Die seëls van Openbaring – Hermie van Zyl

Michelle vra:

Ek wil graag weet hoeveel tyd verloop tussen die sesde seël (die wederkoms) en die sewende seël?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Dis seker ’n logiese vraag om te vra as mens kyk hoe die sewe seëls in die Openbaringboek aan die orde gestel word. In Op 6 word vertel hoe die eerste ses seëls een na die ander oopgemaak word. Hulle stel die oordele van God oor die aarde in werking. Maar dan is daar ’n onderbreking tussen die 6e en 7e seël: Op 7 vertel vervolgens van die verseëling van die 144 000, asook van die groot menigte wat voor die troon van God versamel. En eers in Op 8 word dan vertel hoe die 7e seël oopgemaak word. ’n Mens kan dus seker vra hoeveel tyd daar tussen die 6e en 7e seël se oopmaak verloop het. Maar gesien binne die groter raamwerk van Openbaring is so ’n tydsvraag nie beantwoordbaar nie en ook nie vreeslik belangrik in terme van wat Openbaring aan ons wil meedeel omtrent die einde nie. Kom ek verduidelik.

In Openbaring is daar drie groepe beelde wat die oordele van God op aarde in werking stel: Eerstens die sewe seëls, (Op 6; 8:1); tweedens die sewe trompette (Op 8:2; 8:6-9:21; 11:15-19); en derdens die sewe wraakbakke (15:7; 16:1-21). Die groot vraag is wat die verhouding tussen die drie groepe is. Indien dit so verstaan word dat hulle in kronologiese volgorde geplaas moet word – met ander woorde, dat hulle opeenvolgende gebeure beskryf – ontstaan die vraag hoe hierdie gebeure in verband gebring moet word met die verloop van die wêreldgeskiedenis. Want elke groep beskryf min of meer dieselfde oordele en dieselfde afloop van gebeure, naamlik die eindoordeel. Daarom verstaan geleerdes dit eerder so dat die drie beeldgroepe parallel geplaas moet word; met ander woorde, hulle beskryf elkeen dieselfde tyd en gebeure, naamlik die straf van God wat die wêreld – meer spesifiek die ongelowiges – tref. Die oordele word ook so beskryf dat die tweede en derde beeldgroepe teruggryp na die vorige groep; hulle “herhaal” dus die vorige straf en oordele, maar terselfdertyd kom daar ook nuwe elemente by soos die wêreld na sy einde toe spoed. Verder, daar is ’n toename in intensiteit te bespeur. Byvoorbeeld, by die sewe seëls word ’n kwart van die mense getref, by die trompette ’n derde, en by die wraakbakke word al die mense geraak; laasgenoemde loop dus uit op die totale vernietiging van die bestaande orde, wat op sy beurt die koms van die nuwe hemel en aarde inlui. Hierdie siening van die drie beeldgroepe, wat deur die meeste uitleggers van Openbaring aanvaar word, word “progressiewe parallellie” genoem. Dit beteken dat die drie groepe parallelle beskrywings van dieselfde eindgebeure is, maar dat die tweede en derde groepe dit elke keer ’n stappie verder neem.

As mens dit so sien, word dit duideliker dat dit hier glad nie oor berekenings gaan van hoe lank elke groep oordele sal duur of wat die tydsverloop is tussen byvoorbeeld die sesde en sewende seël nie. In elk geval is daar ook ’n soortgelyke verposing tussen die sesde en sewende trompet (vgl 10:1-11:14). Met hierdie “verposings” word die tydstempo van die verhaal verstadig; daar word as ’t ware asem geskep om die toneel tydelik te verskuif na die hemel en die leser ’n blik te gee op wat “agter die skerms” aan die gebeur is terwyl God se oordele die aarde tref.

Nog ’n rede waarom aanvaar word dat die drie beeldgroepe dieselfde gebeure beskryf, is die volgende. Ons vraagsteller noem in haar vraag dat die sesde seël oor die wederkoms van Jesus handel. Op 6:12-17 sê dit weliswaar nie in soveel woorde nie, maar beskryf dit eerder as die aanbreek van die “groot dag” van oordeel. Maar saaklik kan ons dit wel gelykstel aan die wederkoms van Jesus. Maar nou beskryf die sewende trompet ook die laaste oordeel (11:15-19), en so ook die sewende wraakbak (16:17-21 en verder). Die punt is: ons kan tog nie drie afsonderlike en kronologies opeenvolgende wederkomste aanvaar nie. Dit is dus waarskynliker dat die skrywer die drie beeldgroepe gebruik om telkens dieselfde gebeure te beskryf, maar dan, soos reeds gesê, in stygende intensiteit.

Verder, gee die “verhaaltyd” dalk vir ons ’n aanduiding van hoeveel tyd verloop tussen die sesde en sewende seël? (Daar is ’n verskil tussen die tyd wat gebeure in die werklike tyd sou neem om af te loop en die tyd wat in die verhaal aan die gebeure toegeken word; laasgenoemde is dan die “verhaaltyd”.) Ongelukkig help die verhaaltyd ons nie veel nie, want nadat die sesde seël se gebeure afgeloop het (6:17), word die tussen-toneel of verposing van Op 7 bloot met ’n “daarna” (letterlik: “na hierdie dinge”) aan die orde gestel (7:1; vgl ook die “hierna” van 7:9). En die skrywer gee ook geen aanduiding van hoe lank die gebeure van Op 7 geduur het nie. Die volgende wat ons lees is wanneer die sewende seël oopgemaak word (8:1). Die skrywer is dus kennelik nie geïnteresseerd in tydsverloop nie, maar eerder in die koppeling van gebeure en die simboliese impak daarvan. Die punt is: die verhaaltyd gee ons geen aanduiding van hoeveel tyd daar tussen die sesde en sewende seël verloop nie. Dit sou dus blote spekulasie wees om afleidings te maak oor hoeveel tyd sou verloop tussen die finale oordeel of wederkoms van Jesus (sesde seël) en die sewende seël (hervatting van oordele van God). Mens kan nie die gebeure van die sesde en sewende seël so tydsgewys aan mekaar verbind nie; dis nie die bedoeling van Openbaring nie.

Ten laaste, waarom sou dit die sesde (voorlaaste) seël wees wat die laaste oordeel beskryf, maar by die volgende twee beeldgroepe is dit die sewende (laaste) trompet en wraakbak? Dit is omdat die sewende seël in werklikheid nie ’n afsonderlike inhoud het nie maar die sewe trompette se oordele in werking stel (8:1-2,6). Dit dui weer eens op die vervlegting van die drie beeldgroepe en is nog ’n rede waarom hulle as parallelbeskrywings van dieselfde eindgebeure beskou word.

Om saam te vat: Openbaring nooi ons nie uit om berekenings te maak oor presies hoe die eindgebeure sal verloop of hoe lank elke “fase” sal duur nie, maar maak eerder met allerlei beeldryke voorstellings ’n appèl op ons geloofsverbeelding. Dit gee ons ’n kykie in God se bestuur van die wêreld met die oog op die finale koms van sy koninkryk. Dié anti-Christelike magte sal deur Hom geoordeel en uiteindelik vernietig word. Gelowiges sal ook swaarkry, maar dis alles die geboortepyne van God se nuwe wêreld wat aan die kom is. Intussen mag ons in die geloof seker wees dat ons toekoms veilig is by God, maak nie saak watter lyding en verdrukking op ons pad kom nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Die Graf gaan oop en Jesus staan uit die dood op. Die ou era is verby en die nuwe era begin.(3) – Jan van der Watt

Deel 3 – Kan ons seker wees die opstanding het regtig plaasgevind?

Dikwels sê mense ons moet die opstanding “bewys”. Ons het egter nie video-opnames van die opstanding nie en ook nie foto’s nie. Ons het net die getuienis van die mense wat dit gesien het. Daarmee moet ons tevrede wees. In alle geval, dit is hoe geskiedenis werk. As jy die geskiedenis moet vertel van wat vandag met jou gebeur het, hoe gaan jy dit doen. Jy kan maar net opskryf wat jy onthou en vir mense gaan vra met wie jy in aanraking was om hulle weergawes te vertel. “Gebeure” gaan so vinnig verby as wat tyd verbygaan – al wat oorbly is ons herinnering daarvan. Dit is daarom gebroke (ons onthou nie alles nie) en geïnterpreteer (hoe die gebeure deur die bril van ons ervaring lyk – elke mens kan dit verskillend ervaar). Om dit nog beter te illustreer: hoe weet jy jy is jou ma se kind? (Kom ons sluit die DNA toetse wat eers onlangs ontwikkel is, uit). Jy het ook maar net haar en ander se woord, maar hulle kon gejok het, of jy kon in die hospitaal omgeruil gewees het, om nou maar voorbeelde te gebruik van wat kon gebeur het. Uiteindelik het jy ook maar net getuienis wat jy moet glo. Maar dit hang af van hoe betroubaar en oortuigend die getuienis is. Alle getuienis is nie ewe betroubaar nie.

Ons het presies dieselfde met die opstanding – ons het baie getuienis (1 Kor 15:1-11) en bewyse dat die mense so vas in die werklikheid van die opstanding geglo het, dat hulle bereid was om hulle lewens daarvoor te gee – nogal ‘n sterk oortuiging. Maar uiteindelik moet ons hulle getuienis ook glo. Kom ons kyk kortliks na ‘n paar van die argumente wat in die debat ‘n rol speel.

  1. Waarom is dit so belangrik dat die opstanding werklik plaasgevind het?

Vir die Christen is dit belangrik dat die opstanding wel plaasgevind het, omdat ons geloof in die toekoms op die opstanding gebou is – as Jesus nie opgestaan het nie, het ons geen bewys dat ons wel ‘n toekoms of ‘n lewe na die dood het nie. Dan is daar ook geen werklike bewys dat Jesus meer as bloot ‘n mens was nie. Aan die ander kant, as die opstanding wel plaasgevind het, het ons die werklike lewende hoop op die lewe hierna. Daarom is dit nogal belangrik dat die opstanding wel plaasgevind het.

  • Daisy die koei?!

Kom ons kyk hoe die opstanding geskiedkundig in ons geloof funksioneer. Ons gaan die voorbeeld van Daisy die koei neem.

Veronderstel ons bly op ‘n plaas en eet pap en melk elke oggend vir ontbyt. Sonder melk eet ons nie ons pap nie. Piet moet elke oggend die melk bring. Een oggend sit ons reg met ons pap… toe kom Piet in en sê: “Geen ontbyt vir julle vanoggend nie”. Moet ons hom glo of nie? Wel, daar is verskillende moontlikhede: a) Ons ken Piet as ‘n grapmaker. Is hy alweer besig met sy streke? b) Piet jok vir ons, maar normaalweg jok hy nie sommer nie. c) Ons sien geen rede vir sy opmerking nie – miskien het daar iets gebeur en dan praat hy tog die waarheid… wie weet? Ons het dus geen manier om te bepaal of Piet regtig die waarheid praat nie. Ons moet na omstandighede kyk en dinge uitredeneer. Ons is dus op onsself en ons argumentasievermoë aangewese om te bepaal of Piet die waarheid praat of nie. Dit is hoe filosofie werk. Jy bou teorieë met jou verstand en probeer dan mense oortuig van die waarheid.

Maar kom ons gaan nou ‘n stappie verder. Piet sê: “Kom saam”. Saam met hom is ons deur die drif tot by die kraal. Daar lê Daisy morsdood – Groenie die mamba seil net daar tussen die lang gras in. Daisy is ons melkkoei. Sonder haar is daar nie melk op die plaas nie. Nou skielik is wat Piet sê waar, want die fisiese, historiese gebeure van Daisy wat dood is, maak sy uitspraak waar. Waar gaan die melk vandaan kom as Daisy nie meer daar is nie? Kyk mooi: die historiese gebeurtenis maak die uitspraak waar. Net so maak die opstanding van Jesus dit wat Christene oor Jesus en die ewige lewe sê, waar. As Jesus histories opgestaan het, kan dit nie anders as dat daar ‘n God van lewe is en dat daar lewe na die dood is nie. 

 ‘n Tweede belangrike ding om op te let is dat die een historiese gebeurtenis tot baie uitsprake kan lei, solank die uitsprake ‘n logiese verband met die gebeurtenis het. Ma sê byvoorbeeld: “Wat gaan ons nou eet?”. Pa sê: “Ai, dit is ‘n finansiële verlies”. Boetie sê: “Met wie gaan ek nou speel?”, want hy het altyd lekker met Daisy gespeel. Al die uitsprake is waar, want dit hou logies verband met die historiese gebeurtenis. Net so is daar in die Bybel baie uitsprake oor Jesus en die opstanding (daar is selfs vier evangelies wat op verskillende maniere die [een] storie van Jesus vertel). Die uitsprake moet dus nie as “teenstrydighede” gesien word nie, maar moet saam met mekaar gelees word.   

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Die Graf gaan oop en Jesus staan uit die dood op. Die ou era is verby en die nuwe era begin.(2) – Jan van der Watt

Hoe belangrik is die opstanding vir ons?

Die opstanding van Jesus vorm die sentrum van wat ons glo, omdat dit vir ons die nuwe era, die toekoms kom oopsluit het. Maar wat beteken die opstanding nog vir ons?

  1. Die opstanding wys dat Jesus regtig die Seun van God is. Ja, God is regtig aan sy kant.

Die Jode het ‘n messias (die gesalfde koning wat Israel moes kom red) verwag, maar wie sou hy wees? Ons weet dat daar ‘n paar ouens in Jesus se tyd was wat almal gesê het dat hulle die messias is, maar almal het misluk. Hoe sou die mense weet wie die regte messias is?

Hulle het veral twee belangrike maatstawwe gehad om te besluit of dit die messias was of nie:

  1. Die messias sou die profesieë van die Ou Testament waar maak. Daarom kry ons soveel aanhalings in die Nuwe Testament uit die Ou Testament – dit wys dat Jesus in die voetspore van die Ou Testament loop.
  2. Die messias sou definitiewe tekens toon dat hy die krag van God in hom Hy sal dinge kan doen wat geen mens kan doen nie, omdat God in en deur hom werk. Dit is waarom Jesus wonders doen – dit wys Hy het daardie krag van God wat in en deur Hom werk. Die opstanding is natuurlik die groot en finale teken – net God kan mense uit die dood terugbring en as Jesus nou uit die dood opstaan kan dit net een ding bewys: God is aan sy kant want God het Hom opgewek… wie anders? As God hom opgewek het, beteken dit God is aan sy kant. Dit beteken logies dan ook dat Hy nie sal jok nie en dat sy boodskap met ander woorde waar is.

Kyk na die volgende in die lig van bogenoemde punte en sê elke keer hoe jy dink die stukkie wat jy gelees het in pas by een van die twee maatstawwe:

Joh 10:17-18………………………………………………………………………………………………………………………

Joh 19:36-37………………………………………………………………………………………………………………………

Luk 24:4-7…………………………………………………………………………………………………………………………

  1. Die opstanding gee vir ons as gelowiges nuwe hoop op die toekoms.

Die opstanding, soos ons reeds gesien het, waarborg vir elke gelowige ‘n plek in die hemel by God. Dit is die waarborg dat daar vir ons ‘n toekoms na die dood wag.

  • Daar is lewe na die dood.

Lees 1 Kor 15:12, 20-22, 50-58. Wat sê hierdie gedeeltes oor die lewe na die dood?…………….

……………………………………………………………………………………………………………………………………

  • God self is die waarborg van hierdie lewe na die dood

Lees 1 Pet 1:3-5 en Kol 1:4-5. Wat dink jy sê hierdie gedeeltes vir ons?……………………………..

…………………………………………………………………………………………………………………………………..

Die hoop en ons toekoms word in die hemel bewaar. Dit is ‘n ander manier om te sê dat wat God alles vir ons beloof het oor die toekoms veilig in die kluis van die hemel weggesluit lê. Niemand kan dit wegneem nie en so seker as wat God daar is, sal ons die dinge wat Hy beloof het, kry.

  • Ons waardesisteme (hoe ons dinge in hierdie wêreld sien) verander ten goede

Lees 1 Kor 15:29-34. Hoe beskryf Paulus hier sy houding teenoor die dinge wat nou in die gewone wêreld met hom gebeur?……………………………………………………………………………………

…………………………………………………………………………………………………………………………………..

As jy uitsien na die lewe hierna, sal die dinge van hierdie lewe jou nie soveel pla nie, want dit is tydelik. Die ewige lê voor. Jy is nie gemaak om vir ewig in hierdie wêreld te hou nie, maar in jou toekoms lê die ewigheid. Daarom moet jy liewer daarop fokus.

  • Ons kan uitsien na die wederkoms wanneer Jesus ons kom haal.

Lees Open 1:7 en 1 Tess 4:13-18. Jesus het opgestaan, wat beteken dat Hy leef! Daarom doen hy dinge vir ons in die hemel (lees 1 Joh 2:1-2). Daarom weet ons ook dat Hy ons weer sal kom haal. Omdat Jesus opgestaan het, kan daar ‘n wederkoms wees waarna ons kan uitsien.

As jy nou die betekenis van die opstanding in jou eie woorde moet saamvat, hoe sal jy dit doen?….

…………………………………………………………………………………………………………………………………………..

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Die Graf gaan oop en Jesus staan uit die dood op. Die ou era is verby en die nuwe era begin. – Jan van der Watt

Alles het verander toe die graf op die derde dag oopgegaan het – die ou era was toe verby en die nuwe era het begin:

  • Die ou era beteken die era waarin die dood nog baas gespeel het. Mense het nie regtig geweet of daar ‘n lewe na die dood is nie. Hulle het gedink dat die einde van elke mens sy fisiese dood was. In die kloue van die dood en doderyk was hy of sy vasgevang.
  • Die nuwe era wat na Jesus se opstanding gekom het, het gewys dat God kragtig genoeg is om sy mense uit die kloue van die dood terug te bring sodat hulle vir ewig by Hom kan wees. Dit het Hy met Jesus bewys.

deel 1 – Hoe belangrik is die opstanding van Jesus volgens die Bybel?

1. Al vier Evangelies eindig met die beskrywing van Jesus wat opgestaan het (Mat 27:57-28:15; Mark 15:42-16:8; Luk 23:50-24:12; Joh 19:28-20:10). Die verhaal is basies dieselfde, maar elke Evangelie het sy eie hoek waaruit die vertelling gemaak word.

  • Gaan die gedeeltes deur en kyk wat jy dink eie is aan elke vertelling:
    • Matteus……………………………………………………………………………………………………………
    • Markus……………………………………………………………………………………………………………
    • Lukas………………………………………………………………………………………………………………
    • Johannes………………………………………………………………………………………………………….

Die volgende is interessant as ‘n mens na die verhale kyk:

  • Daar is geen beskrywing van hoe Jesus uit die graf uitgekom het nie. Dit is ‘n heilige oomblik wat nie beskryf word nie. In die apokriewe boeke word daar wel vertel hoe Jesus met ‘n helder lig uit die graf uitgekom het.
  • Daar word verskeie klein opmerkings gemaak om te wys dat Jesus se liggaam nie verwyder is nie, maar dat Hy werklik fisies opgestaan het, soos die doeke wat in die graf gekry is, die soldate wat verskrik na die priesterhoofde toe is (Mat 28:11) en selfs die bonatuurlike verskyning van die engele.
  • Die “drie dae” wat Jesus in die graf was, pla mense dikwels. (Jesus is Vrydagmiddag laat begrawe en op Sondagoggend vroeg was hy nie meer daar nie). Volgens hulle berekeninge was hy nie ‘n volle drie dae in die graf nie. Dit hang natuurlik daarvan af hoe ‘n mens dit bereken – die Joodse dag het 6 uur die aand (met sononder) begin. Jesus is Vrydag voor 6 uur begrawe (daarom het hulle so vinnig gemaak om Hom van die kruis af te kry). Die Jode sou dus sê dat hy op Vrydag (dag 1) begrawe is. Die volgende dag (Saterdag, dag 2) het op 6 uur die Saterdagaand geeïndig. Toe het dag 3 (Sondag) begin. Jesus was dus oor drie dae in die graf en nie 3 volle 24-ure nie.
  • In die Johannesverhaal kry ons nogal ekstra inligting oor mense wat nie so omvangryk is in die ander Evangelies nie. Nikodemus, Jesus se nagdissipel uit die top kringe van die Joodse raad, word genoem. Die resies (en kompetisie) tussen Petrus en die geliefde dissipel word beskryf, wat waarskynlik dui op so ‘n kompetisie tussen die twee apostels na Jesus se hemelvaart. Maria wil Jesus aan sy voete vashou (Joh 20:17) maar Jesus verbied haar. Die rede is omdat Maria Jesus as mens wil behou en op die stadium nie verstaan het dat Jesus moet opvaar nie. Jesus is nou die opgestane Heer. Johannes klee sy verhaal met ander woorde baie meer teologies in. Dit wys dus vir ons hoe die mense in die ou tyd geskiedenis geskryf het. Die boodskap van die geskiedenis was net so belangrik (en dikwels selfs belangriker) as die gebeure self.

2. Paulus skryf ‘n lang hoofstuk (1 Kor 15:1-34) oor die opstanding van Jesus, waarin hy die belangrikheid daarvan onderstreep.

  • Hierdie is ‘n lang gedeelte wat eintlik vir sigself spreek. Lees dit deur en maak ‘n lys van wat jy as die hoofargumente in die gedeelte sien:…………………………………………………………………………..

………………………………………………………………………………………………………………………………………

………………………………………………………………………………………………………………………………………

Let op die volgende interessante dinge:

– Paulus laat die hele Christelike boodskap staan of val met die opstanding. As Jesus nie opgestaan het nie, is ons geloof tevergeefs en is ons die bejammerenswaardigste van alle mense. Waarom dink jy sê hy dit? ………………………………………………………………………………………………………………………….

Die rede lê by die eras wat gewissel het. As Jesus nie opgestaan het nie, het ons geen bewys dat daar lewe na die dood is nie. Dan het God nie met Jesus geslaag nie – hoe weet ons dan of Hy met ons sal slaag. As Jesus egter uit die dood opgestaan het, wys dit dat God die krag het om dit te doen en dat daar lewe na die dood is. Dan het ons ook hoop (1 Kor 15:12). Dit is dan ook wat hy bedoel as hy sê ons hoop nie net in hierdie lewe op Jesus nie – daar is vir elke Christen ‘n toekoms. Dit sê die opstanding vir ons.

– Die bewys dat Jesus opgestaan het kan onder andere afgelei word uit sy verskynings aan mense. Paulus noem ‘n klomp (1 Kor 15:4-10) en moedig die destydse lesers indirek aan om te gaan vra as hulle onseker is – baie van die mense leef nog, sê hy. Paulus is dus nie bang dat die werklikheid van die opstanding van Jesus verkeerd bewys sal word nie.

– Die dood, wat mense van God af weggehou het, is deur Jesus se opstanding vernietig (1 Kor 15:26-28). Dit beteken dat as iemand sterf, die dood daardie persoon nie meer vir altyd daar kan hou nie. Jesus is nou in beheer – Hy sê wie leef vir ewig en wie nie.

– Die opstanding is altyd die afronding van die kruis. 1 Kor 2:1-5 beskryf die kruis as sentrum van Paulus se prediking, maar dit sluit altyd die opstanding in. Sonder die opstanding sou die kruis nie veel sin gemaak het nie. 

3. Ander skrywers van die Nuwe Testament baseer ook hulle boodskap geheel op die opstanding. Kom ons kyk na ‘n paar:

  • Lees 1 Pet 1:3-5. So begin Petrus sy brief. Wat sou jy sê wil hy hier vir sy lesers oordra? ….

…………………………………………………………………………………………………………………………………

Deur met hierdie woorde te begin, gee Petrus eintlik die raamwerk vir die res van sy boodskap. Jesus het opgestaan en daarom het ons hoop wat by God vir ons bewaar word. Dit maak die huidige en toekomstige lewe die moeite werd. Daarom kan sy boodskap ook geglo word.

  • Lees Open 1:17-18. Hier beskryf Jesus Homself. Hy is die een wat dood was maar nou lewe. En Hy het die sleutels van die dood en die doderyk. Die dood en doderyk word met ‘n tronk vergelyk. Die tronkbewaarder kan sê wie bly binne en wie gaan uit. Jesus het nou die sleutels van die tronk van die dood en doderyk. Hy kan sê wie bly in die doderyk en wie leef saam met Hom. Die nuwe era is daar en Jesus is Heer van hierdie nuwe era. 

Om terug te kom by die vraag: hoe belangrik is die opstanding volgens die Nuwe Testament? Die antwoord is kort: Sonder die opstanding is daar geen Evangelie nie, het die Christene geen hoop nie en is ons godsdiens tevergeefs. En die rede? Die opstanding bewys dat daar lewe na die dood is en dat Jesus daardie pad vir ons oopgemaak het.

Skrywer : Prof Jan van der Watt