Die menorah – Francois Malan

Michele vra:

 Wat stel die Menorah voor in die Bybel?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Menorah is die Hebreeuse woord vir  ‘kandelaar.’  Dit is die goue kandelaar met ses arms wat uit die middelste stam spruit, drie aan elke kant, elkeen met een van die sewe lampies op die arms. Dit het gestaan in Israel se tabernakel en later in die tempel. Dit moes voortdurend brand sodat daar gereeld lig kan wees in die heilige deel van die tent van ontmoeting. Salomo se tempel het vyf menorahs in die heiligdom gehad (1 Konings 7:49). Soos die tafel met die toonbrode en die ark was die menorah die teken van die teenwoordigheid van die Here. Daarom is dit gemaak van suiwer goud. Die patroon van die menorah is ’n beeld van ’n groeiende boom met takke, die tak van ’n amandelboom soos in Jeremia 1:11-12 as teken dat die Here gereed staan om te doen wat Hy gesê het. Die Hebreeuse woord vir ‘gereed staan’ (sjokēd) klink soos die Hebreeuse woord vir amandelboom (sjakēd).

Tydens Israel se uittog uit Egipte het die Here Aäron en sy nageslag as priesters uitgekies uit die twaalf stamme deur sy kierie oornag te laat bot met blare en ryp amandels (Numeri 17:1-10).

Die heilige deel is voor die voorhangsel wat die allerheiligste afgeskort het van die heilige. Terwyl die heilige altyd verlig moet wees, is dit altyd donker in die allerheiligste, waar die Here self as die Lig teenwoordig is (Eksodus 25:31-40; Levitikus 24:2-4). Die lig in die heilige was ’n teken dat God in die allerheiligste teenwoordig is by die ark, waar die volk nie toegelaat was om in te kom of in te kyk nie.

In die tyd ná die tempel weer opgebou is, ná die ballingskap, is die menorah op die Joodse Chanukka-fees, dit is die Tempelinwydingfees, aangesteek, elke dag een lamp meer, as herinnering aan die vernuwing of herinwyding van die tempel (Johannes 10:22).

Die lig van die kandelaar as herinnering aan die ontwakende amandelboom wat eerste van die bome begin blom, getuig dat die Here teenwoordig is en aktief is onder sy volk. Die herhalende blomkelke met blomknoppe (Eks 25:33) stel die amandelboom voor wat besig is om in blomme uit te bars uit sy knoppe. Die vuur en die lig van die sewe lampe herinner die volk daaraan dat die Here in helder lig kom. So getuig die tafel met die toonbrode waarop die lig van die kandelaar val van God se mildadige teenwoordigheid. Die ark is die getuienis van God se teenwoordigheid, en die kandelaar sê dat Hy ewig waaksaam is oor sy volk en oor sy skepping (Ps 121:4: Kyk, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie). 

Toe Jesus gekom het, het Hy die plek van die tempel ingeneem (Johannes 2:19-22). Hy is nou die tempel waardeur ons na God toe kan gaan deur sy offerdood aan die kruis vir ons sonde, en sy opstanding wat die dood oorwin en vir ons ’n deur word na die ewige lewe. In Johannes 8:12 sê Jesus: ‘Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal beslis nie in duisternis leef nie, maar sal die lig vir die lewe hê.’ In Johannes 14:15-17 stuur Hy die Heilige Gees om ewig in ons te kom bly; en in Johannes 14:23 sê Hy: As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.’

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die merk van die dier – Francois Malan

Susan vra:

Waar staan dit in die Bybel dat jy nie ‘n mikro skyfie onder jou vel mag laat aanbring nie vir betaal van goedere nie

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Dit staan nie in die Bybel nie. Wat wel in die Bybel staan is die volgende:

In Openbaring 13:16-18 staan: die dier uit die aarde ‘het ook almal, klein en groot, ryk en arm, vry mense en slawe, verplig om ’n merk op hulle regterhand of op hulle voorkoppe te laat aanbring, sodat niemand, behalwe dié met die merk van die naam van die dier of die getal van sy naam, sou kon koop of verkoop nie. Hiervoor is wysheid nodig. Wie insig het, moet die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ’n mens, en sy getal is seshonderd ses-en-sestig.’

In Openbaring 14:9-11 staan dat ’n engel het met ’n harde stem uitgeroep: ‘As iemand die dier en sy beeld aanbid en ’n merk op sy voorkop of op sy hand ontvang het, sal hy ook drink van die wyn van God se woede wat onverdun in die beker van God se toorn geskink is. Hy sal ook in die teenwoordigheid van die heilige engele en die Lam met vuur en swael gefolter word. En die rook van hulle foltering bly opstyg vir ewig en ewig, en hulle wat die dier en sy beeld aanbid, kry dag en nag geen rus nie, ook nie hulle wat die merk van sy naam ontvang het nie.

In Openbaring 20:4 word verwys na die mense wat nie neergeval het om die dier en sy beeld te aanbid nie, en nie die merk op die vookop of op die hand ontvang het nie.

Openbaring is ’n boek wat met metafore werk waarvan die betekenis toegepas moet word. So is die getal 666 van die dier ’n getal wat bereken moet word. Die agtergrond daarvan is dat ‘die groot draak van Openbaring 12:9, die slang van weleer (voor die skepping), wat Duiwel en Satan genoem word, die verleier van die hele bewoonde wêreld is’ (vgl. ook Openb 19:20). Die Duiwel gee voor dat Hy God is wat aanbid moet word in plaas van die Vader van Jesus Christus.

Die dier uit die see van Openbaring 13:1-8 is ‘n parodie (spottende nabootsing) op Christus, die Lam wat geslag is en in die hemel opgeneem is na sy opstanding en die boekrol in sy hand hou en die seëls oopbreek (5:5-6) – een van die dier se koppe lyk of dit dodelik verwond was (letterlik ‘geslag was tot die dood’, soos die Lam in 5:6 ) maar genees het (Openb 13:14: weer lewend geword het, soos Openb 2:8 van Jesus sê), en dit laat die mense in verwondering agter hom aanloop. Die dier se na-apery van wat God deur Christus gedoen het, is so goed dat dit moeilik word om die egte van die valse te onderskei.

Die dier wat uit die aarde opkom van Openbaring 13:11-18 verplig alle mense om gemerk te word op hulle voorkoppe om hulle innerlike toewyding aan te dui, en op hulle regterhande wat die praktiese uitoefening aandui van hulle toewyding aan die dier. Dit staan teenoor die seël op die gelowiges se voorkoppe (Openb 7:3-4; 9:4; Eseg 9:4). Soos die seël God se kinders identifiseer as syne en hulle beskerm teen die oordeel (Openb 9:4), beskerm die merk van die dier uit die see mense teen ekonomiese en sosiale uitsluiting. Dit is nie ‘n letterlike merk nie, maar verteenwoordig die mense se innerlike lojaliteite, besluite (merk op die voorkop) en manier van lewe soos spreek uit hulle werke (wat gesimboliseer is deur die merk op die hand). Die dier uit die aarde probeer om die teendeel van die werk van die Heilige Gees in ons, te bewerk.

Om ’n Suid-Afrikaanse voorbeeld van die uitsluiting van mense sonder die merk van die dier, te gee: Met die staatskaping werk dit so dat aan die mense of tenderaars wat bereid is om omkoopgeld te betaal, kontrakte toegeken word. Die merk van die dier is die bereidheid om omkoopgeld te vra en te betaal om gunste te kry. Die mense wat weier om omkoopgeld te vra of te betaal omdat hulle die merk van die Here op hulle koppe het, in hulle gedagtes en gewetes, loop die eerlike pad van die Here, en hulle word van geleenthede en kontrakte uitgesluit. Mense wat oneerlik werk met die geld en beleggings van ander mense, het die merk van die dier op hulle voorkoppe, dit wil sê in hulle gedagtes en harte. Mense wat eerlik werk met ander se geld en eiendom, lewe volgens die Here se gebod in Eksodus 20: 15: ‘Jy mag nie steel nie.’ Dit is die merk van die Here op hulle koppe, eintlik in hulle denke en harte. Daarom sal Jesus met sy wederkoms elkeen wat die leuen liefhet en beoefen uitsluit uit die ewige lewe (Openb 22:15) en hulle deel is die brandende poel van swawel en vuur (Openb 20:13; 21:8).

Openbaring 13:18: Die merk wat gedra word is ‘die naam van die dier of die getal van sy naam wat identies is met sy naam. Dit is die getal van ‘n mens (of:’n menslike getal) nl. seshonderd-ses-en-sestig’ (baie verklarings is al vir die 666 gegee). Dit is waarskynlik ‘n simboliese getal van mense wat self god wil wees of lewe asof hulle god is, waar ses net een tekortskiet op die volmaakte getal sewe van God. So kan die draak, die dier uit die see, en die dier uit die aarde, die drie, nie soos God volmaak wees nie. Die getal vir volmaaktheid is driemaal sewe, die Vader-Seun-Heilige Gees: 777.

Die wysheid wat nodig is, is om die bedrieglike en dierlike aard van die bose te verstaan, sowel as die selfverheerlikkende magte en strukture van die samelewing, regerings en leiers, wat hulle perke oorskrei en die ware Godheid probeer vervang. As mense en menslike instansies  probeer om soos God te wees en lojaliteit vereis wat aan God alleen toekom, word hulle dierlik in hulle denke (merk op die voorkop) en optrede (merk op die hand). Met die beeld van die dier uit die aarde waarsku Johannes  teen kompromieë en vereenselwinging met die waardes, norme en gelowe van die sekulêre kultuur. Navolgers van Jesus lewe nie vir hulleself nie, maar om soos Jesus ander in liefde te dien. Dan het jy die seël van God die Vader, Seun en Heilige Gees op jou voorkop van Openbaring 7:3 (jou denke en geloof in Jesus Christus). Die merk met die Naam van God en van Jesus  word reeds in Openbaring 3:12 genoem. Die vrug van die Heilige Gees se werk in ons is ons merk. Galasiërs 5:22-23 beskryf dit as: liefde, blydskap, vrede, geduld, vrendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid/nederigheid, selfbeheersing. Dit is die merk wat ’n Christen kenmerk.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Johannes en Maria – Francois Malan

Anel vra:

Wonder nog altyd hoekom Jesus aan die kruis vir Johannes die dissipel gevra het om na Maria te kyk. (of so lyk dit). Was die gebruik nie dat sy deur haar ander seuns versorg sou word nie? Waarom was dit nodig vir Johannes om na haar te kyk?

ANTWOORD

Prof Francois Malan antwoord:

Omdat die Bybel nie vir ons duidelik uitspel waarom Jesus die ‘dissipel vir vir wie Hy liefgehad het’ uitgekies het om sy ma te versorg nie, weet ons nie vir seker waarom nie.

Daar kan afleidings gemaak word uit enkele van die volgende tekste:

In Markus 3:31-35 sê die skare rondom Jesus vir Hom: ‘Kyk, u moeder en u broers is daar buite en soek U. Maar Hy antwoord hulle en vra: ‘Wie is my moeder en my broers?’  Hy het na die mense gekyk wat rondom Hom sit, en gesê: ‘Kyk, hiér is my moeder en my broers. Want elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.’

Johannes 7:5 sê ‘Selfs sy broers het nie in Hom geglo nie.’ Volgens Johannes 2:3-5 blyk dit dat sy moeder van die begin af in Hom geglo het.

By sy kruis was sy moeder teenwoordig (Joh 19:25), maar sy broers word nie genoem nie, wel die dissipel vir wie Hy lief was, wat by sy moeder gestaan het (Joh 19:26-27).

Volgens 1 Korinthiërs 15:7 het Jesus na sy opstanding aan Jakobus verskyn, waarskynlik sy broer Jakobus (vgl. Galasiêrs 1:19). Hy het die leier van die gemeente in Jerusalem geword nadat die apostels uit die stad moes vlug vir die vervolging van Herodes Agrippa I. 

Volgens Handelinge 1:14 was sy moeder en sy broers in die bovertrek waar die groepie wat sy hemelvaart aanskou het, saam gebid het.

Dit lyk dus asof sy broers eers na sy opstanding in Hom begin glo het. Maar toe Hy aan die kruis gesterf het, was hulle nie daar nie.

Volgens die ou kerkgeskiedenis het Johannes Maria in Efese versorg, waar hy later gewerk het. Daar is vandag buite die ou Efese teen die berg ’n klein kapel wat deur pelgrims besoek word, op die plek waar hulle gebly het. Die groot Johanneskerkgebou se ruïnes is nog by Efese in Turkye te sien.

Skrywer: Prof Francois Malan




Jesus se broers – Francois Malan

Wessel vra

Goeie dag. Ek erken dat my Bybel kennis nie goed is. Julle skrywe verduidelik vrae baie mooi en dit is hoekom ek hulp vra met die volgende.

In die Bybel soos in Johannes 19:26
word daar gepraat van die dissipel wat Jesus liefehad het maar sonder naam. Is
dit nie “James”, sy broer? Hy het ook gepreek oor Jesus en so ver ek
weet is hy ook van n muur afgegooi en gestenig vir sy preeke.

Word hy en Jesus se ander broers en
susters nie opsetlik nie baie oor gepraat omdat toe die boeke van die Bybel
bymekaar gesit is, die belangrikeid van Jesus se famielie nie wou beklemtoon
word nie?

Baie dankie by voorbaat.

Antwoord

Prof
Francois Malan antwoord:

1 Die dissipel vir wie Jesus
liefgehad het .

In hoofstukke 1-12 van die Evangelie
volgens Johannes, word na Johannes en Jakobus, die seuns van Sebedeus verwys as
dissipels van Jesus. Van hoofstuk 13-21 word na ‘die dissipel vir wie Jesus
liefgehad het’, verwys in 13:23-26; 19:25-27; 20:1-10; 21:1-14,20-24. In
18:15-16 word verwys na ‘die ander dissipel.’

Die vroeë kerk het ‘die dissipel
vir wie Jesus liefgehad het,’ beskou as dieselfde persoon as Johannes, die seun
van Sebedeus. Daar is egter in die loop van die geskiedenis van die kerk baie
vrae of dit dieselfde persoon is. Maar niemand weet vir
seker
wie ‘die dissipel vir wie Jesus liefgehad het’ was nie en
waarom dit nie in die Evangelie uitgespel is nie. Waarom begin die skrywer van
die Evangelie homself van hoofstuk 13 af ‘die dissipel vir wie Jesus liefgehad
het’ noem en in die eerste twaalf hoofstukke net Johannes? 

Die ‘ander dissipel’ van Joh
18:15-16 wat bekend was by die hoëpriester in Jerusalem, kon seker nie die
visserman Johannes, seun van Sebedeus van Joh 21:2 wees nie (vgl. Matt  4:21 en Lukas 5:10).

2 Jakobus

Die Jakobus waarna jy verwys was
nie die dissipel Jakobus, die seun van Sebedeus nie. Dié broer van die dissipel
Johannes is volgens Handelinge 12:1-2 deur Herodes Agrippa I met ’n swaard laat
doodmaak. 

Johannes en Jakobus was broers,
seuns van Sebedeus en ook ongeletterde vissers (Mark 1:19-20; Hand 4:13). Hulle
was neefs van Jesus. Markus 6:3 noem die ander kinders van Maria. Johannes en
Jakobus se ma, Salome, was Maria se suster as jy die volgende twee tekste
vergelyk: Mark 15:40 sê Salome het by die kruis gestaan, en Joh 15:25 sê: Jesus
se moeder se suster het by die kruis gestaan. Jesus het die twee seuns
Boanerges genoem, seuns van die donder (Mark 3:7; vgl Luk 9:54). Jakobus,  die broer van Johannes was die eerste
apostelmartelaar (Hand 12:2).

Jakobus die broer van Jesus, word
in Markus 6:3 genoem as een van Jesus se broers. Die broers van Jesus het eers
nie in Jesus geglo nie (Joh 7:5), maar na Jesus se hemelvaart vertel Handelinge
1:14 dat hulle saam met Maria en die apostels volhard het in gebed.

Jakobus, die broer van Jesus, word die
leier van die gemeente in Jerusalem nadat die apostels uit die stad moes padgee
weens die vervolging teen hulle (Hand 12:1-3,17).  Paulus noem hom eerste as een van die pilare
van die kerk saam met Sefas en Johannes (Gal 2:9), as leier van
die gemeente in Jerusalem (vgl. Gal 2:12) en dat Jesus na sy opstanding aan
Jakobus verskyn het (1 Kor 15:7). By die Jerusalemvergadering van apostels en
ouderlinge het Jakobus die laaste woord gehad en die besluit van die
vergadering geformuleer (Hand 15:13-21). Met Paulus se terugkoms in Jerusalem
na sy derde sendingreis kom doen hy verslag aan Jakobus en die ouderlinge (Hand
21:18). Jakobus skryf ook die brief van Jakobus in die Nuwe Testament.
Hy rig die brief aan die twaalf stamme in die verstrooiing, die gelowige
Jode wat buite Palestina woon. Hy noem homself ’n dienskneg van God en die Here Jesus Christus (Jak 1:1).
Eusebius skryf dat Hegisippus vertel het dat die priesters hom van die toring
van die tempel afgegooi het, dat hy vir hulle gebid het en dat hulle hom met
klippe gegooi het en een hom met ’n knuppel
oor die kop doodgeslaan het omdat hy van die toring af verkondig het dat Jesus
aan die regterhand van God sit en weer met die wolke sal kom (vgl. Luk 22:69;
21:27). Hy is toe, volgens die tradisie, op die
tempelterrein begrawe.

’n Ander broer van Jesus was Judas (Mark 6:3), wat die brief van Judas begin met ‘Judas, dienskneg van Jesus Christus en broer van Jakobus (Judas 1:1). Hierdie Judas moet nie verwar word met Judas Iskariot wat vir Jesus verraai het nie.

Skrywer: Prof Francois Malan