Amos(1) – Francois Malan

Indeling van die res van die boek Amos

Na die inleiding (1:1-2) bestaan die boek Amos uit vier hoofdele: 1:3-2:16 agt gedigte oor die Here se oordeel oor die nasies in Siro-Palestina; 3:1-6:14 aankondigings oor die Here se oordeel oor Israel; 7:1-9:10 vertel van vyf visioene, vier visioene elkeen met ’n begeleidende tweegesprek tussen Amos en die Here oor die einde van Israel, wat oploop tot die vyfde visioen dat die tyd vir genade verby is. Die oordeel van God kom oor die gemaks-lewenstyl van Israel, hulle verdrukking van die armes en hulle oneerlike besigheidspraktyke; 9:11-15 het ’n sprankie hoop, ’n belofte van verlossing in die verre toekoms. Amos is die eerste van die skrifprofete wat die tienstammeryk waarsku oor die Here se oordeel oor hulle. Hy word gevolg deur Hosea wat die wegvoering van die tien stamme na Assirië tot in 722 v.C. aankondig. Jesaja 1-39 waarsku Israel voor 722 v.C., maar waarsku ook vir Juda oor hulle wegvoering na Babel in 586 v.C. wat nog aan die kom is. Jeremia tree op tussen Juda se eerste en tweede wegvoering in ballingskap na Babel (597 v.C. en 587 v.C.). Esegiël wat reeds in ballingskap in Babel sit, waarsku die Jode wat ná die eerste wegvoering nog in Israel agtergebly het, dat hulle ook weggevoer gaan word oor hulle verwerping van die Here.

Die Here se oordeel oor agt nasies (Amos 1:3-2:16)

Amos, ’n boer uit die suidryk Juda, daag by Israel, die noordryk, se jaarlikse fees op. Volgens 1 Kon 12:32 het Jerobeam I vir hulle in die agste maand ‘n eie fees bepaal, teenoor Lev 23:26-36 se fees in die sewende maand. Dit is vir die feesgangers vreemd dat die Judeër, wat nie ’n profeet is nie, by hulle kom sê dat die HERE aan hulle ’n boodskap stuur. Sy eerste woorde, dat die HERE hulle vyande, die nasies rondom hulle gaan straf ,sou hulle seker met blydskap aanvaar het. Maar die sewe kort oordele is slegs die inleiding tot ’n uitgerekte aankondiging van die HERE se oordeel oor Israel. Dat die ander volke betrek is onder die oordeel van die HERE wys dat die HERE oor alle volke regeer. Dit is ’n manier om Israel te oortuig dat hulle ook skuldig is, en nog meer skuldig is as die heidene rondom hulle. As selfs Juda (die sewende nasie), waar die tempel van die HERE is, onder God se oordeel staan, hoeveel te meer Israel (die agtste nasie) wat hulle beroem op hulle diens van die HERE met hulle twee goue bulkalwerbeelde in Bet-el (‘huis van God,’ Gen 28:16-19 ) en in Dan, om die God wat hulle uit Egipte laat wegtrek het, te verteenwoordig (1 Kon 12:26-32). En dit het hulle begin doen nadat die HERE 470 jaar tevore al vir Moses die tien gebooie gegee het wat bepaal dat hulle geen gesnede beelde mag maak, vereer of dien nie (Eks 20:4-5; Deutr 5:8-9).

1 Teen die Arameërs met hulle hoofstad Damaskus, noord-oos van Israel 1:3 So sê die HERE: ‘Oor drie opstande (pêsja’ rebellie) van Damaskus en oor vier sal Ek dit (hulle straf) nie verander nie, oor hulle vertrapping van Gilead met ysterwerktuie’ – hulle het met ysterdorssleë gedors. (2020: …Oor drie oortredings van Damaskus, ja oor vier, sal ek dit nie herroep nie… (LXX se weergawe van die derde sin lui: ‘want hulle het die swanger vrouens van Gilead met ystersae gesaag’ – vgl. die Here se opdrag aan Elia om Gasael te salf as koning van Aram, 1 Kon 19:15-16 en Elisa wat huil toe hy die opdrag gaan uitvoer, 2 Kon 8:12). Die HERE, Jahweh, Die Ek is, van Eksodus 3:14-15, is die God van Abraham en Isak en Jakob wat ’n verbond met Israel gesluit het, wat lui : ‘Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees,’ (Gen 17:7; Jer 31:33). Drie en vier – is die Hebreeuse segswyse vir herhaalde kere. Damaskus was die hoofstad van die Arameërs (hedendaagse Siriërs), die noordoostelike vyandige bure van Israel. Gilead verwys na die Oos-Jordaanse deel van die tienstammeryk waar die stamme Ruben, Gad en die halwe Manassestam gewoon het. Oor koning Gasael van Aram se wrede behandeling van die Israeliete, vergelyk 2 Konings 8:12; 10:33; 13:22. Terwyl die HERE vir Gasael gebruik het om Israel te straf oor hulle ontrou teenoor die HERE, het Gasael te ver gegaan met sy wrede optrede, en so sy rol as die Here se roede met sy geweld oorskry.

1:4 ‘Ek stuur vuur in die huis van Gasael wat die paleise van Ben-Hadad sal verteer’ (LXX ‘fondamente’ in plaas van paleise; 2020: het ‘vestings’). Die woord vir paleishuise ’aremōn verwys na ’n versterkte gebou met verskillende verdiepings van die konings en rykes. Die verwoestende vuur is ’n teken van God se toekomstige oordeel (vgl. Jer 49:23-27). Hadad was die antieke Sumeriese en later die Kanaänitiese god van storms, donderweer en reën. In die Ou Testament word drie konings van Damaskus genoem met die naam Ben-Hadad, ‘seun van Hadad’ as ’n titel vir hulle konings. Gasael het vir Ben-Hadad II vermoor. Volgens 2 Kon 13:7 het Gasael Israel soos stof vertrap. In 2 Kon 13:3,24-25 word vertel dat die HERE vir Joahas van Israel drie maal teen Ben-Hadad III (783 v.C.) seun van Gasael verlos het. Amos verwys in 1:4 waarskynlik na Ben-Hadad II en Gasael en sy seun Ben-Hadad III wat aldrie Israel verdruk het. Die Here se oordeel oor die huis van Gasael is waarskynlik voltrek deur die Assiriërs onder Tiglat-Pileser III wat Aram se magte in 732 v.C. verslaan het en die inwoners van Aram in die ryk van die Assiriērs verstrooi het (vgl. 2 Kon 16:9; Jesaja 7:3-7).

1:5 Die HERE gaan teen die hele Aramese (Siriese) volk optree: ‘Ek sal die grendel van Damaskus (waarmee sy poorte gesluit word) stukkend breek, die inwoners van Bikat-Awen en die een wat die septer swaai in Bet-Eden uitroei. Die volk van Aram sal in ballingskap na Kir gaan, sê die HERE.’ Oorspronklik het die Here die Arameërs uit Kir gered (vgl. Amos 9:7). Met hulle nuwe ballingskap word hulle hele geskiedenis in die nuwe land wat die Here vir hulle rondom Damaskus gegee het, uitgewis en is hulle terug in hulle oorspronklike ballingskap in die Ooste. Die vryheid wat die Here aan hulle gegee het, het hulle teen hulle bure misbruik om hulle land te vergroot, die land wat die HERE aan hulle gegee het. Die straf van die Here is dat Assirië die Arameërs in ballingskap in die Ooste gaan versprei om as onderhoriges opgeneem te word. Dit moes reeds ’n waarskuwing aan Israel gewees het, vir wie die Here uit hulle Egiptiese slawerny bevry het. Omdat hulle Hom vergeet het en nie meer in die beloofde land lewe volgens sy woord nie, sal hulle ook in ballingskap gaan. Die name Bikat-Awen (vallei van gruwels) en Bet-Eden (huis van genot) dui die Arameërs se wellustige en afgodiese kultuur aan. Vir Israel is dit reeds ’n waarskuwing teen hulle afgodiese lewe vir genot, wat vir die HERE ’n gruwel is (vgl. 2 Kon 9:22).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Perspektief op gebed (31) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

SLOT: ‘n Gebedsprogram vir doelgerigte gebed.

* Dit is belangrik om eers voor jy begin bid ‘stil’ te word. Word stil… laat jou gedagtes gaan en stel jou in op die ontmoeting met die Here.

* Daar word nie spesiale plek aan nadenke oor jou Bybelstudie in hierdie gebedsprogram gegee nie, want dit hoort eintlik by al die stappe tuis, afhangende van waaroor jou Bybelstudie gaan. Jy kan dus self jou Bybelstudie se resultate in jou gebed inwerk waar jy voel die betrokke Bybelstudie se resultate die beste pas.

1. Aanbidding, lof en dank.

            My nadenke: Dink na oor God. * Wie is Hy vir my? (Psalms uit die Bybel kan jou hier help        …………………………………………………………………………………….

…………………………………………………………………………………….

            * Hoe en waar het ek God vandag ervaar? ……………………………………………………….

            …………………………………………………………………………

            * Was ek vandag van God bewus in alles wat ek gedoen het?………………………………

AANBIDDING: Erken die Here in jou eie woerde vir wie Hy is…………………………

………………………………………………………………………………………….

 LOF: Loof die Here vir wat Hy vir jou gedoen het……………….

………………………………………………………………………………………

DANK: Sê vir die Here dankie vir alles (onthou dit sluit in dat jy vir Hom erkenning gee vir wat Hy vir jou gedoen het, maar ook jouself aan Hom toewy deur aan Hom jou lewe te gee).

TOEWYDING:  Sê aan die Here dat jy aan Hom behoort. Terwyl dit aan Hom bely, dink ook na oor wat dit vir jou beteken.

2. Ek bely my sonde.

Kontrole of terugrapport is belangrik. So kan ‘n mens agterkom hoe jou lewe gevorm word. Sondebelydenis behels immers om van jou sonde ontslae te raak en dit nie weer te wil doen nie. Daarom is kontrole belangrik. So kan jy ook sien hoe jy op die pad van heiligmaking vorder.

TERUGRAPPORT:

 * Watter sake het ek gister bely?………………………………………………………………………….

………………………………………………………………………. 

………………………………………………………………

* Wat het ten opsigte van elke saak gebeur?…………………………………………………………..

………………………………………………………………………………………………………………………..

………………………………………………………………………………………………………………………..

* Hoe het dit gebeur en waarom?………………………………………………………………………….

………………………………………………………………………………………………………………………..

………………………………………………………………………………………………………………………..

* Wat het ek geleer uit die ‘sonde’ wat ek ‘oorwin’ het?………………………………………….

………………………………………………………………………………………………………………………..

………………………………………………………………………………………………………………………..

* Hoe moet ek herbeplan en watter planne moet ek maak om die sonde waarin ek weer geval het, te oorkom? (Strategiese beplanning vir die oorwinning van sonde)……………..

………………………………………………………………………………………………………………………..

………………………………………………………………………………………………………………………..

            BELYDENIS VAN SONDE:

 

NADENKE OOR WAT DIE VORIGE DAG GEBEUR HET

BELY EN AANVAAR VERGIFNIS

WAAROM HET EK DIT GEDOEN EN HOE KAN EK DIT REGSTEL?

Noem dinge verkeerd gedoen / gesê :

 a)……………………………………..

b)……………………………………..

c)……………………………………..

d)……………………………………..

 

Met watter verkeerde gesindhede sukkel ek mee?

a)……………………………………

b)……………………………………

c)……………………………………

 

Vra vergifnis en aanvaar dit met dank

 a)……………………………………..

b)……………………………………..

c)……………………………………..

d)……………………………………..

 

 

a)……………………………………..

b)……………………………………..

c)……………………………………..

Wat moet ek doen om dit reg te stel sodat dit nie weer gebeur nie?

 a)…………………………………….

b)…………………………………….

c)…………………………………….

d)…………………………………….

 

 

a)…………………………………….

b)…………………………………….

c)…………………………………….

 

Ek praat my saak uit.

 

Terugrapport

 

 

Datum

 

……………………………………………………

Watter gebede is verhoor en hoe?

 

………………………………………………………………

Watter gebede is nog nie verhoor nie?

 ………………………………………..

………………………………………..

…………………………………………

Toewyding.

Sê doodgewoon aan die Here dat jy aan Hom behoort! (Geniet sy teenwoordigheid)……………..

…………………………………………………………………………………………………………………………………..

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Die betekenis van die term “verheerlik” in die Bybel – Hermie van Zyl

Pieter vra:

Wat beteken die term “verheerlik” in die Bybel, byvoorbeeld in Johannes 12:23 en 28? Die NLV vertaal met “eer”, maar dit maak dit geensins duideliker nie.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die term “verheerlik” is in die Nuwe Testament gewoonlik die Afrikaanse vertaling van die Griekse werkwoord doksadzein. Hierdie Griekse woord kom in drie betekenisse in die Nuwe Testament voor, hoewel hulle baie naby aan mekaar is. Die eerste betekenis is “om te prys”, byvoorbeeld Matteus 9:8: “… toe die menigte mense dit sien, het hulle God …  geprys.” Die bedoeling is om iemand – in hierdie geval God – te prys omdat hy hoë lof verdien. Die tweede betekenis is “om te eer”, byvoorbeeld Matteus 6:2: “ … sodat mense met lof van hulle kan praat.” ’n Mens sou egter hier ook kon vertaal: “… dat hulle deur die mense geëer kan word”, soos die 1933/53-Afrikaanse Vertaling (AV) dit inderdaad doen. Die bedoeling is om aan mense hoë status toe te ken deur hulle te (ver)eer. Die derde betekenis is “verheerlik”, byvoorbeeld Johannes 7:39: “Die Gees was nog nie uitgestort nie omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.” Hier is die basiese betekenis om te veroorsaak dat iemand – veral God/Jesus – se luisterryke grootheid en mag vir almal duidelik kan word. Dit is veral hierdie betekenis wat oorvloedig in die Johannesevangelie voorkom, en oor en weer ten opsigte van die Vader en Jesus gebruik word.

Die rede waarom Johannes ’n voorkeur vir “verheerlik” het, is die besondere verhouding tussen Vader en Seun in die Johannesevangelie, asook die besondere manier waarop Jesus se verheerliking in verband gebring word met sy heilswerk deur sy kruisdood, opstanding en die uitstorting van die Heilige Gees. Die innige verhouding tussen Vader en Seun kom byvoorbeeld in Johannes 8:54 na vore, waar staan dat Jesus nie Homself verheerlik nie, maar dat die Vader dit doen. Jesus se heerlikheid is dus eg, want Hy soek nie sy eie eer nie; Hy doen slegs die wil van sy Vader. Vir hierdie aspek van verheerliking, kyk ook Johannes 13:31-32; 14:13; 17:1. Die punt is: Vader en Seun verheerlik mekaar oor en weer; dit vloei voort uit die feit dat die Seun as die ewige Woord van die begin af by God en Self God is (Joh 1:1), dat hulle een van wese is en sorg dat elkeen se luisterryke Godheid bekendgemaak word.

Jesus se verheerliking hang verder ten nouste saam met die verlossingswerk wat Hy kom verrig het deur sy kruisdood, opstanding en uitstorting van die Heilige Gees. Die Johannesevangelie verwys kort-kort daarna. So sê 7:39 dat Jesus se verheerliking saamhang met die uitstorting van die Heilige Gees. Johannes 12:16 verwys ook na Jesus se verheerliking deur sy heilswerk. Johannes 12:23 praat van Jesus se naderende dood as sy tyd van verheerliking, wanneer Hy soos ’n koringkorrel in die grond sal val en sterwe om vir baie lewe te bring. Ook Johannes 13:31 praat van sy dood en opstanding as sy verheerliking, so ook 17:1. Die punt is: die besondere manier waarop die grootheid en Godheid van Jesus bekend word, is juis deur die werk wat Hy as die Seun van God in opdrag van sy Vader kom doen: om te sterf aan die kruis, op te staan uit die dood en sy Gees uit te stort.

Christus se verheerliking lei ook daartoe dat sy volgelinge daarin kan deel en verder bydra tot sy verheerliking. In die mate dat gelowiges vrug dra en sy dissipels is, word die Vader ook verheerlik, selfs al bring dit lyding en pyn (Joh 15:8; 21:19; 1 Kor 6:20).

In die Ou Testament word “verheerlik” nie in die 1983-AV gebruik nie, maar wel in die 1933/53-Vertaling. Dit word veral in kontekste gebruik waar God sy besondere mag, krag en majesteit aan sy vyande en aan Israel bekend maak. In Eks 14:4,17-18 sê God dat Hy Homself aan Farao en sy hele leërmag wil “verheerlik”. Die bedoeling is, soos die 1983-AV dit stel, dat God sy mag sal laat geld teenoor hulle sodat hulle kan erken dat Hy alleen God is. Dieselfde gebeur ook wanneer God Hom voor die oë van die hele volk Israel wil verheerlik (Lev 10:3), om so sy ontsagwekkende teenwoordigheid ten toon stel sodat sy volk vir Hom ontsag sal hê en Hom sal erken as God. Die basiese gedagte van “verheerlik” in die Ou Testament is dus ook die bekendmaking van God as die Een wat vol Goddelike majesteit is en so gesag en ontsag afdwing. In die Nuwe Testament vind hierdie verheerliking net sy toespitsing in die persoon en werk van Jesus Christus.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Perspektief op gebed (30) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

VRAAG 7: Bid in die Naam van Jesus.

Om in die naam van Jesus te bid, beteken om op sy gesag te bid. Hy gee jou die gesag om te bid. Om dit anders te stel: jou versoeke ry op sy rug. Voor God is dit asof Jesus dit self vra.

Maar, dit behels ook meer. Om in die Naam van Jesus te bid beteken ook dat jy jou volledig met Hom assosieer. Jy veronderstel eintlik met jou beroep op sy Naam dat jy jou volledig met Hom assosieer en dat alles wat jy sê sy goedkeuring wegdra. So gesien is dit eintlik ‘n groot verantwoordelikheid. Dit moet ‘n mens ook versigtiger maak om sommer enigiets te bid. Gebed gaan uiteindelik daaroor dat jy jou wil meer in ooreenstemming met die wil van God bring. Daarom behoort jou gebede ook die wil van God te weerspieël.

VRAAG 8: Hoekom moet ons bid as die Here dan reeds alles weet?

Iets wat gelowiges nogal dikwels pla, is die woorde in Mat 6:8: ‘…julle Vader weet wat julle nodig het nog voordat julle Hom vra’. Die vraag is dan gewoonlik waarom ‘n mens nog moet bid as die Here eintlik reeds alles weet?

Die eerste deel van die antwoord lê in die konteks van die woorde in Mat 6:7-8. Dit gaan daar oor mense wat vreeslik baie woorde gebruik en dink dat hulle so die Here kan oortuig of miskien nog kan afpers. Mense uit sekere godsdienstige bewegings het gedink dat die gode met baie en harde gepratery oortuig sou kon word om te doen wat jy wil hê. Die Here sê dat Hy nie so werk nie. Jy hoef nie vreeslik in jou gebed tekere te gaan asof Hy nie weet wat aangaan en jy eers alles onder sy aandag moet bring nie. Die gedagte is dus nie dat Hy alles weet en daarom buitendien nie wil hê jy moet bid nie. Nee, hy wil net nugterheid in jou gebed bring.

‘n Ander deel van die antwoord lê in die feit dat gebed nie werk soos ‘n lekkergoedmasjien waar ons net ons versoeke ingooi en dan verwag dat God die antwoorde outomaties moet laat uitval nie. Gebed se basis is ons persoonlike verhouding met God. Hy’s ons Pa op wie se skoot ons sit! Met Hom gesels ons oor dinge.

Nou, daar op sy skoot kan ons Hom nie forseer om te maak soos ons sê nie. Ons kan ons ‘begeertes’ wel met Hom bespreek. Maar uiteindelik moet gebed meer aan ons doen as aan God. Ons wil moet in lyn met God se wil kom!

God weet wat ons nodig het. Hy ken ook die plan vir ons lewe. Maar gebed is vir Hom veel meer as ‘n vraesessie. Dit is oomblikke van persoonlike gemeenskap. Dit is die saamwees en die ontdekking van Wie God is en wie jyself is wat ons in gebed soos ‘n arend bo ons eie begeertes en wil uitlug. Daar vind ons rus in die teenwoordigheid en nabyheid van God self.

As gebed net die oorhandiging van ‘n gebedslysie aan God was, sou ‘n mens kon wonder waarom jy nou juis moet bid? Maar nou is dit veel meer… dit is ware gemeenskap met God!

VRAAG 9: Hoe leer ek my kinders bid?

Kinders ontwikkel vinnig. Verstandelik en emosioneel beweeg hulle dus redelik vinnig deur sekere fases. Daarom moet die ouer sy kind se ontwikkeling goed dophou. Daar is periodes, veral voor hulle tien word, wanneer hulle graag na-aap. Daardie geleentheid moet gebruik word om sekere gebedspatrone vas te lê. Hulle moet gewoond raak om te bid! As hulle ouer word en tienerskoene begin aantrek word hulle meer krities en selfstandig. Dan raak dit belangrik om met hulle te gesels oor dinge soos gebedsverhoring of die manier waarop God in gebed teenwoordig is. As ouer moet jy jou dus laat lei deur die groeifase van jou kind.

Ons moet ook erns maak met ons kinders se vrae oor gebed. Klein kinders kan byvoorbeeld bid dat ‘ouma wat siek is gesond word’. As dit nie dadelik gebeur nie, wil hulle weet hoekom. Die Here is dan sterk. Waarom luister Hy dan nie? In so ‘n geval moet die ouer oppas om nie verkeerde idees in die kind se kop te plant net om uit die vraag te kom nie. Hierdie antwoorde onthou die kind gewoonlik baie goed, soms vir die res van sy lewe. Doen dus moeite om sinvol met jou kind te gesels as hy of sy ‘n probleem met gebed het. Uiteindelik sal julle almal die vrugte daarvan pluk.

As ouers is ons voorbeeld egter die heel belangrikste. Hoe ons bid, wat ons daaroor sê en wat ons van gebed verwag, word die ‘voorbeeld’ wat ons kind navolg. As jou kind jou nooit sien of hoor bid nie, sal hy of sy daarvan aflei dat gebed eintlik nie vir jou so belangrik is nie. Dit maak nie sigbaar deel van jou lewe uit nie. As jy bid vir hulp van die Here, maar daarna nog erger kla oor jou probleme, vertel dit aan jou kind iets van jou ongeloof. Die respek en erns waarmee jy vir en voor jou kinders bid, is dus deurslaggewend.

Kortom, neem jou kind ernstig en stel ‘n goeie voorbeeld.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt