Bly in die ware wingerdstok en sy liefde (15:7-17)

Bly in die ware wingerdstok en sy liefde (15:7-17) – Francois Malan

15:7 Verse 7-10 verduidelik die betekenis van bly in Jesus. In verse 1-6 het die klem geval op geloof wat op Christus vertrou, jou lewe oopmaak vir Christus, en te lewe in gemeenskap met Christus. Vers 7 beklemtoon bly in die woorde van Christus, die openbaring van God, wat Hy, as die Woord van God, gebring het. Om daarin te bly beteken dat ons sy woord aanvaar as die mag wat ons lewe rig en aandryf (vgl. Kor 5:14 die liefde van Christus dwing ons…). So‘n gelowige kan seker wees dat sy gebede beantwoord sal word, want sy gebede sal gerig wees deur die begeerte om te dien in die koninkryk van God, waar God regeer met sy woorde in ons – v4 sê: Jesus is self in ons. So word die skatkamers van ons Hemelse Vader oopgestel vir elkeen wat ‘Hom deur die Gees en in waarheid aanbid’ (Jn 4:24; vgl. 14:13-14 in sy Naam vra…sodat die Vader verheerlik word).

15:8  Deur te lewe in die woorde van Jesus, te bly in die ware wingerdstok, dra ons baie vrug. So vertoon ons die beeld van God wat ons geskep het om in gemeenskap met mekaar te lewe in sy liefde. So verheerlik ons die Vader, die Boer, wat sy wingerd snoei om meer vrug te dra.  So is ons ware volgelinge/dissipels van Jesus wat in gehoorsaamheid aan sy Vader geleef en gesterf het.

 

15:9-10 Om in Jesus te bly beteken ook om in sy liefde te bly en sy bevele uit te voer, soos Jesus dwarsdeur sy lewe in die liefde van sy Vader gebly het en sy bevele uitgevoer het. Die Evangelie noem telkens Jesus se gehoorsaamheid aan die Vader (bv. 4:34 om die Vader se wil te doen is Jesus se voedsel; 6:38 Hy het gekom om die Vader se wil te doen; 8:29 Hy doen altyd wat die Vader wil; 8:55 Ek neem die Vader se woorde ter harte). Sy gehoorsaamheid bereik sy toppunt in die oorgawe van sy lewe vir die verlossing van die mensdom (10:17-18, Ek lê dit uit my eie af; 12:27-28 juis hiervoor het Ek gekom; 14:31 staan op!) . Die gelowige se ‘bly in sy liefde’ beteken dat my hele lewe vir Hom beskikbaar is, en word vervul deur liefdesdiens soos Hy beveel het. Deur liefde bly die lote in die wingerdstok en dra hulle baie vrug tot verheerliking van die Vader. 

 

15:11 Deur die vervulling van die gebooie ontstaan die vreugde. Jesus se vreugde kom uit sy gehoorsaamheid aan sy Vader. Die bron van volle vreugde is wedersydse liefde en liefdediens. Jesus beleef reeds die volle vreugde in die hoogste liefdesdiens wat Hy nou gaan lewer aan die kruis. Hy openbaar sy vreugde in sy diens aan sy dissipels, sodat hulle, soos Hy, die volle maat van vreugde kan smaak  in hulle selfopofferende liefdesdiens (14:24-26 die koringkorrel wat sterf dra veel vrug).

 

15:12 Die gebod van die liefde is reeds in 13:34 gegee, na aanleiding van die voetwassing en Jesus se heengaan. Hier word dit herhaal teen die agtergrond van die beeld van die ware wingerdstok en die liefde tussen die Vader en die Seun, wat deur Jesus se gehoorsaamheid aan die Vader geopenbaar word in sy offer vir die sonde van die wêreld. Jesus se opdrag is dat almal wat in Hom glo mekaar moet liefhê, soos Hy hulle liefgehad het. Die ‘soos Hy’ is die maatstaf vir ons liefde, en die motief en bron van dié liefde vir mekaar is Jesus se verlossende liefde wat ons bevry van die beperkings van ons liefde vir onsself.

 

15:13 Die maatstaf vir die liefde wat Jesus vir ons gee en van ons vra is die bereidheid om vir jou vriende te sterf

(1 Joh.3:16).

 

15:14-15 Die kenmerk van vriendskap is vertroue. So het Jesus alles wat Hy by die Vader gehoor het aan sy dissipels toevertrou. Daarom is die verhouding tussen Jesus en sy dissipels van die begin af nie dié van ‘n Heer (kurios) en sy slawe/onderdane (douloi) nie, maar van sy vertrouelinge, sy vriende aan wie Hy Homself openbaar; vgl. Abraham die vriend (‘oheb) van God, Jes.41:8; 2 Kron.20:7; Jak.2:23 (filos), op grond van die Here se vertroulike mededeling aan Abraham in Gen.18:17;  en Moses met wie God soos ‘n vriend (re‘êh) gepraat het (Eks. 33:11); vgl. ons vriend (filos) Lasarus (Joh.11:11).  En die laaste aand, veral nadat Judas Iskariot uit is, het Jesus die dissipels ingelei in die liefdesgemeenkap tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en God se toekomsplanne vir Jesus se volgelinge. Jesus het aan sy vriende alles bekendgemaak wat Hy van die Vader gehoor het, die heilsplan van God, wat Jesus besig is om tot uitvoering te bring. Dit is ‘n bewys dat Hy hulle nie as ondergeskiktes beskou nie, maar  as vriende, wat Hy in sy vertroue geneem het. Ons voer nie Jesus se opdragte uit as sy slawe wat dit onder dwang doen nie, maar as sy ingeligte vriende wat uit vrye keuse en liefde vir Jesus sy opdragte met vreugde uitvoer.

 

15:16 Die voorreg van Jesus se vertroue en vriendskap aan sy volgelinge het hulle nie verkry deur hulle keuse of op grond van hulle waarde  nie, maar deur Jesus se genadige keuse. Hy het hulle as sy vriende gekies vir ‘n doel. Hulle is aangestel om uit te gaan en vrug te gaan dra en dat hulle vrug sal bly, as ‘n werk van die ewige lewe. Daarom  kan hulle die Vader vra vir wat hulle ook al nodig het om blywende vrug te dra tot sy verheerliking. Hulle word in ‘n vyandige en aanlokkende wêreld uitgestuur om getrou te wees as vriende van Jesus, deur te lewe volgens sy woord, sy liefdesgebod, as sy getuies deur wie Hy werk. En daarom is hulle gebed tot God in die Naam van Jesus, wat hulle gekies het, aangestel het as sy getuies, en self by hulle is.                  

 

15:17 Die paragraaf eindig soos dit begin het met ‘n herhaling van 15:12. Die gebod om mekaar lief te hê is die eerste en laaste woord van Jesus aan sy vriende, die A tot Z van die Christelike lewe. Deur mekaar lief te hê word die eenheid van die kerk en die vreugde bewaar, maar die liefde vir mekaar word dikwels aan ‘n sware toets onderwerp deur die liefde vir ons self wat van ons selfsugtige eensame mense maak sonder die vreugde van God.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesus as die ware wynstok (15:1-17)

Jesus as die ware wynstok (15:1-17) – Francois Malan

In die eerste afskeidsrede (hoofstukke 13-14) wou Jesus sy dissipels voorberei vir die verskriklikheid wat op Hom wag, sodat hulle nie hulle geloof in Hom verloor nie. In tweede afskeidsgesprek (hoofstukke 15-16) is die tema die lewendige gemeenskap tussen Christus en sy volgelinge en die betekenis daarvan as die grond vir die bestaan van sy volgelinge. Baie van die temas in 13-14 kom weer voor in 15-16.

15:1 Die vers begin met die laaste ‘Ek is’ gesegde van Jesus in hierdie Evangelie. Dit is die enigste ‘Ek is’ wat uitgebrei word met nog ‘n Persoon: en my Vader is die landbouer’ wat die wingerdstok soos ‘n Vader met liefde versorg. Hoewel Jesus in die voorgrond staan as die ‘ware wingerdstok,’ staan die Vader deurgaans in die agtergrond, in die beeldspraak (vv 2 & 6) en in die gesprek daarna (7-11). Die Seun is die middelaar deur wie die Vader sy woord spreek en sy werke doen (14:10). Die verhouding tussen die Seun en die gelowige is gebou op die liefdesgemeenskap tussen die Vader en die Seun, wat die gelowige deur dié gemeenskap ook aan die Vader verbind (14:10; 17:21-23 dat hulle in Ons een mag wees). Teenoor Israel as God se wingerd wat misluk het (Jesaja 5:1-7; Jer.2:21; Hosea 10:1-2;  Eseg.19:10-14; Ps 80:9-18; Mat. 21:33), is Jesus (nie die gelowiges as sodanig nie) die ware wingerdstok. Hy is nie die stam van die ranke nie, maar die hele wingerdstok. Die gelowiges is in Hom ranke van die wingerdstok, soos die dele van die liggaam in die een liggaam van Christus, in 1 Kor.12:12-27 (Rom.12:4,5). Jesus is die ware wingerdstok wat, anders as Israel, aan God se doel beantwoord.    

 

15:2-3 ‘Elke loot in My wat nie vrug dra nie, sny Hy af (airei), en elkeen wat vrug dra, snoei Hy (kathairei skoon sny) sodat dit meer vrug kan dra. Julle is alreeds reines (kathairoi), skoon gesnoeides, deur die woord wat Ek vir julle gesê het;’ Let op die woordspel in Grieks tussen afsny, snoei/skoonsny en reines/skoongesnoeides – vgl die verband tussen reiniging deur Jesus se woord, wat hulle ter harte geneem het, en sy verlossende daad aan die kruis, wat met sy voetewassing gesimboliseer is (13:10). Die snoeiproses beteken die loot kan nie volgens sy eie natuur ongerep uitgroei, voortlewe nie; hy word in bedwang gehou, getem en gedissiplineer (dissipel en kind van God soos Jesus; Hebr 5:8) om aan sy goddelike doel te beantwoord; hy moet die vrug van die ware wynstok dra deur geloof en liefdevolle gehoorsaamheid, soos Jesus aan sy Vader (wat ook van Israel gevra is maar nie gegee is nie). Die ongehoorsaamheid, eiewilligheid en verkeerde begeertes en gewoontes moet gesnoei word. 

 

15:4 ‘Bly in My’ – met groot klem word by die dissipels aangedring om in die nouste gemeenskap met Jesus te bly lewe – en wees verseker, Ek bly in julle! (vgl. Joh. 6:56). Uit God se genade is Jesus self die bron en ondersteuning van ons geloof in Hom, gebou op Jesus se hegte verhouding met die Vader. Slegs in so ‘n noue band met Christus is vrugdra moontlik, soos die beeld van ‘n verdroogde loot, wat van die wingerdstok afgesny is, so duidelik illustreer.

 

15:5 Verse 2 en 4 word in verse 5 en 6 breër uitgewerk. Die lote word met die gelowiges geïdentifiseer, soos vooraf veronderstel is: ‘Ek, Ek is die wingerdstok, julle die lote.’  ‘Sonder My kan julle nie iets (= volstrek niks) doen nie.’ In gemeenskap met die ‘Ek is’, die wedersydse bly in mekaar, dra ons baie vrug (doen Jesus groter dinge deur ons as die aardse Jesus; 14:12-13) . Sonder Christus, niks; soos Jesus uit sy eie niks kan doen sonder sy Vader nie (Joh. 5:19,30). Soos die Vader deur die Seun werk, so sit Christus sy werk in die wêreld voort deur sy volgelinge.

 

15:6 Die beeld van God as die die wingerdboer word afgesluit deur wat met die onvrugbare lote gebeur: hulle word weggegooi, verdroog, en bymekaargemaak vir brandhout. Daarmee word hulle nutteloosheid geskilder, en hulle verwerping deur die wingerdboer. Die vraag is wie die ‘iemand’ is wat nie in Jesus bly nie. Die beeld in Eseg.15:1-6 verwys na die inwoners van Jerusalem wat deur die Here verwerp is. Mat.13:30 verwys na mense wat nie in die koninkryk van die hemel opgeneem word nie. Joh. 13 vertel van Judas, in wie die duiwel gevaar het, en wat van Jesus af weggegaan het die nag in. Onvrugbare lote het nie ‘n persoonlike geloofsverbondenheid aan Jesus nie – ‘as iemand nie in My bly nie…’

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die Heilige Gees leer en herinner ons aan alles wat Jesus gesê en gedoen het (14:26)

Die Heilige Gees leer en herinner ons aan alles wat Jesus gesê en gedoen het (14:26) – Francois Malan

14:26 Die Vader sal die Gees stuur in die Naam van Jesus – daarmee word die Gees nóú aan die Seun verbind. Jesus is deur die Vader gestuur in die Naam van sy Vader, as verteenwoordiger van die Vader (5:4). Die Gees word deur die Vader gestuur in die Naam van Jesus, as verteenwoordiger van Jesus. Jesus het nie in sy eie Naam gekom nie. Die Gees kom ook nie in sy eie Naam nie (vgl Gal. 4:4-6). Die taak van die Heilige Gees is om hulle ‘te leer (didaskoo) en te herinner (hupomimneskoo) aan alles wat Jesus aan hulle gesê het – vgl. Joh. 2:17,22 toe die dissipels gedink het (mimneskoo) aan Ps 69:10 ‘die liefde vir u huis verteer my,’  toe Jesus die tempel gereinig het (v17); en hulle het die woorde van Jesus onthou  (mimneskoo) oor sy liggaam as die tempel wat afgebreek en wat Hy in  drie dae sal opbou (v22); vgl. Joh. 12:16 nadat Jesus verheerlik is, het hulle daaraan gedink (mimneskoo) dat Sag. 9:9 op Jesus se intog betrekking het: ‘jou Koning kom en Hy ry op ‘n donkie.’

Die dissipels se insig in die drie gebeurtenisse illustreer die werk wat die Heilige Gees doen. Hy stel hulle in staat om dit te onthou en gee insig in die betekenis van die gebeure en woorde van Jesus. So leer die Heilige Gees hulle om die openbaring van God wat Jesus gebring het in sy rykheid en diepsinnigheid te begryp. Die Heilige Gees bring geen nuwe openbaring nie; sy taak is om te wys na wat Jesus gebring het, en die volgelinge van Jesus in staat te stel om dit te verstaan. Nuwe insigte wat deur die Heilige Gees gebring word in nuwe omstandighede,  moet daarom steeds aan die woorde en optrede van Jesus getoets word (1 Joh. 2:27; 1 Kor 2:12-16; 7:12-16; 40; Mat. 13:52). Jesus sit sy werk voort deur die Heilige Gees. Hierdie vers onderstreep ook die persoonlike aard van die Gees as Jesus se verteenwoordiger. Die Vader en die Seun en die Heilige Gees is duidelik drie persone in die godheid wat in eenheid optree.

 

Jesus sy skenk vrede en neem afskeid (14:27-31)

 

Die gesprek wat deur hoofstuk 13 ingelei is, en met ‘n woord van versekering in 14:1 begin, word afgesluit met ‘n

woord van versekering, ‘n stelling oor die implikasie van Jesus se vertrek en terugkoms, en ‘n aanmoediging om geloof in Jesus te hê. Die volgende afskeidsgesprek (15-16) word ook so afgesluit in 16:33.

 

14:27 ‘Vrede’ (eirene) is ‘n vertaling van die Hebreeuse sjaloom wat ‘n omvattende groetwoord en totsienswoord is vir geestelike en stoflike onversteurbaarheid, voorspoed en gesonde verhoudings. Jesus se vredewens is egter geen gewone ‘vaarwel!’ nie. ‘Mý vrede gee Ek vir julle’ – dit is niks minder as die verlossing van die koninkryk van God nie, die vrede van God, in die wêreld bewerk deur Jesus se koms, vertrek en terugkoms (vgl. Jes.9:6-7; 52:7;  57:19; Eseg.37:26). Die groet van die wêreld het geen krag nie (Jer.6:14). Waar die Gees in die hart is, is daar dié vrede wat Jesus vir ons nalaat.  ‘n Innerlike vrede wat voortvloei uit die regte verhouding tot God. Hierdie vrede verdryf alle ontsteltenis uit die hart en verban die vrees/lafhartigheid (deilia), want God het in ons kom woon.

 

14:28 Jesus vertrek om na die Vader toe te gaan. Ware liefde vir Jesus sal saam met Hom daaroor bly wees. Daarby is die Vader groter as Jesus; Hy is die bron (Jesus is sy enigste Seun monogenes Joh. 1:14,18; 3:16,18) wat die Seun stuur en opdrag gee. Die Seun gehoorsaam. Daarom is alles wat nou gaan gebeur onder beheer van die Vader. God sal sy heilsame doel uitwerk deur die vreeslike gebeure van die volgende aantal ure. So kan die dissipels ook seker wees dat God sy heilsame doel sal uitwerk in hulle uur van beproewing.

 

14:29 Jesus wil verseker dat sy dissipels in die toekoms standvastig in die geloof sal bly (vgl. Joh. 13:19 voor Judas uit is om Hom te verraai). Nou het die tyd aangebreek wat hulle geloof werklik beproef gaan word. Daarom berei Hy hulle voor vir die toets. Na dié gebeure sal hulle onthou dat Hy dit voorspel het, en sal hulle nog vaster glo in Jesus se woorde.

 

14:30  In die bovertrek sê Jesus: ‘Ek sal nie meer lank met julle kan praat nie (nog net die tweede afskeidsrede in hoofstukke 15-16), want die owerste van hierdie wêreld (vgl. 12:31; ‘die Satan’ – staan nie in die twee tekste nie) is aan die kom.’ Judas is die werktuig van die duiwel (6:70 diabolos; 13:2 diabolos – kwaadspreker/skinderaar; 13:27 satanas  teenstander – albei titels/name word gebruik vir die duiwel/satan). ‘Hy het geen mag oor my nie’ is ‘n wetlike term: die Satan het geen saak/aanklag teen Jesus nie, want Jesus staan nie onder die sondeheerskappy van hierdie wêreld nie (8:23). Hy het die duiwel konsekwent weerstaan en het nooit in sy hand gespeel nie (8:46). Hy het gekom sodat ‘die owerste van hierdie wêreld uitgegooi sal word buitentoe’ (12:31). 

 

14:31 Die wêreld moet leer dat Jesus die Vader liefhet en sy wil doen, daarom sal Hy nie enige kompromis maak en die maklike uitweg kies (soos die duiwel wil hê nie – vgl. Mat. 4:8-10; 16:22-23; 27:42)., maar Hy sal doen wat die Vader, wat die wêreld liefhet, bepaal het (Joh. 10:17-18): Hy sal die wêreld en die duiwel oorwin, sy lewe aflê en uit die dood opstaan vir die verlossing uit sonde en dood vir elkeen wat in Hom glo (Joh. 3:17-18). Die slotwoord: ‘Staan op,’ getuig van Jesus se vasbeslotenheid om die lydensweg te betree. Johannes het skynbaar later hoofstukke 15-17 bygewerk by sy eerste beskrywing, wat ná 14:31 aangegaan het met 18:1: ‘Nadat Jesus dit gesê het…’ 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die ewige lewe is om in die liefde van God te lewe (14:20-25)

Die ewige lewe is om in die liefde van God te lewe (14:20-25) – Francois Malan

14:20 Op daardie dag – verwys na Jesus se opstanding uit die dood (14:19), maar veral ook na die koms van die Heilige Gees wat in hulle kom woon (in Johannes geskied dit op die dag van die opstanding, Joh. 20:22) om hulle te oortuig dat Jesus in die Vader is, dat Jesus een is met die Vader (10:30). Die Gees verbind hulle ook met Jesus. Hulle kry ‘n aandeel aan sy sterwe en opstanding, aan sy kindskap – hulle lewe in Hom, soos die lote in die wingerdstok (15:5). Jesus woon ook in hulle deur die Heilige Gees in hulle (14:23)  – gelowiges is geen weeskinders nie, maar kinders van die lewende God, aan die Kind/Seun van God in geloof verbind, deur die Heilige Gees.

14:21 Om Jesus lief te hê, sy gebooie reg te verstaan, hulle te bewaar deur jou lewe daarvolgens in te rig, en gemeenskap te hê met die Vader en met Jesus, hoort alles saam. In v15 is gesê: as julle My liefhet, sal julle my gebooie onderhou. Hier word dit van die anderkant af gestel: deur Jesus se gebooie te hê – reg te verstaan, en te onderhou in jou lewe, is die bewys dat jy Hom liefhet. Op v15 het die belofte gevolg dat Jesus tot die Vader sal bid dat Hy vir ons die Heilige Gees stuur om ewig by ons te bly. Hier volg die versekering dat die een wat My liefhet, in die liefde van die Vader en die Seun sal lewe. Paulus sê: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?…niks kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here (Rom 8:31,39). Daarby sê Jesus: ‘en Ek sal myself ten volle aan hom bekendmaak’ (emfanizoo duidelik maak, openbaar, aan die lig bring). Dit word in die volgende twee verse verder uiteengesit.

 

14:22 Judas, die seun van Jakobus (Luk.6:16, Hand.1:13; waarskynlik Mark.3:18 en Mat.10:3 se Taddeus, sy Griekse bynaam, afgelei van Theodotos ‘ geskenk van God’), is verras en verwar oor die uitspraak, soos die dissipels Jesus telkens misverstaan het. Hy verwag blykbaar die openbaring van die Messias-koning in krag en heerlikheid en om te oordeel oor al die volke van die aarde, soos in Jes. 9:6 se ewige koninkryk van reg en geregtigheid (vgl. Jes.11 en Sagaria 9:9-17). En nou lyk dit of Jesus Hom net aan ‘n kleiner groepie gaan bekendmaak. Het Jesus nou van plan verander (‘Here, hoe kom dit…?).

 

14:23 Die misverstand word reggestel deur die noodsaaklikheid te herhaal van die onderhouding van die woord van Jesus om die Vader se liefde te ervaar. Deur Jesus se woord te onderhou word Jesus en die Vader bekend – die Vader self en die Seun sal hulle woning (mone) by so iemand maak. Hoofstuk 14 begin (verse 2-3) met Jesus wat sê Hy gaan die dood in om vir dié wat sy woord onderhou  plek te berei in die baie wonings (monai) in die Vaderhuis. Hier aan die einde sê Hy, Hy en die Vader kom na die gelowige toe, en Hulle maak hulle woning hier by hom/haar terwyl hy/sy nog op die aarde lewe (vgl. Eseg.37:26-28; Sag.2:11; Openb.21:3). So begin die ewige lewe vir elkeen wat in liefde lewe en Jesus en sy woord ter harte neem. Die ewige lewe word volbring wanneer Jesus ons kom haal, om by Hom te wees en sy heerlikheid te sien waarmee die Vader Hom liefhet (Joh. 17:24). Johannes praat van inwoning by die gelowige deur ‘die ander Voorspraak/Helper wat vir ewig by julle sal bly en in julle sal wees’ (Joh. 14:16-17) . Paulus praat telkens van die inwoning van die Vader en die Seun in die gelowige deur die Heilige Gees (1 Kor.6:19; 2 Kor.6:16; Ef.3:17; 1 Tes.4:8). Die inwoning beteken dat die Vader en die Seun hulle steeds in die hart en lewe van die gelowige toenemend openbaar. Daarmee is ‘n deel van Judas se vraag beantwoord. Liefde is die skeidingmaker tussen Jesus se volgelinge en sy teenstanders, tussen kerk en wêreld (tussen Petrus wat Jesus verloën en Judas wat Hom verraai). Dit gaan om die innige persoonlike lewensverbindtenis met jou liefhebbende goddelike Inwoners, sodat hulle jou lewe, jou keuses en gedrag bepaal, deur jou op te neem in die liefde tussen die Vader en die Seun en die Gees.

 

14:24 Jesus bevestig die gesag van sy openbaring van God se liefde en woning maak wat Hy in 14:23 gegee het. My woorde is die woorde van die Vader. Wie dit verwerp, verwerp vir God. Dit is by implikasie ook ‘n beroep om God se liefdesaanbod in geloof te aanvaar. Die tweede deel van Judas se vraag word so beantwoord: die wêreld ontvang geen openbaring van God nie, omdat daar nie liefde vir Jesus is nie. Wie nie God se liefde in Jesus raaksien nie, is doof vir God se woord, die Woord wat mens geword het (Joh. 1:14). God openbaar Homself deur die woorde van Jesus waar daar aanvaarding en liefde vir Jesus is. 

 

14:25 Die gesprek staan in die teken van die afskeid van Jesus. ‘Dit’ verwys na sy antwoord aan Judas, en na alles wat Hy dié aand gesê het, en sy hele bediening word hierby geïmpliseer. Vir die kosbare kort tydjie wat Hy nog die aand voor sy kruisiging by hulle bly (menoon), wil Hy hulle voorberei vir wat vir Hom voorlê, en hulle toerus vir die dag wanneer Hy nie meer in sy aardse menslike gestalte by hulle is nie. Daarom moet hulle met intense aandag luister na wat Hy sê.

 

Skrywer: Prof Francois Malan