Die bende van die duiwel (Bose Geeste)

Die bende van die duiwel (Bose Geeste)

Is daar bose geeste? Die Bybel sê daar is magte en invloede en gebeure wat nie goed is nie, om dit nou maar sagkens te stel. Om die waarheid te sê, dit is boos en dit beïnvloed ons almal.

Om dit te verduidelik gebruik die Bybel ʼn beeld van ʼn koning of prins wat oor ʼn koninkryk regeer. Hy het sommer baie name. In Johannes (12:30-31) word die leier of duiwel byvoorbeeld die “prins/leier van hierdie wêreld” genoem en op ander plekke die slang van ouds, die draak of ook sommer Satan (Openbaring 12:9).

Om jou te kan voorstel hoe die Satan en sy magte werk, moet jy dink aan ʼn leier wat in ʼn koninkryk regeer. Die leier het baie helpers/diensknegte, die demone en bose geeste, wat hom op verskillende maniere in sy koninkryk moet dien, help en bystaan. So is die duiwel die leier van groot groepe demone, bose geeste en so aan. Elkeen van hierdie demone of geeste het sy eie werk en dit is beslis nie om goed te doen of soet te wees nie. So lees ons soms in die Bybel van bose geeste, ander kere van demone of van die duiwel self. Bose geeste is dus die anti-goddelike magte wat God se saak in die wêreld probeer verongeluk. En een van die hoof slagvelde tussen God en Satan is tussen en in mense. Daar word om mense se lojaliteit en siele geveg.

In die lig moet ons ook die opmerkings in die Bybel sien dat Jesus oorwin het. Dit was twee magte wat mekaar die stryd aangesê het en die Here Jesus het gewen. Nou is daar nog so bietjie weerstand van die duiwel se kant, maar hy het klaar verloor.

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Bloed van Jesus

Bloed van Jesus

Bloed is vir die meeste van ons maar grillerig. Daarom wonder party van ons waarom Jesus dan sy bloed moes gee vir ons sondes. Wel, om dit te verstaan moet ons kyk wat die Bybel presies daarmee bedoel.

Die lewe is in die bloed, het die Bybelse mense gesê, want as iemand baie bloei, gaan die persoon dood… sy lewe loop uit hom uit, om dit nou maar so te stel. Bloed en lewe is sye van dieselfde munt.

ʼn Tweede ding om te weet: mense het destyds ooreenkomste gemaak (verbonde gesluit). So ʼn ooreenkoms het presies beskryf wat elke party in die ooreenkoms moes doen. As God ʼn ooreenkoms met sy volk maak, sê Hy dat Hy vir hulle ʼn God sal wees, maar dan moet hulle vir Hom ʼn volk wees. Hy gee vir hulle sy Tien Gebooie (sy Verbondswet) sodat hulle presies weet hoe om die ooreenkoms na te kom. MAAR, wat as hulle nie luister nie, of die ooreenkoms breek? Wel, dan moet hulle gestraf word, lui die ooreenkoms. (Dit is nie so vreemde gedagte nie, want as ons vandag nog ʼn ooreenkoms maak, staan daar gewoonlik in die ooreenkoms wat gebeur as ons nie ons deel nakom nie. Dan word ons gestraf met ʼn boete of so iets. Dit is hoe ooreenkomste werk). In die ooreenkoms tussen God en sy volk is die strafklousule dat as die volk hulle rug op God draai, het God die reg om hulle dood te maak. Hulle bloed mag maar vloei, om dit so te stel.

Die derde ding om te weet is dat God wel iets soos “in die plek van” ken en toelaat. Diere se bloed/lewe het byvoorbeeld “in die plek van” mense gevloei. So is die bepalings van die ooreenkoms op ʼn manier nagekom. Nie mense het hulle lewens verloor nie, maar diere is in hulle plek geoffer.

Wel, ons leef natuurlik nie altyd soos God wil nie en daarom moes die dood ook maar vir ons wag. En dit is waar Jesus se bloed inkom: aan die kruis het daar bloed gevloei… ja, die lewe het uit Jesus verdwyn; daar was dood. Dit gebeur in ons plek. Jesus gee dus sy lewe om so die bepalings van die ooreenkoms na te kom. Daarom kan ons leef.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




God se mense en waar hulle bymekaar kom (die Kerk)

God se mense en waar hulle bymekaar kom (die Kerk)

Die woord “kerk” word gebruik vir die mense van God asook vir die geboue waar hulle bymekaar kom.

Die woord gaan terug op ʼn Griekse woord wat “vergadering” of “byeenkoms” beteken. Daar waar mense dus vergader, of dit net twee of drie is, om God te dien, is die kerk. Aanvanklik het Christene sommer in huise bymekaar gekom, maar deur die eeue het die kerke al hoe groter geword. Soos die kerkgeboue groter geword het, het die kerklike strukture ook groter geword. Die “kerk” het ʼn magtige instansie geword, veral in Europa. Deesdae is dit nie meer so in Europa nie. Die kerk groei nou die sterkste in dele soos Suid-Amerika, Afrika en Asië.

Tog is en bly die hart van die kerk mense wat bymekaar kom om God te dien. Hulle organiseer hulleself dikwels op ʼn ordelike manier met leiers soos ouderlinge en diakens. Die kerk as instansie verwag dan ook dat almal wat aan die kerk behoort by die kerk betrokke sal wees. Jongmense moet leer wat God wil hê hulle moet weet, lidmate moet mekaar en ander help en hulle moet sorg dat hulle goeie boodskap by ander uitkom. Die lidmate moet soos ʼn groot familie wees, daarom noem hulle mekaar ook “broers” en “susters”. ʼn Ander naam vir die kerk is die liggaam van Jesus (1 Korintiërs 12). Met ander woorde, daar waar Jesus is, is die kerk ook. Dit beteken dat die kerk die plek in die wêreld is waar Jesus teenwoordig is. Tog is dit ook so dat nie almal wat aan die kerk behoort noodwendig Christene is nie. Daar mag mense daar sit wat nie die Here van die kerk ken nie. Die kerk moet dus gedurig seker maak dat hulle regtig die Here se liggaam op aarde is en bly.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




God in ons en ons in Hom (Inwoning van God)

God in ons en ons in Hom (Inwoning van God)

Daar word op plekke in die Bybel gesê dat God in ons is en ons in God (1 Johannes 4:7-21).

Dit beteken nie dat mense gode word of dat God die hemel los en in mense kom bly nie. Nee, die beskrywing wil vertel hoe naby God aan die mens kom en omgekeerd. Dit is dus nie soos een persoon wat in ʼn ander klim nie. Dit is eerder die invloed van God wat die mens so vol maak dat die mens soos God begin liefhê, soos God begin optree, ja, God se boodskap van waarheid versprei deur Jesus te bely. As die mens dus so optree en praat soos God wil hê, sê Johannes, is God in daardie mens en daardie mens in God. Dit is byna soos om te sê: Die pa is in sy kind as die kind soos die pa praat en optree. Dit beteken nie die pa is fisies in die kind nie, maar sy karakter en optrede kan ʼn mens in die kind sien. Die Here wil hê ons moet so naby Hom leef en sy wil moet so deel van ons lewens wees dat sy karakter uitkom in alles wat ons doen.

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy