Jesus se worstelstryd (12:27-31)

Jesus se worstelstryd (12:27-31) – Francois Malan

12:27-28a  Jesus sê: ‘Nou is my hele wese (psuche binneste/hart/denke/gevoel/emosies), ek, in diepe benoudheid/beroering (tetaraktai)’ – sy innerlike stryd word geopenbaar. Sy uur, waarop die Lam van God die sonde van die wêreld op Hom moet neem en wegneem (1:29), het gekom. ‘En wat sal Ek sê? Hy moet die grootste besluit van sy aardse lewe neem. ‘Vader, red My uit hierdie uur!’ is sy gebed. Johannes het nie die ander Evangelies se berig oor Jesus se drie maal herhaalde gebed in Getsemane oor die beker wat Hy moet drink nie, maar slegs hierdie enkele vers oor sy  worsteling as mens, oor wat Hy geweet het dat dit vir Hom voorlê, as Hy die toorn van God oor die sonde van die hele wêreld moet dra.

‘Maar daarvoor het Ek gekom, vir hierdie uur.’ Vir hierdie besluit van Jesus, sy aanvaarding van die Vader se wil, vergelyk Mat.26:42. En daarom sy gebed: ‘Vader, verheerlik U Naam!’ – sy gehoorsaamheid, sy sterwe aan Homself,  ís die verheerliking van die Vader se Naam (vgl. Mat 6:9), en is die fondament van die Christelike geloof en lewe (vgl. Hebr 5:7-10).             

 

12:28b Toe kom daar ‘n stem uit die hemel oor wat Jesus gedoen het en gaan doen (Johannes vertel nie van die stem oor wie Jesus is, soos by Jesus se doop en op die berg van verheerliking nie. Die ander Evangelies het weer nie hierdie geval nie). ‘Soos in die verlede’ verwys na Jesus se hele optrede tot dusver, met sy openbaring van die Vader dwarsdeur sy bediening, ‘het Ek dit verheerlik, en sal Ek dit verheerlik’ – met die kruisiging, opstanding en hemelvaart wat voorlê, sal die Vader die heiligheid van sy Naam bevestig en verheerlik. Die Vader se Naam is sy Persoon en alles wat Hy van Homself openbaar oor die redding van die sondaar. Hy het sy beloftes waar gemaak, en so sy betroubaarheid bevestig, en sy eer gehandhaaf. Die eer van die Vader is ook die eer van Jesus (5:37; 7:18; 9:4; 11:4; 17:4).

 

12:29 Party van die skare wat daar gestaan het, interpreteer die stem van God as ‘n donderslag, en ander dat ’n Engel  met Hom gepraat het. Al is albei die verklarings nie voldoende nie, bevestig hulle daarmee dat daar ‘n reaksie uit die hemel was op Jesus se gebed.

 

12:30 Jesus en die Vader is een, en daarom het Hy die woorde van die Vader  nie so nodig soos die mense nie. Al het hulle die woorde van die stem nie verstaan nie, het dit tog duidelik geword dat God aan die werk is deur Jesus se optrede.

 

12:31 Nou, dat Jesus se worstelstryd oorwin is en bevestig is deur die Vader se stem uit die hemel, is dit die oordeel oor die wêreld. Die beslissing het geval in die sterwe van Jesus, die Seun van God, wat self ook God is. Die sonde van die wêreld se eiewilligheid en ongehoorsaamheid aan God word op Hom gelê, wat vrywillig in gehoorsaamheid aan die Vader die straf daarvoor dra. Die mensdom se opstandigheid teen God verskyn in onbedekte naaktheid  aan die kruis, en daarmee ook God se verwerping van alles en almal wat sy Offerlam in ongeloof verwerp (vgl. Joh. 3:36). Agter die boosheid van die wêreld staan die owerste van hierdie wêreld, die Satan, wat van sy mag ontneem word. Jesus se sterwe is die oorwinning oor die persoonlike mag van die Satan (sy ‘teenstander’), wat Hom nog tot op die end geteister het in die worstelstryd in Homself. Selfs die mensemoordenaar (Joh. 8:44) se werktuig, die dood, word deur Jesus se opstanding uit die dood oorwin en van sy betekenis ontneem, en die Satan sal uiteindelik uit die wêreld uitgegooi word (vgl. Mat.25:41). 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




‘n Aantal Grieke wil Jesus sien (12:20-26)

‘n Aantal Grieke wil Jesus sien (12:20-26) – Francois Malan

12:20 Die koms van die Grieke bevestig die Fariseërs se klagte in 12:19. Die skrywer sien hulle as die eerste vrug uit die heidenwêreld wat Jesus as hulle Here aanvaar. Daarom plaas hy die gebeurtenis na 12:19.  Die Grieke is nie Griekssprekende Jode (soos in Hand 9:29) nie, maar ‘godvresende’ Grieke (soos in Hand .7:4, vgl. Hand.13:16) wat soveel in die Joodse godsdiens belangstel dat hulle na Jerusalem toe gekom het om deel te neem aan die Paasfees.

Omdat hulle gekom het om te aanbid (proskuneoo) kon hulle selfs ‘proseliete’ gewees het wat reeds besny is om ten volle te kan deelneem aan die Joodse godsdiens. Hulle het moontlik Jesus se reiniging van die tempel beleef wat in die tempel se voorhof van die heidene geskied het (Joh.2:13-16; vgl. Mark. 11:17 waar Jesus Jes.56:7 aanhaal). Die versoek van die Grieke word slegs in Johannes opgeteken, en ook nie volledig beskryf nie. By die salwing in Betanië en met die intog in Jerusalem is die heerlikheid van Jesus deur sy Joodse teenstanders misken. Met die Grieke se koms word sy heerlikheid erken deurdat ook ander volke hulle heil by Hom kom soek. Ons lees nie wat met die gesprek gebeur nie, maar Johannes dokumenteer  Jesus se uitsprake oor sy heerlikheid (Jn 12:23,28). Jesus se hele verhaal is een van vernedering tot heerlikheid (v23), van sterwe om vrug te dra (v24); dit is ook die pad vir sy volgelinge (vv25-26), die sin van die lydingsuur (vv27-30), die betekenis van Jesus se dood as oordeel oor die wêreld (v31), en die resultaat van sy verhoging (vv32-33); Jesus oor die lig en die duisternis (vv34-36).

 

12:21-22 Die Grieke vra om Jesus te sien, dit is om Hom te ontmoet in ‘n gesprek. Hulle nader egter vir Filippus (‘perdevriend’), met ‘n Griekse naam. Filippus kom van Betsaïda wat eintlik oorkant die Jordaan naby die noordoewer van die see van Galilea lê, in die provinsie Gaulanitis (Golan) wat in die gebied van Herodes Filippus geval het. Filippus raadpleeg vir Andreas (‘manhaftig, dapper’), ook van Betsaïda met ‘n Griekse naam, die broer van Petrus (‘rots’). Hulle is reeds saam genoem in Joh.1:43,44; 6:5-9. Hulle twee bring toe die Grieke se versoek na Jesus.

 

12:23 Johannes vertel nie wat verder met die Grieke gebeur het nie. Sy Evangelie konsentreer op Jesus se selfopenbaring. Na aanleiding van die Grieke se versoek kondig Hy aan dat sy uur vir verheerliking gekom het! (2:4; 7:6,8,30; 8:20), die tyd wat God bepaal het vir die heil van die mensdom.  Jesus verwys na Homself as die Seun van die mens, die naam wat sy lyding aandui, maar in die lig van Dan.7:13,14 ook sy heerlikheid.

 

12:24 Die beginsel van v23, deur lyding tot heerlikheid, lewe deur die dood, word met die kort beeld van die koringkorrel geïllustreer. Dit is die weg van die koninkryk van God, vir Jesus en ook vir sy volgelinge. Die uiterlike vorm van die saadkorrel vergaan, maar die kiem van lewe word behou en dit spruit uit in ‘n nuwe gestalte (vgl.

1 Kor 15:36-37, 42-44). Die koringkorrel wat nie ‘sterwe’ nie, kan nie vermeerder nie, maar bly een alleen. Maar in die lewe is dit belangrik ‘om te sterwe’ om vrug te dra. Deur Jesus se dood word die lewe vir ander moontlik – ‘dit dra baie vrug’. Jesus word verheerliking deur sy sterwe.

 

12:25 Die woorde van v24 word toegepas ‘in hierdie wêreld’ met sy ongeregtigheid. Dit staan teenoor die lewe van die gelowige, wat nou reeds ‘n burger is van die koninkryk van God en ‘n radikaal ander lewenskoers inslaan as wat normaal is in hierdie wêreld. Wie sy lewe liefhet, vernietig/verloor (apolluei) dit. Deur vir jou self te lewe, vernietig jy God se bedoeling met die mens, verloor jy die sin van die lewe. Maar wie in hierdie wêreld sy lewe haat… (die Hebreeuse uitdrukking vir ‘minder liefhê,’ vgl. Gen.29:30 meer liefhê en v31 haat, Luk.14:26 jou familie ‘haat’,  – in die parallelle gedeelte in Mt 10:37 liefhê bo My)…hy sal dit tot die ewige lewe bewaar. Die een wat homself verloën omdat hy Christus liefhet, behou sy lewe in ewigheid (vgl. M 8:35; Mt 10:39; Lk 9:24). Terwyl v24 die lewe moontlik maak vir ander, gaan dit in v25 om die wyse om die ware lewe vir jouself te vind. Die een wat ‘sterwe’ aan homself, sal sy lewe bewaar vir die ewige lewe.

 

12:26 Die herhaling van ‘Ek’ en ‘My’ stel Jesus sentraal in die lewe van die gelowige. Hy is werklik die Redder, wat eerste gestel moet word in die lewe. Die hele Christelike lewe word saamgevat met ‘My volg’, en die beloning met ‘wees waar Ek is’. Dit is die weg vir iemand wat ‘My sou/wil dien,’ nie as ‘n slaaf wat daartoe verplig is nie, maar persoonlike betrokke, uit vrye keuse en op eie verantwoordelikheid dien. Die mens wat hom uit eie beweging by Jesus voeg, moet dieselfde weg as Jesus bewandel, die weg van die koringkorrel. Maar uit hierdie afstand doen van eie eer, word die hoogste verering gebore. So iemand sal deur die Vader geëer word, soos Jesus deur lyding tot heerlikheid, ‘waar Ek is, daar sal my dienskneg ook wees’ (diakonos, nie doulos, wat slawediens verrig nie), in ons diens in hierdie wêreld namens Jesus, en in die hemel in die huis van sy Vader met baie wonings. Die kwaliteit van die ewige lewe is om saam met Jesus in die Vader se liefde te lewe.

         Die gedeelte (vv23-26) kan ook beskou word as die antwoord wat Jesus aan die Grieke gegee het.  

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Lasarus se lewe word bedreig (12:9-11)

Lasarus se lewe word bedreig (12:9-11) – Francois Malan

12:9 Die berig dat Jesus in Betanië is, bring baie van die Jerusalem-Jode (wat nie in Jesus geglo het nie) na Hom toe en veral ook om Lasarus te sien, van wie hulle gehoor het dat Jesus hom uit die dood opgewek het. Dit lei daartoe dat baie van hulle deur die onweerlegbare getuienis van die opwekking uit die dood begin glo dat Jesus van God af kom (v11).

12:10-11 Die owerpriesters is die dagbestuur van die Joodse Raad,  almal Sadduseërs, wat nie in die opstanding uit die dood glo nie (Hand.23:8). Hulle ontvang  berig van die groot getal wat weggegaan het van hulle af,  en in Jesus begin glo, nadat hulle  vir Lasarus in lewende lywe gesien het. Die owerpriesters is so ontsteld oor die verloop van sake dat hulle beplan om Lasarus ook dood te maak, om die bewys dat Jesus van God af kom, te vernietig. Kajafas se uitspraak dat een vir die volk moet sterf word nou twee wat moet sterf. Die kwaad begin groei en brei uit om volgelinge van Jesus ook dood te maak.

 

Jesus se intog in Jerusalem (12:12-19)

 

12:12 Die volgende dag – Palm-Sondag – kom van die feesgangers, wat na Jerusalem toe gekom het vir die paasfees,  uit die stad Jesus te gemoet, om Hom soos ‘n koning te ontvang .

 

12:13 Met palmtakke (simbool van vreugde en oorwinning) gaan hulle uit om Jesus te ontmoet en roep hard uit (i) Ps 118:25 Hosanna! (red asseblief) (ii) Ps 118:26 Geloofd/geseënd is Hy wat in die Naam van die Here kom! – God se verteenwoordiger is die een wat geloof word deur die mense en geseënd is deur God. (iii) Die Koning van Israel! – die verwagte Messias (gesalfde) koning, wat die Jode verkeerdelik gehoop het dat Hy hulle uit die hand van die Romeine sou kom verlos. Hy is egter die geestelike koning van Ps 118:27: ‘Die Here is God, Hy skenk ons die lewe. Begin die fees! Wuif met takke!…’, wat so vervul word.

 

12:14-15. Jesus het toe ‘n jong donkie gevind (soos deur God beskik) en daarop geklim, om die valse verwagting van ‘n koning op ‘n oorlogsperd te verander, deur die simbool van die vredessending van Jesus, wat die skrywer verbind met Sagaria 9:9 se  regverdige oorwinnaar-koning, wat nederig op ‘n donkie ry, en strydwaens en perde uitskakel (vgl. Sag 9:10).  Hy is geen Selotiese (fanatikus Lk 6:15) opstandeling wat met geweld en bloedvergieting Jerusalem binnekom, waarvoor Sion hoef te vrees nie, maar die bringer van die vrede van God vir die wêreld van sonde.

 

12:16 Selfs die dissipels verstaan nie die betekenis van Jesus se optrede nie. Eers na sy verheerliking, na sy opstanding uit die dood (vgl. 2:22), word die dinge vir hulle duidelik. Vandag nog word die optrede van Jesus eers duidelik wanneer dit gesien word in die lig van sy opstanding uit die dood, wanneer die Heilige Gees ons alles leer verstaan (14:26).   

 

12:17-18 Die deel van die skare wat by was toe Jesus vir Lasarus uit die dood opgewek het en gelowig geword het, het voortgaande daarvan getuig, sodat dit bekend geword het by die feesskare in Jerusalem, wat saam uitgegaan het om Jesus buite die stad te gaan ontmoet. So het die groot wonderteken van Jesus bewys dat Hy die dood oorwin en die lewe bring, en word Hy as die verwagte Messias erken.

 

12:19 Die geesdrif van die volk wek die afguns van die Fariseërs. Hulle, wat die vertolkers van die Skrifte is, hoor hoe die skare Ps 118 op Jesus van toepassing maak, en dit blaas hulle haat en verset teen Jesus aan. Met tipiese Johannese ironie word die Fariseërs se ontsteltenis beskryf. Hulle sê vir mekaar: sien julle, julle rig niks uit nie, kom nêrens nie. Kyk die wêreld het agter Hom aangegaan. Hulle dink aan die Joodse wêreld, maar dit is profetiese woorde oor die onmag van Jesus se Joodse teenstanders om God se reddende koningskap, wat Hy gebring het, te keer. Ná hierdie paasfees gaan die mense oor die hele wêreld agter Jesus aan deur die prediking van die evangelie. Die Fariseërs se pogings om die getuienis van die kerk stil te maak, sou so onsuksesvol wees soos hulle teenstand teen Jesus. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die salwing van Jesus (12:1-8)

Die salwing van Jesus (12:1-8) – Francois Malan

12:1-2 Ten spyte van die leiers se plan om Jesus te arresteer, verlaat Hy en sy dissipels die veiligheid van die dorpie Efraim (11:54) om na Jerusalem toe te gaan vir die paasfees. Volgens gewoonte gaan Hy na Betanië, waarskynlik na Lasarus en sy susters. Hy kom daar aan, ses dae voor die paasfees (dit is nie seker of die skrywer inklusief reken nie, dan kon dit Sondag gewees het, vyf dae voor Goeie Vrydag. As dit egter vol ses dae voor Vrydag was, het Jesus op die Sabbat daar aangekom – ‘n oortreding van  die Sabbatsgebod deur ‘n veel langer reis as die Rabbi’s se beperkte ‘sabbatsreis’ van 880 meter – vgl. Hd 1:12 – wat hulle uit die Leviete se weiveld om die stede uit Num 35:5 aflei) .

Saterdagaand het hulle vir Hom ‘n ete gegee (in Simon die melaatse se huis, Mt 26:6), met Marta wat bedien en moontlik ook die kos voorberei het. Die daaglikse twee maaltye word na verwys as deipnon, die hoofmaaltyd teen die aand, soos hier; ariston  was die vroeë middag/laat oggendete; in Lk 14:12 word altwee etes genoem). Indien die dag op die Sabbat geval het, is dit Saterdagaand ná sononder bedien, wanneer die Sabbat verby is. Vir die ses reinigingsdae voor die paasfees is Jesus in en om Jerusalem. Lasarus word hier twee maal genoem om die profesie van 12:7 te ondersteun; die man vir wie Jesus uit die dood opgewek het, sit aan tafel saam  met Jesus, wat bestem is vir sy begrafnis ses dae later op Vrydagmiddag  voor sononder, nadat die Lam van God gekruisig is, en wat op die derde dag opgewek word.

 

12:3 Met diepe selfverloëning en innige liefde vereer Maria vir Jesus. Sy neem ‘n halfliter (Romeinse litra van ongeveer 325 gram) baie kosbare nardusolie, salf Jesus se voete en droog dit af met haar hare (‘n eregas se kop is met olie gesalf, Ps 23:6, so in Mat.26:7 en Mark.14:3; vgl. die voete in Luk.7:38 deur die sondige vrou). In nederigheid salf Maria Jesus se voete, met haar kop gebuig aan sy voete en haar hare wat die geur opneem wat van Hom uitstraal. Die lieflike geur vul die hele huis – simbool van haar liefdesdaad, wat oor die hele wêreld vertel word (Mark.14:9)  as ‘n voorbeeld vir gelowiges om hulle uitnemendste gawes en vermoëns uit liefde tot nederige diens en verering van Jesus te stel.

 

12:4-6 Judas Iskariot (die man van die dorpie Keriot Josua15:25 van die stam van Juda, soos Jesus), een van sy dissipels (‘n leerling, volgeling, uit die binnekring), die een wat Hom sou verraai (verraad is skending van vertroue, in die hande van die vyand oorgee). Judas spreek openlik sy afkeuring uit, dat haar huldeblyk aan Jesus ‘n verspilling is. Hy sê die salf kon vir 300 dinarii (Romeinse geld, ‘n volle jaar se werkersloon wat Maria vir haar dankoffer aan Jesus gegee het) verkoop word en vir die armes gegee word. Dit was die gebruik dat die armes versorg is gedurende die paasfees. Judas besef nie die belang van hierdie paasfees nie en gun Jesus nie die reukolie nie; besteding aan die armes is belangriker as die beste aan die Seun van God nie. Sy liefdeloosheid spruit uit sy oneerlikheid en liefde vir geld, ‘n dief, wat die tesourier van Jesus se dissipelgroep was en van die bydraes vir homself geneem het, vir wie die armes slegs ‘n voorwendsel was om sy hand in die geldsak te steek. Geldgierigheid het Judas verhard (Johannes vertel nie van Judas se transaksie met die priesterhoofde volgens Mat 24:14-16 nie, maar sê verder net, Judas was by die soldate wat vir Jesus gevang het Joh.18:3). 

 

12:7-8 Vers 7 het ‘n vertaalprobleem. Letterlik staan daar: laat haar begaan sodat sy dit kan bewaar vir die dag van my begrafnis – maar uit 12:3,5 blyk dit dat sy die salfolie hier gebruik het. Mark.14:8 lui: sy het vooruit al my liggaam gesalf as voorbereiding vir my begrafnis. Die beste vertaling is moontlik: ‘Laat haar staan, sy moes dit vir die dag van my begrafnis bewaar het.’ Die 1983-vertaling is ‘n goeie verduideliking: ‘Laat staan haar. Sy moes dit hou vir hierdie dag om My te salf vir my begrafnis.’ Uit vers 8 blyk dit dat Jesus haar daad beskou het as die uitdrukking van haar onwankelbare geloof en liefde – niks bo Hom nie (12:25). Sy het die waardigheid en grootheid van Jesus herken en met haar optrede ‘n voorbeeld van gelowige toewyding aan Jesus vir ander gestel (Die vroue wat Sondagmôre gegaan het om Hom te salf, was te laat, Mark 16:1).

            Jesus wys nie na Judas se oneerlike verwysing na die armes nie, maar erken dat hulle versorg moet word. Die geleentheid om aan Hom in eie persoon goed te doen was noú daar en moes gebruik word. Jesus hou rekening met die gebroke wêreld waarin die kerk sal bestaan,  dat armoede die vrug is van die sonde, en dat sy volgelinge die verantwoordelikheid het om deur die eeue voort te gaan met liefdeswerk aan die minderbevoorregtes.  Sy verwysing na sy begrafnis bevestig dat die tyd vir sy grootste liefdesoffer as die Lam van God aangebreek het met hierdie paasfees (1:29).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan