Jesus die lig vir die wêreld (8:12-20)

Jesus die lig vir die wêreld (8:12-20) – Francois Malan

Die gesprek tydens die loofhuttefees, wat deur die verhaal van die owerspelige vrou onderbreek is, word hier voortgesit.

8:12 ‘Op ‘n ander keer…’ – letterlik: ‘Jesus het weer… (tydens dieselfde fees) – vir die mense gesê…’ Die Evangelieskrywer beskou Jesus as die mens se toegang tot God. Hy vervang die Paasfeesoffers vir die sonde as die Lam van God (1:29,36), sy liefdesoffer van Homself vervang die tempel as die deurgang na God (2:21; 4:21-24; 14:6), en Hy vervang die Loofhuttefees as God wat self in die gelowige kom woon deur die Heilige Gees (7:39; 14:20,23). Strome van lewende water vloei uit elkeen wat in Hom glo (7:38), soos die water uit die rots tydens die uittog uit Egipte, wat tydens die fees in herinnering geroep word deur water wat op die altaar uitgegooi word. Hy is ook die Lig vir die wêreld, soos die vuurkolom vir Israel se trek deur die nag, en die wolkkolom bedags om hulle te lei, as die teken van die magtige teenwoordigheid van die Here by hulle (Eks. 13:21-22; 40:34-38). Met die Loofhuttefees is die tempel  met groot lampe verlig en daar was heelnag kore en danse met fakkels tot eer van die Here, met die hoop op ‘n tweede eksodus wat deur God gelei word. Christus openbaar Homself as die teenwoordigheid van God self wat hulle lewe kom verlig (Ps 27:1), om hulle te lei in die nuwe uittog uit die duisternis van die sonde na God toe, om in sy teenwoordigheid en onder sy leiding te lewe (vgl. Jes. 60:19-22; Sag. 14:5b-7).

 

8:13 Jesus het in 5:31-39 na drie getuies verwys wat God aan die Jode verskaf het (Johannes die Doper, Jesus se werke, die Skrifte). Hier plaas Hy Hom egter bo die Wetsgrond, omdat sy woord die volle waarheid is en geen verdere getuies nodig het nie, want Hy kom van die Vader en gaan na die Vader terug – die Woord van God, self God (Jn 1:1). Die Fariseërs gaan egter nie op sy uitspraak in nie, maar opper ‘n formeel-regterlike beswaar.  Hulle hoor nie sy wonderlike uitnodiging om Hom te volg nie, en ervaar nie die magtige teenwoordigheid van die Here by hulle nie. Hulle is so verstok deur hulle wetsgebondenheid, dat hulle net verwys na Deutr. 19:15 se eis van twee of drie getuies, en Jesus as die Lig vir die wêreld verwerp. Sy getuienis is vir hulle waardeloos want Hy getuig oor Homself – dit impliseer vir hulle net selfbelang. Maar Hy en sy woord is juis in hulle belang. Die koms van Lig is egter vanself ‘n oordeel, ‘n beslissing, want die mense het die duisternis liewer gehad as die lig omdat hulle werke boos is (3:19-21).

 

8:14  Jesus se onverwagte antwoord is: As Ek oor Myself getuig is my getuienis waar! Want Ek weet waar Ek vandaan kom (sy oorsprong) en waarheen Ek gaan (sy bestemming), en sy teenstanders weet nie. Hy kom van God en gaan na God (13:3) en God is met Hom (8:16). Dit onderstreep die eenheid van Vader en Seun. Die selfgetuienis van Jesus is die openbaring van God, want Hy is die Woord van God (1:1).

 

8:15 Die Jode kon dit nie verstaan nie, want vir hulle geld net wat voor oë is (7:24), die uiterlik sigbare verskyning van Jesus in ‘n nederige gestalte. Sy goddelike ewige wese sien hulle nie raak nie. Die doel van Jesus se sending is egter nie om te oordeel nie (3:17), maar die oordeel is ‘n onafwendbare gevolg van sy koms en sy woord.

 

8:16 Soos sy getuienis oor Homself van die Vader kom (v14), so kom sy oordeel ook van die Vader af. As Jesus praat is daar  altyd ten minste twee getuies: die Vader en die Seun. Daarom is sy getuienis waar!  Dit openbaar die hart en denke van God.

 

8:17-18 Jesus verwys na ‘julle wet’ se voorskrif van twee getuies, Jesus noem dit twee persone. Hy en die Vader is twee persone met dieselfde getuienis: Ek, Ek is (soos Hy Hom aan Moses geopenbaar het) die een wat oor My getuig, en die Vader wat My gestuur het getuig oor My – as geregtelike getuies, maar ook as mede-getuies van die verkondiging van Jesus. Alle getuienis oor Jesus kom van die Vader en die Seun saam. 

 

8:19 ‘Waar is jou Vader?’ openbaar  weer ‘n misverstand onder die Jode, en van hulle minagting vir Jesus. Hulle wil die tweede getuie sien en sy getuienis hoor. Omdat hulle nie Jesus as die Gestuurde van die Vader kan herken nie, lei hulle af dat  hulle die sogenaamde Vader van Jesus nie ken nie en daarom nie sy getuienis kan aanvaar nie. In 5:37 het Jesus reeds gesê: ‘Sy stem het julle nog nooit gehoor nie en sy gestalte ook nie gesien nie’ – as iemand Hom van Jesus afsny, nie in Hom glo nie, sny hy homself ook van die Vader af (5:18). Waar is God? Daar waar Jesus is! Wie die Seun sien, sien die Vader (14:9). Daar is geen ander toegang tot God nie (14:6).

 

8:20 Ná Jesus se getuienis dat Hy deur die Vader gestuur is, en dat hulle nie die Vader ken nie, wou hulle Hom gryp oor sy ‘valse’ leer (7:28-30). In die tempel se voorhof van die vroue was daar  13 offerkiste vir die bydraes van die volk. Daar openbaar Jesus Homself aan die Fariseërs en aan die mans en vroue wat na Hom geluister het. Maar omdat sy uur nog nie gekom het nie, kon niemand iets aan Hom doen nie (soos in 7:30,44; 8:59; 10:39).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




‘n Vrou in owerspel betrap (7:53-8:11)

‘n Vrou in owerspel betrap (7:53-8:11) – Francois Malan

Hierdie verhaal is in die vroeë kerk mondelings oorgelewer en eers in die 4e eeu n.C. in sommige manuskripte opgeneem, wat dit op verskillende plekke ingesit het, soms met ‘n aantekening dat dit nie oorspronklik van Johannes af kom nie. Die plasing na Johannes 7:52 suggereer dat die episode tydens die vrolike Loofhuttefees gebeur het. Dit is ook ‘n goeie voorbeeld van wat Jesus in Johannes 8:15 sê.

7:53-8:2  Jesus bly die nag op die Olyfberg (vgl. Mt 8:20; Lk 21:37). Die rabbi’s het gewoonlik gesit wanneer hulle hulle leerlinge geleer het. Jesus sit ook rustig terwyl Hy die volk leer. Sy krag lê in sy persoon en die krag van sy woord. 

 

8:3 Skrifgeleerdes en Fariseërs ‘bring’ die vrou na Jesus toe – die werkwoord suggereer dat dit met geweld geskied, en die werkwoord ‘betrap’  veronderstel ‘n arrestasie, dat hulle haar gegryp het. Die werkwoord vir ‘egbreuk’ veronderstel dat die vrou getroud is. Van die man wat betrokke was, sê hulle niks nie, hoewel die wet dit vereis (Deutr. 22:22). Dat hulle haar in die openbaar voor Jesus sleep, toon hulle nydige en gemene optrede, en dat hulle haar op ‘n slinkse manier betrap het.

 

8:4-6 Hulle saak is waterdig want sy is op heterdaad betrap. Om Hom te vlei spreek die skrifgeleerdes Jesus aan as ‘Leermeester’ (Rabbi), met gesag om die wet te vertolk, soos die Skrifgeleerdes (anders as in 7:15). Hulle verwys na die wet van Moses, na wie Jesus in 7:19-23 verwys het, maar haal hom nie heeltemal reg aan nie. In Lev 20:10 en Deutr. 22:22 word gesê dat die getroude man en getroude vrou altwee doodgemaak moet word oor hulle egbreuk. Hulle wil ‘n strik vir Jesus stel om sy gewildheid onder die mense te knou: As Hy saamstem met die wet van Moses, weerspreek Hy sy optrede teenoor armes en sondaars, en sy ongeërgdheid teenoor die rituele wette. As Hy nie met Moses saamstem nie, bewys Hy Homself as ‘n wettelose persoon wat die volk mislei, teen wie hulle ‘n klag by die Joodse Raad kan inbring.

            Jesus antwoord nie dadelik nie, maar soos Hy sit, begin Hy op die grond skrywe met sy vinger. Wat Hy geskryf het en waarom Hy geskryf het, bly onbekend. 

 

8:7-8 Die aanklaers dring aan op ‘n antwoord. Jesus se opdrag aan hulle kom uit die wet, dat so ‘n vrou gestenig moet word, en Deutr. 13:9-10; 17:7 bepaal dat die getuies die eerste klippe moet gooi. Daarmee bewys Hy dat Hy die wet van Moses ken en gehoorsaam.  Maar Jesus stel ‘n voorwaarde wat op twee maniere verstaan kan word: (i) met die betekenis ‘sonder skuld’ word die klaers gevra of hulle nie ook skuldig is aan owerspel nie; (ii) met die betekenis ‘sonder sonde’ verwys dit wyer, na enige sonde, in denke, woorde en dade voor God. Daarmee word die bordjies in hierdie onoffisiële hofsitting verhang. Die aanklaers word persoonlik in die geding betrek en voor die konsekwensie van hulle woorde gestel. Hierdie is nie ‘n offisiële hofsitting wat op regsgronde argumenteer, en waar hulle die regters is nie. Jesus laat morele oorwegings inspeel op die aanklaers se optrede en hulle verlede. Selfs die aanklaers se motief  is verdag, nl. om iets te kry om Jesus te kan aankla (18:6). Na rustige oorweging verpletter Jesus met sy eis die heerlike gevoel van hulle selfgeregtigheid, en gaan ongestoord voort om op die grond te skryf. Daarmee gee Hy aan die klaers die geleentheid om na te dink oor sy woorde.

 

8:9 Aanskoulik word die toneel geskilder hoe hulle een vir een wegstap. Die oudstes loop eerste. Hulle was die ervare leiers van die jongeres. As die vrou wederregtelik gestenig word, sou hulle die verantwoordelikheid daarvoor dra. Die woorde van Jesus brand in hulle gewete, en hulle weet hulle het geen verweer daarteen nie. Hulle eie sonde het nou meer aktueel geword as die oortreding van die vrou (vgl. Mt 7:1-5). Wanneer almal weg is, bly net die vrou oor, voor Jesus, waar die kring aanklaers  om haar gestaan het. Aangrypend word die nuwe situasie in enkele woorde geskilder: ‘en Hy was alleen agtergelaat, en die vrou wat in die middel is.’ Nou is die hele fokus op hulle twee. Hy, die sondelose, sou haar kon stenig.   

 

8:10,11 Op Jesus se vraag of niemand haar veroordeel het nie, antwoord sy slegs: Niemand nie Here. Die vrou beleef Jesus as die bevryder uit die kloue van haar aanklaers wat haar na die tempelplein toe gesleep het. Hoe sy die aanspreekvorm ‘here’ bedoel het. word nie gesê nie. Maar sy het voor Jesus bly staan en wag op haar Regter se uitspraak.

            Jesus spreek die verlossende woord: Ek veroordeel jou ook nie – Hy het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word  (3:17; 12:47). Maar Hy vermaan haar: ‘Gaan, en moet van nou af nie meer sondig nie.’ Hy het haar van die vreeslike straf van steniging bewaar, nie omdat Hy haar oortreding nie so ernstig opgeneem het soos die Joodse streng wetstoepassers nie, maar omdat Hy haar lewe op ‘n nuwe grondslag wou stel: ‘van nou af’ – vir die Samaritaanse vrou het Jesus gesê: daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid..’ (4:23). Daar moet by haar ‘n radikale lewensvernuwing intree, nie voortgaan in sonde nie – nie teen die wil en wet van God leef nie. Wie genade van God ontvang, word geroep tot ‘n nuwe lewe volgens die wil van God.

 

Die verhaal is ‘n uitbeelding van Joh. 3:17-21. Vergifnis beteken bevryding vir ‘n nuwe soort lewe. Genade is altyd onverdiend. Hierdie mooi aanskoulike toneeltjie is opgeneem in die Evangelie om vir ons bewaar te bly as ‘n riglyn vir ons lewe.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Verdeeldheid onder die mense (7:40-44)

Verdeeldheid onder die mense (7:40-44) – Francois Malan

7:40-41 Na Jesus se openlike verklaring is een groep van die feesgangers oortuig: Hy is die Profeet wat God aan  Moses beloof het in Deutr.18:15,18:  in wie se mond die Here sy woord gee, en vir wie hulle moet gehoorsaam.

            ‘n Tweede groep is oortuig Hy is die verwagte Messias/Christus/Gesalfde, die Koning wat hulle van die Romeinse juk sal verlos (vgl. 6:15).

            Die derde groep kyk vas teen sy vermeende afkoms uit Galilea van die heidene, wat vir hulle ‘n struikelblok is om in Hom te glo.

7:42  Die twyfelaars ken die Skrifte. Hulle weet dat die Messias uit die geslag van Dawid sou kom, uit Betlehem waar Dawid was (1 Sam 20:6; 2 Sam 6:12 Jerusalem as Dawidstad; 2 Sam 7:16;. Ps 89:4; Miga 5:1). Die twyfelaars is onbewus daarvan dat Jesus in Betlehem gebore is, uit die geslag van Dawid (Luk.2:4), en dat sy eintlik herkoms die hemel is (6:50-51)

 

7:43-44 Die meningsverskille lei tot skerp verdeeldheid onder die skare. Sommige dink selfs daaraan om Jesus gevange te neem, maar niemand doen dit nie, want sy uur het nog nie gekom nie – alles verloop volgens die plan van God (vgl. 7:30). 

 

Verdeeldheid onder die leiers (7:45-52)

 

7:45-46 Die wagte wat Jesus moes arresteer (7:32) gaan met leë hande terug, en word voor stok gekry deur hulle senders. Ten spyte van moontlike dissiplinêre optrede, verklaar hulle openlik dat Jesus se woorde hulle weerhou het.. Sy woorde kom met ‘n onverklaarbare onweerstaanbare mag. Sy optrede en woorde het swaarder geweeg as die woorde van die hoogste gesag in die Joodse volkslewe: Fariseërs wat God se woord vir die volk uitlê en toepas, en priesters wat by God intree vir die volk met offerandes.

 

7:47 Die leermeesters wat God se wet vir die volk uitlê is geskok dat selfs die tempelpolisie nie hulle leiding volg nie. Spottend vra hulle: Julle is tog nie ook mislei nie?  Die wagte het hulle laat mislei deur ‘n bedrieër (vgl. by 7:12).  

 

7:48 Die helde-op-‘n-afstand vra met selfverheffing: Is daar dan  een van die leiers of van die Fariseërs wat in hom glo? In Grieks word die vraag so gestel dat die antwoord daarop net ‘nee, niemand nie’ gesuggereer word. Niemand van húlle groep is toeganklik vir Jesus se verleidende invloed nie (Heel ironies skryf Johannes dit, in die lig van v50).

 

7:49 ‘Maar hierdie gespuis (die bevolking van die land), wat nie die wet ken nie, is vervloektes’ (vgl. Deutr 27:26). Vervloek beteken om iemand buite God en sy seën en sorg te stel. Al was die Fariseërs juis die leraars van die volk, het hulle op die gewone mense neergesien (vgl. Lk 18:10-12). In hulle houding tot die gewone bevolking het die Fariseërs en Jesus aan teenoorgestelde kante gestaan.

 

7:50-51 Johannes weet van een lid van die Joodse Raad wat in die nag na Jesus toe gekom het omdat hy geweet het dat Jesus ‘n leermeester is wat van God af kom (3:1-2); anders as die Fariseërs se verklaring in vers 48. Nikodemus tree vir Jesus in, deur die Fariseërs daarop te wys dat hulle nie volgens die wet optree nie, en dus eintlik soos ‘die bevolking van die land’ is, wat nie die wet ken nie. Deutr. 1:16-17 ‘…moenie partydig wees as julle ‘n saak verhoor nie, luister na klein en groot…’ (vgl. Deutr. 17:2-5!). Maar Nikodemus doen dit slegs deur ‘n vraag te stel na die wettigheid van hulle optrede, sonder om hom openlik vir Jesus uit te spreek.

 

7:52 Die atmosfeer is egter so gespanne oor Jesus se optrede dat Nikodemus se vraag oor die regte prosedure bitsig beantwoord word met ‘n wedervraag wat nie sy vraag beantwoord nie, en hom persoonlik aanval. Hulle weet Nikodemus kom nie uit Galilea  nie, maar verkleineer hom deur te suggereer dat hy ‘n landgenoot verdedig wat uit die agterlike Galilea kom, wat nie die wet so nougeset soos Judea onderhou nie (dit is ‘n vergissing, want Jesus is eintlik in Betlehem gebore en kom van God af) , en dat hy, Nikodemus, self nie die Skrifte ken dat geen profeet uit Galilea kom nie (ook ‘n vergissing, want dit is bekend dat bv. Jona uit Galilea gekom het; 2 Kon.14:25). Daarby kan God enigiemand van enige plek af roep, en is hulle snedige opmerking eintlik ‘n beperking en minagting van God.           

 

Twee temas loop deur hoofstuk 7: (i) Jesus het gekom as die vervulling van Israel se geloof en van hulle feeste; (ii) die beoordeling en beslissing oor Hom wat die mense verdeel. Jesus tree openlik, in die openbaar op, tussen die Jode wat Hom wil doodmaak (v1). Toe Hy in hulle kring instap, stap Hy in ‘n openbare verhoor in.

Hy word aangekla van ‘n reeks oortredings: (i) Hy mislei die mense (v12). (ii) Hy is ‘n onkundige leek sonder opleiding en daarom sonder gesag om die mense die wet van God te leer (v15). (iii) Hy oortree die sabbatwet met die genesing van die lamme by die Betesdabad (v21-23). (iv) Hy sê valslik dat Hy die Messias is, want almal weet waar Jesus vandaan kom, maar niemand sal weet waar die Messias vandaan kom voordat Hy aan Israel geopenbaar word nie (v28). (v) Hy kom van Nasaret in Galilea af, en die Skrif sê die Messias kom van Betlehem af (v42,52).   

Jesus antwoord op die klagtes: (i) sy lering kom van God wat Hom gestuur het (v17). (ii) Hy soek nie sy eie eer nie, maar die eer van sy Sender (v18). (iii) Hy kom God se doel met die sabbat vervul (v22-23). (iv) Hulle weet nie waar Hy vandaan kom nie, omdat hulle die ware God nie ken nie (v28,29). 

Jesus se verhoor het húlle verhoor geword. Dit vereis nou van hulle ‘n antwoord en geloof. Nie een van hulle hou Moses se wet nie; dit word duidelik uit hulle begeerte om Hom dood te maak, selfs sonder verhoor, soos die wet vereis. Daarom Jesus se vermaning: Moenie op die oog af oordeel nie, oordeel regverdig (v24). Om regverdig te kan oordeel is dit nodig om in God te glo, en dat Hy Jesus gestuur het om alles te vervul wat Israel se loofhuttefees simboliseer: verlossing deur God, God se woord en wet deur Moses as riglyn vir sy volk (v16-19; 21-23), hulle verwagting van die Messias/Christus-koning (v25-31), strome van lewende water uit die rots in die woestyn (die Heilige Gees in dié wat tot geloof in Jesus kom; v37-39), oesfeesvreugde oor God se gawes.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Strome van lewende water (7:37-39)

Strome van lewende water (7:37-39) – Francois Malan

Die loofhuttefees, wat die uittog uit Egipte herdenk, het sewe dae geduur (Lev 23:33-36;  Num 29:35 sit egter ‘n  agtste dag daarby). Elke môre met sonop het ‘n priester ‘n goue liter-kan vol water geskep uit die Siloambad, waar die water uit die rotstonnel vanaf die Gihonfontein gestroom het. Dit was ter herdenking van die water uit die rots tydens die uittog uit Egipte (Eks.17:1-6; 1 Kor 10:4). Dit het ook vooruitgesien het die koms van die koninkryk van God wanneer water geskep sal word uit die fonteine van redding (Jes.12:3; Eseg. 47:1-12; Sag.14:8).

Die priesteroptog van Siloam na die tempel met koorsang en danse is by die tempel se waterpoort begroet met drie vreugdevolle aankondigings deur ‘n trompet (sjofar;  vgl. Jes 12:3). Die priesters het om die altaar gestap terwyl die tempelkoor die Hallelujas (Pss 113-118) vir die Here voor die feesgangers gesing het. Met die lees van Ps 118:1 skreeu elke man en seun dit drie maal uit, terwyl hulle die lulab met die regterhand skud (‘n bossie wilger- en mirte-takkies met palmblare vasgebind (Ps 118:27), en ‘n lemoen met die linkerhand omhoog gehou. Na die lees van Ps 118:25 word dit weer drie maal  geskud en geskreeu: ‘Red tog Here, gee tog voorspoed, Here!’ Op die sewende dag is sewe maal om die altaar gestap en die lulab geskud. Die loofhutte was ook die oesfees ná die vrugte-oes, om te bid vir goeie reën tydens die volgende seisoen (Sag.14:16-19). Wyn in een silwer beker en die water in ‘n tweede gegooi en  aan die Here geoffer op die brandofferaltaar. Daarna roep die feesgangers: ‘Lig op u hand!’ en die priester lig sy hand op as teken dat die verrigtinge afgesluit is. Die hele seremonie herinner die feesgangers aan God se verlossing en sorg in die verlede (uittog), hede (oes) en toekoms (koms van die koningskap van God).

 

7:37 Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees het Jesus in die tempelarea gestaan en ten aanhore van almal gesê: ‘As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!’ (vgl. Jn 4:13,14; 6:35; Jesaja 55:1; Mat 11:28; Openb 22:17).  Die woord ‘dors’ het betrekking op die geestelike nood van die sondaar, wat deur die Heilige Gees se inwerking bewus geword het van sy ellende, en verlang na redding. Hulle word uitgenooi om hulle geestelike dors by Jesus te les as die enigste weg van verlossing

 

7:38 Daar is twee vertaalmoontlikhede vir die eerste woorde ‘wie in My glo’: (i) dat dit die nuwe vers inlei, soos in ons vertaling, en na die aanhaling uit die Ou Testament verwys. (ii) dat dit nog deel is van vers 37 wat dan so lui:

            As iemand dors is, laat Hom na My toe kom; en laat hom wat in My glo drink.

Dan is dit nog deel van Jesus se uitnodiging, met Christus as die enigste bron van lewende water vir elkeen wat glo – die een wat dors is, is dan die gelowige wat oortuig is dat Jesus sy dors kan les, soos in 6:35; Vers 38 begin dan met ‘Soos die Skrif sê…’ Die betekenis van die twee moontlikhede bly egter dieselfde, naamlik God se verlossing in die verlede (Jes 55), hede (nou met Jesus), en in die toekoms (op die oordeelsdag).

            Daar is nie ‘n spesifieke teks in die Ou Testament wat na ‘strome van lewende water’ verwys nie. Maar ‘water’ verwys in verskillende uitsprake na die Heilige Gees (Jes.44:3; Jes 58:11; Eseg 47:1-12; Joël 2:28; 3:18; Sag 13:1; 14:8).

            Die een wat glo, word ‘n kanaal waardeur lewende water, wat Jesus gee, na ander toe vloei. 

 

7:39 Die Evangelis verduidelik (nadat die Heilige Gees reeds uitgestort was toe hy geskryf het) dat ‘lewende water’ ‘n beeld is van die Gees van God wat die mense, wat tot geloof in Jesus gekom het, sou ontvang het. Dit is die Gees wat ‘n mens steeds oortuig, sodat hy deurgaans gelei word om in Jesus te glo. Hoewel die Gees van God deur die eeue werksaam was in die wêreld en onder mense, was dit konings en priesters en profete wat gesalf is as teken van die leiding van die Gees in hulle. Maar sy werk het nog nie ten volle tot openbaring gekom solank as wat die werk van God in Christus nog nie volbring was nie. Terwyl Jesus, self God, by die mense was, het Hy mense probeer oortuig. Maar na Jesus se ‘verheerliking’ – dit sluit in sy verhoging aan die kruis vir ons sonde, sy opstanding uit die dood vir ons oorwinning oor die sonde,  en sy verhoging tot die regterhand van die Vader as ons voorspraak en om te regeer as die Here oor die wêreld en sy kerk – het Hy die Vader gevra om die Gees te stuur om ewig by en in sy volgelinge te wees (14:15-17).

            Jesus kom die loofhuttefees se wyn- en wateroffer vervang met sy bloedoffer en die uitstorting van die Heilige Gees op elkeen wat deur die Woord van God en die werking van die Gees uit die slawehuis van sonde uitgelei word in die ewige lewe by God.

 

Skrywer: Francois Malan