Jesus verskyn aan die dissipels (20:19-23)

Jesus verskyn aan die dissipels (20:19-23) – Francois Malan

Die dissipels as getuies van Jesus se opstanding

20:19 Teen die aand van daardie eerste dag van die week, na die vroegoggend verskyning aan Maria Magdalena  (20:1) is die dissipels van Jesus bymekaar in vrees vir wat die Jode, wat ‘n oorwinning oor Jesus gesmaak het, aan hulle sal doen. Daarom sluit hulle die deur vir hulle veiligheid. Jesus kom en staan tussen hulle. Die Evangelis beskou dit as ‘n wonder. Sy opstandingsliggaam is nie aan ruimte en tyd gebonde nie. Die Here openbaar Homself waar Hy wil, op ‘n wyse bokant ons begrip.

Jesus groet die bevreesde groepie dissipels op die gewone Joodse manier: ‘Sjaloom ‘alêka!’ ‘Vrede vir julle!’ (Joh.14:27; 16:33; Ef. 2:14). Nooit was dié gewone groet so gevul met betekenis as toe Jesus dit op dié Paassondag uitgespreek het nie. Dit is die vrede waarvan die profete gepraat het: Ps. 85:11 ‘…geregtigheid en vrede sal mekaar ontmoet…’ ; Jes.53:5 ‘die straf  vir ons vrede was op Hom.’ Jes.66:12 ‘Ek laat vrede na haar toe aankom soos ‘n rivier.’ Dit is vrede met God, wat Hy aan die kruis bewerk het.

 

20:20 Jesus wys hulle sy deurboorde hande en sy deursteekte sy om hulle te verseker dat dit Hy is, hulle gekruisigde Here, wat voor hulle staan.  Dit is vir die kerk van kardinale belang: die Gekruisigde is die opgestane Here; en die opgestane Here is die Gekruisigde. Sy egte dood en egte opstanding het verlossing bewerk vir die hele mens en vir die hele wêreld. Sy belofte aan sy dissipels na die voetwassing dat Hy weer na hulle toe kom, is vervul (14:18) en dit het hulle droefheid in vreugde verander (16:19-22). Paasfees is gevul met vreugde oor ons Heer. Toe die dissipels deur hierdie merktekens oortuig is dat dit die Here is, het blydskap hulle harte vervul, soos Jesus beloof het (15:11). Hy het sy lyding en dood oorwin.

 

20:21 Jesus herhaal sy vredes-toesegging as grond vir sy opdrag. Soos Hy vir hulle vrede met God bewerk het (20:19), moet hulle die vrede uitdra na die wêreld. Soos wat Jesus deur die Evangelie telkens gesê het dat Hy deur die Vader gestuur is om alles te sê en te doen wat die Vader aan Hom opgedra het, netso stuur Hy sy volgelinge uit met die boodskap van vrede met God en vrede met mekaar; die vrede wat Hy aan die kruis bereik het. Op die Paasmôre het die dissipels teruggegaan huis toe (20:10) en in vrees vir die Jode bymekaar gekom; in die aand word hulle uitgestuur om die vrede met God deur geloof in Jesus vreesloos te gaan verkondig. Hy gaan deur hulle sy werk werk in die wêreld voortsit (Joh.13:20; 17:17-19). Soos Jesus permanent die Gestuurde van die Vader is (die werkwoord ‘gestuur’ is in die voltooide tyd om aan te dui dat Hy Gestuurde bly), gaan sy sending voort en bly dit effektief. Hy gaan deur hulle groter dinge doen as in die dae van sy omwandelinge saam met hulle, sodat die Vader verheerlik kan word in die Seun (Joh.14:12-14).

 

‘Ontvang die Heilige Gees!’

20:22 Toe blaas Jesus op hulle. Die Griekse woord emfusaoo, wat slegs hier in die Nuwe Testament gebruik word, verwys terug na Genesis 2:7 toe God sy asem in die neus van die mens geblaas het vir die skepping van die mens, en in Eseg.37:9,10 toe die Gees in die dooie bene geblaas is om hulle weer lewendig te maak – hier van Jesus wat  in die dissipels blaas om hulle toe te rus met sy Gees om Jesus se taak voort te sit in die wêreld. Hiermee word die mens opgeneem in die nuwe skepping deur die menswording, dood en opstanding van Jesus Christus, die Woord van God, deur wie alles geskape is (Joh.1:3), en in wie daar lewe is,dié lewe wat die lig is vir die mense (Joh.1:4). Jesus sê: Ontvang die Heilige Gees!’ – ontvanklik, om deur die Gees oortuig te word dat ongeloof in Jesus sonde is; om gelei te word tot geloof in Jesus, wat ons verhouding met God reggemaak het deur ons sonde te vergewe en van ons kinders van God te maak; om in die liefde van God opgeneem word (16:8-10); om ook mekaar lief te hê, soos die Vader die Seun lief het (15:9).

            Johannes verbind die gawe van die Heilige Gees met die Paasgebeure van Jesus se sterwe en opstanding. Lukas, wat twee boeke skryf, verbind die gawe van die Heilige Gees met Pinkster, die oesfees, vyftig dae na die Paasfees, met die eerste gerwe van die oes, maar ook met die Paasfees se opstanding in Petrus se verklaring van die Pinkstergebeure (Hand.2:24: ‘Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan’). Soos Johannes die reiniging van die tempel reeds aan die begin van sy Evangelie beskryf om die Woord van God wat mens geword het se bediening te verduidelik (2:13-21), doen hy dit ook met die instorting van die Heilige Gees aan die einde van sy enkele boek, om die voortsetting van die Woord van God wat mens geword het se bediening deur sy volgelinge te verduidelik.

 

20:23 Jesus se koms na die wêreld en sy kruisiging beteken die oordeel oor die wêreld (12:31), soos ‘n regter se beslissing in ‘n hofsaak, wat vryspreek of veroordeel. Jesus sit sy werk voort deur sy dissipels: Hulle verkondig verlossing van sonde en opname in die huisgesin van God, waar Hy in liefde regeer, en veroordeling van dié mens wat die openbaring en verlossing deur Jesus verwerp (Joh.3:36 die toorn van God bly op hom). Die hoof taak van Jesus se volgelinge is die verkondiging van die vergewing van sonde deur Jesus se liefdesoffer aan die kruis. Maar wie nie in die enigste Seun van God glo nie, is daarom reeds veroordeel (Joh.3:18). God se vergewing is ‘n skeppende mag, wat van die sondaar  voor God ‘n regverdige kind van God maak en nuut begin lewe in die liefde van God en liefde vir mekaar.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesus verskyn aan Maria Magdalena (20:11-18)

Jesus verskyn aan Maria Magdalena (20:11-18) – Francois Malan

‘n Vrou is die eerste getuie van die opstanding van Jesus

20:11-12 Maria het intussen teruggekeer na die graf toe. Waar sy eers langs die kruis gestaan en ween het oor haar Here aan die kruis (19:25), staan sy nou buite sy oop graf en ween oor sy liggaam wat weg is, ‘n laaste anker in haar lewe. Vier maal word na haar geween verwys in die gedeelte.

            Maar toe sy afbuk om in die graf in te gaan, sien sy twee engele in wit, waar die dissipels slegs opgerolde doeke gesien het, aan die voet- en koppenent waar die liggaam van Jesus gelê het (Mark.16:5 ‘n jongman in wit klere; Luk.24:4 twee manne in glinsterende klere; Mat.28:2-3 ‘n engel soos ‘n weerligstraal met klere so wit soos sneeu) verteenwoordigers van die hemelse wêreld as bewys dat hemelse kragte hier aan die werk is. Nie grafrowers nie, maar God het Jesus weggeneem vir ‘n ander doel.

 

20:13-15 Anders as in die ander Evangelies vertel die engele nie vir haar dat Jesus opgestaan het nie, maar vra waarom sy huil. Haar antwoord bewys weer haar afhanklikheid van die fisiese teenwoordigheid van Jesus. Maar sy word bewus van iemand agter haar. Iemand so vroeg in die graftuin moet die tuinier wees, en sy konfronteer hom met haar begeerte om die dooie liggaam van haar Here te versorg. Soos die Emmausgangers in Luk.24:16 en die dissipels wat gaan visvang in Joh. 21:4, herken Maria nie vir Jesus sonder dat Hy Homself aan haar openbaar nie.

 

20:16 Met die bekende klank van sy stem en soos Hy haar gewoonlik op haar  naam genoem het, daag die lig in haar op, oorstelp van vreugde. ‘Mariam’ (die alternatiewe Griekse vorm vir Maria, vir die Hebreeus Miriam, ‘geliefde,’ ‘begeerde kind’). Sy spreek Hom ook in Hebreeus aan as ‘rabboeni,’ ‘my Grote,’ die term vir ‘n leermeester. Die Goeie Herder het sy skaap op haar naam genoem, en sy het met vreugde gereageer (Joh.10:3). Jesus herstel haar persoonlike verhouding met Hom, van wie sy gedink het dat Hy vir ewig weg is. Sy het sy dooie liggaam gesoek en die lewende Here ontmoet.

 

20:17  Maria val plat voor Jesus neer en probeer sy voete vashou uit vreugdevolle aanbidding en die begeerte om Jesus in liefde vas te hou – liggaamlike kontak is een van die sekerste maniere om bewus te word van die wêreld om jou – hier van die opstanding van Jesus, wat nie in hierdie deel genoem word nie. Maar die nuwe kontak met Jesus is deur geloof en nie meer die fisiese kontak van sy aardse bediening nie.

            Wat wel genoem word is die hemelvaart.  Jesus sê Hy het nog nie opgevaar nie, daarom moet sy Hom nie vashou nie, maar uitsien na die nuwe verhouding met die hemelse Christus. Hy is op pad om na sy Vader op te vaar om so die verlossingswerk van God te voltooi. Daardeur word Jesus se Seunskap van God uitgebrei na sy volgelinge wat aan Hom verbind is. Hulle word kinders van God deur hulle eenwording met Jesus deur geloof in Hom en vertroue op Hom. Waar Jesus hulle vroeër sy vriende genoem het (15:14-15),  noem Hy sy volgelinge nou ‘broers’ (Paulus sê ons word lede van die liggaam van Christus; 1 Kor.12:27; Rom 12:5). Die geloof en eenwording met Jesus word gewerk deur die Heilige Gees, wat in ons kom woon en ons lei en oortuig deur die woord van God, om al meer soos Jesus te word in die liefde (2 Kor.3:18; Rom.8:11; Gal.5:22-25). Jesus identifiseer Homself met sy volgelinge en trek hulle saam met Hom na God, sy Vader toe (12:32). Die wonderlike nuus oor die betekenis van Jesus se hemelvaart moet Maria aan sy volgelinge gaan vertel as die eerste getuie wat die opgestane Heer gesien het.

 

20:18 Die verhaal sluit af met Maria se uitvoering van Jesus se opdrag. Sy voeg haar eie getuienis daarby: Ek het die Here gesien. Sy noem Hom nie meer my Leermeester nie, maar ‘die Here,’ wat die seggenskap het oor my lewe, wie se opdrag ek gehoorsaam uitvoer. Terwyl vroue se getuienis nie hoog aangeslaan is in daardie tyd nie, maak Jesus van vroue sy eerste getuies (vgl. die vrou met ‘n slegte reputasie by die put naby Sigar, wat gaan getuig by die Samaritane,  en Maria van Magdala, uit wie Jesus sewe duiwels uitgedryf het, by sy dissipels, Luk.8:2).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesus se opstanding uit die dood (20:1-31)

Jesus se opstanding uit die dood (20:1-31) – Francois Malan

Hoofstuk 20 vertel van Maria Magdalena en twee dissipels wat uit die donkerte van dié Sabbat opdoem, en hulle haas na die graf van Jesus op die Sondagmôre; daarna verskyn Jesus aan Maria; die aand verskyn Jesus  aan die dissipelgroep; ‘n week later verskyn Hy  aan Tomas; met ‘n samevattende slot in verse 30-31.

Maria Magdalena en twee dissipels besoek Jesus se graf (20:1-10)

 

‘n Vrou is die eerste getuie van die oop graf

 

20:1 Voor sonop, in die oggendskemering van  die eerste dag van die week (Paassondag) wat die vorige aand met sononder begin het, kom Maria Magdalena by graf aan. Inklusief gereken (Vrydag-Saterdag-Sondag) is dit die derde dag (vgl. 2:19-22 se drie dae). Sy sien (blepoo , merk op) die klip is van die graf onttrek – weggerol, ‘n oop graf.

 

20:2 Diep geskok en radeloos oor die oop graf, waarin sy nie eers gaan kyk het nie, hardloop Maria na die dissipels toe. Vir Petrus en die ander dissipel vir wie Jesus liefgehad het (Johannes?)  sê sy: ‘hulle het Hom weggeneem…’ – grafrowery was bekend in daardie tyd  (keiser Claudius 41-54 n.C. het ‘n dekreet uitgevaardig wat die doodstraf bepaal vir grafskenders en lykrowers), maar Maria dink waarskynlik die Jode het Jesus weggeneem om sy lyk in die veroordeeldes se graf weg te gooi (vgl. die kommentaar by 19:38) – ‘…en ons weet nie waar hulle Hom gesit het nie.’

            Hoewel die vrou die eerste persoon was wat ontdek het dat die graf oop is, was die getuienis van ’n vrou destyds nie deur die Jode aanvaar nie. Haar getuienis oor die opstanding is ook onvolledig, en haar interpretasie verkeerd. Maar sy kry die dissipels aan beweeg.

 

Twee dissipels is getuies van die leë graf

 

20:3-7 Die twee dissipels hardloop deur die strate na die graf toe, Johannes vinniger as Petrus, hy sien (blepoo, merk op) die doeke, maar is huiwerig om in te gaan. Eie aan sy impulsiewe aard storm Petrus in. Hy sien (theooreoo, kyk stip na die onverwagte, net doeke!) die doeke netjies opgerol (netjies soos Jesus die oorskietkos laat optel het na die vermeerdering van die brood, 6:12), maar Petrus kan nie dink wat hier aangaan nie – in elk geval lyk dit nie na lykrowery nie, wat die kosbare kleed wat Josef verskaf het daar sou laat en nog opvou ook nie.

            Die twee mans-getuies van die leë graf met die doeke vervul die Joodse eis dat twee getuies moet saamstem (Deutr.19:15). Vir die Evangelis is dit die teken dat Jesus die grafdoeke vir ewig verlaat het, en opgestaan het uit die dood – anders as Lasarus wat met doeke om sy hande en voete en sy kop uit die graf gekom het, en later weer gesterf het (11:44).

 

20:8 Toe gaan die ander dissipel ook in. Hy sien (horaoo, sien) ook die doeke so opgevou lê  en hy glo dat Jesus opgestaan het, en dat Hy die Woord van God is, self God, wat mens geword het, soos hy in 1:1,14 geskryf het. Hy sien die betekenis van die opgevoude grafdoeke as die teken van die grootste wonder wat hy in hierdie Evangelie beskryf. (Drie woorde word gebruik vir ‘sien’ wat stadigaan tot hulle deurdring tot verstaan). Sien én glo is ‘n tema in hierdie Evangelie (1:12-14; 20:29)

 

20:9 Nadat die dissipels deur die leë graf oortuig was dat Jesus opgestaan het, het hulle die Skrif begin verstaan wat heenwys na Jesus se dood en opstanding en die betekenis daarvan vir die wêreld – dat Hy moes opstaan uit die dood, die goddelike moet (dei). Van die moontlike Skrifgedeeltes waarna verwys word, is o.a. Ps.16:10: U sal my (my siel) nie in die doderyk laat bly nie, nog minder sal u u Heilige oorgee om verderf te sien; Ps.110:1: Die HERE (Jahweh) het vir my Here (Adonai) gesê: sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande as ‘n voetbank vir jou voete gestel het (Jesus haal dit aan in Mark.12:37, ook in Mat. en Luk.); Hosea 6:2: Hy sal ons na twee dae laat herlewe, op die derde dag sal Hy ons laat opstaan, en ons sal in sy teenwoordigheid lewe; Jona 1:17 wat drie dae en drie nagte in die maag van die vis was, word in Mat.12:40 deur Jesus as die teken gegee aan die slegte afvallige skrifgeleerdes en Fariseërs wat van Hom ‘n wonderteken geëis het om Hom te legitimeer.  Vgl. Jesus se woord dat Hy na drie dae moet opstaan (Mark.8:31).

 

20:10 Die tafereel word afgesluit met die twee dissipels wat elkeen na sy huis toe gaan. Volgens 19:27 is Jesus se moeder, Maria, tuis by die geliefde dissipel.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Sy liggaam word in die graf gelê

Sy liggaam word in die graf gelê – Francois Malan

19:38 Die Romeine het die liggame van gekruisigdes aan die kruis laat bly vir die aasvoëls. Op versoek van familie is liggame aan hulle gegee vir begrafnis, maar nie as dit die lyk van ‘n opstandeling was nie. Die Jode het ‘n aparte begraafplek  buite die stad gehad vir die lyke van veroordeeldes, uit vrees dat dit die familie-grafte sal verontreinig. Daarom het hulle versoek in 19:31 geïmpliseer dat Jesus se liggaam in die gemeenskapsgraf vir veroordeeldes gegooi word. Simon van Sirene, ‘n geheime volgeling van Jesus (Mat.27:51), het gaan vra om Jesus se liggaam te begrawe. Pilatus het dit goedgekeur omdat hy oortuig was van Jesus se onskuld. Die ander Evangelies vertel dat hy ‘n ryk (Mat.27:57) en lid van die Sanhedrin was, wat uitgesien het na die koms van die koninkryk van God (Mark. 15:43)  en nie saamgestem het met die Raad se besluit en optrede teen Jesus nie (Luk.23:50-51). Jesus se dood laat hom openlik na vore kom en sy verbondheid aan Jesus betuig.

19:39 Nikodemus word slegs in Johannes genoem. Hy is ook ‘n raadslid (3:1) wat die prosedure in die Raad  bevraagteken het (7:50-52). Hy en Josef moes saamgepraat het: Josef het die graf en grafklere voorsien en Nikodemus die speserye. Die twee geheime dissipels is deur die kruisiging só na Jesus getrek dat hulle hulle liefde vir Jesus openlik betoon deur vir Hom te kies ten koste van hulleself.

            Die mengsel van mirre en aalwyn was bedoel as reukweerder in die graf (nie vir balsem nie; vgl. Ps.45:9 vir die aangename reuk wat die mengsel al die klere van die Here se gesalfde koning deurtrek; Hooglied 4:14; Spr. 7:17). Die groot maat van die mengsel, 50 liter, is ‘n aanduiding van die verering van ‘n koning by sy begrafnis

(2 Kron.16:14). Die Evangelis gaan voort met sy tekening van Jesus as koning.

 

19:40 Hulle twee haal die liggaam van Jesus van die kruis af, behandel dit met die mengsel en draai Hom in grafdoeke toe. Deur hulle aanraking van ‘n lyk het hulle vir Jesus gekies met die wete dat hulle onrein geword het en nie daardie aand die Paasmaal kon gebruik nie (Num.9:1-11). 

 

19:41-42  Die nuwe graf in die tuin, soos gebruiklik vir ‘n koning, is in ‘n rots uitgekap (Mark.15:46), en het volgens Mat.28:60 aan Josef behoort. Dit was naby Golgota geleë en daarom kon hulle voor die Sabbat aanbreek die liggaam van Jesus daarin neerlê. Jes.53:9 sê dat hy by die rykes (1983-vertaling: sondaars) was in sy dood omdat Hy onskuldig was. In dié grafkelder was nog nooit iemand anders begrawe nie; gepas vir die Heilige wat God se núwe verbond  kom sluit (vgl. die vulletjie waarop niemand nog gery het nie, waarop Jesus Jerusalem binnegery het as die nederige vredeskoning; Mark.11:2).  Dié nuwe tuingraf sou ook die onmiskenbare getuie wees van die oorwinning van die Here van die lewe oor die dood. Die gedeelte begin met Jesus in ‘n tuin, waar sy arresteerders Hom gevangeneem (18:1) en eindig in ‘n graf in ‘n tuin waar sy volgelinge Hom begrawe.

            Die Heer van die geskiedenis werk deur die intriges en konkelary van mense wat die Verteenwoordiger van die Goddelike Koningskap verneder en uiteindelik kruisig. Koningskap, gehoorsaamheid en lyding is onafskeibaar in the vestiging van God se reddende heerskappy vir die mens. Die Goddelike Koning, voor wie sy arresteerders platval, en sy regter met vrees vervul, sê vir Petrus: Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie? (18:11), en vir Pilatus: U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie (19:11). Pilatus se misbruik van sy gesag en die Joodse leiers wat die volk van God lei om Jesus se kruisiging te eis, bly alles onder die soewereine beheer van God, wat sy Seun in sy hand hou terwyl Hy die verlossing van die mensdom bewerk deur God se grootste liefdesoffer aan die kruis

 

Skrywer: Prof Francois Malan