Die tweede gesprek: die nuwe godsdiens vervolg (4:30-42)

 

Die tweede gesprek: die nuwe godsdiens vervolg (4:30-42) – Francois Malan

4:30 Die inwoners van die dorp stroom na die fontein toe. Die eerste dissipels het enkelinge na Jesus toe gebring, maar die vrou bring ‘n haar hele stadjie na Jesus toe. Nikodemus se gesprek met Jesus dra eers vrug na die dood van Jesus, toe hy kom help om Hom te begrawe (19:39,40); die oorvloedige vrug op die vrou se gesprek met Jesus is dadelik sigbaar. Die dissipels bring brood van die stad af, die vrou bring mense. Jesus open ‘n nuwe lewe vir vroue en Samaritane, oor die vooroordele van die verlede heen.

4:31,32 Terwyl die vrou weg was, dring die dissipels by Jesus aan om te eet van die brood wat hulle,gebring het. Maar Jesus het brood wat hulle nie van weet nie. Soos Jesus met die vrou oor water begin praat het, praat hy nou met die dissipels oor kos, waaraan Hy ‘n geestelike betekenis gee, en die mens se prioriteite regstel (vgl. Mat 6:31-33). Sy het nie verstaan wat Jesus vir haar wil gee nie, en die dissipels nie waarby Hy self lewe nie (vgl. Mat 4:1-4).

 

4:33,34 Hulle vraag bevestig dat hulle seker is dat niemand vir Hom iets te ete gebring het nie. Hulle verstaan Jesus se antwoord letterlik; vandaar die misverstand (soos die Jode in 2:20). Die volvoering van God se wil is die ‘voedsel’ wat Hom bevredig. Gehoorsaamheid aan die geestelike roeping  moet voorrang geniet, bo die behoeftes van die liggaam. Johannes beskryf Jesus se hele bediening as gehoorsaamheid in aksie, wat Hom eindelik lei tot sy oorgawe in die dood – die woord ‘voltooi’ is in Grieks dieselfde as sy kruiswoord ‘dit is volbring’ (19:30). Hy volbring die taak waarvoor die Vader Hom gestuur het (17:4).

 

4:35 Jesus se onderrig van sy dissipels gaan voort: Julle sê dit is nog vier maande voor die oes, wat in die middel van April kom. Daarom is die besoek aan Sigar waarskynlik middel Desember. Maar Jesus wys hulle na die skare wat van Sigar af kom, die lande is ryp vir die oes. So is dit altyd oestyd vir die oes wat God besig is om voor te berei in die lewens van mense. Die oes waarvan Jesus praat is die insameling van mense vir die ewige lewe.

 

4:36 Saai en oes in God se diens gaan gelyktydig aan. Dit is die dringende taak van Jesus se volgelinge om mense na die ewige lewe te lei, om voort te gaan met die saai van die woord, en die oes van mense wat ryp is vir geloof in Jesus. Nou reeds word die vreugdeloon aan saaier en maaier uitbetaal wanneer mense die woord van God aanneem deur tot bekering te kom. 

 

4:37 Om deel te hê aan die gesamentlike blydskap moet elkeen getrou bly in die arbeid wat aan hom toegesê is. Hier is nie plek vir onderlinge afguns tussen saaier en maaier nie. Arbeiders in diens van die Here verskil in aanleg en opdrag, maar werk saam vir een groot saak. Elkeen se taak is belangrik vir God se sending in die wêreld.

 

4:38 Ander het gearbei – dit wys waarskynlik na die Ou-Testamentiese profete, Johannes die Doper, en Jesus se werk self. Vir die Samaritane het Deuteronomium die verwagting van Taheb gewek, en die vrou by die put het die saad in die stad gesaai. Jesus stuur sy dissipels om die oes uit ander se werk in te samel.

 

4:39 Op haar getuienis glo die Samaritane dat Jesus ‘n profeet is, moontlik die verwagte Messias. Daarom wil die bewoners meer van Hom sien en hoor. Haar ommekeer en vrymoedigheid lei tot die geloof van die stadjie se mense.

 

4:40,41 Die Samaritane wil meer hoor en sien van hierdie man wat die vrou se lewe omgekeer het, en nooi Hom om by hulle oor te bly. Vir twee dae onderrig Jesus hulle en baie meer van die stadjie glo in Hom op grond van sy  woord (logos); Hy wat die Woord (logos 1:1-3) van God is in sy persoon en sy boodskap. Dit is so anders as die Joodse Paasfeesgangers in Jerusalem, wat in sy Naam geglo het toe hulle die wondtekens gesien het wat Hy gedoen het. Later sal die Jode skreeu: ‘nie hierdie man nie, maar Barabbas’ die rower – wat vir hulle losgelaat moet word (18:40); en: ‘as jy hierdie man loslaat, is jy nie die keiser se vriend  nie’ (19:12), en toe Pilatus vir die Jode sê: Kyk, julle koning!, skreeu hulle: ‘weg met hom, weg met hom, kruisig hom’ (19:15).

 

4:42 Die Samaritane  sê vir die vrou: Ons glo nie meer op grond van wat jy gepraat het nie,  want  self het ons gehoor – nl. Homself en sy Woord – en ons weet dat Hy waarlik die Redder van die wêreld is (vgl. God se liefde vir die wêreld 3:16). Die vrou se uiters onvolledige getuienis was die middel om dié mense by Jesus self uit te bring, by hulle Redder wat die Redder van die wêreld is. Die Romeine het die keiser as god aanbid met die titel: Redder van die wêreld, maar in die belydenis van die Samaritane is dit ‘n egte Messiasbelydenis.

 

Die vrou wys die vreemde man wat dors is eers af, wys haar teenstand teen die Jood, spot met die rabbi, maar word oorwin deur die profeet, en aanbid die Messias. So openbaar hierdie hoofstuk die Christus se optrede teenoor vroue, sondaars  en ander volke. Hy openbaar Homself as die verwagte Messias-Verlosser, wat self die ‘Ek is’ wat Hom aan Moses bekendgemaak het, wat sy Heilige Gees as die lewensbron van ons lewe gaan gee aan elkeen wat in Hom glo, om die Vader in Gees en Waarheid te dien.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die tweede gesprek: die nuwe godsdiens vervolg (4:22-29)

Die tweede gesprek: die nuwe godsdiens vervolg (4:22-29) – Francois Malan

4:22 Met hulle vyf-boek Bybel het die Samaritane nie die volle openbaring van God nie, al verwag hulle ook ‘n profeet soos Moses (Deutr. 18:15,18). Hulle aanbid ‘wat’ hulle nie ken nie, hulle ken nie ‘n persoonlike verhouding met God nie. Vir baie Jode het hulle God ook ‘n ‘wat’ geword en nie ‘n ‘Wie’ nie. Dit is juis die Profete-boeke en Geskrifte van die Ou Testament wat die verwagting van ‘n verlossing verkondig; ‘n Verlosser vanuit die Jode, wat God uitgekies het, waaruit sy Verlosser sou kom  (vgl. Jes.2:2-5 se verheffing van Sion bo alle berge, waar alle volke na die Here sal kom luister, Hom sal dien, en in vrede begin lewe; die vervulling van dié profesie is met Jesus se koms begin, Lk 2:32, en sal voltooi word wanneer alles aan Hom onderwerp is (1 Kor 15:25).

4:23 Nie op Gerisim of in Jerusalem nie; die nuwe tyd het aangebreek met Jesus se menswording, soos reeds met die tempelreiniging aangekondig is. Jesus beweeg verder as die vrou se persoonlike en huislike tragiek, haar skuld en haar skuiling agter die godsdiens. Ware aanbidders volg die wil van die Vader. Hulle aanbid Hom deur  Gees en Waarheid: deur die Heilige Gees, wat in hulle kom woon om hulle te lei; en deur die Waarheid – in 14:6 sê Jesus ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.’

 

4:24 God is Gees – nie aan ‘n plek verbonde nie, maar oral teenwoordig deur die Heilige Gees. Die Gees leer ons hoe om God te aanbid; die Gees is verbonde aan die Waarheid, wat vir ons die weg na God open deur sy liefdesoffer aan die kruis (14:26; 15:26; 16:14).

 

4:25 Volgens Deutr.18:18 verwag die Samaritane ‘n profeet soos Moses. Hulle noem Hom  Ta’eb (‘bekeerder’), wat die vrou met Messias bedoel (Christus in Grieks). Maar sy het nie Jesus se woorde in vers 23 gehoor nie: ‘daar kom ‘n tyd, en dit is nou’.

 

4:26  Jesus sê ‘Ek is, wat met jou praat’. Dit is die eerste keer in Johannes dat Jesus die uitdrukking ‘Ek, Ek is’ gebruik (vgl. 6:20; 8:24,28,58; 13:19). Dit herinner aan die selfbekendstelling van die Here aan Moses by die braambos (Eks 3:14: ‘Ek is’, Jaweh, HERE vgl. Jes 52:6). Hy is voortdurend aktief teenwoordig. In die res van Johannes word ‘Ek is’ uitgebrei, bv. met Ek is die goeie herder (10:14), die brood van die lewe (6:35), die ware wynstok (15:15), die weg, die waarheid en die lewe (14:6), die lig (9:5), ens.

            Vir die vrou is Jesus se selfbekendstelling ‘n bevestiging: Ek is die Messias wat julle nog verwag, jy hoef nie meer te wag nie! Dit is die hoogtepunt van die gesprek – Jesus se selfopenbaring aan ‘n Samaritaanse vrou, as teken van Jesus se sending om God se verlossing vir alle volke te verkondig, ook vir vroue, en hier ‘n vrou met ‘n slegte reputasie. ‘n Nuwe era vir God se verhouding met die mense het aangebreek met God se liefdesgawe van sy enigste Seun vir die wêreld om die ewige lewe saam met God te verkry. 

 

4:27 Die dissipels kom terug van die dorp waar hulle gaan kos koop het, daag by die fontein op, juis toe die gesprek sy hoogtepunt bereik het. Hulle verwonder hulle dat Jesus met ‘n vrou praat. Vir die Jode was dit verbied. Die Rabbi’s het later nog geskryf: ‘n Man moet nie met ‘n vrou op straat praat nie, nie eers met sy eie vrou nie, en vir seker nie met iemand anders se vrou nie, vanweë die geskinder van mense. Dit was selfs verbied om ‘n vrou op straat te groet. En hier kom Jesus en die eerste persoon aan wie Hy Homself as die Messias openbaar, is ‘n vrou. Die dissipels vra egter nie vrae oor Jesus se afwyking van die gedragspatrone van sy tyd nie. Dit sou van wantroue getuig en hulle het te veel eerbied vir Hom. Later sou hulle begryp dat Jesus vroue kom bevry uit hulle ondergeskikte posisie in die samelewing, en dat Hy van hierdie vrou  sy getuie gemaak het.

 

4:28,29 Met groot geesdrif los die vrou haar waterkruik net daar by die put. Sy het iets gevind van baie meer waarde as die water wat sy gaan haal het, nl. die blye boodskap. Sy haas haar daarvandaan na die stad, en gaan  vertel van haar heel persoonlike ondervinding, van Jesus wat haar sondige lewe en verlede oopgevlek het, en dat sy daardeur bevryding gevind het by die verwagte Redder Messias. Die Samaritane het die Ta’eb, die hersteller en openbaarder van die waarheid, verwag. Sy nooi hulle uit: kom kyk! Die wind waai waar hy wil…maar jy weet nie waarheen hy gaan nie; so onverklaarbaar is die lewensvernuwing deur die Heilige Gees.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die tweede gesprek: die nuwe godsdiens vervolg (4:10-21)

Die tweede gesprek: die nuwe godsdiens vervolg (4:10-21) – Francois Malan

4:10 Jesus bied haar egter die ‘gawe van God’ en ‘lewende water’ aan. Hy is die lewende water, en gee ook die lewende water, die water wat ewige lewe gee (vgl. 6:35). Jeremia 2:13 noem God ‘die bron van lewende water’; Jer. 17:13 noem die Here ‘die bron van lewe’; in Jn 7:37-39 word na die Heilige Gees, wat Jesus gee, verwys as die ‘lewende water’. Hiermee stuur Jesus die gesprek in ‘n nuwe rigting en kom daar ‘n geestelike diepte aan die gesprek.

4:11 Die vrou spreek Hom aan met die beleefdheidsvorm, Here. Sy verstaan ‘lewende water’ anders, want enige lopende water, ook syferwater soos onder in die Jakobsput, word as lewend beskou. Jesus het ook geen emmer/skepding om water uit die 32 meter diep Jakobsput te trek nie. Effe spottend vra sy waar Hy dan die ‘lewende water’ vandaan sal haal. Die vrou misverstaan Jesus se woorde letterlik,  soos die Jode in 2:20 en Nikodemus in 3:4.

 

4:12 Die Samaritane beroem hulle daarop dat hulle Jakob ‘ons vader’ kan noem. Hulle woon ook op die stuk grond wat Jakob by Sigem gekoop het, en gebruik die put wat hy 1,670 jaar tevore gegrawe het. Selfs die vee drink sedert die voorvader van die goeie water. Wie is tog die arrogante man, wat dink Hy is beter as ‘ons vader Jakob’ wat ons deur al die eeue so goed versorg!        

 

4:13-14 Oor die water van die Jakobsput, wat sy so hoog ag, sê Jesus dat jy altyd weer sal terugkom om water te trek, omdat dit nie jou dors blywend kan les nie. Maar as jy eenmaal gedrink het van die water wat Jesus sal gee, sal jy nooit weer dors word nie. Fonteinwater wat elke dag opborrel is ‘n simbool vir sy water, die ewige lewe. As die Heilige Gees jou oortuig het, sodat jy glo dat Jesus die Here en Verlosser van jou lewe is, het Hy in jou kom woon om jou elke dag aan die ewige lewe, die nuwe soort lewe, te bind; aan die liefdesgawe van die Vader aan die wêreld, nl. sy enigste Seun (vgl. 3:16; 17:20-23). Met Nikodemus praat Jesus oor ‘van Bo af weer gebore word’ deur die Heilige Gees om in die koninkryk te kom (3:5-8); met die vrou oor lewende water wat Jesus gee (nl. die Heilige Gees) tot die ewige nuwe lewe.

 

4:15 Hoewel Jesus van die ‘gawe van God’ en die ‘ewige lewe’ praat, begryp die vrou nog nie die geestelike sin van Jesus se gesprek nie. Sy beskou Hom egter as ‘n wonderwerker wat haar  sou verlos van haar daaglikse swaar sleurwerk om te kom water trek – as dit tog sou waar wees wat die man belowe!      

 

4:16-18 Die gesprek oor lewende water het nie die vrou tot geestelike insig gelei nie. Nou raak Jesus haar ongelukkige huwelikslewe aan, om na haar deur te dring. As sy sê sy het nie ‘n man nie, weerspreek Jesus dit nie. Hy sê: ‘Dis reg/goed wat jy nou gesê het’ (letterlik: jy het mooi gesê – jou mooi uitgedraai). Jesus openbaar sy goddelike alwetendheid aan die vrou. Hy ken haar verlede, dat vyf mans haar waarskynlik na mekaar geskei het, en die man wat jy nou het, is nie jou man nie. Die implikasie is dat dit iemand anders se man is, wat haar aanhou. In die samelewing, en veral onder die vrouens, het so ‘n vrou ‘n slegte reputasie gehad.

 

4:19,20 Jesus moet duidelik ‘n profeet wees om haar so deur en deur te ken (vgl. Natanael 1:48,49). Maar sy  draai die gesprek dadelik van haarself af weg, met ‘n vraag na die regte godsdiens. ‘Ons voorouers’, van beide Israel en die Samaritane, ‘het op hierdie berg aanbid’ – die put van Jakob lê aan die voet van die berg Gerisim. Volgens Deutr.11:29 moes hulle die seën op Gerisim afkondig en die straf op Ebal (vgl. 27:9-26). Volgens Deutr.27:3 moes hulle op die berg Ebal ‘n altaar bou waar vir Here geoffer moes word – in die Samaritaaanse Bybel, wat net uit die eerste vyf boeke van Moses bestaan, staan daar Gerisim en nie Ebal nie (wat moontlik reg is, en later deur die Jode in hulle Bybel, uit teenstand teen die Samaritane, verander is na Ebal, waar die vervloekings uitgespreek is). Die Samaritane aanvaar nie die profetiese en ander geskrifte van die Ou Testament nie. Daarom aanvaar hulle ook nie die opdrag van die profeet Gad aan Dawid om ‘n altaar vir die Here op die dorsvloer van Arauna van Jebus, dit is Jerusalem, te bou nie (2 Sam.24:18; vgl. 1 Kron.22:1). Dit was die plek waar Salomo in 950 v.C. die tempel vir die Here gebou het (2 Kron.3:1).

            Die vrou sê: ‘En julle sê dat Jerusalem die plek is waar aanbid moet word’ – moet, volgens God se bevel. Wat sê die ‘profeet’, wat God se wil bekendmaak, daarvan.

 

4:21 Jesus, die enigste Seun van God antwoord beleefd: ‘Glo My, Mevrou, die uur is aan die kom dat julle die Vader (van alle volke) nie op hierdie berg of in Jerusalem sal aanbid nie.’ ‘n Nuwe bedeling het aangebreek met die koms van die Messias. Die aanbidding van die Vader is nie langer aan ‘n plek verbind nie (vgl. Openb 21:22).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die tweede gesprek: die nuwe godsdiens (4:1-42)

Die tweede gesprek: die nuwe godsdiens (4:1-42) – Francois Malan

Die kontraste in hoofstukke 2 en 3 word uitgebrei in hierdie gesprek:

Met die water-in-wyn-teken by Kana stel die wyn die gawe voor van Jesus se koninkryk teenoor die Joodse reinigingswater van die klipkanne (2:1-11), so simboliseer die lewende water wat Jesus aan die vrou aanbied die lewe en verlossing van die koninkryk, teenoor die water van Jakob se put uit die ou verbond  (4:5-15). Die reiniging van die tempel lei tot die afbreek van Jesus se liggaam en sy opbou van  die ‘nuwe tempel’ met sy offer aan die kruis as toegang tot God (2:13-21) – so word die ou aanbidding in Jerusalem en Gerisim vervang met die aanbidding deur die Gees en Jesus as die Waarheid (4:19-26). 

Jesus se optrede word verplaas van die Jode in Judea (hfs 3) na die Samaritane, ‘n volk buite die Jodedom

Hoofstuk 4 neem ons van ‘n gesprek in die nag met ‘n toegewyde godsdienstige man, Nikodemus (3:1-15) na ‘n gesprek in die middel van die dag met ‘n sondige vrou (4:7-26); altwee die gesprekke gaan oor ‘water’ en ‘Gees’; aan Nikodemus word die geboorte tot ‘n nuwe lewe verkondig, aan die vrou word die nuwe lewe en nuwe godsdiens verduidelik. Die hoofstuk bring ‘n nuwe dimensie, van die uitbreiding van die koninkryk van God na ander volke.

 

4:1 Die Fariseërs, wat die wet nougeset wil uitlewe en waak teen godsdienstige afwykings, wil Jesus ook kom ondersoek, soos vir Johannes die Doper (1:19-25). Hulle hoor dat Jesus meer dissipels maak en doop as Johannes – nog meer mense wat afdwaal van die tradisionele leermeesters, die Fariseërs.

 

4:2 Die Evangelie maak ‘n korreksie op 3:22,26. Jesus aanvaar die doop as seël op die besluit om sy dissipel te word, maar laat sy dissipels die doop met water bedien soos Johannes, om Jesus aan Israel bekend te stel (1:31). Jesus doop met die Heilige Gees (1:33).  

 

4:3,4 Toe Jesus hoor van die Fariseërs se vyandskap teen Hom, verlaat Hy Judea – sy tyd het nog nie gekom nie  (13:1; vgl. ook 11:8,16). Hy gaan sy bediening in Galilea voortsit – waar minder vername Jode gebly het. Maar Hy gaan met die kortpad deur Samaria omdat Hy moet – gewoonlik ‘n aanduiding dat God dit so bepaal. In Samaria moet Jesus ‘n opdrag van God gaan vervul; die koninkryk van God is vir alle mense van alle volke bedoel. Jode wat haastig was, het deur Samaria na Galilea gestap op ‘n drie dae tog. Maar indien hulle nie haastig was nie, het hulle Samaria vermy en oorkant die Jordaan deur Perea na Galilea gegaan, soos gewoonlik met die feestye. Herodes Antipas het oor beide Galilea en Perea regeer. Die vyandskap tussen die Jode en Samaritane gaan vér terug na die jaar 536 v.C. toe die Jode uit die ballingskap in Babel teruggekom het en die tempel begin herbou het. Toe het hulle geweier dat die Samaritane saam met hulle aan die tempel bou (Esra 4:2) en die Samaritane het die Jode by die koning aangekla om die bou te verhinder (Esra 4:10,11). Die Samaritane het die diens van die Here met dié van ander gode vermeng sedert 720 v.C. (2 Kon 17:33,34).  

 

4:5,6 Sigar lê naby die stuk grond wat Jakob aan Josef gegee het (Gen 48:22). Die ‘fontein van Jakob’ is ‘n diep put, wat deur onderaardse water gevoed word. Jakob het die put blykbaar gegrawe nadat hy die stuk grond van die Sigemiete gekoop het (Gen 33:18,19). Die gebied is geleë in die dal tussen die berge Ebal en Gerisim.


            Jesus is moeg na die dag se reis en gaan sit by die fontein. Dit was ongeveer die sesde uur, waarskynlik na aan 12 uur die middag. 

 

4:7-9 Die antipatie tussen die Jode en Samaritane is reeds eeue oud. Die Jode het die Sanaritane as ‘n gemengde volk met ‘n gemengde godsdiens afgemaak, sedert die koning van Assirië in die 6e eeu v.C. mense uit verskillende volke in Samaria tussen die agtergeblewene Israeliete gevestig het, en vir hulle ‘n priester uit die ballinge gestuur het om hulle die regte verering van die God van die land te leer, nadat die leeus onder die bevolking gemaai het  (2 Konings 17:24-41). 

            Toe die Jode ná die ballingskap die tempel begin bou, wou die Samaritane saam met hulle bou (Esra 4:1,2). Toe die Jode weier, het hulle die bouery gesaboteer (Esra 4:3-6, 23). Vgl ook hulle teenstand teen die bou van die muur in Nehemia se tyd (Neh.6).

            Die vrou sê vir Jesus: ‘die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie’  (letterlik die Jode gebruik nie saam met die Samaritane ‘eetgerei/bekers’ nie, want hulle beskou dit as onrein), en hier vra ‘n Jood vir haar water om te drink (uit haar skepding). Jesus doen dit om ‘n gesprek met hierdie vrou aan te knoop, en ignoreer die Joodse gebruike. Hy deurbreek ‘n eeu-oue vyandskap deur Hom van die vrou afhanklik te stel. Omdat Jesus die rasse-geskeidenheid deurbreek, word Hy deur die Jode vir ‘n Samaritaan uitgeskel  (8:45). Johannes plaas  die gebeurtenis ook aan die begin van sy Evangelie om die Woord van God se menswording ()1:1-3,14) en sy boodskap bekend te stel en te verduidelik.   

 

Skrywer: Prof Francois Malan