Restitusie – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:

Prof Hermie het in sy vorige antwoord* onder andere gesê restitusie is om heling te bring in ’n verhouding, nie verdere verwydering deur die ding wat in die eerste plek die probleem veroorsaak het nie. As mens flirtasies gehad het op geselslyne met ander vroue, sommige ontmoet het vir koffie maar nie intiem was nie – moet mens dit vir jou vrou vertel? Daar is soveel onsekerheid hieroor omdat daar nie in die kerk baie hieroor gepraat word nie. Kan mens nog steeds vrede met God hê indien jy dit nie sou bely teenoor jou vrou nie, omdat jy nie die verhouding skade wil berokken nie? Sommige sê jy leef met ’n geheim, dus in oneerlikheid. Hoe hanteer mens dit? Dit maak my siek omdat ek vir God reg wil lewe, maar ek wil nie my huwelik en ook my familie verder in die gedrang nie.

*Soek op Bybelkennis.co.za se webblad die term “restitusie” (skrywer Hermie van Zyl) om die volledige antwoord te lees.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Voordat ek ons vraagsteller probeer antwoord, plaas ek eers die relevante gedeelte uit my vorige antwoord waarna hy verwys:

“Restitusie is ’n daad van genesing en vreugde. Restitusie moet nie méér wonde en ongelukkigheid veroorsaak as wat die verkeerde ding wat ek wil herstel in die eerste plek veroorsaak het nie. Dan trek dit ’n streep deur die oogmerk van restitusie, naamlik om genesing en herstel in verhoudinge te bring wat voorheen deur ons sonde vertroebel is. ’n Mens moet daarom met wysheid te werk gaan, want restitusie kan onbedoelde, slegte dinge tot gevolg hê. Restitusie moenie ou wonde oopkrap of nuwes veroorsaak wat weer nuwe spanning in verhoudings kan bring, net sodat jy beter kan voel oor jou verlede nie. Nee, per slot van sake leef ons uit God se genade en vergifnis, nie uit die verdienste van ons goeie dade van restitusie nie.”

Dit is duidelik dat ons vraagsteller se huidige wroeging spruit uit die feit dat hy nie met ’n geheim wil saamleef wat hom herinner aan sy verlede nie. Hy het gebreek met sy dubbelhartige lewe van vroeër waarin daar allerlei flirtasies met ’n paar vroue was waarvan sy vrou niks weet nie. Hy glo wel dat God hom daarvoor vergewe het, maar nou wil hy ook oop en eerlik met sy vrou daaroor wees, daar moet geen geheime meer wees nie. Hy vrees egter dat as hy dit teenoor sy vrou sou bely, dit groot ongelukkigheid kan veroorsaak, moontlik die verhouding permanent beskadig, selfs op ’n egskeiding kan uitloop (as sy vrou hom nie vergewe nie). En dit wil hy ten alle koste verhoed. Maar aan die ander kant voel hy weer dat as hy dit nie bely nie, hy nie volkome oop en eerlik met haar is nie, en hy wil nie weer daardie pad van skynheiligheid loop nie; dit voel nie reg nie; dit vloek teen alles wat hy hom voorgeneem het om in die toekoms nie meer te wees nie. Hy het skoongemaak teenoor God, en het vergifnis ontvang – waarom nie ook skoonmaak teenoor sy vrou nie? Verder, hy wil nie met die spreekwoordelike swaard van Damokles oor sy kop leef nie, want sê nou maar sy flankeerdery kom vorentoe aan die lig, dan moet hy dit in elk geval aan sy vrou bely. Waarom dit nie nou doen en klaarkry nie? Dan is die lug gesuiwer en kan hy in vrede voortgaan met sy lewe, sonder hierdie geheime.

Hoe nou gemaak? Daar is nie ’n eenvoudige antwoord nie, maar die volgende opmerkings mag help:

Eerstens, dit is ’n vraag of ons werklik met restitusie te doen het indien ons vraagsteller sy vorige flirtasies met ander vroue, teenoor sy vrou sou bely. Restitusie gaan meer oor die regstel van ’n onreg van die verlede wat bekend is. Almal is bewus van die onreg, of ten minste die een teen wie die onreg gepleeg is; dis geen geheim nie. Dink aan die voorbeeld van Saggeus in die Bybel (Lukas 19:1-9): die handeling waardeur hy geld onregmatig van mense afgepers het, is bekend aan die betrokkenes. Nou het Saggeus berou daaroor en probeer hy hierdie onreg regstel deur daardie mense vierdubbeld te vergoed. Maar in ons vraagsteller se geval is die onreg wat hy aan sy vrou gedoen het deur met ander vroue te flankeer, nie aan sy vrou bekend nie. Net hy weet daarvan (en natuurlik God en die ander vroue ook). Dit lê dus nie heeltemal op dieselfde vlak as overte en bekende onregte van die verlede wat ten hemele skrei en roep om restitusie nie. Daar is gevolglik nie ’n voor die hand liggende noodsaak tot herstel nie, ten minste nie vanuit die vrou se perspektief nie. Die behoefte van ons vraagsteller om van sy slegte gewete oor dié saak ontslae te raak, kan ook op ander maniere hanteer word, wat my by die volgende gedagte bring.

Tweedens, waarheid en feite is nie altyd dieselfde ding nie. Voorbeeld: om vir iemand in sy gesig te sê dat hy lelik is, is miskien feitelik korrek, maar dis nie wat die Bybel waarheid sou noem nie. Volgens die Bybel moet ons in liefde met die waarheid omgaan (Efesiërs 4:15). Waarheid is nooit iets kil, afgetrokke en klinies nie. Waarheid en liefde gaan altyd hand aan hand. Dit dien daarom nie die waarheid om blindelings in ’n situasie in te storm en “kliniese feite” aan die groot klok te hang nie. Jy mag miskien goed voel oor jouself om alles in die oopte te kry, maar agterna mag dit blyk dat so ’n oopvlek van die feite meer skade as goed gedoen het – omdat die waarheid nie in die sagte handskoen van die liefde toegedraai is nie. Bybelse waarheid gaan immers nie primêr oor die naakte feite nie, maar wil uiteindelik ’n beter situasie daarstel as wat daar voorheen was. Natuurlik vra dit wysheid, insig en diskresie om te besluit wanneer al die feite bekend gemaak moet word en wanneer ter wille van die groter waarheid sekere feite verswyg moet word. En ek wonder of in ons vraagsteller se geval dit nie gerade is om eerder die feite van sy flankering met die liefde te bedek en daar te laat nie. 1 Korintiërs 13:7 en 1 Petrus 4:8 sê nie verniet nie dat die liefde alles bedek, ook menigte sondes. So ’n keuse het myns insiens niks met oneerlikheid te doen nie, maar juis om in liefde met die feite om te gaan. Na alles het ons vraagsteller kennelik gebreek met sy sondige verlede, daarvoor vergifnis ontvang by God en loop hy nou ’n nuwe pad. Wat my by die volgende gedagte uitbring.

Derdens, die beste manier waarop ons vraagsteller die situasie kan hanteer, is om sy verlede dood te leef met ’n lewe van liefde en trou. Hoe meer hy wegbeweeg van ’n agteraf gekonkel met ander vroue en hom toewy aan sy vrou, hoe meer sal die skuldgevoelens oor die verlede ook die wyk neem. Want ons oorwin nie die verlede deur voortdurend te tob oor alles wat ons verkeerd gedoen het nie, maar eerder deur daardie gevoelens te vervang met die goeie en die regte wat ons nóú doen. Ek bedoel, Petrus het die keuse gehad: hy kon hom sy lewe lank verknies oor hy Jesus drie maal verloën het, of hy kon hom toewy aan sy taak wat die Here aan hom opgedra het: om die Here se skape op te pas (Johannes 21:16-17). En as mens na die verdere geskiedenis van Petrus kyk, is dit duidelik dat hy laasgenoemde gekies het. En dis die pad wat elkeen van ons ook moet loop. Of ons sondes van die verlede nou bekend is of nie, ons moet dit bely, God se vergifnis daarvoor aanvaar en vorentoe leef. Dis die enigste volhoubare manier om met ’n slegte verlede te handel. Ook Paulus het gesê dat hy vergeet wat agter is en hom uitstrek na wat voor is (Filippense 3:13).

Ten slotte, die bekendmaking, al dan nie, van sy flankering met ander vroue bly einde ten laaste ’n besluit wat ons vraagsteller self moet neem, in die lig van hoe hy die situasie beoordeel. As hy voel hy kan nie met hierdie kennis saamleef nie, dat dit hom opvreet, moet hy dit teenoor sy vrou bely. Maar dit kan onbedoelde slegte gevolge inhou. As hy egter besluit om hierdie inligting van sy vrou te weerhou, is dit myns insiens ook ’n Christelike weg om te volg. In die lig van my verduideliking hierbo hoef hy nie te voel dat hy ’n oneerlike verhouding met sy vrou het nie. Volgens my verstaan van die evangelie dink ek nie dat ons vraagsteller verplig hoef te voel om ten alle koste al die feite bekend te maak nie. Hy kan nog steeds met integriteit voortgaan met sy huwelik, sonder om te voel dat hy huigel. Ter versterking van die nie-bekendmaking van sy vorige flirtasies is ook die gedagte dat ’n mens partykeer bloot ’n las wil deel om dit vir jouself ligter te maak, sonder om aan die groter prentjie te dink. Want onthou, deur vir sy vrou te vertel, word sý ook belas met iets waaraan sy geen deel gehad het nie. Is dit regtig die moeite werd? Gedeelde kennis kan goed uitwerk, maar ’n mens weet nooit vooraf hoe die ander een gaan reageer nie. Dit hang baie af van wie die persone betrokke is, die aard van hulle persoonlikhede en hoe hulle op trouma reageer. ’n Mens moet ’n fyn insig hierin hê. Partykeer is dit net beter om jou las alleen te dra, sonder om ander ook daarmee te beswaar. Ja, dis vir lank ’n doring in die vlees, maar soos Paulus moet ons ook glo dat God se genade vir ons genoeg is (2 Korintiërs 12:7-9). Maar ek begryp dat ons hier met ’n grensgeval-situasie te doen het en dat nie almal dieselfde soort besluit sal neem nie. Ons moet dus mekaar se keuses hierin respekteer.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Hertrou – Francois Malan

Vraag:

Goeie dag, ek is ‘n 43jarige vrou wat al 14jaar lank geskei is, en nog nooit weer getrou het nie.
My eerste huwelik was net ‘n jaar en ‘n half lank want my man was ongetrou aan my met ‘n ander vrou terwyl ek nog baie lief was vir hom, dit was die vleur van my lewe en is so gou vinnig verpletter, ek was 5mnde swanger toe hy weg was. Ek het na die tyd besef hy was nie gelowig of lief genoeg vir my nie. Hy is intussen weer getroud en weer geskei en is tans besig met vrou nommer 3.
Nou na al die jare het ek weer liefde gevind maar is so bekommerd en wil die woord van God eer deur sy woord te volg, en ek lees dat mens nie weer mag trou nie. Ek was nie ontrou aan my man nie, maar wil graag God se blessing he in ‘n nuwe huwelik, indien dit ‘n nee is sal ek dit liewer wil aanvaar. Mens raak tog ook moeg vir aleen wees.

Maar as ek die geleentheid mag kry wil ek seker wees.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In 1 Korinthiërs 7:10-11 bespreek Paulus egskeiding. Die Here sê ’n vrou mag nie van haar man skei nie en ’n man nie van sy vrou nie (Markus 10:5-12). As hulle skei moet hulle ongetroud bly of met mekaar versoen. Volgens jou man se optrede is versoening nie meer moontlik nie.

In 1 Kor 7:12-15 bespreek Paulus die uitsonderings as sy mening. As ’n gelowige se ongelowige man of vrou wil skei, laat hulle skei. In sulke gevalle is die (gelowige) broer of suster nie gebonde nie.

In 1 Kor 7:39 bespreek hy die posisie van ’n weduwee, dat sy vry is om te trou met wie sy wil, maar slegs as dit in verbondenheid met die Here is. Dit beteken dat jy as vrou wat in Jesus Christus glo as die Here wat die seggenskap en leiding van jou lewe het, en jou Verlosser wat vir al jou sonde aan die kruis gesterf het, nie met iemand moet trou wat nie in die Here Jesus glo nie.

Maar as julle albei in Jesus glo, skryf Paulus aan die Efesiërs 5:21: Wees ondergeskik aan mekaar uit ontsag vir Christus. In Filippense 2:3-5: Moenie iets doen uit selfsug of ydelheid nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na dié van die ander. Julle moet dieselfde gesindheid onder mekaar openbaar as wat in Christus Jesus was. En gaan Paulus verder in verse 6-11 om ons te herinner hoe nederig Christus was om Homself prys te gee en die gestalte van ’n slaaf aan te neem, mens te word en Hom verder te verneder tot die dood aan die kruis. Daarom het God Hom verhoog as die Here oor die ganse skepping.

1 Korinthiërs 13 beskryf die liefde soos volg: Liefde bly geduldig, liefde gee om, liefde is nie jaloers nie, spog nie en is nie verwaand nie. Liefde tree nie onbehoorlik op nie, jaag nie eiebelang na nie, is nie liggeraak nie. Dit hou nie boek van die kwaad nie, is nie bly oor onreg nie, maar is saam bly oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verduur alles (1 Kor 13:4-7).

Die pad van die liefde in die huwelik is slegs moontlik as God die Heilige Gees in ons kom woon het. Hy oortuig ons van ons sonde en van ons verlossing deur Jesus, sodat ons deur geloof aan Jesus verbind word, en so kinders van God word. Daar is geen veroordeling vir diegene wat aan Christus Jesus in geloof verbind is nie (vgl. Romeine 8:1-17; Johannes 14:15-17; 16:8,14).

As jy en jou nuwe man dieselfde liefde en nederige gesindheid van onderwerping aan mekaar het en julle elke dag aan Jesus se leiding in sy woord onderwerp, kan julle seker wees van sy seën op julle huwelik.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Hoe praat God met ons – Hermie van Zyl

Franci vra:

Praat God met ons deur die Heilige Gees of sal Hy ’n boodskap vir iemand anders gee met die opdrag om dit vir jou te skryf soos God dit aan haar woord vir woord dikteer?

Antwoord

Prof Hermie van zyl antwoord:

Agter die vraag hierbo lê daar waarskynlik ’n spesifieke verhaal waarvan die detail nie aan ons bekend is nie. Maar in die algemeen is daar twee dinge wat ’n mens hieroor kan sê.

Eerstens, dis nie vreemd dat God deur middel van ander mense met ons kommunikeer nie. Die Bybel is vol daarvan. Die profete wat in die Bybel optree, was eintlik niks anders nie as God se spreekbuise wat sy wil aan die volk in die geheel of aan individue oorgedra het. Die klassieke voorbeeld in laasgenoemde geval is sekerlik toe die profeet Natan God se boodskap wat Hy aan dié profeet bekendgemaak het, aan koning Dawid moes gaan oordra (lees 2 Samuel 12). Dawid het gesondig deur owerspel met Batseba te pleeg en boonop haar man, Urija, op ’n slinkse wyse om die lewe te laat bring. Dit was verkeerd in die oë van die Here. Daarom stuur God sy profeet Natan om aan Dawid die verhaaltjie te vertel van ’n ryk man wat ’n ete vir ’n besoeker wou aanbied, maar te suinig was om een van sy eie kleinvee of beeste, waarvan hy baie gehad het, te slag. Toe steel hy ’n arm man se enigste ooilammetjie en slag dié vir die besoeker. Hieroor was Dawid baie ontsteld en roep uit: “dié man moet doodgemaak word.” Waarop Natan vir Dawid sê: “Jy is die man.” Dawid het toe bitter rou gehad en sy sonde erken en bely.

Wat leer ons uit hierdie verhaal? Ons leer dat daar nie ’n teenstelling is tussen die Heilige Gees wat met ons praat en mense wat met ons praat nie. Dis een en dieselfde ding. Natuurlik is dit so dat slegs die Heilige Gees mense se harte kan verander, soos in Dawid se geval. Maar dit staan nie teenoor mense wat met ons praat nie. God gebruik juis mense sodat sy Gees met ons kan besig raak. Trouens, dis die normale manier hoe die Heilige Gees met ons praat. Hoe anders sal ons die stem van die Gees hoor as dit nie langs die weg van God se menslike boodskappers is nie? Natuurlik, God gebruik ook ons gewete om ons aan te spreek, maar dié is soms so toegeskroei dat ons nie God se stem hoor nie. En dan vat dit iemand soos ’n pastoor, predikant, familielid of vriend(in) wat die moed het om ons direk aan te vat voordat God se stem tot ons deurdring. En as die skoen dan pas, moet ons dit aantrek, al word ons kwaad.

Ongelukkig is die Bybel ook vol van mense wat nié die stem van God hoor in die stem van menslike boodskappers nie. Neem nou maar die farao van Egipte wat nie na Moses geluister het nie toe dié God se boodskap oorgedra het dat die farao die Israeliete moet vrylaat om na Kanaän te trek. Dit het katastrofale gevolge vir Egipte ingehou. Al die plae volg toe – tien van hulle – totdat die farao uiteindelik instem nadat al die eersgeborenes van Egipte gesterf het. (Lees hierdie aangrypende verhaal in Eksodus 7-12). En so ook die volk Israel later onder die konings. Die meeste van die konings was goddeloos, waarop God sy profete opwek om die konings en die volk aan te spreek oor hulle sondes en op te roep tot bekering. Maar hulle wou nie luister nie, en uiteindelik loop genadetyd uit en laat God toe dat Israel in twee ballingskappe weggevoer word, in die 8e en 6e eeu voor Christus. As hulle tog maar net wou luister na die stem van God wat deur die profete gespreek het, maar hulle wou nie. Dieselfde gebeur met die Jode later in die tyd van Jesus. Volgens Matteus 23:37-38 roep Jesus uit dat Jerusalem die boodskappers van God doodmaak wat na die stad gestuur word, in stede daarvan om na hulle te luister. Jesus wou hulle so graag beskerm soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaar maak, maar hulle wou nie. En nou word die stad vir hulle woes agtergelaat. In 70 nC is Jerusalem dan ook deur die Romeine verwoes.

Maar tweedens, daar is ook ’n ander kant aan ons vraagsteller se vraag wat moet aandag kry. Dit is wel so dat die normale manier waarop die Heilige Gees met ons praat, deur mense is, soos hierbo verduidelik. Maar ongelukkig is dit ook so dat daar selfaangestelde boodskappers van God is wat aanspraak maak op direkte Goddelike inspraak, maar eintlik maar net hulle eie voorkeure en idees op ander wil afforseer. Dis die bemoeisiekes. Hulle hou veral daarvan om dinge te dramatiseer en dit dan in “God-speak” oor te dra. Hulle voel hulle woorde dra dan meer gesag. En ek wonder of dit nie dalk die geval is in ons vraagsteller se situasie nie. Ons het dalk met die volgende scenario te doen.

Die verhouding tussen ons vraagsteller en ’n vriendin het moontlik versuur. Of daar is iets in ons vraagsteller se persoonlikheid of optrede wat die vriendin nie aanstaan nie, wat sy selfs as sonde beskou. En nou kom die vriendin na ons vraagsteller toe, gewapen met die aanspraak dat God direk met haar gepraat het en die opdrag gegee het dat sy dit woord vir woord moet neerskryf en aan ons vraagsteller moet oordra as komende van God.

Maar ’n mens moet kan onderskei tussen iemand wat eg en met goeie bedoelings met jou kom praat en iemand wat net bemoeisiek is en met allerlei hoë aansprake by jou aankom. Soos reeds genoem, daar is ongelukkig mense wat daarop aanspraak maak dat hulle allerlei visioene of insprake van God kry en dit dan op ’n arrogante wyse oordra, dikwels so dat hulle net hulle eie idees en belange dien. Dis dan dat hulle graag sê dat hulle boodskappe van God oor iets of iemand gekry het en dit nou woordeliks kom oordra, dikwels ook met die aanhaal van Bybeltekste. Maar hierdie “boodskappe van God” is dikwels net ’n manier om ander mee te manipuleer. Want as ek die ander een met my “boodskap van God” konfronteer, dan wil ek eintlik daarmee sê: ek staan so ’n bietjie op ’n hoër trappie as jy; jy het eintlik niks te sê oor my insigte nie, want hulle kom direk van God af; jy moet hulle sonder enige verdere debat aanvaar en uitvoer. Maar, soos ons weet, is dit selde die einde van die storie. Want wat dikwels gebeur, is dat die ander een met ’n teen-boodskap van God kom, sodat ’n skaakmat-situasie ontstaan: dis boodskap teen boodskap, en wie s’n is nou die egte een? Nee, die aangewese roete om te volg as jy regtig bekommerd is oor iemand se geestelike welstand en verhouding met God, is om ’n oop en eerlike gesprek met die ander te hê waar die ander die gevoel kry dat jy haar nie met sogenaamde “direktiewe” van God konfronteer nie, maar rustig gesels, as een sondaar teenoor ’n ander, en so toelaat dat die Heilige Gees die oortuigingswerk doen. Want jy kan in elk geval nie ’n ander se hart verander nie, net God kan.

Om dus saam te vat: dit kan wees dat die situasie met ons vraagsteller is soos die scenario sopas geskets. Dan kan ons vraagsteller die situasie met wysheid hanteer, in die lig van my verduideliking hierbo. Maar dit kan ook wees dat die geval nader is aan die situasie soos by die eerste verduideliking, en dan pas eerlike selfondersoek beter.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Eerste mense van die wêreld – Francois Malan

Diana vra:

Heelwat mense vra waar kom ander mense vandaan met wie Adam en Eva se seuns getroud is nadat God gesê het gaan en vermenigvuldig, bewoon en bewerk die aarde?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Genesis 5 begin die geslagregister van Adam. Dit begin in verse 1-2 weer met God se die skepping van die mense Adam en Eva na sy beeld. In Genesis 5:4: Nadat Set vir hom gebore is, het Adam nog 800 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 5:10: Enos het na die geboorte van sy seun Kenan nog 815 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 5:13 Kenan het na die geboorte van sy seun Mahalalel nog 840 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 5:16 Mahalalel het na die geboorte van sy seun Jered  nog 830 jaar geleef en het seuns en dogters gehad.  5:19 Jered het na die geboorte van sy seun Henog nog 800 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 5:22 Henog het na die geboorte van sy seun Metusalag nog 300 jaar naby God geleef en het seuns en dogters gehad. Metusalag het na die geboorte van sy seun Lameg nog 782 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. 5:30 Lameg het na die geboorte van sy seun Noag nog 595 jaar geleef  en hy het seuns en dogters gehad. 6:1-3 Toe die mense baie begin word het op die aarde…het die Here gesê: My Gees sal nie meer so lank in die mens bly nie, want hy is sterflik. Sy lewensduurte sal nou honderd en twintig jaar wees.

Na die sondvloed, wat alle mense uitgewis het (Gen 6:13), het die agt mense wat gered is in die ark wat Noag gebou het weer opnuut begin: Noag en sy vrou, sy drie seuns en drie skoondogters (Gen 7:7).

Genesis 4:17-24 vertel van Kain se nageslag sonder ’n aanduiding wie sy vrou was. Uit die geslagslys van Adam en Eva in hoofstuk 5, wat telkens sê dat hulle seuns en dogters gehad het, kan afgelei word dat Kain met een van sy susters of met ‘n broer se dogter kon getrou het, aangesien die mense destyds so lank gelewe het en baie kinders gehad het. Kain, Abel en Set was in elk geval nie die enigste seuns van Adam en Eva nie, soos 5:4 wys. Set word genoem omdat Christus uit sy nageslag gebore sou word. Kain word genoem as voorbeeld van die bose en Abel as die eerste martelaar.

Skrywer:  Prof Francois Malan