Jesus is die opstanding en die lewe (11:17-27)

Jesus is die opstanding en die lewe (11:17-27) – Francois Malan

11:17  Die inwoners van Betanië het Jesus skynbaar tegemoet gegaan en die nuus  meegedeel oor Lasarus se dood vier dae tevore. Volgens gebruik is Lasarus op die dag van sy dood begrawe (in die Joodse gedagte het die gees van die mens nog vir drie dae naby die graf vertoef, en dan eers finaal verhuis). Vir almal is dit duidelik dat die ontbinding reeds begin het. Terwyl die opwekking van die dogtertjie van Jaïrus en die seun van die weduwee van Nain op die dag van hulle sterwe geskied het, is daar geen twyfel dat Lasarus finaal dood is nie.

11:18-19  Betanië lê 15 Griekse stadia, dit is ongeveer 3 km van Jerusalem af, net aan die anderkant van die Olyfberg, minder as ‘n uur se stap. Die suggestie van die skrywer is dat die mense wat kom simpatiseer het met Lasarus se dood van Jersusalem af gekom het, en dat hulle getuies in Jerusalem kan word na wat met Lasarus gebeur. Johannes gebruik ‘die Jode’ telkens om die vyande van Jesus aan te dui. Die gebeurtenis sal ‘n finale beroep op hulle wees om Jesus as die Messias te aanvaar, maar hulle besluit om die teenoorgestelde te doen (v45 e.v.).

 

11:20-22 Maria, die stille, nadenkende (Lk 10:38-42), sit in die huis en rou. Marta, die aktiewe een, reageer op die berig dat Jesus aan die kom is, gaan Hom tegemoet en verwoord haar verdriet met haar geloof in Jesus se wondermag deur sy verhouding tot God. Sy glo Hy sou haar broer kon genees het. Nou is dit te laat,  maar al is hy nou dood, glo sy nog in Jesus se almag – wat Hy ook al van God vra, sal God aan Hom gee. Sy wonderdade sien sy as gebedsverhorings deur God.  Haar broer se dood het nie haar geloof in Jesus vernietig nie. Sy verwag egter nie ‘n opwekking uit die dood nie (v39), maar is seker van die krag van Jesus se gebed in alle gebeurlikhede.

 

11:23-24 Jesus se profetewoord is dubbelsinnig en openbaar die diepste geheimenis van Jesus se wese: ‘jou broer sal opstaan’. Marta verstaan dit as ‘n verwysing na ‘die laaste dag’ wanneer almal wat die stem van die Seun van die mens hoor, sal uitgaan uit die grafte, en opstaan tot die lewe of tot veroordeling, soos Jesus gesê het in Jn 5:28-29 (die Sadduseërs het dit nie geglo nie, die Fariseërs wel, Hand. 23:7-8. Onder invloed van die Griekse onsterflikheidsleer het die gedagte van lewe na die dood begin posvat onder die Jode, vgl. Daniël en die 2e eeu v.C. se boek Henog). Johannes is die enigste NT skrywer wat die uitdrukking ‘die laaste dag’ gebruik (6:39,40,44,54; 12:48). Die ander Bybelskrywers verwys na die tyd voor die wederkoms as ‘die laaste dae’ (Hand.2:17; 2 Tim 3:1; Jak 5:3). Vir Marta beteken die opstanding  op die laaste dag berusting, met hoop op die toekoms.   

 

11:25-26 Marta se nie-verstaan-nie kan slegs deur Jesus self opgelos word deur sy selfopenbaring: ‘Ek is die opstanding en die lewe…’ “Ek is’ verwys na Eks 3:14 (God se selfopenbaring aan Moses ). Die koninkryk van God, wat Marta verwag op die laaste dag, met al sy seëninge vir die mensdom, is gesetel in Jesus. Marta verwag die ewige lewe wat begin met die mens se opstanding uit die dood. Jesus het gekom om dié opstanding moontlik te maak met sy sterwe en opstanding uit die dood, en die lewe nou reeds in oorvloed te  skenk aan ‘wie in My glo’ al sterf hy/sy ook, ‘en elkeen wat (nou) lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.’ Marta kyk nog na die verre toekoms. Jesus staan voor haar. Wie in Hom glo het reeds opgestaan en het deel geword van die ewige lewe in jou verhouding met God, die Ek is, wat die opstanding en die lewe is. En jou verhouding met Jesus word nie deur die aardse sterwe beïnvloed nie. Jesus vra vir Marta: ‘glo jy dit?’ Dit is noodsaaklik dat Marta dit te begryp en Jesus te vertrou, voordat sy reg sal verstaan wat Jesus nou gaan doen.

 

11:27 Haar antwoord gaan verder as ‘n blote ‘Ja’. Dit is ‘n volle verklaring van geloof in Jesus (i) as die verwagte Christus (Grieks vir ‘Gesalfde’, Messias in Hebreeus), Israel se ‘Gesalfde’ koning wat hulle kom verlos; (ii) dat Jesus die Seun van God is, meer as die aardse Messias wat hulle verwag (vgl. Jn 1:49). (iii) die Een wat aan kom is na die wêreld – Ps 118:26, vgl. Mt 11:3; deur die profete aangekondig,  deur God gestuur, wat God se beloftes kom vervul, die Redder van die wêreld (Jes.25:8). Die minderbekende Marta gee die betekenisvolle getuienis oor Jesus. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die sewende wonderteken: die opwekking van Lasarus

Die sewende wonderteken: die opwekking van Lasarus – Francois Malan

Jesus die opstanding en die lewe (11:1-54)

Die skrywer bied die dood en opwekking van Lasarus aan as die laaste van die wondertekens van Jesus wat al die voorafgaande tekens en gesprekke tot ‘n klimaks bring en die dood en opstanding van Jesus, sy grootste wonderteken, verhaas en suggereer.

Die dood van Lasarus (11:1-16)

11:1-2 Terwyl Jesus in Betanië in Perea vertoef (1:28, 10:40) word Lasarus siek in Betanië, ‘n voorstad van Jerusalem. Hoewel sy suster Martha waarskynlik die oudste was (Lk 10:38-40), word Maria eerste genoem, en Lasarus die broer van Maria omdat sy die bekendste in die kerk was deur haar salwing van Jesus (Jn 12:1-8; vgl. Mk 14:9). Die naam Lasarus (‘n verkorting van die Hebreeuse Eleazar) beteken  ‘die een vir wie God help.’ 

 

11:3 In hulle nood laat die susters vir Jesus weet van sy siekte in die hoop dat die Geneser van siekes iets sal doen, en verwys na Jesus se besondere band met die gesin (vgl. Jesus se besoek aan hulle in Lk10): ‘hy vir wie U liefhet (fileoo liefhet as vriend)’. Daaruit blyk dat hy ‘n gewaardeerde volgeling van Jesus was.

 

11:4 Jesus se reaksie op die berig het ‘n dubbele betekenis. ‘Die siekte is nie tot die dood nie, maar ter wille van die eer/heerlikheid (doksa) van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik word (doksasthe).’ Daardeur stel Hy God se heilsbedoeling met die siekte in die lig, soos in 9:3 met die blindgeborene. Al sou Lasarus aan die siekte sterf, sou die dood nie die laaste woord hê nie. Jesus weet vooruit hoe dinge sal verloop. Alles is in die hand van God (vgl. 10:29). Hy sal sy mag oor die dood bevestig en die heerlikheid van die Seun openbaar – dat die Vader in My is en Ek in die Vader (10:38). Die gebeurtenis sal ‘n teken wees; ‘n teken van Jesus se gesag oor die dood, dat Hy selfs ‘n dooie kan opwek – ‘n onomstootlike bewys dat Hy die Seun van God is; maar ook ‘n teken van Jesus se eie dood en opstanding uit die dood as rede vir die mens se opstanding uit die dood (vgl. 11:25 Ek is die opstanding en die lewe) Die opwekking van Lasarus is ook die aanleiding tot die finale besluit om Jesus dood te maak (11:53).

 

11:5  Jesus het Maria en haar suster en vir Lasarus onselfsugtig liefgehad (agapaoo). Hoewel Jesus nie onmiddellik op hulle noodroep reageer nie, is dit nie aan ‘n gebrek aan liefde nie. Hy bly by die program van die Vader.

 

11:6 Jesus bly twee dae langer in Perea. Waarskynlik was Lasarus al dood toe die berig by Jesus kom  – dit neem die boodskapper een dag tot by Jesus, Jesus wag twee dae, en loop een dag Betanië toe. Toe Hy daar kom, is Lasarus reeds 4 dae dood (11:39). Dit maak die opwekking soveel wonderliker, die heerlikheid van God word des te glorieryker geopenbaar, sowel as die heerlikheid van die Seun (v4).

 

11:7 Toe die regte tyd daarvoor kom om die heerlikheid van God te openbaar deur ‘n dooie wat reeds vier dae dood sal wees, roep Jesus sy dissipels om saam met Hom terug te gaan Judea toe.

 

11:8 Die dissipels is ontsteld. Tydens die fees van die tempelwyding wou die Jode Hom stenig (10:31,39). Hoe kan Hy daaraan dink om weer sy lewe te gaan waag, terwyl Lasarus se siekte nie ‘op die dood sal uitloop nie’ (11:4). Die dissipels het nie die dieper betekenis van Jesus se stelling in 11:4 gesnap dat Lasarus se dood op die verheerliking van God en van sy Seun sal uitloop nie (11:4b). Jesus weet egter dat die dreigende gevaar van die Joodse Raad tot sy dood kan lei – maar slegs op die tyd deur God bepaal.  

 

11:9-10 Jesus antwoord hulle vrees met ‘n beeld van ‘n gewone werksdag met twaalf uur (die Joodse dag het van sonop tot sononder gegeld, en hulle het die ure gerek en gekrimp om 12 in ‘n dag in te pas. ‘n Uur was in midsomer 20 minute langer as in midwinter). Die dag bied geleenthede, maar word ook beperk. Bedags kan jy sonder struikeling loop in die lig van die son. So moet Jesus ‘loop’ in die beperkte tyd wat deur die Vader vir Hom bepaal  is (sy ‘dag’, ‘my tyd’ 2:4; 7:30; 8:20; 9:4). Dit is ook waar van sy volgelinge: so lank die Lig vir die wêreld by hulle is, kan hulle ‘loop’ sonder om oor onsigbare struikelblokke te struikel in die duister. Dit pas ook in hierdie omstandigheid. Hulle moet by Hom bly al gaan hy die gevaar en die dood tegemoet. Vers 10 sê letterlik: Maar as iemand in die nag loop, struikel hy, omdat die lig nie in hom is nie. Die gaan om Jesus, die Lig vir die wêreld. Iemand wat nie die Lig in hom opgeneem het deur in Hom te glo nie, verkeer in ‘n geestelike duisternis en kom tot ‘n val.

 

11:11-13  Jesus verwys na Lasarus as ‘ons vriend’ (filos; sy susters het na hom verwys as ‘hy, vir wie u lief is’ fileis v3). Die dissipels het ook vir Lasarus geken as ‘n vriend en gewaardeerde medegelowige. Hier is ‘n tipiese Johannese misverstand: ‘n dubbelsinnige stelling van ‘n waarheid word deur die hoorders misverstaan, en dit lei tot opheldering wat ‘n voller openbaring vir hulle oopmaak. Die dissipels reken Lasarus sal gesond word as hy slaap. Maar Jesus gebruik  ‘slaap’ as ‘n eufemisme vir die dood. In die Hebreeuse erfenis is dood veral verbind aan ‘n slaap waaruit jy nie weer wakker word nie (vgl. in Konings en Kronieke waar telkens gepraat word van ‘hy het gaan slaap,  jisjkab,en is by sy vaders versamel;’ 1 Kon 2:10; 2 Sam 7:12; Job 14:11-12). Die idee van ‘n opstanding uit die dood word nie in die Ou Testament uitgespel nie, behalwe in Daniël 12:2, maar Daniël se gedagte het nie almal bereik nie, hoewel die Fariseërs dit geglo het (Hand.23:8).  Nou sê Jesus Hy gaan vir Lasarus wakkermaak uit die slaap. Die beeld van slaap en wakkermaak word voortgesit, en die dissipels verstaan dit letterlik as die rus van die slaap wat hom gesond sal laat word. Dan is Jesus se reis na vyandige Judea nie nodig nie.

 

11:14-15 Jesus verklaar  met vrymoedigheid: Lasarus is dood. Hy wat vooruit weet, het geen twyfel oor wat daar in Betanië gebeur het nie. Maar paradoksaal treur Hy nie oor die dood van hulle vriend nie, maar verklaar:  En Ek is bly. Ter wille van julle, sodat julle sal glo, is Ek bly dat Ek nie daar was nie. Aanstons sal Hy ook nie meer by hulle wees nie. Hulle moet leer om in geloof te lewe, in Hom te glo, wat die opstanding en die lewe is, en Hom voor die mense bely en uitleef. Voor hulle oë gaan hulle die volgende wonder sien gebeur, sodat hulle seker kan wees dat Jesus God is. Vandaar sy aanvanklike vertraging om te gaan, en sy blydskap dat die heerlikheid van God  en van die Seun daardeur openbaar gaan word (11:4).

 

11:16 Tomas (‘Tweeling’ in Aramees) in Grieks bekend as Didimus (‘Tweeling’) word wel genoem in die ander drie Evangelies en Handeling se dissipellyste, maar slegs in Johannes word vertel van sy woorde en optrede (11:16; 14:5; 20:24,27,28; 21:2). Hy dink nie aan wat Jesus gesê het, dat Hy Lasarus gaan wakkermaak nie (11:11), of dat dit tot verheerliking van God en van die Seun sal wees nie (11:4), maar slegs aan die gevaar wat voorlê en aan die mense wat Hom wil doodmaak. Tog spoor Tomas die dissipels aan om almal saam met Jesus te gaan, bereid om met Hom te sterwe. Hoewel hulle later almal vir Jesus in die steek laat, verwoord Tomas hier meer as wat hy besef, en word sy uitspraak die teken van egte dissipelskap (Mk 8:34-35). Vir Jesus gaan dit wel die dood beteken, maar ‘n dood wat vir die wêreld die lewe beteken.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die Jode beskuldig Hom van godslastering (10:31-39)

Die Jode beskuldig Hom van godslastering (10:31-39) – Francois Malan

10:31-32  In 8:59 wou hulle Hom al stenig omdat Hy gesê het: voor Abraham gebore is, was Ek al wat Ek is. Nou dra hulle weer klippe aan (in die pilaargang is daar nie klippe nie), maar Jesus gee nie weer pad nie. Hy daag hulle met ironie uit: baie goeie/mooi/edele (kala) dade vanuit die Vader het Ek vir julle gewys – die dade is deur die Seun gedoen in opdrag van en met die gesag van die Vader, as getuienis daarvan dat Hy en die Vader een is – vir watter een wil julle my (die goeie kalos Herder) stenig?

10:33 Dood deur steniging is die straf vir godslastering (Lev.24:16). Godslastering is nie ‘n sonde van die daad nie, maar van die woord. Daarom verklaar hulle dat hulle Jesus nie oor ‘n goeie daad wil stenig nie – indirek ‘n erkenning dat Hy ‘n goeie daad gedoen het, selfs op die Sabbat in hoofstukke 5 en 9 – ‘maar oor godslastering, omdat jy, wat ‘n gewone mens is, jou as God voordoen’ (vgl. 5:17,18 en Jesus se antwoord daarop in 5:19-30, ‘n eenheid nie in selfverhoging nie, maar wat van die Vader af kom). Hulle begryp dat Jesus, wat in die gestalte van ‘n gewone mens verskyn het, besig was om deur sy woorde en werke te openbaar dat Hy die Seun van God en ook God is (vgl. 1:1). Maar in plaas daarvan dat hulle die goddelike waarheid van Jesus se selfopenbaring in geloof aanvaar, verwerp hulle dit as godslastering, en daarmee vir Jesus as hulle verwagte Messias.

 

10:34-36 Jesus verwys na ’julle wet’ waaraan hulle toegewy is, wat die Psalms insluit, dus die hele Ou Testament, hier spesifiek na Ps 82:6. Die psalm begin met God wat in die Godsvergadering opstaan tussen die  gode (hemelwesens, vgl. Job 2:1 se seuns van God,  waaronder die Satan ook was). God bestraf die partydige regters omdat hulle nie reg laat geskied aan die die armes en mense in nood nie. Die optrede van die leiers van die volk op aarde word met die optrede van hemelwesens verbind. So weerspieël die optrede van die aardse leiers wie hulle geestelike leiers is. Daarom kon Jesus in 8:44 sê hulle is kinders van die duiwel, omdat hulle sy wil en werk doen deur Jesus dood te maak. Hier verwys Jesus na Ps 82:6 waar God die leiers van Israel saam met hulle geestelike leiers ‘gode’ (hemelwesens) noem. In Eksodus 4:21-23 noem God selfs die volk Israel, wat deur die Farao verdruk word, ‘my eersgeborene,’  en ‘my seun’. As Jesus dan verklaar dat Hy die Seun van God is, kan dit nie as godslastering beskou word nie, nie as selfs die onregverdige regters ‘gode’ genoem word in die Jode se eie ‘wet’ wat hulle nou nie op Jesus wil toepas nie.

            Jesus is egter veel meer as die leiers van die volk wat gode genoem word, of die volk Israel wat as God se eersgeborene beskou was. Hy is deur die Vader ‘afgesonder’. In 17:17,19 word dieselfde woord (geheilig, afgesonder, toegewy) gebruik vir Jesus se toewyding tot die dood toe. Hier word dit gebruik op die fees van die tempelwyding, toe die tempel  in 167 v.C. weer aan God toegewy is, soos met die inwyding van Salomo se tempel in 957 v.C. (1 Kon 8:29; 2 Kron 6:20, 40,41). Soos met die Loofhuttefees (7:37-38) en met die Paasfees (6:4; 19:31-37), is Jesus die vervulling van die toewyding van die tempel, en is Hy self, in sy liggaam, die nuwe en volkome ingang en toewyding aan God (Jn 2:19-21). 

 

10:37-38 Jesus dring opnuut by hulle aan om Hom te beoordeel op grond van die werke wat Hy verrig het. Sy werke getuig tog wie Hy is, en bewys dat Hy die werke van God doen. As hulle oortuig is dit is nie goddelike werke nie, is dit te verstane dat hulle nie glo nie (vgl. egter hulle erkenning in 9:24). Omdat hulle weier om te erken dat dit wel werke van God is, moet hulle nog ‘n maal ernstige oorweging skenk aan sy werke. Dan sal hulle verplig wees om te erken dat die Vader op ‘n heel besondere manier deur Jesus werk, en in Hom begin glo. Dan eers sal hulle ‘insien’ – tot kennis van die werklike toedrag van sake kom, die regte kennis oor sy persoon  – en ‘weet’ – voortaan die blywende geloofskennis besit ‘dat die Vader in My is en Ek in die Vader. Die wedersydse inwoning wys op hulle volledige wederkerige verbondenheid, dat die werk van die Vader dié is van die Seun, en die werke van die Seun dié van die Vader, en wie die Seun sien en ken, sien en ken die Vader (14:9). Daarom kan Jesus verklaar: ‘Ek en die Vader is een’ sonder om Hom aan godslastering skuldig te maak.  Dié uitsonderlike eenheid vorm ook die basis vir die verhouding tussen God en die gelowige (14:12-14; 17:20-23).   

            Jesus het nou reeds drie uitsprake gemaak oor sy verhouding tot God: Hy is één met die Vader (v30),  Hy is die Seun van God (v36), onlosmaaklik aan die Vader verbonde (v38). Vir die Jode wat dink God is vér en verhewe, was dit moeilik om te aanvaar dat die hoë God met die lae wêreld gemeenskap sou hê, die gemeenskap wat daar is in die persoon van Jesus.

 

10:39 Die Jode weet nou wie Jesus is (vgl. hulle vraag in v24), maar verhard hulle harte weer in ongeloof en wil Hom gevange neemom. Die toneel eindig soos in 8:59: die Herder, soos sy skape, is in die hand van die Almagtige Vader totdat die uur aanbreek deur die Vader bepaal (7:30; 8:20). Jesus ontglip uit ‘hulle hande’ wat reg staan vir moord, want, soos sy skape, word Hy veilig beskerm deur die hand van sy Vader (v29).

 

Jesus trek terug na die Oos-Jordaanse gebied (10:40-42)

10:40 Jesus trek Hom terug na Perea, Oos van die Jordaan (in die gebied van Herodes Antipas, wat Johannes die Doper se kop laat afkap het, Mk 6:27-28), waar Johannes vroeër gedoop het en die openbare bediening van Jesus begin het (1:28 in Betanië). Met hierdie verwysing wil die skrywer die beginpunt en die afsluiting van Jesus se selfopenbaring aan die Jode aandui. Daar het Johannes Hom al aangewys as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem, dat Hy reeds voor Johannes bestaan het, met die Heilige Gees doop, as die Seun van God (1:29-34). Die goeie Herder is daar reeds aangewys as die Lam. Jesus die Gesalfde priester is ook die offerlam. Hy vertoef minstens ‘n paar maande in daardie omgewing.

 

10:41-42 Die Jode van Galilea het verkies om deur Perea na Jerusalem te reis, om so die gebied van die Samaritane te vermy. Van hulle kon so van Hom geweet het. Daar was ook nog volgelinge van Johannes die Doper, wat sy getuienis oor Jesus gehoor het. Hulle erken dat Jesus meer is as Johannes (vgl. 3:30), aangesien Johannes  geen wondertekens gedoen het nie, terwyl Jesus wel baie wonders verrig het. Alles wat Johannes oor Hom gesê het is waar. Daarmee bevestig die mense die egtheid van Johannes as profeet (die vriend van die bruidegom), en die groter gesag van Jesus, die bruidegom (3:27-30). 

Baie mense kom daar tot geloof, soos Johannes voorspel het (1:7). Dit is so anders as in Jerusalem waarheen mense stroom om God te gaan dien, en ‘n mens geloof sou verwag. In Kapernaum in Galilea (6:59,66) en in Jerusalem in Judea word Jesus verwerp, maar in Samaria en Perea en onder die Grieke vind Hy ‘n oop deur (4:42, 10:42; 12:20-21). Deur geloof kom die band tussen die Herder en die skape tot stand.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die fees van die tempelwyding – die Jode verwerp Jesus (10:22-42)

Die fees van die tempelwyding – die Jode verwerp Jesus (10:22-42) – Francois Malan

Die Jode vra: is U die Christus? (vervolg)

 

10:26-27 Die Jode het die woorde van Jesus gehoor en sy wonders gesien, maar ten spyte daarvan het hulle nie geglo nie, omdat hulle nie van sy skape is nie – daarmee is Jesus terug by die beeld van die Herder wat soggens sy skape kom roep. Volgens 6:36-37,44,65 kom slegs dié agter Hom aan wat die Vader vir Hom gee, wat die Vader na Hom toe trek, aan wie die Vader dit gegee het, terwyl die Jode Hom sien, maar nie in Hom glo nie. Die verantwoordelikheid rus op hulle om vír Hom te kies. In 10:38 pleit Hy weereens dat hulle sy werke moet glo om te kan insien dat Hy God is.

 

Hy ken sy skape – in 10:14-15 is daarop gewys dat ‘ken’ ‘n ryk betekenis het. Dit dui op ‘n intieme verhouding van erken, deurgrond en liefhê, ‘netsoos die Vader My ken en Ek die Vader ken.’ Sy skape luister na sy stem. Gewillig gehoorsaam hulle Hom, en volg Hom as persoon volgens sy woord, in die vertroue dat hulle aan Hom behoort en Hy vir hulle sal sorg en reg lei. Vir die mens is dit ‘n keuse, ‘n wilsbesluit. Van God se kant af is dit ‘n roep, ‘n uitnodiging, oortuigingswerk, deur sy genadige liefdesaanbod in Christus om tot die mens deur te dring. 

 

10:28 Jesus se volgelinge hoor Hom en volg Hom (twee aksies) – Hy ken hulle en gee aan hulle die ewige lewe (twee aksies). In 10:10 het Hy gepraat van lewe in oorvloed. Nou verduidelik Hy dat dit ook vir ewig is, en nou reeds begin. Daarby gee Hy twee beloftes: (i) hulle sal nooit verlore gaan soos skape wat verdwaal of uitmekaar gejaag word nie, en (ii) niemand sal hulle uit die hand van die Herder ruk nie (anders as met ‘n huurling v12). Hulle is vir tyd en ewigheid geborge. Niemand en niks kan ons skei van die liefde van God wat daar in Jesus Christus is nie (Rom 8:38,39; vgl. Jes 43:1-2).

 

10:29 Die Griekse teks is onseker weens die verskillende weergawes in verskillende manuskripte. Die 1983-vertaling volg Vaticanus (4e eeu): Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal’.  Die 1953-vertaling volg kodeks Sinaïticus (4e eeu) se lesing wat grootliks met papirus 66 (3e eeu) saamstem: My Vader, wat hulle vir my gegee het, is groter as almal.’ Dit gaan in elke geval om die skape/mense wat die Vader aan Jesus gegee het. Die grootste of belangrikste van almal is óf die Vader, óf die mense wat die Vader gekies het. In die eerste geval gaan dit om die Vader wat groter is as enige ander mag in die heelal. In die tweede geval is dit die mense wat aan Jesus toevertrou is, wat vir Hom die kosbaarste is. Die  Vader is die almagtige en sy almag waarborg die ewige bewaring van dié mense wat aan Jesus behoort. Daarom het Jesus se volgelinge niks te vrees nie.     

 

10:30 In 10:28-29 het Jesus gepraat van sy hand en die Vader se hand – dat niemand sy volgelinge uit hulle hand sal ruk nie. Hier volg nou ‘n kernagtige gevolgtrekking. Dit beteken: Ek en die Vader is een. Die Griekse onsydige woord hen ‘een’ dui aan dat hulle een is in optrede, nie in persoon heis (die manlike vorm van ‘een’) nie, soos geblyk het uit 1:1-2 ten opsigte van die die verhouding tussen die Vader en die Seun: die Woord van God by God en self God, deur wie alles tot stand gekom het. Daarmee verklaar Jesus openlik dat Hy, net soos die Vader, ook God is.

            Die Jode het geëis dat Hy reguit sê of Hy die Christus is (10:24). In sy antwoord bevestig Hy dat Hy wel die Gesalfde Koning is, nie om ‘n nuwe koninkryk vir Israel op te rig nie, maar om as die goeie Herder aan sy skape die ewige lewe te skenk en hulle veilig te lei en te bewaar. Nou sê Hy veel meer as wat die Jode gevra het. Hy verklaar openlik dat Hy en die Vader een is, en dat Hy dus self ook God is. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan