Jesus trek Hom terug tot paasfees (11:54-57)

Jesus trek Hom terug tot paasfees (11:54-57) – Francois Malan

11:54 Jesus kon nie langer vry in Jerusalem rond beweeg nie, omdat die Jode finaal besluit het om nie in Hom te glo nie. Hy bepaal self die tyd vir sy sterwe (Jn 10:17-18), en dit moet tydens die paasfees wees,  die fees wat Israel se uittog uit Egipte ingelei het (Eks.12). Jesus kom juis die nuwe uittog uit die slawehuis van sonde inlei tydens die paasfees, as God se paaslam vir ons geslag (1Kor 5:7).  Hy en sy dissipels vertrek uit Betanië en gaan bly in die stad Efraim naby die woestyn. Waar die stad geleë was, is vandag nie bekend nie (Josefus plaas die stad naby Bet-el in die Efraimsberge, waar Jakob die leer tot aan die hemel gesien het).

11:55 Die Jode kom van oraloor om hulle voor te berei vir die paasfees. Die voorbereiding het sewe dae geduur, waartydens bv. alle suurdeeg uit die huise verwyder is (vir suurdeeg as teken van sonde, vgl. 1 Kor 5:6-8), en die feesgangers slegs ongesuurde brood geëet het ter herdenking aan die uittog uit Egipte toe daar nie tyd was om die brood in te suur nie, en brood met suurdeeg nie sou goed hou in die woestyn se hitte nie. Na die paasfees het hulle vir nog ses dae ongesuurde brood geëet (Deutr. 16:1-8). Die Jode kom om hulle te reinig – dit gaan om seremoniële reinheid om die tempelgebied te mag betree en aan die paasmaaltyd te kan deelneem (vgl. 2 Kron. 30:17-19; Num.9:6-11 oor aanraking van ‘n lyk; Lev 15:31-33 oor seksuele reinheid).

 

11:56-57  Die optrede van die feesskare stem ooreen met die onsekerheid van die feesskare tydens die huttefees (7:12-13). Hulle was reeds bewus dat die godsdienstige leiers van plan was om Jesus gevange te neem, want hulle het opdrag gekry om te kom sê as iemand weet waar Jesus is, sodat Hy gevang kan word. Die vervolging van Jesus word nou ‘n opdrag van die Raad (priesterhoofde en Fariseërs). Die mense vermoed egter dat Jesus nie na die fees toe sal kom nie.  

 

Hierdie gedeelte vorm ‘n brug tussen die opwekking van Lasarus en die paasfees van Jesus se sterwe en opstanding.  Die nuwe en volle betekenis van die paasfees gaan in hoofstuk 12 duidelik gemaak word, waar nie van ‘n wonderteken vertel word nie, maar van  mense wat tot die eer van Jesus optree. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die Sanhedrin besluit dat Jesus moet sterwe (11:45-53)

Die Sanhedrin besluit dat Jesus moet sterwe (11:45-53) – Francois Malan

11:45-46 By ‘n aansienlike getal van die Jode wat vir Maria en Marta kom troos het, lei die wonder tot geloof in Jesus. Maar party van hulle bevestig deur hulle optrede dat die wonder nie hulle ongeloof oorwin het nie. Die opwekking van Lasarus wek geloof in Jesus en verset teen Hom, soos in hoofstukke 5 en 9 se wondertekens. Die nuus word aan die Fariseërs oorgedra (soos met die blindgeborene 9:13), wat die proses teen Jesus aan die gang sit, wat tot sy dood sal lei.

11:47-48 Die Fariseërs gaan rapporteer aan die priesterhoofde; Hulle is die uitvoerende bestuur van die Joodse Raad, wat uit tien Sadduseër priesters bestaan het. Hulle besluit die saak is so ernstig dat hulle die volle Raad van 70 bymekaar moet roep (vgl. hulle eerste vergadering oor Jesus in 7:45-52), want ‘hierdie man’ (neerhalend) doen baie wondertekens. Die wonderteken deur Jesus is vir die leiers van die volk hoogs verontrustend, en daar moet nou beslis opgetree word, ‘wat moet ons doen?’ watter maatreëls moet ons tref om aan sy werke ‘n einde te maak. Daar is ‘n groot beweging onder die mense agter hierdie man aan. Mense begin glo dat Hy van God af kom, en die invloed van die godsdienstige leiers is in die gedrang. Daar moet ook met die Romeine rekening gehou word; hulle kan kom en ons en dié plek en die volk wegneem/doodmaak (airoo kan albei beteken; 1983-vertaling ‘tot niet maak’). In die verlede het die Romeine meedoënloos elke messiaanse beweging met geweld onderdruk. Die volgelinge, wat Jesus as ‘n messias beskou,  kan weer ‘n bloedbad in die land veroorsaak, selfs die tempel kan verwoes word, en die voorregte van die Jode as ‘n volk (ethnos) ingetrek word, om bv. nie opgeroep te word vir militêre diens nie. Of, die woord kan ook beteken ‘wegneem’: die Romeine kan ons ontneem van ‘die plek’ (topos kan na die tempel verwys, of na hulle posisie) – die Raad se gesag kom van die Romeine af, deurdat hulle met die Romeinse owerheid saamwerk. Dan is die leiers se bekommernis in die eerste plek oor hulle eie posisie, en nie oor die tempel of die volk nie. Moontlik is albei die moontlikhede in hulle gedagtes: ‘n gewelddadige onderdrukking deur die Romeine, en die verlies van die Raad se beperkte politieke en sosiale mag.

 

11:49-50 Kajafas is as hoëpriester deur die Romeinse goewerneur aangestel , en het die posisie beklee van 18 n.C. tot 36 n.C. toe Pilatus afgesit is. Kajafas is hoëpriester tydens Jesus se kruisiging. Pilatus se voorganger, Gratus het in 15 n.C. vir Annas afgesit, wat vanaf 6 n.C. hoëpriester was. Daarna het Gratus tot 18 n.C. elke jaar ‘n nuwe hoëpriester probeer, tot hy Annas se skoonseun Kajafas gekry het wat met hom saamgewerk het as ‘n marionet van die Romeine, sonder ‘n onafhanklike oordeel. Pilatus het in 26 n.C. by Gratus oorgeneem as goewerneur. (Na Kajafas was twee van Annas se seuns hoëpriester, elkeen net vir 1 jaar).

       Heel arrogant verklaar die Sadduseër hoëpriester, Kajafas, wat ook die voositter van die Raad was, dat die ander lede van die Raad niks verstaan  nie – nie politieke insig het nie; dit is tot julle voordeel dat een man vir die volk (laos die verbondsvolk) sou sterwe, en nie die hele nasie (ethnos) uitgewis word nie (vgl. bv. 2 Sam 20:1-22). Die gevaar vir hulle posisie en vir die voortbestaan van die hele Joodse nasie (ook Jode in die verstrooiing dwarsoor die Romeinse ryk) laat geen ander moontlikheid toe nie. Die enkeling se reg is van geen betekenis nie. Daarmee is die beslissing oor Jesus gevel.

 

11:51-52 Die skrywer sien egter ‘n dieper betekenis agter Kajafas se uitspraak. Dit was inderdaad profetiese woorde wat Kajafas, onbewus van die profesie, uitgespreek het (die taak van ‘n profeet is om God se woord aan die volk oor te dra). God gebruik hierdie onwaardige, vyandige hoëpriester om ‘n goddelike waarheid aan te kondig. Jesus sou nie net vir die Joodse nasie (ethnos) sterwe nie, maar vir al die kinders van God (vgl. Joh.1:12), vir die volk van God (laos), wat oor die hele wêreld versprei is. Teen sy wil verkondig die hoëpriester die waarheid oor Jesus se verlossingsdood. Jesus se dood is ‘n losprys (huper ter wille van; vgl. Mark. 10:45) , ‘n versoeningsdood vir die sonde van die wêreld (Joh.1:29). Daardeur vergader Hy (sunagoo bymekaarmaak soos ‘n herder sy skape)  die gelowiges tot een volk, een kudde (Joh.10:16), een gemeenskap van die heiliges (vgl. Joh.17:20-23), een kerk van Christus (kuriake,‘kerk’, beteken ‘die kurios, die Here, se eiendom’).

 

11:53 Die besluit is geneem om Jesus dood te maak. Van daardie dag af beplan hulle noukeurig (bouleuoo) hoe om Jesus dood te maak, soek hulle na maniere om hulle besluit uit te voer. Daar sal nie ‘n verhoor wees om sy saak te verhoor nie, Hy is klaar skuldig bevind, sonder verhoor (vgl. Mk 14:1-2).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Lasarus word opgewek (11:38-44)

Lasarus word opgewek (11:38-44) – Francois Malan

11:38-39 By die graf in die rots uitgekap (spelaion  waar ons woord ‘spelonk’ vandaan kom) word Jesus se gemoedstoestand weer beskryf as diep bewoë in Homself (embrioomenos en heautoooi). Marta wil Jesus se opdrag keer, dat die steen voor die graf weggerol moet word. Sy veronderstel dat die lyk na vier dae al begin ontbind, en sê: ‘(die lyk) stink al, want dit is die vierde dag.’ Daarmee bevestig sy dat daar geen hoop meer op lewe is nie, Lasarus is werklik dood. Die Joodse balsem met reukolies was bedoel om die stank te bedwing, anders as die Egiptiese prosedures om die liggame te bewaar.

11:40 Die brutale werklikheid van die dood laat Marta se vaste geloof in die Seun van God (11:27) wankel. Sy het vergeet wat Jesus vir haar gesê het: as jy glo sal jy die heerlikheid van God sien (vgl. 11:4,23,25) – om dit te sien moet jy eers glo. Almal sal wel die wonder van die opwekking voor hulle oë sien, maar terwyl sommige daarin die heerlikheid van God en van Jesus sal herken en in Hom glo (11:45), gaan ander van die Jode heen en sit juis die proses aan die gang om Hom dood te maak, op grond van wat hulle gesien het (11:46-50).   

 

11:41-42  Hulle het die klip weggerol (heran) en Jesus het sy oë na bo opgeslaan (heren; NAV het opgekyk) en hardop gebid terwille van die omstanders – Hy self lewe in volledige en konstante gemeenskap met die Vader;  alles wat Hy doen, doen Hy en die Vader saam (vgl. 4:34; 5:30,36) en sy woorde is die Vader se woorde (3:32; 8:26,28) . Hy spreek God aan as ‘Vader’ (nie ‘onse Vader’ soos Hy die dissipels geleer het nie), meer direk en persoonlik. Hy weet vas en seker dat God Hom altyd verhoor – en deel is van sy beplanning sedert 11:4,6.  Sy gebed is meer danksegging as ‘n versoek. Hy bid egter dat  mense tot geloof oortuig sal word deur die wonder, nie dat Hy ‘n wonderwerker is nie, maar dat die Vader Hom in die gestalte van ‘n gewone mens gestuur het as die Messias (gesalfde koning) vir die verlossing en heil van die  wêreld; die wonder moet ‘n teken wees van die koningskap van God. Dit gaan alles om die heerlikheid van God (doksa 11:40, NAV mag van God), wat deur Jesus werk. So wil Jesus ook dat elke gelowige ‘n werktuig en kanaal van God se heerlike liefde word, deur ‘n konstante gemeenskap met God deur die Heilige Gees wat in ons woon.

 

11:43 Met ‘n luide stem roep Jesus so hard dat almal kan hoor (soos in 7:37; in 5:8 en 9:7 word slegs ‘n persoonlike opdrag gegee): ‘Lasarus kom uit!’ Met slegs drie luide woorde geskied die wonder (deur die Woord skep God, Joh. 1:2; Gen.1:3, en herskep Hy, Hy is die opstanding en die lewe, in wie die Lewe is, Joh.11:25, 1:4; 5:25-26). 

 

11:44 Met hande en voete nog verbind en ‘n doek om die kop kom Lasarus uit die graf. Die toneel eindig met Jesus se opdrag om hom los te maak en te laat gaan. Daarmee word die bewys gelewer van die belofte van 11:23: Jou broer sal uit die dood opstaan.  Jesus is self die opstanding en die lewe (11:25), en wie in Hom glo sal lewe al sterf hy ook… en elkeen wat lewe en in Hom glo sal in alle ewigheid nooit sterwe nie (11:25-26).

 

Hierdie sewende wonderteken deur Jesus, wat Johannes opteken, is die klimaks van die reeks tekens in hierdie Evangelie, maar wys ook na die grootste wonderteken van Jesus se opstanding uit die dood. Lasarus kom met die grafdoeke uit die graf as teken dat hy weer gaan sterf. Jesus se doeke lê opgerol in die graf as teken dat Hy nie weer sterf nie en die dood oorwin het. Lasarus word ‘n heenwysing na ons hoop op ons opstanding saam met Jesus, wat die opstanding en die lewe is, deur wie die Christusgelowige in alle ewigheid nooit sterwe nie (11:25,26); Marta is die heenwysing na ons geloof in Christus, die Seun van God wat moes kom om ons lewe van die dood te verlos tot ‘n lewe vir God (11:26); Maria is die heenwysing na ons liefde vir Jesus met haar salwing van Jesus se voete met kosbare olie, wat sy met haar hare afgedroog het (12:3).    

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesus tot trane beweeg (11:28-37)

Jesus tot trane beweeg (11:28-37) – Francois Malan

11:28 Na haar belydenis (v27) gaan roep Marta haar suster Maria ‘in die geheim’ sodat die besoekers nie hoor nie en sy alleen met Jesus kan gaan praat, wat haar laat roep het. Marta verwys na Jesus as ‘die Leermeester (ho didaskalos)’ – Marta en Maria is ook leerlinge van ‘die Leermeester.’ ‘n Joodse rabbi het nie vroue leerders gehad nie; Jesus aanvaar mans en vroue as sy leerders.

11:29-31 Maria haas haar na Jesus wat nog buite die dorp is. Die Jode wat haar kom troos het, het nie gehoor wat Marta vir Maria gesê het nie, en dink sy gaan by die graf huil. Hulle gaan om haar daar te troos, en word so getuies van die wonderwerk van  Lasarus se opwekking uit die dood deur Jesus.

 

11:32 Maria kry Jesus nog op dieselfde plek waar Marta met Hom gepraat het. Toe sy Hom sien val sy voor  sy voete neer om haar hart voor Hom uit te stort. Sy spreek Hom aan as ‘Here’ (kurios). Sy glo ook dat Jesus as die Here hulle siek broer kon genees het; nou is dit te laat; sy dink nie aan ‘n moontlike opwekking uit die dood nie.

 

11:33 Daar bestaan twee tradisies oor die vertaling van die twee Griekse uitdrukkings in hierdie teks: (i) ‘het sy gemoed vol geskied’ of ‘Hy was kwaad in sy gees’ (ii) ‘en was Hy aangedaan’ of  ‘en Hy was self erg ontsteld.’

Die Afrikaanse vertalings volg die Engelse tradisie en vertaal op die eerste manier, wat beter pas by 11:35 ‘Jesus het gehuil.’: Toe Jesus die huilende Maria en die huilende Jode by haar  sien, het sy gemoed vol geskied en was Hy aangedaan. Jesus, ware God en ware mens, was diep bewoë deur innige meegevoel met die geliefde gesin (vgl. Rom 12:15; Mat 5:4).

            Die Duitse tradisie volg Luther se vertaling van die Griekse woord in (i): ‘kwaad wees,’ ‘n betekenis van die Griekse woord wat ook gebruik word vir ‘n perd wat snork van ontsteltenis of van woede. In Daniël 11:30 gebruik die Griekse vertaling dié woord vir ‘woedend wees,’ Matteus 9:30 gebruik die woord vir ‘streng beveel’; Markus 9:43 ‘ernstig aanspreek; Markus 14:5 ‘teen haar uitgevaar.’ (ii) Die tweede uitdrukking sê: Hy was self erg ontsteld. Die Duitse tradisie verklaar sy ontsteltenis as sy woede oor die ongeloof van die skare huilendes wat treur omdat hulle geen hoop het nie (1 Thes.4:13)  en oor die verwoestende werk van die dood op die mens.

            Moontlik het Johannes die dubbelsinnige Griekse woorde gebruik om altwee die betekenisse oor te dra.

 

11:34  Jesus begin optree. Hy vra waar die graf is. Grafte is dikwels uitgekap in rotse in die berge, om ‘n klein kamer te vorm wat ‘n mens kon binnegaan. Die opening is oop- en toegemaak met ‘n plat ronde klip, wat in ‘n groef voor die opening gerol kon word. Betanië lê aan die oostekant van die Olyfberg. Hulle nooi Jesus om te kom kyk.

 

11:35 ‘Jesus het gehuil’ (dit is die kortste vers in die Bybel); hy stort trane van droefheid en hartseer (vgl. Hebr.2:14,17; 4:15 vir sy barmhartige medelye as mens). Die Griekse woord dakruoo verwys na die trane, maar nie na ‘n luide gehuil klaioo soos Maria  en die Jode nie (v31), of  alalazoo soos die roubeklaers se geskreeu by Jaïrus se dogtertjie nie (Mk 5:38,39).

 

11:36-37 Die vyandiggesinde Jode probeer Jesus se trane verklaar. Party meen dit is ‘n bewys van die liefde tussen Jesus en Lasarus. Ander verwyt Hom dat Hy nie die siek Lasarus gesond gemaak het nie, en nou uit frustrasie huil. Daarmee werp hulle twyfel oor Jesus se mag om te kan red. Later, met sy intog in Jerusalem, huil Jesus hardop oor die onbekeerlikheid van die stad se mense, dat hulle blind is vir Hom wat vir hulle vrede bring en nie besef dat God gekom het om hulle te red nie (Lukas 19:41-44). Die Jode besef nie dat Jesus oor hulle huil en nie oor Lasarus nie (vgl. die rede vir sy gebed in 11:41).

 

Skrywer: Prof Francois Malan