2 Makkabeërs 6:24–30

2 Makkabeërs 6:24-30

Hier is ʼn derde deel uit die Ou-Testamentiese apokriewe waarna ons kyk.

In die Bybel (bv. Johannes 10:11vv of 15:12-14) hoor ons dat dit goed kan wees as iemand vir iemand anders sterf, doodgewoon omdat hulle vriende is of aan mekaar behoort. Hy hoef nie eers noodwendig die ander persoon se lewe te red nie. Hy doen dit net vir hom of haar… Hier is een van die eerste verhale in die Jodedom wat die gedagte dat iemand vir ander sterf beklemtoon. Jesus het so vir ons gesterf. Die vroeë Christene het ook baie van Jesaja 53 gemaak. Die mense wou Eleasar dwing om onrein vleis te eet. Hy wou nie en omdat hulle so baie van hom gehou het, het hulle gesê hy moet net so maak. Dit wou hy ook nie doen nie. Kyk net wat hy sê:

Eleasar was een van die belangrikste Skrifgeleerdes. Hy was reeds oud.

24: Hy het dit so verduidelik. “Dit sou nie by my ouderdom pas om toneel te speel nie. As ek dit doen sal baie jongmans dink dat Eleasar op sy negentigste jaar na ʼn vreemde godsdiens toe oorgestap het. 25) Ek sou met die toneelspelery hierdie jongmans op die verkeerde spoor lei en dit net om ʼn oomblikkie langer te leef. Watter skande en oneer sou dit net nie vir iemand van my ouderdom beteken nie? 26) Ek sou nou miskien die straf van mense kon vryspring, maar of ek nou lewe of dood is, ek sal nooit uit die hande van die Almagtige kan ontsnap nie. 27) Dus, die waardige ding vir ʼn persoon op my ouderdom om te doen sou wees om nou dapper te sterf. 28) So sal ek vir die jongmans ʼn edel voorbeeld nalaat, naamlik hoe om uit vrye wil en op ʼn edel manier vir die gerespekteerde en heilige wette te sterf.”

Nadat hy dit gesê het, het hy na die stellasie toe gestap waar hulle hom sou martel. 29) Die mense wat voorheen so vriendelik met hom gepraat het, het nou teen hom gedraai. Vir hulle het dit wat hy gesê het na malligheid geklink. 30) Net voor hy van al die slae dood is, het hy kreunend gesê: “Die Here, met sy besondere wysheid, weet dat ek hierdie dood kon vryspring. Tog byt ek vas onder die geweldige pyn van die houe waarmee hulle my slaan. Maar diep binne-in my is ek baie bly, omdat ek die Here eer en dien.”
Skrywer: Prof Jan van der Watt



2 Makkabeërs 7:3–14

2 Makkabeërs 7:3-14

Hierdie gedeelte hanteer die martelaarskap van die eerste van sewe broers.

Die koning het hom liederlik vererg en beveel dat panne en ketels oor die vuur warm gemaak moes word. 4) Terwyl dit warm gemaak word, het die koning gesê dat die tong van die een wat namens die ander gepraat het, uitgesny moes word. Sy kopvel moes afgesny word saam met sy hande en sy voete – dit voor die oë van die res van sy broers en sy ma. 5) Totaal vermink en hulpeloos maar steeds by sy positiewe, het hulle hom in die pan gesit en gebraai, soos die koning beveel het.

9) Net voor hy sy laaste asem uitblaas, sê hy: “Jou vervloekte mens. Jy neem ons lewe in hierdie wêreld weg, maar die Koning van die wêreld sal ons weer vir ewig lewendig maak – dit is immers vir sy wette dat ons sterf.”

14) Toe hy op die punt was om dood te gaan het hy gesê: “Ek wil graag deur mense doodgemaak word omdat ek op God hoop om my lewe weer vir my terug te gee. Maar wat julle betref: vir julle sal daar geen tweede kans vir ʼn opstanding tot  ʼn nuwe lewe wees nie.”

Hierdie is een van die heel eerste beskrywings van Jode wat vir hulle geloof gemartel word. Hulle gee egter nie om nie, want hulle het ʼn verwagting dat die Here sy regverdige mense weer gaan opwek. Hy gaan vir hulle ʼn nuwe lewe gee. Hier kry ons van die eerste verwysings in die Jodedom na die ewige lewe wat gaan kom.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




2 Makkabeërs 12: 40–45

2 Makkabeërs 12: 40-45

Toe hulle die liggame optel kry hulle onder die klere van die dooies gelukbringers wat aan die afgode van Jamnia behoort. Die wet het verbied dat Jode sulke dinge mag dra. Nou het hulle verstaan hoekom hierdie manne in die geveg dood is. 41) Hulle het die Here geloof, want Hy is ʼn regverdige Regter. Hy bring die dinge wat weggesteek is aan die lig. 42) Weer het hulle gebid en God gevra om hierdie sondes heeltemal te vergeet. Die edel Judas het sy soldate gewaarsku om van die sonde af weg te bly. Hulle kon nou met hulle eie oë sien wat gebeur as ʼn mens sonde doen.

43) Hy het toe ʼn kollekte onder sy manne opgeneem. Die 2,000 silwer dragmas het hy Jerusalem toe gestuur om vir ʼn offer te betaal sodat hulle sonde vergewe kon word. Wat hy gedoen het, was baie goed en edel. Hy het in gedagte gehou dat dooies weer opgewek gaan word. 44) Immers, as hy nie verwag het dat daardie dooie mans weer lewendig sou word nie, sou dit geen sin gemaak het om vir die dooies te bid nie. Dit sou eintlik belaglik gewees het. 45) Maar as hy dit gedoen het met die oog op die wonderlike beloning wat op die vroom mense wag wat reeds dood is, is dit ʼn heilige en baie goeie daad. Daarom het hy ʼn offer gebring, sodat hulle sondes vergewe kon word en hulle weer God se vriende kon wees

Uit hierdie verhaal kan ons agterkom waarom daar in sekere Christelike kerke geglo word dat ʼn mens vir dooie gelowiges kan voorbidding doen. Hierdie Jode was vroom, maar het net voor hulle dood ʼn sonde gedoen deur op gelukbringers in plaas van op God te vertrou. Toe sneuwel hulle. Judas, die leier van die Jode, bid en offer toe vir God en vra dat die mense vergewe word sodat hulle die ewige lewe kan kry. Dit beteken dus: jy kan om vergifnis vra vir dooies se sonde.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Die Nuwe-Testamentiese Apokriewe

Die Nuwe-Testamentiese apokriewe

Die Ou-Testamentiese apokriewe moet nie met die Nuwe-Testamentiese apokriewe verwar word nie. Dit is twee totaal verskillende groepe boeke met verskillende geskiedenisse. Hulle waarde vir die kerk verskil ook.

Die boeke van die Nuwe Testament is almal voor die einde van die eerste eeu na Christus geskryf. Net soos wat met die boeke van die Ou Testament gebeur het, was dit nie so dat die Christene sommer dadelik geweet het dat net die 27 boeke wat nou in ons Nuwe Testament is, die Bybel sou word nie. Die meeste van die boeke is egter op ʼn natuurlike manier deur die Christene van vroeg af as gesaghebbend gebruik.

 

Daar het egter ook ander boeke in omloop gekom wat soortgelyke name as die boeke van die Nuwe Testament gehad het, maar wat tog nie in die Bybel opgeneem is nie. Hulle het van die volgende eienskappe vertoon:

  • Die dokumente het die name gebruik van die literatuur wat ons uit die Nuwe Testament ken, soos “Evangelie van…” , of “Handelinge van…” of “Brief van…” of “Openbaring van…”. (hulle wil dus net soos die boeke van die Bybel lyk).
  • Die dokumente is ook onder die naam van een of ander belangrike apostel of persoon uit Jesus se tyd geskryf (ons noem sulke boeke “pseudoniem”), met die hoop dat dit die gesag en aansien van die boek sou verhoog.
  • Die meeste van die dokumente is baie later as die tyd van Jesus geskryf – van die tweede tot die negende eeu.
  • Daar word op sake ingegaan wat nie in die Nuwe-Testamentiese boeke staan nie, soos byvoorbeeld, wat Jesus as kind gedoen het, hoe dit gelyk het toe Jesus uit die graf uitgekom het, wat alles met apostels soos Johannes of Petrus op hulle sendingreise gebeur het, en so voorts.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt