Jesus se woord bring skeiding (6:60-66)

Jesus se woord bring skeiding (6:60-66) – Francois Malan

6:60 Die dissipels waarvan hier sprake is, is die breër groep volgelinge van Jesus, wat reeds tot Hom aangetrokke gevoel het. Die mense (letterlik: menigte) van  6:22,24, wat van die brood geëet het, en die Jode van 6:41,52, wat gemor het dat Jesus kon sê Hy is brood uit die hemel en dat Hy sy liggaam vir hulle gee om te eet, het skynbaar al klaar vir Jesus verlaat.

Die breër groep volgelinge begin ook twyfel oor Jesus se verduideliking wat die dood van die Messias behels. Dit is so anders as hulle verwagting van die Messias, wat hulle gister met geweld wou koning maak, ‘n politieke leier wat hulle van Rome sou bevry (v15). Sy woord, dat ‘n gekruisigde Christus (Messias) die bron van lewe sou wees, is vir hulle hard/veeleisend – dit vereis selfverloëning. Eintlik is dit nie die woord wat so hard is nie, maar hulle harte, wat nie kans sien om hulle lewe in geloof aan ‘n gekruisigde Messias se gebroke liggaam en bloed te verbind nie.

 

6:61 Jesus ken die morrende gedagtes van hierdie volgelinge/leerders (soos van Nataniël 1:47-48; Hy weet hoe mense is 2:25; van die Samaritaanse vrou se vyf mans, 4:18, ens.). Hy vra hulle of sy woorde vir hulle ‘n struikelblok is (NAV afskrik), wat verhinder dat hulle Hom verder volg en in Hom glo.

 

6:62 As hulle aanstoot neem dat Jesus  die brood is wat uit die hemel neergedaal het, hoeveel te meer as hulle sou sien dat die mens Jesus na die hemel toe opvaar? Die term ‘Seun van die mens’ word deur Jesus vir Homself gebruik as die lydende wat gaan sterf, maar ook as die opgewekte wat na die hemel toe terugkeer (Jesus se selfbenaming ‘Seun van die mens’ kom uit Daniël 7:13-14 van die man/menslike wese, wat vir ewig oor die wêreld sal regeer). In Johannes begin Jesus se hemelvaart reeds met sy verhoging aan die kruis (3:14; 12:32). As hierdie morrende volgelinge Jesus sien sterf, naak aan ‘n kruis verhoog, gaan hulle nog meer aanstoot neem, en glad nie in Hom glo nie. Slegs die ‘oorblyfsel’ van die dissipels sal Hom in sy heerlikheid van sy sterwe, opstanding en hemelvaart aanskou (vgl. 1:14b).            

 

6:63 Die beeld om Jesus se liggaam te eet, het die mense afgeskrik. Dit is egter sy woorde wat ewige lewe gee (6:68). Wie luister na wat Jesus sê, en in die Vader glo wat vir Jesus gestuur het, het die ewige lewe (5:24). Maar wie vaskyk teen die sterwende liggaam van Jesus aan die kruis, sal nie begryp dat Hy God is, wat, as die Lam van God, die sonde van die wêreld wegneem nie (1:29). Wie egter Jesus se woorde aanneem, word deur die Gees lewend gemaak.

 

6:64 Al is Jesus se woorde die woorde van die leweskeppende Gees, is daar party wat na Hom luister en tog nie glo nie. Jesus het van die begin van sy bediening af geweet van elkeen wat na Hom luister, of hy/sy glo of nie,en wie dit is wat Hom sou verraai (paradidoomi beteken oorgee in die beheer van iemand anders, en word daarom ook van ‘verraai’ gebruik) hier spesifiek verraai deur Judas (vgl. v71). In 18:35 is dit sy volk en sy priesterhoofde wat Hom aan Pilatus uitgelewer het; in 19:16 het Pilatus Hom oorgelewer om gekruisig te word.

 

6:65 Dat daar mense is wat nie tot geloof in Jesus kom nie, is nie vir Hom ‘n verrassing nie. Die normale toedrag is dat mense voortgaan om in sonde en ongeloof te leef. Die wonder is dat God aan ‘n sondige mens die genade skenk om te kan glo. Die Vader bring dié begenadigde mens in beweging om na Jesus toe te kom, as dié mens, deur die oortuiging deur die Heilige Gees, besluit om die woord van God aan te neem, en in Jesus te glo as God wat vir my sonde sterf.

 

6:66 Jesus se byvoeging in vv62-63, dat Hy opvaar na waar Hy voorheen was, het die morrende volgelinge/leerders van Jesus nie bevredig nie. Die mense wat Hom entoesiasties met geweld wou koning maak omdat Hy brood kan vermeerder, stel nie belang in ‘n koning in die hemel nie. Daarom het baie ‘weggegaan na wat agter is’ (NAV omgedraai huis toe) om op hulle eie aan te gaan met hulle eie sake, en het nie meer rondgegaan saam met Jesus nie. Hulle breek met Jesus. Die groot afval van Jesus af het begin (In Mk 4, Mt 13, Lk 8 se gelykenis van die saaier, val net ‘n kwart van die saad in goeie grond. Driekwart gaan verlore as gevolg van die hardheid van hulle hart, of oppervlakkigheid van hulle geloof, of deur die sorge en verleidings van die wêreld). 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die ware geestelike voedsel en drank (6:52-59)

Die ware geestelike voedsel en drank (6:52-59) – Francois Malan

6:52 Die Galileërs mor eers oor Jesus se woorde, en soos die gesprek vorder baklei hulle vir ‘n hele ruk heftig oor sy woorde. Weereens misverstaan hulle Jesus se metafoor om sy ‘liggaam te eet’ letterlik. Met veragting verwys hulle na Hom as ‘hierdie een’.

6:53 Die gedagte van v51 word hier negatief herhaal, met die byvoeging van die drink van sy bloed, wat die ergernis vererger. Vers 35 lui ‘wie kom sal  nooit honger word en wie glo nooit dors word nie. Hier word ‘kom’ en ‘glo’ vervang met ‘eet’ en ‘drink’, en v35 se ‘versadiging’ en ‘dors les’ met ‘besit van die lewe in jou.’ Die voorwerp van geloof is Christus wat sy liggaam en bloed vir die lewe van die wêreld gee. Jesus gebruik die uitdrukking van sy teenstanders in v52 sy ‘liggaam eet’. Met ‘voorwaar, voorwaar’ beklemtoon Jesus die erns van die saak:  Wie nie Jesus se liggaam geëet en sy bloed gedrink het nie, het nou reeds nie  lewe in homself nie.

 

6:54 Die negatiewe stelling in vers 53 word nou positief herhaal. Vers 51 se ‘brood’ word nou ‘my liggaam en my bloed’. Die werkwoorde ‘eet’ en ‘drink’ se tyd  dui voortgang aan – steeds eet en steeds drink. Jesus spaar hulle nie die ergernis nie: die Seun van die mens openbaar Homself in sy menslike liggaam en bloed. Deur sy liggaam te ‘eet’ en sy bloed te ‘drink’ is beelde vir aanvaar en glo van  sy selfopenbaring as Seun van God en van sy selfoffer aan die kruis.  Vers 53 se ‘lewe in homself’  word hier ‘ewige lewe’. Daar word bygevoeg: Jesus sal elkeen wat die ewige lewe het, in die laaste dag opgewek uit die dood, om die lewe in ewige heerlikheid binne te gaan.

 

6:55 Jesus se fisiese liggaam en bloed is die ‘ware’ kos en drank, wat die ewige soort lewe moontlik maak. Met sy fisiese liggaam en bloed het Hy aan die kruis die offer gebring vir ons sonde en ons nuwe soort lewe.

 

6:56 Soos die inname van kos en drank ‘n noue verbintenis met die liggaam vorm, is die deelname aan Jesus se liggaam en bloed aan die kruis ‘n metafoor vir ‘n intieme persoonlike verhouding met Hom – die gelowige bly lewe in My en Ek in hom. Die lewe wat die gelowige in homself het (vv53-54), is die inwoning van die Heilige Gees in hom, waardeur Christus met al sy volheid in die gelowige woon. Die liggaam en bloed van Jesus aan die kruis, sy selfofferande, word die fondament van ons lewe, van ons geloof en hoop, van ons denke en ons keuses in ‘n lewe van selfverloëning en liefdesdiens aan ander, so bly ons in Hom.

 

6:57 Die innige gemeenskap tussen die gelowige en Christus weerspieël die verhouding tussen die Seun en die Vader. Die Seun Jesus lewe ‘deur’ die Vader – sy lewe kom van die Vader af en word deur die Vader onderhou. So het die gelowige sy lewe ‘deur’ die gekruisigde Seun (‘Hom eet’) en hy word onderhou deur die lewende Seun van die lewende Vader, die oorsprong van alle lewe (vgl. 5:26). Die Seun het deel aan die lewe van die Vader en Hy lewe vir die Vader wat Hom na die wêreld gestuur het. Jesus verklaar dat die een wat Hom ‘eet’ in dieselfde verhouding met Jesus lewe as waarin die Seun met die Vader lewe. ‘My eet’ verduidelik die metafoor  ‘liggaam en bloed’.  Dit het betrekking tot die toe-eiening van die hele Chrisus (v53). Die ewige lewe is die soort lewe van die Vader en die Seun. ‘eet’ nie met die mond nie, maar die hele mens wat hom deur geloof met Christus verbind, met Hom een word om in Hom te bly (v56). Die gelowige ontvang nie die lewe regstreeks van die Vader nie, maar word in geloof deel van die lewe van die gekruisigde en opgestane Christus (‘My eet’), deel van die liefde tussen die Vader en die Seun, en die gehoorsaamheid van die Seun aan die Vader.

 

6:58 Die gesprek word afgesluit soos dit begin het in verse 31-33 met die teenstelling tussen die woestyn se manna en Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee. Die brood uit die hemel is die lewe en versoeningsdood van die Seun van God wat mens geword het, die Openbaarder  en Verlosser, wat ewige lewe gee waar die dood geheers het, aan diegene wat bereid is om deur die geloof hierdie ‘Brood’ te eet, tot ‘n intieme persoonlike geloofsverbinding met die gekruisigde Seun van God.

 

6:59. Die gesprek het in die sinagoge in Kapernaum plaasgevind, en daarom waarskynlik op die sabbatdag.  Dit word beskryf as ‘n lering, ‘n onderrig.

 

Johannes gebruik ‘n hele reeks metafore om geestelike waarhede oor te dra. Die ander drie Evangelies het ‘n hele reeks gelykenisse wat ook geestelike waarhede moet oordra (vgl. die rede daarvoor in Markus 4:10-11; Matteus 1310-17; Lukas 8:9-10).   

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesus antwoord op besware van die Jode (6:41-51)

Jesus antwoord op besware van die Jode (6:41-51) – Francois Malan

6:41 Na Jesus se verklaring dat Hy die brood uit die hemel is, het die Jode teen God en sy Gesant gemor, soos Israel in die woestyn (Eks 15:24; 16:2; 17:3; Num 11:1,4; 14:1).  Ps 78:18-22 sê hulle het God daarmee getart en Hom uitgedaag. Nou glo die Jode ook nie in Jesus nie, en vertrou nie op Hom as die lewegewende Brood nie.

6:42 Wat hulle wel van Jesus ‘gesien’ het, en ken, is dat hulle sy pa en ma ken, gewone mense. Hoe kan Hy beweer Hy kom uit die hemel? Vir hulle sluit sy bekende aardse herkoms sy hemelse afkoms uit. So kan die Messias tog nie verskyn nie, so gewoon, so nederig, so verklaarbaar egte mens. Hier is weer die tipiese misverstand van die ongeloof, wat telkens in hierdie Evangelie opduik. Die menswording van die Seun van God was en bly die groot struikelblok vir die Jode, vandag nog. Maar nie net vir die Jode nie.

 

6:43-44 Jesus gaan nie op hulle argument in nie, maar vermaan hulle om nie onder mekaar te mor nie. Die positiewe stellings van verse 37,39,40 oor die wil van die Vader en dat Hy mense gee om in Jesus te glo, word hier skerp negatief gestel: Niemand kan na Jesus toe kom as die Vader hom/haar nie na Hom toe trek nie. Dit geskied deur die werking van die Heilige Gees in die harte van mense. Vir die derde keer gee Jesus die versekering dat Hy elkeen wat die Vader vir Hom gegee het/na Hom toe getrek het, op die laaste dag sal laat opstaan uit die dood. God se genade begin by ‘n mens om jou na Jesus toe te trek, en word voltooi met jou opwekking. Dit is ‘n indirekte oproep tot die Jode om Jesus aan te neem.  

 

6:45 Jesus verwys na Jesaja 54:13 wat in Hom vervul word. Elkeen wat die Vader gehoor het en by Hom geleer het, kom na My toe. Dit is hulle wat die Vader na Jesus toe ‘trek’ (v44), wat gehoor gee aan God se woord en gewillig is om deur Hom geleer te word. Hulle glo in Jesus as die Seun van God wat self vir ons kom leer het (vgl. Jeremia 31:33; 1 Tessalonisense.4:9). God se Woord het mens geword en deur die Heilige Gees woon sy Woord/woord in ons.

 

6:46 Om misverstand te voorkom, asof enigiemand vir God direk sou ‘sien’, sê Jesus dat net Hy die Vader gesien het (vgl. 1:18). Maar wie die Seun ‘sien’ en in Hom glo, sal die ewige lewe hê (v40; 14:9). Dit is deur die Seun dat God die mense leer.   

 

6:47 Die mens se verantwoordelikheid word voorop gestel, ingelei met ‘voorwaar, voorwaar’ om die erns en sekerheid daarvan aan te dui. In die geloofskeuse vir Jesus word die welbehae van die Vader voltrek. Jesus is die ewige lewe (14:6). In die geloof gee die gelowige sy selfhandhawing prys en werp homself slegs op God vir sy behoud, nie op menslike moontlikhede nie.

 

6:48 Op grond van sy uitspraak in vers 47 oor geloof in Hom, herhaal Jesus sy uitspraak wat aanstoot gegee het (v41). Daarmee word die volgende verse ingelei oor hoe in Jesus geglo moet word, en wat die ewige lewe inhou.

 

6:49 Jesus kom terug op die Jode se argument in v31. Hulle voorouers het wel in die woestyn God se manna geëet, waarmee hulle liggaamlik gevoed is, maar dit het geen uitwerking gehad op die lewe na die dood nie. Hulle het almal gesterwe.

 

6:50 Die brood wat uit die hemel kom,  moet geëet word om nie te sterf nie. Die metafoor word in vers 51 verduidelik, maar is reeds in verse 41en 47 uitgespel: Jesus is die brood van die lewe, en om die brood te eet, beteken om in Hom te glo. ‘Gesterwe’ in v49 verwys na die liggaamlike dood van die voorouers in die woestyn. ‘Nie te sterf nie’ in vers 50 verwys na die ewige dood as jy nie in Jesus glo nie.

 

6:51 Die kontras tussen die manna van die voorouers wat gesterf het (v49) en Jesus as die brood wat lewe gee (v50) is ‘n waarskuwing aan die Jode van Jesus se tyd (en latere lesers) sodat die lot van die voorvaders hulle nie tref nie, en is ‘n oproep om te ‘eet’ en te lewe. Die twee redes waarom die Brood die lewe gee is (i) die ‘lewende brood’ het uit die hemel neergedaal, die Woord van God het mens geword (1:14), en Hy het die lewe in Homself (5:26); (ii) die ‘brood’ is sy liggaam wat Hy as offer gaan gee vir die lewe van die wêreld – Hy gaan sterf sodat die wêreld mag lewe (10:11,15; 11:51,52).  Johannes  6:4 plaas hierdie gesprek in die tyd van die paasfees van die Jode met die slagting van hulle paaslammers, en Jesus is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (1:29). 

            Hier plaas Johannes die klem op Jesus se dood vir die lewe van die wêreld (vgl. 3:16; 12:32,33). Vir die lewe van die wêreld word die Seun van God met sy swakke menslike liggaam aan die kruis gehang as die ‘Brood uit die hemel’ wat ‘geëet moet word en nou reeds deel word van die ewige lewe.

            Vir die Jerusalemmers was die verbreking van die sabbat die steen des aanstoots – tussen hulle en Jesus staan hulle wettisisme. Die Galileërs word van Jesus geskei deur hulle wêreldse begrip van die Messias – hulle verwag ‘n Moses met  daaglikse manna. As die gekruisigde is die Messias egter die ewige lewensbrood.   

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesus is die brood van die lewe (6:34-40)

Jesus is die brood van die lewe (6:34-40) – Francois Malan

6:34 Soos deur Nikodemus en die Samaritaanse vrou, word Jesus misverstaan deur die ongeloof van die Jode. Hulle dink net aan letterlike brood, wat hulle beleefd (meneer) vir altyd vra. Soos die Samaritaanse vrou wil hulle vir altyd versorg wees (4:15).

Die hele Johannes-Evangelie is vol metafore – beeldspraak om geestelike waarhede plasties aanskoulik uit te druk, veral oor God as ons Vader, Jesus as die Seun van God/Seun van die mens,  en die Heilige Gees as skeppingswind/lewensasem (3:8).

6:35 Jesus verduidelik die brood-metafoor: ‘Ek, Ek is die brood van die lewe.’ Die ‘Ek is’ van Eks 3:14 word vir die eerste van sewe maal aan ‘n metafoor verbind: Ek is die brood van die lewe (6:34,41,48,51; die lig vir die wêreld (8:12); die deur (10:7,9); die goeie herder (10:11,14); die opstanding en die lewe (11:25); die weg, die waarheid en die lewe (14:6); die ware wingerdstok (15:1,5). Elkeen van die gevalle openbaar ‘n belangrike aspek van Jesus se persoon en dienswerk, met die ondertoon van die bekendstelling van Hom as God: Ek is wat Ek is.

            Soos daaglikse brood lewe onderhou, gee hierdie Brood lewe en onderhou die ewige lewe wat nou reeds begin vir dié persoon wat na Jesus toe kom – na Hom jou toevlug neem; wat in Jesus glo – ‘n sinoniem vir ‘na Hom toe kom.’ Brood verbeeld die nouste verbintenis aan Jesus self as jou Here aan wie jy in vertroue die seggenskap oor jou lewe gee.

            So iemand sal nooit weer (baie sterk gestel) ‘honger’ of ‘dors’ word nie – twee metafore vir

geestelike nood . Hy sal ten volle versadig wees, want hy het in homself die ewige lewe (vgl. Jn 17:13;21-26) deur die Heilige Gees in ons kom woon (Joh 7:38-39).

 

6:36 Hulle het ‘gesien’ en tog nie ‘geglo’ nie – by die vermeerdering van die brood het hulle die brood gesien, daarvan geëet, en steeds nóg brood gesoek, maar hulleself nie aan Jesus oorgegee as hulle Here nie, Hom nie as God herken of geglo nie. Jesus wys die Jode in Galilea op hulle sonde deur te weier om in Hom te glo, soos Hy die Jode in Judea op hulle sonde gewys het deur nie na Hom toe te kom om die lewe te kry nie (5:40).

 

6:37 Terwyl die ongelowige self die skuld dra vir sy ongeloof, gee die Vader geloof aan dié mense wat wel na Jesus toe kom. In 16:8-10 verduidelik Jesus dat die Heilige Gees mense sal oortuig van (i) sonde (ongeloof in Jesus), (ii) geregtigheid (dat Jesus die verhouding met God regmaak) en (iii) oordeel (oor ewige lewe of ewige dood). Die woord vir ‘oortuig’ het ook die betekenis van aankla of veroordeel. Vir die gelowiges oortuig Hy; die ongelowiges kla Hy aan. Die mens wat tot geloof in Jesus kom kan die Vader net loof en dank vir sy genade, dat Hy sy/haar oë oopgemaak het om homself/haarself in geloof aan Jesus oor te gee.

            Jesus se blye versekering is dat Hy nooit iemand wat na Hom toe kom sal verwerp (letterlik: uitwerp buitentoe) nie – al is sy geloof so swak en sy ‘kom na Jesus’ ‘n struikelgang (vgl. die pa se pleitroep om hulp met sy ongeloof in Mark 9:24). 

 

6:38-39 Die rede waarom Jesus niemand wat na Hom toe kom, sal verwerp nie, is dat Hy die wil van sy Vader kom doen. Tussen Hom en die Vader is daar volkome ooreenstemming. In hierdie hoofstuk word sewe maal verwys na die koms van die Seun van die hemel na die aarde (vv 33,38,41,42,50,51,58). Daarmee word sy bereidheid om die hemelse heerlikheid te verlaat om op aarde redding vir die mense te bewerk besonderlik beklemtoon. 

 Die doel van Jesus se menswording (1:14) is dat Hy nie een sal verloor wat die Vader Hom gegee het nie, en dat hulle almal op die laaste dag opgewek word uit die dood. Die behoud van die gelowige is nie van sy swak geloof afhanklik nie, maar is gegrond op die wil van die Vader en die bewaring deur die Seun. Sy bewaring loop uit op die lewe by God.

 

6:40 Die aandeel van die Vader in die redding van die mens word vir die derde maal aangedui: elkeen wat die Vader vir My gee (v37), dit is die wil van Hom wat My gestuur het…almal wat Hy My gegee het (v39). Hier in v40 is dit: want dit die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun ‘sien’ en in Hom glo, die ewige lewe sal hê.,Agter elke gelowige staan die wil en besluit van die Vader. Dit is die sekerheid wat elke gelowige kan hê.

            Die ‘sien’ sluit hier meer in as blote kyk na Hom. Dit is die Vader wat die mens se geestelike oë oopmaak, sodat hulle Jesus waarlik as die Seun van God kan sien. Van die gelowige sê Jesus met klem op ‘Ek’: ‘Ék sal hom op die laaste dag opwek.’ Daarmee verklaar Hy ondubbelsinnig dat Hy en die Vader een is, want dit is slegs God wat kan dood maak en lewe gee (Deutr. 32:39;  1 Sam.2:6).

 

Skrywer: Prof Francois Malan