Vrees vir die Here as bron van wysheid? – Kobus Kok

As mens so na die jong vrou op die foto kyk kan mens jouself vra wat sy eendag sou word? Sommiges antwoord dan dat sy ‘n sangeres sou word. Ander antwoord dat sy ‘n moeder sou word en sien haar met haar vier kindertjies vir wie sy kos in die borde aan die tafel skep. Meeste mense is verras as mens vertel dat hierdie jong dame later bekend sou staan as ‘n moeder van ‘n ander aard – Moeder Teresa. In die skatkamers van haar gebedshart sien mens hoe God haar ‘n hart gegee het vir ander mense. Ons ken haar immers as die ou vrou in die vuil strate van Calcutta.

Wat presies bedoel die Bybel met die woorde in Psalm 111:10 en op ander plekke dat vrees vir die Here die begin van wysheid is? Wel, dit is die wegspringplek en eindstreep van die geestelike lewensresies, die bron van ware wysheid.

So paar jaar gelede moes ek besluit of ek regte en bedryfsielkunde sou studeer of teologie. Ek was by ’n kruispad in my lewe. Daardie dag (1997) preek Prof Jan van der Watt in my vader se gemeente in Mondeor in Johannesburg. Hy preek die dag oor hoe ou Job alles verloor en hoe God in Job se verhaal met diepe wysheid na die mens kom. Uiteindelik gaan jou lewe nie oor jou nie, maar oor God. Dit gaan oor die ontdekking van God se wysheid en God se plan vir jou lewe. Rondom dieselfde tyd gee my pa vir my die boek van Bob Buford oor “Success to Significance”. Dit is ‘n uitstekende boek wat gaan oor die wysheid wat suksesvolle mense ontdek het wat in die tweede helfde van hulle lewe van sukses na betekenisvolheid beweeg het en ‘n verskil in die wêreld gaan maak het. In die eerste helfde van die lewe het hulle die resies van die lewe met vlieënde vaandels gewen, en nou gee hulle weer terug. Net daar het ek besluit om dit nie op 55 of 60 te begin doen nie, maar op 19. In vele opsigte het ek op ’n jong ouderdom dus hierdie vrae begin vra. Wat is die verskil tussen sukses en betekenisvolheid? Uiteindelik sou ek toe besluit om teologie te gaan studeer in 1998 omdat teologie vir my op daardie stadium die veld was waar jy jou ten volle kon wy aan God en dit nie oor jou gaan nie, maar oor God. Tien jaar later maak ek my doktorsgraad klaar en word ek aangestel as die opvolger van Jan van der Watt by die Universiteit van Pretoria. Hoe ironies dat God so werk? God het wysheid gehad wat ons daardie tyd nie kon sien of eers van droom nie.

Intussen het God ons gesin op verskeie reise geneem. Ons het, soos baie ander mense, die sukses en krisistye van die lewe op verskillende vlakke beleef. So het ons as gesin na sewe jaar in die bediening en sewe jaar in die akademie die roeping aanvaar om alles in ons Vaderland (familie, my vrou se besigheid, etc) op te gee en na België te verhuis vir ’n onseker toekoms in ’n fakulteit wat skaars kop bo water hou. Ons weet letterlik nie of ons oor ’n jaar of twee nog hier sal kan wees nie. Ons is in liminaliteit en op God se klok, terwyl ons harte soms (amper elke tweede dag) draaie na die Suide maak as ons die son en ons mense mis. Nou die dag wou ons kleinste seuntjie Heinrich (4 jaar oud) nie skool toe gaan nie. Onder sy krokodiltrane heen vra ons hom waarom hy nie wil gaan nie. “Vandaag is opa en oma dag, en ik heb geen opa of oma…,” sê hy in sy Afri-Flaamse aksent. Hy voel skaam en alleen, anders as die res van sy maatjies, want hy is ‘n oupa en ouma-weeskind. En al sy maatjies weet dit ook – want toe hulle in die vorige week geskenkies vir oupa en ouma moes maak het almal alreeds verneem dat sy oupa en ouma nie gaan kom nie omdat hulle vêr in Afrika woon. By die skool gekom sê een van die juffrouens vir my vrou: “Geen ouders mogen het concert bijwonen, alleen opa en oma’s”. Soos enige ander ouer huil my hart saam as my kind se hart pyn – veral as my keuses sý lewe raak.

Maar in die proses van ons oorgee aan God en wat ons glo Sy plan is met ons, het Hy deure oopgemaak wat ons nooit in ons wildste drome kon indink nie en kan ons jongmense oplei wat Europa se Christelike wortels gaan vernuwe. Ek word voorgestel aan ministers van buitelandse sake en dien as persoonlike raadgewer vir ‘n ander minister. Terselfdertyd is daar vir ons ’n reuse verlies in ons wegbeweeg van familie, in ons onsekerheid oor ons finansiële toekoms, ensomeer. Kort nadat ons na België gekom het is my vrou se vader onverwags oorlede kort voordat hy vir ons sou kom kuier. Min het ons geweet dat toe ons op die vliegtuig klim dit die laaste keer sou wees wat ons hom sou sien. Kort daarna is ons oudste seun met autisme gediagnoseer, maar ontdek ons die wonder dat hy hier kan skoolgaan in ‘n skool wat spesialiseer in autisme. Teen dusketyd is my ouma oorlede en ons kon nie op die begrafnis wees nie, het my vader ‘n hartaanval gehad en kon ons nie daar wees in die krisistyd in die hospitaal nie. Maar meer as ooit is ons as gesin ‘n hegte eenheid in die vreemde. So is die pad van God ‘n pad wat kom met liminaliteit – ‘n proses van gestroop wees en afhanklik wees – ‘n pad van verlies. Dis nie altyd maanskyn en rose vir die wat ‘n lewe van betekenisvolheid wil leef of wat besluit het om uit die boot te klim en op water te loop in die geloof nie. Geen wonder dat Jesus vir sy dissipels gesê het dat as hulle hom volg, hulle eintlik hulle familie moet groet en dat die dooies hulle eie dooies moet begrawe nie. Dis makliker gesê as gedaan vir ’n mens van vlees en bloed – maar gelukkig is ons ook vol van Sy gees.

So paar dae terug ontmoet ek een van Suid Afrika se mees beroemde besigheidsmanne se dogter wat ook al die ouderdom van my eie ouers is. Sy is baie lief vir die Here. In die motor op pad na hulle hotel in Brussels praat ons oor die hele kwessie van die lewensreis van sukses tot betekenis. Sy noem toe die volgende: “In hierdie geestelike roete ontdek mens dikwels die verskil tussen ‘from success, to significance’ to ‘beyond success and significance to renewed Significant submission to Him’.” Daarmee bedoel sy dat daar ‘n punt kan kom waar mens al die geld in die wêreld kan hê, dit opsy skuif en dit gebruik om werklik ‘n verskil te maak in ‘n poging om werklik “betekenisvol” te leef. Maar sy het ontdek dat mense wat van “success to significance” leef, dikwels nog steeds ‘n sterk ego-sentriese dryf tot “significance” het. Vir haar en ander wat werklik die pad saam met God enduit wil stap het die wysheid deurgebreek dat anderkant sukses en betekenisvolheid, daar nog ‘n fase is wat mens moet deurloop, en dit is dat mens weer moet buig op ‘n tweede naïewe manier voor God as die betekenisvolle Ander (Significant Submission). Dit behels die wysheid wat begin met die vrees van die Here. In die Hebreeuws word die woord Yir’at (יִרְאַ֣ת) gebruik om die gedagte van gesonde vrees of “reverence” mee uit te druk. In Spreuke 9:10 lees ons dat wysheid begin met die vrees van die Here. Wysheid en ‘n betekenisvolle lewe begin daar waar mens jouself weer en weer in die verskillende seisoene van die lewe ondergeskik aan die outoriteit van God stel (Spreuke 111:10). Sulke mense ontwikkel ‘n allergiese spirituele reaksie tot arrogansie en boosheid (Spreuke 8:13) en volgens Spreuke 16:6 vlug hulle graag van mense en dinge wat hulle aflei van God se wysheid – en doen dit in ‘n gees van liefde vir en getrouheid aan God (Spreuke 16:6).

Ons kan dus met vrymoedigheid saam met moeder Teresa en ander wyse mense sê:

“Reverence (yir’at in Hebrew) is the beginning of wisdom (Ps 111:10), implies an allergic spiritual reaction to anything arrogant and evil (Prov 8:13), departing therefrom in a spirit of love and faithfulness (Prov 16:6).”

Bob Buford se boek Success to Significance is pragtig. Maar daar is ‘n baie diep geestelike groeifase wat nie in die boek bespreek word nie, en dit is die verskil tussen “Success to Significance” en “Beyond success and significance to renewed Significant Submission to Him”. Dít is ‘n lewe van ware betekenis en ware wysheid – wanneer mens ondergeskik raak met alles in jou lewe aan die Missio Dei – die Sending en Plan van God in jou lewe. My oom stuur eendag Oswald Chambers se dagstuk “Instantanious and Insistent Sactification” van 08 Februarie aan my. Die dagstukke gaan oor volkome heiligmaking met die vraag hoe ver ons bereid is om te gaan vir die Here en die koste daaraan verbonde. Heiligmaking, sê Chambers, behels: “[I]ntense concentration on God’s point of view. It means every power of body, soul and spirit chained and kept for God’s purpose only. Are we prepared for God to do in us all that He separated us for?” [I]t will cost everything that is not of God in us…” Dus, hoe ver is jy bereid om te gaan en te laat gaan, sodat Hy meer en meer in en deur jou kan doen?

Skrywer: Prof. Dr. Dr. Jacobus (Kobus) Kok

Head of Department New Testament Studies

Evangelische Theologische Faculteit Leuven

Belgium

NRF Y1 Research Associate University of Pretoria




Sewende Dag Adventiste en Kersfees – Hermie van Zyl

My seun behoort aan die Sewende Dag Adventiste Kerk die laaste twee tot drie jaar. Ek verneem graag of dit gebruiklik is by hulle om nie ander gelowiges ‘n geseënde Kersfees toe te wens nie.

My enigste kind is gay en is saam met sy “partner” uitgeskop of weggejaag uit die NG Kerk. Dit het tot gevolg gehad dat hulle nie enige vraag sal beantwoord aan ons as sy ouers nie want hulle het baie seer gekry in die proses.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die Sewende Dag Adventiste Kerk (SDAK), of Sabbatariërs soos dié Kerk ook soms genoem word, het nie ‘n amptelike standpunt oor Kersfees nie – óf en hóé dit gevier moet word nie. Dit word aan individuele lidmate of gemeentes oorgelaat om self te besluit.

Tog, indien die debatte hieroor in die SDAK nagegaan word, moet ‘n mens sê dat die SDAK tradisioneel taamlik krities ingestel was teenoor Kersfees. Dit vloei voort uit hulle siening dat dié fees nie in die Bybel voorgeskryf word nie (dus nie bindend is vir gelowiges nie), en ook dat Kersfees heel moontlik ‘n heidense oorsprong het. Volgens laasgenoemde siening is Kersfees eintlik ‘n ou heidense fees wat deur die Roomse Kerk oorgeneem en met ‘n Christelike sousie “gekersten” is. Die manier waarop Kersfees ook in die wêreld gevier word, is vir die SDAK so omgewe met allerlei sekulêre gebruike wat niks met die geboorte van Christus, die Verlosser, te doen het nie, dat die SDAK van huis uit nie baie positief ingestel is teenoor Kersfees as Christelike feesdag nie. Vir die SDAK is daar eintlik net een godsdienstige feesdag, en dit is die viering van die Sabbat, die sewende dag van die week, soos wat dit in die Ou Testament voorgeskryf word.

‘n Mens moet hierdie tradisionele huiwering rondom die viering van Kersfees in die SDAK ook verstaan teen die agtergrond van hulle algemene teologie. Hulle is baie sterk op die Ou-Testamentiese wette ingestel, vandaar hulle klem op die viering van die sewende dag as rusdag. Hulle het verder baie pertinente sieninge rondom die wederkoms van Christus, met sterk klem op die tekens van die tyd en die spoedige wederkoms van Christus. Hierdie sieninge lei daartoe dat hulle probeer om ‘n hoë morele peil in hulle daaglikse handel en wandel te handhaaf, wat soms na die wettiese toe neig. Dit het verder tot gevolg dat hulle ‘n algemene aversie het aan alles wat oneg, onsuiwer en “heidens” voorkom. Dit is dus te verstane dat die tipiese manier waarop Kersfees in die Weste gesekulariseer en gekommersialiseer geraak het, wat eintlik op niks meer neerkom nie as ‘n algemene gevoel van welwillendheid teenoor ander – sonder werklike Christelike inhoud – glad nie aanklank vind by die SDAK nie. In die lig hiervan is dit nie vreemd nie dat daar individue, gesinne en selfs gemeentes in die SDAK mag wees wat nie baie maak van Kersfees nie, en mekaar gevolglik ook nie ‘n “geseënde Kersfees” sal toewens nie. Dit pas in by hulle siening dat die opregte Christen (en lidmaat van die SDAK) nie mag deelneem aan gebruike en feeste wat nie tot eer van God strek nie.

Almal in die SDAK stem egter nie met hierdie (tradisionele) siening saam nie. Daar word byvoorbeeld daarop gewys dat dit nie so seker is dat Kersfees gegroei het uit ‘n ou heidense fees (die fees van die onoorwinlike son) nie, maar dat dit eerder spontaan uit bepaalde Joodse gebruike in die vroeë kerk gegroei het tot kerklike feesdag om die geboorte van Christus te herdenk. (Die besonderhede hiervan laat ek daar.) Verder word ook aangevoer dat dit nie sin maak om ‘n sterk en spoedige wederkomsverwagting te hê as daar nie ook erns gemaak word met die eerste koms van Christus nie. Daarom is daar stemme in die SDAK wat opgaan vir die gepaste viering van Kersfees, dat dit op ‘n tipiese SDAK-wyse gevier moet word, met die klem op die betekenis van die menswording van die Seun van God, en dat hierdie groot Geskenk van God aan die wêreld in die Kerstyd uitgeleef moet word in geskenke van egte mededeelsaamheid en offervaardigheid teenoor ander. Dus, eerder dat die uitwasse van Kersfees vermy word deur jouself te onttrek of dit glad nie te vier nie, of dit op ‘n ander datum te probeer vier, moet Kersfees (25 Desember) eerder deur SDAK-lidmate omskep word in ‘n egte Christusfees van ware liefde en omgee, word gesê. Met hierdie siening word dan ook nader beweeg aan die algemene gevoel van Christene in ander kerke wat ook bekommerd is oor die sekularisering en kommersialisering van Kersfees.

Ek vertrou dat bogenoemde beredenering ietwat lig sal werp op die vraag of die SDAK negatief ingestel is teenoor die viering van Kersfees of nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Engele – Francois Malan

Henk vra:

Het engele verskyn in fisiese liggame in die Bybel?Verskyn hulle vandag steeds? Die 3 mans wat aan Abraham verskyn en saam geeet het-was die een God self?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Genesis 3:24 word reeds van gerubs gepraat wat as wagters die tuin moet bewaak. In Genesis 16:7,9-11 word vir die eerste van 58 keer in die Ou Testament van die ‘Engel van die Here’ gepraat, wat na Hagar toe gekom het. Hagar het die Here wat met haar gepraat het aangeroep en gesê: U is die God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het (Gen 16:13-14). Vir haar het die Here self in die gestalte van ’n man daar in die woestyn na haar toe gekom. Maar nadat Hy met haar gepraat het, het sy geweet dat dit God is wat met haar gepraat het. Die term ‘Engel van God’ kom ook 11 keer in die Ou Testament voor.

Die Ou Testament se oorspronklike Hebreeuse woord vir engel is mal’ak, wat ‘boodskapper’ beteken. So beteken die Nuwe Testament se oorspronklike weergawe in Grieks se woord angelos ook ‘boodskapper.’ Engele kom dikwels in die Ou en Nuwe Testament voor, wat egter nie altyd in menslike gestalte verskyn nie, vgl. bv. die hemelse skare wat aan die skaapwagters die tyding van Jesus se geboorte gebring het (Luk 2:913).

Die engel bring die boodskap aan Maria dat sy ’n seun sal kry en dat sy Hom Jesus moet noem (Luk 1:26-38). Hy het as ’n sigbare man met haar gepraat.

In Rigters 13:3,6,8,10 verskyn die Engel van die Here aan die vrou van Manoag in die fisiese gestalte van ’n man.

In Eksodus 33:11 word gesê dat die Here direk met Moses gepraat het soos ’n man met sy vriend.

Twee van die drie mans wat in fisiese liggame deur Abraham genooi is om by hom te rus en saam met hom te eet (Gen 18:1,22), word  ‘engele’ genoem in Gen 19:1,15,21. In Gen 18:1-2 word gesê dat die Here aan Abraham verskyn het, in die gestalte van een van die drie mans. In Gen 18:13,14,17,19,20,22,26,29,33 word Hy ‘die Here’ genoem.

Die Naam ‘Here’ is in Hebreeus: Jahweh, die ‘Ek is,’ wat altyd aktief teenwoordig is. Dit is die verbondsnaam wat die Here aan Moses bekendgemaak het by die braambos wat nie uitgebrand het nie. Die Here het vir Moses gesê het dat Jahweh die Naam is waarmee Hy aangeroep moet word. In Grieks is Jahweh, soos die Hebreeuse Adonai met kurios ‘here, meneer’ vertaal. Daarom is Jahweh en adonai in Afrikaans met Here vertaal. Hy is die God wat sy verbond met Abraham, Isak en Jakob en hulle nageslag gemaak het (Eks 3:13-15).

Die Markus-Evangelie wat waarskynlik eerste geskryf is, ongeveer 30 jaar na Jesus se dood, en veral die getuienis van Petrus opgeteken het, vertel dat die vroue wat die Sondagmôre na die graf van Jesus toe is, ’n jongman met wit klere, aan die regterkant van die geopende graf gesien sit het, wat vir hulle vertel het dat Jesus opgestaan het uit die dood (Mark 16:2-6). Lukas, wat Markus en ander skrywers as bronne gebruik het, vertel van twee mans met glansende klere (Luk 24:4). Matteus, wat ook van Markus gebruik gemaak het en vir die Joodse Christene verduidelik wat daar gebeur het, sê dat daar ’n engel met ‘n voorkoms soos weerlig en klere so wit soos sneeu uit die hemel neergedaal het, die steen voor die graf weggerol het en daarop gaan sit het, en vir die vroue gesê het dat Jesus opgewek is (Matt 28:2-3). Dit was waarskynlik ’n engel in menslike gestalte wat die boodskap van Jesus se opstanding aan die vroue kom vertel het.

’n Engel van die Here bevry vir Petrus uit die tronk en eers as hulle in die straat kom en die engel verdwyn besef Petrus dat dit ’n engel was (Hand 12:6-11). Deurgaans het hy gedink hy droom dat ’n man hom bevry.

Verskyn engele nog steeds vandag? Engele word slegs deur God gestuur om sy boodskap aan die mense oor te dra wanneer God besluit om van ’n engel gebruik te maak. Meestal word God se boodskap deur sy Gees na mense en in mense gebring. Die Gees oortuig mense deur God en Jesus se woord in die Bybel en in die prediking en in die getuienis van mense aan mense, ook deur omstandighede en direkte ingrypings van die Here. Maar as Hy besluit om ’n engel in die vorm van ’n mens te gebruik, doen Hy dit. Dit is egter absoluut God se besluit hoe en waar en wanneer Hy dink dat dit nodig is en dit wil doen, vgl. egter Jesus se woorde in sy gelykenis van die ryk man en Lasarus in Lukas 16:31 oor die genoegsaamheid van die Bybel om mense te oortuig.

In Johannes 14 16-17,26 belowe Jesus dat die Heilige Gees in ons sal kom bly om ons te leer en te lei. In Joh 14:23 sê Jesus: ‘As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.’ Met God wat self in ons kom woon het, is dit nie nodig dat ’n engel na ons toe gestuur word om God se se boodskap aan ons te bring nie. Maar as die Here dit nodig ag om in die gestalte van ’n mens ons in ’n noodsituasie by te staan, is Hy vry om selfs ’n engel te stuur. Meestal stuur Hy een van sy gelowiges om so iemand by te staan. In Jeremia 31:33 het die Here reeds beloof: ‘Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagtes vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.’

Skrywer: Prof Francois Malan




Herhaalde oproepe tot gebed – Hermie van Zyl

Danie vra:

Elke keer as ons opgeroep word om te gaan saamtrek oor iets wat ons raak, of daar is een of ander krisis en ons word opgeroep om te gaan bid of om massa-saamtrekke en protesoptredes te hou om die Here se ingryping te vra, dan is ek in die war.

Laat ek dit net duidelik stel, ek het niks teen gebed nie solank gebed gaan oor God se almag, grootheid en dat alle eer Hom toekom.

My vraag is, as ons opgeroep word om saam te trek en dan te bid oor o.a. plaasmoorde, wat wil ons hê moet God doen? Verder, wat doen óns? Dan, as ons nou so saambid, wat is die “bidders” se verhouding met God? Aren’t we just going through the motions?, soos daar op Engels gesê word. Met ander woorde, is ons nie bloot meelopers, massabidders wie se lewe nie noodwendig getuig van ‘n hartsoorgawe aan Jesus nie. Is dit nie so dat ons eerder 24/7 in ʼn lewende verhouding met God moet staan nie?

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ek het nogal simpatie met die vraag. Want geloof kan maklik ontaard in ‘n soort krisisgeloof. Ons gaan voort met ons daaglikse dingetjies sonder om ons werklik aan God te steur. Maar laat daar net een of ander krisis ontstaan in ons persoonlike lewe of in die groter samelewing, dan wil ons skielik hê God moet soos die nooddienste gereed staan om in te gryp en te red. So asof Hy nie in elk geval elke dag sorg en weet wat ons nodig het, nog voordat ons Hom vra nie. Hy het immers nie ‘n stortvloed woorde nodig om oortuig te word van ons nood en behoeftes nie (Matt 6:8). En verder het ons ook die opdrag om gedurig – 24/7 – te bid (1 Tess 5:17; vgl Luk 18:1; 21:36; Rom 12:12). Dit beteken ons lewe moet in die teken staan van voortdurende en volgehoue afhanklikheid en erkenning van God. Want so gee die gelowige blyke daarvan dat hy/sy deur Christus in ‘n lewende verhouding met God staan. En van so iemand kan gesê word: Hy/sy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie (Ps 1:3). Daar is ‘n konstante stroom van God se lewe wat hom/haar voed.

Dit beteken egter nie dat daar nie buitengewone geleenthede mag kom waar gelowiges op ‘n spesiale manier voorbidding by die Here doen nie. Daar is talle voorbeelde hiervan in die Bybel. Mens dink hier aan koning Hiskia wat ten dode toe siek word en by die profeet Jesaja hoor dat hy gaan sterf. Hiskia pleit toe by die Here om gespaar te word, en die Here voeg nog 15 jaar tot sy lewe toe (2 Kon 20:1-11). Daar is ook die geval van die profeet Jona wat die opdrag kry om aan die stad Nineve te gaan verkondig dat die Here hulle stad gaan vernietig oor hulle goddeloosheid (Jona 1:1; 3:4.) Dan het die Nineviete berou oor hulle sonde en hulle roep ernstig tot God, waarop God sy besluit om die stad te verwoes omkeer en die stad en sy mense spaar (Jona 3:1-10). Ons lees ook van Hanna wat kinderloos was en ernstig in die heiligdom haar lot by God gaan bekla. Hierna word sy swanger en Samuel word gebore (1 Sam 1). Paulus het ook herhaaldelik sy hart by die Here uitgestort oor die doring in die vlees wat hom gepla het. Maar die Here het nie gegee wat Paulus gevra het nie; Hy het bloot gesê sy genade is genoeg vir Paulus (2 Kor 12:7-9). Selfs Jesus het sy Vader gesmeek dat die lydensbeker by Hom sou verbygaan, maar Hy ontvang troos en versterking uit die wil van sy Vader wat toe anders was as sy (Jesus se) versoek (Matt 26:36-46).

Behalwe wat die Nineviete betref, is die gemeenskaplike element in genoemde gevalle dat dit mense was wat ‘n lewende verhouding met God gehad het en seer sekerlik ook ‘n normale gebedslewe beoefen het. Nogtans het hulle in ‘n besondere noodsituasie dit nodig gevind om op ‘n spesiale manier hulle versoeke aan die Here in gebed bekend te maak. Die normale sluit dus nie die buitengewone uit nie. Mense, ook gelowiges, is kragtens hulle menswees en die aard van die lewe dikwels in ‘n eksistensiële noodsituasie wat die behoefte aan ‘n “spesiale gebedspoging” laat ontstaan. En of dit individueel of in groepsverband geskied, maak nie regtig saak nie; vanuit ‘n geloofsoogpunt is beide struktureel presies dieselfde. En die merkwaardige is dat God ons nie hiervoor kwalik neem nie. Al is ons sy kinders, en al bid ons gereeld, en al weet Hy in elk geval wat ons nodig het, weet Hy dat ons broos en sondig is, en soms, in spesiale gevalle, sy hulp in die besonder nodig het, of verseker wil word van sy nabyheid en sorg. Selfs die Nineviete het genade by God gevind toe hulle Hom in opregte berou genader het. God is nie ‘n God wat verwyt nie. Hy het geen behae in die dood van die goddelose nie, alleen maar dat hulle hulle sal bekeer en lewe (Eseg 18:23; 33:11). En as dit waar is van die nie-gelowige, hoeveel te meer van sy kinders?

My aanvoeling is dus dat ons nie te hard moet oordeel oor die versoeke tot spesiale saamtrekke of gebedsgeleenthede wat van tyd tot tyd voorkom nie. Maar daarmee saam dink ek ook dat dit op ‘n verantwoordelike manier hanteer moet word. In hierdie verband die volgende opmerkings:

  • Dit moet baie duidelik deur die organiseerders gestel word dat dit nie ‘n manier is om God se “arm te draai” nie. Ons moenie die indruk wek dat omdat die nood hoog is, omdat daar baie mense optrek, en omdat ernstig gebid word, daarom is God as ‘t ware verplig om te gee wat ons vra nie. God word nie beïndruk deur getalle en menslike bymotiewe nie. Wat meer is, gebedsverhoring en die toestaan van versoeke deur God is nie noodwendig dieselfde nie. Indien dit wel dieselfde was, sou ons moes sê dat Jesus en Paulus se gebede (hierbo genoem) nie verhoor is nie. En dit is tog nie waar nie. Verootmoediging voor God en gebed – veral as dit by wyse van groot saamtrekke geskied – is nie ‘n spesiale tegniek om God onder ‘n verpligting te stel om te voldoen aan ons versoeke nie. God bly nog God, en ons bly mense. Ons verstaan nie altyd waarheen God met ons op pad is nie. Daarom is die uitkoms van sulke saamtrekke dikwels anders as wat ons verwagtinge was. Maar wat ook al die uitkoms, as mense in opregtheid en met die regte gesindheid daar is, is die gevoel altyd agterna dat hulle baie seën uit sulke byeenkomste geput het, dat hulle met nuwe toewyding hulle lewe as Christene kan voortsit. En dít is waarskynlik die grootste waarde van sulke “spesiale” geleenthede.
  • Oproepe tot gebedsaamtrekke moet spaarsamig gedoen word. Die indruk moet nie gevestig word dat die buitengewone die normale Christelike lewe vervang nie. Die normale is inderdaad dat ons elke dag onsself aan God sal toewy, met die hartlike begeerte om volgens sy wil te lewe. Indien laasgenoemde geskied, is die behoefte aan buitengewone saamtrekke ook minder. Indien sulke spesiale saamtrekke die norm word, word inderdaad meegedoen aan ‘n soort krisisgeloof waarvan aan die begin melding gemaak is. Die normale geloofslewe – ook wanneer krisisse ontstaan – is nie ‘n soort godsdienstige wipwarit nie: Dán is ons bo, dán is ons onder; dán weet ons waar ons met God staan, dán is ons in totale wanhoop en benodig ons weer ‘n godsdienstige inspuiting om geestelik te kan voortgaan. So ‘n lewe is nie ‘n baie gesonde geloofslewe nie, dis eerder tekenend van ‘n onvolwasse en selfs bygelowige soort geestelike lewe. ‘n Volwasse geloofslewe is eerder een waar die verhouding met God oor ‘n lang tyd gebou en ingeoefen word en ons allengs opgroei na die beeld van Christus, en waar die krisisse van die lewe vanuit hierdie situasie geloofsmatig hanteer word (vgl Heb 5:11-14; Ef 4:13-14).
  • Maar om tog op ‘n meer positiewe noot ten aansien van gebedsaamtrekke af te sluit, moet mens sê dat afgesien van die potensieel positiewe waarde wat dit vir gelowiges mag inhou, die getuieniskarakter van buitengewone saamtrekke nie uit die oog verloor mag word nie. Dit stuur naamlik ‘n sterk sein uit na ongelowiges dat daar mense in die wêreld is wat die probleme van die lewe pertinent met God se bestuur in verband bring. Die lewe het nie maar net ‘n menslike kant nie; dis nie net ménse wat iets aan ‘n situasie kan doen nie. Die lewe het ook ‘n diep geestelike, Goddelike kant. In en deur al ons menslike aktiwiteite is God aan die werk. En soms is daar probleme en krisisse wat net so groot is dat ons besef dis net onvoorwaardelike oorgawe aan God wat ‘n verskil kan maak. Almal – gelowig én ongelowig – word gevolglik opgeroep om hierdie oorgawe te maak, by herhaling of vir die eerste keer. Veral in die hoogs gesekulariseerde wêreld waarin ons toenemend leef, kan sulke hoë profiel openbare byeenkomste die saak van God se koninkryk op aarde positief dien en bevorder. En dan is so ‘n saamtrek bloot vanuit hierdie perspektief al klaar die moeite werd. Verder, soms moet Christene ook plaasvervangend optree, namens hulle wat God nie ken of wil ken nie, namens hulle wat nie erken dat die lewe oor meer gaan as menslike vernuf, kennis en planne nie. Christene bid so juis vir en namens hulle wat nie wil bid nie. ‘n Moderne Spaanse geloofsbelydenis sluit daarom so af: “En omdat ons glo, verbind ons ons: om te glo vir hulle wat nie glo nie, om lief te hê vir hulle wat nie liefhet nie, om te droom vir hulle wat nie droom nie, tot op die dag wanneer hoop ‘n werklikheid word. Amen.” Dalk dra sulke spesiale geleenthede, wanneer reg benut, juis hierdie boodskap plaasvervangend as getuienis vir die wêreld uit.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl