Die getuienis van die EEN wat van die hemel af kom (3:31-36)

Die getuienis van die EEN wat van die hemel af kom (3:31-36) – Francois Malan

Dit is onseker wie hier aan die woord is. Die Doper is nie meer in die eerste persoon enkelvoud aan die woord soos in die vorige paragraaf  nie – dit gaan nou oor persone. Dit word nie aangebied as ‘n woord van Jesus nie – Jesus word aangedui as ‘die Een wat van Bo kom’ (anothen), dieselfde woord wat in 3:3 gebruik word vir ‘van Bo gebore’, en Johannes die Doper as ‘die een wat uit die aarde is’. Die gedeelte is moontlik die besinning van die skrywer, wat op die getuienis van die Doper uitbrei. Die gedeelte sluit ook nou aan by 3:11-21. Soos in hoofstuk  1,  het die skrywer die getuienis van Johannes die Doper tussenin ingevoeg (vgl. bv. 1:6-8; 1:1, 1:19-28).

3:31 is blykbaar ‘n algemene stelling wat nie vir Jesus vergelyk met Johannes die Doper alleen nie, maar ook met al die profete van die Ou Testament wat voor hom gekom het. Jesus is bo almal. Die feit dat Hy uit die hemel kom, die Woord van God waarvan hoofstuk 1 praat, maak sy openbaring van God gans anders as die van mense soos Johannes en alle ander mense wat van die aarde is, wat aardgebonde en begrens is. Johannes en die profete praat wel oor wat hulle van God ontvang het, Jesus is God self wat praat.

 

3:32  Jesus praat van wat Hy gesien en gehoor het – 5:19-20,30 praat bv. van ‘n voortdurende gemeenskap tussen die Vader en die Seun as die bron van Jesus se woorde en optrede. ‘Niemand’ staan teenoor ‘almal’ van 3:26, maar word opgelos deur 3:33 se ‘wie sy getuienis aanvaar het’.  Jesus kom God aan ons bekend maak (1:18).

 

3:33 Wie Jesus se getuienis aangegryp het – dit glo en daarvolgens handel, ‘het verseël dat God die waarheid is/ waarlik God is.’ ‘n Seël is onder andere gebruik om te getuig dat die inhoud van ‘n geskrewe stuk eg is, die waarheid is.

 

3:34 Jesus is deur God gestuur en praat God se woord, want Hy is die Woord van  God, die openbaring van God. Wie sy woord van harte glo, glo in God! God gee aan Hom voortdurend die Heilige Gees met onbeperkte volheid – so is Hy in voortdurende gemeenskap met God.

 

3:35 Die verhouding tussen die Vader en die Seun is liefde, want God is liefde (1 Joh 4:8,16) – liefde is nie slegs ‘n gevoel van toegeneentheid nie, maar ‘n wilsbesluit en ‘n volle onderlinge vertroue. Daarom dat ‘God ook alles in sy hand gegee het.’ Die Vader bly intens betrokke met alles wat die Seun doen (vgl. sy liefde in 5:20; 10:17; 15:9,10). Volgens vers 34 bring Jesus die volle woord van God sodat dit gehoor kan word; in vers 35 is sy handelinge God se handelinge sodat hulle gesien kan word: wie vir Jesus sien, sien God self aan die werk; wie Jesus se woord hoor, hoor God se woord wat sy wil bekend maak ( 14:9-11).

 

3:36 Die doel van Jesus se koms na die wêreld word in hierdie teks saamgevat.  Van sy woorde word ‘n klompie in hierdie Evangelie opgeteken  om God se wil aan ons te openbaar. Van sy handelinge word sewe tekens in hierdie Evangelie opgeteken, saam met die liefdesoffer van sy lewe vir ons aan die kruis en sy opstanding. Dit gaan alles daarom dat ons deel word van die ewige lewe. Hy is die lewe (1:4). Dit verkry ons deur in Hom te glo (3:15). Uit vers 36b blyk dit dat dit gehoorsaamheid aan Hom insluit  (Rom 1:5). ‘Wie in die Seun glo, het die ewige lewe – is reeds deel van die nuwe wyse van lewe wat Jesus gebring het. Ook geloof is nie ‘n gevoel of ‘n stemming nie, maar  ‘n wilsbesluit om myself in vertroue oor te gee aan Jesus en Hom te volg.

.

Wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, wat weier om in die Seun te glo, sal die lewe nie sien nie – verstaan ook nie eers wat die soort lewe saam met God beteken nie. Ongeloof word gesien as weiering om die Seun te gehoorsaam .  Die toorn van God  bly op die ongehoorsame  omdat hy in sy sondige staat volhard deur vir homself te leef en weier om hom in vertroue aan God oor te gee. Die verhouding van ‘n mens tot Jesus bepaal sy verhouding tot God (vgl. Hebr 3:12). Hierdie is die enigste plek in hierdie Evangelie wat van die toorn van God gepraat word. In 3:16 is gesê so iemand gaan verlore.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die getuienis van Johannes die Doper (3:22-3:30)

Die getuienis van Johannes die Doper (3:22-3:30) – Francois Malan

3:22 Na die Paasfees in Jerusalem (2:13,23) en Jesus se gesprek met Nikodemus (3:1-21) gaan Jesus en sy volgelinge na die platteland van Judea. Teenoor Johannes die Doper se doopwerk, begin Jesus se groep (4:2) ook mense doop. Daarmee sluit Jesus by Johannes die Doper se werk aan (in die ander drie Evangelies preek Johannes en Jesus ook albei: ‘bekeer julle’, vgl. Mt 3:2; 4:17). So gee Jesus sanksie aan die werk en prediking van die Doper, en verleen Hy gesag aan Johannes se getuienis in die volgende verse. 

3:23 Johannes doop nog, maar nou by Enon (‘fontein’) naby Salim (‘vrede’), waarskynlik in die suide van Galilea (Skitopolis, die ou Betsan?) en nie meer by Betanië oorkant die Jordaan nie (1:28). Johannes doop blykbaar op ‘n plek waar daar ‘n aantal fonteine was – ‘baie waters’ (NAV water). Jesus se dissipels doop in Judea (3:22). 

 

3:24 Volgens Johannes het Jesus en Johannes ‘n tyd lank albei opgetree. Volgens Matteus 4:12,17; Markus 1:14 het Jesus se bediening  begin nadat Johannes in die tronk was. Johannes bring hier ‘n aanvulling by die gegewens van die ander Evangelies, van ‘n bediening van Jesus in Judea voordat Hy in Samaria en Galilea gaan werk (hfs.4).

 

3:25 Die woordewisseling gaan oor die reiniging van sonde deur Jesus se doop en deur Johannes se doop. Waarskynlik is die Jood deur Jesus se dissipels gedoop, en hy sou dit beskou het as ‘n beter doop as die doop van Johannes.

 

3:26 Johannes se dissipels is lojaal teenoor hom en jaloers op Jesus (almal gaan na Hom toe). Jesus trek blykbaar die skares, en Johannes se gehore word kleiner. Maar sy eie dissipels beskou Johannes  belangriker as Jesus, omdat Johannes eerste gedoop het, omdat Jesus self ‘n dopeling van Johannes is, en dat Johannes oor Jesus getuig het. Hulle beskou Jesus se optrede as aanmatigend en ‘n gevaar vir Johannes se bediening. [In Alexandrië en Efese was daar  blykbaar  groepe wat by die doop van Johannes vasgesteek het, vgl. Hand 18:24-25; 19:3. Later is Johannes deur hulle gekanoniseer, en tot in die 3e eeu n.C. was daar nog aanhangers van die Doper. Dié Evangelie bestry duidelik dié hoë opvatting oor Johannes met Johannes se eie getuienis oor homself, 1:26,27]

 

 

3:27 ‘Johannes het geantwoord en gesê: ‘n mens kan nie op enigiets beslag lê (of verkry) as dit nie aan hom uit die hemel gegee is nie.’ Daarmee verwys Johannes na sy opdrag om mense tot bekening te roep om die Lam van God te volg, en na die taak wat Jesus kom vervul as die Lam van God. Daar is by hom geen jaloesie omdat ‘almal na Hom toe gaan nie’ (v26). Dit is juis die doel van sy prediking. Dit gaan nie om hom, Johannes, nie. Hy is maar die ‘stem wat roep in die woestyn’ (1:27) wat die pad vir die Here kom voorberei. Dat mense Jesus begin volg is ‘n gawe wat van God af kom. Dieselfde beginsel word deur Jesus vir Pilatus gegee in 19:11,  vgl. Kor 4:6,7.

 

3:28 Johannes herinner hulle aan sy vorige woorde in 1:20,30,  hy is slegs die voorloper van die Christus (Gesalfde) vir wie hulle moet volg as hulle koning, profeet, priester.

 

3:29   Om sy opdrag en gesindheid te verduidelik, gebruik Johannes die beeld van die ‘vriend van die bruidegom’ (strooijonker), die man wat die bruidegom en bruid aan mekaar voorgestel het en alles in gereedheid moes kry vir die bruilof. Hy staan wag by die bruidskamer en verheug hom oor die stem van die bruidegom. So is die begin van die openbare optrede van Jesus vir Johannes die vervulling van sy vreugde, en dat ‘almal na Hom toe gaan’ is die vervulling van Johannes se taak  om die pad vir die Here reg te maak (1:23).

 

3:30 ‘Hy moet belangriker word (auxanoo: die woord wat gebruik word vir ‘n plant wat ontkiem en groei) en ek minder belangrik (elattoomai: van ‘n plant wat kwyn en verlep)’ – moet: dit is God se wil, sy raadsplan,  en daarom verheug Johannes hom daaroor. Johannes is getrou in sy opdrag en in die nuwe bedeling met sy liefdevolle gelowige verering  van sy Here. Die volgelinge van die ‘vriend’ moet nou ook die ‘bruidegom’ volg.  Nou dat Jesus gekom het, het hy sy taak volvoer en moet hy van die toneel verdwyn, en hy doen dit met blydskap. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die eerste gesprek vervolg (3:11-3:21)

Die eerste gesprek vervolg (3:11-3:21) – Francois Malan

3:11 Vir die derde keer begin Jesus met ‘amen, amen, Ek sê vir jou…’ om die betroubaarheid van sy getuienis te bevestig. Jesus stel ‘ons’ teenoor Nikodemus se ‘ons’ van vers 2: Jesus en dié wat in Hom glo (soos bv. Johannes die Doper en Jesus se dissipels), wat vir Jesus aanvaar en sy wonders as tekens van sy goddelike sending aanvaar, teenoor ‘julle’, bv. Nikodemus en die Jode wat Hom en die heil wat Hy bring nie aanvaar nie.

3:12 Jesus stel die aardse en hemelse dinge teenoor mekaar. Die aardse verwys waarskynlik na wat Hy nou reeds aan hulle vertel het van die geboorte uit die Gees; die hemelse na wat nog verborge is van God se planne, soos bv. Jesus se wederkoms en die komende koninkryk van God. 

 

3:13 Alleen Jesus is in staat om die hemelse dinge bekend te maak, omdat Hy in die hemel was – in voortdurende verkeer tussen die Vader en die Seun. Elke poging van die mens om op sy eie die hemel te bereik is nutteloos. Hy, wat in die hemel by God was, het uit die hemel gekom, mens geword (1:51), sodat weergeboorte kan geskied. Die hemel het van Bo af oopgemaak.

 

3:14 Soos in 1:51 gebruik Jesus ‘n Ou-Testamentiese beeld (Numeri 21:4-9). Soos Moses die slang op ‘n paal gesit het, moet die Seun van die mens ‘verhoog’ word. Die ‘moet’ wys weer na God se besluit wat agter sy kruisdood sit (8:29). ‘Verhoog’ word in Johannes in twee betekenisse gebruik; vir Jesus se verhoging aan die kruis, soos hier en in 12:32,33 – goed sigbaar soos Moses se koperslang; ook vir Jesus se verhoging na die hemel, soos in 8:28. In 12:23,24 word Jesus se verheerliking en sy sterwe gekoppel. Sy kruisdood is in Johannes deel van sy verhoging uit die graf en verheerliking in die hemel, wat mense na Hom toe trek (12:32). Vergelyk Genesis 40:13 ‘die Farao sal jou kop verhoog’ en die skinker word in sy amp herstel; in 40:19 ‘die Farao sal jou kop verhoog’ en die bakker word opgehang (NAV aan jou aandag gee). Terwyl die ander Evangelies die kruisiging sien as Jesus se diepste vernedering, sien die Johannes-Evangelie die kruisiging as die klimaks van Jesus se gehoorsame selfopoffering, sy verheerliking as dienskneg.   

 

3:15 Jesus antwoord Nikodemus se vraag: ‘hoe is dit moontlik?’: ironies, soos wat elkeen, wat deur ‘n slang gepik is en na die koperslang opgekyk het, bly leef het, sal elkeen wat glo, in Jesus die ewige lewe hê. Vir die eerste keer word ‘ewige lewe’ genoem, vgl. ‘lewe’ in 1:4. Anders as die sinoptiese Evangelies, wat met ‘ewige lewe’ na die lewe hierna verwys (Mk 10:30), gebruik Johannes die woorde vir die nuwe lewe wat nou reeds begin en aanhou tot in die ewigheid. Die sleutel tot hierdie lewe is die geloof en vertroue waardeur  ons lewe verbind is aan die gekruisigde en opgestane Seun van die mens. Hy is God se gawe aan ons, en in Hom is die ewige lewe.

 

3:16  Hier is die fundamentele opsomming van die boodskap van hierdie Evangelie, die agtergrond van die doek waarop die  die evangelie geskilder word: die blye boodskap begin by die liefde van God vir sy ongehoorsame wêreld; die kern daarvan is dat God sy enigste Seun (dit dui op intieme liefdesverhouding, Genesis.22:2) vir die wêreld gegee het (deur sy menswording en plaasvervangende dood); die einde daarvan is dat mense nie sal verlore gaan nie, maar sal lewe onder die reddende heerskappy van God, nou reeds en tot in die ewigheid. Die hele sondige wêreld word reeds in 1:4 se ‘mense’ veronderstel, ook in 1:7 en 12:32 se ‘almal’ en 1:9 se ‘elke mens’. Maar die liefde van God plaas die mens voor ‘n keuse en elke mens is self verantwoordelik vir sy beslissing. Die liefde van God open die deur tot redding, maar wie daardie liefde nie met geloof beantwoord nie, gaan verlore. Volgens die voorafgaande gesprek is dit die wedergeborenes wat tot geloof kom en die lewe kry – die antwoord op Nikodemus se vraag: hoe is dit moontlik?. Die geloof is in sy oorsprong die werk van God, maar ook ‘n bewuste wilsbesluit van die mens (1:11,12). God wil dat die mens Hom vrywillig liefhê en dien as reaksie op sy liefde en liefdesoffer.

 

3:17,18  Die Seun het gekom as die Redder van die wêreld (4:42), vir die hele wêreld (die woord kosmos wat in vv16-17 vier maal gebruik word, verwys na die ganse skepping). Maar sy koms stel die mensewêreld voor ‘n beslissing. Hy is die verlossing, maar sy koms staan ook in die teken van oordeel. God het die oordeel aan Hom toevertrou (5:22,27) en Hy oordeel regverdig (5:30) en na waarheid (8:16), en Hy sal ook die eindoordeel volvoer (5:27-29). Die oordeel is reeds gevel, die ongelowige veroordeel homself deurdat hy die Redder afwys. Deur te weier om in Jesus te glo lewer hy homself oor aan die veroordeling. Die eindoordeel deur Jesus is net ‘n bevestiging daarvan.

 

3:19 Die woord ‘oordeel’ word in twee betekenisse gebruik: as ‘n besluit oor wat reg of verkeerd is, soos hier (NAV ‘skeiding’), en ‘veroordeling’ soos in v18. Die Verlosser het as die Lig in die duisternis van die wêreld ingekom . Party mense kom na die Lig toe (1:4,5,9; 8:12) en ander draai weg van die Lig af. So skei hulle, of besluit hulle verskillend, en dit geskied nou in hierdie lewe. God se groot reddingsaksie word ‘n oordeel deur die slegte of sondige reaksie van die mense, omdat hulle die duisternis liewer het as die Lig.

 

3:20 Elkeen wat kwaad (faula  gemeen, veragtelik, sedelik vuil spel) doen, verkies om in die duisternis te bly, sodat sy dade nie oop en bloot as verkeerd aangewys kan word in die Lig-Jesus nie.

 

3:21 Die een wat die waarheid doen, het die waarheid as die norm en inhoud van sy leefwyse. In 14:6 sê Christus ‘Ek is … die waarheid …’. Iemand wie se gedrag dieselfde kenmerk as Christus dra, hoef nie die dekmantel van die duisternis op te soek nie; hy kom na die Lig, in geloof na Jesus, ‘sodat sy werke duidelik kan word, dat dit deur God gedoen is’ (NAV in gehoorsaamheid aan God gedoen is). Sy lewe wys dat hy weergebore is, kind van God is en aan God gehoorsaam lewe. Maar dit kom nie uit homself nie; dit is die vrug van God se genade, God werk in en deur hom.           

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die eerste gesprek (2:23-3:36)

Die eerste gesprek (2:23-3:36) – Francois Malan

2:23 Na die wynwonder het die dissipels begin glo in Jesus (2:11). Die wondertekens waarvan in 2:23 gepraat word, word nie beskryf nie (20:30), maar daardeur het ‘baie’ wat dit gesien en begryp het, tot geloof gekom in sy Naam, dit is in Hom as persoon, wat God aan ons kom openbaar.

 

2:24 Jesus het Hom nie aan hulle toevertrou nie. Hy ken die mens deur en deur en weet: geloof op grond van wondertekens hou nie. Hulle begin glo dat Hy die verwagte Messias-Redder is, maar as Hy nie aan hulle verwagtings voldoen nie, draai hulle teleurgesteld van Hom af weg, wondertekens ten spyt (Jn 6:66).

 

2:25 Jesus as God ken die swakheid en wispelturigheid van die mens deur en deur (1 Kon. 8:39).

 

Die twee magsdade van Jesus word in die volgende twee gesprekke verder uitgewerk om die radikale nuwe verhouding tussen die mens en God bekend te stel. Persoonlike vernuwing, wat gesimboliseer is deur die wyn wat die reiningingswater vervang , word aan die Joodse leier Nikodemus uitgespel. Die nuwe godsdienstige verhouding, wat gesimboliseer is deur Jesus se liggaam wat die tempel vervang, word aan die nie-Joodse Samaritaanse vrou aangekondig.

 

3:1 ‘n Mens kom na Jesus wat die mens deur en deur ken (2:25). Deur die wondertekens  begin hy in Jesus glo. Hierdie Fariseër, wat teen die Grieks-Romeinse invloed op die Joodse volkslewe veg, het ‘n Griekse naam: Nikodemus (oorwinningsvolk), ‘n leier van die volk as leraar en raadslid (3:10).

 

3:2 Nikodemus kom na Jesus in die nag, ‘n simbool van die duisternis waarin Israel verkeer (11:10). Hy spreek Jesus eerbiedwaardig aan  as rabbi/my leermeester – al is Jesus nie deur rabbi’s opgelei nie, maar die wondertekens bewys dat God by Hom is, dat Hy deur God geleer is. ‘ons’ – Nikodemus en ‘n groepie begin insien dat Jesus van God af kom.

 

3:3 Jesus weet wat Nikodemus wil vra en antwoord sy ongestelde vraag oor hoe ‘n mens deel kan word van die koninkryk van God. Jesus antwoord met ‘n dubbele versekering (‘voorwaar, voorwaar’) om die gesag en waarheid van sy woord te onderstreep. ‘Koninkryk van God’ kom in Johannes slegs in 3:3,5 voor. Om die koninkryk, waar God as koning regeer, te ‘sien’, kan nou reeds beleef word deur ‘n geboorte; die Griekse woord anoothen beteken ‘weer’ maar ook ‘van bo af.’  Nikodemus verstaan dit as ‘weer’ ‘n slag gebore word; Jesus bedoel ‘van Bo af’ gebore word, soos 1:13 ‘uit God gebore.’  Menslike prestasie gee nie toegang tot God se koninkryk nie. Slegs God gee die toegang, deur ‘n geestelike geboorte van Bo af.

 

3:4 Nikodemus kan dit nie met sy gesonde verstand verstaan nie. ‘n Tweede geboorte uit sy moederskoot is onsin en onmoontlik vir ‘n volwasse man soos hy. Hy begryp nie dat dit ‘n vernuwing is van sy hele wese van die grond af nie. Dit is ‘n nuwe soort lewe wat God met jou begin. Die ‘kan’ van die mens kom teenoor die ‘kan’ van  God (vgl. die vyf maal  ‘kan’/’kan nie’ in v2, v3, v4 tweemaal, v5).

 

3:5 Jesus verduidelik op sy versoek weer met ‘voorwaar, voorwaar.’  Sy  antwoord herinner aan Esegiël. 36:25-27 se reinigingswater en God se Gees in ons. Die water is simbool vir Jesus se bloed (6:53-56). Die Heilige Gees oortuig mense van sonde en dat Jesus jou verhouding met God regmaak deur in Hom te glo (16:8). .     

 

3:6 Waarom weergeboorte nodig is word verduidelik: wat uit ‘n mens gebore is, is ‘n mens met sy swakhede, sterflikheid en sondigheid (1:13), en wat uit die Gees gebore is, is gees – ‘n geestelike mens  (1:13 ‘uit God gebore’), ‘n kind van God. Die koninkryk van God is geestelik, en word gebou deur die Gees van God in die harte van mense (4:23-24). 

 

3:7 Om in die Godsryk te kom, moet  jy weergebore of liewer ‘van Bo af gebore’ word. Die ‘moet’ verwys altyd dat God dit vereis. Maar die wedergeboorte kan nie deur ‘n mens gesoek of verdien word  nie. Dit word deur die Heilige Gees in ons gewerk deur ons met die woord van God te oortuig sodat ons in die Seun van God glo.

 

3:8 ‘uit God gebore’ word verduidelik as ‘uit die Gees gebore’, en die Gees se werking word vergelyk met die wind, wat ons nie kan beheer nie, maar voel en bome sien buig. So is elkeen wat uit die Gees gebore is. Ons kan niks doen om in die koninkryk van God te kom nie – Hy doen dit vir, en aan, en in ons. Ons kan slegs die veranderde lewe van mense sien, en self ook weet van ons nuwe dryfveer. Die Hebreeuse woord ruach en die Griekse woord pneuma word altwee gebruik vir ‘wind’ en vir ‘gees’ of ‘Gees’. Vandaar die vergelyking van die werking van die Gees in ons gees met dié van die wind.

 

3:9,10 Nikodemus weet nou wat Jesus bedoel: nie ‘n tweede keer liggaamlik gebore word nie, maar verstaan nog nie hoe die geboorte deur die Gees plaasvind nie. Nou is dit nie meer ‘n teoretiese vraag nie, maar een wat hom persoonlik raak. Die antwoord daarop gee Jesus eers van vers 14 af, ná ‘n inleiding daarop. Jesus noem  Nikodemus ‘die leraar van Israel,’  ‘n verteenwoordiger van die ware volk van God (nie van ‘die Jode’ wat gebruik word vir die ongelowige verwerpers van Jesus nie). As Fariseër kon hy uit die Skrifte iets aflei van  die nuwe verbond wat God beloof het (Esegiël 11:19-20; 36:26-29; Jesaja 44:3-5; 59:21; Ps 51:12-13).

 

Skrywer: Prof Francois Malan