Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (6)

Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (6)Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (6) – Adrio König

Maar naas die lof aan die Here is daar ’n tweede lyn. Dit is die beklemtoning van die negatiewe rol van Israel in die woestyn. En ons sal sien hulle negatiwiteit word met verskillende oormerke uitgelig. Ons gaan na drie gedeeltes kyk:

  1. 1.Esegiël 20
  2. 2.Psalm 106
  3. 3.Psalm 95

Psalm 106

Hierdie Psalm het heeltemal ’n ander karakter as Esegiël 20, maar dit gaan nog steeds oor die negatiewe rol van Israel.

Dit is ook interessant dat twee Psalms wat albei die uittog as tema het (105 en 106), direk na mekaar in die Psalmboek staan, maar so radikaal van mekaar verskil in hulle interpretasie van die uittog. Ons het vroeër in die hoofstuk reeds na Psalm 105 gekyk en gesien dit is eintlik naïef-onskuldig in sy verwysings na die rol van Israel. Daarteenoor is Psalm 106 skerp krities. Dit draai geen doekies om nie.

 

Psalm 106 teken ’n volkome negatiewe prentjie van die geskiedenis van Israel, nie net tydens die uittog nie, maar die groot nadruk is wel op die uittog. In ’n Psalm met 48 verse is daar net een enkele vers wat iets positiefs oor die volk sê (12), en dit is in die Hebreeus die kortste sinnetjie in die hele Psalm: ”Toe het sy volk sy beloftes geglo en sy lof besing.” Wat verder opval, is dat hierdie positiewe sinnetjie reg aan die begin staan, direk na hulle eerste verset teen die Here by die Rietsee (6-7). Dit beteken van hier af het dit net van kwaad tot erger gegaan. Immers die res van hulle geskiedenis word absoluut negatief weergegee. Hoe klop dit met die juigende inleidende deel? (1-2) Daar is uitleggers wat meen die kontras is so groot dat hierdie inleidende verse eintlik deel is van Psalm 105, waar dit goed sou aansluit by byvoorbeeld 105:43.

 

Maar ’n mens kan dit ook anders verstaan. Dit kan wel sinvol wees om die Here te loof in die lig van hierdie absolute negatiewe rol van Israel. Die blote feit dat die Here so lank met so ’n afvallige volk aangehou het, en dat Hy “in sy groot liefde” nog telkens weer aan hulle genade bewys het (45-46), is oorgenoeg rede om Hom uit volle bors te loof. Trouens vers 43-46 is ’n merkwaardige einde vir hierdie donker Psalm. Dit kan ons ook moed gee. Die Here het ’n “laaaang moed” (“lankmoedig,” verdraagsaam).

 

Die lang middeldeel van die Psalm het ’n redelik vaste struktuur. Dit gaan oor die volk se sonde en die Here se oordeel. Hierdie struktuur word sewe keer herhaal. Selfs dit kan die simboliese betekenis hê van “volheid”, van die volle maat van hulle sonde, maar ook die volheid van God se genade.

 

Vers 43-46

Die struktuur van vers 43-46 is interessant. Dit begin negatief: Al het die Here hulle soveel kere gered, “het hulle opstandig gebly en dieper in hulle sonde weggesink”. Dit is net logies om te verwag dat ’n mens dan sal lees: “Daarom het die Here besluit dis nie die moeite werd om hulle elke keer te red nie, en Hy het hulle oorgegee aan die vyand.” Maar die teendeel gebeur: “Tog het Hy sy oë nie vir hulle nood gesluit nie; Hy het hulle smeekgebede verhoor.” Die “tog” is eintlik “nogtans”. En dis mos presies wat genade is. Ons verdien die oordeel van God. Nogtans kry ons vergifnis. Die profesie oor Jesus lui: “Hy was verag en ons het Hom nie geag nie. Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en ons smarte – dié het Hy gedra” (Jes 53:3-4, 1953-vertaling). Dis genade.

 

Dis ook opvallend dat hier van “hulle smeekgebede” gepraat word, terwyl daar nooit vroeër in die Psalm na sulke gebede verwys word nie. Dit kan net beteken dat dit nie regtig so ’n sterk element in die geskiedenis was nie, maar dat die Here selfs ons powere pogings ernstig neem, wie weet, dalk selfs ernstiger as wat ons dit self bedoel. Dis bepaald hier die geval. Dit lyk asof die Here ’n rede gesoek het om hulle genadig te wees. Sien ons nie Jesus hier “om die hoek loer” nie?

 

Wat dan volg, is belangrik. “Ter wille van hulle het Hy aan sy verbond gedink.” In Esegiël 20 was dit anders, soos herhaaldelik elders in Esegiël. Oor en oor lees ons dat die Here die volk nie vernietig nie omdat dit die eer van sy Naam in die gedrang sou bring (20:9, 14, 22). Dit is dan ook in Esegiël die groot beswaar van die Here oor Israel se sonde: Hulle het sy Naam onder die nasies oneer aangedoen (36:20, 23). Die opskrif van die 1983-vertaling bokant hierdie deel in Esegiël is dan ook tereg: “Dit is nie ter wille van julle dat Ek optree nie.”

 

Hier in Psalm 106 is dit anders. Hier lees ons die teenoorgestelde: “Ter wille van hulle … ” Dit skep ’n sagter, mensliker indruk. Die nadruk op “die eer van my Naam” kan ’n harde, onmenslike indruk skep asof dit vir God net om Homself en sy eer gaan, wat ook al met mense gebeur. Dit is natuurlik nie regtig die bedoeling nie. Esegiël probeer op uiterste maniere om dit vir die volk aan die verstand te bring dat hulle tot besinning sal moet kom, dat hulle bepaalde grense deurbreek wat uiteindelik kan beteken dat God Hom aan hulle onttrek. Die Psalmdigter, daarenteen, wil die volk wat in die tempel vir ’n fees vergader is, beweeg om die Here uit volle bors te loof.

 

Die uiters negatiewe prentjie wat Psalm 106 van Israel teken, het dus eintlik nog altyd ten doel om die Here te verheerlik. Dit kom duidelik uit in die eerste verse en vers 43-46. Hoe negatiewer Israel se optrede geteken word, hoe helderder skitter die aanhoudende ontferming van die Here.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (5)

Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (5) – Adrio König

9.2.2 Die negatiewe interpretasie van Israel se rol

Maar naas die lof aan die Here is daar ’n tweede lyn. Dit is die beklemtoning van die negatiewe rol van Israel in die woestyn. En ons sal sien hulle negatiwiteit word met verskillende oormerke uitgelig. Ons gaan na drie gedeeltes kyk:

  1. 1.Esegiël 20
  2. 2.Psalm 106
  3. 3.Psalm 95

 

Esegiël 20

Ons het hier ’n oorweldigende hoofstuk oor Israel se ontrou. Hulle rol word volkome negatief geskilder. Daar is nie ’n enkele positiewe opmerking oor hulle nie, nie oor die uittog self nie, en ook nie oor die rol van Israel tydens die ballingskap waarin hulle uit Egipte op hierdie stadium verkeer het nie. Hierdie hoofstuk gaan eintlik oor vier geslagte Israeliete:

  • Die volk wat uitgelei is uit Egipte.
  • Hulle kinders wat ná die omswerwings van 40 jaar die land moes intrek.
  • Die volk in Kanaän.
  • Die geslag wat in Esegiël se tyd in ballingskap in Babel is.

En die punt wat Esegiël maak, is dat die een so ontrou aan die Here was soos die ander. Maar dan, asof uit die bloute, kom daar skielik ’n draai. Kom ons kyk na die hoofstuk.

 

Moenie die hoofstuk “plat” lees nie. Kry die struktuur in die oog, en dan word dit duidelik waarop die profeet afstuur.

  • Inleiding 20:1-6.
  • Israel nog in Egipte 20:7-9: die ontrou begin vroeg!
  • Israel in die woestyn 20:10-17: volkome ontrou aan die Here.
  • Die tweede geslag wat moet intrek 20:18-26: volkome ontrou aan die Here.Die volk in Kanaän 20:27-29: volkome ontrou aan die Here.
  • Die volk in ballingskap 20:30-32: volkome ontrou aan die Here.
  • Die onverwagte draai 20:33-44.

 

Inleiding 20:1-6

Die leiers van die volk in ballingskap kom om die Here te raadpleeg. Hulle kry egter nie eens die geleentheid om te sê waaroor hulle wil praat nie. Die woorde van die Here wat Esegiël vir hulle moet sê, kom soos ’n vloed oor hulle. Die Here weier om hulle aan te hoor. Hy beveel die profeet om hulle dadelik te oordeel (3, 4). Die rede is “die afskuwelike dinge wat hulle voorvaders gedoen het”. Dit blyk later dat die eintlike rede vir die Here se negatiewe reaksie die feit is dat hulle met hierdie dinge voortgegaan het (20:30).

 

Dit is opvallend dat die doel van die Here met hierdie stortvloed van woorde nie is om Israel tot bekering te roep nie. Ons sal sien dat sowel die Psalmdigters as die profete juis na die uittog verwys om die volk tot bekering te roep. Maar hier gaan dit eers net om die oordeel, en daarna die onverwagte draai waarna ons later kyk.

 

Die Here begin sy oordeelswoorde met sy verbintenis om Israel uit te lei na “’n land wat oorloop van melk en heuning, ’n sieraad onder al die lande”. Hoe ernstig hierdie verbintenis vir Hom was, blyk uit die feit dat Hy drie keer herhaal dat Hy Hom met ’n eed aan hulle verbind het. Dis hier al opvallend dat daar niks positiefs oor hulle verhouding met Hom gesê word nie. Die eis van die Here tydens die uittog was dat hulle voorouers die afgode moes los wat hulle in Egipte gedien het (Jos 24:14). Hy beklemtoon dit : “Ek, die Here, is julle God.” Omdat die Here hulle God is, moet hulle die ander gode los. Dit gee ’n sterk boodskap deur dat die Here eksklusief gedien wil word, sekerlik vandag nog. Ons het in die 1953-vertaling gelees dat Hy ’n “jaloerse” God is (Eks 20:5). Baie latere vertalings het egter van hierdie woord “jaloerse” afgesien. Die 1983-vertaling maak dit ’n God wat onverdeelde trou eis, en NLV “jou enigste God”. Hierdie vertalings is eintlik omskrywings. Dit is interessant dat sowel NJB as NLT en GN by “jaloerse God” bly. Net soos daar iets soos heilige woede/toorn is, is daar ook heilige jaloesie. God aanvaar nie ’n opponerende god in ons lewe nie. Ons moet Hom ernstig neem. Die profete gebruik dikwels die man-vrou-verhouding om die eksklusiwiteit van sy verhouding met ons te beklemtoon. En dit sal dwarsdeur Esegiël 20 blyk dat hierdie afgodsdiens die hele tyd in Kanaän voortgeduur het al het ander sondes later bygekom (v 16, 24, 28b, 30).

 

Onderstreep elke keer die “maar” aan die begin van ’n vers in hierdie hoofstuk. Ek kry sewe keer “maar” van vers 8 tot vers 22. Ongelukkig het daar ’n “en” in vers 28 ingeglip wat natuurlik ook ’n “maar” moes gewees het. Hierdie herhalende “maar” werk soos ’n skaakspel. Op elke stoot volg ’n téénstoot. God neem bepaalde inisiatiewe, maar Israel reageer negatief. Dan oorweeg God weer sekere dinge, maar Hy doen tog anders. En dan herhaal die sirkel hom weer.

 

Die deurlopende tema in elk van die hoofdele is dat die Here Israel sekere dinge beveel, maar dat hulle ongehoorsaam is, Hy oorweeg dan om hulle te vernietig, maar doen dit nie, terwille van die eer van sy Naam. Dis belangrik dat die woord “verset” elke keer gebruik word (8, 13, 21) – ’n baie sterk woord om vir ongehoorsame optrede te gebruik. Die Here sien ongehoorsaamheid in ’n baie ernstige lig. Hierdie struktuur word net so herhaal in al vier hoofdele na die Inleiding.

 

Dit is opwindend om te lees hoe lewend en betrokke die Here by die geskiedenis is. Elke keer oorweeg Hy iets, maar sien dan daarvan af en doen iets anders. Dis nie die prentjie van ’n starre God wat in die ewigheid alles klaar besluit het en nou net die besluite uitvoer nie. Dis die prentjie van ’n God wat betrokke is, wat verskillende moontlikhede oorweeg en dan doen wat in hierdie situasie die beste sal wees, en dikwels met ’n besluit kom wat ons grondig verbaas of verras. Kom ons kyk nou een vir een na die onderdele wat op die Inleiding volg.

 

Israel nog in Egipte 20:7-9: die ontrou begin vroeg!

Kyk weer na vers 8 se einde: “in Egipte.” Nog voor die volk uit Egipte vertrek het, was daar al genoeg rede vir die Here om hulle te verwerp (Eks 6:11). Waarom het Hy dan in die geheel met hulle begin? En waarom so lank in die woestyn, en daarna in Kanaän met hulle aangehou en uitgehou? Het Hy nie vir Homself “’n kat in die sak gekoop” toe Hy besluit het om hulle sy volk te maak nie? Hy het. Maar hulle was nie die motief en die beweegrede agter sy besluit nie. Sy liefde was. En liefde is blind. Goddank! (Deut 7:7-8)

 

Israel in die woestyn 20:10-17: volkome ontrou aan die Here

Let weer op die struktuur.

  • God handel (10-12)
  • maar die volk is volkome ontrou (13a).
  • God oorweeg verdelging (13b)
  • maar Hy besluit daarteen (14).

Te midde van hierdie vaste struktuur in elke onderdeel, is daar ook keerpunte. Op hierdie stadium het die Here besluit dat daardie geslag nie in Kanaän sou ingaan nie (15).

 

Die geslag wat ingetrek het 20:18-26: volkome ontrou aan die Here

Bepaal self die struktuur wat hier dieselfde is as in die vorige onderdele. Ook hier kom ’n keerpunt: Die Here besluit alreeds in die woestyn dat Hy hulle uiteindelik in ballingskap sal laat gaan (Lev 26:33). Dit is ’n ontstellende en tog ook ’n heerlike saak! Dit beteken dat die Here van die begin af geweet het Hy kies ’n ontroue volk, en tog met hulle aangehou het! Dalk sien Hy tog vir ons ook nog kans.

 

Vers 25, 26 is vreemde verse. Miskien moet ons dit verstaan in die lig van ’n ander saak tydens die uittog, hoe die Here uiteindelik die farao se hart verhard het nadat dit duidelik geword het dat hy in elk geval nie na die Here wou luister nie. Die Here wou op dié manier sy eie mag toon, deur téén die farao se wil die volk met geweld te laat trek. Hier was dit ook reeds duidelik dat die volk aanhoudend aan die Here ongehoorsaam was. Skynbaar het die Here dus besluit om hulle in hulle ontrou te laat volhard totdat Hy hulle uiteindelik sou straf.

 

Die volk in Kanaän 20:27-29: volkome ontrou aan die Here

Die volle struktuur ontbreek hier, maar die basis bly. Immers die “en” in vers 28 moes ’n “maar” gewees het. Dus nogeens: God gee, maar die volk is ontrou.

 

Die volk in ballingskap 20:30-32: volkome ontrou aan die Here

Hier word die basiese struktuur nie meer gebruik nie. Hier is dit kort en saaklik: Oordeel oor hulle ontrou. Veral die afgodsdiens is hier op die voorgrond. Twee sake kom hier na vore:

  • Die Here sal hulle nie te woord staan nie (31b).
  • Die Here sal ook nie toelaat dat hulle met hulle afgodsdiens voortgaan nie (32).

 

Die onverwagte draai 20:33-44

Wat kan ’n mens na dit alles logieserwys verwag? Seker dat die Here uiteindelik sal voel die volk bring soveel skande oor Hom, sy Naam word so erg onder die volke ontheilig, dat Hy eenvoudig die band met Israel moet verbreek. Later in Esegiël speel hierdie oneer aan sy Naam ’n al hoe groter rol (oa 36:20, 21, 22, 23). Wat dan volg, is egter ingewikkelder as dit. Eintlik is dit verontrustend én verblydend tegelyk.

 

Dit gaan hier oor die terugtog, die geleentheid wanneer die Here die volk weer uit Babel sou terugbring na Jerusalem om die tempel te herbou. Maar die terugtog het heeltemal ’n ander karakter as wat dit in die ander profete het. In Deutero-Jesaja is dit ’n triomftog, hier in Esegiël is dit ’n oordeel- en siftingsgeleentheid.

 

Byna in elke hoofstuk van Jesaja 40-54 is daar ’n juigkreet oor die volk wat deur die Here uit Babel teruggelei sal word na Jerusalem (40:3-5; 41:27; 43:1-7, 18-21; 44:26-28; 48:20-21). Die toppunt van hierdie jubel is waarskynlik 43:16-21. Daar word eers verwys na die glorieryke uittog uit Egipte waar die Here die vyandelike leër in die Rietsee laat verdrink het. Maar dan volg die merkwaardige woorde: ”Maar moenie aan die vorige dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen” en dan volg die lied oor die terugtog. Terloops, die “net” van die 1983-vertaling in vers 18 misken natuurlik die hele betekenis van die vers. As daar iets verduidelikends bygevoeg moes word, dan eerder “glad nie”. Selfs aan hierdie heerlike verlede, die triomfantelike uittog, moes die volk glad nie meer dink nie, so heerlik sou die terugtog wees. Dit sou die uittog heeltemal oor tref.

 

Skerp teenoor hierdie eensydige jubelroep oor die terugtog, staan Esegiël 20:33 en verder. Die Here gaan die volk uit Babel uitlei die woestyn in, en daar gaan Hy hulle oordeel, daar gaan sy toorn oor hulle losbreek (33-35). Hy sal hulle daar een-een ondersoek en dié wat opstandig en in verset teen Hom is, sal nie in die land van Israel terugkom nie (37-38). Natuurlik is die implikasie dat hulle daar in die woestyn sal sterf. Die Here sal hulle finaal oorgee aan die gode wat hulle gedien het (39). En eers dan kom die jubel (40-44). “Op my heilige berg … daar … sal die hele Israel My dien” (40). Wat gebeur hier? Eers moet daar ’n skeiding voltrek word, en dan kan die terugtog ’n triomftog word.

 

Kom ons maak ’n paar opmerkings hieroor

Is dit nie getrouer aan die werklikheid as Deutero-Jesaja nie? Dit is mos nie waar dat almal in Babel skielik so getrou aan die Here was dat hulle almal sonder uitsondering net so kan teruggaan nie. En hierdie skeiding is mos ’n sentrale tema in die Bybel. Dit begin al by Kain en Abel, dit gaan voort in die sondvloed, tussen Abraham en Lot, in die woestyn as die eerste geslag eers moet uitsterf, tussen Saul en Dawid, en dwarsdeur tot in die eindoordeel (Matt 25:31-46).

 

En waar daar ’n eensydige liefdesprediking oorheers, word die evangelie skeefgetrek en hierdie faset van die Bybelse boodskap verwaarloos – tot ons almal se groot verlies. Verder is hier ’n baie belangrike woord. Ná die skeiding “sal die hele Israel My dien”, sê die Here (40). Maar hoe kan dit? ’n Deel van Israel is dan pas tevore in die woestyn veroordeel en agtergelaat om daar te sterf. Dan kom daar mos net ’n deel van Israel in Jerusalem aan.

 

Nee, dit werk nie so nie. Die deel van die volk wat enduit volhou met hulle verset en opstand teen die Here, word afgesny van die ware Israel. Hulle is nie meer deel van die Godsvolk nie. Onthou, Israel was nie ’n volk-in-eie-reg wat verder ook nog die volk van God was nie. Daar was glad nie so ’n volk nie. Die Here het hulle uit Abraham en Sara met ’n wonderwerk laat voortkom. Hulle was sy volk, en verder niks. Dit beteken dat die ontroues nie regtig deel van Israel was nie. In hierdie geval is hulle in die woestyn agtergelaat, en die hele Israel is verder Jerusalem toe, want net dié wat op die roepstemme van die Here gereageer het, is waarlik Israel. Dis tog presies wat ons later by Paulus lees: “Nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie; en nie almal wat nakomelinge van Abraham is, is werklik kinders van Abraham nie” (Rom 9:6-7). Elders lees ons: “Nie hy is ’n Jood wat dit uiterlik is nie … Nee, hy is ’n Jood wat dit innerlik is” (Rom 2:28-29).

 

Daarom is dit verkeerd om Israel as ’n blote nasionale eenheid te beskou, en die besnydenis as bloot net ’n teken dat iemand ’n Jood is. Die besnydenis was voluit ’n geloofsakrament. “Dit is ’n seël wat bewys dat God hom (Abraham) vrygespreek het omdat hy geglo het … ” (Rom 4:11). En Abraham is “die vader van dié besnedenes wat nie net besny is nie, maar ook glo … ” (Rom 4:12). Duideliker kan dit skaars geskryf word. Daar het van die begin af ’n skeiding deur Israel geloop. Dit het nie gehelp om jou daarop te beroem dat Abraham jou vader is nie. Jesus verklaar: “Ek weet julle is die nageslag van Abraham … ” maar “as julle kinders van Abraham was, sou julle doen wat Abraham gedoen het” (Joh 8:37, 39). Onthou altyd dat Israel in die verbond geleef het wat God met Abraham gemaak het, en Hy het die verbond gesluit met Abraham- wat-in-Hom-geglo-het (Gen 15:6, NLV).

 

Konklusie

Ons het in Esegiël 20 dus ’n volkome negatiewe prentjie oor Israel se rol in die uittog, en trouens regdeur tot in die ballingskap. Die skeiding tussen getroues en ontroues bring eers die “ontknoping”

wanneer die Israeliete geskei word en die ware volk van God teruggaan Jerusalem toe. Die uittog word dus gebruik om die oordeel van God oor Israel te regverdig.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (4)

Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (4) – Adrio König

Psalm 105

In hierdie Psalm het ons ’n ekstra element by die lof aan God. Hier word inderdaad na Israel se rol verwys, maar dis eensydig positief omdat Israel self nie regtig die oogmerk van die digter is nie. Hy wil ook die lof van die Here besing, en sy verwysings na die rol van Israel is net in diens van sy lof aan die Here. Hy verwys dus net na Israel om te verduidelik wat die Here gedoen het.

Die Psalm begin met oproepe om die Here te loof en sy magtige dade aan die nasies bekend te maak. Dié wat sy teenwoordigheid soek, moet bly wees. En dan roep hy almal op om aan die Here se magtige dade te dink (5), en dit is die oorgang na die lang verhaal waarin hy die magtige dade van die Here opsom.

 

Hy dek die hele geskiedenis: Abraham, Isak, Jakob, die vlug na Egipte tydens die hongersnood, Josef se rol in Egipte, die plae word in detail vertel en dek die grootste deel van die Psalm. Dan volg die uittog, en die intog in Kanaän. En die toepassing is tweevoudig: “Daarom moet hulle sy voorskrifte gehoorsaam en sy wil doen,” en die finale oproep: “Prys die Here!” Die wonders van die Here tydens die uittog moet dus dien as ’n oproep aan die volk om Hom gehoorsaam te wees.

 

Dis ’n kort samevatting van die inhoud van die Psalm. Maar dit mis eintlik die hele punt. Lees ’n keer aandagtig die Psalm deur en let op die nadruk op “die Here” en “Hy”. Let daarop dat die groot middeldeel oor Josef (18-23) die geskiedenis vertel van wat Josef in Egipte gedoen het sonder dat daar spesifiek na  die Here verwys word. Maar die gedeelte word ingelui met die woorde: “Hy (die Here) het iemand voor hulle uitgestuur” (17). Benewens hierdie lang middeldeel kom die woorde “Here” en “Hy” omtrent 30 keer voor. So te sê alles wat gedoen word, is sy werk. Die voorvaders en Israel en die Egiptenaars is dus die hele tyd ter sprake, maar hulle is net daar om te vertel aan wie die Here sy dade gedoen het.

 

Die rol van Israel word dan ook naïef-onskuldig voorgestel. In Eksodus 16 lees ons die verhaal van die kwartels. Daar word drie keer verwys na die verset van die volk (2, 7, 9), en hulle opstandigheid spreek duidelik genoeg uit hulle woorde aan Moses (16:2-3). Kyk ook na die skerp negatiewe interpretasie wat die volgende Psalm van hierdie insident gee (106:14). Maar Psalm 105 lui net: “Toe hulle kos vra, het Hy kwartels laat kom” (40). Die water uit die rots is gekenmerk deur selfs veel erger ontevredenheid en verwyte (Eks 17:2-3, 7), maar geen woord daarvan in hierdie Psalm nie. Daar lees ons net wat die Here gedoen het om vir hulle water te gee (105:41). En dit is ook al wat ons lees oor die hele woestynverhaal met al sy spanning en drama. Dit eindig net met: “Hy het … sy volk juigend, sy uitverkorenes jubelend laat voorttrek”! (105:43) Wat gaan hier aan? Is dit eerlik om só ’n absoluut onskuldige opsomming te gee van die woestyntog? Nie as dit as opsomming bedoel was nie. Maar dit was bedoel as lof aan die Here, en dan tel die  besonderhede oor die volk se rol nie regtig nie.

 

’n Mens moet dus gevoelig wees vir ’n skrywer se doel en oogmerk. As dit gaan om die lof aan die Here, moet dit wat daartoe bydra, oorheers. En die res is bysake. Oor die algemeen kan ons dus sê dat daar talle voorbeelde daarvan is dat die skrywers van die Ou Testament die uittog geweldig hoog aangeslaan het, en veral die wonders wat die Here gedoen het. Hulle kon nie daaroor uitgesing raak nie. Kyk ook nog na Psalm 135:8-12. En onthou, die meeste van hierdie Psalms is liedere wat in die tempel gesing is. Dit moes ’n geweldige ervaring gewees het om te hoor hoe die massa mense die Here met hierdie lofliedere prys.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (3)

Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (3) – Adrio König

Psalm 136

Hier is nog een van die Psalms wat die lof van die Here uitjuig. Net soos Psalm 114 is dit waarskynlik tydens die Pasgafees (Paasfees) in die tempel gesing. Die herhalende refrein “Aan sy liefde is daar geen einde nie” is deur die gemeente gesing in antwoord op die voorsanger wat die eerste deel van elke vers gesing het.

Daar is interessante ooreenkoms met Psalm 114. Ook in hierdie geval word daar geen aandag gegee aan die rol van Israel by die uittog nie. Dit gaan uitsluitlik om die werk en veral die groot mag van die Here. Daar is ook verskille. In Psalm 114 gaan dit net oor die uittog, eintlik net oor twee insidente tydens die uittog: Die tog deur die Rietsee, en dié deur die Jordaan. Hier gaan dit om veel meer. Dit gaan om die uittog, die deurtog deur die woestyn, en die intog in Kanaän in. Maar selfs nog meer. Die lied begin met ’n verwysing na die skepping.

 

Dit is belangrik dat die uittog dus hier in dieselfde asem as die skepping genoem word. Dit plaas die uittog op ’n baie hoë vlak, want die skepping is die aangrypendste en ingrypendste wonder ooit. Maar Psalm 114 het dit eintlik ook al gedoen deur die manier waarop dáár na die uittog verwys is: In die taal van die stryd teen die chaosmagte wat by die skepping sou plaasgevind het (114:3-6). Dit alles beteken dat die skrywers van die Ou Testament die uittog gesien het as ’n skeppingsdaad, die skepping van die volk. Elders word die Here dan ook die Skepper van Israel genoem (Jes 45:11).

 

Natuurlik het hulle reeds voor die tyd bestaan. Maar hulle het deur die uittog ’n nuwe bestaan gekry: volk van die Here. Ons kry dieselfde gedagte in die Nuwe Testament. Mense wat deur die geloof aan Jesus verbind word, word ’n “nuwe skepping” genoem. Die “nuwe mens” van 2 Korintiërs 5:17 is in die Grieks ’n “nuwe skepping” (NLV). Dieselfde gedagte lê ook agter die woord “weergeboorte”. Die Here begin eintlik oor met ’n mens, gee jou ’n nuwe lewe, jou eintlike lewe, dié lewe wat tel.

 

Die insette van 136:2 en 3 kom beter tot hulle reg as ons die NLV volg:

  • Prys die God van die gode.
  • Prys die Heer van die here.

Hierdie vertaling laat duideliker uitkom dat ons hier die voorstelling het dat daar baie gode is (politeïsme) waarvan Jahwe die Oppergod is, die magtigste God (monargiese politeïsme). Ons sou Hom in hierdie terme selfs die voorsitter van die godevergadering kon noem (Ps 82:1: “God takes his stand in the divine assembly, surrounded by the gods he gives judgement”). Om die Here se lof te besing, beskryf die digter sy “magtige dade” (v 4). Hy begin by die skepping. Hy sonder drie dinge uit: die hemel, die aarde en die “hemelligte”.

 

Daarna kom die uittog aan die beurt. Hy sonder weer drie dinge uit: Die Egiptenaars wat met die dood getref is, die Rietsee wat in twee gekloof is, en die farao wat met sy leërmag in die Rietsee verdrink het. Dan die deurtog. Dis ’n eenvoudige verwysing, maar ons besef nie regtig hoeveel dit werklik sê nie: “Hy het sy volk deur die woestyn laat trek” (v 16). In Jeremia 2:6 kry ons meer inligting om ons te help om die werklike betekenis van “woestyn” te verstaan.

Hy het ons deur die woestyn gelei,

deur ’n droë wêreld vol slote,

deur ’n dor land vol doodsgevaar,

deur ’n land waardeur niemand trek

en waarin geen mens woon nie.

Die feit dat die Here hulle deur die woestyn laat trek het, is dus ’n loflied op sy magtige voorsiening en leiding.

 

Ons het vroeër ’n opmerking gemaak oor die groot getalle in verband met die uittog. Dit is nie onmoontlik nie dat dit net nog ’n poging was om die wonderdade van die Here te beklemtoon wat so ’n groot hoeveelheid mense deur sulke haglike omstandighede gelei en onderhou het.

 

Daarna (17-24) kom die intog aan die beurt en roep die digter die oorwinnings oor die inwoners van Kanaän in herinnering. Dit is aangrypende wonders, want dit is behaal deur ’n volk wat al wie weet hoe lank op ’n tog deur die woestyn was. Dit beklemtoon die groot mag van die Here. Die feit dat Israel nie regtig in hulle eie krag en waarde bygedra het tot hierdie oorwinnings nie, word beklemtoon deur die feit dat die digter die land ’n “geskenk” noem (21, 22). Die vernedering waaruit die Here hulle bevry het (23), was natuurlik die feit dat hulle as ’n volk nie ’n eie land gehad het nie, maar as slawe in Egipte onderdruk is.

 

Die Psalm sluit af soos dit begin het, met die lof aan die Here. Dit is nog ’n besondere voorbeeld van hoe die uittog geïnterpreteer is as die wonderdade van God sonder enige verwysing na die rol van Israel. Dit is ’n lyn wat ons oor en oor in die Ou Testament kry.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König