Is daar vlakke in die hemel?

Is daar vlakke in die hemel? – Jan van der Watt

Esther vra:

Is daar verskillende vlakke in die hemel waar die afgestorwenes hulle bevind?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Niemand was nog regtig in die ‘hemel’ nie. (Kyk by die ander artikels wat regtig met die ‘hemel’ bedoel word). Daarom kan ons ons nie voorstel hoe dit daar lyk nie. Openbaring 21 gebruik ‘n beeld van ‘n wonderlike stad van edelgesteentes en goud waar alles in oorvloed bestaan. Dit is die plek waar God self is en dit is die wonderlikste van alles.

Nou is die vraag of daar verskillende ‘vlakke’ in die hemel is waar die dooies hulle bevind? Daar was in daardie tyd die ideë dat daar sewe hemele is (Paulus praat van 3 hemele – 2 Korintiërs 12:2).  Die ideë wat daar agter lê kan ‘n mens vergelyk met ‘n groot paleis. Daar is die troonkamer (Openbaring 4) waar die Koning sy gaste ontvang, maar hoe dieper ‘n mens in die paleis ingaan hoe meer ‘privaat’ of heilig raak dit. As ‘n mens dus in die ‘sewende hemel’ kom, is jy in die heel heiligste deel.

Dit gesê, moet ‘n mens dadelik erken dat die Nuwe Testament glad nie die gedagte ken dat mense wat dood is, hulle op ‘verskillende vlakke’ bevind nie. Die Nuwe Testament sê liewer dat God al sy kinders dieselfde hanteer. Hy maak nie onderskeid nie. As jy ‘n kind van God is, is jy ‘n kind van God. Jy is nie meer of minder kind van God as ander nie. Daarom sal daar nie verskillende vlakke wees nie. (Waar die dooies self is as hulle doodgaan, word in ‘n ander artikel behandel – kyk asb daar).

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Was Jesus volkome mens voor sy doop?

Was Jesus volkome mens voor sy doop? – Jan van der Watt

Die volgende stelling is gemaak: Jesus het slegs as volkome mens na die aarde toe gekom. Hy was nie in staat om wonderwerke te kon doen, alvorens Hy nie gedoop is nie. Met Sy doop het die Heilige Gees Hom bekragtig en daarna kon Jesus eers wonderwerke doen. My vraag is : Hoe bekragtig God Homself? Is hierdie soort stelling nie lynreg teen wat ons glo en spesifiek dan ook in teenstelling met die Kerk se belydenis nie?

Antwoord:

Jesus se doop speel ‘n belangrike rol in sy lewe. Dit dui die beginpunt van sy openbare bediening aan en daar word verder gesê dat die Gees toe op hom neergedaal het soos ‘n duif (Matteus 3:16; Johannes 1:32). Van toe af het Hy begin om te preek en wonders te doen. Voor die tyd (en dit was ongeveer 30 jaar) het Jesus geen wonders gedoen wat ons van weet nie. Die vraag is nou of Jesus wonders kon doen voor die tyd en of hy maar net ‘n gewone mens was tot met sy doop?

Daar was groepe (die Gnostici) wat van die tweede eeu na Christus af beweer het dat Jesus ‘n gewone mens was tot met sy doop, toe die Gees gekry het (wat Hom Christus gemaak het) en met sy kruisiging weer teug verander het na die gewone mens Jesus toe Hy die ‘Gees gegee het’. Die standpunt is egter deur die vroeë kerk as dwaalleer verwerp. Jesus het nie eers geword wat Hy was toe die Gees met sy doop op Hom gekom het nie. Hy was dit vir altyd. In Johannes 1 word hy God genoem, selfs voor die skepping. Hy ‘word’ dit nie eers later nie.

Maar wat dan nou van die Gees met Jesus se doop? Soos met die ou profete en konings het hulle openbare bediening begin met die ‘salwing van die Gees’. Dit was die teken dat God spesiaal by hulle is. In Jesus se geval word daar met die doop bevestig dat God met Jesus is en dat dit wat Hy doen deel van die werk van God se Gees is.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Die Oordeelsdag

Die Oordeelsdag – Jan van der Watt

Saartjie vra:

In ons belydenis sê ons:” Vanwaar hy sal kom om te oordeel die lewende en die dode.” Wanneer is dan die oordeelsdag? Word ons dan nie onmiddellik geoordeel as ons sterf nie?

Antwoord:

Prof. Jan van der Watt antwoord:

Daar moet onderskei word tussen geoordeel wees en die oordeelsdag. Die Bybel is op baie plekke baie duidelik dat daar ‘n finale oordeel gaan wees – lees byvoorbeeld Openbaring 20:11vv. en Matteus 25:31vv. Die beeld wat gebruik word, is dié van ‘n outydse hofsaak. Mense sal in die hof voor die hemelse Regter verskyn en dan sal die boeke oopgemaak word en die oordeel gevel word. Soos in ‘n hof, sal dit finaal wees.

‘n Mens kry egter ook die idee van ‘geoordeel wees’ in die Bybel. Die gedagte is dat Jesus se woorde so duidelik is, dat daar geen twyfel bestaan oor wat reg en wat verkeerd is nie. Hy sê tog duidelik dat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe sal hê (Johannes 5:24) en niemand sal hulle uit die hand van Hom of sy Vader ruk nie (Johannes 10:28-30). Met ander woorde, jy weet self waar jy staan – aan die kant van Jesus of aan die kant van die duiwel. As jy aan die kant van Jesus staan, kan jy nou al weet wat die Regter eendag gaan sê. Nog te meer, as jy jou rug op Jesus gedraai het en nie aan sy kant staan nie, dan weet jy ook baie goed wat op jou wag. Jesus het jou mos gewaarsku. Dit is wat die Bybel bedoel met ons is nou al reeds geoordeel. Ons weet wat die uitslag gaan wees. Kyk hoe stel Johannes dit in 12:48:  ‘Wie My verwerp en nie my woorde aanneem nie, het reeds iets wat hom veroordeel: die woorde wat Ek gespreek het, sal hom op die laaste dag veroordeel’. Met die finale oordeel op die laaste dag gaan daardie uitslag net deur die groot hemelse Regter bevestig word.

Outeur: Prof Jan van der Watt




Moet ek my weer laat doop?

Moet ek my weer laat doop? – Jan van der Watt

Vraag:

Is as kind gedoop, groot geword in “Christelike ” huis, het afgedwaal, maar in Sy groot genade het die Vader my weer vergewe. Ek het nou lewende en groeiende verhouding met my Verlosser. Ek word nou gekonfronteer(in positiewe sin) dat ek my moet laat doop, ek het ook die begeerte in my hart! Waarom laat mens jou weer doop! Moet ek?

Antwoord:

Prof. Jan van der Watt antwoord:

Elders op die webblad word die doop bespreek – ek gaan nie weer alles herhaal wat daar staan nie. Kom ons kyk egter net na wat gebeur as mens afdwaal en weer terugkom.

A)     Die doop is ‘n sigbare gebruik wat wil sê dat ‘n mens van een familie na ‘n ander oorgegaan het. Jy behoort nie meer aan die duiwel se familie nie, maar is ‘n kind van God. Klein kinders word gedoop omdat hulle ouers deel van die familie van God is. God vat nie ‘n kind van sy kinders en gooi hom of haar uit die familie om daar buite in die duisternis groot te word en wag dan tot die kind daar buite in die duisternis die insig ontwikkel om na God toe te kom nie. Nee, God gee die kind van sy kinders die kans om in die familie groot te word, met ouers wat hom of haar moet leer hoe om te leef soos ‘n kind van die familie. Daarom lê die ouers ook ‘n belofte af met die doop. Hulle moet hulle kind grootmaak soos ‘n kind van God.

B)      Wat gebeur as so kind afdwaal? Die beste voorbeeld is die verlore seun (Lukas 15). Daar sien ons presies hoe dit werk. Die jongste seun was deel van die familie. Hy draai toe sy rug op die familie. Daar in die vreemde land het hy nie meer al die voorregte wat ‘n kind het nie en sy pa sorg nie meer vir hom nie. As hy daar sou doodgaan, sou hy weg van sy pa af doodgegaan het. Dit is so as iemand van God af wegdraai. Dit is sy keuse en hy of sy moet die gevolge van die keuse dra.

C)      Die seun besluit om weer terug te draai na sy pa toe. Toe hy by die huis aankom, laat sy pa hom nie weer van voor af aanneem nie. Hy hoef nie vorms in te vul of iets spesiaals te doen nie. Sy pa ontvang hom met oop arms, omdat hy ‘n genadige en liefdevolle pa is. So is dit met iemand wat weer terugkeer na sy geestelike familie toe. Hy hoef nie weer van voor af te begin of van voor af kind te word nie. Hy hoef nie weer gedoop te word nie. Sy bestaande kindskap word deur die oop arms van God bevestig. As hy nie teruggekom het nie, sou hy nooit die oop arms van sy Vader leer ken het nie.

D)   Daar word wel ‘n groot fees gehou met die terugkeer, maar dit is nie ‘n inlywingsritus soos die doop nie. Dit is ‘n vreugdefees. Daar is dus niks verkeerd om jou kindskap en ook jou terugdraai na God te vier nie. Maar jy hoef nie weer van voor af te begin of gedoop te word nie.

Outeur: Prof Jan van der Watt