Wedergeboorte – Francois Malan

Petro vra:

Is dit noodsaaklik dat ‘n mens die datum Moet kan onthou wat jy die Here aangeneem het as jou Verlosser Kan jy jouself beskou as ‘n wedergeborene sonder om die spesifike datem en tyd te onthou?

 ANTWOORD

Prof Francois Malan antwoord:

Volgens die Bybel is wedergeboorte die werk van God, en die mens se verantwoordelikheid lê by die bekering waartoe die Heilige Gees jou lei en daarin versterk.

In Johannes 3:3 sê Jesus vir Nikodemus:  ‘Voorwaar, voorwaar, as iemand nie van bo weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Die Griekse bronteks gebruik die woorde gennêthênai anōthen – die passief ‘gebore word’ beteken dat jy deur God gebore word, en anōthen verwys na ‘van bo’ en/of ‘weer.’ Nikodemus verstaan dit toe verkeerd en sê ’n mens kan tog nie vir ’n tweede keer in die moederskoot ingaan en gebore word nie.

Jesus sê (3:8) wat uit die mens gebore word, is menslik; en wat uit die Gees gebore word, is geestelik. In Joh 14:26 sê Jesus: die Heilige Gees wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle in alles onderrig en julle aan alles herinner wat Ek vir julle gesê het. In Joh 16:8 sê Jesus: wanneer die Heilige Gees kom sal Hy die wêreld oortuig van sonde en geregtigheid en oordeel.

Dit is die Heilige Gees van God wat in ons werk om in Jesus te glo as ons Verlosser van ons sonde en ons verhouding met God reg te maak om kinders van God te word. In Joh 3:16 sê Jesus: Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gestuur het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

1 Petrus 1:23-24 sê: Julle is immers weergeborenes, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad – deur die lewende  en blywende woord van God…die woord van die Here bly vir tot in ewigheid.  Die Griekse woord anagegennêmenoi ‘weergeborenes’ is weer ’n passiewe vorm wat na God verwys wat ons weer/van bo laat gebore word. Dit gebeur deur die woord van die Here te glo. Efesiërs 2:8 sê: Uit genade is julle verlos/gered deur geloof. En dit (verlossing en geloof) kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God.

Titus 3:4-7 sê: ‘Toe die goedheid en menseliefde van God, ons Verlosser, verskyn, het Hy ons verlos  – nie op grond van werke wat ons uit geregtigheid gedoen het nie, maar op grond van sy ontferming – deur die afwassing van die wedergeboorte en vernuwing deur die Heilige Gees, wat Hy ryklik oor ons uitgegiet het deur Jesus Christus, ons Verlosser. So het ons, geregtig deur sy genade, erfgename geword van die ewige lewe waarop ons hoop.’

Johanns 1:12-13 sê: ‘Aan almal wat Hom aanvaar het, hulle wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word, dié wat nie uit bloed, of liggaamlike drang, of volgens die wil van ’n man nie, maar uit God gebore is.’

Met ander woorde, dit hang nie van jou datum van bekering af nie, maar van jou geloof in die Here Jesus as jou Verlosser. As jy in Hom glo, kan jy seker wees van jou wedergeboorte deur God. Jy word weer gebore deur die Heilige Gees wat in jou werk om in Jesus te glo.  Bekering is ook nie ’n saak van een dag waarvan jy die datum onthou nie, maar die Here roep ons om daagliks tot bekering te kom. Dit is ’n lewenstaak, wat deur jou hele lewe loop. Efesiërs 4:16 sê: ‘…dat ons eerder, terwyl ons in liefde aan die waarheid vashou, in alle opsigte na Christus toe sal groei..’ 2 Kor 3:18 sê: ‘En ons almal, terwyl ons met ontsluierde gesig die heerlikheid van die Here aanskou soos in ’n spieël (nl. in sy woord), word ons deur die Gees verander na die beeld van Christus’  sodat ons al meer soos Jesus sal word. Die vrug van die daaglikse werk van die Gees in ons is liefde, geduld, goedheid, getrouheid, vrede, vreugde, vriendelikheid, nederigheid en selfbeheersing (Galasiërs 5:22-23).

Die Griekse woorde in die Nuwe Testament vir bekering is metanoia, strefōmai en epistrefō.

 Metanoia beteken dat jou manier van lewe verander as gevolg van ’n verandering van jou gedagtes en houding oor sonde en die regte verhouding tot God wat vir jou sonde aan die kruis gesterf het, vgl. bv. Romeine 2:4: ‘Of verag jy die rykdom van sy goedheid, sy verdraagsaamheid en geduld, en besef jy nie dat God se goedheid jou tot bekering wil bring nie?’

Strefōmai beteken om jou manier van lewe te verander en dat jy doen wat die Here van jou vra in sy Woord; vgl. bv. Matteus 18:3-5 ‘Voorwaar Ek sê vir julle: As julle nie verander en soos kinders word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel ingaan nie. Wie homself dus gering ag soos hierdie kind, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemele. En wie een so ’n kind in my Naam ontvang, ontvang My.’

Epistrefō beteken om jou manier van lewe in ’n spesifieke rigting te verander, wat impliseer dat jy na God toe terugkom; vgl. bv. 1 Petrus 2:25 ‘Julle was immers verdwaal soos skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder en Bewaker van julle siele.’  – dit beteken dat jou lewenswyse heeltemal omdraai. Dat jy begin om nie meer vir jouself te lewe nie, maar vir God, en te vra wat Hy wil hê dat jy moet doen, en om jou lewe in te rig volgens sy Woord.

Die Heilige  Gees werk in ons, om ons te oortuig van ons sonde voor God, en van ons verlossing daarvan deur Jesus se liefdesoffer, wat die straf op al ons sonde aan die kruis vir ons gedra het. En ons bekering bestaan daarin dat ons dit begin glo, en dat ons al meer in dankbaarheid daarvoor  lewe deur ook ander te vergewe wat ons benadeel (vgl. Matteus 5:45-48 julle moet julle vyande liefhê soos ons Vader ons liefhet), en mense in nood by te staan (vgl. Matteus 25:31-45: Wat ons vir een van die geringste behoeftige gelowiges gedoen het, kos gegee het, water gegee het, klere gegee het, verwelkom het, besoek het, het ons vir Jesus gedoen).

Skrywer: Prof Francois Malan




Hoe het Jesus Hom in die evangelies bekend gestel? – Francois Malan

Fleetwood vra:

hoe het Jesus Homself in die Evangelies bekendgestel ?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Eintlik is dit die vier Evangelies wat vertel hoe Jesus Homself bekend gestel het, elkeen met sy eie beklemtoning.

 Markus wat die eerste Evangelie geskryf het, begin deur te sê dat Jesus Christus die Seun van God is (1:1) en vertel van twee keer dat God uit die hemel verklaar het: ‘Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug Ek My!’ (1:11); Dit is my geliefde Seun, luister na Hom (9:7). Die onrein geeste het ook uitgeroep: U is die Seun van God (3:11); ook die besetene: Los my uit, Jesus, Seun van die allerhoogste God…’ (5:7). Teenoor die skrifkenners wat sê dat die Christus die seun van Dawid is vra Jesus (12:35-36) hoe is dit dan dat Dawid self gesê het: Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek U vyande onder u voete geplaas het (Ps 110:1). Toe die hoëpriester Hom vra ‘Is jy die Christus, die Seun van die Lofwaardige het Jesus geantwoord: ‘Ek is! Julle sal die Seun van die Mens sien sit aan die regterhand van die Magtige, en sien kom met die wolke van die hemel’ (14:61-62). Na sy oorgawe van Homself in die dood het die hoofman wat Hom gekruisig het, gesê: ‘Waarlik, hierdie man was die Seun van God!’ (15:39).

Maar Jesus noem Homself deurgaans ‘Seun van die Mens’ wat beteken dat Hy waarlik ’n mens is. Dit is die naam wat Daniël 7:9,13-14 in sy visioen oor die toekoms gesien het, van Hom wat ewig lewe en op sy troon gaan sit het met miljoene voor Hom vir die hofsitting en ewige oordeel. En daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos ’n Seun van die Mens (‘n menslike wese). Aan die Seun van die Mens is die heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die volke, nasies  en taalgroepe hom sou dien. Sy heerskappy is ’n ewige heerskappy; dit sal nie tot niet gaan nie.

In Markus noem Jesus Homself 10 maal Seun van die Mens:  2:10 die Seun van die Mens het volmag om op aarde sondes te vergewe; 2:28 die Seun van die Mens is ook Here van die Sabbat; 8:31 Die Seun van die Mens moet baie ly, deur die familiehoofde, leierpriesters en skrifkenners verwerp en doodgemaak word, en na drie dae opstaan; 8:38 Wie hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige generasie, vir hom sal die Seun van die Mens Hom skaam wanneer Hy weer in die heerlikheid van sy Vader kom, saam met die heilige engele;  9:31 die drie dissipels moet vir niemand vertel wat hulle op die berg van verheerliking gesien het voordat die Seun van die Mens uit die dood opgestaan het nie; 10:45 die Seun van die Mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie; 13:21-27 met sy wederkoms sal hulle die Seun van die Mens met groot krag en heerlikheid op die wolke sien kom en die engele sal sy uitverkorenes versamel; 13:22 van die dag van sy wederkoms weet niemand nie, ook nie die Seun nie – net die Vader; 14:21 in Getsemane:  Kyk! die Seun van die Mens word in die hande van sondaars oorgelewer; 14:62 julle sal die Seun van die Mens sien sit aan die regterhand van die Magtige.

Matteus gebruik Markus as een van sy bronne en praat ook van die Seun van God en van die Seun van die Mens net soos Markus. Maar Matteus vertel veral dat Jesus God as sy Vader aanspreek en die mense ook leer om God as Onse Vader aan te spreek (6:9). Vgl. 11:25-27 Ek loof U, Vader, Here van die hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg en dit aan kindertjies  bekend gemaak het. Ja, Vader, want so het U dit goedgevind. Alles is deur my Vader aan My toevertrou. En niemand ken die Seun nie, behalwe  die Vader, en niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom bekend wil maak 26:39,42. In Getsemane bid Hy ook ‘My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan. Nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil;’ 28:18-20: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde…Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.

In Matteus kom die titel Seun van die Mens 30x voor. Dit verwys veral na sy nederige lewenswandel; sy lyding, sterwe en opstanding; en sy koms op die wolke. Die meeste van die verwysings wat net in Matteus voorkom gaan oor sy wederkoms (bv. 10:23; 13:41;16:28; 24:30).

Met sy gelykenisse (bv. in die hele Hoofstuk 13) verduidelik Jesus dat Hy die koning van die Koninkryk van die hemele is. Met sy genesings en wonders (bv. in Hoofstukke 8-9) bewys Jesus dat Hy God is. Met sy lering in Hoofstukke 5-7 bring Hy ’n ander dieper betekenis van die Ou Testament met ’n nouer verband met God en tussen mense, wat liefde vir jou vyand leer, soos sy hemelse Vader laat reën en sonskyn gee oor goeies en slegtes. Met sy profetiese rede in hoofstukke 24-25 wys Hy na sy wederkoms en dat Hy as Regter kom oordeel oor slegtes en goeies op grond van hulle optrede teen medemense. En Hy is die Heer oor sy kerk in hoofstuk 10.

Lukas maak ook gebruik van Markus as een van sy bronne en skilder Jesus ook as die Seun van die Mens en die Seun van God. Maar veral as die vervuller van Jesaja 61: dat die Gees van die Here op Hom is, wat Hom gesalf het om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig, aan gevangenes vrylating, blindes dat hulle weer kan sien, onderdruktes te bevry en die genadejaar van die Here aan te kondig (4:18-21).  Lukas verkondig die koninkryk van God nie soos Markus hoofsaaklik as ’n oproep tot bekering nie (Mark 1:14), maar veral as die goeie nuus wat gekom het (16:16). Jesus is ’n bidder wat met sy Vader praat. In Lukas is daar 9 geleenthede waar Jesus gebid het (vgl. 3:21; 5:15-16; 6:12; 9:18-22,29; 10:17-21; 11:1; 22:31,41, 39-46; 23:34,46).  Lukas beskryf Jesus ook as die Verlosser wat vreugde bring, wat God se wil en plan uitvoer, wat sy aandag en liefde gee aan groepe wat nie geag was in die samelewing nie: vroue,  kinders, armes, verworpenes. In Lukas 11:2 leer Jesus sy dissipels om God in gebed nog meer intiem aan te spreek as Matteus se ‘Onse Vader.’ Volgens Lukas leer Jesus hulle om Hom aan te spreek as ‘Vader’ soos Jesus self sy Vader aangespreek het.

Johannes vertel in elke hoofstuk dat Jesus waarlik God is wat waarlik mens geword het (vgl. bv. 1:1-4; 14; 5:19-30;11:35; 17:1-8; 20:27). Jesus maak Homself bekend as die Seun van sy Vader, Hy alleen het uit die Vader uitgegaan 16:28; 17:8); dat Hy voor alles bestaan het 17:5; Hy alleen het besitreg oor alles saam met sy Vader 16:15; gestuur in opdrag en gesag van die Vader 3:17; 4:34; 5:23-24; 30, 36, 38; sy werke is die werke van die Vader self 5:17,19; 10:23; sy woorde is die Vader se woorde 14:24, ens. Hy en Vader is een 10:30; 14:10-11; 20; wie hom sien, sien die Vader.  Jesus is self God, dit sê al die ‘Ek is’ uitsprake deur Hom 4:26; 6:20; 8:24,28,58; 13:9; 18:5 (die verwys na die Naam van God wat Hy aan Moses geopenbaar het in Eksodus 3:14). Maar Jesus is ook ware mens 1:14; 4:6; 11:33-36; 12:27; 19:16-17; 21:5,13. Sy selfbenaming in Lukas is ook ‘Seun van die Mens’ soos in die ander Evangelies. Hy stel Homself bekend as die Goeie Herder en die deur vir die skape (10:7,14), as die brood van die lewe wat ewige lewe gee (6:35,51), die Messias wat Christus (Gesalfde) genoem word (4:25-26), die weg en die waarheid en die lewe, die enigste Persoon deur wie mense tot die Vader kan kom (14:6), die opstanding en die lewe (11:25), die lig vir die wêreld (8:12), sodat elkeen wat in Hom glo, nie in die duisternis sal bly nie (12:46), met sy grootste liefdesoffer aan die kruis vir die sonde van die mens trek Hy almal na Hom toe (12:32-33). Hy was die voete van sy dissipels as ’n voorbeeld van nederige diens vir al sy volgelinge  (13:3-17). Hy is die egte druiwestok.  As ons in Hom bly dra ons baie vrug want sonder Hom kan ons niks doen nie (15:1-5).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Esegiel 47 verse 1 -12. – Herrie van Rooy

Heleen vra:

Watter boodskap verkondig die gelykenie en Waarom is die dooi see ‘n Metafoor/Beeld.
Wat is die kern vd Gelykenis.

Antwoord

Prof Herrie van Rooy antwoord:

Eseg 47:1-12 is een van die hoogtepunte van die boek. Die gesig van die nuwe tempel word eintlik met die gedeelte afgesluit. Dit wys op die nuwe lewe, die nuwe begin, wat God gaan bring. Die water wat uit die tempel vloei, wys op God se vernuwende genade. Die Dooise See, wat baie sout is, simboliseer die bose of die sonde. Die water uit die tempel maak die water van die Dooie See weer vars. Dit wys op God se vernuwende genade, wat lewe kan bring waar dit eintlik onmoontlik lyk. Hierdie gesig word weer opgetel in Openbaring 21-22, met die gesig van die nuwe Jerusalem.

Skrywer: Prof Herrie van Rooy

 




Soeker na God se Woord – Hermie van Zyl

Leser vra:

Ek het my hele lewe lank nooit God se Woord gelees of geken nie. In die huis was nie so iets soos godsdiens of kerk van enige aard nie. Ek is vandag 57, en probeer dinge optel. Al meer vrae duik op en ek sukkel om werklik met die Woord reg te kom en te verstaan. Ek glo dat God bestaan, maar op die oomblik is ek werklik op soek na iets om aan vas te hou in die Woord.

Ek het lank met drank en vriende omgegaan, en het op ‘n tyd rondgeslaap terwyl ek getroud was. Dit is net asof iets my ongeveer drie jaar gelede gestop het, en ek het al meer na God se Woord en ‘n waarheid begin soek wat vir my kan sê en wys dat God werklik is. Ek het ‘n ruk lank die Bybel begin lees, ensovoorts, totdat my vrou eendag gesê het jy kan die “stuk ding” maar verbrand. Ek het opgehou lees, maar kyk en luister net waar ek kan en kans het na die Woord, soekende na God. Waar en hoe soek en vra ek om vergifnis vir alles wat ek aangejaag het, teen God gesondig het, asook teen almal om en met my?

Antwoord

Prof hermie van Zyl antwoord:

Ons vraagsteller trek die gordyn net so op ‘n skrefie oop om ons ‘n kykie in sy lewe te gee, maar wat duidelik is, is dat God met hom aan die werk is. Want hier het ons met iemand te doen wat ‘n substansiële deel van sy lewe agter die rug het maar blykbaar nog nooit regtig erns gemaak het met die dieper vrae van die lewe nie. Hy erken wel die volgende: dat hy nie godsdienstig of kerklik grootgeword het nie; dat hy ‘n tyd lank losbandig gelewe het, ten spyte daarvan dat hy getroud was; dat hy drie jaar gelede ‘n soort inkeer beleef het wat hom sy immorele praktyke laat vaar het; dat hy tans dringend op soek is na ‘n egte verhouding met God; en dat laasgenoemde saamhang met ‘n begeerte om na waarheid te soek in die Bybel, hoewel hy blykbaar nie veel ondersteuning hierin van sy vrou geniet nie. Al hierdie dinge wat met ons vraagsteller aan die gebeur is, laat mens net weer besef dat die ou kerkvader, Augustinus (354-430 nC), reg was toe hy gesê het: “U het ons vir Uself gemaak, o Here, en ons harte is onrustig tot dit rus vind in U.”

Waar begin mens om aan iemand soos ons vraagsteller ‘n weg aan te wys waar hy wel hierdie rus waarvan Augustinus gepraat het, kan ervaar? Ek vertrou dat die volgende kan help:

Eerstens, dit wil lyk of die dringendste behoefte van ons vraagsteller is dat hy dinge tussen hom en God, en tussen hom en ander mense, wil regmaak; hy wil vergifnis ontvang. Want hy besef dat hy teen God en teen ander gesondig het. En daar is seker geen beter manier nie om hom die pad na God se Vaderhart te wys as deur middel van die gelykenis van die verlore seun (Lukas 15:11-32). Hier ons ‘n man wat alles gehad het wat sy hart begeer, maar hy gaan verkwis toe sy hele erfporsie deur losbandig te lewe (15:13,30). En op ‘n dag, toe lekker nie meer lekker was nie, kom hy tot inkeer daar tussen die varke, met die diep behoefte in die hart: om vir sy pa te gaan sê dat hy teen God en teen hom (sy pa) gesondig het. Hy voeg die daad by die woord en gaan terug huis toe. Daar vind hy toe dat sy pa sy oë al seer gekyk het vir sy seun se terugkoms (15:20). Hy word oorweldig deur sy pa se liefde en goedheid, en word weer as seun in sy vaderhuis herstel.

Hierdie gelykenis sê vir ons hoe God is. Hy is nie ‘n God wat verwyt nie. Hy gee nie om waar ons ons tyd, besittings en lewe vermors het nie. Al waarin Hy belangstel, is dat ons na Hom toe sal terugkeer om die volle lewe in die Vaderhuis te ervaar. Iemand wat so ‘n verlange het en so terugkeer na God se woning – soos ons vraagsteller – sal ervaar dat God sy sonde van harte vergewe. God reken ons ons sonde nie toe nie, Hy verwyder dit van ons so ver as die ooste van die weste is, Hy ontferm Hom oor ons soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders. Want Hy weet dat ons maar stof is, geneig tot alle kwaad (Psalm 103:8-14). Vanuit die Nuwe Testament weet ons verder dat God ons sonde vergewe omdat Hy dit in Christus gestraf het aan die kruis. Daarom kan ons vrygespreek word van die skuld wat ons sonde oor ons bring (vgl Romeine 5:8-11; 2 Korintiërs 5:17-21). Ons hoef onsself dus nie meer te kasty oor ons verlede of self te probeer vergoed vir alles wat ons “aangejaag” het nie. Jesus Christus het alles wat God van die mens verlang, reeds in ons plek gedoen; Jesus het die straf op ons sonde gedra, en die volmaakte lewe gelei. Al wat ons moet doen, is om ons sonde te bely, en God se vergifnis in Christus te aanvaar. Mag ons vraagsteller by daardie punt uitkom.

Tweedens, wanneer ons by daardie nulpunt van ons bestaan gekom het, waar ons besef dat ons geestelik bankrot is, en onsself werp op Christus, dan begin die nuwe lewe wat stand hou tot in alle ewigheid. Dan begin God in ons werk en bou aan hierdie nuwe lewe. Ja, dit is wel so dat God ons vat nes ons is (die eerste punt hierbo), maar dis net so waar dat Hy ons nie los soos ons is nie (wat hierdie punt twee wil sê). Hy wil hê dat ons Christus sal begin volg sodat sy Gees die tekens van ‘n lewe wat aan Christus behoort, kan vertoon aan die wêreld (vgl Matteus 5:13-16). Of, soos Galasiërs 5:22 sê, sodat die vrug van die Gees, naamlik liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing in ons lewe kan sigbaar word. Want iemand wat sê dat sy of haar sonde vergewe is, maar wat weer terugkeer na hulle ou lewe, verstaan nie mooi wat die nuwe lewe in Christus behels nie. Dis ondenkbaar dat mens jou rug kan draai op so ‘n groot verlossing en weer doodluiters voortgaan soos voorheen. Soos Paulus in Romeine 6:1-11 sê: Iemand wat aan Christus behoort, is begrawe saam met Christus en daarom dood vir die sonde, maar het ook opgestaan saam met Christus en is daarom lewend vir God, om vir Hom en vir ander te lewe. Dis daarom so treffend wat mens lees van Saggeus, die tollenaar. Pas nadat hy redding ervaar het toe Christus in sy huis tuisgaan, sê hy dat hy nou anders gaan lewe as voorheen: hy gaan die helfte van sy goed aan die armes gee, en mense wat hy uit hulle geld gekul het, gaan hy vierdubbel vergoed (Lukas 19:1-10). God se genade in Christus dóén iets aan ‘n mens; dit verander jou ten goede; dit maak van jou ‘n mens na God se hart. Jy begin nou al meer lyk soos die beeld van God wat ons na regte is.

Derdens, om te bly volhard op hierdie geloofspad moet ons besef dat ons nou deel is van die liggaam van Christus op aarde, die kerk. ‘n Mens is nie bedoel om op jou eentjie die pad as gelowige te bewandel nie. As mens die bladsye van die Bybel lees, is dit merkwaardig dat gelowiges altyd deel is van die gemeenskap van gelowiges. In die Nuwe Testament is gelowiges altyd deel van ‘n gemeente of ‘n kerk. Want dís hoe ons bly volhard op die pad van die geloof. As ons alleen probeer staande bly in hierdie lewe, gaan ons gou vind dat ons struikel en val. Maar wanneer ons saam met ander die pad bewandel, hou ons mekaar warm in die geloof. Die meeste van ons is sterk individualiste, ons wil ons eie ding doen. Maar as deel van die kerk erken ons dat ons almal saam die liggaam van Christus vorm en dat ons mekaar se insette en gawes nodig het (vgl 1 Korintiërs 12). So word ons voortdurend opgebou in ons geloof (Efesiërs 4:1-16; eintlik die hele hoofstuk). Dis in die kerk dat ons ook leer hoe om die Woord van God na sy bedoeling te verstaan. Al die geleenthede word daar geskep om te groei in Godskennis en Bybelkennis. Wie hierdie geleenthede misloop en misken, misken die genademiddele wat die Here aan ons op aarde gee. Dit is dus noodsaaklik dat ons vraagsteller so gou moontlik die gemeenskap van gelowiges sal opsoek. So kan hy verder gehelp word op hierdie geloofspad en nie maar op sy eie voortsukkel nie.

Met bostaande uiteensetting het ek probeer om aan ons vraagsteller ‘n handvatsel te bied waarmee hy ‘n greep kan uitoefen op die genade van God – eintlik so kan agterkom dat God op hom ‘n greep uitoefen. Dis weliswaar nie die volle verhaal nie, maar genoeg om die pad saam met God te begin. Dit is die waarheid waarna ons vraagsteller op soek is in die Bybel. Alles wat in die Bybel staan, kan in bostaande drie gedagtes saamgetrek word. Ek glo dat God met ons vraagsteller op ‘n besondere wyse besig is, en dat Hy die goeie werk wat Hy so in hom begin het, ook sal voltooi (vgl Filippense 1:6). Mag hy die roersele van God se Gees nie weerstaan nie, maar homself oorgee daaraan en uiteindelik die rus vind waarvan Augustinus gepraat het.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl