Amos(20) – Francois Malan

Amos 9 vers 5-6

9:5 Verse 5-6 is ’n lofprysing van die HERE wat verse 1- 4 se Alomteenwoordigheid van die HERE beklemtoon.

‘En my Heer, die HERE van die leërskare, raak die aarde aan en dit wankel (2020: sidder),
en almal wat daarop woon, sal treur. Dit sal in geheel opstyg soos die Nyl en sak soos die rivier van Egipte.

In vers 1 gaan die aarde se Heer die Bet-El-tempel en al die aanbidders met ’n aardbewing ombring, soos afgelei kan
word van die kosyne wat wankel en die dak wat instort. Hier word die aardbewing beskryf met die magtige Nyl wat
styg om sy walle te oorstroom, en dan weer sak. So lig die aarde op en val weer soos met ’n aardbewing. Hier tref die
aardbewing nie net vir Bet-El nie, maar die aarde, die hele Israel. Dit is beelde vir die totale uitwissing van Israel wat in
9:1-4 uitgespel is.

Wanneer my Heer slegs aan die aarde raak, skud die aarde so geweldig, dat die mense verskrik rondhardloop en treur as
hulle alles sien intuimel, dat die magtige aardbewing al hulle besittings vernietig. So sal die Assiriërs hulle land stroop
(2 Kon 17:20,23). Amos besing die grootheid van sy Heer se mag ook oor die natuurkragte. Hy kan die natuurkragte
aanwend soos Hy wil. In vers 4 het die Heer wat oor die hele aarde regeer, reeds oor Israel gesê: ‘Ek sal my oog op
hulle hou, ten kwade en nie ten goede nie.’

9:6 ‘Hy wat sy trappe/opgange in die hemel bou (LXX sy opgang; van Gelderen: oppersale; 2020: bokamer)
en sy hemelgewelf op die aarde vestig, wat die water van die see roep en dit op die gesig (2020: oppervlakte)
van die aarde uitgiet, HERE is sy Naam.

Wat die HERE in die hemel bou is nie duidelik uit die Hebreeuse woord wat hier gebruik word nie. Die woord word
ook gebruik as opskrif vir Ps 120-134 se ‘pelgrims’-liedere wat hulle op die trappe van die tempel gesing het. Hier is
dit moontlik oppersale in die hemel waarop die hemelgewelf rus. Die hemelgewelf wat Hy op die aarde gevestig het is
‘n beeld van die heelal wat die HERE geskep het en daagliks bestuur. Die antieke beeld van die heelal het gedink aan ’n
plat aarde met drie hemele: die boog van die wolkehemel wat oor die aarde gespan is, die gewelf as die sterrehemel bo
die boog van die wolkehemel, en die hoogste hemel waar God woon, bokant die sterrehemel (vgl. 2 Kor 12:2 vir die
derde hemel). Hierdie vers besing die lof van die HERE as die Skepper van hemel en aarde (Gen 1:1).

Vers 6b kom baie ooreen met 5:8b oor die HERE wat die heelal daagliks onderhou ook met reën maar ook die
natuurkragte kan gebruik om verwoesting te saai (9:5,8). Soos Hy destyds die sondvloed gebruik het om die
goddeloosheid van die mense uit te wis, kan Hy Israel ook uitwis. Dit is voor Hom wat Israel rekenskap moet gee
(4:12).

Die groep Godsprake in 9:7-10 is ’n onderbreking tussen die vyfde visioen met sy lofprysing aan die einde (1-6), en
11-15 se visioene van herstel.

Amos 9 vers 7-8

9:7 ‘Kinders van Israel! Is julle vir My dan nie soos die kinders van die Kussiete nie?’ is die Godspraak van die
HERE. Het Ek dan nie vir Israel gebring uit die land van Egipte, en die Filistyne uit Kaftor, en die
Arameërs uit Kir nie?’

LXX het ‘Ethiopiërs’ vir ‘Kussiete;’ ‘Kappadosië’ vir ‘Kaftor;’ en ‘Siriërs uit die diepte’ vir ‘Arameërs uit Kir.’

Ná die HERE se openbaring in die natuur (9:5-6) kom Amos by die HERE se openbaring in die geskiedenis. Hy beheer
ook die geskiedenis van volke. As Israel hulle losmaak van die HERE, wat maak hulle dan anders as die ander volke?
Hulle wil mos graag soos die ander volke wees, waar elke volk sy eie koning en sy eie God het (1 Sam 8:7). Daarmee
het hulle hulle roem tot niet gemaak, om die voorste nasie te wees omdat hulle die uitverkore volk van die HERE was
(6:1). Hulle word hier deur die HERE gelykgestel met die mees suidelike volk wat hulle ken, die Kussiete, suid van
Egipte, op wie hulle neergesien het – Num 12:1: Mirjam en Aäron spreek Moses aan oor sy Kussitiese vrou; Jeremia
13:23 verwys na die Kussiete se donker vel; Jer. 38:7-13 vertel van die Kussitiese slaaf Ebed-Melek (‘slaaf van die
koning’) wat vir Jeremia uit die put opgetrek het. Israel het vir die HERE soos hulle slawe uit Kus geword.

Israel se uniekheid verdwyn in die niet langs die HERE se geskiedenis met hulle bure wat Hy ook gelei het en rondom
Israel gevestig het. Israel se suidelike bure, die Filistyne, kom uit Kaftor in die omgewing van Kreta (In Eseg 25:16
word hulle Kretense genoem, Sef 2:5). Israel se noordelike bure, die Arameërs, het die HERE uit Kir gebring (Amos
1:5). Vanuit die omgewing van Mesopotamië het die HERE hulle in Sirië kom vestig met Damaskus as hulle hoofstad
(volgens 2 Kon 9 het Assirië die Arameërs later weggevoer, terug na Kir).

Die HERE het Israel ‘geken,’ sodat hulle Hom sou ‘ken’ (3:2). Maar omdat hulle die HERE nie waarlik ‘ken’ deur Hom
te vereer en te gehoorsaam, soos Hy hulle gelei en gewaarsku het nie, het hulle die voorreg verbeur om die HERE se
volk te wees.

9:8 ‘Kyk!(gee aandag). Die oë van my Heer, die HERE, is gerig teen (2020: op) die sondige (opstandige)
koninkryk en sê ‘Ek gaan dit uitroei van die aangesig/oppervlakte van die aarde af (Amos 2:9). Nogtans gaan
Ek nie die huis van Jakob heeltemal vernietig nie,’ is die Godspraak van die HERE.’

‘Die sondige koninkryk’ verwys in die eerste plek na die tien stamme van Israel, maar geld ook vir enige sondige
koninkryk, dat die oë van die HERE op hulle gerig is. In die vers beteken dit dat die HERE Israel se sondige opstand
(pesja‘) teen Hom baie goed ken en hulle daarom gaan uitroei (vgl. Deutr 6:15).

Nogtans gaan die HERE nie die huis van Jakob heeltemal vernietig nie. Die huis van Jakob sluit al twaalf die stamme
van Jakob se 12 seuns in. Sy verbond met Jakob sal Hy gestand doen (Gen 28:14 ‘in jou en jou nageslag sal al die volke
van die aarde geseën wees), en Hy sal sorg dat ‘seweduisend nie hulle knie voor Baäl buig nie,’ soos in Elia se tyd, 100
jaar voor Amos (1 Kon 19:18). Dié woord van die HERE aan Elia word deur Paulus aangehaal ten op sigte van die Jode
wat nie vir Jesus Christus verwerp nie (Rom 11:4). Die belofte van God aan Abraham oor alle volke, in Genesis 12:3
word in Jesus Christus vervul (Matt 1:1; 28:19).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Amos(19) – Francois Malan

Die HERE staan by die altaar (Die vyfde gesig: Amos 9:1-4)

9:1 ‘Ek het my Heer by die altaar sien staan en Hy het gesê:
‘slaan die pilaarkop (kapiteel van die pilaar) stukkend dat die drumpels bewe
en breek hulle in stukke oor die koppe van hulle almal, en die res van hulle sal Ek met die swaard doodmaak.
Nie een vlugteling van hulle sal ontvlug nie, en nie een van hulle wat homself probeer red, sal ontsnap nie.

LXX lees ‘versoendeksel’ (kaforêt) vir ‘kapiteel’ (kafetōr); 2020 wysig ‘breek hulle in
stukke’ (betsa’am) tot: ‘maak ’n einde aan hulle’ (bêtsam); en wysig ‘oor die koppe van hulle
almal’ (bero’sj kelām) tot: ‘dié van hulle op die voorpunt van almal;’ en: ‘res’ tot ‘agterhoede.’

Dit is die moeilikste teks in Amos, wat op verskillende maniere probeer vertaal word.

Die kern van die oordeel is die Persoon van die komende Regter wat orals alles sien, en kom om Israel te oordeel.
Die altaar staan waar die gemeente hulle offers na hulle godheid bring. Dit wys hier waarskynlik na die altaar voor die
tempel in Bet-El. Met sy kragtige woord (‘Hy het gesê’ soos in Gen 1:3) van die altaar af, slaan die HERE die versierde
top van die groot pilaar waarop die dak van die tempel rus, dat die drumpels bewe (soos die tempel wat Simson op die
skare heidense Filistyne laat instort het (Rigt 16:19-30), hier egter op die HERE se vervreemde volk. Dit is ’n teken van
die beëindiging van die HERE se gemeenskap met Israel en hulle offers en hulle tempels. Die HERE se woord laat die
volgende geskied: Hy breek die dakbalke in stukke oor die koppe van al die mense wat bymekaar is. Dit lyk na die
beskrywing van ’n aardbewing of ’n stormwind aan wie die HERE die opdrag gee om die hele tempelgebou en die
aarde rondom te skud en die tempel met die mense daarin te vernietig. Dié wat ná die storm nog oorbly, sal die HERE
met die swaard laat doodmaak. Niemand in die hele Israel sal die dood kan ontvlug of ontsnap nie, soos ook blyk uit die
volgende tekste:

9:2 ‘Al sou hulle deurbreek na die doderyk (sje’owl), vandaar sal my hand hulle gryp,
al klim hulle op tot in die hemel, vandaar sal Ek hulle aftrek.
LXX: as hulle in die hel gaan wegkruip sal my hand hulle daaruit uittrek…
2020: Al grawe hulle tot in die doderyk – van daar af sal my hand hulle uithaal…

Niemand sal die alomteenwoordige HERE se wraak kan ontvlug of sy hand kan ontkom nie, soos die volgende vyf
voorbeelde wys: Vyf moontlike plekke wat Israel sou kon oorweeg om van die HERE weg te vlug word genoem:

1 Hulle kan oorweeg om onder die aarde deur te breek tot in die doderyk, in die verwagting dat die doderyk miskien
buite die perke van die HERE se gesag is (vgl. Hosea 23:8 en Luk 23:30 Israel sal vir die berge sê ‘val op ons’ en vir
heuwels ‘bedek ons’). Maar ook in die dood kan ’n mens nie die straf van die HERE ontvlug nie . Spreuke 15:11 sê:
Sheool en Abadon lê oop voor Hom. Met sy kragtige hand sal Hy hulle orals bykom, sy mag strek ook oor die doderyk.

2 Teenoor die diepste plek staan die hoogste, die hemel. As hulle tot daar sou kon klim, soos die mense van Babel
beplan het (Gen 11:4), sal die HERE hulle afbring vir hulle straf. Hy is teenwoordig in die hemel en die doderyk (Ps
139:7-8). In 4:12 het die HERE reeds vir Israel gesê: maak jou klaar om jou God te ontmoet.

9:3 ‘Al versteek hulle hulleself op die top van Karmel – daar sal Ek hulle opspoor en uithaal;
Al kruip hulle vir my oë weg op die bodem van die see – daar sal Ek die slang beveel om hulle te pik.’

Die noord-westelike bergreeks in Israel loop al langs die Middellandse See tot teen die see by Karmelspits, met baie
grotte in die bergreeks en baie bome op Karmel waar hulle deeglik uitgesnuffel sal word (chiffēs). Jona het vir die
HERE probeer wegkruip op die bodem van die see (Jona 1:3,12). Karmelspits is ’n bereikbare hoogte en die see ’n
bereikbare diepte, terwyl die hemel en die onderwêreld nie vir ’n vlugteling bereikbaar is nie. Maar sou Israel vir die
vyandelike leër wat die Heer van die leërskare stuur in die berge by Karmel gaan wegkruip of op die see, selfs tot by die
bodem van die see induik, ook daar sal hulle die Heer nie ontvlug nie.

Die vers onderstreep die Alomteenwoordigheid van die Heer van die skepping, soos Ps 139:7-12. Nêrens in die heelal
kan iets of iemand vir die Skepper verborge wees nie. Hy is orals in sy skepping teenwoordig en vir sy oë kan niemand
wegkruip nie. Hy kan enigeen van sy skepsels opdrag gee om sy besluit uit te voer; wat selfs aan ’n seeslang kan opdrag
gee om iemand dodelik te pik. So het Hy, toe Israel in die woestyn ongeduldig geword het, giftige slange gestuur wat
die mense gepik het, en baie van hulle het gesterf (Num 21:6). So het die HERE ná Amos se tyd die Assiriërs gestuur
om Israel uit te roei en sommige in ballingskap weg te sleep en te gaan verstrooi (2 Kon 18:11).

9:4 ‘Al gaan hulle in ballingskap voor hulle vyande uit, daar sal Ek die swaard beveel en dit sal hulle
ombring, en Ek sal my oog op hulle hou, ten kwade en nie ten goede nie.

Die vyfde plek vanwaar die HERE Israel kan bykom is tydens hulle wegvoering in ballingskap, voor hulle vyand uit as
hulle as buit aangejaag word om in ballingskap as slawe verkoop te word. Selfs daar is hulle nie veilig teen die swaard
van die HERE nie. So sal Hy vers een se dreiging van ’n totale uitwissing van die volk uitvoer.

Die oog van die HERE word op elke mens gehou. Hy hou sy oog veral baie skerp op wie se oortreding vergewe is om
aan hom insig en raad te gee, om die pad wat hy moet loop vir hom te leer (Ps 32:1,8). So was sy oog ten goede op
Israel om hulle te versorg. Maar weens sy uitverkore volk se verwerping van Hom, hou Hy sy oog op hulle ten kwade –
voortaan sal Hy juis hulle gaan haal en straf totdat hulle vergaan en nie langer sy Naam oneer kan aandoen nie (vgl
Hebreërs 10:26-31 ‘…Verskriklik is dit om te val in die hande van die lewende God’).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Amos(18) – Francois Malan

Die vierde uitspraak – ’n honger na die woorde van die HERE (Amos 8:11-13)

8:11 ‘Kyk! daar kom dae,’ is die Godspraak van my Heer, die HERE, ‘dat Ek ’n hongersnood in die land sal loslaat,
nie ’n hongersnood na brood nie en nie ’n dors na water nie, maar om die woorde van die HERE te hoor.’

In vers 10 het die HERE ’n groter straf as al die vorige tugtigings voorspel, en vers 10 het geëindig met die einde vir
Israel, wat soos ’n bitter dag sal wees. In vers 11 belowe die HERE ’n hongersnood en dors wat baie erger gaan wees as
die fisiese hongersnood en dors van die vorige verse. Dit gaan ook oor ’n tydperk geskied, soos die meervoud ‘dae’
aandui en gaan die hele land tref, soos in vers 12 verder uitgespel word. Die HERE stuur ’n diepe honger en dors om die
woorde van die HERE te hoor, ’n groeiende besef van die waarde van sy woord en ’n behoefte daarna in hulle wese.
Maar die HERE gee nie meer vir hulle sy woorde nie. Daarom is daar by Israel ’n aanhoudende gevoel en wete van
godverlatenheid (Ps 106:15 oor Israel se begeerte na vleis in hulle tog deur die woestyn lui letterlik: Hy het vir hulle
gegee wat hulle gevra het , maar het ’n maerte in hulle siel gegee.’

8:12 ‘Hulle sal strompel van see tot see, en van die noorde tot die ooste sal hulle ronddwaal op soek na die woord
van die HERE, maar dit nie vind nie.’
LXX ‘die waters sal geskud word van see tot see, en van noord na oos sal (mense) heen en weer
hardloop op soek na die woord van die Here en hulle sal dit nie vind nie.
‘van see’ mijjam het LXX gelees as ‘waters’ majim

Die beskrywing in vers 12 brei uit op die vierde gesig wat die einde van Israel as volk aangekondig het (8:2).

‘Strompel’ na’wu, beskryf Israel wat ‘hulp sal soek omdat hulle onstandvastig sal strompel.’ Hulle soek van see tot see
soos mense wat uitgeput soek na water en kos (4:8). So sal hulle dors en smag na die woorde van die HERE. Die
suidgrens van Israel was die Dooie See, en aan die westekant het hulle aan die Middellandse See gegrens; noord by
Lebo-Hamat en oos in Gilead verwys na hulle ander twee grense (vgl. 2 Kon 14:25). Hulle sal met ander woorde so
godverlate voel dat hulle deur hulle hele land sal rondsoek na iemand wat die woord van die HERE vir hulle kan
deurgee. Hulle ronddwaal van suid na wes na noord na oos is ’n sirkel wat hulle soeke in sirkels voorstel. Israel wat
hulle van die HERE losgeskeur het, het by hulle begin as die tien stamme onder Jerobeam gesê ‘Dawid is nie deel van
ons nie’ (1 Kon 12:16). Soos Saul, het Israel eiesinnig hulle afgode gedien, en het die HERE hulle as sy volk verwerp,
soos Hy Saul as koning verwerp het (1 Sam 22-23). Hulle sal soos Saul radeloos en benoud word, toe die HERE hom
nie deur drome, die urim, of deur profete geantwoord het nie (1 Samuel 28:6, 15-16).

8:13 ‘Op daardie dag sal die mooi jong meisies flou word van dors en ook die jong manne.’

Toe die HERE sy woord aan Israel onttrek het, het dit ook die watervoorsiening van die land getref. Soos die bevolking
smag na ’n woord van die HERE, word die jongmense flou van die dors. Ook die uitwendige gawes van die HERE,
soos kos en water, droog op, tot so’n mate dat die hele bevolking krepeer. Die mooi en sterk jongmense val flou,
hoeveel te meer die oues. Die geestelike lewe is die basis vir die natuurlike lewe. Die HERE regeer oor die hele lewe.
Alle lewe kom van Hom. Deur Hom leef ons, beweeg ons en bestaan ons (Hand 17:28); in Christus is alles in die hemel
en op die aarde geskep, die sigbare en die onsigbare dinge (Kol 1:16). Ons hemelse V ader sorg vir die voëls en klee die
veldblomme (Matt 6:26,28-30), maar Hy laat ook strome en riviere opdroog (Jes 19:5-7).

Doodsvonnis vir die afgodedienaars (Amos 8 vers 14)

‘Dié wat sweer by die Skuld van Samaria, sê ook ‘so waar as wat jou God leef, Dan,’
en ‘so waar as wat jou Weg leef, Berseba’ (letterlik: dêrêk, weg of lieflikheid, as beskrywing van hulle god),’
hulle (wat so by hulle afgode sweer) sal val en nooit weer opstaan nie.’
LXX het ‘soenoffer van Samaria’ in plaas van die Hebreeuse Skuld van Samaria. 2020 volg LXX se
‘god van Berseba’ in plaas van Berseba se ‘Weg.’

Vir die afgod Baäl van Bet-El verwys Amos na die ‘Skuld van Samaria.’ Die hoofstad Samaria se tempel het in Bet-El
gestaan. Amasia noem dit die koninklike heiligdom, die staatstempel (7:13). Daarom verwys die Skuld van Samaria
waarskynlik na die goue bulkalf in Bet-El. Die bulkultus van Bet-El was die fundamentele sonde van Israel wat hulle
hele lewe laat ontaard het. Israel het gedink hulle kry deur die vrugbaarheidsgebruike van die Baälgodsdiens groter
lewenskrag. Baäl, voorgestel met ’n beeld van ’n bul, was vereer as die god van die lewe. Maar voor die HERE is Israel
se eedswering by hulle afgode hulle skuld wat met die dood gestraf word. Daarom noem Amos vir Baäl met die
skeldnaam die Skuld van Samaria waarby Israel sweer.

Die goue kalf by Dan is reeds deur Jerobeam I daar opgerig om te sorg dat die twee en ‘n halwe stam oos van die
Jordaan nie na Jerusalem toe gaan vir hulle feeste nie (1 Kon 12:29). Die goue kalf in Dan word genoem ‘jou God!’ Die
‘weg’ van Berseba (be’ēr put; sjêba’ eedswering of sewe) kan verwys na pelgrimstogte by Jerusalem verby na Berseba
toe, waar die aartsvaders Abraham en Isak vir tye gewoon het (Gen 21:30-33; 22:19; 26:23,33; 28:10) en Jakob ’n offer
gebring het aan die God van sy pa Isak, voor hy na Josef in Egipte vertrek het (Gen 46:1,5). Israel sweer nou by die
pelgrimstog na die plek van eedswering, of by ’n god wat daar vereer word.

Elkeen van hulle gode is lokaal gevestig. Met hulle rondgeslinger deur die land het hulle telkens by ’n ander god se
terrein gekom en dan by daardie god gesweer. Bet-El is die sentrale heiligdom waarby hulle orals in die land kon sweer.
Deurdat Israel sweer by die lewe van ander gode, het hulle ontrou aan die HERE geword, hulle van Hom en sy riglyne
vir die lewe afgeskei. Hulle sal val en nie weer opstaan nie. Dit is die boodskap van die lyksang. Die HERE verwerp
Israel finaal as sy volk.

Die vierde gesig van Amos het begin met die woord van die HERE dat Hy Israel nie meer gaan spaar nie, maar dat daar
oral lyke en rou sal wees (8:2-3). Dit word afgesluit met die HERE se woord oor die einde van Israel se volksbestaan.
Hulle val sonder opstaan onderstreep die finaliteit van die oordeel van die HERE. Tussenin word verwys na rou (8:8) en
treursange (8:9-10). Die HERE se oordeelswoord is baie erger as die reeks rampe wat Hy as waarskuwings gestuur het.

Jesus het Israel se ongehoorsaamheid aan die woord van die HERE, soos byvoorbeeld hulle kullery met die armes se
koring (8:4-6) kom omkeer. Sy voedsel is juis om die wil te doen van sy Vader wat Hom gestuur het om God se werk te
voltooi (Joh 4:34). Israel se vertrapping van die armes en die volk se dors na die woord van die HERE kom Jesus
verander. Hy misbruik nie sy mag om van klippe brood vir Homself te maak nie, want die mens leef nie net van brood
nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom (Matt 4:4). Hy maak ’n nuwe soort lewe oop van nederige
diens aan ander en om sy lewe te gee as losprys vir baie (Mark 10:45). So berei Hy die weg voor vir dié wat in Hom
glo, om in gehoorsaamheid aan God en sy woord die ewige koninkryk van God te beërf (Matt 25:34; Hand 16:31).

Skrywer: Prof Francois Malan




Herhaling van woorde in die Bybel, bv Voorwaar, Voorwaar – Hermie van Zyl

Philna vra:

Wat is die betekenis van die herhaling?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Verdubbeling en herhaling van woorde en begrippe kom baie in literatuur voor en het ’n retoriese effek, wat telkens kontekstueel vasgestel moet word. Byvoorbeeld (om net by die Bybel te bly), in Genesis 1:27 word die woord “geskep” drie keer herhaal om te beklemtoon dat net God die vermoë het om uit niks, iets te skep, en dat die mens geskep is om God se beeld te verteenwoordig. In Jesaja 36:4-9 word die woord “vertrou(e)” telkens herhaal om aan Hiskia die boodskap tuis te bring dat hy slegs op die Here moet vertrou. En, om nie meer voorbeelde te noem nie, in Lukas 10:41 spreek Jesus vir Marta aan as “Marta, Marta”, waardeur Hy kennelik Marta se aandag daarop wou vestig dat sy nie so bedrywig moet wees met die goeie dat sy die beste nalaat nie, naamlik om Jesus se dissipel te wees.

In die onderstaande uiteensetting fokus ek egter net op die voorbeeld wat ons vraagsteller noem, naamlik die herhaling van “voorwaar”.

Die Griekse woord wat “voorwaar” onderlê, is “amen”. Op sy beurt is dit ’n oorname van die Hebreeuse woord “amen” vanuit die Ou Testament, wat “sekerlik” of “dit is so” beteken. In die Afrikaanse Bybels word “amen” op verskillende maniere vertaal. In die 1933/53 Vertaling is dit “voorwaar”, in die 1983-Vertaling is dit “Dit verseker ek julle”, in die Nuwe Lewende Vertaling (2011) is dit “Ek verseker julle”, in Die Boodskap is dit “Julle moet nou mooi luister”, en in die Afrikaanse Standaardvertaling (2014) asook die onlangse Direkte Vertaling (2020) word dit onvertaald gelaat: “Amen”. Laasgenoemde Vertaling het ’n verduidelikende voetnoot by wat lui: “ ’n baie sterk bevestiging van sekerheid”. (’n Enkele keer in die Afrikaanse Standaardvertaling word “amen” met “Waarlik, Ek sê vir julle” vertaal.)

“Amen” word in verskillende kontekste in die Bybel aangewend: om instemming te betuig (Num 5:22), om ’n seënwens of lofuitspraak te bevestig (Ps 41:14), om ’n gebed mee af te sluit (1 Kor 14:16), en om die beloftes van God te bevestig of toe te eien (2 Kor 1:20). In die Evangelies kom dit baie voor in uitsprake van Jesus om te bevestig of te verseker dat iets vasstaan (bv Matt 5:18). Dit word so baie deur Jesus gebruik dat geleerdes dit as tiperend van die aardse Jesus se optrede aanmerk.

Die interessante verskynsel is verder dat in die eerste drie Evangelies waar “amen” voorkom in Jesus se uitsprake, dit met slegs één “amen” ingelui word, maar in die Johannesevangelie word dit konsekwent met ’n dúbbele “amen” gedoen, byvoorbeeld Johannes 1:51 (en nog in vier en twintig ander gevalle in Johannes). Nie al die Vertalings bring egter die onderskeid tussen die enkel en dubbele amen na vore nie. In die 1983-Vertaling word beide die enkel en dubbele “amen” met “Dit verseker ek julle” vertaal, en in die Nuwe Lewende Vertaling met “Ek verseker julle”, maar in die 1933/53-Vertaling respektiewelik met ’n enkel en dubbele “voorwaar”, en in die Afrikaanse Standaardvertaling asook die 2020-Vertaling met ’n enkel en dubbele “amen”. Dit het daarmee te doen dat die 1933/53-Vertaling, die Afrikaanse Standaardvertaling en die 2020-Vertaling letterlike vertalings is, terwyl die 1983- en Nuwe Lewende Vertaling meer dinamies-ekwivalent is wat nie daarop uit is om elke woord afsonderlik te vertaal nie.

Die vraag is waarom die Johannesevangelie die “amen” telkens verdubbel, maar die eerste drie Evangelies nie. Daar is kennelik nie ’n diep betekenisverskil hierin tussen die Evangelies nie. Almal wil so die gewigtigheid van Jesus se woorde beklemtoon, dat dit belangrik en seker is, en vasstaan. ’n Mens kan jou daarop verlaat. Maar die feit dat Johannes konsekwent die dubbele “amen” gebruik, dui tog daarop hy dit as ’n besondere aandagtrekker of merker benut. Die vraag is net, merker van wat?

Eerstens kan mens sê dat hierdie dubbele amen altyd as ’n merker in verband staan met wat volg, maar ook met wat voorafgaan. Dit bind die voorafgaande met die belangrike woorde wat volg. Byvoorbeeld, in Johannes 6:26 roep die dubbele amen-uitspraak die voorafgaande gebeure in herinnering waar Jesus die brood vermeerder het. Maar wat dan volg, is waar Jesus verduidelik dat Hy Self die brood van die lewe is. Die dubbele amen is dus ’n retoriese merker wat lei tot ’n dieper teologiese insig omtrent Jesus as wat bloot uit die broodwonder afgelei kan word.

En dit lei na die tweede punt, naamlik dat hierdie dubbele amen altyd die aandag wil vestig op die persoon van Jesus as die Een wat die Vader openbaar. Die Johannesevangelie lê baie klem op Jesus as één met die Vader, van die begin af, en dat wat Jesus sê en doen, volledig in ooreenstemming is met die Vader en sy wil (vgl Joh 8:26-29; 14:1-14). Jesus is die Woord van God (Joh 1:1); Hy ís die Amen (Op 3:14; vgl 2 Kor 1:19-20). Jesus verseker ons dus met die dubbele amen dat God volledig saamstem met wat Hy (Jesus) sê en dit ook waarborg. Verskeie geleerdes het daarop gewys dat die dubbele amen-uitsprake in Johannes eintlik ’n Christologie in ’n neutedop vorm. Daarmee word bedoel dat as mens hierdie uitsprake wat met ’n dubbele amen ingelui word se inhoud bestudeer en sistematiseer, dan kan mens ’n hele leerstellige argument opbou oor wie en wat Jesus is, veral in verhouding tot die Vader.

Om saam te vat, hoewel bloot die woord “amen” nie in betekenis verskil tussen die Evangelies nie, wil dit tog lyk of die funksie daarvan in die Johannesevangelie ietwat verskil van die eerste drie Evangelies. By Johannes is die dubbele gebruik daarvan ’n merker wat die leser se aandag wil vestig op die identiteit van Jesus as één met die Vader, dat Hy die gesaghebbende openbaarder of bekendmaker van die Vader en sy wil is.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl