Het die skeppingsverhaal en sondeval werklik gebeur. – Jan van der Watt

Oor hierdie vraag is daar heelwat artikels in Bybelkennis.co.za en die gegewens hoef nie weer herhaal te word nie. Reaksie op die vraag kan dus gerus daar nagegaan word. Tog sou net een of twee opmerkings oor waarom mense so stry oor of die skeppingsverhaal regtig gebeur het en of Jona in die vis was (lees ook die artikel hieroor op Bybelkennis.co.za). Dit is belangrik om te onthou dat verskillende literatuurtipes op verskillende maniere kommunikeer. As jy bv. nie weet ‘n grappie ‘n grappie is nie, mag jy jou bloedig vererg. Of as jy dink ‘n gedig moet presies letterlik verstaan word, kan dit jou dalk aan die wonder sit, veral as daar staan dat jou meisie se oë sterre is en haar mond heuning! Daarom moet ons seker maak dat ons weet wat se soort literatuur ons lees as ons dele van die Bybel lees. Daar is byvoorbeeld gelykenisse, wonders, psalms, wysheidsliteratuur, briewe, geskiedenis en so kan ons aangaan.

As ons dus besluit die skeppingsverhaal in Genesis 1 is letterlike geskiedenis dan moes alles in ses dae en net so gebeur het. As mens egter dink dit is ‘n gedig wat die waarhede van die skepping weergee hoef alles nie net so te gebeur het nie. ‘n Gedig probeer mos nie presiese geskiedenis te vertel nie, maar wil die waarhede op ‘n mooi manier oordra. So sal Genesis dat op ‘n mooi manier wil vertel hoe wonderlike en sistematies die skepping is en dat dit uit die hand en deur die krag van God kom.

Dieselfde geld vir Jona. As Jona presiese geskiedenis wil weergee, moes daar ‘n vis gewees het wat hom ingesluk het en dan moet mens ook bespiegel hoe hy aan die lewe gebly het. Oordeel mens dat dit ‘n mooi simboliese beskrywing is wat die boodskap wil weergee hoe Jona verder en verder van God af weggeneem word en so besef hoe nodig hy God regtig het, dat lê die klem meer op die boodskap. Lees Jona 2 mooi en kyk wat jy dink dit presies is.

Die betekenis van die gedeeltes is dus direk afhanklik van watter tipe literatuur mens dink dit is. So word die betekenis van die teks  dikwels al bepaal voor ons nog begin lees!

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Geloof en verlossing – Jan van der Watt

Vraag

Hoef jy net te glo om gered te word?

Antwoord

Prof Jan van der Watt Antwoord:

In Johannes 3:18 lees ons: ‘Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie’. Lees egter ook: Jakobus 2:14: ‘Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie?’

Die Nuwe Testament skei nooit geloof en werke nie. As jy glo – dws in ‘n verhouding met Jesus staan en Hom navolg – sal jou gedrag dit wys. Om Jesus te volg beteken om ook soos Hy op te tree. Geloof en werke is dus twee sye van dieselfde saak. As Joh 3:18 en ander soortgelyke gedeeltes dus aandui dat mens moet glo is die veronderstelling dat hierdie geloof in jou gedrag bevestig sal word. Geloof staan nooit op sy eie nie, net soos goeie werke ook nie op sy eie staan nie. Al probeer jy hoe hard om goed te wees sonder om in Jesus te glo gaan dit jou niks met jou redding help nie. Net so is geloof sonder werke dood.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Wie is die hoer in Openbaring – Francois Malan

Michele vra:

Wie is die hoer in openbaring?

Openbaring 17:1,15,16; 19:2

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die naam wat op die voorkop van die hoer in Openbaring 17 geskryf staan, word in vers 5 in Grieks beskryf as ’n mustêrion, ’n geheim, iets waarvan die inhoud voorheen nie bekend was nie, maar aan sekere persone bekendgemaak is, ’n geheim wat net aan daardie persone bekend is. Haar naam word dan aangegee as ‘Babilon die Grote.’ Die engel verduidelik in verse 7-18 die geheim aan Johannes. In vers 18 word gesê dat die hoer die groot stad is, wat heerskappy oor die konings van die aarde het.

Toe Openbaring geskryf is het Babilon vir baie lank nie meer bestaan nie. Maar in Openbaring word die naam Babilon veral gebruik vir die stad Rome, wat op sewe heuwels gebou is (17:9), dit is die sewe koppe waarop die vrou sit, waarvan vers 7 praat. Daar is ook sewe konings wat die keisers van Rome voorstel. Vyf van hulle het al tot ’n val gekom en die sesde heers op die oomblik toe Johannes die gesig op Patmos gesien het. Keiser Domitianus het vir Johannes na die eiland Patmos verban. Hy is moontlik die sesde koning waarvan die teks praat. Die sewende het nog nie gekom nie (17:9-10). Die getal sewe stel in Openbaring volledigheid  of volkomenheid voor. Dit verwys na die volle tydperk van die heerskappy van die keisers van Rome.

Rome was die hoofstad en setel van die regering van die Romeinse ryk wat die hele ryk met geweld beheer en onderdruk het. Die verskillende lande wat aan Rome belasting moes betaal en die goewerneurs wat die lande namens Rome regeer word gesimboliseer deur vers 7 se tien horings van die dier wat die stad dra, soos vers 12 die goewerneurs ook konings noem.

Eintlik stel Rome alle goddelose magte voor. Rome is skuldig aan lasterlike afgodery, verleidelike immoraliteit en uitspattige luuksheid waarmee sy die nasies verlei (17:3-4). Volgens 17:6 vervolg en vermoor die goddelose magte ook die christene, die getuies van Jesus, soos Domitianus en sy voorganger Nero gedoen het. 

Die dier waarop die hoer ry wil die hele wêreld beheer en die tien goewerneurs wat genoem word konings wat nog nie die koningskap ontvang het nie, help die dier om die hele wêreld te beheer (vgl. 17:12-13). Hoofstuk 18 vertel van die val van die bose regerings van die wêreld en dat God uiteindelik die enigste oorwinnaar sal wees. Hy bly in beheer. Die ontugtige vrou is die hoer. Sy is die bose regerings en goddelose magte wat deur die vuurrooi draak, die Satan (Openb 12:9) gebruik word. Sy sal vernietig word deur dieselfde magte wat sy so wellustig gedien het (Openb 18:2-23).   

Skrywer: Prof Francois Malan




Die duisendjarige vrederyk – Jan van der Watt

Vraag

Ek wil graag weet of die 1000 jaar vrede op aarde gaan wees of in die Hemel? Waar in die Bybel kan ek dit duidelik sien? Party sê dis in die Hemel omdat die aarde dan heeltemal verwoes sal wees maar soos ek verstaan gaan Satan na die 1000 jr losgemaak word en die mense versamel uit die 4 hoeke van die aarde en ook die geliefde stad omring; maar hoe gaan satan dit doen as die aarde dan heeltemal verwoes is?

Antwoord

Prof Jan van dr Watt antwoord:

Die leser se vraag oor die duisendjarige vrederyk raak ’n interessante vraag aan, maar bevat ’n paar misvattings, daarom het hy of sy die vraag gestel. Op ons webwerf is daar ’n hele paar artikels wat oor temas rakende die 1000jarige vrederyk gaan – tik maar net ‘duisendjarige’ as soekterm in en die artikels oor die eindtyd, Openbaring 20, chiliasme ens. sal daar gekry kan word. Die duisendjarige vrederyk word op net een plek in die Bybel genoem, naamlik in Openbaring 20:1-6 (daar is ’n artikel oor die gedeelte op Bybelkennis.co.za). In Openbaring 19 word daar vertel van die aardse magte wat hulle rieme styfloop teen die Ruiter op die wit perd  (Jesus) en vernietig word. Hierdie magte (die dier en valse profeet wat in hf 13 as die trawante van Satan beskryf word word in 19:20 in die poel van vuur gegooi) is egter  net die instrumente van Satan. Die duiwel word dan vir 1000 jaar gebind en die martelare heers vir 1000 jaar. Die wêreld is dan nog nie vernietig nie – dit gebeur eers in hf 21:1. As die 1000 jaar verby is, word die Satan losgelaat en probeer weer vir ’n tydjie om Jesus te oorwin, maar sonder sukses. Die Satan word dan finaal vernietig (20:7-10) en dan vind die finale oordeel plaas, waarin die gelowiges wat goed gedoen het van die ongelowiges wat nie aan God gehoorsaam was nie, veroordeel word. Dan kom die nuwe Jerusalem (hf 21).

Die vraag hoe die 1000jarige vrederyk verstaan moet word, was van die begin van die Christendom af ’n vraag. Party het aarvaar dat dit fisies ‘n 1000 jaar is waar vrede op die aarde gaan heers, voor die Here finaal kom. Ander meen weer dat die 1000 jaar simbolies is, en nie presies duisend jaar nie. Hulle beweer dan dat dit byvoorbeeld die periode tussen die eerste koms van Jesus en die tweede koms beskryf. Jesus het immers die duiwel met sy eerste koms uitgewerp (Joh 12:31) en so geestelike vrede vir die gereddes gebring. As mens mooi na die teks kyk, sien mens dat net martelare gaan opstaan. Dit maak die volgende verklaring baie waarskynlik: In die Ou Testament het mense geglo dat goeie gelowiges ’n lang en gelukkige lewe uit die hand van God gaan ontvang. Dit is hulle beloning vir hulle vroomheid. Tog is daar gelowige soldate wat as martelare vir God gesterf het om sy volk te verdedig. Hoewel hulle dus vroom was, het hulle nie ’n lang en gelukkige lewe gehad nie. Het God nou in die steek gelaat en sy belofte gebreek? Nee, God sal hulle op ’n spesiale manier weer opwek en aan hulle die lewe teruggee wat hulle verloor het (lees 2 Makkabees 6 en 7). Daarom, net voor die finale oordeel, wek God die martelare  op en beloon hulle met 1000 jaar (die volledige getal) vrede en heerskappy. Dan gaan die proses voort en die nuwe Jerusalem kom.

’n Laaste opmerking: Openbaring 20 praat glad nie van die wegraping nie en in die konteks vind ons ook niks daarvan nie. Ander tekste uit die Bybel is eers in die 18e eeu deur ’n klein groepe Amerikaanse Christene met Openbaring 20 in verband gebring en toe het die teorieë oor die 1000 jarige vrederyk begin, wat  met die wegraping verbind word.  

Skrywer:  Prof Jan van der Watt