Jesus kom weer (wederkoms)

Jesus kom weer (wederkoms)

Jesus is gekruisig, maar het uit die dood opgestaan. Hy is terug na sy Vader in die hemel toe. Maar die Bybel sê dat Hy weer terugkom om ons te kom haal (1 Tessalonisense 4:16-17; Johannes 14:1-3). Dan sal Hy ons na die huis van sy Vader in die hemel toe vat om vir ewig daar saam met God te leef. Dit noem ons sy wederkoms.

Daar is al van die vroegste tye af bespiegel wanneer die wederkoms van die Here gaan plaasvind. In 2 Petrus 3:8-9 word ons gewaarsku om nie te veel somme te maak nie. Die Here se tyd werk nie soos ons tyd nie. Vir Hom is ʼn duisend jaar soos een dag en omgekeerd. Jesus sal wel as die tyd ryp is weer kom. Dat die wederkoms gaan plaasvind, is seker. Ons weet net nie wanneer nie.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




God gee vir ons ʼn nuwe lewe (wedergeboorte)

God gee vir ons ʼn nuwe lewe (wedergeboorte)

As jy in Jesus glo, gee God vir jou ʼn nuwe lewe saam met Hom, ʼn ewige lewe (Johannes 3:16).

Om die waarheid te sê, jy word in God se familie gebore (Johannes 1:12-13; Johannes 3:1-8; 1 Petrus 1:3, 23). Dit word wedergeboorte genoem, of iemand wat vir ʼn tweede keer gebore word, hierdie keer geestelik. So verduidelik Johannes wat met ʼn mens gebeur as jy gered word. Jy kry ʼn tweede geestelike, ewige lewe wat deur God vir jou gegee word. Ja, jy word geestelik of van bo gebore. Nou kan en moet jy geestelik vir God leef.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




God lieg nooit nie (waarheid)

God lieg nooit nie (waarheid)

Baie mense sê daar is nie meer iets soos absolute waarheid nie. Alles is relatief. Ek kan glo wat ek dink en jy wat jy dink. Wat ek glo, is vir my waar en wat jy glo, is vir jou waar.

Mense wat so redeneer vergeet van God. As ons na waarheid en egtheid soek, kry ons dit by God. Hy het alles gemaak en weet hoe alles werk. Hy weet wat eg en reg is, want Hy het ook die reëls en wette vir die wêreld gemaak. En as ons werklik God wil leer ken, moet ons die weg na die waarheid loop, naamlik Jesus (Johannes 14:6). Om dus te ontken dat daar werklik ʼn absolute waarheid is, is om God te ontken. Hy is waar en wie in Hom glo, is mense van die waarheid

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Visioene en drome… praat God so?

Visioene en drome… praat God so?

In die Bybel lees ons van mense wat visioene gesien het en ander wat drome gedroom het.

ʼn Mens hoor vandag nog daarvan, maar baie keer is mense skepties daaroor. Die rede is omdat drome en visioene soms so subjektief is. Jy weet eintlik nie regtig of dit van die Here af kom en of dit sommer maar jou eie gedagtes is nie. Tog is drome soms deur die Here gebruik om boodskappe aan mense te gee. Toe Jesus egter gekom het, het Hy die finale en duidelikste boodskap van die Here aan mense kom gee. As jy dus wonder oor wat die Here wil hê, is die veiligste plek om te gaan luister, by Jesus self. Gaan lees wat Hy gesê het. Daarmee saam het ʼn tweede ding gebeur: God se Gees het met Pinksterdag op elke gelowige gekom. Die Gees lei en leer gelowiges nou. Die Gees doen dus wat drome gedoen het voor die Gees gekom het. As jy nou moet kies tussen ʼn droom of die Gees van God wat self met jou praat, wat sal jy kies? God kies sy Gees. Ons moet net seker maak dat ons sy Gees duidelik en helder hoor en nie dalk na ʼn vals boodskap luister nie. Lees maar 1 Johannes 4:1-2.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy