ʼn Bybelse lewens- en wêreldbeskouing

ʼn Bybelse lewens- en wêreldbeskouing – Jan van der Watt

Adri Barnard vra:

Wat is ʼn Bybelse lewens- en wêreldbeskouing?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die term ‘lewens- en wêreldbeskouing’ verwys na die manier waarop (bril waardeur) jy na die wêreld en die lewe kyk. Kom ons neem ʼn voorbeeld. ʼn Moslem sal deur die bril van Koran na die wêreld kyk en alles in die wêreld daarvolgens verstaan. Sy lewe en die sin van die lewe sal hy in die lig van dit wat in die Koran gesê word, verstaan. Christene sal weer die sin van die lewe, waarom hulle hier op aarde is, hoe hulle hulle teenoor die skepping moet gedra, ens. in die lig van die Bybel en sy boodskap verstaan. As jy dus vir ʼn Christen sou vra: ‘Wat is die sin van jou lewe’, sou hy of sy waarskynlik antwoord: ‘Om tot eer van God te leef’. Waar kom die Christen aan die inligting? Natuurlik leer hy dit uit die Bybel en daarom noem ons dit dan ʼn Bybelse lewensbeskouing. In die Bybelse lewens- en wêreldbeskouing hou ons dus deeglik rekening met God en sy boodskap soos dit in die Bybel aan ons geopenbaar word.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt




Groot- of klein doop? – Vraag

Groot- of klein doop? – Jan van der Watt

Estelle vra:

Ek en my man was deel van ʼn so te sê AGS kerk. Ons altwee was groot gedoop. Ek was eers NG (so klein gedoop). Na my seun se geboorte het ons maar selde kerk toe gegaan, want dit was so bietjie moeilik met hom. Hy is nog nie gedoop nie. Ons is geleer dat wanneer jy verstaan wat dit beteken is om gedoop te word dan kan jy gedoop word. Ek voel baie skuldig dat my kind nog nie gedoop is nie. My man bly vir my se ek moet nie want hy is nog te jonk om ter verstaan. Ons kan nou die geleentheid kry om hom te doop. My man bly staan dat hy nie gedoop moet word nie. Wat is die regte opsie. Ek worry verskriklik oor dit.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Ons kan ongelukkig nie vir jou sê wat jy moet doen nie, maar hopelik help die volgende inligting so bietjie sodat jy jou besluit met meer vertroue kan neem. Kyk ook weer na die artikels oor die doop op www.bybelkennis.co.za Daar is heelwat inligting. In die lig daarvan gaan ek die volgende byvoeg en weer onderstreep.

Daar is verskillende opvattings onder Christene oor wat die doop presies is.

a)      Die Rooms-Katolieke en Ortodokse Kerk sien die doop as iets wat redding bring. As jy gedoop is, kan jy weet jy is gered. As jy gebore word, is jy soos ‘n half vol glas van God se genade. Die doop maak die glas vol van God se genade en dan is jy gered. As jy dus nie gedoop is  nie, mag dit wees dat jy nie gered is nie.

b)      Luther en die Protestante het hierteen gereageer en gesê redding kom alleen deur geloof en nie deur die doop nie. Hulle moes toe sê wat die funksie van die doop is. As sakrament het hulle dit as ‘teken’ van die verhouding tussen God en mens beskryf. Die doop doen self dus nie soveel nie, maar is net die teken van dit wat tussen die persoon en God gebeur het. Daarom sê die Protestante dat as jy nie gedoop is nie, jy nie noodwendig verlore sal gaan nie, want dit is nie die doop wat jou red nie, maar God deur jou geloof in Jesus.

Die debat het egter verder gegaan in die tyd van die Reformasie en daarna. Die opinies het toe so uitmekaar geloop:

a)      Die gebruik in die kerk tot op daardie stadium was om kinders ook te doop, maar daar was reaksie daarteen. Sommige mense het gesê dat in die Bybel lees ons nie van die doop van kinders nie – net van die doop van mense wat tot bekering gekom het. Dit beteken dat die persoon moes kon verstaan wat dit beteken om Jesus in geloof aan te neem. Dit het bekend geword as die sogenaamde bekeringsdoop.

b)      Daarteenoor het die standpunt in die hoofstroom Protestantse kerke ontwikkel dat kinders gedoop kan word, maar as mens as kind nie gedoop is nie, jy ook gedoop kan word as jy tot bekering kom. As jy egter as kind gedoop is en later voel jy het nou werklik jou lewe (weer of vir die eerste keer) vir God gegee, hoef jy jou nie weer te laat doop nie, want jou eerste doop bly nog geldig. Dit hang dus af van jou situasie.

In bogenoemde lig moet die vraag nou beoordeel word. Die volgende kan ‘n mens dus sê:

a)      As jou kind nie gedoop is nie, beteken dit nie dat hy of sy verlore sal gaan nie.

b)      Kinders word gedoop omdat die ouers kinders van God is. Eenvoudig gestel: as jy ‘n kind van God is, leef jy in die familie van God. Jy is syne. As Hy vir jou ‘n kind gee, beteken dit nie dat God die kind nou as vreemdeling beskou en uit sy familie gooi nie. Nee, God hou sy hand ook uit na die kind. Op grond daarvan dat jy deel van God se familie is, is jou kind wat Hy vir jou gegee het ook deel. Daarom moet die ouers die belofte namens hulle kind aflê – hulle bely hulle is deel van God se familie en dat die kind binne die raamwerk van die familie grootgemaak gaan word. Hulle gaan alles in hulle vermoë doen om die kind so groot te maak dat hy of sy, soos hy of sy verstand kry, net een ding sal wil doen en dit is om ook as gehoorsame kind in God se familie te woon en te lewe. Om te sê dat die kind so binne die familie groot word veronderstel nog dat hy soos hy groter word ‘n lewendige verhouding met God moet ontwikkel – dit is die veronderstelling. Die doop is in hierdie geval die teken dat God vir die kind sê dat hy welkom is in sy familie, mits die kind natuurlik ook van sy kant af deel van die familie sal wees.

c)       As die kind egter grootword en nie so ʼn lewende verhouding met God ontwikkel nie en nooit regtig op God se liefde reageer nie en uiteindelik soos die verlore seun (Lukas 15) van God af wegloop, beteken dit dat die kind weg van God se gawes en huis gaan lewe. Daar in die vreemde land gaan hy sterf. Hierdie gedagte is algemeen in die Ou Testament – God gee aan sy volk beloftes, maar as hulle dit nie nakom nie, straf God hulle byvoorbeeld deur hulle buite die beloofde land te laat sterf.

d)      Dus: dit maak baie sin binne die Christelike teologiese tradisie om kinders te laat doop en daarom is dit ook deur al die eeue gedoen. Dit word egter nie eksklusief gesien nie (maw – dat jy nie groot gedoop mag word nie. As jy nie as kind gedoop is nie, kan jy dit ook doen as jy groot is).

e)      Die doop is dus nie reddend nie, maar wil iets duidelik sê: dit is ‘n sogenaamde ‘oorgangsrite’ – met ander woorde, dit wil sê dat iemand van een plek na ‘n ander oorgegaan het. Dit wil vir almal sê in watter familie jy woon. Dit het dus byna dieselfde funksie as ‘n trouring – dit wil jou status (as iemand wat in die familie van God deel) aandui.

Daar kom egter iets anders by: wat nou as daar onmin in die familie is oor die doop van ‘n kind? In die Bybelse tradisie het dit dikwels gebeur dat twee ‘beginsels’ bots, byvoorbeeld, of iemand besny moet word op die sabbat of nie. Hier bots die Sabbatsgebod en die gebod om besny te word. Of as die kalf in die put val op die Sabbat – moet die kalf gered word (die wet om lewe te beskerm) of moet die Sabbat gehou word (die Sabbatswet)? As gebooie so bots, word die gebod wat lewe bewaar elke keer voorrang gegee. Met ander woorde, ‘n mens moet vra: wat gaan mense en myself die minste seermaak en skade berokken? So kies mens vir die lewe. Konkreet sou dit dus beteken dat mens nie jou verhouding met jou eggenoot moet opoffer ter wille van die doop nie. Doop is ‘n teken en jou kind sal daarsonder nog gered wees – as jy jou huwelik daarvoor opoffer of selfs net spanning in jou huwelik daaroor aanblaas, verloor jy ‘n stuk van die lewe wat God vir jou gegee het.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Liewe Heksie

Liewe Heksie – Jan van der Watt

ʼn Leser vra:

Graag sal ek wil weet wat is u siening oor liewe heksie die kinderprogram. Die kyk na die program is nie vir my die probleem nie aangesien na my mening daar nie okkulte bevorder word nie. My probleem is egter dat ons kerk n’ karnaval aangebied het en die drie hekse het daar rondgeloop en gepraat van die towenaar sonder dat ek enigsins enige plakkaat gesien het met die naam liewe heksie. Almal het net aangeneem dit is n’ voorstelling van heksie. My probleem is dat daar direk oor hekse in die Bybel gepraat word en dat ons nie deel daarvan moet wees nie. Ek het met ons kerk se leraars daaroor gepraat en hulle het geen probleem met liewe heksie nie maar wel met hekse. Volgens my mening is daar nie iets soos n’ liewe heks nie en pas nie vir my by n’ Christelike kerk aksie nie. Graag sal ek u mening hieroor wil hoor.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die probleem wat jy noem kom algemeen voor, byvoorbeeld met Harry Potter boeke, sekere video- of rekenaarspeletjies ens. Daar word ʼn mens in wêrelde ingelok wat bewoon word deur allerlei figure en karakters wat allerlei dinge doen. Normaalweg word dit as fiksie beleef (=sommer maar net ʼn storie), maar kleiner kinders kan die onderskeid nog nie maak nie. Hulle leef hulle in die verhale in en identifiseer dikwels baie konkreet daarmee (kleintjies met ʼn supermanpak het al van dakke afgespring, ander het weer allerhande dinge aan hulle maatjies gedoen wat hulle in die verhale geleer het, ens). Daar is dus vir ons ʼn paar dinge wat hier ʼn rol speel.

a)      Opvoedkundig weet ons dat baie gedragspatrone in ons kinders op jong ouderdomme vasgelê word. Hulle leer deur voorbeelde. As ons die verkeerde voorbeelde in hulle lewens beklemtoon en bevorder moet ons dus nie verbaas wees as hulle later so optree of ten minste simpatie met sulke optrede het nie. ʼn Mens se brein werk soos met voetpaadjies. As jy sekere voetpaadjies in ʼn veld trap sal jy gewoonlik daardie voetpaadjies deur die veld volg. As jy in jou brein sekere ‘gedragsvoetpaadjies’ trap sal kinders gewoonlik daardie pad vat as hulle vinnig moet kies. Dit lyk dus sinvol om jou kinders aan positiewe materiaal bloot te stel. Dit het egter die negatiewe sy dat as jy goed vir hulle ‘sensor,’ hulle juis dit wil sien (met of sonder jou toestemming). Dis mos maar hoe ons is. Daarom dink ek nie kan ons hulle van die dinge af weghou nie. Wat ons wel kan doen is om die dinge vir hulle te ‘ontklee’ – met ander woorde, ons moet ons eie posisie teenoor die negatiewe stel en ook sê dat dit sommer verbeelding is (bv. as dit by die rekenaarspeletjies kom). Die geval van Liewe Heksie is egter besonder in die sin dat hekse negatief is, maar dat die karaktertjie positief en goed is. Ek sou dink dat dit opvoedkundig goed sou wees om wel hekse as negatief te beskryf, maar te sê dat hierdie heksie ʼn uitsondering is omdat sy goed is, ens. So sou ʼn mens jou kind miskien kon leer om in die wêreld waarin ons leef te kan onderskei. Wat belangrik hier is dat as jou kind eendag skool toe gaan en besluite moet neem, kan jy nie saamgaan nie. Al wat jou kind van jou saamneem is net jou voorbeeld wat as voetpaadjie ingeprent is. Hou daardie voetpaadjie positief.

b)      Teologies is jy heeltemal reg – daar is ʼn afkeur in die Bybel aan dinge wat die aandag van God aftrek. God is die enigste Here en ons moet al ons leiding by hom soek. As daar dus dinge ontwikkel wat in stryd is met die basiese gedagte, kan dit nie goedgekeur word nie. Hekse se werk sluit kontak met bose geeste in en die geeste word dan om leiding gevra en prominensie gegee. Dit breek die rol van God in die mens se lewe af. Dieselfde argument geld byvoorbeeld vir dinge soos glasie-speel of waarsêers besoek. Ek dink dus nie dit is ʼn goeie idee om so iets te bevorder nie.

Kortom, dit gaan dus oor hoe ʼn mens Liewe Heksie aanbied, of op die kermis gebruik. As Christene hoef ons nie van alles af weg te hardloop nie. Inteendeel. Ons Skeppergod het alles gemaak en ons moet dus alles vir Hom inpalm. As ons weghardloop kan ons dit nie doen nie. Aan die ander kant beteken dit ook nie dat ons maar vir alles die groen lig kan gee asof daar geen opposisie in die wêreld vir die Christen en God is nie.

Outeur: Prof Jan van der Watt




Doop met die Heilige Gees

Doop met die Heilige Gees – Jan van der Watt

Frans Steenkamp vra:

Is daar iets soos doop met die Heilige Gees waarvoor ek moet bid en daarvoor vra?  En dan sal ek daarna ongewone tale of klanke gebruik wat die sigbare teken sal wees dat ek gedoop is met die Heilige Gees?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Daar bestaan heelwat opinies oor wat die doop met die Gees is. Veral in sommige Charismatiese kringe het die begrip ‘doop met die Gees’ ʼn spesiale betekenis aangeneem. Dit word deur sommige verstaan dat die Gees so spesiaal op jou kom.

In die Bybel is daar heelwat verskillende maniere waarop daar gepraat word oor hoe die verhouding met die Gees verstaan moet word. ʼn Paar riglyne sal miskien help om verder oor die saak te dink.

In Johannes beteken die doop met die Gees eenvoudig dat die Gees aan Christene gegee word. In Johannes 1:33 word daar gesê dat Jesus met die Gees gaan doop. Dit gebeur dan ook in Johannes 20:22 waar Jesus aan sy dissipels die Gees gee (lees ook Johannes 7:38-39). Van toe af het die gelowiges die Gees by hulle gehad (Johannes 16:7). Elkeen wat gelowig word, het dus die Gees van God. Paulus stem hiermee saam as hy gelowiges die tempel van God noem (1 Korintiërs 3:16 en 6:19). ʼn Tempel is die huis van God wat beteken dat Hy daar bly. Elke Christen het dus die Heilige Gees in hom of haar – dit is wat Paulus ook bedoel in 1 Korintiërs 2:1-5. Doodgewoon om Christen te wees beteken dat die Gees in jou gewerk het en jou nuut gemaak het. Johannes noem dit die wedergeboorte (Johannes 3:1-5).

Daar is egter mense wat meen dat die Gees spesiaal op jou kom (nog ekstra bo en behalwe wat hierbo genoem is) en dat dit gepaard gaan met spesiale ervarings. Dit sou dan ook jou spesiale posisie as gelowige bewys.

Eers moet gesê word dat ʼn mens natuurlik spesiale ervarings van die Gees kan hê. Daarvan is die Bybel vol. MAAR, hoe moet ʼn mens dit sien. Is dit ʼn ‘ekstra doop’? Die ekstra ervarings moet eerder vergelyk word met ʼn huweliksverhouding. Jou verhouding met jou man of vrou is nie altyd dieselfde nie. Soms gaan dit beter en soms slegter. Daar is tye wat julle baie naby aan mekaar voel en soms ver van mekaar af. Die wisseling in gevoelens beteken egter nie dat die huwelik soms ophou en dan weer moet begin nie. Die huwelik is altyd daar, maar die ervaring daarvan wissel soms. So is dit ook met die verhouding met die Gees. Soms voel ʼn mens baie na aan Hom en oorweldig emosies en ander dinge jou. Soms voel jy ver van Hom af. Dit beteken egter nie dat jou verhouding met die Gees soms ophou nie. Wat wel gebeur as dat die verhouding soms afkoel en soms opwel.

Nou: as mens die doop met die Gees sien as iets wat gebeur omdat die verhouding met God nie daar was nie en nou daar is, is dit reg. Maar as mens die Gees eenmaal het, staan jy in ʼn verhouding met hom (al wissel die verhouding). Dan hoef jy, by wyse van spreke, nie weer te ‘trou’ nie, met ander woorde, die Gees van voor af te kry nie.

As ʼn gelowige dus die Gees het, het hy of sy die Gees. As jy dan binne jou tradisie die oomblikke wat jy naby die Here voel ‘doop met die Gees’ wil noem, sonder om daarmee te kenne te gee dat jy nou eers die Gees kry, kan ʼn mens dit seker so noem, maar dan moet mens seker wees wat jy bedoel. ʼn Mens moet egter waak teen die gedagte dat die Heilige Gees soos water in ʼn glas in jou ingegooi word en dan weer verdamp tot ʼn volgende keer. So werk geen verhouding nie, ook nie die verhouding met die Gees nie.

Outeur: Prof Jan van der Watt