Die volgorde van die eintydgebeure – Hermie van Zyl

Anna vra:

Ek het, vir my, ’n komplekse vraag. Kan iemand vir my die volgorde van gebeure gee, vanaf Jesus se kruisiging tot Jesus weer kom. Ek weet dis die kruisiging, dan die opstanding, dan hemelvaart. Maar wat gebeur daarna, en wanneer? Wanneer is die wederkoms? Waar gaan die nuwe aarde wees en dan ook die nuwe hemel? Wie gaan waar heers? Wanneer gebeur Armageddon, wanneer is die wegraping, duisendjarige vasbind van satan, wanneer gaan God met sy een voet op die Olyfberg staan?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Wat die volgorde van die eindtydgebeure betref, hang dit af van watter siening ’n mens huldig oor sake soos die duisendjarige vrederyk, die wegraping en die groot verdrukking. ’n Tipies chiliastiese standpunt (dat daar letterlik ’n tydperk van ’n duisend jaar sal kom waar Christus op aarde regeer en die Satan gebind sal wees, en dat Christus se wederkoms vóór die duisendjarige vrederyk sal plaasvind – die sg premillennialistiese standpunt) sal byvoorbeeld die onderstaande volgorde van gebeure tot gevolg hê (ek laat kruisiging, opstanding en hemelvaart uit aangesien dié reeds plaasgevind het):

  • die wegraping van alle lewende gelowiges
  • die opstanding van gelowiges wat reeds gesterf het
  • die oordeel oor alle gelowiges
  • die bruilof van die Lam in die lug
  • die verskyning van die Antichris op aarde
  • die groot verdrukking wat sewe jaar lank duur (in hierdie tyd sal slegs diegene wat die merk van die dier [666] op hulle hand of voorkop het, kan koop of verkoop)
  • die wederkoms van Christus
  • die slag van Armageddon
  • die massabekering van die Jode
  • die binding van Satan
  • die duisendjarige vrederyk waar Christus vanuit Jerusalem die wêreld sal regeer
  • die ontbinding van die Satan ná die millennium
  • die oorlog van Gog en Magog
  • die vernietiging van Satan en die bose magte
  • die opstanding van die ongelowiges en dié se veroordeling
  • die vernuwing van die hemel en die aarde

By bogenoemde volgorde is daar kleiner verskille tussen chiliaste, byvoorbeeld dié wat sê dat die wegraping nie vóór nie maar in die middel van die verdrukking plaasvind, en ander wat weer sê dat dit ná die verdrukking sal gebeur. Daar is ook die standpunt van die sogenaamde postmillennialisme wat sê dat die wederkoms van Christus eers ná die duisendjarige vrederyk sal plaasvind.

Die Chiliastiese standpunt word veral aangehang in die meer fundamentalisties-evangelikaliese stroom van die Protestantisme.

Dié wat die duisendjarige vrederyk nie letterlik opneem nie maar as ’n simboliese tydperk van (relatiewe) vrede op aarde sien, ingelui deur die eerste koms van Christus na die aarde en moontlik gemaak deur die daaropvolgende wêreldwye prediking van die evangelie, se toekomsverwagting van die eindgebeure en dié se volgorde is eintlik baie eenvoudig in vergelyking met dié van die chiliastiese standpunt. Dit behels:

  • kruisiging, opstanding, hemelvaart en uitstorting van die Heilige Gees (hierdie gebeure het reeds plaasgevind)
  • ’n voortgang van die huidige tyd tot die wederkoms van Christus
  • die wederkoms van Christus
  • die opstanding van alle dooies (gelowiges én ongelowiges)
  • gelyktydig daarmee die transformasie en verheerliking van alle lewende gelowiges
  • die laaste oordeel
  • die ewige straf van die bose
  • die koms van die nuwe hemel en die nuwe aarde waar God alles in almal sal wees, waar Hy tot in alle ewigheid sal regeer en die gelowiges ewige heerlikheid saam met God sal geniet

Hierdie standpunt word deur die meeste hoofstroomkerke in die Oosters-Ortodokse, Anglikaanse en Rooms-Katolieke tradisies gehuldig, asook in ’n groot deel van die Protestantisme.

Ek nooi die leser wat meer oor die besonderhede van bogenoemde gebeure wil weet om die artikels op Bybelkennis se webblad te lees wat oor hierdie sake handel ten einde ’n weldeurdagte en goed begronde teologiese siening te bekom. Die mees uitvoerige artikel is dié van prof Adrio König, met die titel: http://www.bybelkennis.co.za/die-groot-geloofswoordeboek-die-eindtyd/. Dan is daar ook een deur myself geskryf, wat by http://www.bybelkennnis.co.za/eindtyd/ te vinde is. Daar is egter heelwat ander artikels ook; sleutel net die soekwoord “eindtyd” in en ontdek hulle almal.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Jesus se opstanding – Hermie van Zyl

Thea vra:

Het Jesus self opgestaan of is Hy opgewek?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die kort antwoord is dat in die Bybel beide die uitdrukkings “opgestaan” en “opgewek” van Jesus se opstanding gebruik word. Beide verwys na dieselfde gebeure, daar is dus geen inhoudelike verskil tussen die twee uitdrukkings nie. Tog lê daar vermoedelik ’n bepaalde ontwikkelingsgeskiedenis agter die uitdrukkings wat interessant en die moeite werd is om na te gaan. Ons let kortliks daarop.

In die Nuwe Testament is daar basies twee formules wat die opstanding van Jesus beskryf: 1. “God het Jesus uit die dood opgewek” (Grieks: egeirō) (bv Rom 10:9: 1 Kor 6:14; 15:15). Dit kom ook in die passief voor: “Christus is opgewek” (bv Rom 6:4,9; 8:34; 1 Kor 15:4; 2 Tim 2:8). In al hierdie gevalle is God die subjek van die handeling, die Een wat die opwekking doen en Jesus die Een wat die opwekking ondergaan; en 2. “Jesus het uit die dood opgestaan” (Grieks: anistēmi) (bv 1 Tess 4:14; Mark 8:31; 9:9; 10:34; Luk 24:7; Joh 20:9). Hier is Jesus/Christus/die Seun van die Mens die subjek van die handeling; Hy is self die Een wat opstaan.

Die vermoede is dat die “opgewek”-formule die oudste is, nie net omdat dit die meeste voorkom nie, maar ook omdat dit in die ouer boeke van die Nuwe Testament aangetref word. Ons moet onthou dat Paulus se geskrifte ouer is as die Evangelies, en dis juis by Paulus dat die “opgewek”-formule oorwegend teenwoordig is, terwyl die “opgestaan”-formule merendeels in die Evangelies – die jonger boeke – voorkom. (Die enigste uitsondering is 1 Tess 4:14, waarskynlik die oudste brief van Paulus, waar “opgestaan” gebruik word.) Die rede waarom “opgewek” ouer sou wees, is omdat dit ’n natuurlike gedagte by ’n Joodse skrywer soos Paulus sou wees om aan Jesus se opstanding te dink as iets wat deur God bewerkstellig is. Die gedagte het baie sterk by die Jode geleef dat God oor lewe en dood beskik, en dat Hy die Een is wat deur sy Gees lewend maak. Dink hier aan Eseg 37:1-14 waar vertel word hoe God ’n laagte vol dooie bene bymekaar bring en lewend maak, simbolies van hoe Hy Israel sal laat terugkeer uit die ballingskap. Jes 26:19 praat ook van die doderyk wat sy dooies sal teruggee omdat die Here kragtig is. In die buite-Bybelse Joodse geskrifte van die sogenaamde inter-Testamentêre tydvak was daar ook die algemene verwagting dat God die dooies in die eindtyd sal laat herleef. En dit is presies wat God nou doen met die opstanding van Jesus: Hy wek Jesus op, Hy laat Hom uit die dood opstaan; die eindtyd het aangebreek! Dit is daarom geen wonder nie dat Matteus berig dat een van die begeleidende tekens van Jesus se dood en opstanding juis was dat van die ander grafte ook oopgegaan het en die dooies lewendig geword en aan baie mense in Jerusalem verskyn het (Matt 27:52-53). Alles teken daarvan dat die eindtyd aangebreek het.

Maar al gou het die gedagte ook ontstaan dat Jesus, synde die Seun van God en self God (vgl Joh 1:1), self opgestaan het. Vanuit die al sterker wordende insig onder die eerste geslag-gelowiges dat Jesus as die Seun gelyk aan die God van die Ou Testament is, is dit ook te verstane dat Jesus se opstanding beskryf sou word as dat Hy self opgestaan het. Dit is alles deel van die insig dat in Jesus se opstanding daar maar één Goddelike werksaamheid is wat vanuit twee perspektiewe beskryf kan word – dat God Jesus opgewek het én dat Jesus self opgestaan het.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Vergifnis – Hermie van Zyl

Lemvia vra:

Ek was getroud vir 12 jaar. In my huwelik is ek verbaal, emosioneel en fisies mishandel. Ek is geskei en het ‘n jaar later ‘n verhouding met ‘n ander man aangeknoop. Ons is baie lief vir mekaar. Ek het die Here gesmeek om vergifnis na my egskeiding. Maar ek weet ook wat die Bybel sê oor egskeiding. Hy was nog nooit getroud nie en wil nie sondig deur met my te trou nie. Kan ek aanvaar dat God my vergewe het en dat ek kan aanbeweeg?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

As die vraagsteller sê dat sy weet wat die Bybel sê oor egskeiding, is daar verskeie gedeeltes wat by ’n mens opkom, soos Eks 20:14: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie”; Mal 2:13-16 “… Die Here … haat egskeiding”; Matt 5:32: “Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk”; Matt 19:6,8: “Wat God dan saamgevoeg het, mag ’n mens nie skei nie… Dit is oor die hardheid van julle harte dat Moses julle toegelaat het om van julle vrouens te skei, maar dit was nie van die begin af so nie”; 1 Kor 7:10-11: “Die getroudes beveel ek – nee, nie ek nie maar die Here – dat ’n vrou nie van haar man mag skei nie. As sy tog skei, moet sy daarna ongetroud bly of haar met haar man versoen. Net so mag ’n man ook nie van sy vrou skei nie”; Heb 13:4: “Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.” En so sal ons die tekste kan vermenigvuldig wat aantoon dat God se wil oor die huwelik duidelik is: Dis ’n permanente verbinding; so het Hy dit van die begin af bedoel. En egskeiding was nooit deel van sy oplossing vir die probleme wat ’n egpaar binne die huwelik mag beleef nie.

Maar nou weet ons ook dat egskeiding, hoewel teen die wil van God, nie ’n groter sonde as ander is nie. Ook dít word deur God vergewe, as daar opregte berou is en die hartlike voorneme is om binne sy wil te lewe. Dan kan ons aanvaar dat God hierdie ongelukkige gebeure afsluit en die toekoms oopsluit. Die Bybeltekste wat oor egskeiding en hertrou handel moet dus ook in die lig van God se genade beoordeel word. God hang ons nie op aan ons sonde nie, maar handel ook hierin met ons volgens sy barmhartigheid, deernis, liefde en vergifnis. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is (Ps 103:14). Hy maak inderdaad ’n nuwe lewe moontlik.

Kom ons neem die kwessie van hertrou na egskeiding spesifiek vanuit Matt 5:31-32 in oënskou. Ons gebruik dit as ’n voorbeeld van hoe mens oor hierdie en ander uitsprake in die Bybel oor iets soos egskeiding en hertrou, vandag moet oordeel.

In die algemeen moet ons sê dat egskeiding en hertrou vandag ‘n ingewikkelde saak is wat nie sonder meer reglynig vanuit ‘n paar Bybeltekste afgelees kan word sonder dat die bedoeling van die tekste eers na behore onder die loep geneem is en die spesifieke omstandighede van die eietydse situasie in ag geneem is nie. Eers dan kan mens probeer om ‘n koers en rigting aan te dui wat kan aanspraak maak op Bybelse begronding.

Matt 5:31-32, soos aan die begin genoem, sê dat as iemand sy vrou skei om enige ander rede as owerspel, hy veroorsaak dat die vrou egbreuk pleeg, en wie met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk. In Matt 19:9 word bygevoeg dat die man wat sy vrou skei, behalwe oor owerspel, sélf ook egbreuk pleeg. In Mark 10:11-12 word ook na die vróú verwys, as sý van haar man sou skei. By laasgenoemde teks is die bedoeling: As die vrou die oorsaak en inisieerder van die egskeiding is en weer trou, dan is sy ewe skuldig aan egbreuk. Die punt is: Man en vrou word deur Jesus op gelyke basis verantwoordelik gehou vir die huwelik.

Ons het hier ‘n paar beginsels omtrent die huwelik wat neergelê word deur Jesus: 1. Die huwelik is in sy wese in die oë van God ‘n permanente verbintenis. Egskeiding is dus geen ligtelike aangeleentheid nie, dit kan nie sommer vir enige bakatel oorweeg word nie; 2. Die man wat sonder grondige rede (owerspel) van sy vrou skei, pleeg egbreuk; 3. Die man wat só van sy vrou skei, veroorsaak dat sy vrou ook egbreuk pleeg en dat enigiemand wat weer met haar trou, ook egbreuk pleeg (omdat in die oë van God die eerste huwelik na regte nog bestaan); 4. Vir die vrou geld dieselfde as sy die inisieerder van die egskeiding is.

Met hierdie uitsprake wou Christus nie mense se lewens onmoontlik maak wat deur egskeiding geraak word nie, maar wou Hy orde skep in die destydse klimaat waar mans – en soms ook vroue – sommer ligtelik van hulle vrouens geskei het. Hy belig weer die oorspronklike bedoeling van die huwelik – ‘n permanente lewenseenheid wat ernstig geneem moet word – en verder neem Hy in die besonder die vrou in beskerming. Sy is dikwels in ‘n onmoontlike situasie ingedwing deurdat die man haar sonder enige geldige rede geskei het. Om te kon oorleef, moes sy weer so gou as moontlik trou. En dan, sê Jesus, word sy eintlik in ‘n staat van egbreuk ingedwing wat sy nie gewil het nie. Die onus vir ‘n gelukkige huwelik is dus net soveel die man se verantwoordelikheid as die vrou s’n. Die punt is: die destydse sosiale omstandighede moet deeglik verreken word om spesifieke Bybeluitsprake te verstaan en toe te pas vir vandag.

Die bedoeling van Jesus se uitsprake is om die heiligheid van die huwelik as Goddelike instelling te beskerm sodat daar nie op ‘n ligtelike en ligsinnige manier mee omgegaan word nie. En natuurlik om die sondige en liefdelose praktyke van mense – selfs godsdienstige mense! – aan die kaak te stel. Ons leef egter in ‘n gebroke werklikheid. Waar ‘n egskeiding wel plaasgevind het – om watter rede ook al – en daar ‘n tweede huwelik tot stand kom, word egpare vanuit bg uitsprake van Jesus opgeroep om hulle lewenspad in oënskou te neem, dit te belig in God se liefdeswil, daaroor met berou belydenis te doen soos nodig, en vervolgens die nuwe huwelik te koester en tot eer van die Here daarmee om te gaan. Die egpaar hoef nie te voel dat hulle nuwe huwelik vanweë die foute van die verlede gedoem is tot mislukking of in sonde voortbestaan en dat mens glad nie God se seën op die huwelik kan vra of verwag nie. As daar opregte belydenis van skuld by ons is en die hartlike begeerte om na sy wil te lewe, dan vergewe God ons sonde en stel Hy ons vry in ‘n nuwe lewe wat ons tot eer van Hom moet lewe. Dis alleen die verharding van harte en volharding in die sonde (in hierdie konteks: onverantwoordelike skei en trou, skei en trou, skei en trou) wat veroordeel staan deur God. Maar wanneer die hartseer van egskeiding ook in die lig van God se wil en genade hanteer word, en die nuwe huwelik aanvaar word uit sy hand, kan die egpaar ook hierdie nuwe lewenspad loop met die volle vertroue dat hulle die seën van die Here kan verwag.

Dit behoort uit bostaande beredenering duidelik te wees dat dit in hierdie sake nie gaan oor die klakkelose nakom van “wetsbepalings” oor egskeiding en dan is alles weer reg nie. Daar moet veral aan die gees van die wet voldoen word. Die wetsbepalings is eintlik net daar vir dié wie se harte hard is (Matt 19:8). ’n Huwelik, egskeiding of tweede huwelik slaag nie bloot omdat aan sekere reëls voldoen is nie, selfs al is dit Bybelse reëls, maar wanneer mense mekaar van harte aanvaar en vergewe, en as nuwe mense in die aangesig van God die pad saamloop.

As die gees van die wet rakende huwelike uitgeleef word, dan word die intieme liefdesband tussen man en vrou in die huwelik eerbiedig, en dan word die huwelik beleef en geleef as ‘n permanente lewensverbintenis waar man en vrou mekaar in liefde ondersteun. Egskeiding is dan hoogs uitsonderlik, selfs waar moeilike tye beleef word. En wanneer ernstige probleme ontstaan waar egskeiding ‘n laaste uitweg is (bv weens volhardende mishandeling of owerspel), moet hard probeer word om eers versoening te bewerkstellig. Iets soos owerspel verplig nie tot egskeiding nie, maar is eintlik ‘n toegewing as dit nie anders kan nie. Vir Christene is die eerste opsie egter altyd om te kyk of versoening, restitusie en herstel nie moontlik is nie. Daar is baie voorbeelde waar huweliksgeluk na so ’n ernstige misstap weer moontlik was. Maar natuurlik vra dit opregte berou en vergifnis van beide egliede.

En wanneer ‘n huwelik werklik onherstelbaar verbrokkel het en daar wel egskeiding plaasvind, is die regte hantering hiervan nie om te vra of formeel aan bepaalde Bybelse reëls voldoen is voor ‘n tweede huwelik kan plaasvind nie. Die tweede kans moet eerder met dankbaarheid uit die hand van die Here ontvang en met hernude toewyding aangegryp word. En dit is altyd aan te beveel dat die afsluiting van die ou pad en die begin van die nuwe pad ook saam met die hulp van kundiges in huweliksberading aangepak word sodat die nuwe paartjie as mense wat waarlik vrygemaak is van die verlede die tweede huwelik kan begin.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Vas – Hermie van Zyl

Ina vra

Ons kerk het ‘n 21 dae vas uitgeroep. In dié tyd het ek na ‘n preek van pastoor Deon Allers geluister wat juis handel oor vas en gebed. In die preek het hy ook genoem dat daar nie so iets soos ‘n Daniëlsvas is nie. Ek het die preek ge-“share” op ons selgroep sonder om regtig ag te slaan op die gedeelte oor die Daniëlsvas. Ek is verskriklik daaroor aangevat omdat ek “teachings” opsit wat nie in lyn is met wat ons pastoor glo en “teach” nie. Ek mag net na “teachings” luister wat deur hulle aanbeveel word. Is ‘n gewone vas nie maar dieselfde as ‘n Daniëlsvas nie? Ek voel alles is nou onnodig uit verband geruk. Ek is deurmekaar, weet nie wat is reg en wat nie.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die Daniëlsvas word ontleen aan Daniël 10:2-3 waar genoem word dat Daniël homself vir drie weke lank onthou het van “lekker kos”, soos vleis en wyn, en ook nie reukolie gebruik het nie. Die oogmerk was kennelik om, soos v12 sê, insig te verkry en hom voor God te verootmoedig. Die aanleiding tot hierdie verootmoediging was sy bekommernis oor wat van sy volk sou word. Dat hierdie vastyd ook met diepe rou oor sy volk se omstandighede gepaard gegaan het, lei ons af uit die feit dat hy homself ook nie met die gebruiklike welriekende reukolie gesalf het nie, wat tipies by maaltye gebeur het (vgl Luk 7:46). Die onthouding aan salwing was tipies van mense wat gerou het, terwyl die einde van die routyd weer met salwing gepaard gegaan het (2 Sam 12:20).

Die Daniëlsvas van drie weke is nie wesenlik iets anders as ander vastye waarvan ons in die Bybel lees nie. Trouens, vas was ’n algemene gebruik in die destydse midde-Ooste, wat by alle godsdienste voorgekom het. In Israel het dit veral as middel gedien waardeur individue of die volk hulle rou en droefheid betoon het (1 Sam 31:13), God se guns en hulp gesoek het in tye van nood (Rig 20:26), of hulle voor God verootmoedig het (1 Kon 21:27). Daar was ook ’n noue verband tussen vas en gebed (1 Sam 7:6).

In Nuwe-Testamentiese tye het veral die Fariseërs vas as ’n verdienstelike werk gesien, en tot twee keer ’n week gevas (Luk 18:12). Jesus waarsku dan ook dat mens nie so moet vas dat almal sien hoe godsdienstig jy is nie, want dan het jy jou loon weg (Matt 6:16-17). Jesus het wel by geleentheid gevas (Matt 4:2), maar andersins het Hy dit weer afgewys, omdat, volgens Hom, ’n mens tog nie vas as die bruilof aan die gang is nie (Hy het Homself as die Bruidegom gesien) (Matt 9:15). Terwyl Johannes die Doper se dissipels gevas het, het Jesus se dissipels bekend gestaan as mense wat nie vas nie (Matt 9:14). Die vroeë kerk het wel later gevas as deel van hulle gebed (Hand 13:2-3).

Ons kry dus ’n baie gevarieerde prentjie van vas in die Bybel. Enersyds is dit ’n normale uiting van rou en verootmoediging, andersyds is dit weer onderhewig aan bepaalde voorwaardes en waarskuwings. Trouens, die Nuwe Testament is baie ernstig daaroor dat ons godsdiens nie wetties moet wees nie, veral nie deur allerlei reëls op mense af te dwing en dit as voorwaarde te stel vir God se seën nie. So waarsku Paulus byvoorbeeld in Kol 2:16 dat die gelowiges hulle nie moet laat voorskryf oor wat hulle moet eet of drink, of oor watter feeste hulle moet hou of nie. Wat God van ons verlang, is nie die onderhouding van allerlei pligpleginge en wettiese voorskrifte nie, maar om onsself aan God te gee as lewende offers; dít is die wesenlike van ons godsdiens (Rom 12:1). God verlang van ons niks anders nie as dat ons God sal liefhê en loof, en sal goed doen en mededeelsaam sal wees (Heb 13:15-16).

Dus, gebruike soos die Daniëlsvas (of enige ander vorm van vas) is nie deel van ons wesenlike godsdiens nie. Hulle is bykomstige simboliese gebare wat by geleentheid uitdrukking kan gee aan hoe ons God en die lewe ervaar. Indien die Daniëlsvas as ’n vrywillige daad van verootmoediging en toewyding gesien word, kan daar seker nie mee fout gevind word nie. Maar sodra daar dwang is, gepaardgaande met ’n onbuigsame voorskriftelikheid, met die bykomstige gedagte van verdienstelikheid, begin die rooiligte aangaan.

Prof Hermie van Zyl