Die Groot Geloofswoordeboek: Sinode, Ring, Kerkraad

Die Groot Geloofswoordeboek: Sinode, Ring, Kerkraad

Sinode (Konsilie) • Ring (Klassis) • Kerkraad

Dit is woorde wat gebruik word vir amptelike kerkvergade­rings. “Konsilie” is die woord wat gebruik word vir die algemene ver­gaderings van kerke in die vroeë era na Christus, en ook tot van­dag toe vir dié van die Katolieke Kerk. Sinode word in die Gereformeer­de tradisie gebruik, maar ook algemene kerkverga­de­ring (deur die Ne­der­duitsch Hervormde Kerk). Net so ring (of klassis in die Ge­reformeerde Kerke), en kerkraad. In die Pinkstertradisie is daar nie so ‘n vaste sisteem en terme nie. Hulle neig ook om meer gesag aan die plaaslike gemeente te gee, baie soos die Baptistedenominasies waar sulke algemene ver­gaderings glad nie bindende besluite vir gemeentes kan neem nie.

Kerkraad

‘n Kerkraad is in die Gereformeerde tradisie die re­gsinstansie en die bestuursliggaam van ‘n gemeente. Dit bestaan ge­woonlik uit die predikante, ouderlinge en dia­kens. Afhangende van bedieningstyl aanvaar die kerkraad óf verant­woordelikheid vir die hele bediening van die gemeente óf net vir die or­ganisasie daarvan wat dan deur gemeente­lede in terme van hul gawes gedoen word. (*Bedienings) In ander tradi­sies is daar ge­woonlik ook ‘n raad of groep wat die regsliggaam is wat ver­antwoordelikheid in die gemeente aanvaar.

 

Ring (Klassis), Sinode

‘n Ring of klassis verteenwoordig ‘n kleiner groep gemeen­­tes of plaaslike kerke, en ‘n sinode meer of selfs alle gemeentes. Waar ‘n kerkgenootskap meer as een sinode het, sal daar ook ‘n al­ge­mene sinode wees wat dan al die gemeentes ver­teen­woor­dig. Hierdie breër kerkvergaderings kan gewoonlik besluite neem wat bindend vir alle gemeentes is, maar daar is heelwat ver­skille hieroor.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Seun van die mens

Die Groot Geloofswoordeboek: Seun van die mens

Seun van die mens

Daar is baie misverstand oor die titel “Seun van die mens” vir Je­sus. Dit word dikwels teenoor “*Seun van God” gestel asof “Seun van God” ‘n hoogheidstitel vir Jesus is, en “Seun van die mens” ‘n titel van vernedering, asof “Seun van God” na sy Goddelikheid ver­wys, en “Seun van die mens” na sy menslikheid.

 

 

Dit is baie onnoukeurig. “Seun van God” beteken allereers na­saat van koning Dawid wat self “seun van God” genoem is en ook die konings na hom, eenvoudig omdat hulle die volk Israel ver­teenwoordig het wat self die “seun van God” genoem is (Ps 2:7; Hos 11:1). In hierdie sin beteken “seun van God” dan nasaat van Dawid en daarom ‘n mens soos Dawid. Dis eers in Johannes se Evangelie dat Jesus “Seun van God” in die verhewe sin genoem word as self ‘n Goddelike Wese. (*Messias)

“Seun van die mens”, daarenteen, is van die begin af ‘n hoog­heidstitel. Dit kom uit Daniël 7:13 waar die vertaling lui: “Iemand soos ‘n menslike wese,” wat in die *Septuagint lui: “Iemand soos die Seun van die mens.” Dit is ‘n heerlike wese wat voor God ge­­bring is en aan wie God “eer en heerskappy en koningskap gee sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien” (7:14). Jesus gebruik dan ook hierdie titel in hierdie hoogheidsbetekenis.

Daar is ‘n baie interessante teenstelling tussen die gebruik van “die Seun van die mens” en “Christus”. “Seun van die mens” is die titel wat Je­sus die meeste gebruik, maar ons die minste. Daar­teen­oor is “Christus” die titel waarvoor Hy die meeste wegskram ter­wyl ons dit die meeste gebruik, selfs as ‘n Naam vir Hom.

Jesus is huiwerig om Homself “Christus” (*Messias) te noem of te laat noem. Hy verbied selfs sy dissipels en ander mense om dit te doen (Matt 16:20), en tog het dit later, naas sy Naam Jesus, dié aanspreekvorm geword wat Christene die mees­te vir Hom gebruik.

Met die titel “Seun van die mens” is dit presies andersom. Dit is Jesus se lieflingstitel vir Homself. Hy gebruik dit omtrent 35 keer in die *Sinoptiese Evangelies, terwyl omtrent niemand anders dit ooit in die Evangelies of elders in die Nuwe Testament vir Hom ge­bruik nie, en selfs ook nie ons vandag nie.

Dit is net so interessant dat Jesus altyd in die derde persoon na die Seun van die mens verwys, asof dit iemand anders is as Hyself. Hy noem Homself nooit direk “Seun van die mens” nie, maar sê altyd iets soos: “Dan sal die Seun van die mens verskyn, en Hy sal … ” (kyk byvoorbeeld na Mark 8:38; Luk 12:40). Dit is só opval­lend dat daar selfs ‘n teorie is dat Hy nie regtig self die Seun van die mens was nie, maar na iemand anders verwys het, of dat Hy nie bewus was dat Hy die Seun van die mens is nie.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Sending/Evangelisasie

Die Groot Geloofswoordeboek: Sending/Evangelisasie

Sending • Evangelisasie

Sending is die doel van die kerk se bestaan. Die tyd is verby om daarvan te verskil. Maar daarmee het ons nog nie by die wor­tel van die saak gekom nie. Die sending is die doel wat die Vader gehad het toe Hy sy Seun gestuur het.

Die sending is God se sending, nie in die eerste plek ‘n paar sendingvriende, sending­organisasies, of selfs die kerk se saak nie. Jesus Christus was die groot sendeling. En ons is in sy Naam met sy werk besig. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle” (Joh 20:21).

 

Dit beteken dat ‘n Christen ‘n sendeling is. Jou doop is jou ordening as sendeling. ‘n Christen kan ‘n ywerige sen­deling of ‘n trae sendeling wees. Hy of sy kan alles insit of niks insit nie, maar is in beide gevalle sendelinge.

‘n Gemeente bestaan op aarde ter wille van die sending. (*Kerk) As God se doel met ‘n gemeente nie sending was nie, sou Hy die ge­meente dadelik weggeneem het hemel toe omdat al die ander dinge wat ‘n gemeente ook moet doen, almal beter in die hemel as op hierdie sondige aarde gedoen kan word. Die jeug sal daar baie beter bearbei kan word, of dalk glad nie meer bear­beiding nodig hê nie omdat daar geen versoekings meer sal wees nie. En die bejaardes sal baie makliker daar versorg kan word, of dalk glad nie meer versorg hoef te word nie omdat siek­te en trane en dood verby sal wees. En die gemeentebou sal daar die maklikste van alles wees, of weereens dalk nie meer no­dig wees nie omdat daar geen sonde sal wees nie.

Sending is ‘n omvattende saak. Dit is meer as evangelisasie. Evan­gelisasie is die taak om die evangelie aan alle nie-gelowiges te bring. Sending is om die kerk te vestig, wat ‘n hele aantal belangrike dinge insluit. Die nuwe kerk moet gelei word om self sy sendingtaak te aanvaar. Maar die nuwe kerk moet ook al die ander nodige be­dienings ontwikkel en uitbou. Dit sluit in dat die nuwe kerk so­siaal bewus gemaak sal word indien dit nog nie sosiaal bewus is nie. Die evangelie moet ook in die samelewing gestalte kry.

Die negentiende eeu is bekend as die groot sendingeeu. Veral Afrika het baie aandag gekry. Ongelukkig was die sendingwerk dikwels met ‘n meerderwaardige motief gedoen, wat teen die laaste helf­te van die vorige eeu ‘n slegte smaak nagelaat het in die mond van die lande wat onafhanklik geword het. (*Godsdiensgelyk­heid, *Godsdiensvryheid) Maar desondanks het die evangelie sterk in­gang in Afrika gevind en brei die kerk tot vandag vinniger in Afrika uit as in enige ander gebied ter wêreld.

Sending is egter lankal nie meer beperk tot die “heidenlande” nie. Sedert die begin van die vorige eeu is ons al daarvan bewus dat sending in al ses kontinente nodig is. Dikwels is dit juis swaarder om mense wat vroeër al op verskillende maniere met die evangelie in aanraking was en later belang verloor het, terug te wen. Sending in baie Europese lande is uiters moeilik en lewer relatief min vrug.

Daar is ook huiwering oor sending en selfs weerstand teen sen­ding. Die huiwering kom al meer as ‘n halfeeu sedert teoloë begin aanvaar het dat God alle mense in en deur hul eie gods­dien­s­te wil red en dat almal net toegewyd aan hul eie godsdiens moet leef. Die weerstande kom uit die onlangse oortuiging dat daar nie so iets is soos absolute waarheid nie (*Postmodernisme), en dat dit beteken dat elke mens of groep hulle eie waarheid het en dat Christene vermetel is om hulle waarheid aan ander op te dring.

Daar sou wel nog ruimte wees vir dialoog tus­sen mense van ver­skillende godsdienste om mekaar beter te ver­staan en van mekaar te leer.

Al hierdie sienings kan ‘n mens inderdaad versigtiger en be­ter ingelig maak in jou sendingroeping, maar dit neem nie die roeping weg wat die Here ons gegee het om Hom aan alle mense te verkon­dig nie. Wie Hom ken, weet ook Hy is oor en oor die moeite werd om te ken en te dien. Wie in Hom glo, kan nie anders as om te wens en te bid en te werk dat Hy deur alle mense as Verlosser aanvaar moet word nie.

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Selibaat

Die Groot Geloofswoordeboek: Selibaat

Selibaat

Iemand wat selibaat leef, is iemand wat nie getroud is nie en alle seksuele kontak vermy. Daar is mense wat dit uit vrye keuse doen, maar die *Katolieke Kerk vereis dit van alle priesters. Die Here Jesus verwys na mense wat nie trou nie. Hy noem drie groepe: dié wat weens hulle geboorte nie kan trou nie, dié wat so gemaak is, en dié wat kies om so te leef ter wille van die evangelie (Matt 19:12). Paulus verwys ook daarna as hy aanbeveel dat Christene ter wille van die vervolging liewer ongetroud moet bly (1 Kor 7). Maar dit lyk of hy meen dit is ‘n gawe van die Here (7:7), dus nie iets wat ‘n mens sommer vanself moet besluit nie.

 

Skrywer: Prof Adrio König