ChatGPT en ons Geloof – Kobus Kok

Rondom November-Desember in 2022 het die wêreld gegons oor ChatGPT en begin om met kunsmatige intelligensie te speel. Probeer dit gerus hier. Jy kan dit byna enige vraag vra. Selfs om vir jou ‘n dieet program te ontwikkel of ‘n oefenprogram. Idees vir ‘n ete. Vir nagereg. Selfs ‘n Bybelstudie waarin sommige skrywers se insigte verwerk is.

Ek sien nou die dag ’n berig van ’n dominee in Duitsland wat die eerste erediens gehou het waarin hy ChatGPT gebruik het om hom te help om die materiaal vir sy erediens te skryf. Sy kerk was stampvol om te sien wat gebeur. En mense was nogal baie positief oor hierdie belewenis. Ek het self daarmee begin werk en gevind dat dit ’n verbysterende vermoë het om onder meer gedigte te skryf, narratiewe te skryf en selfs ook moeilike konsepte te integreer en te verduidelik. Soms maak dit nog vreeslike foute. As mens die foute uitwys vra dit so ewe om verskoning.

Hierdie afgelope naweek het ek juis ’n gemeente retraite in België vir ‘n Evangelische Gereformeerde gemeente aangebied oor die uitdagings wat 2023 en kunsmatige intelligensie aan ons stel. Daar is onder meer in Kyoto in Japan’n kunsmatige intelligensie priester uit aluminium en silikon geskep met die naam “Mindar” (sien hier). Hierdie K.I. priester word gekodeer met die bepaalde religie se tekste en denke, en dit is noemenswaardig om te sien hoe goed die “priester” kan antwoord en ons besef dit gaan al meer gesofistikeerd raak in die toekoms. Veral as mens professor Michio Kaku se insigte in gedagte neem. Kaku verwys na die nabye toekoms en wat vir ons mag voorlê wanneer ons met quantum computing gaan werk. In ’n onlangse toespraak wat hy by Google gehou het, het hy gewys op die reuse implikasie wanneer K.I. mense gaan verbygaan (sien hier). So praat ons hierdie naweek in België oor hoe ons voel oor Kunsmatige Intelligensie Priesters. Sou ons ’n K.I. dominee wou hê? Die blote gedagte van die moontlike realiteit van ’n chatbot middelganger is soos ’n spieël vir ons wat ons help om te reflekteer op ons diepe waardes en ons grense. Deur die bank het die antwoord gekom dat daar iets belangrik ontbreek as dit by die gedagte van, of keuse tussen ’n K.I. entiteit, en ’n regte mens kom. Mense verkies eerder ’n dominee, met “issues” en persoonlike krake, selfs bó ’n K.I. entiteit wat bo-menslike kennis mag hê. Mense glo dat dit juis die gebrokenheid en krake van die mens is wat die ruimte is waar God se krag sigbaar word. Mense glo vas dat K.I. entiteite nie outentiek met genade en barmhartigheid sal kan omgaan nie. Al word dit kunsmatig geprogrammeer daarmee. Met alles wat Covey in sy boek “The Speed of Trust” noem. Gebrokenheid is vir ons ’n belangrike dimensie waarin ons glo dat iets extra nos – buite ons – moet deurbreek. Gelowiges glo dat die mensdom se masjiene, hoe slim ookal, selfs slimmer as ’n mens, nie die somtotaal kan wees van openbaring nie. Ons Bybelse wêreldbeeld laat ons glo dat God vanuit die geestelike of goddelike werklikheid inbreek in ons bestaan. Dat die Gees se krag nie in taal-algoritmes vasgevang kan word nie. Dat mense, in hulle gebrokenheid, juis die plek is waar God se Gees werk. Ons glo dat K.I. ons baie kan help met inligting. Selfs uitstekende nuwe inligting en perspektiewe, maar dat dit uiteindelik vir ons as mens ten diepste in die ruimte van gebed plaasvind dat ons God se stem hoor. Dat ware menslike resonansie in en deur ons kwesbaarheid juis gebeur. Mense voel dat die K.I. revolusie ons nie verder gaan wegvat van die behoefte om God se stem in gemeenskap met gelowiges en ons persoonlike verhouding met God te beleef nie, maar ons juis gaan laat terugbeweeg na verwondering en outentiekheid. Menslike, gebroke outentiekheid. Dit is eintlik met selfs meer verwondering dat ons dink aan Filippense 2:5-11 en Kolossense 1:15-20 en aan Jesus wat geïnkarneer het in ‘n die vorm van ‘n mens. ‘n Mens wat sy tent kom opslaan het onder ons en onder ons kom woon het (Joh 1:14). 

Skrywer: Prof. dr. Jacobus (Kobus) Kok

Professor and Head of Department New Testament Studies

Co-Director Research Centre for Early Christianity 

Professor Extraordinarius, University of Pretoria 

 

Evangelische Theologische Faculteit, Leuven

Sint-Jansbergsesteenweg 97 | 3001 Leuven | Belgium

+32 483753568

Kobus.kok@etf.edu  

www.etf.edu 

https://www.etf.edu/en/staff/kobus-kok/




Onvergeeflike Sonde – Hermie van Zyl

Van: Shaun Reed

Onderwerp: Die onvergeeflike sonde

Boodskapteks: Ek het na verskillende mense geluister in verband met die onvergeeflike sonde. Ek wil net by julle hoor of ek korrek verstaan. Wat ek verstaan, is: God vergewe ’n persoon alles, alle sondes, behalwe as iemand sy rug op Jesus Christus draai, dit wil sê, as iemand Jesus Christus verwerp. As iemand geloof in Jesus Christus weier, kan God dit nie vergewe nie. Met ander woorde, God vergewe die Christen (die gelowige in Jesus Christus ) alles, al sy sondes, want hy het Jesus Christus aanvaar en glo in Jesus Christus.

 

Prof Hermie van Zyl Antwoord

Die onvergeeflike sonde (Matteus 12:31-32) of “sonde tot die dood” (1 Johannes 5:16-17) word ook die sonde teen die Heilige Gees genoem. Hulle handel almal oor een en dieselfde saak. In my behandeling hieronder hanteer ek hulle dus saam.

Baie gelowiges is bekommerd daaroor dat hulle dalk die sonde teen die Heilige Gees begaan het. Maar die blote feit dat iemand bekommerd is daaroor wys al klaar dat hy/sy nie die sonde teen die Heilige Gees begaan het nie. Hierdie sonde gebeur net wanneer iemand volhardend die Gees se werking in sy lewe uitblus (Efesiërs 4:30; 1 Tessalonisense 5:19), of wanneer iemand die Here verwerp en totaal afvallig word (Hebreërs 4:4-6; 10:26-31). Maar ons moet die kontekste waar hierdie uitsprake voorkom, deeglik in ag neem. Hierdie uitsprake is in die eerste plek waarskuwings aan gelowiges om nie ligtelik met God se genade in Christus om te gaan nie. Dis nie beskuldigings dat hierdie sonde reeds tot stand gekom het by die lesers nie. ’n Ander geval van die sonde teen die Heilige Gees is waar veral ongelowiges moedswillig die werk van die Gees aan die werk van die duiwel toeskryf (Matteus 12:22-32). Maar in al bogenoemde gevalle moet ons net besef dat dit nie vir ons is om te bepaal wanneer iemand die sonde teen die Heilige Gees begaan het nie. Niemand van ons weet wanneer iemand in sy of haar lewe daardie punt van verharding of van geen-omdraai-meer bereik het waar jy nie eens meer omgee of jy gered is of nie. (Laasgenoemde is presies die gevolg van die sonde teen die Gees.) Die punt is, dis nie vir ons om daaroor te oordeel nie. Net God, die hartekenner, kan dit doen. Daarom moet ons ons daarvan weerhou om uitsprake oor ander se geestelike gesteldheid te maak, selfs dié van ongelowiges. Oënskynlik geharde Godloënaars het al verras deur tot bekering te kom. Ons taak as gelowiges is maar net om die evangelie te verkondig en te waarsku teen afvalligheid. Die finale oordeel kan ons rustig in God se hande laat.

Om dit nog eens te beklemtoon: Die onvergeeflike sonde, of die sonde teen die Heilige Gees, gaan oor ‘n besondere soort sonde. Alle sonde bevat ‘n element van opsetlikheid en moedswilligheid, maar hierdie sonde gaan daaroor dat mens die enigste manier waarop God kan red, verwerp, of dat jy die offer van die Seun van God openlik tot ’n bespotting maak asof dit nooit vir jou iets beteken het nie (Hebreërs 6:6), of die werk van die Gees aan die werk van die duiwel toeskryf (Matteus 12:24,31-32), of die Gees hardvogtig oor ‘n lank tyd weerstaan, op so ’n manier dat God nie toegang tot jou hart kry nie. Want onthou, die enigste manier waarop God jou hart kan sag maak, is deur die werking van sy Gees. Verder, daar is geen ander offer vir redding as die een wat Jesus gebring het nie. As hierdie heilsmiddele verwerp word, dan kan selfs God jou nie vergewe nie, nie omdat Hy nie wil nie of omdat jou sonde te groot is nie, maar omdat jy Hom nie toelaat om dit te doen nie. Jy wil nie sy “medisyne” vir jou sonde aanvaar nie. En God dwing niemand teen sy of haar wil nie. Hy kom altyd met die sagte aanslag van die liefde. Wie hierdie liefdesaanslag volhardend verwerp, word dan later immuun teen God se liefde en wil dan ook geen genesing meer hê nie. En dan láát God jou in jou keuse, die keuse wat jy uitoefen om Hom volhardend te bly verwerp. Maar solank mens nog God se vergifnis wil hê, is jou hart ontvanklik vir sy redding en kan jy sy vergifnis in die geloof omhels en aanvaar, en vergewe word.

Dus, dit is inderdaad soos die vraagsteller sê: daar is geen sonde wat God nie kan vergewe nie, behalwe wanneer jy volhardend weier om vergewe te word.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Vraag: Kerkbesoek – Jan van der Watt

Theuns Vra:

In die wereld waarin ons leef speel tegnologie so n groot rol. Ek kyk gereeld na die erediens op TV, ons plaaslike predikant stuur twee maal per week “huisbesoek “stukkies op WhatsApp .Ek is deel van ‘n aanlyn gemeente se gebedspan, ek is n Tutor by ‘n Teologiese Kollege. Feit is aanlyn boodskappe is meestal van hoogstaande gehalte, dit is nie sommer net ‘n oppervlakkige sede prekery nie – ek gaan nie meer gereeld kerk toe nie en soms voel ek baie skuldig hieroor.

Is dit verkeerd om myself te beskou as ‘n aanlyn gemeente lid of moet ek in ‘n fisiese kerk wees? My verhouding met die Here is vir my die heel belangrikste saak in my lewe.

Antwoord van Prof Jan van der Watt

Jy roer ‘n baie belangrike saak aan, naamlik die nuttigheid van tegnologie vir Christene, veral na Covid 19 waar dit duidelik geword het dat aanlyn boodskappe en preke ‘n baie belangrike rol in Christene se geestelike lewe kan speel. Eerstens  moet ons se dat ‘n mens op baie maniere die boodskap van die Here kan hoor, nie net in die kerk nie. ‘n Mens vind soms baie meer aanklank by ‘n boodskap wat ‘n mens elektronies kan kyk. Hier moet mens vra hoe jy op die beste manier moontlik geestelik verryk word en kan groei.

Tweedens is dit tog belangrik om met mede-Christene kontak te hê, al is dit net met ‘n paar. Ook dit gebeur nie net in ‘n kerk nie. Christenskap is baie meer as net die kerk – dit sluit die alledaagse lewe in waar ‘n mens met ander gelowiges en ongelowiges in aanraking kom. Gesprekke met ander Christene help ‘n mens ook om geestelik te groei – dit help soms om raad te vra, om te hoor dat ander ook met probleme sukkel en nie net jy nie, ens.

Derdens help dit nie om net kerk toe te gaan uit gewoonte nie. Daar moet werklik geestelike groei plaasvind met kerkbesoeke, jy moet voel jy beleef die gemeenskap van die gelowiges. Dit help nie om krities, gefrustreerd of teleurgesteld uit die kerk te stap nie. Dit breek meer af as wat dit opbou. Onthou, ons dien die Here en nie die kerk nie. ‘n Mens moet dus eerlik met jouself wees.

Vierdens moet ‘n mens onthou dat Jesus baie klem daarop gele het dat ons as sy dissipels vir mekaar moet omgee. Jy het dus ook ‘n taak teenoor ander Christene vir wie jy moet help. Christenskap funksioneer altyd in ‘n groep van liefde waar die een daar is vir die ander. Dit gaan dus nie net oor jouself nie.

In kort, as jou geestelike lewe deur die aanlyn betrokkenheid groei en gevoed word – baie goed vir jou. Vir geestelike groei is betrokkenheid by ander gelowiges in die lewe nodig, nie noodwendig in die gemeente nie, hoewel die gemeente ook ‘n goeie plek is om tussen mede-Christene te wees. 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Vraag: Gesig van die Vader – Jan van der Watt

Vraag:

Tjaart vra hoe dit verstaan moet word dat daar in Eksodus 33 staan dat niemand God se aangesig sal sien nie, maar dat Moses het God wel van agter gesien het.

Prof Jan van der Watt Antwoord

Daar staan in ‘n paar plekke in die Bybel dat mense God nie mag of kan sien nie (bv. Eksodus 33:20, 23; of Johannes 1:18). Die verskil tussen God en mens is te groot. God se heerlikheid is ver bo wat ‘n mens kan aanskou.

Ons moet Eksodus 33 dus in verband sien. Moses verteenwoordig God se volk en is in gesprek met God. In die gesprek vra Hy om God se magtige verskyning te sien. Uit genade het God se magtige voortreflikheid wel voor Moses verbygekom en in Eksodus 33:21-23 word dan verduidelik hoe dit gebeur. God sal Moses se oë met die palm van sy hand toegehou tot Hy verby is. So het God self vir Moses beskerm om nie dalk tog na Hom te kyk (te loer) nie. Hy het God toe net van agter gesien. In vers 23 word dan gesê wat presies bedoel word met “om God te sien’’: “Niemand mag sy gesig sien nie”, staan daar. Hierdie gebeurtenis moet as ‘n spesiale genadegeskenk van God aan Moses gesien word.

Daar is egter geleerdes wat argumenteer dat Moses God glad nie gesien het nie. God se heilige teenwoordigheid het by Moses verbygegaan en toe God verby is, kon Moses alleen maar die weg sien waar God by hom verbygegaan het. Die verklaring vertolk egter nie presies wat daar in die teks staan nie. 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt