Alternatiewe siening oor Jesus se einde – Hermie van Zyl

Eerw Dr Darryl H A Schroeder vra:

Boodskapteks: In bogenoemde program is die volgende voorgehou oor Jesus se einde: “Jesus het die seun van Pilatus genees. Pilatus het dus opdrag gegee dat Jesus na ’n sekere tyd van die kruis verwyder moes word voordat Hy sterf. Met die hulp van Jesus se oom, Josef van Arimatea, is Jesus toe in die sorg van ’n wonderlike kruiedokter geplaas wat Hom genees het. Na afloop van drie dae het Jesus opgestaan, Maria Magdalena (met wie Hy getroud was) en hulle drie kinders, sowel as die dissipels, gegroet en na oosterse lande vertrek (Persië, Tibet, Indië) om verdere navorsing oor die geestelikheid te doen. Hy was baie lief vir die Boeddhistiese godsdiens. Hy het geleef tot die ouderdom van 80 jaar.”

Dit staan glo alles in die Akasiese Rekords en in die boek van Édouard Schuré: The Great Initiates.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Daar is allerlei legendes oor Jesus wat in die loop van die eeue ontstaan het nadat die kanonieke Evangelies tot stand gekom het. Hierdie legendes het geen historiese basis nie – so is dit al deur etlike grondige ondersoeke uitgewys – en verander dus niks aan die Jesusverhaal soos ons dit in die Bybel vind nie. Hulle voeg ook geen waarde toe tot ons Christelike geloof soos op die Bybel gebaseer nie. Hulle het hoogstens godsdienshistoriese waarde, dit wil sê, hulle gee vir ons ’n kykie in die godsdienstige belewing en belangstellings van gelowiges in die eeue wat gevolg het op die Nuwe Testament se vaslegging. Sommige van die legendes is opgeteken in die sogenaamde Nuwe-Testamentiese Apokriewe Evangelies, ander het later gevolg. Ek gaan net kortliks in op enkele van die gedagtes wat in ons vraagsteller se stuk genoem word.

Die idee dat Jesus Pilatus se seun genees het, kom nêrens in die kanonieke Evangelies voor nie. Die idee het waarskynlik ontstaan uit ’n verwarring met die seun / slaaf van die hoofman oor honderd / koninklike amptenaar wat wel deur Jesus genees is (Matteus 8:5-13; Lukas 7:1-10; Johannes 4:46-53). Maar dié gebeure het niks te doen met Pilatus nie. Eerstens het hierdie gebeure in Kapernaum in Galilea afgespeel, nie in Jerusalem in Judea, waar Pilatus gesetel was nie. En tweedens was hierdie hoofman / amptenaar waarskynlik verbonde aan die leërafdeling of paleis van Herodes Antipas, die viervors van Galilea en Perea, en nie deel van Pilatus se soldate wat in Jerusalem gestasioneer was nie. Daar het dus nooit ’n situasie ontstaan waar Pilatus iets aan Jesus verskuldig was en hy Hom so van die kruis sou red nie.

Josef van Arimatea het inderdaad Jesus se liggaam van die kruis afgehaal en in sy eie, nuwe graf begrawe (Matteus 27:57-60 en parallelle). Maar die gedagte dat hy Jesus se oom was, kom nêrens in die Bybel voor nie. Hierdie idee het waarskynlik ontspring uit die feit dat dit gewoonlik familielede was wat vir die begrafnis van afgestorwe familie verantwoordelik was. En omdat Josef Jesus se begrafnis waargeneem het, is later gespekuleer dat hy familie was. In die Middeleeue het daar legendes ontstaan dat hy die oom was van Maria, Jesus se moeder. Ander het weer gesê dat hy die oom was van Josef, Maria se man, seker omdat hulle dieselfde name het. So gesien was hy dus Jesus se groot-oom. Maar niks hiervan is waar nie. Al wat ons weet uit die Nuwe Testament is dat hy ’n vooraanstaande lid van die Joodse Raad en ’n volgeling van Jesus was, en uitgesien het na die koninkryk van God (Matteus 27:57; Markus 15:42-43). Daar is nog ander legendes ook oor Josef van Arimatea, soos dat hy die eerste ontvanger van die Heilige Graal was en dit toe met sy volgelinge na Engeland gestuur het, en so die Christendom na Engeland gebring het. Maar dis alles vrome duimsuigery.

Die gedagte dat Jesus getroud was, spesifiek met Maria Magdalena, het in ons tyd weer nuwe belangstelling gewek met die rolprent, The Da Vinci Code, van Dan Brown, in 2003. Hiervolgens sou ’n geheime genootskap die geheim van Jesus se huwelik vir eeue bewaar het. Meer onlangs (2012) is ’n poskaartgrootte fragment van die sogenaamde Evangelie van Jesus se Vrou, wat uit die vierde eeu nC stam, ontdek en gepubliseer waarin daar ook ’n vae verwysing is dat Jesus moontlik getroud was. Hierdie fragment se outentisiteit word egter deur baie historici, na grondige ondersoeke, betwis. Verder terug in die geskiedenis is daar ook die apokriewe Evangelies uit die laat tweede en derde eeu nC, Die Evangelie van Filippus en Die Evangelie van Maria, waarin vae verwysings na ’n verhouding tussen Jesus en Maria Magdalena voorkom. Maar hoekom juis sy? Dit het waarskynlik uit Johannes 20:11-18 ontstaan. Latere Christene het te veel afgelei uit die feit dat sy die eerste volgeling was aan wie Jesus na sy opstanding verskyn het. (Hy sou dan eerste aan sy vrou verskyn het om haar te troos.) Verder het Hy haar tydens dié ontmoeting verbied om Hom vas te hou (v17), waaruit dan die afleiding gemaak word dat sy oorstelp was om Hom weer te sien en Hom toe, synde haar man, vasgegryp het. En so het die legende ontstaan, lank na die eerste ooggetuies reeds oorlede is, dat Maria Magdalena Jesus se vrou was. Maar, weer eens, dis alles bloot sensasiewekkende afleidings wat nie gestaaf word deur die kanonieke Nuwe Testament nie, ook nie deur ander betroubare en stawende historiese dokumente nie. Dit is verder veelseggend dat Maria na Jesus as “my Here” en “leermeester” in Johannes 20:13,16 verwys, wat nie die gewone terme is wat ’n vrou vir haar man sou gebruik nie. Nog meer, wanneer Jesus aan die kruis spesiale reëlings tref vir die versorging van sy ma ná sy dood (Johannes 19:25-27), word geen voorsorg vir Maria Magdalena gemaak nie, wat vreemd is as sy regtig sy vrou was, en dit terwyl sy ook by die kruisiging teenwoordig was. Ons moet egter besef dat daar nie iets verkeerd daarmee sou wees as Jesus wel getroud was nie, want die huwelik as sodanig is nie sondig nie. Trouens, God het dit self ingestel, en deur die huwelik vermeerder Hy die menslike geslag. Maar ’n mens kan wel wonder oor die teologiese implikasies as Jesus getroud was. Soos byvoorbeeld: Sou dit nie die metafoor dat die kerk Jesus se bruid is, in die gedrang bring nie (vgl 2 Korintiërs 11:2; Efesiërs 5:22-33; Openbaring 21:2)? Verder, as Hy een vrou bo ander liefgehad het (soos die huwelik veronderstel), sou dit nie beteken dat Hy sekere mense meer of minder liefhet as ander nie? En wat as Jesus kinders gehad het, watter implikasies hou dit vir hulle in met ’n vader wat die Seun van God is? Maak dit van hulle iets meer as gewone mense? En so kan mens voortgaan. Vir sekere van hierdie vrae sou mens wel antwoorde kon gee, maar hulle onderstreep nogtans die uniekheid van die vleeswording van God in Jesus Christus.

Laastens, wat die Akasiese Rekords en die boek van Édouard Schuré: The Great Initiates, betref, as sou dit die inligting bevat wat die vraagsteller noem, kan ons kort gaan. Die Akasiese Rekords bevat na bewering die totale rekord van alle lewe op aarde, van die begin van die wêreld tot vandag. Dit bestaan egter nie in geskrewe vorm nie, maar is slegs toeganklik vir sommiges wat die besondere geestelike vermoëns ontvang of verwerf het om toegang te verkry. As iemand dus beweer dat hy of sy inligting oor Jesus bekom het wat in hierdie rekords staan, is dit vir ander, wat nie oor hierdie vermoëns beskik nie, nie kontroleerbaar nie. Daar is dus nie veel wat mens daaroor kan sê nie. Die boek van Schuré, die eerste keer gepubliseer in 1889, is wel kontroleerbaar. Dit handel oor die groot geestelikes van die geskiedenis, wat volgens hom alle godsdienste onderlê. Hy handel ook oor Jesus, synde een van die ingewydes in die geestelike dimensie van die heelal, se bydrae tot die wêreld se geestelike ervaring. Maar hier staan niks in van Jesus wat getroud was, reise na die Ooste onderneem het en geleef het tot die ouderdom van 80 nie.

Om saam te vat: Die kanonieke Nuwe Testament, soos dit in die Bybel voorkom, bevat ons mees betroubare gegewens omtrent die lewensloop en ware identiteit van Jesus. Dit het die tand van die tyd oorleef, en blyk steeds die lig te wees waarby die kerk van Christus op aarde leef. Dis moeilik om te aanvaar dat God sedert die geboorte van Jesus vir ons lewensbelangrike inligting weggesteek het. Hoewel die Bybel baie interpretasieprobleme bied, bly dit steeds ons betroubaarste gids oor die allerlaaste vrae rakende hierdie en die toekomstige lewe.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Waarsêer – Jan van der Watt

Johanna vra:

Om en by 16 jaar gelede het ons by huisvriende gaan kuier. Die vriendin het kaart en hande gelees – so uit die bloute haar nuwe stokpertjie. Sy het my hand gelees en nee ek nie in dit geglo nie en af gelag. Sy my gese ek sal 2 keer trou en ek sal ‘n seun kry. Wel, ek het op 34 swanger geraak met ‘n dogtertjie. Sy was ernstig dat dit ‘n seun moes gewees het. Weer eens het ek my nie aan haar gestuur nie. So kom my man tot ‘n sterwe en ek lankal haar woorde vergeet tot nou toe intussen het ek so 2 jaar terug met ‘n man getrou, en ja hy het een seun.

Dinge is nie so wel as wat ek gedink het dit gaan wees nie – baie hartseer en sulke dinge. Nou wonder ek: rus ‘n vloek op my om sulke dinge te gese het? Wat staan my te doen?  Hoe kan ek die omstandighede verbeter? Wat staan my te doen op die aanval geestelik te beveg?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Eerstens, moet gelowiges uit die hand van God leef. Hy is in beheer en daarom wend gelowiges hulle nie tot allerhande ander dinge om oor die toekoms uitsluitsel te kry nie.

Gelowiges hoef ook nie bang te wees dat hulle ‘getoor’ of ‘vervloek’ sal word as hulle uit die hand van God leef nie. Christus het die bose oorwin en as mens die wapenrusting van God aantrek (Ef 6:10-20), en die lewe in sy krag leef, beskerm hy jou. Leef ’n lewe waarin jy elke dag vernuwe word na die beeld van Christus (Kol 3:9-11). ’n Gelowige moet hom of haar dus nie wysmaak dat so iets soos wat hierbo beskryf word, jou hele lewe in Christus kan vervloek nie. Indien jy ’n fout gemaak het, nooi die Here jou uit om jou sonde te bely. Hy is getrou en regverdig om jou sondes te vergewe (1 John 1:7-10). Ons skuldbrief is aan die kruis vasgespyker (Kol 2:14).

Dit lyk ook asof die waarsêer nie so akkuraat was nie. Dit was ’n dogter en nie ’n seun nie. Dat die vraer met ‘n wat ‘n seun gehad het, getrou het, maak die voorspelling nie waar nie. Sulke ‘raaiskote’ is  nogal eie aan mense wat voorgee om die toekoms te lees. Hulle maak algemene uitsprake wat baie waarskynlik is om te gebeur – bv. wat is die kans dat ‘n gesonde getroude vrou ‘n kind kan hê? Natuurlik goed, daarom ‘word dit voorspel’. Ongelukkig was die tweede raaiskoot verkeerd – God het ‘n wonderlike dogtertjie aan die ma gegee.

Die vraer hoef dus  nie bang te wees dat sy vervloek is nie, veral nie as gelowige kind van God nie. Daarvoor sorg God. Sy moet liewer volledig op God vertrou en sy wil in alles soek deur sy Gees. Om as gelowige in die huwelik te leef, met vergifnis, liefde, ens. kan ‘n groot verskil maak

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Louwarm, warm – Hermie van Zyl

Fanie vra:

Ek wil graag bostaande terme in die konteks van Openbaring beter verstaan.

 Antwoord

Prof Hermie van  Zyl antwoord:

Die terme kom voor in Openbaring 3:15-16, waar die Here aan die gemeente van Laodisea sê dat omdat hulle nie koud of warm is nie, maar lou, Hy hulle uit sy mond gaan uitspoeg.

Laodisea is een van die sewe stede in Openbaring 2-3 aan wie daar elkeen ’n brief gerig word. Hierdie stede het in ’n halfmaanroete gelê, beginnende by Efese in die weste, op na Pergamum in die heel noorde, met Laodisea die laaste stad onder in die ooste. Die sewe briewe verskyn ook in die volgorde van die halfmaanroete in Openbaring.

Laodisea was in die laat eerste eeu nC ’n belangrike handelstad in die gebied Frigië, Klein-Asië, en was veral vir twee dinge bekend: 1. sy tekstielbedryf, veral die swart wol wat daar geproduseer is, en 2. sy mediese skool, in die besonder vir die behandeling van oogkwale met die oogsalf wat daar plaaslik gemaak is. In 3:18 word op ’n ironiese manier hierna verwys: In plaas van hulle beroemde oogsalf moet die gemeente eerder oogsalf koop wat hulle geestelik sal laat sien.

Die gemeente in Laodisea het ’n groot geestelike probleem gehad: Hulle het in geestelike hoogmoed en selfgenoegsaamheid verval, mede as gevolg van die materiële welvaart wat hulle beleef het. Hulle het gedink dat hulle skatryk is en aan niks behoefte het nie, maar nie besef dat hulle eintlik ellendig en beklaenswaardig is nie (3:17). Geestelik het dit ontbreek aan ywer en warm harte vir die evangelie.

Nou is dit veelseggend dat hierdie situasie beskryf word in terme van geestelike louheid. (3:15). Was hulle maar warm of koud, dan het mens geweet waar jy met hulle staan. Maar nou is hulle nóg warm nóg koud, maar geestelik lou, walglik, en daarom sal die Here hulle uit sy mond spoeg. Die agtergrond van hierdie beeld lê vermoedelik in die watersituasie van Laodisea. Hulle het nie natuurlike waterbronne gehad nie en moes water 10 km ver aanlê vanaf Hiërapolis, noord van Laodisea, deur middel van ’n waterleiding (akwaduk). Die probleem was egter dat dié water van ’n warmbron afkomstig was. Teen die tyd dat dit Laodisea bereik het, was dit nie meer warm nie, maar louwarm. Sommige uitleggers voeg by dat die water ook ’n kalksmaak gehad het omdat dit naby Laodisea oor ’n kalkkrans gestort en dié se smaak opgetel het. As jy dus dié water drink, het jy gewalg daaraan; dit het jou so naar gemaak dat jy dit net wou uitspoeg. En so, sê die Here, proe die Laodisense vir Hom: Hulle het smaakloos geword; Hy walg aan hulle geestelike louheid; Hy is op die punt om hulle uit te spoeg soos daardie louwarm kalkwater van Hiërapolis. Daarom word hulle opgeroep tot bekering (3:19), want die Here het hulle steeds lief. Hulle moet die deur van hulle lewens oopmaak sodat daar weer feesmaal gehou kan word (3:20), en hulle harte weer warm kan klop vir die evangelie.

Ander uitleggers wys daarop dat Laodisea waarskynlik ook suiwer koue water gekry het van Kolosse, 10 km oos van Laodisea af, spesifiek vir drinkdoeleindes. Die louwarm water van Hiërapolis was dus meer vir ander gebruike – medisinaal en bouwerk – bedoel. (Die warmbronne by Hiërapolis het byvoorbeeld tot die oprigting van gesondheid-spa’s by Hiërapolis gelei.) Die uitspoeg van Laodisea se water verwys dus eerder na niksvermoedende verbygangers wat per ongeluk van die louwarm kalkwater uit die spruite van die omgewing ingekry het. Of, indien Laodisea tog ook vir drinkwater (gedeeltelik) van die louwarm water van Hiërapolis afhanklik was, dan moes dit eers afkoel voordat dit drinkbaar was. Maar steeds het dit nie lekker gesmaak nie, veral as dit ’n kalksmaak gehad het. Punt is, almal in Laodisea was bewus van die slegte water afkomstig van Hiërapolis.

Ons slotsom is dus dat die terme warm, koud en louwarm heel waarskynlik ’n fisiese agtergrond in Laodisea gehad het. Die blote feit dat dit juis Laodisea is wie se geestelike situasie as louwarm beskryf word, is nie toevallig nie. Die omgewing se watersituasie, soos hierbo uiteengesit, het heel waarskynlik daartoe bygedra dat dit as beeld gebruik is om die louwarm geestelike toestand van die gemeente mee te beskryf.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Wat is n ontmande persoon? – Jan van der Watt

Vraag

In Jesaja 56 : vanaf vers 3 tot 5 lees ek van n ontmande… en God sê dat so n persoon nie van homself moet dink dat hy n droë boom is nie. God sê as so n persoon Sy sabbatte onderhou en lewe volgens die wil van God…aan so n persoon sal God n erenaam gee wat beter is as n seun en dogter.
My vraag is: wat is n ontmande persoon? Is dit n man wat n geslags operasie gehad het? Of is dit n man wat homself as n vrou beskou? En kan hierdie skrif ook van toe passing wees op n Gay man en n lesbian vrou wat die Here dien? So baie mense beskou Gay en lesbian persone as sondaars maar wat sê die Woord van God?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die verwysing in Jesaja 56:3-5 is na mans wat ‘n geslagsoperasie ondergaan het om nie kinders te kan hê nie. Sulke mans het dan gewoonlik ‘n relatief hoë pos in die administrasie van ou Oosterse kulture beklee (lees bv. Hand 8:27) en is met ‘n verskeidenheid (administratiewe) take vertrou. Hulle het onder andere kontak gehad met die vroue  (harem) van die koning of heerser en tussen die vroue gewerk. Met hulle operasie is daar verseker dat hulle vertrou kon word. Hulle was dus dikwels die kontak tussen die vroue van die heerser en die heerser self, wat aan hulle ‘n spesiale en belangrike posisie gegee het. Verder is hulle ook met belangrike take vertrou. Later het die term ‘ontmande’ selfs ‘n offisiële term geword vir belangrike administratiewe personeel sonder dat hulle noodwendig die operasie ondergaan het (vergelyk byvoorbeeld antwoord Afrikaanse vertalings van Ester 1:10-11 of Dan 1:3 met van die Engelse vertalings – wat die Afrikaanse vertaling as hofdienaars vertaal is die woord vir ‘ontmandes’, oftewel die groep amptenare wat waarskynlik ontman is).

            Hierdie groep mense was volgens die Joodse wette uitgesluit uit die tempel (Deut 23:1-2; Lev 21:20). In Jes 56:3-5 word daardie bepalings egter versag – as ‘n ‘ontmande’ dus die Sabbat hou en die verbond met sy wette aanvaar (dus soos van ‘n tipiese Jood verwag word), is hy welkom in die tempel. Die klem lê dus op die diens aan die Here en nie op die identiteit van die persoon nie. Die doop van die Etiopiese ‘ontmande’ in die Nuwe Testament (Hand 8:27-37) wys in elk geval dat sulke mense ook welkom is in die familie van God.

            Die uitspraak in Jes 56:3-5 gaan dus nie oor selfdegeslagverhoudings nie (gays of lesbiërs was nie ter sprake nie). Dit gaan oor ‘n spesifieke groep wat nie meer eintlik vandag in ons kultuur voorkom nie. ‘n Beginsel in die toepassing van die Bybel op vandag is dat daar ten minste ‘n parallel of analogie tussen die persoon in die Bybel en die persoon op wie ons dit vandag wil toepas moet wees. ‘Ontmandes’ kan nie met persone met ‘n selfdegeslag oriëntering vergelyk word nie en daarom kan ons nie die gedeelte op hulle toepas nie. (Dit is nie te sê dat wat hier gesê word nie ook op hulle van toepassing is nie, maar dit kan nie uit Jes 56:3-5 afgelei word nie). 

Skrywer: Prof Jan van der Watt