Uitbanning van die blindgeborene (9:30-34)

Uitbanning van die blindgeborene (9:30-34) – Francois Malan

9:30-33 Met groot vrymoedigheid bevraagteken die man die godsdienstige leiers se kennis oor Jesus en veral hulle ongeloof. Ironies sê hy, dit is tog ‘n ‘wonder’ dat hulle nie weet waar Jesus vandaan kom nie, al het hulle die wonder gesien, dat Hy die oë geopen het van ‘n man wat blind gebore is.

Hulle sê hy moet  God prys vir die wonder, want hulle weet ‘hierdie Man’ is ‘n sondaar (v24). Maar almal weet God luister nie na mense wat in sonde volhard nie, maar na mense wat God se wil doen – dit was juis die leiers se punt. Hier het ‘n wonder gebeur waarvan nog nooit in die bestaan van die wêreld gehoor is nie. Dit is mos ‘n duidelike bewys, die Man kom van God af (Ps 146:8). Die ‘blindheid’, stiksienigheid van die godsdienstige leiers, wat nie wil glo wat vir almal logies is nie, is vir die blindgeborene ‘n ‘wonder’. Hulle ongeloof is die ‘wonder’. As dit ‘n genesing van iemand was wat blind geword het, was dit reeds ‘n wonder. Maar van ‘n blindgeborene is dit ‘n unieke wonder. Daarom moet Jesus in ‘n unieke verhouding tot God staan. Sy werke bewys dat God Hom gestuur het (Jn 5:36). Die wondergenesing het Hom gelegitimeer, as eg bewys. Die man verwonder hom oor hulle blindheid vir die waarheid.

 

9:34 In woede beledig hulle hom en bewys hulleself skuldig: ‘in sondes (meervoud) is jy gebore, geheel en al…’ Hulle beskou sy blindheid van geboorte af  as ‘n bewys dat hy in sondes gebore is. Die dissipels se vraag in 9:1 of sy blindheid die gevolg is van sy eie sonde of sy ouers se sonde, was die algemene geloof van die Jode. Met hulle uitspraak oor die man erken hulle dat hy blind gebore is – iets wat hulle nie wou glo nie (9:18-19). Met hulle onlogiese belediging erken hulle indirek dat ‘n wonder van God deur Jesus plaasgevind het, maar steeds verwerp hulle die Lig wat op hulle skyn (1:4,5,9) en verval verder in hulle blindheid/duisternis (3:19-21). Hulle, die geleerde godsdienstige leiers van die volk, laat hulle nie leer deur so ’n ellendige sondaar nie (vgl. 7:49). Hulle ban hom uit die sinagoge, soos hulle vooraf al besluit het, (vgl. 9:22). 

 

Die blinde kom tot volle lig (9:35-38)

9:35 Jesus laat die uitgeworpene nie alleen nie. Hy soek hom op, vind hom, en bring so sy werk, wat hy met die man begin het, tot sy reddende einde, deur hom in sy gemeenskap op te neem. Jesus begin met ‘n direkte vraag, op die man af, en in teenstelling met die Jode:  ‘Jy, glo jy in die Seun van die mens’?  Die Joodse verwagting van ‘n Messias as politieke verlosser is o.a. gebou op Dan.7:13,14, waarby Jesus hier aansluit.

 

9:36 Die man is blykbaar bewus van die Joodse verwagting van ‘n Gesalfde Verlosser, en wil weet of die Mense-seun van Daniël 7, wat die verlossing van God se koninkryk bring, nou reeds gekom het. Beleefd vra hy:  ‘wie is Hy, meneer (kurios), dat ek in Hom kan glo?’ Uit homself kan die man nie onderskei watter persoon die ewige koning van Daniël se visioen is nie, maar die man is bereid om Jesus se leiding te aanvaar.

 

9:37 Jesus openbaar Homself aan die man wat dit nie uit homself kan doen nie: ‘Jy het Hom gesien en Hy wat met jou praat, Hy is dit’ (aan die Samaritaanse vrou  het Jesus Homself ook openbaar: ‘Dit is Ek, Ek wat met jou praat’).

 

9:38 Die man antwoord: ‘Ek glo, Here (kurios)’ – die Griekse woord kurios word gebruik vir respekvolle aanspreek van ‘n persoon: meneer; of deur ‘n slaaf vir sy eienaar: my heer; of deur ‘n onderdaan voor sy koning: my heer; maar ook deur ‘n aanbidder teenoor God: my Here. Na Jesus se selfbekendmaking word die man se ‘meneer’ van v36, ‘Here’ in v38. Dit blyk uit sy optrede: hy val voor Jesus op die grond in aanbidding, bewus van sy goddelike teenwoordigheid (die Griekse woord proskuneoo sluit kuneoo  ‘om te soen’ in; Oosterlinge het voor die vors of goddelike verteenwoordiger neergeval en hulle voete gesoen, vgl. Luk 7:38,45) . Deur die woord van ‘die Woord van God’ en die werking van God se Gees in die man, gaan sy oë verder oop vir die Lig vir die wêreld, die Lig wat lewe gee (8:12). So neem Jesus die man, wat deur die Jode uitgewerp is, op in sy nuwe gemeenskap van gelowiges. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Ondervraging van die ouers (9:18-23)

Ondervraging van die ouers (9:18-23) – Francois Malan

9:18,19 Die Fariseërs, wat die leiding geneem het in die ondersoek, word nou ‘die Jode’ genoem. Dit is Johannes se term vir die groep onder die volk wat vyandiggesind was teen Jesus, teenoor die term ‘Israel’ wat die gelowige groep aandui (bv. 12:13). Die Jode probeer uit hulle verleentheid kom deur te ondersoek of die man werklik blind gebore was. Indien nie, het daar nie ‘n wonderwerk gebeur nie. Die man se identiteit, waaroor  daar selfs by die bure twyfel bestaan het (v9), moet vasgestel word, want hulle betwyfel dit ook, en wil nie aanvaar dat ‘n wonder plaasgevind het nie. Die ouers word opgeroep en twee vrae aan hulle gestel: (i) is dit julle seun van wie julle sê dat hy blindgebore is; (ii) hoe sien hy dan nou? Met die eerste vraag bevraagteken hulle die ouers se woord, en met die tweede die wonder.

9:20-21 Die ouers bevestig die eerste vraag: ons weet dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is! Maar hoe dit gebeur het weet hulle nie, en wie dit gedoen het weet hulle ook nie. Hulle verwys die vraag terug na die man self, want hy is al volwasse en verantwoordelik voor die wet. Daarby sal hy oor homself (of ‘vir homself’) praat. Blykbaar was hy ‘n man wat sy woord goed kon doen. Versigtigheid en gevatheid is dikwels kompensasie by gestremdes, en was skynbaar ‘n eienskap van dié blinde.

 

9:22-23 Die Joodse Raad het blykbaar reeds besluit dat iemand wat openlik verklaar dat Jesus die Christus (die verwagte Messias) is, word uitgesluit uit die sinagoge (die woord aposunagogos ‘uitgesluit uit die sinagoge’ word nog net in Joh 12:42, 16:2 gebruik en nêrens elders in die Griekse literatuur nie). Dit sou behels dat sy lidmaatskap van die sinagoge gekanselleer word en hy nie meer toegelaat word in die sinagoge nie. Ook vir sy verhouding met sy volksgenote sal dit ‘n belemmering beteken. Dit is dan die rede agter die ouers se vrees om hulle mening te gee oor Jesus en hoe hulle blindgebore seun nou kan sien. Hulle plaas die volle verantwoordelikheid op hom.

 

Verdere ondervraging van die blindgeborene (9:24-29)

9:24 Die Jode se ondersoek van die ouers het slegs bevestig dat die man blind gebore is en nou kan sien. Die leiers roep die man weer op. Hulle begin nie met ‘n vraag nie, maar gee ‘n opdrag op grond van hulle oortuiging. Hulle, wat die wet ken, weet dat ‘hierdie man’ (neerhalend) hom nie by die wet hou nie, en daarom ‘n sondaar is. Sy kleimakery op die Sabbat bewys dat Hy ‘n oortreder van die wet is. Daarom weier hulle om te erken dat Jesus die genesing bewerk het, ‘n sondige daad  volgens hulle kennis van God en sy wet. Hulle opdrag: Gee die eer vir die genesing aan God! Alleen God kan ‘n blindgeborene laat sien (vgl. Ps 146:8), maar hulle weier om te glo dat Jesus God is (Joh 1:1)..

 

9:25 Beskeie maar vreesloos antwoord die man dat hy nie weet of Jesus ‘n sondaar is nie, maar van een ding is hy seker, dat hy blind was en nou kan sien. Sy persoonlike ondervinding van die genadewerk wat Jesus aan hom gedoen het, is iets wat God alleen kan doen, soos die leiers sê. So gee hy wel aan God die eer, maar nie soos die Jode dit wou hê nie.

    

9:26-27 Die man word weer ondervra, moontlik om te kyk of hy nie homself weerspreek nie. Maar die keer konsentreer hulle die vraag of die Sabbat met ‘werk’ oortree is: wat het Hy met jou gedoenhoe het Hy jou oë oopgemaak?  Die man vererg hom egter vir hulle herhaling van dieselfde vraag, en dat hulle nie geluister het na sy getuienis nie. Ironies spottend ondervra hy hulle oor hulle motiewe: julle wil tog nie ook sy (Jesus se) volgelinge word nie, wil julle? Die vraag suggereer ‘n negatiewe antwoord. Die vraag impliseer egter dat die blindgeborene hom as ‘n volgeling van Jesus begin sien; dat hy ‘n keuse vir Jesus gemaak het. 

 

9:28-29  Op die uitlokkende vraag van die blinde gooi ‘die Jode’  die skyn van ‘n regverdige onpartydige verhoor oor boord. Woedend skel hulle hom uit – die woord loidoreoo beteken dat hulle hom met die skerpste belediging uitgejou het: jy is ‘n dissipel/volgeling van ‘daardie een’! (die man wat hulle nie eers by sy naam wil noem nie – Jesus, die Griekse vertaling van Josua, beteken ‘die Here red/verlos’, vgl. Mat 1:21); ons is egter dissipels/volgelinge van Moses! ons weet dat God met Moses gepraat het (vgl. Eks 33:11)  – die vorm van die werkwoord ‘gepraat het’ impliseer dat die woorde van God tot Moses nou nog van krag is, o.a. die vierde gebod dat jy geen werk op die Sabbatdag mag doen  nie (Eks 20:10) – maar ‘daardie een’ (minagtende verwysing na Jesus), ons weet nie waar hy vandaan is nie – daarmee impliseer hulle dat hulle weet Hy kom nie van God af nie, maar erken tog hulle onsekerheid, hulle weet nie.

            Dit is die kern van die Jode se teenstand teen die Christendom: Moses en die wet word gestel teenoor Jesus en sy woord; die gesag van Moses, wat onaanvegbaar is; die gesag van Jesus is vals. Die lesers van Johannes ken egter die fout in die argument. Moses is nie Jesus se teenstander nie, maar  in sy wet is Moses getuie vir Jesus, en teen die Jode wat vir Jesus verwerp (Joh 5:45-47). Hulle teenstand teen Jesus kom uit hulle onkunde oor waar Hy vandaan kom – daarmee ontsê hulle Hom enige legitimiteit. Hy kom van God af om God aan die mense te openbaar. Daarom kom Hy met die gesag van God (7:14-17; 8:23-29; 3:31-34).  Maar die Jode is so vasgevang in hulle wettiese denke, dat hulle oë blind is vir die wonder van God wat plaasgevind het, wat juis bewys dat Jesus van God af kom , God se Gesant in hulle midde.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Ondervraging deur die bure (9:8-12)

Ondervraging deur die bure (9:8-12) – Francois Malan

9:8-9 Nadat die blindgeborene kon sien, gaan hy terug na sy huis en omgewing, waar die mense hom as ‘n bedelaar geken het. Destyds kon ‘n blinde nie anders bly lewe as om te bedel nie. Sy bure kan moeilik glo dat die man dieselfde is as hulle bejammerenswaardige bedelaar. Sy gesigsuitdrukking en optrede is so anders as die blinde s’n dat party dink dit is ‘n siende man wat tot ‘n mate na die blinde lyk. Hulle verwarring en onsekerheid oor sy identiteit getuig van die grootheid van die wonder wat plaasgevind het. Die blinde maak self ‘n einde aan hulle verwarring.

9:10-11  Die kennisse se nuuskierigheid om te weet hoe die ongehoorde ding gebeur het, is ‘n verdere getuienis oor die wonder wat geskied het. Hy verwys na Jesus as ‘die man wat Jesus genoem word’ – hy ken Jesus se naam,  maar weet nie veel meer van hom nie, behalwe wat Jesus vir hom gesê het om te doen, ‘en ek kon sien nadat ek gegaan en gewas het.’ Die geneesde bedelaar word ‘n teken dat iets aan die gang is wat nie van hierdie wêreld is nie, deur die optrede van die man Jesus.  Met sy vertelling van wat met hom gebeur het plaas die geneesde man vir Jesus in die middel van die hele verhaal – al is Jesus self nie teenwoordig nie, is Hy so teenwoordig soos Hý alleen maar kan wees. 

 

9:12  Die bure wil weet waar Jesus nou is, maar die blindgeborene weet nie. Trouens, hy het die Lig vir die wêreld (9:5) nog nie met ‘n oog gesien nie, maar het slegs gereageer op die woorde van die man Jesus wat hom in die verbygang raakgesien het (9:1). Nadat hy kon sien gaan hy nie sy Geneser soek nie, maar gaan  huis toe. Die bure deel nie in die man se vreugde nie, maar wil nuuskierig die wonderwerker self sien.

 

Ondervraging deur die Fariseërs (9:13-17)

 9:13 Die mense neem die man na die Fariseërs toe, die godsdienstige leiers van die volk, wat altyd die wet van God vir hulle uitlê, en iets behoort te verstaan van die ongehoorde genesing wat slegs deur God gedoen kon gewees het. Die Fariseërs aanvaar ook die Profete-boeke as woord van God, en Jesaja het reeds voorspel dat die blindes weer sal kan sien (Jes 29:18). Dat blindes weer sien, is ‘n teken dat God hier is (Jes.35:4-5), sy Dienaar sal blindes laat sien (Jes. 42:7). Die Messias wat die Jode verwag, het gekom!

 

9:14-16 Nadat hulle gehoor het dat Jesus die man genees het, ondervra die Fariseërs die man presies hoe hy sy sig verkry het. Die wonderwerk het op die Sabbat geskied, en dit nogal deurdat Jesus klei gemaak het met sy spoeg, wat volgens die Fariseërs ‘n werk was, en die wet van God sê uitdruklik: op die Sabbat mag jy geen werk doen nie. In 5:8-10 het Jesus net ‘n opdrag gegee dat die lam man sy bed moes dra op die Sabbat. Hier het Jesus self gewerk op die Sabbat. Daarom is party van die Fariseërs, wat net teen hulle eie interpretasie van die wet vaskyk, oortuig dat ‘hierdie man’ (neerhalend) nie van God af kan kom nie. Die starre Sabbatsleer van die bewaarders van die wet spreek teen die goddelike sending van Jesus en die grootheid van die wonder. Ander Fariseërs, wat die wonder raaksien, sê: hoe kan ‘n sondige man sulke wondertekens doen? Hoewel hulle begin glo dat Jesus wel van God af kom, hoor ons nie weer van hulle nie (vgl. egter Nikodemus in 3:1,2; 19:39,40; en Gamaliël, Hand.5:34-39; en latere Christene, Hand.15:5).  Daar kom toe ook verdeeldheid in die geledere van die Fariseërs, soos onder die mense wat Jesus begin volg het (6:66-69); tussen die feesmenigte (7:12-13, 40-44), die inwoners van Jerusalem (7:30-31), en die Jode (10:19). Die verdeeldheid loop uit op die oordeel oor die wêreld (12:31-32).

 

9:17 In die verleentheid oor hulle verdeeldheid doen die Fariseërs iets wat hulle andersins nooit sou doen nie: hulle vra ‘n gewone man, trouens ‘n bedelaar, om sy mening oor ‘n saak van Skrifuitleg en teologie. ‘wat sê jý van Hom?’ Hy het Jesus mos persoonlik ontmoet en self die genesing ondervind. Soos die Samaritaanse vrou (4:19) dink hy dat Jesus ‘n profeet is (iemand wat die woord van God aan die volk oordra). By nadenke oor sy genesing is Jesus meer as net ‘die man wat Jesus genoem word’ (v11). Nie elke profeet in Israel se geskiedenis het wonders gedoen nie, en nie alle wonderwerkers was profete nie. Maar alle Jode het onthou dat Moses die grootste profeet van alle tye was, met wie God self gepraat het en wonders deur hom gedoen het, in Egipte en tydens die woestynreis. Wat God deur Moses gedoen het, was vir Israel die grootste van alle wonders (Deutr.34:10-12).

In Deutr. 18:15,18 het die Here beloof dat Hy ‘n profeet sal stuur, soos Moses. Dit het ‘n verwagting in Israel laat leef dat die profeet van die eindtyd, die Messias (Gesalfde) waarna hulle uitsien, óf soos Moses sal wees, óf Moses self sal wees. Die blindgeborene het nog nie daarby uitgekom nie, maar was op pad om Hom as Messias te erken. Dit vererger die verleentheid van die Fariseërs

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die sesde wonderteken – die genesing van ‘n blindgeborene op die sabbat (9:1-41)

Die sesde wonderteken – die genesing van ‘n blindgeborene op die sabbat (9:1-41) – Francois Malan

 9:1 Die 1983-vertaling ‘terwyl Jesus wegstap’ verbind die gebeure met 8:59 toe Jesus die tempel verlaat het.  Letterlik staan daar ‘toe Hy verbystap’ – die genesing het blykbaar ‘n hele ruk later geskied, toe Jesus nog in Jerusalem  rondgestap het. Die skrywer plaas egter die genesing van die blindgeborene ná die geestelike blindheid van die Jode in hoofstuk 8,  as ‘n bewys dat Jesus die Lig vir die wêreld is, soos Hy in 8:12 gesê het. Hy laat blindes sien en siendes sink weg in die blindheid van ongeloof. Jesus sien egter ‘n man wat van sy geboorte blind was, raak.

9:2 Volgens die opvatting van daardie tyd was siekte die straf vir sonde, en kon die oortredings van ouers straf oor hulle kinders en kleinkinders bring (Eks.20:5). Daarom aanvaar die dissipels dat die man se blindheid ‘n straf is, maar was dit sy eie of sy ouers se sonde? [Die rabbi’s het uit die voorgeboortelike stampery van Rebekka se tweeling (Gen 25:22) die moontlikheid van sonde voor geboorte afgelei].

 

9:3 Jesus wys die vrae na die oorsprong van die siekte af, en wys na die einddoel van die siekte, nl. dat die werke van God deur die blindgeborene aan die lig kom. Die genesing sal ook bewys Jesus is die ‘Ek is’, die God van die voorvaders (8:58). Die Here maak siende of blind (Eks. 4:11).

 

9:4 ‘Moet ons’: Jesus betrek sy volgelinge saam met Hom in sy huidige sending, soos Hy ook in die toekoms gaan doen (14:12; 20:21) . In  5:17 het Hy Hom verweer teen die klag dat Hy op die Sabbat genees: ‘My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.’ Hy het gekom om die werke te doen wat sy Sender vir Hom en vir ons opgelê het. Die tyd om dit te doen, is beperk tot ‘terwyl dit dag is’. Hy en elke volgeling van Hom het ‘n ‘uur’ wat deur die Vader bepaal word. Dit gee die versekering en dringendheid aan sy en ons diens aan God en aan  mense. Die nag kom – die tyd van sy dood en ons dood, die beëindiging van ons werktyd. Sy dood kom al nader met die Jode wat Hom wil doodmaak. Daarom  moet ons nie tyd mors met vrae oor waarom dinge met ons gebeur nie (v3), maar lewe met die oë gerig op die einddoel van ons lewe, om die werke te doen wat die Vader vir ons en vir Hom oplê.

 

9:5 Terwyl Jesus egter nog in die wêreld is, is Hy die Lig vir die wêreld (8:12: ‘wat lewe gee’). Daarvan gaan die wonder van die blindgeborene se genesing ‘n simbool, ‘n teken, ‘n bewys wees. Die man wat tot nou toe in die duister geleef het, ontvang lig vir sy oog en vir sy lewe.   

 

9:6 Jesus spoeg op die grond, maak daarmee klei aan, en smeer dit aan die blindgeborene se oë. Dit verskil van die ander genesings deur aanraking (Mt 20:34), met ‘n enkele woord (Mk 10:52;  Lk 18:42), in Mk 7:34 nadat hy sy vingers in die doofstomme se ore gesteek en spoeg aan sy tong gesmeer het om die doofstomme, wat Hom nie kon hoor nie, te laat verstaan (vgl. Mk 8:23,25 met spoeg en handoplegging). Verskillende verklarings word vir die optrede gegee: In die volksgeloof is spoeg soms as ‘n magiese geneesmiddel vir sekere kwale beskou. Die rabbi’s het ‘n verbod daarop geplaas weens die verband met towery. Jesus gebruik dit om die geloof in die man te wek, en so die swakheid van die mens tot hulp te kom. Die hoofsaak is egter geloofs-gehoorsaamheid, daarom kry die blinde die opdrag om hom in die Siloambad te gaan was.

[Die maak van klei is deur die kerkvaders verbind aan die skepping van die mens uit die stof van die aarde (Gen.2:7). Ireneus het daarop gesê: dit wat die Kunstenaar – die Woord – uitgelaat het om in die moederskoot te vorm het Hy in die openbaar voorsien, sodat die werke van God in Hom tot openbaring kom.]

 

9:7 Siloam is die Griekse spelling vir die Hebreeuse Sjiloach (Jes 8:6), ‘gestuur’ wat verwys na die water wat uit die Gihonfontein met die tonnel deur die berg na die bad gestuur is. Johannes sien Jesus as die ‘Gestuurde’ , die geestelike Siloam. Die blinde kan sien, nadat hy in Siloam gebad het (vgl. Naäman in die Jordaan , 2 Kon 5:10-14), maar hy verkry sy sig eintlik deur God se ‘Gestuurde,’ Die identifisering van Jesus met Sjiloach is moontlik gesuggereer deur Jakob se seën van Juda: ‘jy sal altyd heers, jy sal aanhou regeer totdat Silo kom, die heerser aan wie die volke hulle sal onderwerp’ (Gen 49:10 Silo in Hebreeus: Sjiloh). Jesus se spoeg en klei, en die blinde se gehoorsame was in Siloam was tekens om die blinde se geloof te versterk. Sy ondervraers was oortuig dit is Jesus self wat hom genees het (9:11,15). Die blindgeborene wat Jesus se woord gehoorsaam, kom siende terug. Die ontwyfelbare wonder het geskied. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan