Doop met die Heilige Gees

Doop met die Heilige Gees – Jan van der Watt

Frans Steenkamp vra:

Is daar iets soos doop met die Heilige Gees waarvoor ek moet bid en daarvoor vra?  En dan sal ek daarna ongewone tale of klanke gebruik wat die sigbare teken sal wees dat ek gedoop is met die Heilige Gees?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Daar bestaan heelwat opinies oor wat die doop met die Gees is. Veral in sommige Charismatiese kringe het die begrip ‘doop met die Gees’ ʼn spesiale betekenis aangeneem. Dit word deur sommige verstaan dat die Gees so spesiaal op jou kom.

In die Bybel is daar heelwat verskillende maniere waarop daar gepraat word oor hoe die verhouding met die Gees verstaan moet word. ʼn Paar riglyne sal miskien help om verder oor die saak te dink.

In Johannes beteken die doop met die Gees eenvoudig dat die Gees aan Christene gegee word. In Johannes 1:33 word daar gesê dat Jesus met die Gees gaan doop. Dit gebeur dan ook in Johannes 20:22 waar Jesus aan sy dissipels die Gees gee (lees ook Johannes 7:38-39). Van toe af het die gelowiges die Gees by hulle gehad (Johannes 16:7). Elkeen wat gelowig word, het dus die Gees van God. Paulus stem hiermee saam as hy gelowiges die tempel van God noem (1 Korintiërs 3:16 en 6:19). ʼn Tempel is die huis van God wat beteken dat Hy daar bly. Elke Christen het dus die Heilige Gees in hom of haar – dit is wat Paulus ook bedoel in 1 Korintiërs 2:1-5. Doodgewoon om Christen te wees beteken dat die Gees in jou gewerk het en jou nuut gemaak het. Johannes noem dit die wedergeboorte (Johannes 3:1-5).

Daar is egter mense wat meen dat die Gees spesiaal op jou kom (nog ekstra bo en behalwe wat hierbo genoem is) en dat dit gepaard gaan met spesiale ervarings. Dit sou dan ook jou spesiale posisie as gelowige bewys.

Eers moet gesê word dat ʼn mens natuurlik spesiale ervarings van die Gees kan hê. Daarvan is die Bybel vol. MAAR, hoe moet ʼn mens dit sien. Is dit ʼn ‘ekstra doop’? Die ekstra ervarings moet eerder vergelyk word met ʼn huweliksverhouding. Jou verhouding met jou man of vrou is nie altyd dieselfde nie. Soms gaan dit beter en soms slegter. Daar is tye wat julle baie naby aan mekaar voel en soms ver van mekaar af. Die wisseling in gevoelens beteken egter nie dat die huwelik soms ophou en dan weer moet begin nie. Die huwelik is altyd daar, maar die ervaring daarvan wissel soms. So is dit ook met die verhouding met die Gees. Soms voel ʼn mens baie na aan Hom en oorweldig emosies en ander dinge jou. Soms voel jy ver van Hom af. Dit beteken egter nie dat jou verhouding met die Gees soms ophou nie. Wat wel gebeur as dat die verhouding soms afkoel en soms opwel.

Nou: as mens die doop met die Gees sien as iets wat gebeur omdat die verhouding met God nie daar was nie en nou daar is, is dit reg. Maar as mens die Gees eenmaal het, staan jy in ʼn verhouding met hom (al wissel die verhouding). Dan hoef jy, by wyse van spreke, nie weer te ‘trou’ nie, met ander woorde, die Gees van voor af te kry nie.

As ʼn gelowige dus die Gees het, het hy of sy die Gees. As jy dan binne jou tradisie die oomblikke wat jy naby die Here voel ‘doop met die Gees’ wil noem, sonder om daarmee te kenne te gee dat jy nou eers die Gees kry, kan ʼn mens dit seker so noem, maar dan moet mens seker wees wat jy bedoel. ʼn Mens moet egter waak teen die gedagte dat die Heilige Gees soos water in ʼn glas in jou ingegooi word en dan weer verdamp tot ʼn volgende keer. So werk geen verhouding nie, ook nie die verhouding met die Gees nie.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Die evangelie van Tomas

Die evangelie van Tomas – Jan van der Watt

Maarten vra:

Hoekom is die “Gospel of Thomas” uit die Bybel verwyder?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die Evangelie van Tomas was nooit deel van die kanon (Bybel) nie. Dit is dus nooit verwyder nie. Dit is later as die Boeke in die Bybel geskryf en boonop deur ‘n groep wat as afsplitsing deur die vroeë Christene gesien is.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Kan die duiwel jou gedagtes lees?

Kan die duiwel jou gedagtes lees? – Jan van der Watt

Maarten vra:

Ek het al verskeie mense gevra wat daarop aandring dat Satan nie jou gedagtes kan lees nie, gevra waar dit in die Bybel verduidelik word. Niemand kan dit regtig verduidelik nie.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt

Die Bybel sê wel dat God ons gedagtes ken, maar ons ken natuurlik nie syne nie. Jesus weet ook wat ander dink. Kom ons by die duiwel, is dit duidelik dat die duiwel nie-gelowiges in besit kan neem en hulle dan kan domineer, ook hulle gedagtes. Jy word dan negatief beïnvloed deur die duiwel wat jou in sy besit het (lees ook Johannes 13:2). Hy kan jou selfs verlei. Dit beantwoord egter nog nie die vraag of die duiwel jou gedagtes kan lees nie. Daar is inderdaad geen spesifieke gedeelte in die Bybel wat direk sê dat die duiwel ons gedagtes kan lees nie.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




IOU

IOU  – Jan van der Watt

Marinda vra:

Is dit korrek dat die leraar aandring op ‘n IOU as die kollekte opgeneem word. Ek is nie gemaklik met hierdie hele geld storie in die kerk nie. Dit voel vir my al asof die geld oes meer belangrik is as die siele oes. Ons skuld mos nie geld aan God nie, maar wel gehoorsaamheid en die verkondiging van sy Woord om siele te red. Dit voel vir my asof die leraar te veel fokus op die kollekte oes, en hoe “meer jy gee,” hoe meer sal jy terugkry.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Marinda, lees asseblief die artikels wat reeds op www.bybelkennis.co.za staan oor geld en tiendes. Wat die IOU betref: Daar was in die Ou-Testamentiese tradisie sterk klem op tiendes. Die rede was onder andere omdat God onsigbaar is en die kontak tussen Hom en sy mense goed gereël moes word (lees maar Levitikus wat reël hoe God gedien en gekontak moet word). Dit het geld gekos en die geld is as God se geld gesien. Toe Jesus gekom het, het daar veranderinge plaasgevind. Deur Christus kan ons direk tot God bid en ons hoef ook nie meer offers ens. te bring nie. Die hoofklem rondom geld het toe verskuif na die versorging van medemense (wat ons in die algemeen as barmhartigheid ken – lees maar 1 Johannes 3:16). Die Christen moet dus bereid wees om te gee soos die behoefte ontstaan (sien ook 2 Korintiërs 8-10). Daar het egter ook in die Christelike tradisie die gebruike ontwikkel om vergaderplekke te kry en ook mense aan te stel wat die gemeente moet lei op ʼn vaste basis (dominees of pastore). Volgens dele soos 1 Korintiërs 9 moet so ʼn persoon versorg word sodat hy sy werk goed kan doen. Hoe dit gereël moet word, staan nie in die Bybel nie. Daar staan nie eers in die Nuwe Testament dat ons dominees of pastore moet betaal nie. Paulus wou byvoorbeeld nie geld aanvaar nie en het vir sy brood en botter ander werk gedoen. Om dus die dominee te betaal en ʼn kerkgebou met sekretaresse aan die gang te hou is nie ʼn Bybelse opdrag nie, maar is deel van die praktiese reëlings van die kerk. In teologiese taal sê ons dit behoort tot die ‘welwese’ (die gesonde bestaan) van die kerk en nie tot die wese nie (dit waarsonder die kerk nie kerk kan wees nie). Dit beteken dus tegelyk dat elke gemeente wat besluit dat hulle so wil funksioneer hulle eie reëlings moet tref, bv. of hulle van IOU moet of wil gebruik maak of nie. Hoe dit dan gewoonlik gereël word, hang van die gemeente af – met ander woorde, as die gemeente ʼn verteenwoordigende kerkraad het, kan hulle die besluit namens die gemeentelede neem (soos parlementslede as verkose lede wette kan maak wat almal moet hou). Jy het egter die volste reg om in so geval met jou verteenwoordiger te gaan praat en hom te vra om die manier van geldinsameling te heroorweeg of ten minste meer as een moontlikheid daar te stel sodat almal gemaklik kan voel.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt