Ons saak met die Here is weer reg (Regverdigmaking)

Ons saak met die Here is weer reg (Regverdigmaking)

Regverdigmaking, ʼn woord waarvoor Paulus nogal lief is, klink na ʼn moeilike woord, maar dit is eintlik nie so erg nie. Dit is ʼn woord wat destyds in die hof gebruik is. As jy iets verkeerd gedoen het, moes alles is in die hof uitgesorteer word. As jy vrygespreek word en jy stap uit sonder verdere skuld, dan word daar gesê jy is “regverdig”. Met ander woorde, alles is nou weer reg. Die verkeerde dinge is vergete.

Paulus sê ons verskyn voor God, as Regter, met al ons sonde. Jesus tree soos ʼn uitstekende advokaat vir ons in en reël dat ons skulde betaal en ons sondes vergewe word. God verklaar dan dat Hy nie meer ontevrede is nie. Alles is nou weer reg. So “regverdig” Hy ons. Ons is dan regverdiges (mense wat vrygespreek is en vir wie alles nou weer reg is).

As ons dus van “regverdigmaking” in die Bybel lees, lees ons van hierdie proses: God wat ons regverdig verklaar op grond van wat Jesus vir ons gedoen het, sodat ons weer “reg” is voor Hom.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Jesus is aan die regterhand van God

Jesus is aan die regterhand van God

Ons lees in die Bybel dat Jesus aan die “regterhand van God” sit. Party “slimmes onder ons” vra dan soms spottenderwyse waar Jesus dan sit, want die aarde is rond en die ruimte is groot.

Wel, die slimmes is nie slim genoeg nie. Hierdie is ʼn beeld wat gebruik word om vir ons te vertel hoe belangrik Jesus regtig is. In die ou tyd was dit as ʼn tipe gestremdheid gesien om links te wees. Jy moes regs wees, want jy moes regs kon veg. Daarom was die regterkant altyd as die kant van krag gesien. As ʼn koning dus op sy troon sit, het die sterkste en invloedrykste man altyd aan sy regterkant gesit. Dit was die ereplek.

As die Bybel dus sê Jesus sit aan die regterhand van God, beteken dit dat Jesus die invloedrykste, beste posisie het as dit by God kom. Hy is die een wat dinge kan laat gebeur en oor die bose heers. In Openbaring, die laaste boek in die Bybel, deel die Vader en die Seun feitlik dieselfde troon, om so vir ons te sê dat Jesus goddelik is. Daarom kan ons bely dat Jesus God en mens is.

Jy hoef dus nie iewers in die heelal na Jesus te gaan soek nie. Jy kan sommer hier by jou kyk waar die Satan jou probeer aanval. As jou hand stewig in die hand van Jesus is, sal jy Hom sommer hier en nou as oorwinnaar oor Satan ervaar…

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




God se gesondheidsplan (Sonde en sondebelydenis)

God se gesondheidsplan (Sonde en sondebelydenis)

Niemand van ons is perfek nie. Ons het almal ons foute en maak God soms maar ongelukkig. Maar die Here ken ons darem ook en weet ons maak foute. Dit is daarom dat Hy ʼn gesondheidsplan vir ons uitgewerk het.

Ons moet weet dat as ons God se kinders is, ons nie ophou om sy kinders te wees as ons foute maak nie. Ons bly sy kinders, al is ons soms maar net sy stout kinders. God wil egter nie hê dat ons stout moet bly nie. Nee, Hy wil hê dat ons verhouding met Hom sterk en mooi moet wees. Daarom vra Hy dat as ons iets verkeerd doen, ons dit nie moet los nie. Dan word dit soos ʼn bakterie wat in ʼn vrug is. As jy dit los maak dit vinnig die hele vrug vrot. Nee, jy moet so gou as moontlik van daai fout voor die Here ontslae kom raak. Jy moet dit met Hom kom uitpraat. Hy wag vir jou om dit te doen. Op die manier kan jy geestelik gesond bly, want as die “sonde bakterieë” nie kans kry om in jou te groei nie, sal jy ook nie geestelik siek word nie. Bely dus ʼn sonde so gou as moontlik. Dit sal jou gesond hou.

 

Maar wat beteken dit om sonde te bely? Dit behels drie dinge (lees ook 1 Johannes 1:8-10):

  • Jy moet erken dat jy ʼn fout gemaak het. Sondebelydenis is dus baie spesifiek. Jy bely nie maar net so in die algemeen nie. Jy wys die “sonde-bakterie” in jou lewe uit, want dit is spesifiek daarvan dat jy ontslae moet raak. As dit oneerlikheid is, dan wys jy dit uit; as dit humeurigheid is, of skinder, of vloek of wat ook al, jy wys dit uit en erken dat jy daar gefouteer het. Sondebelydenis is dus baie spesifiek.
  • Die tweede ding is dat jy in jou hart en verstand daarvan ontslae moet raak. Dit is baie keer die moeilikste, want jy moet vir die ding wat jy verkeerd doen totsiens sê, vir altyd. Jy moet vir die Here sê jy wil dit nooit weer doen nie en vir Hom vra om jou daarmee te help. Jy moet dus finaal daarvan afskeid neem.
  • Die derde ding is om net weer vir die Here te sê dat jy Hom en Hom alleen graag wil dien. Jy soek nie iemand anders om te dien nie, nie eers jouself nie. Daarom wil jy aan Hom gehoorsaam wees. Wy jouself so aan die Here toe en vra Hom om elke dag, nee, elke tree saam met jou te wees. En as die sonde jou weer bekruip, hou Jesus se hand styf vas en daai sonde sal nie ʼn kans hê nie.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Waarom leef ek? (die sin van die lewe)

Waarom leef ek? (die sin van die lewe)

Waarom leef ons? Vir wat? Prediker sê dat al die dinge waarmee ons onsself so besig hou, ja, die soek na eer, geld, plesier en wat nog alles, maar net ʼn gejaag na wind is.

As jy dink jy het dit gevang en jy maak jou hand oop, is daar niks in nie. Die dinge is alles verganklik. Dit hou nie. Jy dink dat as jy hoofseun kan word of miskien baie geld kan hê, gaan jy gelukkig wees, maar dit is ʼn gejaag na wind. As jy die een ding het, wil jy alweer die ander ook hê. Geluk lê nie in aardse dinge nie, want dit is te veranderlik en te verganklik. Boonop is die lewe ook nie regverdig nie. Al is jy die beste Christen, dinge gaan tog maar verkeerd loop. Daar is ʼn tyd vir alles, vir die goeie en die slegte (Prediker 3). Jesus het self nogal oor die sin van die lewe gepraat toe Hy gevra het: wat help dit jou dat jy alles in die lewe bereik, maar as jy in die hemel kom, het jy niks nie? (Matteus 16:24-26).

Jy moet liewer vir jou rykdom bymekaar maak in die hemel by God, want dit is permanent. Dit vergaan nie. Dit is moeilik om jou kop so te verander dat jy soos die Bybel dink. Dit beteken dat dit waaroor almal om jou so mal is, soos geld, modes, “in wees” en so aan, vir jou nie so belangrik moet wees nie, want dit hou nie. Dit is nie permanent nie. Nee, jy moet soos God leer dink. Jy moet die dinge wat vir God belangrik is probeer doen. Om goed te doen vir ander, om ʼn verskil rondom jou te maak deur lief te hê, deur ander te help… moet vir jou belangrik word. Dit is dinge wat nou niks sigbare voordeel vir jou bring nie, maar wat jou bankrekening in die hemel laat oorloop. En daardie bankrekening sal nooit tot niet gaan nie.

Die Bybelse boodskap moedig jou aan om die sin van jou lewe nie in tydelike dinge wat net ʼn rukkie hou, te soek nie. Nee, soek dinge wat regtig iets werd is en vir altyd gaan hou. Die dinge is God se dinge. Soek eers sy Koninkryk; ja, vind Hom eers in jou lewe… dan sal jy uitvind wat jou lewe regtig die moeite werd kan maak.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy