Die Seun en die laaste oordeel (5:25-30)

Die Seun en die laaste oordeel (5:25-30) – Francois Malan

5:25 Die volgende waarheid word ook beklemtoon. Die uitspraak van v22 dat die Vader die oordeel aan die Seun gegee het, word tweeledig uitgewerk. Dit verwys na die opwekking van die dooies en die eindoordeel – die uur wat aan die kom is, maar ook na die ‘nou’ – dié wat die stem van die Seun nou reeds hoor. Die wat reeds gesterf het, sal opstaan op die roepstem van die Seun, en dié wat nou reeds sy stem hoor, sal nou uit die dood in die lewe oorgaan. In beide gevalle, in die hede en in die toekoms word die lewe bepaal deur jou verhouding tot die Seun van God, wat deur die Jode verwerp word. Hier en in 10:36 en 11:4 noem Jesus Homself die ‘Seun van God’, origens ‘die Seun’ of ‘Seun van die mens’ (vgl. die gesig van Daniël 7:13-14)..

5:26 God is die bron van alle lewe (Ps 36:10). Omdat die Seun aan die Vader gelyk is, het Hy ook van ewigheid af die lewe ín Hom (1:4) – ‘gegee’ want God is die lewende God (Ps 42:3; Jer.10:10), wat aan die Seun die lewe in Homself gegee het. Ook daarin is Hy aan God gelyk.

 

5:27 God het aan Jesus die bevoegdheid gegee om te oordeel – ‘n algemene stelling wat strek oor die hele lewe, en dit word in verse 28,29 toegespits op die eindoordeel. Die rede wat aangegee word, is ‘omdat Hy die ‘Seun van ‘n mens’ is = omdat Hy is mens is. Aan Hom, wat as mens onder die mense verskyn het, het God die volmag gegee om te oordeel, volgens Dan 7:13-14 ‘Een soos die Seun van ‘n mens’ aan wie heerskappy, eer en koningskap gegee is. Sy oordeel is nou reeds, as mens, die waarheid – ook sy oordeel oor sabbatswerk. Hy en die Vader oordeel saam  (8:16). Elke mens se optrede word deur Hom beoordeel.

 

5:28,29 As die Jode verbaas is dat hierdie man Jesus dooies kan opwek en regverdig kan oordeel oor mense, sal die volgende uitspraak hulle nog meer verbaas.  Hierdie Jesus, wat hulle van godslastering beskuldig, gaan op die oordeelsdag almal wat  in die grafte is daaruit roep, hulle gaan opstaan uit die dood en Hy is die finale Regter. Die wat goed gedoen het, gaan lewe, en die wat kwaad gedoen het gaan veroordeel word. Hoewel die ewige lewe slegs uit God se genade en deur die geloof verkry kan word (1:16; 5:24), is ‘goeie dade’ die bewys van die innerlike gesteldheid van die mens. Goeie en slegte dade vloei voort uit aanvaarding of verwerping van die Verlosser-Openbaarder van God (3:16-21). Die lewe wat ‘n mens lei, lewer getuienis van sy verbondenheid aan die Vader en die Seun (‘n goeie boom dra goeie vrugte, en ‘n slegte boom dra slegte vrugte (Mat.7:17-18; 12:33).

 

5:30 Die argument keer terug na v19, maar in plaas van die derde persoon ‘die Seun’ praat Jesus in die eerste persoon ‘Ek’, soos die ‘Ek is’ van Eks 3:14 : ‘Ek kan nie iets op my eie doen nie; soos Ek hoor, oordeel Ek, en my oordeel is regverdig, want Ek soek nie my wil nie, maar die die wil van Hom wat my gestuur het.’ In alles handel Hy in die nouste verbondenheid met die Vader en doen net wat Hy by die Vader sien (v19) en wat Hy van Hom hoor (v30). Die Seun vorm sy eie oordeel, maar dit is op dieselfde wyse en van dieselfde aard as die oordeel van die Vader. Die is ‘n regverdige oordeel omdat eie-belang geen rol speel nie. Die wil van die Vader is dat aan elkeen reg sal geskied.

 

Die getuies ten gunste van Jesus (5:31-40)

5:31,32 Soos in ‘n hofsitting roep Jesus in verse 31-40 getuies op om vir Hom te getuig, teen die Jode wat getuienis eis om sy aansprake te regverdig. Sy eerste getuie is  ‘Iemand Anders” waarvan Jesus weet dat sy getuienis waar is. Die ‘Iemand Anders’ is ‘die Vader’ (v36,37), wat die volgende getuies aan Jesus voorsien het:

            Johannes die Doper vv33-35, die man wat God gestuur het om van die Lig te getuig (1:6-7)

            Die werke wat sy Vader aan Hom gegee het om te doen, soos bv. die genesing op die sabbat (v36)

            Die woord van God, wat die Vader in die Skrif laat opteken het (vv37-40).

Die Jode het hierdie getuienisse oor Jesus nie aangeneem nie, en staan daarom as die skuldiges, en Jesus is die waarheid (vv41-47).

            Die Vader se getuienis is eintlik die enigste wat tel; maar Jesus erken die beginsel van Deutr. 19:15 in hierdie hof-opset: ‘n Beskuldiging kan net bewys word deur die getuienis van twee of drie getuies. Aangesien die Jode nie die stem of die persoon van die ‘Iemand Anders’ ken nie, wys Jesus na drie wyses waarop die Vader getuienis aflê,  sodat die Jode dit kan verstaan. Van die ‘Iemand Anders’ sê Jesus letterlik (met ‘n teenwoordige deelwoord wat voortduur aandui): ‘wat besig is om getuienis oor My te lewer’ – wat steeds voortgaan om getuienis oor Jesus te lewer.

 

5:33 Die eerste getuie is Johannes die Doper, wat die Jode reeds as getuie gaan ondersoek het (1:19-28), en Johannes het onomwonde getuig: Hy is die Seun van God (1:34), die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (1:29), die Een wat met die Heilige Gees doop (1:33). Van Johannes die Doper sê Jesus letterlik (met ‘n voltooide werkwoord waarvan die gevolge voortduur): ‘hy het die waarheid getuig, en dit bly waar’. Daarom moes die Jode dit aangeneem het. God het hulle nie in onkunde oor die koms van die Messias gelaat nie; Hy het die wegbereider, wat in Maleagi 4:5 voorspel is, gestuur om hulle op te roep tot bekering. As die Jode soos die eerste dissipels Johannes se getuienis aangeneem  het, sou hulle die weg tot die lewe gevind het (vgl. 1:41: ‘Ons het die Messias gekry’).  

 

Skrywer: Prof francois Malan

 




Die derde gesprek: Jesus die Seun van God (5:19-47)

Die derde gesprek: Jesus die Seun van God (5:19-47) – Francois Malan

Hierdie gesprek is die sleutel om die hele Evangelie van Johannes mee te verstaan en te verklaar. Hierin verduidelik Jesus wat Hy in vers 17 bedoel het. Dit gaan oor die unieke verhouding tussen die Vader en die Seun, wat gestuur is as die instrument van God se finale doel met die mensheid en die skepping.

Die verhouding tussen die Vader en die Seun (5:19-24)

5:19  Die Jode het Jesus ernstig beskuldiging dat Hy die sabbat geskend het en Hom aan God gelyk gestel het. Daarop antwoord Hy met groot nadruk: (Amen, Amen) Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle. Wat hulle as ontheiliging van die sabbat beskou, is in werklikheid juis die uitvoering van God se wil; wat hulle as godslastering bestempel, is die uitdrukking van die ware verhouding tussen Vader en Seun. Die verbintenis is so innig dat Hy niks wil, wat die Vader nie wil nie (so anders as die mens se sonde wat sy eie weg wil inslaan sonder en teen God). Daar is geen botsing tussen die Vader en Seun se wil, denke of optrede nie. Soos die Vader doen, doen die Seun ook omdat Hy een is met die Vader (17:21-22). ‘wat Hy die Vader sien doen’ – hierdie ‘sien’ het die gedagte van ‘begryp’ ‘insig’ – die Seun begryp wat die Vader doen.  In wese is Hy gelyk aan die Vader en tree met goddelike gesag op; in sy Middelaarswerk is Hy volkome gehoorsaam aan die Vader, saam het hulle die pad vir Hom bedink. Hy tree met die gesag op van Hom deur wie Hy gestuur is.

 

5:20  Die rede vir die wedersydse kennis van mekaar is die liefde van die Vader vir die Seun. Die woord wat hier gebruik word vir liefde, fileoo,  gee uitdrukking aan die vriendskapsverhouding tussen die Vader en die Seun. Die teenwoordige tyd van die werkwoord druk die blywende verhouding uit, waarin die Vader voortdurend alles wat Hy doen aan die Seun wys, soos ook die genesing van die lam man op die sabbat. Die ‘groter dade’ word uitgespel in die volgende twee verse. Die Jode sal wel verbaas staan oor wat Jesus nog gaan doen, maar die meeste van hulle sal nie daardeur tot geloof in Hom kom nie; dié wat wel tot geloof kom sal daardeur die Vader eer (v23).

 

5:21 Twee bewyse word gegee dat die Seun aan die Vader gelyk is in goddelike mag en majesteit: (i) Volgens die Ou Testament is dit God alleen wat kan dood maak en lewend maak (Deutr.32:39; 1 Sam 2:6; 2 Kon 5:7; vgl. Rom 4:17; 8:11). Nou verklaar Jesus dat die Seun net soos die Vader ook die dooies kan lewend maak (vgl. Lasarus in Jn 11:41-44). Hy maak lewend wie Hy wil –  en sy wil is nooit in stryd met dié van die Vader nie (v30).

 

5:22 (ii) Volgens die opvatting van die Jode is dit God wat sal oordeel oor die mens. Jesus sê die Vader het daardie taak geheel en al aan die Seun oorgedra, soos die Vader ook in ander dinge deur die Seun werk, byvoorbeeld sy woord oor die sabbat en sy genesing van die lam man op die sabbat. Dat Hy die wêreld en die mense oordeel, word  deur Paulus uitgespel in Hand.17:31. Jesus sê Hy het gekom om skeiding tussen mense te maak (Jn 9:39), sodat dié wat nie in Hom glo nie, klaar veroordeel is (Jn 3:18). By die voleinding hou Hy gerig (Mat 13:40-43; 25:31-34; 41).  Die Seun het dieselfde gesag as die Vader omdat Hy en die Vader een is.  

 

5:23 Die Jode moet goed begryp dat hulle nie die Seun as godslasteraar kan uitwerp en tog meen dat hulle God daarmee eer nie. Wie die Seun nou reeds eer, eer ook die Vader. Die Seun is die volle selfopenbaring van God teenoor die mens (vgl. 14:7-11).

 

5:24 Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle – met groot nadruk word die volgende waarheid deur Jesus onderstreep: ‘wie my woord hoor en Hom wat My gestuur het, glo, het die ewige lewe, en kom nie in die oordeel nie, maar het klaar oorgegaan uit die dood in die lewe.’ ‘My woord’ sluit Jesus se hele heilsboodskap in. ‘Hoor’ sluit ‘aanneem’ en ‘gehoorsaam’ in. Om God te ‘glo’ beteken ‘n persoonlike verhouding van kinderlike vertroue op Hom, om jou self aan Hom toe te vertrou soos ‘n kind wat hom in sy vader se arms werp. So ‘n persoon is reeds in hierdie lewe deel van God se ewige lewe, van God se ewige huisgesin, saam met sy Seun. Vir die gelowige is daar geen veroordeling nie. Sy sonde is reeds deur Christus gedra. Vir die gelowige het die oorgang uit die ewige dood na die ewige lewe reeds plaasgevind (Jn 3:18,36).    

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die derde teken: genesing van ‘n sieke (5:1-18)

Die derde teken: genesing van ‘n sieke (5:1-18) – Francois Malan

5:1 Hoe lank Jesus in Galilea gewerk het, word nie aangedui nie. Jesus gaan op na Jerusalem, waar daar baie mense by die fees teenwoordig sou wees – en van nou af begin Jesus tussen skares rondbeweeg.

5:2 Die Skaappoort is in Nehemia se tyd na die ballingskap herbou  (Neh.3:1,32; 12:39). Betesda  (huis van barmhartigheid) het  Noord van die Skaappoort gelê, en was in Jesus se tyd moontlik nog nie ommuur nie. Tans lê dit naby die Stefanuspoort.  Daar was twee waterpoele waarin mense gebad het. Die opgrawings wys daar was twee pilaargange aan die kante van die twee poele en ‘n vyfde pilaargang wat dwarsoor die middel van die twee poele gestrek het.

 

5:3 Hier het ‘n groot getal gestremdes gelê. Volgens vers 7 het hulle gewag dat die waters in beweging kom.

[In die vyfde eeu n.C. word 5:3b,4 ingevoeg: ‘wat op die roering van die water gewag het. Want ‘n engel het op bepaalde tye in die bad neergedaal en die water geroer. Die een wat eerste ingegaan het ná die roering van die water, het gesond geword, aan watter siekte hy ook al gely het.’ Dit kom nie in die oudste en beste tekste voor nie en weerspieël ‘n volksgeloof:]

 

5:5,6 Jesus kom na die lamme wat reeds 38 jaar lank siek is, en waarskynlik alle hoop op herstel verloor het. Daarom vra Jesus of hy gesond wil word.

 

5:7 Die man se hopeloosheid spreek uit sy klagte: Ek het niemand om my te help nie. Hy praat van die enkelinge wat met die roering van die water voor hom inspring (die poel kry blykbaar van tyd tot tyd water wat uit die Kedronspruit inloop wat die roering veroorsaak – soos tydens die opgrawings opgemerk is).

 

5:8,9a Met drie kort bevele genees Jesus die man: staan op, neem jou bed op, en loop. En dadelik was die mens genees. Hy gehoorsaam die bevel van die man wat hy van geen kant af ken nie: neem sy matras op en loop – nie soos hy verlang het deur iemand wat hom in die water inhelp nie, maar deur die woord van Jesus, die Woord van God wat mens geword het, die Skepper wat dié man se liggaam met sy woord herskep het.

 

Gesprek oor Jesus se sabbatswerk (5:9b-18)

5:9b,10 Die genesing vind op die sabbatdag plaas en die Jode sê vir die geneesde: ‘dit is sabbat, en dit is nie vir jou toegelaat om jou matras te dra nie.’ Die benaming ‘Jode’ word in Johannes gebruik vir Jesus se teenstanders, veral onder die leiers van die volk, en hier waarskynlik die Fariseërs wat hulle toewy aan die studie van die Wet-Profete-Geskrifte (die Joodse Tenach). In Num.15:32-36 is ‘n man wat op die sabbat hout bymekaargemaak het  bv. in opdrag van die Here met klippe doodgegooi; in Neh.13:15-19 het Nehemia die poorte van die stad op die sabbat gesluit vir alle handel; in Jer.17:21-23 waarsku die Here dat mense met sabbatswerk hulle lewens op die spel plaas. En hier dra ‘n man sy bed op die sabbat.

 

5:11 Die man lê die skuld op die man wat hom genees het – die Man wat gekom het om ons skuld op Hom te neem.

 

5:12,13 Die geneesde weet nie eers wie dit was wat hom genees het nie, en kan hom nie tussen die skare sien nie, omdat Jesus Hom onttrek het weens die skare op die plek.

 

5:14 Die geneesde man gaan vier sy genesing op die sabbat in die tempel. Daar kry Jesus hom apart onder vier oë, en waarsku hom om nie voort te leef in sonde op pad na die ewige verdoemenis nie – dit beteken nie sy siekte was die gevolg van sonde nie (vgl. 9:2,3), maar dit is Jesus se persoonlike sielsorg aan die man, wat pas ‘n nuwe liggaamlike lewe gekry het, om sy lewe in die regte verhouding tot God te bring.

 

5:15 Die man weet nou wie hom genees het en getuig van Hom voor die Jode. Daarmee verdwyn die man uit die verhaal. Hy het die rol vervul om Jesus met die Jode te konfronteer, en nou begin die aanval op Jesus.

 

5:16 Die Jode vervolg Jesus, omdat Hy die dinge op ‘n sabbat doen.  Die twee werkwoorde ‘vervolg’ en ‘doen’ in die onvoltooide tyd,  dui op die Jode se voortgaande vervolging van Jesus, en van Jesus se voortgaande werkwyse op die sabbat. 

 

5:17 Wat die woorde was waarmee die Jode vir Jesus aangeval het, word nie gesê nie, maar wel Jesus se antwoord daarop: ‘My Vader werk tot nou toe en Ek werk ook.’ Die Jode het geglo dat God op die sewende dag sy skeppingswerk voltooi het en op die sewende dag gerus het van al sy werk wat Hy gemaak het (Gen 2:2; sjabat beteken om op te hou werk, te rus). Daarna sou God voortgaan as Regter om regverdiges te seën en sondaars te oordeel. Jesus sê egter dat die sewende dag geen dag van ledigheid by God is nie, maar dat Hy voortgegaan het met die onderhouding van sy skepping. Die sabbat het die onderhoudingswerk van God nie onderbreek nie. Geen oomblik laat Hy sy skepping sonder sy sorg nie. Anders as die skeppingsdae wat ‘n begin en ‘n einde gehad het, het God se rusdag slegs ‘n begin gehad, en sal die einde van sy rusdag eers aanbreek wanneer die volheid van alles bereik is. God het alles deur die Seun geskep…en deur Hom bly alles in stand (1:3-4; Hebr.1:3). Daarom: werk die Seun ook in eenheid en gehoorsaamheid aan sy Vader  en doen Hy goed op die sabbat deur lydendes te genees en te bevry. Jesus praat van ‘my Vader’ om die intieme band tussen Hom en die Vader aan te dui en dat Hy die Seun van God is.

 

5:18  Die Jode soek al meer om Hom dood te maak, want Hy het nie net die sabbat ontheilig nie (letterlik: losgemaak, verbreek, beëindig nie), maar God ook sy eie Vader genoem  en daardeur Homself gelyk aan God gestel. Die Jode interpreteer Jesus verkeerd. Hulle meen dat gelykheid aan God beteken dat Hy onafhanklik van God is, terwyl Jesus juis daarmee sy totale afhanklikheid van sy Vader uitdruk. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die tweede teken: ‘n nuwe huisgesin (4:43-54)

Die tweede teken: ‘n nuwe huisgesin (4:43-54) – Francois Malan

Die eerste teken in Kana (2:1-12) en die tempelreiniging (2:13-22) is aanduidings van Jesus se program van optrede: die ou reinigingsgebruike word vervang deur ‘n nuwe fees van die verhouding met God deur wedergeboorte van Bo af (3:1-36); die ou  tempeldiens deur ‘n nuwe aanbidding van God in Gees en Waarheid (4:1-42). Só dui die tweede teken in Kana (4:43-54) op die begin van ‘n nuwe lewenswyse.

4:43,44 Jesus vertrek uit Samaria waar die mense Hom as profeet geëer het, en Hom as die Messias aanvaar het.  Hy vertrek na Galilea, waar Hy groot geword het,  om ‘n vreemde rede: ‘want Hy het self verklaar dat ‘n profeet nie in sy eie land geëer word nie. Ten spyte van aanvanklike vriendelikheid sou Hy mettertyd in Galilea teenstand ondervind, selfs van sy broers (7:3-5). Dit was deel van sy lydingsweg, en Hy is bereid om daardie weg te gaan, al het Hy geweet wat vir Hom wag.

 

4:45 Die Galileërs verwelkom Hom, omdat baie van hulle die fees in Jerusalem bygewoon het en die wonders gesien het wat Hy gedoen het – dit is egter geloof in ‘n wonderwerker, en nie as hulle Messias-Verlosser nie. Later mor hulle oor sy woorde (6:41), dat dit te erg is (6:60) en baie verlaat Hom (6:66).     

 

4:46 Die eerste teken in Kana was die begin van die bruilofsfees van die nuwe lewe; die tweede Jesus se stryd teen siekte en dood. Hy het huisvriende gehelp uit hulle nood, deur nuwe wyn te voorsien; toe ‘n gesin uit die nood van ‘n sterwende kind, op versoek van sy pa, wat in diens van Herodes Antipas is, wat vir Johannes die Doper vermoor het. Kapernaum aan die noord-wes-oewer van die see van Galilea was ‘n belangrike kontrolepunt op die hoofpad tussen Sirië en Egipte. Herodes, die Idumeër (afstammeling van Esau), en deur die Romeine aangestel as die heerser oor Galilea, het ‘n militêtre eenheid en hoë amptenare daar geplaas.

 

4:47 Die pa stap/ry te perd self die berg-op en -af en weer –op tot by Kana (27 km soos die kraai vlieg) met sy diepe nood oor sy kind, toe hy hoor dat Jesus uit Judea na Galilea toe gekom het. Hy vra dat Jesus saam met hom gaan om sy seun te kom genees. Sy motivering daarvoor is dat die seun op sterwe lê.

 

4:48 Jesus vertrou Homself nie toe aan  mense wat glo dat Hy slegs ‘n wonderwerker is nie (2:23,24); dié soort geloof wys Hy af. Geloof moet veel dieper gaan as ‘n oppervlakkige aanhang van ‘n man wat wonders kan doen. Dit gaan om geloof in die persoon van Jesus, om ‘n permanente toegewyde verbinding met Hom.

 

4:49 Die hofamptenaar lê al sy aansien en status af. Hy spreek Jesus aan as ‘Here’, sonder enige aanspraak op sy eie posisie of verdienste. As ‘n radelose pa pleit hy vir die lewe van sy seun by Hom in wie die Lewe is (1:4).   

 

4:50 Jesus antwoord sy versoek anders as wat hy verwag of gehoop het: ‘Gaan, jou seun lewe.’ Dit is Jesus se skeppende en vernuwende woord. Hy gaan nie saam met die man nie, maar gee ‘n geloofsopdrag met ‘n versekering. Die mens  (ho anthroopos,  NAV die man)  het die woorde van Jesus geglo. Daarmee erken Hy Jesus se goddelike gesag oor lewe en dood; hy is ‘n mens soos alle mense, en daarom ook voorwerp van God se liefde en  reddende genade. So gaan hy gewillig huis toe – hy het in Jesus geglo en sy woord aanvaar sonder om te sien, en sal weldra sien omdat hy geglo het.

 

4:51,52 In Kapernaum het die wonder gebeur. Die kind het teen alle verwagting gesond geword. Van die diensknegte het uit blydskap dadelik vertrek om die goeie nuus aan die pa te gaan vertel: jou seun lewe! Op sy vraag wanneer die genesing begin het, antwoord hulle: gister op die sewende uur het die koors hom verlaat.

 

4:53 Hy kry bevestiging van Jesus se woord: jou seun lewe! In verse 50,51,53 word die woord ‘lewe’ drie maal herhaal. Johannes onderstreep daarmee die betekenis daarvan vir sy lesers: wie in Jesus glo, vind by Hom die lewe, in Hom is die ewige lewe. Die pa en sy hele huis, sy vrou, kinders en  slawe ingesluit, het in Jesus geglo, en daardeur ‘n nuwe gesin geword. Hulle erken Jesus as die Gesant van God aan wie hulle hulle lewe toewy in gehoorsaamheid.

 

4:54 Johannes het die siklus van gebeurtenisse begin met die wynwonder in Kana en sluit die siklus af met die genesingswonder in Kana, altwee nadat Jesus uit Judea in Galilea aankom. Tussenin word na ander wondertekens verwys (2:23; 3:2; 4:45), maar met hierdie twee wondertekens stel Johannes vir Jesus aan sy lesers voor as die Vernuwer van die Joodse reinigingsgebruike en die goddelike Geneser. In dié siklus word van drie persoonlike ontmoetings vertel: aan Nikodemus die Fariseër lid van die Joodse Raad, wat Hom as ‘n leermeester wat van God af kom beskou, openbaar Jesus Hom as die Seun van God (3:16); aan die halfheidense Samaritaanse vrou en haar stadjie, wat Hom as ‘n profeet aanvaar, openbaar Hy Hom as die Messias,  ‘Ek is’, die Woord van God wat reeds in die Ou Testament God se Woord gespreek het; aan die heidense hofamptenaar en sy gesin openbaar Hy Hom as die Here oor lewe en dood, wat lewe gee.

 

Skrywer: Prof Francois Malan