God, die Vader, die Seun en die Heilige Gees (Die Drie-eenheid)

God, die Vader, die Seun en die Heilige Gees (Die Drie-eenheid)

Eers in die vierde eeu het die Christendom staatsgodsdiens geword.

Tot op daardie stadium was die Christendom nie eers deur die staat erken as godsdiens nie; nee, hulle is eerder vervolg. Dit was eers toe Keiser Konstantyn van die Romeinse Ryk ʼn Christen geword het dat die Christendom as staatsgodsdiens verklaar is. Dit was ʼn vinnige verandering: van ʼn nie-erkende godsdiens na die godsdiens van almal in die Romeinse Ryk… Die mense in die Ryk, wat die Christendom nie geken het nie, wou toe natuurlik weet wie díe God is wat hulle moes aanbid. By die Sinode van Nicea (in Turkye) het die Christene toe verduidelik wat hulle oor Jesus glo. By ʼn latere sinode het hulle ook oor die Heilige Gees as God gepraat. Die uiteensettings het as die Drie-eenheidsleer bekend geword.

Daar is onomwonde verklaar dat Christene in net een God glo. Tog is daar drie persone, naamlik die Vader, die Seun en die Heilige Gees wat die een God uitmaak. Die Vader is God, die Seun is God en die Heilige Gees is God. Die Vader is egter nie die Seun nie, en die Seun ook nie die Vader nie. Net so moet die Gees van die Vader en die Seun onderskei word. Die Gees is in die Vader en die Seun. Tog is die Seun en die Gees nie minder of anders God as die Vader nie. Die Drie is onderskeibaar maar tog een.

Dit is moeilik om te verstaan, maar ʼn mens kan God nie altyd verstaan nie. Hy is te groot om mooi in die hokkies van ons breine in te pas, anders was Hy nie God nie. Party mense het die Drie-eenheidsleer so verduidelik. Dit is soos ʼn kers: daar is was, ʼn pit en ʼn vlammetjie, maar dit is tog net een kers. Ander het weer gesê dat dit een God is wat verskillende “maskers” opsit, naamlik, as die Vader, die Seun en die Gees. Al die verduidelikings het maar hulle probleme. Uiteindelik moet ʼn mens maar net aanvaar dat Jesus en die Gees soos die Vader God is. Verklaar sal ʼn mens sekerlik nie kan nie, want ʼn mens kan God nooit regtig verklaar nie. Onthou Hy is God en ons is net mense

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Die Doop – Geloof in Aksie Bybel

Die Doop

Nie net Christene doop of het in die ou tyd gedoop nie. In die Bybelse tyd het verskillende mense of groepe op verskillende maniere gedoop. Die doop is dus nie net Christelik nie. Dit gaan dus nie soveel oor die manier van doop nie, maar oor die betekenis van die betrokke doop. Die doopaksie is maar net ʼn teken van ʼn groter boodskap.

Wat is die boodskap van die Christelike doop? Wel, dat jy van die slegte groep na die beter groep toe oorstap. Jy speel nie meer in die span van die duiwel nie, maar in die span van God. Deur jou te laat doop wys jy vir almal dat jy daai grens tussen die duiwel en Jesus se groep oorgesteek het. Daarom het die vroeë Christene altyd gesê: “Jesus is die Here” as hulle gedoop is. Hulle dien nou vir Jesus en nie meer die duiwel nie. In Kolossense 2:12 word die beeld dan ook gebruik van iemand wat begrawe is en toe weer opgewek is as ʼn nuwe mens. Wel, as jy begrawe word, is jy weg. Daardie ou mens bestaan nie meer nie. Maar in Christus staan ʼn nuwe mens op. Nou is daar ʼn nuwe mens in sy plek, daarvoor sorg Jesus. Dit is asof jy dus in ʼn nuwe wêreld saam met God instap. Die doop is die teken dat dit in jou lewe gebeur het.

Maar wat nou van kinders? Moet hulle ook gedoop word? Wel, die argument loop so: as ʼn hele familie aan God behoort en God gee vir hulle ʼn kind, sal God die kind uit die familie gooi sodat hy of sy iewers anders grootword? Sal God so kind eers toelaat in die gesin as die kind Hom dien? Hoe en waar moet die kind leer om dit te doen? Nee, God vat nie die kind uit die gesin en gooi hom daar eenkant onder ʼn bos, weg van sy familie af om daar op sy eie groot te word nie. Nee, God aanvaar hom of haar binne sy familie en verwag dan van die ouers en die geestelike familie van die kind om die kind so groot te maak dat hy of sy uiteindelik niks of niemand anders sal wil dien as net God nie. Daarvan is die doop ʼn teken. So steek God sy hand uit na kinders van gelowige ouers. Die ouers lê daarom die belofte af om hulle kind so groot te maak dat die kind die Here sal wil dien

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Die einde of dalk nie? (die dood)

Die einde of dalk nie? (die dood)

Die dood ken ons almal. Dit is omtrent al waarvan jy heeltemal seker kan wees… dat die dood iewers in die toekoms vir jou wag.

In die Ou Testament is die dood as ʼn soort eindpunt gesien. As jy dood is, is alles eintlik verby. God is ʼn God van lewe en as jy dus eers in die doderyk is, is jy weg van God af. Party het selfs gesê dat dit die duiwel se geheime wapen is, juis omdat hulle gedink het dat mense wat dood is van God afgesny is.

Maar Jesus het dinge kom omkeer. Hy het die dood oorwin, wat beteken dat die dood nie meer mense vir altyd van God af kan weghou nie. Die dood is soos ʼn tronk. Mense word daarin toegesluit. Maar Jesus het die sleutels en kan daarom die deure van die tronk (dood) oopsluit soos Hy wil en sy mense uit die tronk (dood) laat uitstap (Openbaring 1:18). Nou het die duiwel nie meer ʼn manier om mense van God af weg te hou nie. Daarom sê die Bybel dat Jesus die dood oorwin het en die ewige lewe vir mense gee (Johannes 3:16).

Ja-nee, Jesus het gewys dat Hy nie net praat nie. Toe Hy self uit die dood opgestaan het – met ander woorde die deure van die tronk oopgebreek het – het Hy gewys dat Hy sterker as die dood is. Die dood hou vir gelowiges geen gevaar meer in nie, juis omdat die krag wat Jesus het, groter as die krag van die “tronkdeure” is.

Daar word ook in Openbaring van die eerste en tweede dood gepraat. Die eerste dood is as ʼn mens fisies doodgaan – dit kan met ons almal gebeur. Die tweede dood is as jy met die finale oordeel voor God dit nie maak nie, ja, as jy nie die ewige lewe by God kry nie (Openbaring 20:14). Dan is jy vir ewig van God geskei, en dit is nie iets wat enigeen seker graag sal wil ervaar nie. Dit is die tweede dood.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Die gesalfde van die Here (Christus of Messias)

Die gesalfde van die Here (Christus of Messias)

Ons almal weet van wie ons praat as ons sê: Jesus Christus. Christus is vir ons deel van Jesus se naam, maar eintlik is dit meer as dit.

Christus is die Griekse woord vir Messias, wat weer die Hebreeuse woord is vir “Gesalfde”. In die Bybelse tyd is mense wat belangrike take moes uitvoer met olie “gesalf”. Dit was dan die teken dat God hulle aangewys het om die belangrike ding te doen. So is profete en konings gesalf. Dit was byna soos as jy jou matrieksertifikaat kry. Jy is nou reg om die werkmark aan te pak. So was salwing die teken dat die persoon nou moes begin met sy spesiale taak. Om dus te sê: Jesus Christus, is dieselfde as om te sê: Jesus die Gesalfde.

Maar wat was sy spesiale taak? Hy moet as Koning die heerskappy van God in die wêreld kom aankondig en vestig. Messias beteken dus God se goddelike gesant wat sy mense moet kom red.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy