DIE WÊRELD SAL NOOIT WEER DIESELFDE WEES NIE – DIE LAASTE GEBOORTEVERHALE EN JESUS AS KIND – Jan van der Watt

Soos ons reeds gesien het, het net Matteus en Lukas meer uitgebreide verhale oor die geboorte van Jesus. Markus het glad nie enige verhaal nie, terwyl kort verwysings na Jesus se geboorte hier en daar in die res van die Nuwe Testament verspreid lê. Kom ons kyk gou daarna. 

  1. i) Johannes oor Jesus se geboorte

Johannes sê net: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.” (1:14). Dit is sy kersverhaal. Hoekom? Johannes weet van Maria, Jesus se moeder (2:3; 19:25), van Josef sy pa (6:42), van sy broers (7:3) en so aan. Maar hy stel nie belang is sy geboorte nie, want eintlik is die waarheid anders: Jesus was van die begin af daar en sy werklike Vader is God self. Johannes fokus dus op Jesus se “goddelike geboortelyn” en gee nie veel om vir die aardse storie van die geboorte nie. Dit beteken nie dat Johannes die aardse geboorte ontken nie, maar hy lê net nie klem daarop nie.

Openbaring het ook ‘n kort opmerking oor Jesus se geboorte: “Sy het ’n kind in die wêreld gebring, ’n seun, bestem om al die nasies met ’n ystersepter te regeer” (Open 12:5). In Openbaring 12 gaan dit oor die geskiedenis van die wêreld in die lig van die duiwel se teenwoordigheid. Hy wil Jesus verslind (die duiwel word as draak voorgestel), maar dit keer nie dat Jesus in die wêreld gebore word en uiteindelik die regter en koning van hierdie wêreld word nie. Die duiwel staan ook by die krip van Jesus, maar hy staan as die magtelose daar.  

  1. ii) Paulus oor die geboorte van Jesus

 Behalwe vir die kruis en opstanding van Jesus stel Paulus baie min in die aardse lewe van Jesus belang. Hy het minder as tien verwysings na die aardse lewe van Jesus, buiten sy verwysings na die kruis en opstanding, wat natuurlik volop is. Van sy verwysings na Jesus se geboorte is die volgende – die verse is hier afgedruk, maar as jy tyd het, lees gou die kontekste van die verse ook:

  • Gal 4:4-5 – “Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit ’n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe 5om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word”.
  • Rom 1:3 – “As mens is Hy uit die geslag van Dawid gebore.”
  • Rom 9:5 – “uit hulle is die Christus as mens gebore”.

Wat sou jy sê was Paulus se idee van kersfees as jy na hierdie verse kyk?

…………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………..

 

Ons kan ten minste die volgende uit Paulus se kersverhale aflei:

  • Dit was belangrik om raak te sien dat Jesus uit die Jode gebore is (m.a.w. die volk van God aan wie God al sy beloftes gemaak het) en dat hy in ‘n koninklike lyn staan, naamlik die lyn van Dawid. (Vgl die begin van Matteus se geslagsregister). Jesus staan nie los van die Israeliete, die volk van God nie, maar staan vierkantig binne-in.
  • Soos enige Israeliet was hy aan die wet onderworpe (kyk ook hoe Lukas beklemtoon dat Jesus sy tempelverantwoordelikhede nagekom het).
  • God staan agter alles – Hy bepaal die tyd en Hy stuur sy Seun. (Dit weerklank die boodskap van beide Matteus en Lukas).

Hierdie afleidings het niks te doen met ‘n pap babatjie in ‘n bedjie nie, maar is swaar teologiese uitsprake oor die kind wat gebore is. Jesus se latere lewe is reeds in die kersverhaal sigbaar.

iii) Jesus se kinderdae

 Die Nuwe Testament is byna tjoepstil oor Jesus se kinderdae. Al inligting wat ons daaroor het, is uit Luk 2:39-52 (lees dit gerus). Jesus is Nasaret toe en het daar gegroei en sterk geword, begenadig deur God (sien ook Mat 2:23). Dan word die verhaal vertel van die besoek aan die tempel toe Jesus 12 jaar oud was. Daar proklameer hy dat sy Vader God is en dat Hy meer aan God gehoorsaam moet wees as aan sy aardse ouers. Ook as kind was God dus by Jesus.

Die rede vir die swye oor Jesus se kinderdae is omdat die werklike openbare bediening van Jesus eers na sy dood begin. Sy kindertyd is dus nie belangrik vir die boodskap oor Hom nie.

Omdat die Bybel so stil is oor die kinderdae van Jesus, vind ons nogal materiaal daaroor in buite-Bybelse bronne (die apokriewe boeke). Een van hulle, die Kindheidsevangelie van Tomas[1] vertel nogal baie verhale oor Jesus. Dit is egter deur ‘n persoon(e) geskryf wat meer geestelik gedink het en niks van die liggaam/materie gedink het nie; dit was vir hulle sleg (Gnostici). Daarom doen Jesus snaakse dinge in die verhale, soos om mense dood te maak, ens. Dit is omdat die liggaam nie so belangrik is nie. 

[1] Hierdie verhale is in die publikasie Die Apokriewe van die Ou en Nuwe Testament (CUM) beskikbaar.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




DIE WÊRELD SAL NOOIT WEER DIESELFDE WEES NIE – Lukas se geboorteverhaal – Jan van der Watt

  1. ii) Die verloop van Lukas se kersverhaal

 Lukas se geboorteverhaal lyk heeltemal anders – die donkerte maak plek vir vreugde en lied.

Lees Luk 1:5-2:52 en skryf alles neer wat jou in die verhaal tref.

……………………………………………………………………………………………………………………………………….

……………………………………………………………………………………………………………………………………….

Die verloop van Lukas se verhaal lyk so:

Lukas se geboorteverhaal het ook interessante kenmerke van sy eie:

  1. a) Daar word baie gesing oor Jesus
  • Tel hoeveel liedere jy in Luk 1:5-2:52 kan kry……………………………………………………………….

 

Lofliedere in die kersverhaal van Lukas

Plek in Lukas

Wie se lied is dit?

1:42-45

Loflied van Elizabeth

1:46-55

Loflied van Maria

1:68-79

Loflied van Sagaria

2:14

Loflied van die engele

2:29-32

Loflied van Simeon

Hieruit kan ons onder andere die volgende aflei:

  • As Lukas oor Jesus se geboorte skryf, gaan hy aan die sing. Feitlik al die groot figure in die verhaal sing elkeen sy of haar eie lied. Die liedere is ook egalig deur die hele verhaal versprei. Nes ‘n mens klaar “gesing” het, moet jy alweer begin sing. Jesus se geboorte is iets om oor te sing. Liedere is destyds vir spesiale geleenthede geskryf om iemand te eer. Dit maak die liedere vir Jesus dan ook spesiaal en dui op die belangrikheid van die kind wat gebore is. 
  • Vreugde en lof speel ‘n baie belangrike rol in die verhaal – die liedere wys dit, maar dit word ook aanmekaar genoem. Merk miskien al die plekke waar vreugde/blydskap/lof in die deel voorkom, bv. 1:14,44,64 en baie ander. Jesus se verhaal is inderdaad een van vreugde en vrede.
  1. b) Liedere het destyds hard gepraat

Liedere was destyds die manier waarop inligting versprei is. Mense kon nie lees nie en daarom is hulle liedere geleer. Die liedere het die belangrikste inligting wat hulle moes weet bevat en soos hulle dus sing, leer hulle sommer. Dit beteken dus dat ‘n mens mooi moet kyk na die antieke liedere, want hulle vertel ‘n mens sommer alles wat jy regtig moet weet.

  • Som nou vir jouself die belangrikste inhoud van elkeen van die liedere (soos in die blokkie hierbo genoem) op en kyk wat wil Lukas vir ons oor Jesus sê:

…………………………………………………………………………………………………………………………………

…………………………………………………………………………………………………………………………………

…………………………………………………………………………………………………………………………………

Het jy van die volgende motiewe gekry (dit is nie alles nie, maar gee vir ons ‘n ideë waaroor die vroegste Christene gesing het as hulle aan Jesus gedink het:

  • Vreugde/vrede/geluk kom 1:44-45,47-48,68,79; 2:14
  • God hou sy beloftes 1:54-55,70,72
  • God bring verlossing, ook van sondes 1:47,68-69,71-77; 2:30
  • Magshebbers/rykes/hoogmoediges gaan swaarkry 1:51-53
  • Behoeftiges/geringes gaan baat 1:52-53

Weer sien ons hoe die latere lewe in die geboorteverhaal weerklink: God wat sy beloftes hou en dit bring vreugde vir almal; verlossing van sonde; Jesus wat die sosiale grense kom omkeer het deur die belangrikes wat net op hulleself vertrou op hulle plek te kom sit en die geringes wat geen mag het nie, te kom help. Dit is tog waaroor die boodskap van Jesus gaan… Mense het reeds by sy geboorte daaroor gesing.

Skrywer:  Prof van der Watt




DIE WÊRELD SAL NOOIT WEER DIESELFDE WEES NIE – Die geborteverhaal volgens Matteus (vervolg) – Jan van der Watt

  1. c) ‘n Verhaal in die profesieë van die OT toegedraai

 Gaan 1:18-2:23 weer deur en kyk hoeveel aanhalings uit die Ou Testament jy kan kry:

………………………………………………………………………………………………………………………………………….

………………………………………………………………………………………………………………………………………….

Elke afdeling van die verhaal bevat ‘n aanhaling uit die Ou Testament:

 

AANHALINGS UIT DIE OU TESTAMENT IN DIE KERSVERHAAL

Verse in Matteus

Ou Testamentiese aanhalings

Waar dit voorkom in die verhaal

1:23

Jesaja 7:14

Die geboorteverhaal – Jesus se naam

2:6

Miga 5:1

Herodusverhaal – oor die leierskap van Jesus

2:15

Hosea 11:1

Vlug na Egipte – Jesus sal uit Egipte geroep word

2:17-18

Jeremia 31:15

Kindermoord – oor die hartseer

2:23

Nie seker waar dit staan nie

Terugkeer uit Egipte – oor Jesus se naam

 

Matteus is die evangelie vir die Jode. Die Ou-Testamentiese aanhalings wys dus dat die profesieë van die Ou Testament in Jesus vervul is. Die God van die Ou Testament is dus die Een wat in Jesus aan die werk is, want wat Hy beloof het word daar waar.

Dit was vir die Jode nogal belangrik. Jesus het nie ‘n nuwe godsdiens kom stig nie, maar is die voorsetting van die pad wat God met sy volk wil loop. Waar Jesus nou is, is God teenwoordig. ‘n Mens besef eers hoe groot die krisis vir die Jode moes wees as jy besef dat die Jode wat Jesus verwerp het, eintlik volgens die boodskap God verwerp het en nie meer sy volk was nie. Dit bring ons by die volgende belangrike saak.

  1. d) Moord op kersfees

Die geboorteverhaal weerspieël eintlik die latere lewe van Jesus. Hy is Immanuel, God by ons, die leier wat voorspel is (1:23; 2:6) maar soos Herodus Hom wil doodmaak en inderdaad kinders, so gaan die werklikheid van die sonde, die haat en geweld, Jesus se lewe ook omvou. Jesus het nie in ‘n perfekte wêreld gekom nie, maar juis daarom het Hy gekom. Om die geweld van die sonde van die wêreld weg te neem en vrede te bring (1:21).

Die kersverhaal van Jesus in Matteus is nie “mooi” nie; dit is geweldadig; maar dit illustreer ook waar die enigste hoop in so wêreld lê. By die een wat ons van ons sondes verlos omdat Hy God na ons toe bring in so wêreld.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




DIE WÊRELD SAL NOOIT WEER DIESELFDE WEES NIE – DIE VERHALE VAN MATTEUS EN LUKAS – Jan van der Watt

Die verhaal van Jesus se geboorte (die kersverhaal) word in Matteus 1-2 en Lukas 1-2 vertel. Behalwe vir die engel wat na Maria toe kom en Jesus wat gebore word, verskil die verhale heeltemal. Dit beteken nie een is verkeerd en die ander een reg nie. Dit beteken net dat die twee verhale op verskillende dinge wat gebeur het, fokus. Dit is nie ‘n geval van òf-òf nie maar van èn-èn. Daarom gaan ons die twee verhale afsonderlik bekyk.

 2.1) Matteus se verhaal van die geboorte van Jesus.

Matteus se verhaal begin met die geslagsregister. Ons het klaar daarna gekyk en gaan dit nie weer bespreek nie. Kom ons kry i) ‘n kort oorsig oor die verhaal van Matteus en dan ii) kyk ons na ‘n paar van die uitstaande kenmerke.

* Lees Matt 1:18-2:23. Skryf die opvallendste kenmerke van die verhaal neer.

………………………………………………………………………………………………………………………………………

………………………………………………………………………………………………………………………………………

  1. i) Die verloop van Matteus se kersverhaal

Daar is ‘n hele klomp interessanthede in die kersverhaal van Matteus:

  1. a) Die name van Jesus

Jesus word twee name gegee:

  • jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” (1:21)
  • hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons. (1:23)

Watter betekenis lê hierin volgens jou? ………………………………………………………………………………….

Die eerste naam (Jesus) dui daarop dat Jesus mense van hulle sonde verlos sodat hulle weer by God kan uitkom. Hy maak ons pad oop na God toe.

Die tweede naam (Immanuel) sê dat God na ons toe gekom het. God kom weer by ons uit!

Dit vorm die perfekte sirkel – ons by God en God by ons. Dit is wat Jesus gedoen het: Hy het die mens na God toe kom lei en God na die mense gebring. Daarom bereik die evangelie ‘n soort van hoogtepunt as die soldaat by die kruis uitroep: Waarlik, Hy is die Seun van God (27:54). Dit is wat ‘n mens moet raaksien as jy na Jesus kyk.

  1. b) ‘n Spesiale geboorte

Daar is al genoem dat geboortes eintlik ‘n refleksie is van die persoon se latere lewe omdat die karakter van die baba nie van die latere volwasse persoon verskil nie. Daarom was dit tipies van antieke geboorteverhale dat met die geboorteverhale van “groot persone” die tekens van sy grootheid reeds met sy geboorte sigbaar word.

Wat sou jy dink is spesiaal aan die geboorteverhaal van Jesus wat reeds op sy “grootheid” dui?

……………………………………………………………………………………………………………………………………….

……………………………………………………………………………………………………………………………………….

In Jesus se geval is daar verskeie dinge wat spesiaal is, bv. die maagdelike geboorte, die drome, die ster… dit wys wat se “tipe grootheid” Jesus het.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt