer oor ‘n spesifieke saak. As mens die konteks lees (asook Hoofstuk 1:19vv), sien jy dat daar mense was wat gedink het Johannes die Doper is eintlik die Messias. Hy ontken dit. Om sy laer posisie teenoor Jesus te illustreer gebruik hy die beeld van die vriend van die bruidegom wat wel belangrik was (soos ‘n strooijonker), maar nie naby so belangrik soos die bruidegom nie. Hy is in ‘n ander opsig deel van die gelowiges en as die gelowiges die bruid genoem word in ander beelde, beteken dit dat Johannes ook daarby ingesluit is. Met ander woorde, dit gaan oor beelde wat punte wil illustreer en nie oor die realiteit nie. Jesus het nie ‘n strooijonker nie en gaan ook nie soos ons trou met al die gelowiges in die wêreld nie. Dit is alleen beelde om iets van die wonderlike en onverstaanbare verhouding tussen God en sy kerk uit te druk.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Hoekom is Jesus nie na sy opstanding herken nie?

Hoekom is Jesus nie na sy opstanding herken nie? – Jan van der Watt

Erika vra:

Hoekom het niemand Jesus herken nadat Hy opgestaan het nie?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hier word waarskynlik onder andere verwys na die verhaal van die Emmausgangers in Lukas 24:13 en verder, waar die volgelinge van Jesus hom aanvanklik nie herken nie. Laat ons eers by die ander punt begin. Daar is baie verhale in die Bybel waar Jesus dadelik herken is. Lees maar Johannes 20 waar daar vertel word hoe Jesus aan die dissipels verskyn en hulle hom dadelik herken. Tomas twyfel glad nie dat dit die Here is as hy Hom sien nie. In Lukas 24:13vv word Jesus aanvanklik nie herken nie, hoewel ‘n paar verse verder (Luk 24:36vv) Hy aan meer van sy dissipels verskyn en hulle herken hom dadelik, hoewel hulle dink dit is ‘n gees – hulle het nie besef Jesus het opgestaan nie. As ons oor Jesus na sy opstanding praat, moet ons een ding onthou: Jesus het nie meer sy gewone menslike liggaam nie – Hy het opgestaan met ‘n verheerlikte liggaam. Daarom kon Hy deur deure loop (Johannes 20:19) en onverwags aan mense verskyn. Tog het sy liggaam ook nog die gewone kwaliteite van ‘n mens gehad, want Hy kon eet en ander mense kon nog aan Hom vat. Dus: sy verheerlikte liggaam was wel nog ‘n liggaam met die kwaliteite van ons liggaam, maar dit was ook anders, soos die buitengewone dinge wat Jesus gedoen het wys. Wat die manne van Emmaus betref wat Hom nie herken het nie – die teks sê dat God hulle vir ‘n tyd weerhou het om Jesus te herken (Luk 24:16).

 

Outeur: Prof Jan Van der Watt




Adam en Eva

Adam en Eva – Marius Nel

ʼn Leser vra:

Ek wil net graag weet: Eva het vir Adam mislei met die appel. Nou hoor ek dat daar nie fisies ‘n boom was nie, maar dat hulle gemeenskap gehad het. Ons moet die wyer prentjie sien, maar ek glo nie dit nie. Wil net weet voordat ek hulle konfronteer.

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Wanneer ʼn mens besluit watter dele van die Bybel vir jou stories is en watter letterlik geïnterpreteer moet word, loop jy op dun ys, want dan besluit jy arbitrêr oor God se Woord.

Daar is geen aanduiding in die verhaal self dat dit oor seksualiteit gaan nie. Dit gaan oor die oorsprong van sonde, wat duidelik is: ongehoorsaamheid aan God.

Lees dus die verhaal soos dit daar staan, en laat ander maar hulle opinies oor die Bybel vir hulleself hou.

Outeur: Dr Marius Nel