Perspektief op gebed (2) – Oor biddeloosheid en barometers. – Jan van der Watt

Ons geestelike barometer.

Gebed kan as die barometer vir jou geestelike lewe dien. As dit nie so goed gaan met jou geestelike lewe nie, is gebed gewoonlik die eerste plek waar jy dit begin agterkom.

Biddeloosheid is dus nie ‘n goeie teken vir jou geestelike lewe nie. Dit is byna soos om ‘n mens te sien versmoor omdat hy nie wil asem haal nie. So ‘n bietjie suurstof kan al die verskil maak. So kan gebed ook al die verskil maak. Dit kan weer lewe in ‘n geestelik versmoorde mens bring.

Daarom is dit nie verbasend dat iemand soos Luther gesê het dat hoe besiger hy is, hoe meer bid hy nie. Immers, hoe meer dinge jy moet doen, hoe meer hulp en leiding het jy van die Here nodig en hoe meer sal jy hê om met Hom te bespreek!

So kan ‘n mens deur die geskiedenis stap. Al die ‘groot bidders’ in die geskiedenis van die kerk was gedissiplineerde bidders. Hulle het gereeld en ernstig die genadetroon van God gaan opsoek! Hulle het ten minste geweet waar hulle krag vandaan kom.

Ons verkeerde verwagtings ‘n lekker wapen vir die duiwel.

Daar is krag in die gelowige se gebed! Dit sê die Bybel vir ons. Tog skep hierdie woorde dikwels allerhande verkeerde verwagtings by die gelowige! Hy of sy begin dink dat gebed die kraan is waarmee hulle maar soos hulle wil God se krag kan tap. As hulle die kraan draai, moet God spring! As God nie spring nie, of die kraan nie wil loop soos hulle wil hê dat dit moet loop nie, dan sê hulle sommer sou ‘gebed werk nie’.

Vir hulle is daar ‘n verrassing: Gebed werk nie so nie! Dit is nie ‘n kraan nie!

God sal sekerlik nie ‘n klomp kinders in ‘n wapenfabriek met allerhande bomme, gewere en kanonne loslaat en sê hulle kan maar aangaan soos hulle wil nie. Die krag van God is ontelbaar maal sterker as dit wat mense in ‘n wapenfabriek kan opsluit. Daarom moet die bidder goed verstaan wat presies met gebed bedoel word. Gebed is nie die plek waar die bidder God ‘laat spring’ nie. Tog bly dit die plek waar die volheid van God se genade en krag ervaar kan word. Soos F. Huegel gesê het: ‘Dit is wanneer mense op hulle knieë gaan en God aanroep dat hulle in ‘n sekere sin net so ‘magtig’ word as die almagtige God’. Dit gesê, moet ons egter weet wat om te verwag. Gebed maak ons nie die ‘almagtige God’ self nie. Ons word nie die voorskrywers nie. Nee, gebed maak ons mense wat alleen maar op ons knieë voor die almagtige God kan staan en uit sy genadige hand kan ontvang wat Hy wil gee!

 Verkeerde verwagtinge het al te veel gelowiges baie seer gemaak. Omdat hulle dink hulle is kinders in ‘n wapenfabriek of dat hulle maar net die kraan kan draai en God moet spring, is hulle al dikwels teleurgestel. Gebed bied dikwels nie so ‘n kitsoplossing as wat hulle gedink het nie. Dikwels besluit God om sy kinders op ‘n ander manier te help as wat hulle in gebed ‘voorskryf’. Omdat dinge dan nie so uitwerk soos hulle dit wil hê nie, verloor hulle vertroue in gebed. Hulle bid al hoe minder en later glad nie meer nie!  So sny hulle hulle eie geestelike suurstof af. Een ding is seker: Dit is nie die suurstof wat klaar geraak het nie, maar hulle wat nie die suurstof op die regte manier wou inasem nie!

Dit gebeur ook dat gelowiges kan dink dat maar sal gebeur wat moet gebeur, bid of te nie! Uiteindelik maak dit nie vir hulle meer saak of hulle bid of nie. Hulle dink in alle geval dit sal nie soveel verskil maak nie. Die ernstige suurstoftekort in hulle geestelike lewe kan nie lank weggesteek word nie!

Jesus gee aan ons die voorbeeld.

Natuurlik het die Here Jesus self aan ons die voorbeeld gegee om te bid (Mat 14:23; Mk. 1:35). Hy het nie alleen aan ons die ‘Ons Vader’ gegee nie, maar het self op belangrike tye in sy lewe gebid (Luk. 3:21-22, 6:12; 22:39-46). By geleentheid het Hy sommer die hele nag deur gebid (Luk. 6:12). Hy het nie net vir Homself gebid nie (Joh. 12:27), maar ook vir ander, vir sy dissipels (Joh. 11:41; 17:1vv) en per geleentheid selfs vir sy vyande (Luk. 23:34). By ander geleenthede het Hy met enkele sinne die Vader vir kos gedank (Joh. 6:11).

Jesus het ook belangrike kritiek op die gebede van ander gehad. Hy het die Fariseer wat so vol van homself was, se gebed gekritiseer (Luk. 18:9-14). Ook die mense wat op die hoeke van die strate gestaan en gebid het, het onder die tong van Jesus deurgeloop (Mat. 6:5-8).

As ‘n mens so na die lewe en voorbeeld van Jesus kyk blyk dit dat gebed baie belangrik is. Tog kan ‘n mens die pad ook byster raak met gebed. Jy kan ernstige foute begaan!

Laat ons dan nou eers gaan kyk na wat die hart van gebed is en dan na gebed self. Aan die einde sal die foute wat met gebed gemaak word, bespreek word.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Perspektief op gebed (1) – Oor biddeloosheid en barometers. – Jan van der Watt

Manie die Marsman kom kuier.

Kom ons begin met ‘n verhaaltjie. Veronderstel Manie die Marsman kom land met sy vlieënde piering iewers hier naby ons. Die eerste persoon wat hy raakloop is sowaar ‘n dominee!

So in die gesels vertel die dominee hom wat hy doen. Hy vertel vir Manie die Marsman dat ons hier op aarde die groot Skepper, die God van die heelal ken! Hy het ons lief. Deur sy Seun, Jesus, het Hy ons kom besoek. Meer nog, Hy bly elke dag naby ons en gee ook aan ons sy krag. Manie is verstom! Wat ‘n wonderlike voorreg. Op Mars ken hulle so iets nie. Dit moet seker wondere in mense se lewens werk. Manie wil dadelik  meer weet.

Ja, sê die dominee, God is so naby ons dat ons met Hom kan praat en alles van Hom kan vra… soos ‘n kind na sy pa kan gaan, so kan ons na God gaan!

Hy is nou juis oppad na so ‘n biduur, vertel die dominee. Die hele gemeente het een maal per week kans om saam te kom en net met God te praat, vir Hom alles te vertel en vir Hom hulp en leiding te vra! WONDERLIK, sê Manie.  Mense moet seker nie kan wag om daar te kom nie.

Manie was verstom! Van die duisend mense in die gemeente sit daar ‘n skrale twaalf… gereed vir die groot gesprek! Manie begin vrae vra… dink die mense nie die gesprek met God is belangrik genoeg nie? Glo hulle nie God wil met hulle praat nie, of nog erger, wil hulle nie eers tyd maak om met God te praat nie!? Miskien dink hulle in hulle harte nie dat gebed regtig meer werk nie?!

Daardie aand gaan loer Manie by ‘n paar huise ook in. Die dominee het aan hom vertel dat mense voor hulle gaan slaap eers met hulle God praat. Dan bespreek hulle alles van die dag en vra hulp en raad. Dat die grote God Homself so beskikbaar stel vir persoonlike gesprekke was vir Manie byna ongelooflik. By die eerste huis kry Manie egter sy eerste verrassing. Die persoon was skaars op sy knieë en toe is hy alweer klaar. Het hy dan niks om vir God te sê of te vra nie, het Manie gewonder. In die tweede geval het die gebed heeeeelwat langer geduur. Maar toe Manie mooi luister en die snorkgeluidjies hoor, besef hy die persoon is nie besig met ‘n gesprek nie.

Nou het Manie begin wonder oor hierdie ding wat GEBED genoem word. As dit regtig waar is dat gebed die krag van die gelowige se geestelike lewe is, waarom neem die mense dit skynbaar nie so ernstig nie? Waarom bid mense nie meer en langer nie, het hy gewonder.

As gebed die sluise van God se krag vir die gelowige is…

Manie se vraag is juis die vraag wat Andrew Murray per geleentheid aan ‘n saal vol predikante gevra het. Hy het verduidelik dat gebed ‘n belangrike manier is waarop God sy krag oor die bidder uitstort. Dit is waar die gelowige hom of haarself weer in die teenwoordigheid van die lewende God versterk. Natuurlik sal al wat gelowige is dit beaam. Hy vra toe hoeveel van die predikante spandeer ‘n uur per dag in gebed. Dit was doodstil in die saal. Die uur word toe ‘n halfuur, ‘n kwartuur, tien minute… en toe begin die hande stadig opgaan. ‘n Mens wonder wat dit sê van die vertroue wat mense in gebed stel?

Dit is eintlik ‘n vraag wat ons elkeen aan onsself moet vra. Hoeveel tyd spandeer jy in gebed per dag? En wat sê jou antwoord vir jou van wat jy van gebed verwag?

As jy saamstem dat gebed die sluise van God se krag vir jou oopmaak… hoe beïnvloed dit jou gebedslewe?

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Die Graf gaan oop en Jesus staan uit die dood op. Die ou era is verby en die nuwe era begin.(4) – Jan van der Watt

  1. Hoe lyk die “historiese gegewens” vir die opstanding?

 Watter “feite” het ons?

  1. a) Volgens die berigte in die Nuwe Testament het niemand gesien hoe Jesus uit die graf kom nie. Al getuienis is die oop graf. Toe Maria en die dissipels daar kom was net die doeke daar – die graf was leeg.
  2. b) Jesus het na sy dood aan heelwat mense verskyn en selfs met hulle gepraat en saam met hulle geëet. Hulle kon selfs aan Hom vat.
  3. c) Die ervaring van Jesus wat mense se lewens radikaal verander het, was vir die vroeë Christene ‘n bewys dat die opgestane Jesus by hulle is. Hulle was veranderde mense.
  • Die leë graf

Daar is geen getuienis enige plek dat die graf nie leeg was nie. Selfs die vyande van Jesus het nie so iets beweer nie. Die graf was leeg… en Jesus se liggaam was weg. Hoe het die graf leeg gekom? (Ons gaan elke keer die teorie noem en dan die waarskynlikheid dat dit so kon gebeur het).

  • Sommige het beweer dat die dissipels Jesus se liggaam gesteel het.

Die oudste storie – naas die opstandingsverhaal – oor wat van die liggaam geword het, is dat die liggaam deur die dissipels gesteel is. Dit is die storie wat die leiers en die soldate volgens Matteus (Mat 28:11-15) uitgedink het toe hulle agtergekom het dat die liggaam weg was. Die rede waarom die dissipels die liggaam sou steel was omdat die mense destyds geglo het dat as hulle die liggaam (of beendere) van ‘n heilige naby hulle sou hê, die krag van die persoon ook by hulle sou wees. Die probleem met die “steel teorie” is dat daar geen getuienis is van  gelowiges wat ‘n heilige plek gehad het waar hulle die liggaam gehou het nie. As hulle immers Jesus se krag wou hê, sou hulle mos vir die mede-Christene gesê het waar die liggaam is. In die gevalle van ander heiliges is daar kerke of altare gebou om die plek te merk waar die beendere gehou is. Daar is egter geen teken van so iets nie, wat die teorie totaal ongeloofwaardig maak.

  • Sommige beweer dat die Jode Jesus se liggaam verwyder het.

Ander gee voor dat die Jode die liggaam sou verwyder het, juis om te keer dat die gelowiges Jesus as heilige sou vereer. As dit egter die geval was, waarom het die leiers van die Jode nie vir Jesus se liggaam (beendere) gebring toe die dissipels in Jerusalem begin preek het dat Jesus opgestaan het nie? (Sien Hand 4:1-21). Hulle wou die dissipels stil kry en dit sou mos die vinnigste manier gewees het om dit te doen. Hulle doen dit egter nie, omdat hulle nie die liggaam het nie. In plaas daarvan probeer hulle die dissipels dreig om stil te bly. Die teorie hou dus ook nie water nie.  

  • Ander beweer weer dat Jesus nie regtig dood was nie.

Daar is mense wat beweer dat Jesus nie regtig dood was nie. Dit het maar net so gelyk – in die koel graf het Hy toe bygekom en toe lyk dit of Hy uit die dood opgestaan het. Die verhaal is hoogs onwaarskynlik: a) verskeie mense het Jesus se liggaam hanteer – dit was die soldaat wat by die kruis gewerk het se werk om seker te maak die gekruisigdes is dood. Veronderstel dat hy op een of ander manier ‘n fout gemaak het. Dan was daar die volgelinge van Jesus wat sy liggaam gewas en gebalsem het. Hulle sou tog seker iets agter gekom het, soos dat Jesus tog effens asem haal. En dan is daar die probleem van hoe Jesus uitgekom het. Daar was soldate voor die graf en die graf was toegemaak met ‘n massiewe rots wat jy eintlik net van buite af kon oopmaak. Hoe het Jesus ongemerk die klip weggekry en verby die soldate gekom sonder dat hulle dit eers agter gekom het? Daar is net te veel onwaarskynlikhede om die teorie waar te maak.

  • Ander blameer die vroue wat nie kon rigting hou nie.

Ander maak ‘n storie op dat die vroue by die verkeerde graf uitgekom het – hulle kon nie rigting hou nie en omdat dit ‘n nuwe graf was, het hulle by ‘n ander leë graf uitgekom. Toe dink hulle Jesus het opgestaan. Wel, hieroor hoef ons nie eers veel te sê nie. Daar word vertel dat van die dissipels soos Petrus en Johannes ook graf toe is en dieselfde leë graf gesien het. Vir die teorie om waar te wees moes al die dissipels van Jesus en die Jode ook nie rigting kon hou nie.

  • Jesus het regtig opgestaan.

Dit lyk of die beste verklaring op die ou einde tog is dat Jesus uit die dood opgestaan het! Dit verklaar waarom soveel mense se lewens verander het, waarom die graf leeg was en mense daarna Hom kon sien, aan Hom kon vat, en so meer.

  • Die verskynings van Jesus

Daar is baie verhale in die Nuwe Testament wat vertel van Jesus wat aan verskillende mense verskyn het (lees bv. 1 Kor 15:1-11). Op grond daarvan kan ‘n mens eintlik nie ontken dat Jesus aan mense verskyn het nie. Tog is daar mense wat dit probeer weg verklaar.

  • Daar is mense wat beweer dat die mense aan wie Jesus verskyn het gehallusineer het. Nou, hallusinasie is iets wat individueel in ‘n mens se kop plaasvind – dit lê dus nie buite jou nie. Wat is die kans dat soveel verskillende mense op verskillende plekke en in een geval aan 500 mense gelyk presies dieselfde gehallusineer het. Eintlik is dit nie werklik eers te oorweeg nie.

 Ander gee toe dat die hallusinasieteorie te onwaarskynlik is. Hulle maak dit meer verfynd deur te sê die dissipels en al die ander het gerou en in die emosionele staat het hulle gesigte van Jesus, wat hulle baie gemis het, gesien. Die getuienis in die Evangelies maak dit baie onwaarskynlik, want daar word baie klem gelê op die feit dat Jesus aan meer as een persoon gelyk verskyn het en dat mense saam met Hom kon eet en aan Hom kon vat. Hoe vat ‘n mens aan ‘n “gesig” wat jy sien omdat jy hartseer is? Die teorie veroorsaak ook net te veel probleme om regtig ‘n goeie verklaring vir die verskynings te wees.

  • Getuienisse verskil

 ‘n Ander argument is dat die verskillende getuienisse oor die opstanding van Jesus heelwat verskil, kyk maar na die beskrywings in die verskillende Evangelies. Lukas vertel byvoorbeeld van die Emmausgangers (Luk 24:13-35) en Johannes van Tomas wat nie wou glo nie (Joh 20:24-29) en die verhale kom nie in die ander boeke voor nie. Wat is nou presies wat? Veronderstel Jesus het nie opgestaan nie en die dissipels wou ‘n storie opmaak, hoe sou die storie gelyk het? Sou hulle vir elkeen gesê het om sy eie storie op te maak? Nee, hulle sou probeer het om ‘n eenvormige storie die wêreld in te stuur. Tog is dit nie wat ons in die verhale van die Nuwe Testament kry nie. Hier lees ons verskillende verhale van verskillende mense. Die rede is waarskynlik omdat elkeen weet wat met hom of haar gebeur het en die verhaal wou hy of sy vertel, maak nie saak wat die ander ervaar het nie. So gesien bevestig die verskeidenheid van verhale eintlik juis die outensiteit van elke verhaal van Jesus se opstanding.

Histories gesien is die waarskynlikheid dus groter dat Jesus wel opgestaan het as dat dit alles sommer net stories is. Die mense wat die opstanding ontken het eintlik meer om te verduidelik as die mense wat die opstandig erken.

Dink nou na oor die volgende:

  • Wat sou jy sê beteken die opstanding vir jou?

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Die seëls van Openbaring – Hermie van Zyl

Michelle vra:

Ek wil graag weet hoeveel tyd verloop tussen die sesde seël (die wederkoms) en die sewende seël?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Dis seker ’n logiese vraag om te vra as mens kyk hoe die sewe seëls in die Openbaringboek aan die orde gestel word. In Op 6 word vertel hoe die eerste ses seëls een na die ander oopgemaak word. Hulle stel die oordele van God oor die aarde in werking. Maar dan is daar ’n onderbreking tussen die 6e en 7e seël: Op 7 vertel vervolgens van die verseëling van die 144 000, asook van die groot menigte wat voor die troon van God versamel. En eers in Op 8 word dan vertel hoe die 7e seël oopgemaak word. ’n Mens kan dus seker vra hoeveel tyd daar tussen die 6e en 7e seël se oopmaak verloop het. Maar gesien binne die groter raamwerk van Openbaring is so ’n tydsvraag nie beantwoordbaar nie en ook nie vreeslik belangrik in terme van wat Openbaring aan ons wil meedeel omtrent die einde nie. Kom ek verduidelik.

In Openbaring is daar drie groepe beelde wat die oordele van God op aarde in werking stel: Eerstens die sewe seëls, (Op 6; 8:1); tweedens die sewe trompette (Op 8:2; 8:6-9:21; 11:15-19); en derdens die sewe wraakbakke (15:7; 16:1-21). Die groot vraag is wat die verhouding tussen die drie groepe is. Indien dit so verstaan word dat hulle in kronologiese volgorde geplaas moet word – met ander woorde, dat hulle opeenvolgende gebeure beskryf – ontstaan die vraag hoe hierdie gebeure in verband gebring moet word met die verloop van die wêreldgeskiedenis. Want elke groep beskryf min of meer dieselfde oordele en dieselfde afloop van gebeure, naamlik die eindoordeel. Daarom verstaan geleerdes dit eerder so dat die drie beeldgroepe parallel geplaas moet word; met ander woorde, hulle beskryf elkeen dieselfde tyd en gebeure, naamlik die straf van God wat die wêreld – meer spesifiek die ongelowiges – tref. Die oordele word ook so beskryf dat die tweede en derde beeldgroepe teruggryp na die vorige groep; hulle “herhaal” dus die vorige straf en oordele, maar terselfdertyd kom daar ook nuwe elemente by soos die wêreld na sy einde toe spoed. Verder, daar is ’n toename in intensiteit te bespeur. Byvoorbeeld, by die sewe seëls word ’n kwart van die mense getref, by die trompette ’n derde, en by die wraakbakke word al die mense geraak; laasgenoemde loop dus uit op die totale vernietiging van die bestaande orde, wat op sy beurt die koms van die nuwe hemel en aarde inlui. Hierdie siening van die drie beeldgroepe, wat deur die meeste uitleggers van Openbaring aanvaar word, word “progressiewe parallellie” genoem. Dit beteken dat die drie groepe parallelle beskrywings van dieselfde eindgebeure is, maar dat die tweede en derde groepe dit elke keer ’n stappie verder neem.

As mens dit so sien, word dit duideliker dat dit hier glad nie oor berekenings gaan van hoe lank elke groep oordele sal duur of wat die tydsverloop is tussen byvoorbeeld die sesde en sewende seël nie. In elk geval is daar ook ’n soortgelyke verposing tussen die sesde en sewende trompet (vgl 10:1-11:14). Met hierdie “verposings” word die tydstempo van die verhaal verstadig; daar word as ’t ware asem geskep om die toneel tydelik te verskuif na die hemel en die leser ’n blik te gee op wat “agter die skerms” aan die gebeur is terwyl God se oordele die aarde tref.

Nog ’n rede waarom aanvaar word dat die drie beeldgroepe dieselfde gebeure beskryf, is die volgende. Ons vraagsteller noem in haar vraag dat die sesde seël oor die wederkoms van Jesus handel. Op 6:12-17 sê dit weliswaar nie in soveel woorde nie, maar beskryf dit eerder as die aanbreek van die “groot dag” van oordeel. Maar saaklik kan ons dit wel gelykstel aan die wederkoms van Jesus. Maar nou beskryf die sewende trompet ook die laaste oordeel (11:15-19), en so ook die sewende wraakbak (16:17-21 en verder). Die punt is: ons kan tog nie drie afsonderlike en kronologies opeenvolgende wederkomste aanvaar nie. Dit is dus waarskynliker dat die skrywer die drie beeldgroepe gebruik om telkens dieselfde gebeure te beskryf, maar dan, soos reeds gesê, in stygende intensiteit.

Verder, gee die “verhaaltyd” dalk vir ons ’n aanduiding van hoeveel tyd verloop tussen die sesde en sewende seël? (Daar is ’n verskil tussen die tyd wat gebeure in die werklike tyd sou neem om af te loop en die tyd wat in die verhaal aan die gebeure toegeken word; laasgenoemde is dan die “verhaaltyd”.) Ongelukkig help die verhaaltyd ons nie veel nie, want nadat die sesde seël se gebeure afgeloop het (6:17), word die tussen-toneel of verposing van Op 7 bloot met ’n “daarna” (letterlik: “na hierdie dinge”) aan die orde gestel (7:1; vgl ook die “hierna” van 7:9). En die skrywer gee ook geen aanduiding van hoe lank die gebeure van Op 7 geduur het nie. Die volgende wat ons lees is wanneer die sewende seël oopgemaak word (8:1). Die skrywer is dus kennelik nie geïnteresseerd in tydsverloop nie, maar eerder in die koppeling van gebeure en die simboliese impak daarvan. Die punt is: die verhaaltyd gee ons geen aanduiding van hoeveel tyd daar tussen die sesde en sewende seël verloop nie. Dit sou dus blote spekulasie wees om afleidings te maak oor hoeveel tyd sou verloop tussen die finale oordeel of wederkoms van Jesus (sesde seël) en die sewende seël (hervatting van oordele van God). Mens kan nie die gebeure van die sesde en sewende seël so tydsgewys aan mekaar verbind nie; dis nie die bedoeling van Openbaring nie.

Ten laaste, waarom sou dit die sesde (voorlaaste) seël wees wat die laaste oordeel beskryf, maar by die volgende twee beeldgroepe is dit die sewende (laaste) trompet en wraakbak? Dit is omdat die sewende seël in werklikheid nie ’n afsonderlike inhoud het nie maar die sewe trompette se oordele in werking stel (8:1-2,6). Dit dui weer eens op die vervlegting van die drie beeldgroepe en is nog ’n rede waarom hulle as parallelbeskrywings van dieselfde eindgebeure beskou word.

Om saam te vat: Openbaring nooi ons nie uit om berekenings te maak oor presies hoe die eindgebeure sal verloop of hoe lank elke “fase” sal duur nie, maar maak eerder met allerlei beeldryke voorstellings ’n appèl op ons geloofsverbeelding. Dit gee ons ’n kykie in God se bestuur van die wêreld met die oog op die finale koms van sy koninkryk. Dié anti-Christelike magte sal deur Hom geoordeel en uiteindelik vernietig word. Gelowiges sal ook swaarkry, maar dis alles die geboortepyne van God se nuwe wêreld wat aan die kom is. Intussen mag ons in die geloof seker wees dat ons toekoms veilig is by God, maak nie saak watter lyding en verdrukking op ons pad kom nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl