Tiendes

Tiendes

Baie mense dink die kerk wil net geld hê en in kerktaal noem mense dit hulle “tiendes”. Hoekom moet ʼn mens dit doen?

Aan die begin van die Ou Testament, toe die mense nog nie Bybels gehad het om hulle van God te vertel nie, het hulle een ding besef: hulle koring groei nie vanself nie, en die lammers val nie sommer uit die lug nie. Daar moet ʼn God wees wat agter dit alles staan. Op ʼn manier wou hulle vir Hom dankie sê. Hulle het toe as gesin bymekaar gekom, ʼn deel van die koring gevat en dit “geoffer”. Dit het beteken dat hulle eintlik uit dankbaarheid saam met God “fees” gehou het. Hulle het dan dele verbrand (wat vir God sou wees) en dele self geëet. Later, toe daar heilige plekke (offerplekke met priesters) kom, is hulle na die heilige plekke toe, want hulle het geweet God is definitief daar. Die priesters wat daar gewerk het, wou ook deelneem aan hulle feeste en so was dit toe ook. Maar jy kon nie priesters afskeep nie, want hulle werk mos vir God. Netnou word die idee geskep dat jy God afskeep, en dit wil ʼn mens nie doen nie. Daarom het hulle besluit dat jy ʼn tiende van jou oes of lammers vir die priester en God sal gee. (Dis maklik om te tel. Jy pak hopies en dan meet jy dit met jou tien vingers af en gee een van die dele vir die priester). So gesê, so gedoen. Die priesters het toe te gulsig geraak en die gee van tiendes ʼn wet gemaak. Dit het nie meer oor dankbaarheid teenoor God gegaan nie, maar oor die koring en lammers wat hulle moes kry.

Toe Jesus gekom het, het Hy weer dinge balans kom gee. Hy het kom beklemtoon dat die gee van “tiendes” nie ʼn reël is nie, maar dat dit ʼn gesindheidsaak is; ʼn saak van liefde en dankbaarheid teenoor die Here. Paulus vertel dat om vir die Here te gee nooit ʼn plig of ʼn wet mag wees nie. Dit moet uit jou hart uit kom. Eintlik moet jy so graag vir die Here iets wil gee, dat jy alles vir Hom sal gee as Hy jou vra. As daar dus iemand is wat iets van jou nodig het, al sou dit meer as ʼn tiende wees, moet jy help. Daar mag ook ʼn situasie kom waar niemand op daardie oomblik iets nodig het nie, dan gee jy minder as ʼn tiende.

Die belangrike is: gee omdat jy die Here liefhet; omdat jy graag van die goedheid wat Hy oor jou uitstort vir hom wil teruggee. Bowenal: gee jou hart, jou gesindheid vir Hom

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Skepping: God het alles gemaak

Skepping: God het alles gemaak

Mense wonder waar alles vandaan kom, want dit moes iewers begin het. Wel, daar is ʼn God wat alles gemaak het. Al sou ʼn mens in die “Big Bang” glo, of dat die aarde oor miljoene jare ontwikkel het, die feit bly steeds, God staan agter alles. Hy is die oorsaak van dit wat ons rondom ons sien.

Ons mag God nooit met die skepping verwar nie. Daar is godsdienste wat sê dat god in alles is en alles in god. Dit sou beteken dat God in bome of plante is en eintlik die bome en plante is. Dit sou selfs beteken dat sonde en onvolmaakte dinge in God is, want alles is in Hom en Hy in alles. Die Bybel praat anders. God is soos ʼn pottebakker wat ʼn kleipot maak. Die pottebakker word nooit die pot nie, en die pot nooit die pottebakker nie. Sy vingermerke lê tog in die pot wat Hy gemaak het, soos God se voetspore ook deur die skepping loop. Sit maar bietjie langs ʼn pragtige strand of op ʼn mooi berg en jy sal God se voetspore ontdek. Maar dit maak nie die natuur of die voetspore God self nie. Nee, God is groter, magtiger en baie anders as ons en die skepping wat Hy gemaak het. Ons is die klei, Hy is die pottebakker. Dit moet ons nooit vergeet nie.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Siel, gees en liggaam

Siel, gees en liggaam

Hoewel nie al die Bybelskrywers dit doen nie, praat Paulus plek-plek van die mens as “siel, gees en liggaam” (1 Tessalonisense 5:23).

As Paulus so praat bedoel hy nie dat dit die enigste manier is waarop daar oor ʼn mens gepraat word nie. Hy probeer eerder name gee vir drie dinge wat eie is aan die mens:

  • Die liggaam ken ons almal – dit is die deel van jou waaraan jy kan vat.
  • Maar ʼn mens kan ook dink en voel en daaraan kan jy nie vat nie. Jy weet dit is daar, maar dit is onsigbaar. Hierdie vermoë om te “lewe”, te dink, te ervaar, te voel, noem Paulus jou siel en partymaal, as hy nie die Griekse woord vir siel gebruik nie, gebruik hy sommer die woord vir gees. Dit is jou onsigbare deel.
  • Maar ʼn mens is nie ʼn dier nie. Die mens het ook die vermoë om met God te kan praat, om Hom te leer ken en op die geestelike dinge te fokus. Dit is miskien hoekom siel en gees soms langs mekaar genoem word. Om “geestelik” te wees mag meer op jou verhouding met God dui, terwyl siel wil sê dat jy kan dink, redeneer, of voel. In alle geval, woorde is nie so belangrik nie; net solank ons weet waaroor dit gaan.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Ons saak met die Here is weer reg (Regverdigmaking)

Ons saak met die Here is weer reg (Regverdigmaking)

Regverdigmaking, ʼn woord waarvoor Paulus nogal lief is, klink na ʼn moeilike woord, maar dit is eintlik nie so erg nie. Dit is ʼn woord wat destyds in die hof gebruik is. As jy iets verkeerd gedoen het, moes alles is in die hof uitgesorteer word. As jy vrygespreek word en jy stap uit sonder verdere skuld, dan word daar gesê jy is “regverdig”. Met ander woorde, alles is nou weer reg. Die verkeerde dinge is vergete.

Paulus sê ons verskyn voor God, as Regter, met al ons sonde. Jesus tree soos ʼn uitstekende advokaat vir ons in en reël dat ons skulde betaal en ons sondes vergewe word. God verklaar dan dat Hy nie meer ontevrede is nie. Alles is nou weer reg. So “regverdig” Hy ons. Ons is dan regverdiges (mense wat vrygespreek is en vir wie alles nou weer reg is).

As ons dus van “regverdigmaking” in die Bybel lees, lees ons van hierdie proses: God wat ons regverdig verklaar op grond van wat Jesus vir ons gedoen het, sodat ons weer “reg” is voor Hom.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy