Visioene en drome… praat God so?

Visioene en drome… praat God so?

In die Bybel lees ons van mense wat visioene gesien het en ander wat drome gedroom het.

ʼn Mens hoor vandag nog daarvan, maar baie keer is mense skepties daaroor. Die rede is omdat drome en visioene soms so subjektief is. Jy weet eintlik nie regtig of dit van die Here af kom en of dit sommer maar jou eie gedagtes is nie. Tog is drome soms deur die Here gebruik om boodskappe aan mense te gee. Toe Jesus egter gekom het, het Hy die finale en duidelikste boodskap van die Here aan mense kom gee. As jy dus wonder oor wat die Here wil hê, is die veiligste plek om te gaan luister, by Jesus self. Gaan lees wat Hy gesê het. Daarmee saam het ʼn tweede ding gebeur: God se Gees het met Pinksterdag op elke gelowige gekom. Die Gees lei en leer gelowiges nou. Die Gees doen dus wat drome gedoen het voor die Gees gekom het. As jy nou moet kies tussen ʼn droom of die Gees van God wat self met jou praat, wat sal jy kies? God kies sy Gees. Ons moet net seker maak dat ons sy Gees duidelik en helder hoor en nie dalk na ʼn vals boodskap luister nie. Lees maar 1 Johannes 4:1-2.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Spesiale liggame wag vir ons (Verheerlikte liggame)

Spesiale liggame wag vir ons (Verheerlikte liggame)

Hoe gaan dit in die hemel wees? Ons weet nie mooi nie. In 1 Korintiërs 15 vertel Paulus vir ons dat ons verheerlikte liggame gaan kry. Dit gaan nog onsself wees, maar ons gaan ook anders wees. Ons gaan nie oud, siek, of hartseer word nie. Ons gaan in ʼn ander dimensie leef, om dit nou maar so te stel. Presies hoe dit gaan wees, kan niemand sê nie. Ons weet net dat dit wonderlik en anders gaan wees.

Dit kan so verduidelik word. ʼn Baba in die maag van haar ma voel veilig en het alles wat sy nodig het. Sy voel warm, tevrede en het genoeg kos. Sy kan haar kwalik iets meer of beter voorstel. Maar as sy gebore word, sien sy skielik ʼn wêreld wat sy haarself nooit kon voorstel nie. Sy sien die blou lug, die pragtige berge, die sterk arms van haar pa en die sagte soene van haar ma. In die maag van haar ma sou sy dit nooit self kon uitdink nie. Net so is dit met die hemel wat vir ons wag. Ons dink nou in terme van wat ons ken. Maar daar wag iets baie mooier en wonderliker vir ons. Ons kan onsself nie voorstel hoe dit gaan wees nie, want God het dit uitgedink. Ons kan maar net vir die verrassing wag.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Die kans om oor te begin (Vergifnis)

Die kans om oor te begin (Vergifnis)

Vergifnis is die wonderlikste ding wat God vir ons gegee het. As jy nie kan vergewe nie, het jy nog nie mooi verstaan waaroor God en sy boodskap gaan nie. Dit is God se manier om die verhouding tussen ons as gelowiges gesond te hou.

God het eerste vir ons gewys hoe vergifnis lyk. Dit is om ʼn swak geheue te hê as dit by ander se foute kom, om nie oor dinge wat ander teen jou gedoen het, te top nie. Dit is veral om nie planne uit te dink hoe jy ander kan terugkry nie. Vergifnis is presies die teenoorgestelde van wraak. So het God nie vasgekyk teen wat ons alles teen Hom gedoen het nie. Hy het eenvoudig in liefde daarby verby gekyk en ons alles vergewe.

Net so wil Hy hê moet ons met mekaar maak. Ons moet vergeet wat ander teen ons gedoen het. So gee ons mekaar kans om voor en weer te begin. Dink net wat sal gebeur as almal al die dinge wat jy verkeerd gedoen het, teen jou hou. Jy sal geen vriende meer oorhê nie. Maar juis omdat hulle jou vergewe en aanvaar soos jy is, kan jy nog hulle vriend of vriendin wees. Vergifnis gee lewe en laat mense oor begin. Dit is die petrol wat ons verhoudings nodig het om aan te gaan.

Maar wat is vergifnis presies. Beteken dit dat ek heeltemal moet vergeet van iets wat iemand teen my gedoen het en wat my baie seergemaak het? Nie noodwendig nie; vergifnis beteken dat jy iets wat teen jou gedoen is, oorsien; nie dat jy nooit weer daaraan sal dink of dit sal onthou nie. Vergifnis is dat jy nie wraakgedagtes teen die ander persoon koester nie. Jy moenie hier binne in jou gedurig planne maak oor hoe jy die ander ou gaan terugkry nie. As iemand jou baie seergemaak het, kan jy dit waarskynlik nooit vergeet nie. Ons kan nie ons geheue programmeer om alles net te vergeet nie (as jy oud word, begin dit wel te gebeur). Ons onthou eenvoudig dinge en voel partymaal selfs emosioneel daaroor. Dit is menslik. Maar dit beteken nie dat jy nog nie vergewe het nie. Al onthou jy nog, maar maak nie planne om die ander persoon terug te kry of seer te maak nie, het jy vergewe.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Verbond

Verbond

Die twee dele van die Bybel is bekend as die Ou en die Nuwe Testament. Testament is eintlik ʼn ander woord vir ooreenkoms of verbond.

Verbond is die woord wat gebruik word as God ʼn ooreenkoms met mense maak. As Hy byvoorbeeld na die vloed vir Noag beloof dat Hy nooit weer die wêreld met water sal vernietig nie, dan is dit ʼn ooreenkoms of verbond. As Hy vir Abraham ʼn groot nageslag en ʼn land van sy eie beloof as Abraham Hom getrou dien, is dit ʼn verbond. Net so maak Hy ʼn verbond met die volk Israel by die berg Sinaï dat Hy vir hulle ʼn God sal wees as hulle vir Hom ʼn volk sal wees. Hy sal vir hulle sorg as hulle sal leef soos sy volk. Dan gee die Here vir die volk die Tien Gebooie as riglyn hoe hulle as sy volk moet leef (Eksodus 20). Daarom noem mense partymaal die Tien Gebooie die “Verbondswet”, want dit is deel van die ooreenkoms tussen God en sy mense.

Een ding moet ʼn mens hier nie miskyk nie. So ʼn ooreenkoms het nie net van een kant af gekom nie. God sou doen wat Hy beloof het, maar sy mense moes ook doen wat hulle beloof het. As deel van hierdie ooreenkoms moes hulle volgens God se wil leef. Indien nie, is hulle bereid om die straf daarvoor te dra. Die beskrywing van die tipe straf wat toegepas gaan word as iemand die ooreenkoms breek, is deel van die ooreenkoms: wie dit nie nakom nie, moet voel. Daarom is dit so ernstig as hulle nie na God luister nie. Ongehoorsaamheid beteken hulle breek hulle ooreenkoms en verhouding met God. Dan verdien hulle elke stukkie ongelukkigheid of straf wat van God se kant af kom.

Jesus het ook so ooreenkoms met ons kom sluit. As ons in Hom glo, sal ons God se kinders wees, ja, God sal vir ons ʼn Pa wees en ons sal sy kinders wees. En daarom moet ons soos sy kinders leef. Daar is egter een verskil tussen die verbond van Jesus en die verbonde van die Ou Testament. Jesus help ons as ons nie heeltemal soos soet kinders leef nie. Sy genade maak ons sondes toe. As daar straf uit te deel is, verdra Hy dit in ons plek. Uit liefde vir Hom en ons hemelse Vader moet ons egter elke dag so leef dat Jesus nie te veel vir ons hoef te skerm nie.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy