Aan die ander kant

Aan die ander kant – Jan van der Watt

ʼn Leser vra:

Ek het na die program op TV gekyk “Aan die ander kant.” Ek kan sien dat daar groot belangstelling is veral as mense iemand na aan hulle verloor het. Die aanbiedster het ook gepraat oor ʼn persoon aan die anderkant wat blykbaar terwyl hy hier op die aarde was net baie gewerk het en nie tyd gebruik het vir sy geestelike lewe nie. Hy het gevra dat sy gesin vir hom moet intree en bid soos daar in die Woord staan “waar 2 of meer saamstem.” Dit maak nie vir my sin nie. As mens nie ʼn verhouding met God hier op aarde gehad het nie, hoe kan daar iets vir jou gedoen word as jy klaar dood is.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die vraag is of ʼn mens vir iemand anders kan intree wat reeds dood is sodat hy dan uiteindelik gered sal kan word al was hy nie ʼn gelowige op aarde nie. Die vraag het twee kante: kan iemand wat nie gelowig was op aarde nie na sy dood deur ons gebede gered word; en kan ons vir dooies intree deur gebed?

Daar is geen aanduiding in die Bybel dat iemand wat nie in die Here geglo het hier op aarde nie deur ons gebede gered kan word nie. As iemand dit beweer, is dit ʼn dwaalleer. In die verhaal van die Ryk man en Lasarus (Lukas ) word daar uitdruklik gesê dat ons ons kans op aarde het om in die Woord en Profete te glo. As die kans verby is, is dit verby.

Daar is egter in die Roomse en Ortodokse kerke die gebruik om tog vir dooies te bid. Dit kom uit 2 Makkabeërs se laaste gedeelte. 2 Makkabeërs is deel van die kanon van die Rooms Katolieke Kerk (hulle kanon verskil van die Protestante s’n deurdat hulle 13 ekstra boeke het waarvan 2 Makkabeërs een is). In 2 Makkabeërs word daar vertel van hoe die Jode teen die vyand geveg het. Die betrokke dag is daar buitengewoon baie Jode dood, hoewel hulle die slag gewen het. Toe die Joodse leiers die dooies ondersoek, kom hulle agter dat die mans ʼn gelukbringer van ʼn plaaslike godin onder hulle klere versteek het. Hulle het dus nie die Here volledig vertrou nie. Daarom is hulle ook dood. Tog was hulle getroue Jode wat eintlik hulle lewens vir God en hulle vaderland gegee het. Die Jode se leier het toe besluit om geld bymekaar te maak en vir die gestorwenes  ʼn offer in Jerusalem by die tempel te bring met die versoek dat hulle sonde met die godin vergewe word. Hulle het dit ook gedoen. Daaruit is deur die latere kerk afgelei dat ʼn mens wel vir gestorwenes mag intree (onthou 2 Makkabeërs is deel van die Katolieke Bybel). Daarom kry ʼn mens vergelykbare tradisies in die Roomse en Ortodokse tradisies.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Wie rokkel Paulus se gemeentelede af?

Wie rokkel Paulus se gemeentelede af? – Jan van der Watt

Erika vra:

Volgens Filippense was daar mense wat Paulus se gemeentelede afgerokkel het terwyl hy in die tronk was. Wie was die mense en van watter geloof was hulle dan nou?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Dit bly altyd een van die moeilikste vrae om presies te bepaal wie die opponente van Paulus was. Die rede is omdat Paulus eintlik nooit sy opponente op die naam noem nie. Snaaks genoeg sou dit hulle status verhoog in die antieke wêreld as jy hulle naam sou noem. Daarom weet ons nooit presies van wie Paulus praat nie. In Filippense lyk dit ook of daar meer as een groep is wat moeilikheid maak.

Een van die groepe wat Paulus geopponeer het, was Joodse Christene (met ander woord Jode wat Christene geword het) wat gevoel het dat Paulus te liberaal was. Lees gerus Galasiërs wat oor die stryd handel. In Handelinge 15 lees ons dat daar ʼn vergadering in Jerusalem was waar daar gepraat is oor hoe mense wat nie Jode was nie hulle  moet gedra as hulle Christene word. Moet hulle Joods word en al die Joodse gebruike hou, byvoorbeeld die besnydenis, al die koswette, die wet soos die Jode dit hou, ens? Dit sou van hulle tipiese tradisionele Jode maak wat in Christus glo. Die ander alternatief wat Paulus voorgestel het, is dat hulle nie al die Joodse wette nakom nie, maar vrygemaak is in Jesus. Hulle hoef nie meer besny te word, of die wet soos die Jode na te kom nie. Hulle het nou die Heilige Gees en die Gees sal hulle lei. Die groep wat hierbo genoem is, het niks van Paulus se standpunt gehou nie, omdat hulle gevoel het dat Christene soos Jode moes leef. Daarom is hulle al op die spoor van Paulus langs – as hy ʼn gemeente stig is hulle ʼn rukkie later daar en smeer hom dan swart. Hulle het gesê dat hulle ook Christene is (waarskynlik het hulle uit Antiogië in Sirië gekom) en dat die gemeente hulle liewer moet glo. In van die ander briewe van Paulus soos Galasiërs en selfs Korintiërs kry ons waarskynlik van dieselfde groepe wat Paulus opponeer.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Hoekom is die Christene vervolg?

Hoekom is die Christene vervolg? – Jan van der Watt

Erika vra:

Hoekom het Paulus die Christene vervolg? Wat was dit wat die Joodse geloof en reëls en Fariseërs gehad het teen Jesus in Paulus se tyd? En hoekom moes die Christene doodgemaak word? Kon hulle nie maar soos vandag keuses gehad het nie?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Vir jou vraag is dit belangrik om Handelinge 6-9 te lees. Dit vertel die verhaal van die vervolging van die Christene in Jerusalem. Daar lees ons ook van Paulus se betrokkenheid by die steniging van Stephanus. Die rede vir die vervolgings was omdat die Christene van die Jodedom weggebreek het en gesê het dat die God van Israel se redding deur hulle loop. Op daardie vroeë stadium is die Christene nog as deel van die Jodedom gesien (ʼn soort sekte). Daar was baie sulke groepe wat almal deel van die Jodedom was, soos die Fariseërs, die Sadduseërs, ens. Die Romeinse heersers het aan die Joodse Sanhedrin die reg gegee om hulle eie godsdienstige sake te reël. As daar dus bewegings was wat die Jodedom bedreig het – natuurlik volgens hulle eie opinie – het die Jode die reg gehad om hulle te vervolg. Dit was dus ʼn soort godsdienstige vervolging. Hulle het selfs die reg gehad om sulke ‘gevaarlike groepe’ buite die grense van Palestina te vervolg – daarom gaan Paulus na Damaskus toe om die Christene daar te vervolg of terug te bring Jerusalem toe vir verhoor.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt




Synopsis

Synopsis – Jan van der Watt

ʼn Leser vra:

Ek is op soek na ‘n boek/webwerf wat die 4 evangelies langs mekaar (byvoorbeeld in kolomme) plaas. As Matteus byvoorbeeld praat van Johannes die Doper, kry jy langs dit wat Markus, Lukas en die res oor daardie gedeelte skryf. Weet jul miskien van so iets?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die tipe boek wat jy soek noem ons ʼn synopsis (Grieks: sun = saam; opseo = sien). Dit is meer gespesialiseerde boeke. Daar is heelwat in Engels beskikbaar en selfs op die web kry ʼn mens daarvan. (Dit maak nie eintlik saak dat dit Engels is nie, want die verse in die Bybel is mos dieselfde). Ek het dit al dikwels raakgeloop. Ek stel  voor dat jy by NTGATEWAY (google dit) begin en van daar die links volg. Jy sal sommer vinnig by so webblad uitkom.

As jy meer gespesialiseerde Bybelstudie wil doen, is daar baie goeie programme wat jy kan koop (dit het Griekse en Hebreeuse tekste ook op). Twee van die bestes is Libronix en Bible Works. Kyk gerus op hulle webwerwe. Ek hoop jy doen lekker Bybelstudie.

Outeur: Prof Jan van der Watt